Skip to main content

Hand 8:26-40 So 10 Mei 2009

Verstaan jy dat die Heilige Gees jou jou  grense wil laat oorsteek?

Teks:  Hand 8:26-40

Deon Binneman

So 10 Mei 2009

 

Kyk wat kan gebeur as ’n natuurlike grens oorgesteek word!

kat_en_hond_1b

Hierdie beeld word deurlopend as agtergrond beeld op die skerm gebruik. 

1.        Steek jy jou grense oor?

As jy die Here ontmoet, beweeg jy die Here, of beweeg Hy jou, pas die Here by jou skema aan, of pas jy by sy skema aan?  Laat ons nie te vinnig antwoord nie.  Dit is nie so maklik om te weet in watter mate jy die Here toelaat nie …

In die teks vandag sien ons duidelik hoe die H G mense in beweging bring, en hulle hulle eie grense laat oorsteek    God se werk in ons word juis sigbaar in die gemeente wanneer ons grense oorsteek en vooroordele laat vaar.

Handelinge vertel die verhaal van hoe dat die kerk onder leiding van die Gees van God die evangelie vanaf Jerusalem reg oor die wêreld verkondig het.  In hierdie proses moes landsgrense, maar dikwels ook eie grense oorgesteek word.  Eie vooroordele moes raakgesien en laat vaar word.  In hierdie deel van Handelinge word vertel van drie individuele bekerings – die bekering van die naamlose man uit Afrika;  Paulus, die vervolger en Cornelius die heiden.  Saam maak hulle dit duidelik dat die evangelie aan almal reg oor die wêreld verkondig sou word.

 

2.       Die evangelie vereis dat grense oorgesteek word

Die Here het Filippus deur ’n engel gestuur om ’n vreemde man op ’n stil pad, op ’n ongewone plek en tyd, te ontmoet.   Hierdie persoon met wie Filippus moes gaan praat, was ’n heel interessante figuur:

          Hy was uit Afrika afkomstig.  Ons het waarskynlik hier met ’n Nubiër te make, iemand wat in die gebied suid van Egipte woonagtig was. 

          Hy was ’n hooggeplaaste amptenaar aan die hof van die koningin-moeder wat die titel “kandake” gedra het.  Aangesien die koning van Ethiopië as ’n godheid beskou is, is hy as te heilig beskou om hom met gewone regeringsfunksies op te hou.  Vandaar dat die moeder van die koning hierdie taak op haar skouers geneem het.  In vandag se terme was hy dus hulle minister van finansies. 

          Hy was ’n eunug, ’n ontmande.  Dit was nie ’n vreemde gebruik in die Ooste dat soldate wat die koning se vroue opgepas het, asook hooggeplaaste paleis amptenare wat saam met die koningin-moeder moes werk, ontman is nie. 

          Hierdie amptenaar was duidelik ’n godvresende, dit wil sê ’n nie-Jood wat hom tot die Joodse geloof bekeer het.  Hy was op pad terug van Jerusalem af waar hy God gaan aanbid het.  Die reis van meer as 3200 km kon so lank soos tien maande geduur het!  Hy was dus ’n  vasberade man.

 

3.        Hierdie man het iemand nodig

Lukas vertel dat hierdie Etiopiese amptenaar op sy wa uit die profete boek Jesaja sit en lees het.  Filippus het hom egter gevra of hy verstaan wat hy lees (vers 30), waarop die amptenaar antwoord dat hy niemand het wat die teks vir hom kan uitlê nie.  Die woord wat hy gebruik vir uitlê beteken om te lei of begelei (soos ’n gids). 

Filippus het die gedeelte oor die lydende dienaar van die Here uit Jesaja 53:7–8, waaruit die amptenaar sit en lees het (8:31–33), vir hom verklaar.  Filippus het hierdie gedeelte, wat oorspronklik vertel het van ’n verlossingsfiguur in Israel, op Christus toegepas (8:34-35).  Hy is immers die Een wat soos ’n lam na die slagplek toe gelei is ter wille van ons sondes en wat tot in die dood toe verneder is.

 

4.       Watter grense verhinder dat hierdie man uit Afrika gedoop word?

Nadat die amptenaar die goeie nuus aangaande Jesus gehoor het, vra hy vir Filippus toe hulle by water verbyry of iets hom verhinder om hom te doop (8:37–38).  Die vraag van die amptenaar of iets hom verhinder om gedoop te word, is ’n belangrike een.  Hy het naamlik geweet van grense tussen hom en God en tussen hom en die geloofsgemeenskap.

          Die Etiopiër was ’n heiden.  Maar  as God dan die middelmuur van skeiding tussen Jood en heiden afgebreek het (Ef. 2:14), wie is hy, Filippus, dan om weer mure op te rig?  Die feit dat hierdie man uit die heidendom is, vind Filippus geen verhindering nie.

          Hierdie man was ’n hooggeplaaste staatsamptenaar van die koningin van die Etiopiërs, letterlik ’n “magtige.”  Binne die samelewing mag die verskil tussen magtiges en onmagtiges groot wees, maar binne daardie vreemde gemeenskap wat ons die kerk noem, dit wil sê daardie gemeenskap wat leef uit die vreemde geregtigheid van God in Christus Jesus, is die muur van skeiding tussen ‘high society’ en ‘hoipolloi’ afgebreek.

