Skip to main content

Fil 2:1-13 – Son 28 Sept 08

Hy begin deur hulle te herinner aan alles wat God aan hulle geskenk het (en wat hulle al ervaar het).  Hy verwys 1) na die troos in Christus (hulle is verloste mense), 2) die aansporing deur die liefde (waarin God se Vaderskap gehoor kan word) en 3) die gemeenskap deur die Gees .  Daarby voeg hy 4) die herinnering aan die innige meegevoel en meelewing wanneer hulle deur moeilike tye gaan.

Hy herinner hulle dus – aan God, van wie hulle net liefde ontvang en aan hulle medegelowiges, die liggaam van Christus.

Hy sê daarmee: Julle is bevoorreg om met God ‘n pad te kan stap.  Julle is bevoorreg om dit saam met ‘n klomp volgelinge van God te doen.  Laat my beker dan nou van vreugde oorloop dat julle as vriende van mekaar, soos een siel in twee liggame (letterlik kan sumpsuchoi vertaal word met “een siel”) sal lewe.  “Sing off the same page!”

As die gemeenskap van gelowiges een na buite moet wees, hulle beste moet gee, vir Christus se boodskap moet lewe, as vriende dit moet doen … dan moet hulle verseker dit ook na binne toe wees.

Dit hou in, dat hulle niks uit selfsug of eersug sal doen nie, in nederigheid die een die ander hoër sal ag as hom- of haarself en  elkeen nie net aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Nou hoe werk dié eenheid en vriendskap na binne toe?

Ek lees dié week weer ‘n artikel van Israel Galindo wat sê daar is twee uitstaande goed wat ‘n gemeenskap eenheid gee:

  • Shared Language
  • Being Together

Kom ons begin met die tweede eerste, being together:

OM SAAM TE WEES (BEING TOGETHER)

 

Saam wees

 

Om saam te wees, om geestelike vriende te wees, het meer te make met verhoudings as met programme of administrasie.

Daarom doen ‘n gemeente goed wat geleenthede skep (vgl. Prentjie van Nico Simpson) waar mense saam kan wees, dinge saam kan doen en, oor dinge saam kan gesels.  Dit is in die interaksie met mekaar, in die deel van ons lewens met mekaar, wat groei kom, wat eenheid kom.

Ons idee van Woensdae se Didage is juis om só ‘n geleentheid te skep.  ‘n Ruimte waar mense hulleself kan wees, saam oor die lewe kan gesels, saam oor die Bybel kan gesels, en só die diep eenheid wat die Here tussen ons geskep het, kan beleef en verinnig.

Maar om saam te kan wees, terwyl ons ook baie verskillend is, verg ‘n paar dinge van ons almal, soos die teks vir ons uitspel:

1.  Ons moet bereid wees om tweede viool te speel

Daar is die bekende storie van die beroemde dirigent en komponis, Leonard Bernstein. Toe daar vir hom gevra is wat die moeilikste posisie is om in die orkes te vul, was sy antwoord: “Tweede viool.”  “Hoekom?” wou die persoon weet.  Bernstein het geantwoord:  “Almal verkies die prestige van eerste viool.  Maar sonder tweede viool is daar geen harmonie in die orkes nie!”

“One of the greatest problems in the modern-day Christian church is that so many Christian people who are members of a local church, refuse to share their spiritual gifts with the body of Christ unless they are first-violin or first-string.”  (Eric Ritz)

2.  Ons moet bereid wees om mekaar se foute te aanvaar

Dit beteken onder andere dat ons mekaar sonder ophou moet lief hê.

Iemand het die volgende tong-in-die-kies gediggie gemaak oor die perfekte kerk:

If you should find
the perfect church
without fault or smear,
Please, don’t join that church,
you’d spoil the atmosphere.
If you should find the perfect church
where all anxieties cease,
Then pass it by lest joining it
you mar the masterpiece.
If you should find the perfect church,
then don’t you ever dare
To tread upon such holy ground
you’d be a misfit there.

But since no perfect church exists…
made of imperfect men,
Then let’s cease looking for that church,
and love the one we’re in.
Of course it’s not a perfect church,
that’s simple to discern,
But you and I and all of us
could cause the tide to turn.
So let’s keep working in our church
until the resurrection,
And then we each will join God’s church
without an imperfection.

3.  Ons moet inklusief wees

Uiteraard is daar by ons ‘n behoefte aan ‘n tuiste in ‘n gemeente.  En ons moet geleenthede hê waar ons “tuisvoel”.  Maar dit kan juis die eenheid deurbreek, as ons net saam is met mense wat soos ons is, waar ons makliker tuisvoel.

 

Inklusief

 

Daarom moet ons doelbewus inklusief wees, mense intrek, selfs al is hulle baie anders as ons. Ons moenie net werk met ‘n soort soek soort benadering nie, maar juis werk met ‘n ondersteuning in gemeenskap model (vgl. Prentjie van Nico Simpson).

Dit het natuurlik baie te make met nuwe mense wat in ‘n gemeente en ‘n gemeenskap intrek.  Maar soms is daar mense wat langs ons bly, tussen ons beweeg, maar nie deel voel van die gemeenskap van gelowiges nie.  En hulle het net so nodig dat ons uitreik en intrek en hulle deelmaak van ons geloofsvriendekring.

