Daar is storms in die skepping: natuurrampe, vloede, brande, aardbewings, en ook die ekologiese storm wat aan die opsteek is weens aardverwarming.
Daar is storms in die lewe van die Here se kerk. Daar is soveel lyding in die Naam van Christus. In die 20ste eeu is meer Christene weens hul geloof om die lewe gebring as in die vorige 19 eeue tesame. Geweld word in die naam van godsdiens gepleeg. Mense word siek, ly, ervaar teenslae, die kerk word misbruik, of ervaar teenstand wanneer die Here gedien word. En ons verskil oor fundamentele goed in die kerk. Dit lei tot konflik en stormagtigheid.
Dit is interessant hoe anders die Here werk as wat ons sou verwag met koerswysigings vir die kerk. ‘n Mens sou verwag dat Hy sy mense sou bemagtig en die paaie vir hulle gelyk sou maak, genoeg geld voorsien, en alle teenstand voor hulle sal wegvee.
Maar dit is nie hoe God werk nie. Dit leer ons teks ons net weer vandag. Die kerk in Europa begin met ‘n baie ontwrigtende ervaring. Paulus en sy mense wil in ‘n ander rigting as wat die Here wil, en ons teks sê vir ons, dat dit die Gees van Jesus is wat hulle planne ontwrig en hulle verhinder om hulle eie kop te volg, selfs al is hulle besig om die evangelie te verkondig.
Deur die gesig van die Masedoniese man (’n Griek wat, ironies genoeg, hulpeloos is) lei die Gees vir Paulus-hulle op die regte pad. En dit is ‘n baie belangrike lewensles wat ons telkens weer moet leer. Die Here is nie afwesig in ontwrigtende gebeure nie. Trouens, Hy is meesal daarbinne besig om sy wil uit te voer.
Waar die verhaal van die vestiging van die kerk in Jerusalem by Pinksterdag begin (Handelinge 1 en 2), begin die verhaal van die vestiging van die kerk in die wêreld by Saulus se bekering en die klein Pinksterdag in die huis in Reguitstraat in Damaskus, Sirië (Handelinge 8 en 9). Sirië is nie net bekend vir die onrus wat daar oor die eeue heers nie, maar ook vir die bekering van een van die grootste stigters van die kerk, soos ons dit ken.
Dit is belangrik om te besef dat die kerk in die wêreld nie eers met die sendingreise van Saulus uit Antiogië begin nie, maar reeds hier in die midde van die stryd om die hart van ’n vervolger van die Christendom, Saulus.
In hoofstuk 17:1-10 rig Jesus vier uitsprake aan sy dissipels.
1. ONBERISPELIKE LEWE
Hy moedig die dissipels aan tot ’n onberispelike lewe wat nie vir ander tot struikeling aanleiding sal gee nie – vers 1-3a. Hy wil hê dat ons niks sal doen wat ander mense sal laat struikel nie. Hy wil hê dat ons sal floreer. Hy wil hê dat ons tot ons volle potensiaal sal lewe. En Hy wil hê dat ons dit vir ander mense moontlik sal maak.
Maar, ons weet ook dat dit ‘n tall order is. Dit is iets wat net so moeilik is om reg te kry. Want ons belange bots so maklik. Ons kom so maklik in mekaar se pad. Ons doen so maklik dinge wat ander seermaak. Of ons dit nou doelbewus doen, of ons dit onbewus doen, ons pootjie mekaar so maklik en so gereeld.
Die storie van Wangari Maathai inspireer my, veral omdat Kenia dié week só in die nuus was. En ons harte en gebede gaan uit na die mense wat soveel verloor het in die beleg van die sentrum waarvoor Al-Shabaab, die al-Qaida groep uit Somalië verantwoordelikheid aanvaar het.
Toe Wangari in Kenia groot geword het, was dit ‘n pragtige, groen land. Maar nadat sy vir jare lank weg was en weer teruggekeer het, was sy geskok om te sien hoe die land verander het. Al die bome was uitgekap en die land was vaal en droog. Vroue moes ver loop om hout vir hul vure te kry. Erosie het die grond al meer weggespoel.
Wangari het besluit om bome te begin plant. In 1977 het sy 9 boompies in haar agterplaas geplant en van die plaaslike vroue gekry om ook bome te begin plant. Toe sy in 2004 die eerste vrou uit Afrika geword het wat ‘n Nobel Prys vir Vrede kry, is daar al deur haar beweging 30 miljoen bome geplant, was daar 6000 kwekerye in Kenia, is 80 000 mense se inkomste verbeter en het die beweging oor 30 lande in Afrika versprei!
Die bekende gesegde sê mens moet bome plant asof jy vir ewig gaan lewe. Dit beteken: moet nooit ophou bome plant nie. Jy verryk jou eie lewe, en jy bevestig die hoop op God se trou. Die komende geslagte gaan die vrug van jou visie en hoop pluk en God vir jou dank.
My gebed is dat iets van hierdie gesindheid die psige van Kenia sal aangryp en ook in die nuutste konflik vrede bring. En dat dit ons lewe ook sal inspireer om – by wyse van spreke – bome te begin plant.
Ons lewe mos in ’n wêreld wat behep is met kos. Twee van die beste verkopers in enige boekwinkel, is kookboeke én dieet boeke! Kookboeke vertel hoe om kos te maak en dieet boeke hoe om dit nie te eet nie!
Daar is ’n Joodse stukkie humor oor ’n ou man wat elke dag by ’n restaurant die sop van die dag bestel het. Op ’n dag vra die bestuurder hom of hy dit geniet het. Die ou man antwoord: “Ja, dit was goed, maar twee snytjies brood is nie genoeg nie.” Die volgende dag gee die kelnerin vir hom vier snye brood. “Hoe was jou maaltyd?” vra die bestuurder. “Dit was goed, maar jy kon meer brood gegee het,” antwoord die ou man. Die volgende dag gee die kelnerin hom toe agt snye brood. “Hoe was jou maaltyd, meneer?” vra die bestuurder. “Dit was goed, maar jy kan meer brood gee,” kom die antwoord. Die volgende dag sny die bestuurder ’n hele brood op in sestien snye en gee dit saam met die sop vir die ou man. “Hoe was jou maaltyd, meneer?” vra die bestuurder. “Dit was goed, maar jy kan meer brood gee,” kom die antwoord van die ou man. Die bestuurder is nou gedetermineerd om dié kliënt van hom tevrede te stel en laat bak ’n 2 meter lange brood, sny dit in twee dele, botter dit en bedien dit aan die ou man saam met sy bakkie sop. Die ou man is ook nie links nie en eet die twee helftes van dié twee meter lange brood smaaklik op. “Hoe was jou maaltyd vandag, meneer?” vra die bestuurder met verwagting. “Dit was goed, soos gewoonlik, maar ek sien julle is terug by net twee snytjies brood.”