          Die man is ook ryk.  Maar hoe dit ook al sy, die verskil tussen ryk en arm mag in die samelewing baie belangrik wees maar binne die kerk, as daardie gemeenskap wat leef uit die rykdomme van God in Christus Jesus, is die verskil tussen ryk en arm, tussen elite en skorrie-morrie, irrelevant.

          Die Etiopiër was ’n ontmande.  Dit het beteken dat hy nie in die Ou-Testamentiese volk van God opgeneem sou kon word nie (sien Deut. 23:1).  Sou hierdie man sonder geslag of nageslag so by die deurblaai van Jesaja se profesie dalk afgekom het op Jes. 56:3-5 wat sê: 

3  ’n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ’n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ’n droë boom nie. 4 So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, 5 aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ’n teken gee, ’n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie.

         ’n Laaste grens was dat hierdie man van ’n ander “ras” was, ’n Kusiet uit Afrika.  Maar dit kan Filippus nie skeel nie.  Binne die kerk as die gemeenskap van mense wat net maar leef uit God se genade, het rasseverskille nie opgehou om te bestaan nie, maar dit het opgehou om belangrik te wees.  Wat wel afgebreek is, is mure; mure van vooroordeel, mure van minagting.”

 

5.       Wat hoor jy vanoggend by die Here?

Hoe die Heilige Gees vir Filippus gelei het, word baie duidelik in ons Skrifgedeelte vir ons uitgewys.  Dit mag sommige mene dalk laat wonder waarom hulle nie self die Gees so duidelik met hulle hoor praat nie.  Die Heilige Gees lei mense vandag nog deur die Woord; en deur omstandighede (soos waar daar vir ons ’n deur oop- of toegaan); en deur ander mense (soos waar ons binne die gemeenskap van die gelowiges deur die Here van iets oortuig word); en selfs deur die gebruik van ons gesonde verstand wanneer ons dit in diens van die Here stel.  Stel ons ons beskikbaar om gelei te word?

Hoe bruikbaar is ons vir die Here?  Watter mense is daar wat God wil insluit in sy koninkryk wat dalk nog deur onsself of ons gemeente buite gehou word?  Watter grense is daar wat ons nie vandag wil oorsteek na ander nie?  En ook: Is ons werklik sensitief vir die leiding van die Gees sodat ons nie ’n hindernis vir God se plan met die wêreld is nie?

Daar is ’n wonderlike in dié verband van Franciscus van Assisi. Hy het eenmaal ’n leerling van hom genooi om saam met hom in ’n nabygeleë dorpie te gaan preek.  Die jong priester het dadelik ingestem.  Wat ’n kosbare leerervaring!  Om die groot leermeester self te hoor …  Toe hulle in die dorpie kom, het Franciscus dadelik ’n geselsie gaan aanknoop met die slagter, toe ’n draai gemaak by die skoenmaker, en later gaan inloer by ’n vrou wat haar man onlangs verloor het.  Daarna is hulle na die dorpie se skool waar hy met die kinders gespeel en na die onderwysers se probleme geluister het.  So het dit die hele oggend aangegaan.  Teen die middag sê Franciscus:  “Nou ja, ons is klaar hier, my vriend.  Ons kan maar huis toe gaan.”  Die student was stomgeslaan en het kwaai geprotesteer:  “Met alle respek, Meneer, maar ons het tog gekom om te preek?  En ons het nog glad nie dáárby uitgekom nie.”  “Het ons nie?”  vra Franciscus.  “Mense het tog die hele oggend na ons gekyk en geluister.  Elke woord wat ons gepraat het, elke daad wat ons gedoen het, was ’n boodskap.  Ons het die hele môre gepreek!”

Geen wonder nie Franciscus van Assisi het gesê: “Preek sonder ophou.  En as jy regtig moet, kan jy woorde gebruik!”

Handelinge 4:5-12 – Son 3 Mei 09

Die getuienis van ‘n 5-jarige

‘n Predikant vertel van ‘n 5 jarige dogtertjie, Lauren wat sy elke Sondag na Sondagskool raakloop en vir wie sy dan vra: “Lauren, wat het jy vandag by die Sondagskool geleer?” en dan antwoord sy:  “Ek het geleer dat Jesus my liefhet”.

So was dit elke week … die predikant vra dieselfde vraag en Lauren gee dieselfde antwoord.

Na etlike weke van hierdie selfde gesprekke, het Lauren se ma haar onderbreek:  “Maar jy sê dit elke week.”

Die predikant het vir die ma gesê:  “Wel, sy is reg!  Dis wat dit op neerkom – vir 52 Sondae probeer ons hierdie boodskap deurgee: ‘Jesus het jou lief!’ Ek wens meer mense snap dit.”

Terwyl sy dit sê, stap klein Lauren na die ingang van die kerk en sê vir ‘n besoeker:  “Jesus het jou lief.” Haar eerste preek … die besoeker glimlag.

Sy was nie ‘n predikant se kind nie, ook nie die ster van haar klas nie, net ‘n gewone 5 jarige ….

Die getuienis van Petrus en Johannes

Jesus gebruik gewone mense om Sy boodskap van liefde aan die wêreld te bring.

