Skip to main content

Galasiërs 3:23-29 – In Christus is julle almal één – Son 20 Junie 2010

2) Om die konteks van hierdie teks egter nog beter te verstaan, moet ons nog verder teruggaan in die Ou Testament. In Genesis 11, die verhaal van die “Toring van Babel”, probeer die mens “vir homself ‘n naam maak” (v 4) en so verklaar hy sy onafhanklikheid  van God. Die straf vir dié hoogmoed is die verdeling van die volke.

Maar onmiddellik (Gen 12) maak God weer ‘n plan met die volke as Hy vir Abraham roep en sê (v 3): “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.” Die belofte is om deur Abraham en dan uiteindelik in Christus, die straf van die toring van Babel (die verdeling van die volke) op te hef.

Daarom is Galasiërs 28:3 so ‘n belangrike vers: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een”,  en is dit ‘n vervulling van die verbond wat reeds met Abraham aangegaan is. Vers 29 voeg pertinent by: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.” Dis soos ‘n legkaart wat in mekaar pas.

Daarom was die eerste gemeentes ook multikultureel van aard. Jode en Grieke het saam aanbid, saam deel gevorm van die een geloofsgemeenskap.

Dit was natuurlik ‘n geweldige kulturele aanpassing vir die Joodse Christene wat voorheen slegs saam met Jode aanbid het. Soos Scot McKnight sê: “een van die grootste uitdagings vir die eerste gemeentes was vir die Joodse Christene om nie net heidense Christene te aanvaar nie, maar ook deel te laat voel van die kerk. Om die eenheid van die liggaam van Christus te behou ten spyte van diversiteit.”

En dit bly steeds ‘n uitdaging, waar een kulturele groep in ‘n kerk of gemeente die meerderheid is.

Teks

Slawe en seuns

21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?

Beslis nie! As ‘n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ‘n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Woordverkondiging

As jy mooi kyk, sal jy op Skotse skaapplase een of meer lammetjies sien rondhardloop met ‘n ekstra velletjie om hulle lyfies gewikkel.  Dit beteken die lammetjie se ma het gesterf.  Nou, die velletjie is nie daar om hulle warmer te maak nie.  Nee, dit is daar om ‘n heel ander rede.

‘n Lammetjie sonder die versorging van ‘n skaapooi het geen kans op oorlewing nie.  Sonder kos en sonder die aanvaarding binne die trop, sal geen lammetjie dit maak nie.  Maar, as jy nou net so ‘n wesie na ‘n ander ooi sou neem, sal sy dit bloot wegstoot.  Sy sal nie die lammetjie se reuk herken nie, en daarom weet dit is nie haar eie nie.

Gewoonlik het so ‘n skaapkudde egter ook ‘n ooi wie se lammetjie gesterf het.  Die skaapwagters neem die dooie lam se vel en wikkel dit om die wees-lammetjie.  Die lam word dan na die ooi geneem wie se kleinding dood is.  Wanneer sy die wees-lammetjie ruik, ruik sy haar eie lam.  In plaas van om die lam te verdryf, eien sy dit as haar eie toe.

Op dieselfde manier, in Christus, word ons deel van God se kudde.  Deur die geloof in Christus is ons almal nou kinders van God, ons is deur die doop deel van Christus (Gal 3:26-28).  Jesus is soos die velletjie wat vir die trop en vir die ma sê: hierdie een behoort by julle. (Oorvertel deur Peter Grant,  in ‘n preek getiteld “In What Way Is Jesus Christ Different?”)

Ons is in Christus.  Almal wat glo is nou in Christus kinders van God – “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal één”.

Konfrontasie in Antiogië

Ek het verlede week vertel van die konfrontasie tussen Paulus en Petrus.  Paulus moes hom in Antiogië openlik teen Petrus verset.

In Antiogië het Joodse gelowiges aanvanklik die evangelie gedeel met persone van Grieks-Romeinse afkoms, en dié wat tot geloof gekom het, as deel van die Christelie gemeenskap aanvaar. Saam het hierdie Joodse gelowiges en die Griekse bekeerling, soos ‘n mosaïek, een gemeente gevorm.  Hulle was een in die Here.

Petrus het op sy besoek daar gewoonweg saam met die nie-Joodse gelowiges geëet.  Die oomblik toe daar egter ander Joodse gelowiges van Jerusalem daar aankom, het Petrus daarmee opgehou, ter wille van die Joodse gelowiges se idee dat ‘n mens steeds ook die wet moet nakom.

Paulus noem dit egter onomwonde huigelary.  Die hart van die evangelie is daarmee aangetas.

Daarom herhaal Paulus regdeur hierdie brief: net deur Christus kry jy toegang tot die geloofsgemeenskap.  Dit maak nie saak of jy Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie (hier noem Paulus van die groot sosiale skeidslyne van die destydse wêreld): in Christus Jesus is julle almal één!

Waarom is dit belangrik?

Protestantse Christene het ‘n slegte geskiedenis as dit kom by die skeuring van die kerk.  Ons het ongelukkig nie ‘n vreeslik hoë agting vir die eenheid van gelowiges in Christus, ingebind in die een liggaam van die Here nie.

Maar dit was nie altyd so nie!

Die godsdiens-sosioloog Rodney Stark vertel die geskiedenis van die antieke Antiogië, toneel van die konflik tussen Petrus en Paulus, in sy boek The Rise of Christianity. Wanneer mens dit lees, besef jy waarom die konkrete en praktiese eenheid van ‘n verskeidenheid gelowiges in Christus die hart van die evangelie en die krag van die evangelie is.

Antiogië

Antiogië was die vierde grootste stad in die Romeinse Ryk in die tyd van die Nuwe Testament.  Soos die ander stede, was dit ‘n verskriklike plek.

  • Die bevolking was 150,000 mense, met ‘n bevolkingsdigtheid van 48000 mense per km2. Vergelyk dit met Chicago (5 000 persone per km2) of Calcutta (30000 mense per km2).
  • Antiogië was ongelooflik oorbevolk, mense was ingedruk, met feitlik geen privaatheid nie.  Die strate was ongelooflik nou, en mens moes dit deel met diere soos perde en osse.  Selfs die heel breedste straat in Antiogië, bewonder deur die hele Romeinse Ryk, was 9 meter wyd.  Dit is ongeveer so breed soos ‘n normale pad in Somerstrand.
  • Romeinse stede het geen rioolsisteme gehad nie.  Kamerpotte en rioolputte was die res van die bevolking se voorland.  Potte is dikwels sommer uit die boonste verdieping op straat leeggemaak.  Aangesien seep nog nie uitgevind is nie, en water aangedra moes word huise toe, was die bevolking nie juis gewoond aan bad nie.
  • Waar daar vullis ophoop, insekte versamel, en ‘n hoë konsentrasie van mense is, is daar ‘n oorvloed siektes. Daar was nie seep, antibiotika of kennis van bakterieë nie. Daarom was die gemiddelde lewensduur van mense, veral stedelinge, destyds baie laag. Tog was daar ‘n verstedelikingsproses aan die gang, mense wat ‘n beter heenkome kom soek het of uitgeboer het of doodgewoon by die leër aangesluit het as soldate.
  • Enige stad se bevolking word onstabiel wanneer daar ‘n voortdurende invloei van nuwelinge is.  Dit verhoog die potensiaal vir misdaad.  Daar is nie ‘n verenigde tradisie of gemeenskaplike moraliteit nie.  Oproer was ‘n gevreesde verskynsel in Romeinse stede, iets waarvoor die stede baie vatbaar was.
  • Aangesien die Romeine baie volke oorwin het, was Romeinse stede ook die versamelpunte van mense wat etnies uiteenlopend was.  Hierdie mense het letterlik en figuurlik hulle mes vir mekaar in gehad.  Die Romeine het die stad daarom in sektore verdeel wat dikwels met mure afgeskort was.  Daar is aanduidings dat Antiogië 18 ghettos of etniese woonbuurte gehad het.  Na donker was dit lewensgevaarlik om jou huis te verlaat.