‘n Gemeente groei nie deur nuwe intrekkers nie.  ‘n Gemeente groei deur insluiting.  In ons groei na Christus toe, moet elkeen sy plek vind, moet ons help dat elkeen sy plek kan vind, sodat die liggaam opgebou kan word in liefde (Ef. 4).

Ek begin ook wonder of die beeld van die kerk as vriende, nie vir ons ‘n perspektief op gemeentewees gee, wat ons nou nodig het nie.

4.  Ons moet mekaar na buite toe ondersteun

Daar is ‘n al hoe groter behoefte dat ons as ‘n gemeenskap van gelowiges ons rol in die publieke sfeer speel.  En dan praat ek van die onderwys, en die gesondheidsdienste, en die metropool en die veiligheidsdienste, en die sosiale dienste, sowel as die landspolitiek.

 

Ondersteun in die publieke sfeer

 

En ons moet mekaar daarin ondersteun (vgl. Prentjie van Nico Simpson).  Dit is wat ‘n Gestuurde Gemeente doen – hulle ondersteun die gestuurdes, en dit is almal van ons, in die gemeente, in die uitvoering van hulle roeping.

En dit beteken nie dat ons almal ja-broers en susters moet wees nie.  Ons moet mekaar ook uitdaag en aanspoor tot beter maniere van dienslewering, en leer by mekaar wat die beste en God-welgevallige weg is.

Dit bring my die tweede fokus in ‘n gemeente wat as vriende wil lewe.

OM ‘N GEDEELDE TAAL AAN TE LEER (SHARED LANGUAGE)

 

Gedeelde taal

 

‘n Gemeente wat as vriende wil lewe het ‘n taal nodig waarmee hulle nie net mekaar kan verstaan nie, maar waardeur hulle letterlik die werklikheid kan skep (vgl. Prentjie van Nico Simpson).

Dit is waarom die Bybel so belangrik is – dit gee vir ons ‘n gedeelde taal.  En dit sal altyd die belangrikste taal bly wat ons moet aanleer, en waarmee ons die hele tyd moet besig wees.  En dit moet daagliks en gereeld wees.  Enigeen van julle wat al ‘n tweede of derde of vierde taal aangeleer het, weet hoe belangrik dit is dat jy dit inoefen, en nie net op jou eie nie, in gesprek met ander wat dieselfde taal praat.  Dit is al manier waarop jy dit leer.

1.  Die taal van Jesus

In die eerste plek beteken dit natuurlik dat ons die taal en gewoontes van die Here Jesus self sal aanleer – die taal van ‘n dienskneg – soos hier in vers 5 en verder uitgespel.

Daar was eendag ’n skilder wat sy meester se skilderkwas gekoop het.  Hy sou nou self ’n meester skilder wees!  Nadat hy sy eerste skildery met sy meester se kwas voltooi het, het hy dit geneem na die kurator van ’n beroemde museum.  Die kurator het na die skildery gekyk en die volgende opmerking gemaak:  “You don’t need the master’s brush, you need the master’s spirit and mind.”

Dieselfde geld ons as volgelinge van Jesus- “you need His spirit and His mind.”

En ons kry dit deur die Bybel te lees en te herlees en te oordink en te bespreek en te doen en weer te oordink en weer te doen.  Dit is hoe jy die taal van die Bybel, en die taal van Jesus aanleer en die taal van die Heilige Gees en die Vader en dissipelskap en nog ‘n hele boel ander nuanses of dialekte van die taal van die Bybel aanleer.

2.  Die taal van die tradisie en die taal van die tyd

Maar dit is nie net die taal van Jesus wat ons moet aanleer nie.  Ons moet ook ons eie taal as gemeente aanleer, die kultuur, die maniere, die gewoontes waarvan ons vir mekaar oor tyd stories kan vertel.

 

Tradisie en eietyds

 

Interessant dat Galindo sê (vgl. Prentjie van Nico Simpson), dat ‘n gemeente aan die een kant trekke van die oorgelewerde gebruike en gewoontes van die tradisie moet vertoon – ons staan immers in ‘n lang en ryk tradisie wat teruggaan eintlik tot die eerste mense, soos Genesis vertel.

Maar dit moet aangevul word deur die taal wat ons skep in reaksie en interaksie met die tyd waarin ons lewe.  Daarom het ons ‘n visie en ‘n missie wat anders is as ander gemeentes, maar ons sing liedere en gebruik die Bybel wat deur baie ander gemeentes reg deur die eeue al gebruik is.  Daarom ondersteun ons ‘n beweging soos Klema as deel van die gemeente se ontwikkeling, maar ons bly deel van die breër NGK verband, en hou ons ons aan die riglyne wat die ring, en sinode en Algemene Sinode van tyd tot tyd bepaal.

Dit is eers wanneer albei perspektiewe teenwoordig is, dat verantwoordelike vernuwing gebeur, en ons in die gedeelde taal vriende vir mekaar as gelowiges kan wees.