Dit is die boodskap van hierdie gedeelte in Handelinge, soos vers 4:13 dit stel: “die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense.”

Petrus en Johannes, twee baie gewone eenvoudige mense, vissermanne nie geleerdes nie, bring die boodskap van Jesus se liefde aan ‘n wêreld wat dit nodig het.

Want onthou, hierdie verhoor vind plaas in reaksie op die genesing van die verlamde man deur Petrus een middag kort na Pinksterdag (3:1-10).  Hy en Johannes het gaan bid by die tempel, so 3-uur die middag, die tweede gebed van die dag (godvresende  Jode het 3 keer ‘n dag gebid by die tempel, 9-uur, 3-uur en 6-uur) en op pad die verlamde man genees, omdat Jesus hom liefhet.

As kinders het ons Petrus se woorde gesing: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop.” Ons het nog van goud en silwer gesing, soos dit in die oorspronklike teks staan: “Argurion kai chrusion ouch hupargei moi.” – “silwer en goud besit ek nie.”

En Petrus (en Johannes – sy stille vennoot) het sommer die geleentheid gebruik om hulle Pinksterdag preek voort te sit by die Pilaargang van Salomo.  “Hoekom is julle hieroor (die genesing) verbaas?  … Deur die geloof in sy Naam het Hy (Jesus) die bene van hierdie man … sterk gemaak.  God … (het) Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ‘n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Die genesing lok reaksie uit van die Joodse Raad

Die Joodse Raad kon darem nie dié optrede toelaat nie en laat vang hulle laat middag, net voor die laaste bidtyd, en sit hulle oornag in die tronk.  Uit Josefus se geskrifte weet ons dat die Joodse Raad ‘n raadsaal direk aan die westekant van die tempelterrein gehad het, vanwaar hulle die preek seker kon hoor en waar die verhoor die volgende dag waarskynlik ook plaasvind het.

Die volgende môre het die Joodse Raad (waarskynlik sinoniem met die Sanhedrin) vergader.  Die Joodse Raad was die hoogste regsprekende en godsdienstige liggaam van die Jode.  Hulle het bestaan uit 71 lede, afkomstig uit invloedryke families, en saamgestel uit die geledere van die priesters en die Sadduseërs (wat die liggaam gedomineer het), met die hoëpriester aan die hoof.  Dit was die politieke en religieuse elite van die Jode.  Hulle het oor alle sake wat op die godsdienstige en algemene lewe van die Jode betrekking gehad het, die beslissende sê gehad.

Ons lees hier van die familiehoofde (letterlik “die oudstes”), die senior priesters, en die skrifgeleerdes.  In vers 6 word enkele leidende priesters by die naam genoem.  In hierdie stadium het Annas al afgetree as hoëpriester (hy het van 6-14 n.C. as sulks gedien) en het Kajafas die amp beklee (18-36 n.C.).  Annas het steeds groot aansien geniet as patriarg van die familie waaruit die meeste hoëpriesters gekom het.

Terloops, Kajafas se been-kis is onlangs opgegrawe.  Die Johannes wat hier vermeld word, het hoëpriester geword in 37 n.C.

Die apostels het voor die raad verskyn wat in ‘n halfsirkel gesit het.  Die vraag wat die raad wou ondersoek, was deur watter krag en in wie se naam die apostels die wonders verrig het wat hulle gedoen het.

Petrus tree op vol van die Heilige Gees

Lukas vertel dan dat Petrus onder die leiding van die Heilige Gees geantwoord het (vers 8): “vol van die Heilige Gees”.  Só word Jesus se woorde in Matteus 10:17-20 waar, dat die dissipels nie sou hoef bang te wees wat hulle moes sê as hulle voor hooggeplaastes oor Hom moet getuig nie.

Let op hoe beleefd Petrus begin (vers 8).  Hy maak dit egter duidelik dat die apostels verhoor word oor ‘n goeie daad wat hulle verrig het (vers 9).  Hy bely vervolgens dat hy die verlamde man in die Naam van Jesus gesond gemaak het (vers 10).  Hy het dit reeds in 3:16 aan die skare verklaar, so dit was nie ‘n geheim nie.

Hy maak dit nou ook duidelik dat dit dié Jesus is wat die raad laat doodmaak het, in wie se naam die apostels optree.  Die uitspraak moes die spanningsvlakke in die vertrek opgejaag het!  Dis nie meer die Petrus wat vir ‘n slavin skrik nie.

Dan haal hy uit Psalm 118:22 aan (vers 11).  Dié Psalm is telkens deur die vroeë Christene op Jesus se optrede van toepassing gemaak (vgl. Ef. 2:20; 1 Pet 2:4-6).  Die Psalm getuig dat God vir Jesus, wat deur die Jode verwerp is, verhoog en verheerlik het.

Petrus insinueer dus dat hulle oordeel oor wie in die naam van God optree, in die verlede verkeerd was.  Dit is daarom ook eerder die Joodse Raad wie hier verhoor word en nie hy nie.