Alles in ag genome was stede lewensbedreigende plekke.  Redding en verlossing was nodig.  Spesifiek publieke redding en verlossing.

Vir Antiogië het die dag van redding aangebreek toe Joodse gelowiges, anders as op ander plekke, ook die evangelie aan die nie-Joodse inwoners verkondig het (Handelinge 11).  Antiogiërs het vir Jesus Christus as Here aanvaar, wat beteken het ‘n nuwe geloofsgemeenskap het ontstaan waarbinne almal welkom was, Griek, Romein, Jood, barbaar, slaaf en vryman, man en vrou.

Hoe red die evangelie Antiogië?

Wat gebeur wanneer ‘n nuwe gemeenskap van mense wat vir mekaar omgee, mekaar lief het en mekaar versorg, ongeag jou etniese agtergrond, tot stand kom in ‘n geweldgeteisterde, siek stad? Wat gebeur wanneer tradisionele vyandigheid afgebreek word binne ‘n nuwe gemeenskap wat geleer word om lief te hê eerder as te vergeld, om vir ander om te gee eerder as om jou eie belange te dien?

Wat gebeur wanneer die Heilige Gees die liefde van God in mense se harte uitstort (Rom 5:5) en hulle leer om in vrede met ander te lewe?  Wat gebeur wanneer siekes versorg word, ongeag hulle agtergrond, en waar ‘n nuwe, verenigde gemeenskap tot stand kom?

Die antwoord is eenvoudig: die boodskap van Jesus en die één, nuwe gemeenskap wat Hy deur die getuienis van sy volgelinge geskep het, het stede veiliger plekke gemaak. Die misdaad het gedaal.  Liefde en versorging het gestyg.  Mense is geleer om vir mekaar om te gee.  Die publieke ruimtes het veiliger geword.

Daarom, sê Rodney Stark, het die Christelike geloof soos ‘n veldbrand deur die Romeinse stede versprei.  Jesus het werklik konkrete, praktiese hoop vir mense gebring.  Die geloof in Jesus het mense saamgebind, aan hulle identiteit verskaf, en hulle gemeenskappe getransformeer,

…providing new norms and new kinds of social relationships able to cope with many urgent urban problems.  To cities filled with the homeless and impoverished, Christianity offered charity as well as hope.  Top cities filled with newcomers and strangers, Christianity offered an immediate basis for attachments.  To cities filled with orphans and widows, Christianity offered a new and expanded sense of family.  To cities torn by violent ethnic strife, Christianity offered a new basis for social solidarity.

Die volle omvang van ons redding in Christus

Dink aan die publieke en sosiale impak van die evangelie wanneer mense in Jesus se naam geleer word om die gevangenes te besoek, die naaktes te klee, water en belangstelling, liefde en genade te gee aan mense wat dit ontbeer (Matt 25).  Dit ontketen ‘n sosiale hervorming wat nie grense ken nie.

Die evangelie red ons nie net van die hel wat na hierdie lewe aanbreek nie.  Dit red ons ook van die hel duskant die graf, van geweld en misdaad, sosiale disintegrasie en publieke chaos. Ons redding het nie net te doen met waar ons die ewigheid deurbring nie.  Die evangelie red ons nou reeds, en skep ‘n nuwe, alternatiewe gemeenskap wat die bestaande sosiale orde omkeer en vernuwe, omdat die mense verander en tot ‘n nuwe gemeenskap saambind, die liggaam van Christus.

Die evangelie doen dit omdat Christus mense, ten spyte van hul herkoms, saambind tot ‘n nuwe mensheid.  Daarom dat Paulus hier vir die mense van Galasië sê dat dit hoort tot die kern van die ware evangelie, soos hy reeds met die mense van Antiochië gedoen het.  Wie die evangelie ontkrag deur mensgemaakte, etniese voorkeure te wil gebruik om toegang tot die nuwe mensheid in Christus te beperk, skep ‘n valse evangelie.

Soos Paulus in ons teks sê: “Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.”

Ons het in ons land ook gelowiges nodig wat die transformerende krag van die evangelie onverskrokke uitleef.  Almal in hierdie land wat deur Christus toegang tot die Vader gekry het, is saamgebind tot een, nuwe mensheid.  Ons is aan mekaar gegee.  In die mate wat ons dit uitleef, na mekaar uitreik, mekaar vind, mekaar liefhet en dien, sal ons die veranderende krag van die evangelie in ons samelewings beleef.

Die evangelie is nie net ‘n private, persoonlike ervaring wat net met my binnekamer en my belewenis van God te doen het nie.  Dit is ‘n skeefgetrekte, valse, Westerse evangelie.  Ons het Christene nodig wat die samelewing takel, wat ons broers en susters in die Here wat anders as ons is, ontdek, en tot vennote in diens van Christus maak.  Ons het ‘n evangeliese sosiale agenda nodig.

Dit is wonderlik bemoedigend om te sien hoeveel gelowiges reeds hierdie werk doen.  Talle gryp bv die Wêreldsokkerbeker aan as geleentheid om gemeenskappe oor grense met mekaar te konnekteer in diens van God en gemeenskap.

Stories

Ek sluit af met ‘n paar stories van hoop.  In ons gemeente is daar gelukkig reeds ‘n hele paar sulke verhale, Theo met sy 30 000 borde kos jaarliks, Hannes met die werkskeppingsprojek, die komberse projek, ons betrokkenheid by MTR Smit en nog vele ander barmhartigheid en uitreik projekte hier en reg deur die wêreld.

Maar, ek haal die stories uit ons Oos-Kaap sinode, om net ‘n prentjie te gee van wat op ander plekke gebeur, wat van ons kerk en van die samelewing algaande ‘n ander plek maak.

PE-Noord

‘n Aangrypende seremonie het onlangs op 13 Junie 2010 in Port Elizabeth-Noord gemeente afgespeel.  Dit het alles begin met ds Johan Marais wat byna ‘n jaar gelede aangekondig het hy begin ‘n groep met die oog op volwasse kategese.  Twaalf volwassenes meld toe aan, waarvan sewe end-uit deel van die groep gebly het.

Eers word vier volwassenes gedoop as deel van belydenisaflegging.  Daarna kom hierdie persone se huweliksmaats na vore, en word hulle kinders ingebring om gedoop te word.

Vier volwassenes en daarna hul vyf kinders word op een dag gedoop.  Nege dope op een dag en almal gesinsdope!

Waarom meld ‘n groot groep volwassenes vir kategese in ‘n NG Gemeente aan?

Dit het te doen met publieke geloofwaardigheid.  PE-Noord se geloofwaardigheid hou verband met hul betrokkenheid by die omliggende gemeenskap in die sentrale, semi-geïndustrialeerde stadsgebied waar die gemeente geleë is.  Die gemeente bedryf ‘n vroue-bemagtigingsprojek, gee Saterdae ‘n maaltyd aan byna 400 gemarginaliseerde straatlopers, besoek die gevangenes in die nabygeleë gevangenis, reik uit na en gee om vir die hele gemeenskap se kinders. Hulle is ook betrokke by die plaaslike laerskool.

Die diens en betrokkenheid by die gemeenskap gee aan die gemeente publieke geloofwaardigheid.  Mense herken Christus in die lewe van die gemeente.

Daarom is meer as 50% van persone wat die aanddienste bywoon nie lidmate van die gemeente in die klassieke sin van die woord nie.  Daarom gee sakemanne en besighede gereeld finansiële steun aan die gemeente se gemeenskapsprojekte.

Persone wat inskakel by die volwasse kategese kom dus nie vir verhelderende teoretiese insigte en toeligting van die kerk se dogma nie – hoe lofwaardig dit ook al mag wees.  Hulle kom omdat hulle Jesus aantreklik vind, en self ook vir Jesus saam met mede-gelowiges wil volg.

NGK Cambridge

Die Garcia sub-ekonomiese munisipale woonstelle is nie die soort plek waar mens graag wil bly nie.  ‘n Hele katologus van sosiaal-maatskaplike probleme, soos gesinsgeweld, verslawing, dwelmhandel, kinderverwaarlosing – en meer – kom hier voor.