 

Gedeelde ervarings

 

Daarom dat ons nie die geleenthede wat ons as vriende vir mekaar reël kan, mag mis nie, want ons het gedeelde ervarings nodig (vgl. Prentjie van Nico Simpson), om ‘n gedeelde taal te kan ontwikkel.

En daarom is dit ook ‘n proses wat nooit mag stop nie – vernuwing is iets wat altyd nodig is.  Dit is soos die vlerke van ‘n arend.  Maar dit moet ook verantwoordelik wees, dit moet op een of ander maniere geanker wees aan die breër storie van gelowiges deur die eeue.  Dit is soos die pote van ‘n arend, waarmee hy uiteindelik na die wye draaie in die lug op sy nes hoog teen ‘n krans gaan sit, sy kuikens versorg, sy kragte herwin, sodat hy weer sy vlerke kan gebruik.

EK SLUIT AF

Neem tyd dié week en vra jouself net die twee vrae af:

  • Watter gemeentelede is geloofsvriende vir jou.  Soek hulle op, versterk julle verhoudings. Praat die taal van die gemeente en van ons geloof.
  • Watter gemeentelede of ander gelowiges in jou gebied is nie geloofsvriende van jou nie.  Kies een van hulle, reik uit, gaan drink koffie saam, braai ‘n vleisie, leer mekaar ken en sluit iemand so in jou geloofsvriendekring in.  En leer ‘n paar nuwe woorde aan van die taal wat God ons in gemeenskap met mekaar gee.

Amen

Fil 1:20-30 – Son 21 Sept 08

 

LEWE TER WILLE VAN CHRISTUS

Paulus is hier weer in die tronk (waarskynlik in Rome).  En as hy hier skryf dat hy onseker is of hy wil leef of sterf (vers 22), moet ‘n mens in gedagte hou, dat vir baie gevangenes dit werklik beter was om te sterf as om in ’n Romeinse tronk te probeer oorleef. 

Die omstandighede in tronke was haglik.  Die tronke was vuil, donker, warm, bedompig en onhigiënies.  Gewoonlik was daar nie individuele selle nie, maar is mense eerder aan mekaar in groepe vasgeketting (vgl. Fil. 1:14).  Gevangenes het min slaap gekry, en moes deur hulle families van kos en klere voorsien word (Kyk bv. na Fil. 4:18 waar Paulus die gelowiges bedank vir wat hulle vir hom gestuur het om van te oorleef: “… ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg”). Vriende het baie keer die gevangenes in die tronk bygestaan, soos ons hier lees van Timoteus en Epafroditos se diens aan Paulus (van wie Paulus in hfst. 2:19-30 sê: “wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan”).  Die hulp van vriende buite die tronk, was dikwels die verskil tussen lewe en dood vir gevangenes. 

Maar – Paulus is nie bekommerd oor die tronk as sodanig nie.  Hy dink nie oor lewe en dood vanuit sy omstandighede nie.  Hy dink uitsluitlik aan die effek van sy lewe (of dood) op die gelowiges.  Vir hom is dit beter om hemel toe te gaan … maar wat dan van dié wat agterbly?  En as hy aan hulle dink, dan besef hy, dit is nog nie tyd om te gaan nie. Hy het nog iets om te doen hier op aarde.  Hy bestaan immers ter wille van Christus en sy saak op aarde.

Hoekom dink hy so?

Want die lewe is vir hom Christus.  En hy is bereid om sy lewe weg te gee ter wille van Christus.

En dit is die uitdaging aan ons as Christene – dat die lewe ook vir ons Christus sal wees, dat ons ook bereid sal wees om ons lewe weg te gee.

Nou dit kan wees dat jy nou na my luister, en net besef, dit is nie waar ek is nie.

En dit is ‘n goeie gedagte – want dit is wanneer ons eerlik na ons eie lewe as Christene kyk en ons meet aan die lewe van ‘n volwasse Christen soos Paulus en ons bewus raak van die gapings in ons eie lewe, dat ‘n kreatiewe krag (Peter Senge) in ons aangesteek word, om verander te word, sodat die lewe ook vir ons Christus kan wees, en ons Christus-gesentreerd kan lewe.

Kyk, ‘n mens begin nie waar Paulus geëindig het nie.

Jy begin presies waar jy nou is.

En waarop konsentreer jy?

Wel, Paulus druk dit hier só uit: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.”

D.w.s. ons lewe moet al hoe meer in lyn kom met die boodskap van Christus.  In kort, ons lewens moet ooreenstem met die Bybel.  Nou, die interessante is, dat empiriese navorsing oor geestelike groei aandui – presies dít wat Paulus al aan die begin van ons jaartelling skrywe – dat gelowiges die Bybel as die mees kragtigste katalisator ervaar in hulle lewe, dié ding wat hulle lewens verander.

En hoe Paulus dit hier uitspel, is dat ‘n mens twee goed doen in geestelike groei, jy kyk na jou lewe en jy kyk na die Bybel en jy begin algaande die twee met mekaar in verband bring.  Dít is hoe jy geestelik groei.  Dit is hoe jy verander.  Jou lewenswandel kom in ooreenstemming met die boodskap van Christus.