Jesus bring die verlossing en niemand anders nie

Petrus gaan voort en sê dat net Jesus nou mense in die regte verhouding met God kan bring (vers 12).  Daar is letterlik geen ander een na wie toe mense kan draai nie.  “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”

Dit moes die Sadduseërs en die priesters wat die tempel beheer het, ernstig ontstel het.  Jesus maak dus nie net siekes gesond, soos die verlamde man by die Mooipoort nie (in vers 10 sê Petrus letterlik dat die man nou “heel” is).  Jesus se dood en opstanding bied nou ook hoop en verlossing vir almal (nie net die Jode nie) wat ver van God af leef.  Jesus se Naam bring dus universele redding.

Na Petrus se skerp woorde aan die Joodse Raad, was hulle almal verbaas oor sy vrymoedigheid omdat hy en Johannes geen formele opleiding in die wet van Moses by een van die amptelike rabbynse skole ondergaan het nie.  Hulle kon ook nie veel aan die apostels doen nie, want die verlamde man van vroeër het immers nou gesond langs hulle gestaan as die lewende bewys van Petrus se woorde (vers 14)!

Uiteindelik kon hulle net die apostels dreig en hulle loslaat.

Wat is hier op die spel?

Twee goed:

1.      die gesag van Jesus as Verlosser vir die wêreld en

2.      die getuies wat dit met gesag kan verkondig.

Die gesag van Jesus as Verlosser van die wêreld

Watter gesag lê daar in Jesus as Verlosser van die wêreld, soos Petrus hier sê, die enigste een wat die verlossing bring en niemand anders nie?

1) Ek dink ons begryp nie altyd hoe sentraal Jesus in die wêreldgeskiedenis is nie.

‘n Mens word soms verlei deur die agnostici en ateïste in die media se uitsprake oor geloof  in die algemeen en Jesus se boodskap in die besonder om te dink dat geloof as sodanig en meer spesifiek geloof in Jesus eintlik iets is wat net in jou huis gehoor moet word, en darem ook in die kerk.

Maar die media en die regering en die ekonomiese – en vermaaklikheidswêreld is van meer belang op die publieke terrein en eintlik van groter historiese belang.

Nou dit is bog.

H.G. Wells, die beroemde skrywer en geskiedkundige, was een van die grootste kritici van die Christendom, maar hy het wel gesê: “I am an historian, I am not a believer, but I must confess as an historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very centre of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history.

2) Nog dieper as dit, Petrus maak dit duidelik dat Jesus nie net nóg ‘n weg na God en vergifnis is nie.  Hy is volgens sy getuienis die enigste weg.

Dit is nie ‘n populêre standpunt vandag nie.  Dit klink vir baie net te kompromieloos, te kontroversieel, te eksklusief.  Kan dit regtig so wees dat verlossing net in een Naam beskikbaar is: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”?

Daar is immers 10 000 onderskeibare godsdienste, waarvan ‘n 150 meer as ‘n miljoen volgelinge het (Barrett).

Kan dit wees dat net 1 godsdiens reg is en 9 999 verkeerd?

Daarom dat baie mense, ook Christene, een of ander vorm van pluralisme aanvaar – die geloof dat nie een enkele godsdiens daarop kan of mag aanspraak maak dat dit normatief vir alle mense is en meerderwaardig is as al die ander godsdienste nie.

As jy só ‘n pluralistiese standpunt konsekwent wil handhaaf, moet jy ook aanvaar dat alle godsdienste gelyk is.  Soos ‘n Japanese idioom sê: “Alhoewel alle paaie na die kruin verskil, van die bergtop sien ‘n mens dieselfde maan.” Of die Hindoes se godsdiens-figuur Krishna wat in die Ghagava-Gita sê: “Watter pad mense ook neem, dit is my pad; maak nie saak waar hulle loop nie, dit lei na my toe.”

Maar, al klink dit ook hoe goed, kan ‘n mens pluralisme nie konsekwent handhaaf nie:

  • Sommige godsdienste se idees en praktyke stuit ‘n mens teen die bors. Die menslike offers van sommige Amasone stamme of die Hindoes se verbranding van weduwees, hoewel daar hervormings hier rondom gekom het in die vorige eeu, kan tog nie op dieselfde vlak as ander godsdienste gestel word wat ‘n etiek van liefde en verantwoordelikheid verkondig nie?
  • En dit is onsinnig om te sê dat alle godsdienste uiteindelik min of meer dieselfde dinge sê, want dit is doodgewoon nie waar nie, en die meeste godsdienste sal self sê dat hulle verskillend is.

Natuurlik hoef ons nie alles te verwerp van ander godsdienste nie.  In Pinkster sal ek bv. aandui hoe Paulus in Athene aansluit by die idees van twee Griekse groepe, die Epikureërs en Stoïsyne, en die evangelie aan hulle verkondig.

Daar is immers ooreenkomste sowel as verskille.

Maar ons kan verseker onderskei en ‘n ingeligte keuse maak, terwyl jy oopbly vir nuwe insigte – anders as bv. ateïste wat glad nie verdraagsaam is teenoor mense wat in God glo nie, maak nie saak in watter een nie.

Waarom is Jesus die enigste weg?

Wat sit Petrus op die tafel vir sy standpunt wat geloof in Jesus die enigste verlossende geloof maak?

Drie goed:

  1. Die opstanding van Jesus uit die dood en
  2. die goeie dade, wat in Jesus se Naam gedoen word, soos met die wonder-genesing van die verlamde man geïllustreer is.  En
  3. die inspirasie en oortuiging van die charisma wat kom van die Heilige Gees (4:8), en wat duidelik sigbaar was in die welsprekende en oortuigende getuienis wat hy voor die Joodse Raad kon lewer.