Die woonstelblok is geleë in die Cambridge woonbuurt, so ‘n kilometer of wat van die kerkgebou van die NG Kerk Cambridge af.

Ds Sas Swart vertel die verhaal hoe die gemeente by hierdie woonstelblok, en spesifiek die kinders betrokke geraak het.  Hulle doen wonderlike werk om te verseker dat die kinders by die skool kom, in die middae geleentheid het om huiswerk te doen (in die kerksaal) en ook die geleentheid kry om Jesus van Nasaret te leer ken en te volg.

Daar is bitter min romanties aan dié werk.  Maar Jesus dring die gemeente, en daar is vrug op die werk.

Deel van hierdie vrug is die ouers van hierdie kinders wat kerklik ingeskakel raak en op hulle beurt óf leer om die Here te volg, óf weer die geleentheid kry om betekenisvol by deel van ‘n geloofsgemeenskap te word.

Onlangs, in Mei 2010, het vier volwassenes uit hierdie woonstelblok belydenis van geloof in die Cambridge-gemeente afgelê.

Die briefies wat hulle geskryf het om hul aansoeke om lidmaatskap te motiveer, is van die wonderlikste getuigskrifte wat ‘n gemeente kan kry.

Grace Devereaux skryf oor ‘n “‘n Kerk wat omgee vir mense.”  Dit is ‘n kerk wat om die regte redes aantreklik is en iets van die Here se hart vertoon.

Loretta Pillay se seun is aan ‘n rolstoel gekluister.  Die kerk se uitreik het hom weer ‘n ruimte gegee waarbinne hy kon sosialiseer en waarin hy veilig kan wees.  Sy vertel dat wat die kerk vir haar seun gedoen het,haar beweeg het om in te skakel.  Sy het gasvryheid ervaar.

Elliot

Vier kinders sterf op slag toe die taxi voor ‘n vragmotor beland.  Dié tragedie speel af op ‘n herfsmiddag in Mei 2009, terwyl die taxi skoolkinders na Elliot, ‘n klein dorpie in die Noord-Oos-Kaap, vervoer.

Daar is vyftien kinders in die bussie, waarvan ‘n paar ook ernstig beseer word.  Die meeste benodig noodbehandeling.  ‘n Aantal boere uit die omgewing is eerste op die toneel.  Hulle spring aan die werk en vervoer die kinders na die hospitaal op Elliot.  Dadelik – dieselfde middag – word genoeg geld ingesamel en ambulanse gereël om die erg-beseerdes Oos-Londen toe te neem, honderde kilometer vêr.

Die volgende oggend stig die plaaslike NG gemeente ‘n rampfonds ten bate van die slagoffers.  Die opbrengs word gebruik om die begrafniskoste van die oorlede kinders te dra, hospitaal- en mediese uitgawes te dek, en nuwe skoolklere te koop vir die beseerdes, meeste van wie net oor ‘n enkele stel skoolklere beskik het.  Verskeie boere maak onder andere ruim bydraes tot die rampfonds.

Hierdie spontane Christelike liefdesdiens en ondersteuning is kleurblind.  In die onbeskryflike smart van ouers wat kinders verloor, of wie se kinders ernstig beseer word, is dit bloot medemens wat medemens bystaan.  Niemand sou die uitkoms kon voorsien nie….

Dis nou ‘n jaar later.  “Wat is die gevolg van dié hulpvaardigheid in die gemeenskap?” vra ons op ons onlangse sinodale padberade vir ds Conrad Thomas, plaaslike leraar van Elliot.

“Verstommende gevolge.  Daar is ‘n dramatiese toename in onderlinge vertroue in die gemeenskap,” antwoord hy.  “Die taxi-vereniging op Elliot se houding het radikaal verander teenoor spesifiek die boere-gemeenskap, maar ook die blanke bevolking in die algemeen.  Taxi-bestuurders help ons byvoorbeeld nou misdaad bekamp.  Wanneer hulle bewus word van persone wat onwettige goedere vervoer, word dit aangemeld.  Verskeie taxi-operateurs beskik oor landbougrond en boer ook self.  Boere het ingespring en hulle gehelp om die grond om te ploeg en die lande vir die saaityd voor te berei.  In die afgelope oestyd het boere ook hul stropers ingestuur om die mielies te help oes.”

Daar is ‘n besliste afname in misdaad op Elliot.  “Dit staan in skrille kontras met die spanning wat daar ‘n paar jaar gelde op Elliot geheers het”, vertel ds Thomas.  “Terwyl die Here nie ongelukke stuur nie, het die Here tog hierdie ongeluk gebruik om die situasie op ons dorp om te keer.”

Galasiërs 2:15-21 – Jy is welkom net soos jy is – Son 13 Junie 2010

Teks – Galasiërs 2:15-21

15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ‘n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Woordverkondiging

Pa- en Ma-Koedoe moes vir twee dae na ‘n ver plek vir noodsaaklike sake vertrek.  Hulle roep hulle koedoe-kindertjies bymekaar en vra mooi dat hulle by die ander koedoes in die ruigtes moet bly.  Die kinders mag onder geen omstandighede naby die rivier gaan nie, want daar skuil gevaar.  Koning Leeu is in die omgewing en ‘n hele klomp luiperds het hulle by die rivier tuisgemaak.  Dis doodsake.  Die klein koedoetjies beloof hand en mond hulle sal gehoorsaam wees.

Toe pa en ma terugkom, is die kinders skoonveld.  Dit gee ‘n vreeslike soektog af.  “Moet ons nie by die rivier gaan kyk nie?” vra Oupa-koedoe, ‘n ringkop in die koedoe-familie.  Einde ten laaste, toe dit al amper donker was, soek die koedoes rivier langs.  Hulle kom op ‘n klomp klein koedoe-ore af wat daar teen die rivier se wal lê.  Leeu-spore lê die hele wêreld vol. Die oortjies is al wat van die ongelukkige koedoes oorgebly het.

“Nee,” sê pa- en ma-koedoe, “dis beslis nie ons kinders se ore nie, want ons kinders hét nie ore nie!”

Daar was al baie hartseer en ongeluk in die wêreld omdat mense nie luister nie.  Hulle hoor, maar sukkel om werklik te luister en te reageer op wat hulle hoor.

Paulus se brief aan die gemeentes wat hy in Galasië gestig het, is vol van hierdie worsteling.  Luister tog! Hoor tog!  Verstaan tog!  Lewe tog soos ek julle geleer het!

Paulus se stryd met Petrus

Galasiërs is Paulus se mees intense brief.  Die apostel is opgewerk, ontsteld, soms self brutaal en ongenaakbaar.  Die gemeentes moet die regte boodskap hoor!  Hulle moet van die waarheid oortuig word, en so die valsheid kan raaksien.  Hy argumenteer indringend met hulle, sodat hulle die regte keuse vir die waarheid kan uitoefen.

In die gedeelte wat ons teks voorafgaan, vertel Paulus van sy pynlike ervaring met Petrus.  Hy moes hom openlik teen Petrus verset.  Petrus het gelowiges uit die heidendom aanvaar en saam met hulle geëet totdat daar Jode uit Jerusalem opgedaag het.  Skielik word die nie-Jode toe uitgesluit, Petrus begin hom eenkant te hou.  Alles omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.  Op ‘n harde, reguit manier noem Paulus dit huigel (2:13) en ‘n afwyking van die reguit pad van die evangeliese waarheid (2:14).

Dit was ‘n pynlike situasie.  Vandaar die opgewonde trant van die Galasiërbrief.  Terwyl die reddende krag van Jesus Christus mense tot een verloste gemeenskap saambind, bo-oor die beperkende grense van die Joodse wet, wil die Galasiërs nou weer die grense van die wet handhaaf.