Dit beteken – in jou stiltetyd lees jy die Bybel, jy dink na oor jou lewe, en jy laat toe dat die Bybelse visie, God se visie, want die Bybel is immers sy Woord, jou lewe verander.  In Bybelstudiegroepe lees jy die Bybel, dink na oor jou lewe, en laat die Bybelse visie jou lewe verander.  En ons doen dit in die erediens en ons doen dit in die kursusse wat ons aanbied.

Dit is die motivering agter die Didage aanbiedinge in die vierde kwartaal op Woensdae.  Didage beteken leer.  En dit is wat ons gaan doen, ons gaan leer hoe om ons lewens al hoe meer in ooreenstemming met die Bybel te bring:

  • Bybelskool – lees die eerste 5  boeke in die Bybel en dink na bv. oor hoe God met families in Genesis gewerk het, en probeer daaruit leer hoe om in ons eie families die Here te dien;
  • Bly in voeling – leer ‘n paar beproefde gewoontes aan om God se stem te kan onderskei en in voeling met God te kan bly;
  • Lectio Divina – leer baie spesifiek hoe om die Bybel te lees met die oog op lewensverandering;
  • Alpha Huwelikskursus – leer saam met mekaar hoe ons huwelike in lyn kan bring met wat God oor die huwelik in die Bybel leer.

Dink ‘n bietjie eerlik oor jou lewe – stem jou lewe ooreen met dít wat die Bybel leer?  Het jy ‘n groeiende verhouding met die Here?  Lewe jy Christus-gesentreerd?

Oorweeg dan om in te skakel by ons Woensdagaand sessies.  Neem die volgende stap in jou geestelike reis.  En bring mense saam met jou, familie, vriende, kennisse, kleingroep lede, wie ook al.

LEWE AS VRIENDE

Want, en daarmee sluit ek af, die Christelike lewe is nie ‘n alleen reis nie.  Dit is bedoel vir vriende in die geloof.

Paulus het ‘n klomp goeie dinge om oor die Filippense te sê.  Hulle het van die begin af met hom saamgewerk. Hulle lê hom na aan die hart.  Op ‘n punt was hulle al gemeente wat hom finansieel bygestaan het (hfst. 4).

Maar daar was een ding wat hy wou hê dat hulle nog moes doen – en dit is dat hulle soos vriende eensgesind moes saamstry vir die Evangelie en saam moet leer wat die evangelie, die Bybelse boodskap, vir hulle lewens beteken.  Daarom versoek hy vir hulle om soos een mens saam te stry vir die geloof en praat hy oor “hulle” lewenswandel.

Paulus versoek hulle ook in die volgende hoofstuk in dieselfde “vriendskap”-taal om een in liefde, hart en strewe te wees (2:2-4).  En wanneer Paulus vir Euodia en Sintige in hfst.. 4:2 vermaan om eensgesind te wees, bedoel hy dat hulle weer soos vriende moet leef.

Geestelike groei is dus nie vir Paulus ’n individualistiese saak nie. Hy wil hê dat die gemeente as geestelike vriende sal lewe. Vir die Grieke was ware vriende immers een siel wat in twee liggame geleef het, met dieselfde wil of strewe, en dit is hoe Paulus wil hê dat die gemeente moet lewe.

Kom ons stap só ‘n pad met mekaar in dié gemeente, die pad van gelowige vriende.

KINDERTYD

Die afgelope maand het die Olimpiese Spele ons almal aan die praat gehad. Die vinnigste man op aarde (Usain Bolt); die vrou wat ‘n spies die verste kan gooi (Barbora Spotakova). En ons leer by die atlete: om nooit op te hou nie, om hard te probeer, om alles te gee.

Maar dit was die Paralimpiese Spele wat vir ons die meeste geleer het. Mense wat ‘n gebrek het, net een been, of net een arm, of blind en dan die beste doen met wat hulle het. En dit lyk mos asof hulle nóg meer as hulle Olimpiese maats die Spele geniet.

Een van die grootste atlete daar was ‘n Suid-Afrikaner, wat eers by die Olimpiese Spele geswem het en toe ook by die Paralimpiese Spele, Natalie du Toit, en vyf goue medaljes gewen het.

Maar ek wil vir julle vandag vertel van hierdie meisie.

Het julle al vir haar gesien?

Haar naam is Shireen Shapiro.

Toe sy sewentien jaar oud was het ‘n vreeslike ongeluk haar getref.  Sy was ‘n goeie swemmer. Haar droom was om by die Olimpiese Spele deel te neem. Maar toe ry ‘n motorboot bo-oor haar, en die skroewe skeur haar liggaam uitmekaar.

En sy was baie hartseer, en wou haar droom om op die Olimpiese Spele te swem, laat vaar. En toe kom kuier Natalie du Toit vir haar.  En sy praat vir Shireen moed in.  En Shireen besluit sy gaan tog weer swem en begin oefen om in die Paralimpiese Spele te swem.

En daar wen sy en stel boonop ’n wêreldrekord op in die 100 m-rugslag vir vroue (S10-klas).  Sy het die beste gemaak van wat sy gehad het!

Nou die Bybel vertel ons van die apostel Paulus.