Nou oor die laaste twee sou jy nog argumente kon voer, ander godsdienste doen ook goed aan ander, en daar is baie charismatiese leiers, maar jy kan beswaarlik kies om te glo in die opstanding van Jesus uit die dode, en dan ook nog dink dat Jesus en Mohammed op dieselfde vlak is.  Die opstanding is dié onderskeidende faktor.

Die verlossing is in Jesus en nie in ons nie

Terwyl ‘n mens dus, soos Petrus, kies vir die standpunt dat Jesus die enigste verlossende geloof is, kan ‘n mens Kurt Marti se styl in gedagte hou.  Hy maak 2 opmerkings :

  1. Die verlossing is in Jesus Christus – nie in ons wat Christene is nie.
  2. Die verlossing is in ‘n Persoon – nie in dogmas of ideologiese standpunte nie.

Dit beteken dat ons nie kan dink en praat oor die verlossing asof dit ons geestelike besitting is nie. En hierdie verlossing word slegs ‘n werklikheid in gesprekke met en getuienis oor grense heen wat met gasvryheid en liefde  gedoen word … wat meer is as die konfrontasie van opponente, waar elkeen net harder praat sonder om ook te luister.

Jesus is dus die enigste weg na God, die enigste verlosser.  Hy bring die verlossing en niemand anders nie.

Maar daar is nog baie meer op die spel.

Wie kan die boodskap van Jesus met gesag verkondig?

Wie se boodskap is dit?  Wie kan dit met gesag verkondig?

In ‘n merkwaardige studie van Elliot het hy aangetoon dat daar twee dominante sosiologiese ruimtes in Lukas en Handelinge is, naamlik die “tempel” en die “huishouding“.

Lukas evangelie begin en eindig by die tempel (Luk 1:5-23 / 24:50-53), maar Handelinge begin en eindig by huishoudingstonele in die bovertrek (Hand 1 – weliswaar nog by die tempel, maar as mense wat aan ‘n nuwe huishouding behoort) en Paulus in die gevangenis-huis waar hy die evangelie “vrymoedig en onverhinderd” verkondig (28:30).

Wat het gebeur dat Lukas se twee verhale in twee sulke verskillende sosiologiese ruimtes afspeel?

In Handelinge 3 met die genesing van die verlamde man vind ons die antwoord. Hier vind die sosiologiese verskuiwing plaas!

  • In Handelinge 1-8 kry ons talle huis-tonele … dit is waar die gelowiges vergader, eendragtig saambid, brood breek, in eenvoud saameet, die Gees ontvang, mededeelsaamheid beoefen, versterk word en groei.
  • In dieselfde hoofstukke word die tempel (die sentrum vir politieke en godsdienstige beheer van die volk) geteken as die plek waar mense jare verlam lê, aalmoese soek, oproer beleef en skaregeweld, gearresteer word, in tronke gestop word, gedreig word, ‘n swygverbod opgelê word, geslaan word en selfs ‘n moord gepleeg word (Stefanus).

Dié twee instellings dra dus elkeen ‘n afsonderlike karakter en gesag.

  • Die tempel is (volgens Elliot) “an alienating form of collective institutional life”
    • terwyl die huishouding “a creative form of integrative group life” weerspieël.
  • By die een word regeer en oorheers (= om lewe te neem) en
    • by die ander word getuig van die opstanding deur na elkeen se behoefte om te sien (= om lewe te gee).

Die dissipels het nog aanvanklik die tempel besoek (hfst. 3), maar na al die moeilikheid by die tempel en ook Stefanus se steniging omdat hy “dinge teen die heilige tempel sê” (6:13) word die huishouding die draende ruimte van die evangelie.

En Paulus se bediening onder die heidene loop eweneens deur huishoudings en “huisgemeentes”.   Hy begin weliswaar by die sinagoges, maar dit is telkens in die huishoudings wat geloof groei.

Die tempel word in die res van Handelinge plekke van sameswerings, beplande moorde, politieke gekonkel en strydgesprekke oor reinheid.

Die huishouding vervang dus die tempel as sfeer van die reddende teenwoordigheid van God.

Wat het dit alles met die Naam van Jesus te doen?

Wel, Jesus se lewe en naam kon duidelik nie meer aan die tempel gekoppel word nie, so maak Handelinge 4 duidelik, maar wel aan ‘n nuwe sosiale groepering waar sy waardes gelewe word, die gemeenskap van gelowiges in hulle huisgemeenskappe.

Iets wat Jesus self natuurlik al voorspel het in die gesprek met die Samaritaanse vrou by die put van Sigar: “daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg (Gerisim) en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie … (maar) deur die Gees en in waarheid sal aanbid.” (Joh. 4:21-24)

Slot

Wat ons terugbring by die verhaal van Lauren.

Die eenvoudige boodskap van Handelinge 4 is dat Jesus jou liefhet, en dat elkeen wat dit vir ‘n ander persoon sê, ‘n getuie word van die mees ongelooflike boodskap wat dié wêreld ooit gekry het.