Mense en hulle insluiting in die liggaam van Christus is op die spel

Sien, die probleem met die Joodse Christene was nie dat hulle gedink het redding kom deur gehoorsaamheid aan die wet nie.  Hulle het geweet redding is ‘n onverdiende gawe van God.  Máár, hulle het gemeen die gepaste manier om die redding uit te leef, is deur die onderhouding van Joodse gebruike, rondom veral die besnydenis, die dieetwette en die onderhouding van die feesdae.  As jy in Christus glo, en jy is gered, moet jy dit toon deur soos ‘n Jood leef.

Maar die probleem met só ‘n standpunt, is dat dit mense om die verkeerde redes uitsluit.  Die gelowiges uit die heidendom word dus uitgesluit op grond van hulle onvermoë of onwilligheid om aan die Joodse wetsvereistes te voldoen.  Daarmee word die goeie nuus van Jesus Christus beperk.

Die Joodse Christene het dus van die Joodse wet ‘n lewenstyl gemaak wat as ‘n verpligting op alle nuwe bekeerlinge geplaas is.  Daarmee het hulle ‘n “plus” by die goeie nuus geplaas wat die evangelie self bedreig het.  Dit lê ‘n beperking op Christus se werk, volgens vers 17.

Jy is welkom net soos jy is

Die toegang tot verlossing in Jesus Christus setel nie in jouself nie, maar in die genade van God deur Jesus Christus.  Daarom kan niemand voorspel wie die genade sal hoor en aangryp nie.  ‘n Voorwaarde vir insluiting in die geloofsgemeenskap is nooit hoe ordentlik, aanneemlik, aanvaarbaar en verdienstelik jy is nie.

Don Browning sê graag, dat daar eintlik net twee soorte geloofsgemeenskappe is:

  • Die een is waar jy binnekom en gevra word om in die teenwoordigheid van God te wees, maar jouself en dit waarmee jy tans in jou lewe besig is liefs buite moet laat.
  • Die ander geloofsgemeenskap is waar mense in die teenwoordigheid van God ingenooi word en waar hulle volle menswees óók teenwoordig mag wees.

Dit is soos hierdie tweede tipe geloofsgemeenskap wat ons moet wees.  Mense moet kan kom na die Here en na sy kerk letterlik soos hulle is.  Of jy die onrein Samaritaanse vrou by die put is, of Saggeus die hooftollenaar en hoofskurk, die ryk jongman, die Kanaänitiese vrou, Saulus die hoofvervolger van die kerk, Nineve die politieke vyand, of wie ook al is, jy kwalifiseer vir genade.  Jy moet kan kom soos jy is.  Jy is welkom net soos jy is.

Vanuit menslike oorwegings kan die vrye toegang en die oorvloedige genade van God in Jesus ‘n skandaal vir die kerk wees.  Die omhelsing van die sondaar kan vir ons smerig raak, en ons reputasie in gedrang bring.  Letterlik en figuurlik.

Steve Biggs van ‘n gemeente in Melville, Johannesburg, vertel hoedat hulle onlangs T-hemde uitgeruil het in hul straatkinderprojek.  Lidmate het letterlik hul eie T-hemde uitgetrek, dit vir die kinders aangetrek, en die kinders se hemde vir hulself aangetrek.  Die volgende dag het hulle die kinders in die erediens ingenooi, en die skoongewaste flenterklere van die vorige dag saamgebring kerk toe, sonder om hul eie T-hemde terug te verwag.  Dit was verskriklik moeilik om dit te doen, maar dit het die kinders op ‘n kragtige manier ingesluit.  Christus sluit almal in, sy genade is vir ‘n ieder en ‘n elk.  Gelowiges in Melville het die evangelie nuut gehoor, en dit daarom gedoen.

Mense is geskenke van die Here

Wat baie help, is om aan mense te dink as geskenke van die Here.  Mens ontvang mos jou natuurlike broers en susters, jy kies hulle nie self nie.  Dieselfde in die kerklike gemeenskap.  Jou broers en susters in die Here ontvang jy ook.  Hulle is geskenke van die Here aan ons.

Daarom is dit so deurslaggewend hoe ons kyk na mense wat oor ons pad kom.  Mense is geskep na die beeld van God – die ou teologiese gesegde van die Imago Dei. Dit is waar van alle mense wat ons pad kruis.

In ‘n wêreld waar die kitsbank jou waarsku dat alle vreemdelinge as gevaarlik beskou moet word, is dit belangrik om hierdie ingesteldheid van Imago Dei ‘n gewoonte te maak. ‘n Imago Dei blik in jou oë maak nogal ‘n verskil in die manier waarop jy na mense kyk, oor hulle dink en na hulle luister.

Dit geld natuurlik nie net vir die mense met wie ons ‘n natuurlike gevoel van toegeneentheid het nie, maar juis hulle by wie ons sou verby stap omdat hulle anders as ons is. Leer die gewoonte aan om hulle in die oë te kyk, gereed te wees om deur hulle “disrupt” te word en tyd te maak om na hulle te luister.

Mense wat van my verskil is steeds welkom

Wanneer weet ‘n mens iemand behoort aan die Here?  Wanneer is iemand waarlik ‘n Christen?  Is dit wanneer mense my lewenstyl aanneem en daarvolgens lewe?  My reëls van ordentlikheid en behoorlikheid navolg?  Moet mense aantrek, praat, dink, sing, in die erediens vergader, soos ek dink hulle moet?  Of is daar ander gestaltes van gehoorsaamheid moontlik wat mag verskil van my voorkeure?

Paulus gee vir die Galasiërs net een oorweging as kriterium vir Christenska[.  Leef Christus in jou, of nie? En as jy in Christus glo en Hy in jou leef, dan is jy welkom net soos jy is!

Dit is dan ook die betekenis van die moeilike tweede gedeelte van die perikoop wat ons geleeS het.  Want sien, as ons aan Christus behoort, is ons eintlik saam met Hom gekruisig, gekruisig vir ‘n ou manier van leef, volgens die standaarde en reëls van die kultuur waaruit ek kom.  Daarom kan Paulus sê in vers 20: “nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

En “Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Dit is wat Johannes Calvyn ook bedoel het, toe hy ‘n onderskeid gemaak het tussen die kern van die evangelie en sake van middelmatige belang.  Dit wat van middelmatige belang is (voorkeure, ‘n bepaalde lewenstyl, ons gedragreëls) mag nie verhef word asof dit van die hoogste belang is nie.  Jesus is van die hoogste belang, en Jesus sluit almal in wat deur geloof hulle vertroue op Hom as Redder en Here stel.

En in ons tyd het die bekende sendeling en ekumeniese teoloog Lesslie Newbigin verder hierop uitgebrei en gewaarsku daarteen dat Christene etiese reëls formuleer vir mense wat uit ander kulture of uit ander agtergronde as hulle tot bekering kom.  Wanneer ons reëls aan hulle oplê wat eintlik bloot ons voorkeure is – hoe ons teenoor mekaar in die samelewing moet optree, hoe ons verhoudinge moet werk of selfs hoe ons moet aantrek of hoe ons moet sing of dans – onderskat ons die werk wat die lewende Christus deur sy Woord en Gees in hulle lewens doen.

Dit het ‘n vernietigende effek om mense in of uit te sluit op grond van die lewenstyl wat ons vir onsself gekies het.  Mense moet te alle tye welkom wees net soos hulle is.

Ons het in Suid-Afrika ‘n ongelukkige geskiedenis waarin velkleur by meer as een groep gesien word as deurslaggewend om te bepaal met wie ek my meng, en wie ek bereid is om in te sluit of wie ek uitsluit.  En die effek daarvan is nog lank nie verby nie, en lankal nie meer net ‘n wit fenomeen nie.  En dit bly ‘n vergryp teen die evangelie, en teen die Here van die evangelie.

Maar dit is waar van ‘n hele klomp ander goed ook.  In gemeentes sluit Christene van verskillende ouderdomme mekaar dikwels uit, en veroordeel mekaar, of skep nie ruimte vir mekaar, op grond van voorkeure oor die uitlewing van die evangelie asof dit die evangelie self is.  Dit raak ons musiek, ons style van geloofsbelewing, en kleredrag – om enkele voorbeelde te noem.