Een keer is hy in die tronk gegooi, omdat die mense nie wou hê hy moes vir ander van Jesus vertel nie.

En die tronk was ‘n baie slegte plek.

En wat dink julle doen hy?  Gee hy moed op?

Nee, hy besluit, ek kan mos nog skryf.  En hy skryf ‘n brief vir die mense in Filippi.  Dit is ‘n dorpie in Griekeland.  En hy sê vir hulle, julle moet onthou om alles te doen wat Jesus vir julle vra.  En julle moet onthou om lief te wees vir mekaar. En julle moet onthou om met ‘n glimlag te lewe.  Hoekom?  Want die Here is lief vir julle.

En dan sê hy vir hulle: as mense nie glo wat julle sê nie, moenie moedeloos word nie, moenie vir hulle skrik nie, maar hou by wat julle geleer het.

En so maak Paulus die beste met wat hy het, en hy moedig die mense van Filippi ook aan om die beste te maak met wat hulle het.

SKRIFLESING

Drie tekse uit Filippense vir die volgende drie weke.

Filippi was ’n kleinerige stadjie in die Noordoostelike deel van Masedonië (vandag Griekeland) waar talle Romeinse soldate afgetree het (Hand 16:12).  In ruil vir landbougrond het die veterane gehelp om die belangrike via Egnatia  – die pad tussen Europa en Asië – te beveilig.  Dit het ook gekeer dat Rome oorbevolk word met afgetrede soldate wat niks het om te doen nie. 

Filippense 1:20-30

20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23 Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25 Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26 As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

27 Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28 en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29 God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30 Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.

Gen 50:15-21 – Son 14 Sep 08

WOORDVERKONDIGING
KOM ONS TREK VIR ‘N OOMBLIK DIE SKOENE VAN DIE BROERS AAN.

Die broers het Josef regtig sleg behandel – hulle het sy lewe in Israel kortgeknip, hom van sy familie en sy mense ontneem, hulle het hom ‘n slaaf gemaak en verkoop aan ‘n klomp handelaars. En hulle het hulle pa belieg met hulle storie oor wilde diere wat vir Josef opgevreet het en so as’t ware Josef se gedagtenis uitgewis in sy tuisdorp.

Toe hulle uitgevind het dat Josef wonder bo wonder oorleef het, en boonop tweede in bevel in Egipte was, was hulle verras en natuurlik bly vir die uitkoms uit hongersnood waarin hulle was, en dat hulle daarby nie vir hulle misdaad moes boet nie.  Josef was immers duidelik daaroor dat hy hulle vergewe.

Maar blykbaar was daar diep binne in hulle die gevoel, sê nou maar net ons word êrens verantwoordelik gehou vir ons misdade.  En toe hulle pa sterwe het dié gevoel die oorhand gekry. Soos vers 15 sê: “En Josef se broers was bevrees na die dood van hulle vader”.

Die probleem van die broers lê dus nie by Josef nie, maar by hulleself. Josef se dade en woorde van hoofstuk 45 het reeds deeglik gewys dat hy met hulle versoen wil lewe … maar ons lees nêrens dat hulle hulle sonde bely en erken het nie, of vir vergifnis gevra het nie of dit aanvaar het nie.  So ons lei af dat hulle gevoel van skuld hulle gejaag het.

Die versekering wat Josef in Genesis 45 gegee het, het nie ’n blywende indruk op hulle gemaak nie. Daar het hy alreeds beklemtoon dat God hom voor hulle uitgestuur het (vers 3-8).

Maar noudat hulle pa dood is, begin die broers wonder of Josef se gesindheid nie sal verander nie.  Op ‘n manier besef hulle nou meer as tevore dat hulle aan die genade van hulle broer uitgelewer is.

Die interessante is egter, hulle kies om steeds ‘n pad van misleiding en emosionele manipulasie te volg, uit vrees vir die gevolge van hulle vroeëre dade.  

Daarom lees ons in vers 16, 17 dat hulle eers ’n boodskapper stuur om met Josef te praat om so aanvanklik ’n direkte konfrontasie te voorkom. Hulle probeer sy guns wen deur te verwys na hulle pa se opdrag tot vergifnis, waarvan ons nêrens anders lees nie, wat dus lyk asof dit opgemaak is.  Hulle pleit wel twee maal om vergifnis, en beskryf hulle sonde as misdade en onreg, maar van ‘n afstand af!  Op die koop toe, doen hulle ‘n beroep op hulle geloof in dieselfde God as hulle pa, interessant nie as dieselfde God as Josef nie!

Eers as Josef emosie toon en hulle die vermoede het dat hy hulle regtig sal vergewe, gaan val hulle uiteindelik voor hom neer.  Josef se broers maak dus steeds eintlik staat op misleiding om hulle gewete stil te kry.  Soos ‘n geleerde (Coates) sê: “They still depend on deception as a way of life.”

Wat sien ‘n mens dus hier in hulle lewe?

‘n Mens sien hier dat, sonder vergifnis en die aanvaarding van vergifnis, die broers aan hulle verlede vasgeketting bly.   Dieselfde vrees en angs uit hulle verlede, toe hulle ‘n storie moes opmaak oor Josef se dood, oorval hulle, sodat hulle eintlik weer fouteer.