En daarvoor gebruik God eenvoudige en doodgewone mense, mense soos jy en mense soos ek.  En hy gebruik ons in ons huise en ons buurtes.  Die kerk kan net effektief bestaan en funksioneer as ons as ‘n huishouding funksioneer, en nie as ‘n tempel nie.

“The essence of hospitality is a heart open to God, with room prepared for the Guestness of the Holy Spirit, that welcomes the presence of Christ.  This is what we share with those to whom we open our doors.  We give them Him.” Karen Burton Mains

 

Luk 24 – Son 26 April 09

VERWELKOMING

VOTUM
God het sy Dienaar
Na die wêreld toe laat kom
En Hom na ons toe gestuur
Om vir ons tot ‘n seën te wees
Deur elkeen van ons
Van ons verkeerde paaie af terug te bring.

SEËNGROET
Daarom groet in woorde van Jesus:
Vrede vir julle!

LOFSANG
Paastyd – Paasliedere, vier Jesus opstanding:
•    Lied 414 (staan)
•    Lied 417 (staan)

WET
1 Johannes 3:16-19; 23-24 (Leesrooster)

GENADEVERKONDIGING
Heidelbergse Kategismus Vraag 45:
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Eerstens
het hy deur sy opstanding
die dood oorwin
sodat hy ons die geregtigheid
wat hy deur sy dood verwerf het,
deelagtig kon maak. 
Tweedens
word ons nou ook
deur sy krag
tot ‘n nuwe lewe opgewek. 
Derdens
is die opstanding van Christus
vir ons ‘n betroubare waarborg
van ons salige opstanding.

Lied 219:1-2 (Staan)

EPIKLESE
Jesus verskyn dissipels, open verstand Skrif te verstaan. 
Opdrag te verkondig.
Ons gebed:
Lied 271 (sit)

SKRIFLESING
Lukas 24:36-48

PREEK
Vir Michael O’Neill (foto) van Middleborough, England,
was ‘dood’ net ’n vakansie…
Op 2 Junie 2008 het Michael besluit om ’n skielike (daardie laaste minuut besluit) reis na Australië te onderneem om ’n vriend daar te gaan besoek.  Hy het egter die fout gemaak en niemand van sy planne ingelig nie.
Sy bure, wat hom vir dae nie gesien het nie, het bekommerd geraak en die polisie hieroor ingelig.  Hulle het die deur van sy woonstel afgebreek, net om te ontdek dat hy verdwyn het – sonder enige leidrade van wat met hom gebeur het.
Eerlike fout? Wel, dit word nog meer ingewikkeld! ’n Paar weke daarna verskyn ’n doodsberig in die plaaslike koerant vir ’n ‘Michael O’Neill’, ook van Middleborough, wat dieselfde ouderdom is as ons reisiger na Down Under, en wat twee broers het met die name Kevin and Terry.  Hou vas aan jou stoel, want die ‘reisiger Michael’ het ook twee broers wie se name Kevin en Terry is.
Die vriende en bure van die springlewendige – maar rondreisende – O’Neill het toe gedink hulle ergste vrese het waar geword…
Toe Michael op 11 Augustus by die huis aankom, ontdek hy sy voordeur is stukkend, polisie wat sy woonstel dophou en sy bure wat hom weer eens op die straat sien loop én in spoke begin glo.
“Everywhere I’m going, people I know are grabbing hold of my hand, saying, I thought you were dead!’” het O’Neill The Daily Telegraph vertel. “They can’t believe it’s me and I’m still alive. I’m a nervous wreck because everywhere I go people keep grabbing me!”
Jammer, Mike, maar dis ’n natuurlike reaksie as iemand wat “dood” is, terugkeer van Down Under!

Dissipels in bo-vertrek,
Bang, verwilder, onseker –
Jesus gemartel, gesterf.
Sommige weggehardloop,
Ander gesien.

Dan, Sondag-oggend
Boodskap van vroue,
Graf leeg,
Jesus opgestaan.

Dan verskyn Jesus aan 2 reisigers,
Stap pad na Emmaus saam,
Verduidelik skrifte,
Wanneer saam eet,
Oë oop, herken Jesus.
Jesus verdwyn,
2 staan dadelik op,
Terug na Jerusalem,
Vertel dissipels dat Jesus gesien.

Nou dissipels saam in bo-vertrek.
Het al hierdie stories gehoor –
Beslis besige dag!

Seker gesit en spekuleer,
Wat gaan aan,
Mense verward?

Dan verskyn Jesus aan hulle met woorde:
Vrede vir julle!

Algemene groet van tyd.

Waarskynlik hier ook woorde wat volle vergifnis vir mislukkings uitspreek,
Al het weggehardloop,
Verloën,
Getwyfel…

Maar dissipels dink sien ‘n spook. 
Dink hoe jy sal voel as spook sien?

Dissipels heeltemal verskrik.

Jesus bewys dat nie spook is,
Wys hande en voete,
Eet saam met hulle.

Ete natuurlik ook bevestiging van vergifnis,
Herstel van gemeenskap,
Herinner al ander kere Jesus saam dissipels geëet,
Veral laaste maaltyd, Nagmaal ingestel.

Maar hoofsaak van stukkie vis Jesus hier eet,
Is dat dissipels besef Jesus nie spook.
Jesus leef.
Jesus werklik opgestaan,
Dood oorwin. 