Ons moet mekaar hier rondom akkommodeer en insluit eerder as in aparte kerke of gemeentes of selfs binne gemeentes in verskillend groepe te organiseer.  Want ons kan mekaar nie as geskenke van die Here in  verskillende kampe belewe nie.

Ons bou aan ‘n inklusiewe gemeenskap

Ek sluit af.

Die vraag vir die Galasiërs was: Gaan hulle luister na wat Paulus sê, of die gedagtes van die Joodse Christene navolg?  Want dit sou bepaal of hulle regtig ‘n kruis-kulturele gemeenskap sou wees, een waar jy welkom is net soos jy is.  En dit was nie ‘n klein bysaak nie.  Die hart van die evangelie was op die spel.

Die vraag vir ons is net so dringend: Gaan ons luister na wat Paulus sê en ‘n gemeenskap wees waarin kinders en bejaardes, vriende en vreemdelinge, klassieke en kontemporêre musiek welkom sal wees?  Miskien is musiek die volgende groot hekkie vir ons om te oorkom en steeds inklusief te bly, veral vir die 20-40 jariges in ons gemeente, wat ‘n duidelik voorkeur vir ‘n ander styl musiek het.

Die uitdaging vir ons is om te bou aan ‘n inklusiewe gemeenskap en nie net te bly vasklou aan die veilige gemaksones van die bekende en gerieflike nie.  Dan sal ons kan uitleef wat Paulus hier sê, dat “dit nie meer ek (is) wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

Hand 9:36-43 – God gebruik gewone mense – Son 6 Jun 2010

Votum & seëngroet (Ps 95)
Verwelkoming
Lofsang
• Kyk hoedat die voëltjies vlieg (staan)
• Lied 549 Daar’s vissies in die water 2x (staan)
• Lied 464 vv 1, 2, & 4 O Heer my God (sit)
Doop
Gemeente,
Die sakrament van die doop is diep gewortel in die hele Bybel. 
Die doop groei uit die Ou Testamentiese ge¬bruik van die besnydenis.
God het vir Abraham en sy nasate hierdie ritueel
gegee as ‘n teken en ‘n waarborg 
van die inlywing in die verbond wat God met sy volk het.

Jesus het in die Nuwe Testament
die besnydenis
as die amptelike teken van die inlywing in die volk van God
met die doop vervang.

Christus het aan die kruis ge¬sterf
en met sy bloed eens en vir altyd vir ons sonde¬skuld betaal.

Toe Hy aan die kruis gesterf het,
het Hy so volledig vir ons elkeen gesterf
dat ons “saam met Hom” aan die kruis gehang het.
En toe Hy uit die dood op¬staan,
het ons “saam met Hom opgestaan” (vgl Rom 6).

Voor sy hemelvaart het Jesus aan sy dissipels die opdrag gegee
om die doop te bedien. 
Deur die teken van die doop
verbind die Here Hom om ons God te wees
en om ons te seën.

As die ouers gelowiges
en dus deel van die verbond is,
is die kind reeds voor geboorte aan Christus verbind
en opgeneem in die verbond
en dus ook in die gemeente. 
Deur die doop word die kinders amptelik
en in die openbaar deel van die gemeente.

In die sakrament van die doop vind ‘n handeling plaas
waarby God self betrokke is.
Die Drie-enige God neem inisiatief by die doop.
Die doop is God se “teken-taal” waarmee hy vir ons sê
dat Hy die inisiatief  neem ten opsigte van ons verlossing.
God sal vir ons ‘n God wees
En ons sal sy kinders wees
en Hom gehoorsaam.

Die doop is ook ‘n bevestiging dat die Here deur sy Gees in ons woon
en dat Hy ons lewens so wil regeer dat ons al hoe meer sy beeld in ons lewens vertoon.

Roep Ouers Vorentoe:
 Jacques & Gizelle van Wyk

Die doop is deur God self ingestel
as ‘n waarborg van die verbond van genade
wat Hy met ons en ons kinders sluit.

Om te bevestig dat julle die doop vir hierdie doel gebruik
en nie uit gewoonte
of uit bygelowigheid nie,
moet julle eerlik op die volgende vrae antwoord:

Eerstens:  Bely julle dat julle in die Here Jesus glo
en dat julle Hom liefhet?
Tweedens:  Glo julle dat God die inisiatief neem
in die verlossing van julle kind
en dat julle kind aan die Here behoort?
Derdens:  Beloof julle om julle kind in die weë van die Here te onderrig
en ook om die kerk toe te laat  om julle  in die onderrig by te staan?

Lied 294:1-2 (sit)
– kind ingebring,
Familie, peetouers, vriende vorentoe
alle kinders vorentoe

Bediening van die doop
Gebed
Voorstelling van gedoopte(s) aan gemeente
Aansteek van die doopkers
Gelukwensing & Lied 294:3 (sit)

Kindertyd
Wat hierdie?  (Spekboom)
Geweet tower-plant?
Aardverwarming:  karre uitlaatgasse, te veel beeste graan gevoer:
koolsuurgas in lug, maak atmosfeer warmer, ys begin smelt, kan baie erge gevolge hê.
Daarom koolsuurgas verminder – fietsry, ens.

Is wat spekboom tower-plant maak.
Help koolsuurgas uit lug haal – 4 ton koolstof per hektaar per jaar.

Ander goed ook:
groei maklik.
Sit in grond, groei.
As olifante blare afvreet, groei weer.

God ons gesê skepping te sorg –
doen slegte werk.
Belangrik versigting leef, nie water mors, nie elektrisiteit mors.
Gaan spekboom gee – kan spekboom plant.

Vat spekboom aan einde, onthou:
Spekboom groei maklik, doen baie vir omgewing –
babatjie gedoop,
elkeen ons –
groei in verhouding Jesus,
doen baie vir omgewing – in preek verduidelik.

Sokker-mannetjie – kan solank inkleur, 
gaan aan einde verduidelik hoekom gee.

Gebed
Skriflesing
Handelinge 9:36-42

Wie herken storie?
Wanneer gehoor?
Leidraad – papierpop –
Chris begin van kwartaal:  God gee vir gewone mense om.
Vandag reeks eindig,
weer Tabita.

Eers ietsie anders wys,
ook kyk of herken:
 Video:  Bee Movie Trailer 5 (FULL HD 1080p).avi

Gesien?
By agterkom baie heuning mense gebruik,
besluit mense dagvaar natuur vernietig.

Storie.
Maar in regte lewe bye baie, baie belangrik.

Klein, weet nie eers altyd van hulle nie.
Hoeveel verskil hulle tog maak?

Bestuif plante – vat stuifmeel van een plant na ander,
sodat plante vrugte dra.
Boere baie keer byekorwe by vrugteboorde.

So hulle sorg bome vrugte dra,
ons kos het.

Ons eet nie alle bome vrugte,
maar plante belangrik,
maak suurstof,
sodat alles kan asem haal.

Einstein,
gesê bye uitsterf,
mensdom binne 4 jaar uitsterf. 
Ons is letterlik vir ons lewens afhanklik van bye!

Nou daar dink,
noem kolonie verval sindroom,
sedert 2007,
soveel as 70% van swerms doodgaan.
Weet nie hoekom –
waarskynlik mense,
klimaatsverandering.
Hoe ook al sy,
grootskaalse sterftes bye katastrofies vir planeet.

Klein goedjies,
baie, baie belangrike verskil maak!

Soos Tabita van wie in storie gelees. 
Was een van Jesus dissipels.
Weet nie of sy getroud was,
maar weet sy was nie groot, belangrik – leier, president,
daardie tyd vrouens nie kon wees.

So Tabita waarskynlik swaar gekry,
nie veel gehad,
nie veel invloed gehad,
afhanklik van ander.

Maar Tabita geweet,
daar mense nóg slegter gaan as sy.
Haar tyd, spesifiek weduwees – vrouens wie se mans dood.
Vandag anders, maar toe:  weduwees nie huis, geld, kos gehad.
As iemand nie vir hulle sorg,
baie, baie swaar gekry.