Soos die verhaal van Peanuts waar Lucy aan die einde van ‘n bofbalwedstryd aan Charlie Brown verduidelik hoekom sy die bofbal mis gevang het: “Sorry I missed that easy fly ball, manager. I thought I had it, but suddenly I remembered all the others I’ve missed, and the past got in my eyes.”  

En die interessante is, daarmee erken die broers, dat die enigste een wat die siklus van wraak en weerwraak kan deurbreek, die een wat verontreg is, Josef.

Skuldgevoelens laat jou dus nooit los nie!  Totdat jy nie op ‘n plek kom waar jy eerlik jou sonde bely en erken nie, en iemand jou nie vrygespreek het nie, EN jy dit aanvaar het nie, is jy ‘n gevange van jou skuldgevoelens.

Soos een Joodse kommentaar sê: Josef se broers hoop vir haat om hulle skuld te vereffen (Wendy Amsellum). Sy vertaal (op voetspoor van die Middeleeuse Joodse kommentator Rashi) vers 15: “As Josef maar net vir ons haat …” i.p.v. “Sê nou net Josef haat ons  …”

Wat leer ons uit hulle verhaal?

Om los te kom van jou skuld uit die verlede, het jy nodig om die skuld te erken, bely, vergifnis te vra, en te aanvaar wanneer dit gegee is.  Dit is die enigste manier om van skuld los te kom.

Dit is waar van skuld op ‘n menslike vlak, en tussen ons en God.

En dit kan wees dat dié verhaal jou op dié vlak aanspreek. Miskien is daar iets wat jy moet gaan regmaak, of gaan sê jy is jammer, of sê jy is verkeerd.  Dit is waar die verandering begin, waar jy erken en bereid is om dit te bely.

KOM ONS TREK DAN NOU DIE SKOENE VAN JOSEF AAN.

Net soos in Genesis 45:2 huil Josef.

Dis moeilik om af te lei wat die rede vir sy trane is. Die atmosfeer van medelye oorheers egter beide Genesis 45, die eerste interaksie tussen Josef en sy broers, en hier in Genesis 50. Sy duidelike versekering dat hulle nie moet bang wees nie en dat hy steeds vir hulle sal sorg, benadruk sy omgee vir hulle.

Een geleerde (Wenham) dink dat Josef huil omdat hulle steeds bang is vir hom, en dat dit eintlik vir hom sy eie verlore verlede terugroep, en hy besef sy broers sit nou in die situasie waarin hy was, toe hy afhanklik was van hulle goedgesindheid daar by die put … en as seun nie by hulle gekry het nie.  Josef huil dus op ‘n manier sy broers se trane.  

Hy huil miskien ook oor die feit van sy verlore jeug en oor die feit dat die pad wat hy moes loop, van hom ‘n outcast gemaak het.  Om die waarheid te sê, ons lees aan die einde van hoofstuk 50, dat hy sy broers vra om sy bene na sy dood saam met hulle terug te neem na Israel – om darem in sy dood deel van sy vaderland te wees.

Maar Josef veroordeel nie sy broers nie, en bly by die keuse wat hy vir vergifnis gemaak het.  Hoekom?

Omdat Josef anders na die verlede kyk as sy broers.  

Die broers kyk na wat hulle self gedoen het in die verlede en heel gepas is hulle bang.  Josef kyk egter na die groter prentjie – dít wat God reg gekry het deur die presiese gang van die verlede, die kwaad ingesluit.  En Josef kyk na die droom wat God hom in sy jeug gegee het, en hy hou dít in gedagte, nie die skuld van sy broers nie óf sy verlore jeug nie.

En wat Josef raaksien, is dat met God, die slegste goed nooit die laaste goed is nie!  

  • God kan altyd nóg iets doen, as dinge lyk asof dit uit mekaar val.  
  • Die slegste goed is nooit die laaste goed nie.  
  • En dié God kan die kwade goed dink (Noordmans).  
  • Sy hand word juis in die donkerste tye sigbaar.
  • Selfs mense se bose planne verlam nie God se planne nie.
  • Mense beplan, maar die laaste woord kom van die Here af (Spr 6:16).
  • Bose planne dwarsboom nie God se planne nie, menigmaal bevorder dit juis wat Hy wil doen!

Maar Josef kyk nie net anders na die verlede as sy broers nie.  Hy verbind hom aan die goeie wat God beplan – dit is waarvoor hy kyk en dit is waarvoor hy lewe.

  • Daarom verklaar hy dat hy sal sorg dat daar kos vir sy broers se kinders is.
  • Josef aanvaar dus verantwoordelikheid om deel van God se goeie plan vir die toekoms te wees.
  • So, sê Gibson, word ’n verhaal wat met haat begin het, afgesluit met haat wat deur liefde oorwin word.
  • Uiteindelik word ’n familie wat deur haat uitmekaar geskeur is, weer in harmonie met mekaar gebring.  
Wat leer dit vir ons?
  • Dat ons ook kan verwag om God se hand in die donkerte van ons eie familie stories te sien.
  • Dat ons ook kan verwag dat dié God die kwade goed kan dink!
  • Dat die slegste goed nooit die laaste goed is nie – daar is altyd weer hoop, nie die hoop op haat soos die broers gevrees het nie, maar die hoop op die liefde.
  • En dat ons ons kan verbind aan die goeie wat God beplan – die droom van God om die goeie uit die kwaad te voorskyn te bring.
  • Ons kan ons verbind om aktief die roeping te aanvaar om deel van God se goeie toekoms te wees. Josef se rol is immers nie om sy broers terug te kry nie, maar om hulle te versorg; nie om hulle te veroordeel nie, maar om aan hulle ’n tuiste te gee.