Maar vandag veral fokus hierdie wonderlike uitnodiging Jesus aan dissipels om na hande en voete te kyk,
Aan hande en voete te vat.

In evangelie van Johannes gebeur iets soortgelyk ‘n week later –
Ken verhaal, Thomas genooi om te kyk, te vat.

Hier in Lukas verhaal,
Almal uitgenooi te kyk, te vat.

Interessant,
Jesus nie sê:
Kyk na my gesig.  Luister na my stem.
Manier in flieks:  vra paar vrae, iets net ek sal weet.

Jesus sê:  kyk na my hande en voete.

Jesus wil waarskynlik hê moet merke aan hande en voete sien,
Weet dat hy is –
Selfde liggaam wat aan kruis sien hang,
Sien sterf. 

Hoewel Lukas noem nie gate,
Gewoon vleis en been,
Jesus regtig, liggaamlik teenwoordig. 

Kan jy iemand identifiseer net aan hande en voete?
Eggenoot, gesin. 
As geliefde se identiteit vir jou wegsteek,
Jy net hande en voete om te herken – sal kan doen?
Vermoed baie van ons sal kan.

Maar hande en voete nie in die reël die eerste ding wat van mekaar sien.

Maar as van naderby kyk,
Vertel hande en voete storie.
Sê wie ons is,
Vertel waar ons was.

Ek massiewe eelt linker middelvinger.
Uit skooldae, skryf.
Skryf vandag byna nooit,
Eelt bly.

Iemand vertel dat vinger het wat nie buig,
Nadat verstuit by kerk krieketwedstryd.

Sommige mense eelte van instrument wat speel.
Byt naels.
Gedeelte van vinger verloor,
Sommige hande effense bewe
Ander nie so effense bewe.

Delikate hande
Goed versorgde hande
Growwe hande
Gespanne hande
Dokters-hande
motorwerktuigkundige hande, olie.

Hande vertel ‘n storie. 
Linus sê vir Lucy  (van Peanuts faam):
Kyk na hierdie hande”.  Eendag kan hande wees van konsert-vioolspeler…  internasionaal bekende wetenskaplike…  wêreldbekende chirurg.
Lucy antwoord Linus: “Daar’s konfyt op hulle.”
Wanneer in nood,
Ondersteuning nodig,
Dikwels iemand hand vashou.

Of wanneer liefde,
Kameraadskap wil wys,
Hou hand vas. 

Kyk na my hande en voete,
Sê Jesus.
Voel aan my en kyk.

Daarin wys dat regtig Jesus is.
En wie Jesus regtig is.

Wat sien,
Is hande wat brood gebreek het,
Wat brood en vissies geneem en vermeerder
Wat spoeg en grond modder gemeng en op blinde se oë gedruk
Wat in grond geskryf terwyl mense sondaar met klippe wou doodgooi
Wat meisie aangeraak, uit dood opgewek
Wat onreines aangeraak.

Hande wat deurboor aan kruis,
Wat liefde wys
Wat vergifnis wys
Wat oorwinning wys. 

Hande wat wonderwerke gedoen,
Aangeraak,
Genees.

Interessant Lukas Jesus uitbeeld dat na dood selfde doen as voor dit.
Vertel volgelinge nie bang te wees.
Verduidelik skrif.
Verkondig bevryding van sonde en skuld.
O en eet stukkie vis.

Jesus na sy opstanding doen selfde as voor kruisiging.
Hy eet saam met volgelinge.
Hy verkondig vrede.
Jesus boodskap steeds dieselfde.

Maar veral interessant,
Wat Jesus doen nadat hande en voete wys,
Nadat saam eet,
Nadat Skrifte verduidelik:
47  en in sy Naam moet bekering
en vergewing van sondes
aan al die nasies verkondig word,
van Jerusalem af
en verder.’
48  Julle is getuies van hierdie dinge.
Ons is liggaam van Christus.
Ons is Jesus se hande en voete.

Wat wêreld,
Wat jou bure,
Jou eggenoot,
Jou gesin,
Jou kollegas van Jesus gaan sien,
Is dikwels vir jou –
Jou hande en voete,
Wat jy doen,
Waar jy gaan.

Ons vier passie van Paastyd –
Jesus leef!
Kan aan sy voete sit,
Kan sy hand in ons lewe beleef.

Ook fokus op ons gasvryheid as gemeente,
Op ons hande en voete wees vir Jesus.

Hoe kan jy Jesus se hande en voete wees?

Gereeld geleenthede,
Soek gereeld mense bereid te dien:
Kategete,
Kinders help sing, knip,
Bosslapers kos
Klank agter in kerk.

En het mense nodig dit te doen.
Maar weet jy wat…
Jy hoef dit nie te doen nie.

Hoor my mooi: het mense nodig dit te doen.
Sal altyd vra.

Maar lewe oorweldig,
Kerk sê Jesus hande en voete,
Sommer moedeloos.

Maar om Jesus hande en voete te wees,
Beteken nie noodwendig moet Timboektoe toe
(hoewel dit kan beteken!)

Hoe kan jy jou hande en voete gebruik,
Om Jesus se hande en voete te wees,
Elke dag,
Waarmee reeds besig?