Tabita omgegee weduwees.
Kon nie help met geld, blyplek…
kon wel naaldwerk doen.
Daarom klere gemaak vir weduwees.
Wat gehad het, gebruik ander te help.

Maar Tabita eintlik baie meer net kos en klere gegee.
In kerk, wanneer mense minder het as jy help,
noem barmhartigheid.

Maar Tabita werk nie net barmhartigheid –
ook geregtigheid.
Gesorg reg geskied, soos Here wil hê.

Geregtigheid beteken mens só leef,
dat ander mense ook ruimte het te leef.

Jesus weduwee van Nain se enigste seun uit dood opwek,
aan haar teruggee,
barmhartig,
maar ook geregtig:
gebroke ma kry seun terug – barmhartig
brose, afhanklike weduwee kry versorger terug – geregtigheid.

So op haar klein manier,
Tabita gesorg dat reg geskied.

Haar dood so krisis vir weduwees,
Petrus laat kom,
op daardie stadium naby. 
Petrus bid,
sy word lewendig.

So word krag van haar lewe –
van hierdie eenvoudige vrou, net hier genoem –
natuurlik nog meer!

Nie net in lewe God liefde gewys,
in dood en opwekking baie mense tot geloof gekom.

Feit dat sy weer lewendig gemaak word,
wys natuurlik God omgee vir arme weduwees in Joppe. 
God gaan nie toelaat hulle onversorg gelos word nie –
doen wonderwerk,
sodat Tabita kan voortgaan weduwees versorg.

In Bybel gebeur klomp groot, dramatiese goed.
Natuurlik iemand uit dood opgewek word, ook groot, dramaties.
Maar so klein storie,
terloops,
vertel van Petrus bediening.

Liedjie:  “Laat ons skyn vir Jesus”
Petrus bediening soos helder stormlamp,
Tabita een van klein liggies.

Maar God gebruik ook klein liggie,
ook belangrik,
vir weduwees was lewe!

Ons nie almal groot goed doen,
wêreld van weet,
vir altyd van praat.
Maar liggie kan skyn,
al is nie vuurtoring,
al is flikkerende kers.

Miljoene en miljoene heuningbye
hou die wêreld aan die gang.

Dis klein goed – soos wat Tabita gedoen het –
wat groot invloed uitoefen
in lewe van ander.

Wie was al by PE bib?
Reg langs bib gedenkplaat,
ter herinnering brandweerman
meer as eeu gelede
lewe daar verloor.

Huis gestaan,
hy brand help blus,
in proses mense vasgekeer was, gered.
Ongelukkig in proses self dood.

Daar’s duisende klein goedjies mense doen,
groot verskil maak:
musse brei vir seemanne
kuier by straatkinders…

In proses wys dit presies wat God bedoel het met die kerk.

Belangrikste, belangrikste, belangrikste ding ons kan doen –
elkeen van ons kan doen – bid.

Petrus bid vir Tabita en sy word weer lewendig.

Ons, alles wetenskaplik wil verklaar, verstaan,
effens ongemaklik die teks. 
Gebeur nie gereeld dooies weer lewendig word.

Maar Petrus se optrede
daag ons uit
om lewegewende gebede te bid.

Want krag van hemel tot beskikking wanneer bid!
Gebed is sterk, magtige ding om te doen.

Gebede gee lewe.
Dit keer situasies van doodsheid om.

Daar is soveel plekke van doodsheid in wêreld:
konflikte waarbinne self bevind,
politieke kwessies
sosiale vraagstukke soos armoede, vigs, mensehandel
uitdagings waarvoor gesinne staan.

Maar, sê Jakobus,
die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.

So ons kan gerus meer bid.
Bid vir lewe, waar dit lyk asof die hoop dood is.

Iemand vertel hoe die woede-uitbarstings van sy laerskooldogtertjie hom raadop gehad het.
Woede kan net as dramaties beskryf word.
Klasse by skool ontwrig,
maatjies draaie om haar begin loop
binne gesin niemand meer raad gehad nie.

Pa begin elke oggend 20 min vroeër werk opdaag,
gedeelte uit Bybel lees oor God beloftes,
gebid vir dogtertjie.

Haar woede-uitbarstings het heeltemal verdwyn.
Vandag student, regte dissipel,
‘n Tabita vir die mense om haar –
heuningbytjie wat groot verskil maak.

Elkeen van ons,
klein,
kan iets doen, groot verskil maak.
Jy sal weet wat.
Of bid, Gees jou lei.

Kan almal bid.
Hoekom ek vandag sokker-serp aan,
hoekom sokker-mannetjies uitgedeel.

Seker graag bid jou span wen –
ek altyd onseker gebede wen –
watter kant hardste bid?

Jy maar besluit jy wil bid jou span wen.
Maar kan bid vir geleentheid God ons gee.

Here sê in Jer 29 vir Israelite,
toe ballinge was
(ons natuurlik nie ballinge)
Bevorder die belange van die stad
waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het,
bid tot My vir daardie stad,
want sy belange is ook julle belange.

Sokker groot geleentheid vir land –
ekonomies,
nie net nou impak,
vir altyd –
wêreld beeld van Afrika, SA.

Kan soveel dinge verkeerd loop –
weet goed,
so baie mense verlustig voorspel wat verkeerd loop.

Maar hierdie land belange ook ons belange,
daarom bevorder, bid.

Tweedens sokker wonderlike geleentheid:
wêreld kom hierheen.
Kan liefde Jesus wys,
gasvry ontvang,
betrokke –
Strandfront uitreik (afk).
OM Uitreikspan – kontak Pieter Theunissen.
Kos maak – 8 mense, 8 aande
Gebed
As betrokke wil wees, sê vir Pieter – sal werk gee.

Bid vir mense hierheen kom,
lande hier verteenwoordig.
Gebedsboekies R10, tydens sokker spesifiek bid, interessante info – na tyd by my.
Bid vir Sokker
Mense met vlae kom in.
Thomas Stewart bid
 (Gebed op joernaalblad, website)
Dankoffer CD:  Use me
Slotlied Lied 488 Helder skyn u lig 1,2,4,5
Wegsending

Johannes 16:12-15 – Ons sal die waarheid ken – Son 30 Mei 2010



Kindertyd

Ons kom by die hoogtepunt van die kerklike jaar:

  • Kersfees
  • Kruisiging
  • Hemelvaart
  • Pinkster

Vandag dink ons aan God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.  En ons loof Hom omdat Hy vir ons so lief is.

Kom ons dink gou eers oor ‘n GPS.  Ken julle dit?

‘n GPS is ‘n baie handige instrument.  Dit help jou om nie te verdwaal nie. Om die waarheid te sê, as jy wel verdwaal, help die GPS jou om die pad terug te vind.

Wat sou gebeur as die GPS niks sê as jy van koers af gaan nie?  ‘n Mens sou heeltemal verdwaal en nie weet waar jy is nie!  Die GPS moet altyd vir jou terugbring op die regte pad, sodat dit jou kan help om jou rigting te kry.

Die Here het vir ons ‘n betroubare GPS gegee, ‘n geestelike GPS.  Ons geestelike GPS is die Heilige Gees.  Waarheen bring die Heilige Gees ons altyd weer terug?  Hy wys altyd weer terug na die Bybel.  Dit is waar ons geestelike kos kry en waar ons weet wat God wil hê dat ons moet doen.  Die Heilige Gees is soos die GPS, so ‘n stemmetjie hierbinne ons, ‘n wete, wat ons help om te weet wat God wil hê, hoe Jesus wil hê dat ons moet lewe.

Sommige mense wil vertrou op hulle gevoelens.  Maar dit help nie.  Ons gevoelens kan verander.  En as ons goed voel oor iets, beteken dit mos nog nie dat iets goed is nie, of hoe?

Sommige mense kyk weer wat ander mense doen.  Dit help ook nie.  Net omdat almal iets doen, beteken dit nog nie dit is reg nie, of hoe?  Môre doen hulle weer iets anders.