Psalm 119:31-40 Son 7 Sep 08

Kindertyd

Wie van julle hou nie daarvan as iemand vir julle voorsê wat om te doen nie?  Baie mense hou nie daarvan nie.  Ons hond hou ook nie daarvan nie.  Mense hou soms ook nie daarvan dat die Here vir hulle sê wat hulle moet doen nie.  Dink maar aan Adam en Eva.

Ek weet ek moet op sommige plekke stadig ry, wat ek nie altyd doen nie.  Dan word ek beboet.  Is die padtekens daar om ons te beskerm of sommer net om die lewe moeilik te maak?  Natuurlik is dit daar om ons te beskerm.
Net so is God se reëls ook nie daar om die lewe moeilik te maak nie, maar om ons te beskerm.  God se reëls is daar om vir ons ’n beter lewe te verseker. 

Woordverkondiging

In ons huis is daar baie resepteboeke.  Min van die resepte word (ongelukkig) geregte wat op die tafel verskyn!  ’n Resep moet getrou gevolg word as jy ’n suksesvolle gereg wil voorberei.   Net so is ons vanoggend in Ps 119 by ’n resep vir ’n goeie lewe.  God se voorskrifte is soos die strepe op ’n teerpad wat vir ons ’n goeie en veilige reis verseker.
 
In die dag waarin ons leef is wette en reëls nie meer gewild nie.  Ons wil ons nie laat voorskryf nie.  Sandra vertel gereeld stories van kinders se optrede by die skool as daar vir hulle gesê word wat hulle mag doen en wat hulle nie mag doen nie.
 
Psalm 119 handel oor God se wil vir ons lewe, sy voorskrifte, sy wet, as iets lewends en iets aktiefs . Dit is ’n uitdrukking van God se lewegewende teenwoordigheid.  Daarom gebruik ons die foto van iemand wat van vreugde spring.  Breuggemann sê dat die wet ons vrymaak.  Omdat ons weet aan wie ons behoort, beskou ons God se wil vir ons lewe in ’n positiewe lig.  Ons weet watter rigting ons met ons lewe ingeslaan het.  Ons hoef nie telkens weer te wonder hoe ons moreel moet optree nie.  Ons weet wat ons moet doen, ons is gewoond daaraan, dit het ’n lewenswyse geword.  Ons neem nie ander mense se besittings vir onsself nie, ons verkul  nie ander in saketransaksies nie, ons vertel nie leuens nie.   Ons kan dus rustig lewe.  So ’n ingesteldheid lei ook nie noodwendig tot  ’n eentonige lewe nie.  Nee, dit maak vry!  Dit skep juis die ruimte waarbinne ons mens kan wees. 
 
Ons sou ook hier kon dink aan die voorbeeld van padverkeersreëls wat daar gestel is om ons lewe op die pad veilig te maak sodat ons heel en behoue by ons bestemming kan aankom.  Daar is ’n boekie oor die Tien Gebooie geskryf met die naam Tien stippellyne vir die pad.   As ons almal die padverkeersreëls volg – soos om ons sitplekgordels vas te maak, die regte volgafstand te handhaaf en nie onder die invloed van dwelms of alkohol te bestuur of die pad sonder om te kyk oorsteek nie – sou minder mense sterf en vermink raak. Reëls skep vryheid en geborgenheid.
 
Hier word klem gelê op die belangrike gedagte van die nou verband tussen wet en evangelie.  As  ons die wet sien as deel van God se genade, dan word die wet deel van die goeie nuus van die evangelie.  Baie belangrik is ook die gedagte van Bonhoeffer dat die Tien Gebooie waak oor kosbare genade en die kerk beskerm teen goedkoop genade.
 

Continue reading

Matt 16:21-28 – Son 31 Aug 08

 

Dink aan wat God wil hê

 

Dit gebeur ontstellend maklik.  En dit gebeur as ons dink aan wat mense wil hê en nie aan wat God wil hê nie.  In die taal van die OAV:  die dinge van mense bedink en nie die dinge van God bedink nie.

Jesus help ons hier om te verstaan wanneer en hoekom goed verkeerd loop.  Ons word ‘n probleem en ‘n verleentheid vir die Here,  ‘n struikelblok, wanneer ons nie God se dinge bedink en eerste sy wil soek nie,  maar die dinge van mense bedink en dink wat mense wil hê, wat ons self graag wil hê, en dít najaag.  

Ons almal weet hoe maklik dit kan gebeur.  Ons wil Christene wees, maak erns daarmee, maar dis moeilik om te skei tussen ons wil en God se wil.  Ons het God lief, maar het die wêreld en al sy verleidings ook nog lief.  En soms is dit moeilik om te sien wanneer die dinge van God anders is as die dinge van mense.