Gebruik verbeelding.

Kan iets bak of maak,
Aanraak,
Uitreik,
Oplig,
Dra,
Bymekaarmaak,
Gee.

Jou voete kan opstaan,
Besoek,
‘n brug oorsteek. 

Een kyk na Jesus hande en voete,
Weet waar hy was.

Mense na ons hande en voete kyk,
Wat sien?

Uitdaag:
Gasvry.
Hande en voete wat uitreik,
Aanraak,
Omarm. 

In bedieninge,
Ook waar elke dag beweeg,
Mense van eie gemeenskap,
Oor grense:
Student in agterplaas,
Moslem saam werk.

Kom sê vir hulle:
Vrede vir julle!
Deur Jesus hande en voete te wees
OMDAT Jesus opgestaan het.

GEBED
DANKOFFER

LIED 308 (STAAN)
SEËN
‘Die Christus moet ly
en op die derde dag uit die dood opstaan,
47  en in sy Naam moet bekering
en vergewing van sondes
aan al die nasies verkondig word,
van Jerusalem af
en verder.’
48  Julle is getuies van hierdie dinge.

Lied 533

Die Gees stuur ons oor grense

Pinkster 2009

Die term ruach het verskillende betekenisse in die Ou Testament:

  1. wind, ‘n onsigbare, misterieuse, magtige krag wat baie keer aan die idee van krag en geweld verbind word;
  2. asem (wind op ‘n kleiner skaal!) of gees, dieselfde misterieuse krag wat ons waarneem as die lewe en vitaliteit van menslike lewe, wat geaktiveer kan word in ‘n sekere rigting, gehinder of onderdruk kan word en weer lewe gegee kan word.  Dit is ‘n dinamiese lewenskrag wat by tye laag kan wees (dit verdwyn by die dood) of kan opbeur in ‘n skielike opbruising van krag.
  3. Goddelike krag of Gees waar iemand meegevoer word, nie net deur ‘n natuurlike opbruising van energie nie, maar deur ‘n bo-natuurlike krag wat besit neem, soos ons sien in die vroeë charismatiese leiers (Ehud, Debora, Gideon, Jefta, Simson) en profete (Samuel, Elia, Elisa).

Dit is duidelik dat ruach ‘n eksistensiële term is, dat dit gaan oor die ervaring van ‘n misterieuse awesome krag, wat alles ‘n manifestasie is van Goddelike energie.  Soos Psalm 139:7 sê, dié kragtige teenwoordigheid van God is kosmies en onontwykbaar.  Dit vul alles met lewe-gewende energie.

En dit is dié Gees wat Jesus met Pinksterdag uitstort oor sy 120 dissipels in die bovertrek.

“Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.  Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.  Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.” (Hand 2:2-4)

En dit is dié Gees wat my dring om dié Pinkster grense oor te steek in reaksie op sy lewe-gewende energieke werking.

In 7 Pinksterdienste gaan ons die Gees se werking naspeur en ondervind. 

En ek wil baie graag saam met ‘n paar mense die pad stap om saam te bid, te lees en die Gees se leiding te volg …

1         God steek grense oor
  • Ons fokus op die Gees se werking en dinamika binne die Triniteit en die kosmos.
  • Ons kyk spesifiek hoe die Gees grense oorsteek in en met gemarginaliseerde mense (Rigters).
2         Jesus steek gender grense oor
  • Ons leer by Jesus hoe die Gees Hom oor die gender en godsdiens grens lei om ‘n vrou en ‘n dorpie te bereik (Johannes 4) – en ons dink na oor hoe ons in gasvryheid die grense na ons eie omgewing kan oorsteek.
3         Jerusalem steek armoede grense oor
  • Ons leer by die eerste gemeente hoe die Gees hulle lei om die armoede grens oor te steek (Handelinge 2 en 4) – en ons dink na oor ander uitdagings vir ons vandag: armoede, MIV en Vigs, geweld, werkloosheid.
4         Filippus steek etniese grense oor
  • Ons leer by Filippus hoe die Gees hom lei om die etniese grens na die Ethiopiese amptenaar oor te steek (Handelinge 8) – en ons dink na oor die 3 groot vrese van Afrika (voorvaders, heksery en towery, onreinheid).
5         Petrus steek politiese grense oor
  • Ons leer by Petrus hoe die Gees hom ‘n politieke grens laat oorsteek na die Italiaanse soldaat, Kornelius (Handelinge 10 ) – en ons dink na hoe ons na die verkiesing met mekaar as gelowiges in hierdie land van ons kan saamwerk.
6         Paulus steek godsdiens grense oor
  • Ons leer by Paulus hoe die Gees hom die godsdiens grens laat oorsteek na die Ateense wysgere, Epikureërs en Stoïsyne (Handelinge 17) – en dink na hoe ons dit in ons land kan doen na die ander godsdienste in ons land.
7         Die Gees stuur ons oor grense
  • Ons verbind ons aan die Gees wat alles met sy teenwoordigheid wil volmaak en ons in die proses wil stuur oor ons selfgemaakte grense.

Sal graag met ‘n paar mense ‘n pad wil stap tot en met die Pinksterdienste.  Bid, lees, lewer kommentaar en raak betrokke!

Chris van Wyk (acv.vanwyk@gmail.com)