Die Heilige Gees lei ons deur die Bybel om God se wil te verstaan.  Meer nog.  Hy help ons om God se wil te doen.  Hoe doen Hy dit?  Hy is binne ons en oortuig ons van wat reg is.  En Hy gee vir ons die krag om God se pad te kies.  Om in die Bybelse pad te loop.

Elke keer as jy nie weet hoe verder nie, kan jy die Bybel oopmaak en die Heilige Gees vertrou dat Hy vir jou die regte woorde sal gee, sodat jy kan weet in watter rigting jy moet gaan.  Nes ‘n GPS.

Kom ons dank die Here dat Hy sy Gees vir ons gegee het, sodat ons sy wil in die Bybel kan verstaan en dit kan doen.

Gebed

Skriflesing

  • Johannes 16:12-15

12”Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”

Woordverkondiging

Die fokus van Drie-eenheidsondag is nie op die misterie van die dogma nie, maar op die misterie van God self.

Jesus is op pad na Getsemane en dit is die laaste keer dat Hy en sy dissipels voor sy kruisiging saam is. Hy lig die sluier oor die Gees se werk ná sy kruisiging. En daarmee troos Hy sy dissipels, gee Hy vir hulle iets om aan vas te hou, terwyl die donker van die kruis al hoe nader kom.

En die wonder is dat Hy nie praat oor hulle wat moet probeer doen om by God uit te kom nie.  Nee, God kom na ons toe. Dit is die evangelie in hierdie teks.  Ons sal die waarheid ken, sê Jesus, want Hy is die Gees van waarheid.  En dit is Hy wat na ons toe kom.

Hy fokus dus die dissipels se aandag weg van sy naderende afwesigheid.  Sy afwesigheid, sy weggaan met die Hemelvaart, gaan sy Teenwoordigheid in die Gees bring, wat Hom meer teenwoordig sal maak as wat Hy met sy lewe op aarde was.  Meer nog.  Die Gees verteenwoordig nie net vir Hom nie, maar ook vir God die Vader, so aldrie is tegelyk by ons.

Soos iemand gesê het: “Absence becomes an experience of incredible fullness of presence.”

Maar is dit nie te misterieus nie?  Kan dit so wees?  Het ons die waarheid hieroor beet?

“In ‘n dorpie in La Mancha het daar nie lank gelede nie ‘n ware heer gewoon, wat ‘n lans, ‘n antieke skild, ‘n uitgeteerde perd, en ‘n vinnige jaghond aangehou het.”

Só begin Miguel Cervantes sy fiktiewe verhaal van ene Alonso Quixano, wat op die La Mancha-vlakte in sentrale Spanje woon.  En hy is duidelik iemand wat kontak met die werklikheid verloor het.

Hy noem homself Don Quixote de la Mancha en herdoop sy uitgeteerde ou perd met ‘n aristokratiese naam: Rocinante.  ‘n Naburige plaasmeisie Aldonza Lorenzo word sy edele beminde, al weet sy self niks daarvan nie.  Haar gesofistikeerde nuwe naam is Dulcine adel Toboso,

Vroegmôre vertrek onse Don, geklee in sy verweerde borswering, en eindig by ‘n herberg, wat hy vir ‘n kasteel aansien.  Die bestuurder, vir Don Quixote die edelman in bevel van die kasteel, word versoek om Don tot ridder te slaan.

En Don vertrek op ‘n soektog na roem en heldedade.  ‘n Buurman, Sancho Panza, word sy assistent, met die belofte dat hy goewerneur van ‘n eiland sal word.  En sy eerste avontuur is wanneer hy ‘n paar windmeulens  aanval wat hy aansien vir groot reuse.

Ja, windmeulens word aangesien as reuse.  Die edelvrou Dulcinea is eintlik ‘n plaasmeisie.  Die hings Rocinante is eintlik ‘n brandmaer gedierte.  Sancho Panza, die goewerneur, is eintlik spreekwoordelik een van die stomper messe in die laai…

Wat kan ons glo?

Is dit moontlik dat die dissipels van Jesus dalk uit hulle verbeelding geleef het, en dinge gesien het wat nie bestaan nie?  Was Jesus nie dalk soos Don Quixote besig met ‘n dwase avontuur nie?  Berus ons geloof dalk op lugkastele?  Het ons nie miskien net te min kontak met die werklikheid nie?  Kan ons inderdaad die waarheid ken?

Wat bedoel Jesus as Hy sê: “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (16:13)?

Die eerste ding wat ons weer onsself aan moet herinner, is: Waarheid word geopenbaar

Volgens moderne opvattings is waarheid iets wat mens sintuiglik en met jou verstand bepaal.  Jy ondersoek iets, jy neem dit waar, jy meet en toets dit, jy formuleer teorieë en bepaal die waarheid daarvan.  In die soeke na waarheid moet mens skepties wees.  Jy kom by waarheid net uit wanneer jy dinge nie vir soetkoek opeet nie, en deurdring na die diepste kern van daarvan.

Geen wonder ons dink naderhand iets wat ons nie kan waarneem of meet nie, bestaan in werklikheid nie.  Op hierdie manier word geloof eintlik onmoontlik.  Niemand kan God in die fokus van ‘n mikroskoop kry nie.  Ons kan God nie optel, vermenigvuldig, deel of aftrek nie.  Bestaan God dan nog?  Vandaar dat sommige mense kies vir ateïsme (“God bestaan nie”) of agnostisisme (“Ons kan nie met sekerheid sê of God is of nie”).

Maar, as ons enigste waarheid die kennis is wat ons self verwerf, is ons spoedig diep in die moeilikheid. Die lewe het dan geen groter doel meer nie.  En ons kan nie meer die volgende vrae antwoord nie: Waar kom die wêreld vandaan?  Waar gaan die wêreld heen?  Wat is die doel en betekenis van ons bestaan?

Die wêreld het immers begin lank voor ons lewe begin het.  En waarskynlik gaan die wêreld na ons dood nog voortbestaan.  Ons is iewers in die middel van die wêreld se geskiedenis gebore en in onsself het ons geen idee wat die plot van ons werklikheid is nie.  Waarom bestaan ons?  Waarvoor leef ons?

Daar is baie mense wat hierdie vrae ontwyk.

  • Sommige mense sê ons bestaan om handel te dryf, ons vir onsself ‘n lewe te skep.  Die diepste werklikheid is die finansiële waarde en potensiaal van die dinge rondom ons.
  • Nog ‘n idee is dat ons volksverband die hoogste werklikheid is – ons lewe vir ons genetiese of etniese groep.
  • Ander sê weer ons lewe om die beste daarvan te maak sodat ons in ‘n volgende lewe in ‘n beter gestalte kan terugkeer. Uiteindelik, na ‘n proses van selfverbetering in verskillende lewens, sal ons geluk smaak.
  • Of ons lewe omdat ons DNA ten alle koste wil voortplant en voortleef.  Ons staan in diens van ons genetiese kode.
  • Nog ‘n moontlikheid, wat ons baie keer in die koerante lees: ons lewe omdat ons uit oerchaos ontstaan het, en dinge bloot toevallig so uitgewerk het.  Ontwikkeling en toeval is die skepper.

Jesus verduidelik dat ons nodig het om waarheidskennis van buite onsself te ontvang. Ons kry die Gees van waarheid as geskenk, en die Gees lei ons in die volle waarheid.  Daar is dinge wat mens nooit sal weet, tensy jy die inligting as openbaringsgeskenk kry nie.  Voorbeelde van hierdie soort inligting is:

  • Kennis van wie God is, en wat God se bedoelinge is – Hy is liefde en wil alles vul met sy liefde.
  • Kennis van waar die wêreld vandaan kom en waarheen dit op pad is – God het dit gemaak en roep ons na Hom toe.
  • Kennis waarom die wêreld in ‘n gebroke toestand is en hoe God dit hanteer – Hy is in die herstel en versoeningsbesigheid.  Hy maak alles  nuut met sy teenwoordigheid.
  • Kennis van wie ek is en wat die doel is van my lewe – Ek is ‘n verteenwoordiger van God en ek moet Hom verheerlik.

Deur die eeue het God mense betroubaar hieroor onderrig. Die onderrig het ‘n hoogtepunt in die voorbeeld lewenswandel, dade en lering van Jesus Christus van Nasaret, die Seun van God, bereik.  Jesus is die waarheid.  Die waarheid is nie ‘n beginsel, ‘n feit, ‘n genoom of ‘n formule nie, maar ‘n Persoon.  In Hom was God persoonlik aanwesig op aangesig van hierdie wêreld.  Die Heilige Gees word aan ons gegee om Jesus se lering en voorbeeld by ons in te skerp.  Trouens, deur die werk van die Gees is Jesus, en die Vader wat Hom gestuur het, steeds by ons teenwoordig.

Die Gees herinner ons aan wat Jesus geleer het.  Vandaar die belydenis dat die Gees die kandelaar is by die Boek wat getuig oor Jesus.  Die Gees staan ons by om die Skrifte vanuit die lewe en werke van die lewende Here te lees, te verstaan en toe te pas.  Hy is, soos ek vir die kinders gesê het, die GPS, wat ons onfeilbaar weer terug bring na die Boek van die Lewe, die Bybel.

Die tweede herinnering:  God, as Vader, Seun en Heilige Gees is die diepste waarheid en die hoogste realiteit

Die belydenis dat ons ‘n God aanbid wat een in die verhouding van Vader, Seun en Heilige Gees is, beskryf die diepste waarheid en hoogste, finale realiteit.  Daarom kan Eugene Peterson sê:

“Early on the Christian community realized that everything about us – our worshipping and learning, conversing and listening, teaching and preaching, obeying and deciding, working and playing, eating and sleeping – takes place in the ‘country’ of the Trinity, that is, in the presence and among the operations of God the Father, God the Son, and God the Holy Spirit.  If God’s presence and work are not understood to define who we are and what we are doing, nothing we come up with will be understood and lived properly.” (Christ plays in ten thousand places).

Vir ons is die konsep van die Drie-eenheid dikwels ‘n dogma wat ons probeer verduidelik, nie regtig verstaan nie, en waaroor ons wonder wat die werklike waarde daarvan kan wees.  Die laaste ding wat mens met die Drie-eenheid moet probeer doen, sê Calvyn, is om dit te probeer verduidelik.  Mens kan nie, en enige poging doen afbreek aan die diepe geheimenis van wie God is.

Die punt is:  die lewende, liefdevolle verhouding tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees, is die goddelike geselskap van waaruit die wêreld in aanskyn geroep is.  En hierdie Goddelike Geselskap reik uit na ons, tree met ons in ‘n verhouding, leer ons en staan ons by.  Op ‘n menslik-verstaanbare vlak word die diepste geheime van die Goddelike Gemeenskap se gedagtes oor ons, werk met ons, en uiteindelike bedoelinge met ons aan ons gekommunikeer.

Ons leef in die landskap van die Drie-eenheid. Die eerste en laaste feit waarmee ons rekening moet hou, is die werklikheid van God.  Die eerste en laaste feit wat ons lewe en ons reaksies op dinge moet verreken, is die bestaan van God.  ‘n God wat vir ons lewe gee, met ons praat, en in wie se gemeenskap ons ons altyd bevind.

Daaroor kan ons die Here loof en prys.  In hierdie lof kan ons elke dag lewe.  En oor hierdie lewe van lof kan ons ons laat leer deur die Heilige Gees.

Die derde herinnering is:  Waarheid het met verhoudinge te doen

Op grond van die Bybel bely die Christelike kerk dus dat die hoogste waarheid persoonlik is.  Waarheid setel in die persoon van God, waarvan die Heilige Gees ons deur die Woord leer.

Hierdie persoonlike Waarheid is boonop verhoudingsmatig, want die drie-enige God bestaan in die verhoudinge van Vader, Seun en Heilige Gees.

Die leer van die Drie-eenheid is daarom nie ‘n poging om God te verklaar nie, maar ‘n getuienis dat God God-self as persoonlik en in verhoudinge openbaar.  God leef in gemeenskap met mans, vroue en kinders wat geroep word om met God in gemeenskap van liefde te leef.  Hierdie lewe met God is persoonlik – ons beleef onsself as persoonlik geliefd, mense wat vergewe is, met ‘n persoonlike hoop en ‘n persoonlike behoefte om God te dien en te prys.  Ons ken God nie omdat ons God kan definieer nie, maar omdat God ons persoonlik liefhet en ons leer om God lief te hê.

Weer Eugene Peterson:

The consequences of this are personally revelatory: another does not know me, nor do I know another, by defining or explaining, by categorizing or psychologizing, but only relationally, by accepting and loving, by giving and receiving.  The personal and interpersonal provide the primary images (Father, Son and Holy Spirit) for both knowing God and being known by God.  This is living, not thinking about living, living with, not performing for.

Die vierde herinnering en ook die toepassing: wat beteken dit vir my?

Wat beteken dit vir my dat die diepste waarheid met God Drie-enig te doene het, en persoonlik en verhoudingsmatig is?  Wat beteken dit vir my dat die Heilige Gees spesifiek gegee word om ons in hierdie Waarheid te lei?

•        Enige poging om ons wêreld los van God te bedink of te verstaan, kan nooit betroubare waarheid aan ons verskaf nie.  Ons het God en God se openbaring nodig.

  • Die diepste waarheid is die persoon van God, en die verhoudingmatige karakter van God. Waarheid kan daarop nie in ‘n slagspreuk vasgevang word nie. Geen mens beskik oor die volkome waarheid nie. Ook nie die kerk kan in die naam van Waarheid optree asof dit mag gee, of die reg om ander te veroordeel nie. Mens kan waarheid nie op ‘n kanonloop verf nie. Jy kan dit nie in ‘n politieke beleid vasvang, waarmee jy dan ander platskiet nie. Jy kan God nie opeis vir jou party nie. Jy kan die waarheid nie beheer en diensbaar maak aan jou eie motiewe nie. Die waarheid is persoonlik en relasioneel. Die waarheid kom in die Persoon van God na ons toe.
  • Wanneer Christene die waarheid probeer gebruik om verdeeldheid te saai, ander te veroordeel en te verdoem, het ons die waarheid verloor. Die Waarheid eer altyd verhoudinge, wil die kwaad oorwin deur die goeie, wil verskeurdheid vervang met genesing, wil die leeu en die lam saam laat wei. Die Waarheid is liefdevol en geduldig, en ly dikwels onder die leuen. Die reg om te oordeel en wraak te neem kom aan God alleen toe. Ons kennis en insig is te beperk om onsself as finale regters oor ander aan te stel. Ons is die lammers wat die vrede van herstelde verhoudinge met ander deel.
  • Aangesien die Gees ons lei in die volle waarheid, kan ons die boodskap van die waarheid versprei. Ons kan dit doen op ‘n manier wat ander intrek in verhouding met die hoogste Waarheid. Ons kan die geur van die evangelie versprei, en die evangelie toelaat om mense te vernuwe. Hierdie waarheid wys die onreg uit, vernuwe lewens, skep wedergeboorte en bekering, oorwin die kwaad, vernietig die leuen. Die waarheid doen dit, omdat dit die waarheid van God is. Die Gees gebruik die waarheid vir hierdie doel : om te oortuig van sonde, om mense na God te laat gryp, om mense tuis te laat kom in die lewensvernuwende waarheid van ‘n verhouding met God
  • Die waarheid van God is publieke waarheid. Dit beteken dat waarheid nie net geestelik is nie, dit is waarheid vir die volle lewe van die hele wêreld. Die waarheid is nooit net indiwiduele opinie nie, of net waar vir diegene wat dit erken nie. Die waarheid is publiek, geldend vir die hele wêreld. Daarom word ons geroep om te getuig oor die waarheid waarin die Gees ons lei. Die wêreld moet hoor van die werklikheid van God.

Ons kan met oortuiging sê ons jaag nie windmeulens nie.  Ons leef uit die betroubare waarheid van God.  Ons sal die waarheid ken.