Petrus hoor dat Jesus gaan ly. Dit klink nie vir hom reg nie, nie logies nie.  Petrus het beslis nie gedink dat hy praat van wat mense wil hê nie! En tog…  hy het niie gesoek na wat God wil hê nie!

Die dinge waaroor ons dink en droom, waaraan ons ons lewens wy, ons tyd spandeer, waarvoor ons werk en wat ons begeer,  dít wat ons dink moet gebeur, is nie altyd die dinge van God nie, maar dikwels die dinge van mense.  Dit is selfs soms waar van die kerk.  Soms begin ons dink aan die kerk as ‘n klub wat in my behoeftes moet voorsien.  Die kerk word ‘n produk wat ons verbruik, dikwels sonder om eers te vra wat God wil hê.

Augustinus help ons om ons denkfout hier te verstaan:  hy maak ‘n onderskeid tussen “gebruik” en “geniet”.  Hy sê:  Die Here se gedagte was dat ons die dinge van die wêreld sal gebruik om die Here en sy goedheid te geniet.  Ons draai dit om en gebruik die Here en sy goedheid om die dinge van die wêreld te kry en te geniet.

Sien, die pad in navolging van Jesus is ‘n pad waarop die Here ons aanmekaar na dieper vlakke van gehoorsaamheid lei.  Om op die uitkyk te wees hiervoor en leerbaar te wees, is ‘n baie groot deel van dissipelskap.  Kierkegaard het ‘n onderskeid gemaak tussen bewonderaars van Jesus, leerlinge van Jesus en dissipels van Jesus.
Waartoe Jesus ons roep, is dissipelskap – om God se wil te soek,
om Jesus te volg.

Lyding?

Die groot probleem is dat ons verkeerd dink oor lyding.  Dis natuurlik ook Petrus se probleem in hierdie teks:  hy verstaan nie dat die Messias moet ly nie en probeer hard om Jesus te keer.  Uit Jesus se nog heftiger reaksie is dit duidelik dat lyding nie iets is waaroor daar enige opsies sal wees nie.  Lyding is eenvoudig deel van die lewe – en deel van die verlossingsplan.

Onthou, dit gaan hier oor Jesus se lyding.  Dit was nie bloot toevallinge lyding, of omdat Jesus ‘n tragiese held wou wees.  Ons weet dat Jesus se lyding te doen het met mense se lyding en ons verlossing uit die lyding.  Hier, in Jesus se lyding, kan ons die hart van God sien.  Ons God kan nie verbystap by nood, seerkry, ellende en wanhoop nie.  Hy kan nie wegkyk wanneer mense swaarkry nie. Hy moet gaan help – al kos dit hom ook pyn en lyding en die dood.

En dit is wanneer ons hierdie hart van God sien, wat ons ook sien waaroor die lewe gaan.  Ons dink die lewe is veronderstel om gelukkig te wees.  As daar lyding en broosheid en sukkel is, moet ons net uithou,dit sal verby gaan.  Want sien, dink ons, lyding en broosheid is eintlik ‘n fout – daarom wil Petrus nie dat Jesus aan die kruis sterf nie.

Maar die lewe gaan nie oor plesier of prestasies of sukses of geld nie.  Die groot vraag is of ons kan omgee vir mense in nood soos wat Jesus dit gedoen het. As ons dit nie kan doen nie, verstaan ons nie alleen min van die lewe nie, maar ook min van Jesus en van dissipelskap.  Dit is presies ons huiwering  en vrees vir lyding wat maak dat ons soms in die pad van die evangelie kom.

Ons wil ‘n lekker goeie gemaklike lewe hê en is nie lus vir sukkel nie.  Iemand praat van westerlinge se onvermoë om swaar te kry. Vir baie van ons is die vermyding van lyding dié belangrikste motiveerder van ons lewens. Baie van ons dink dat dit ons reg is om nie hoef swaar te kry nie.

Dissipelskap

Maar dan, wanneer Jesus gepraat het oor sy lyding en dít wat God wil hê, praat hy oor die wese van dissipelskap, oor wat dit beteken om hom te volg: As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en my volg.  

Dis belangrik om te onthou dat dit nie gaan om selfverloëning en kruis dra as sodanig nie, ssof daar waarde in sig self is, maar om selfverloëning en kruis dra as volgelinge van en ter wille van Jesus.  As Jesus se lyding nie maar blote masochisme was nie, maar te doen het met die lyding van mense, dan is dit ook waar van ons selfverloëning en kruis dra.  Dit gaan nie hier om irrasionele eise aan mense wat bloot ons gehoorsaamheid en offervaardigheid toets nie, maar onder hierdie woorde van Jesus sit altyd die vraag na hoeveel ons omgee vir ander.

Die vraag is nie net of ons Jesus sal navolg nie, maar of ons soos hy sal omgee en help tot op die punt waar ons seerkry en gevra word om ons eie gemak op te gee, om onsself te verloën.  Die selfverloëning waarom dit hier gaan, beteken juis om jou tyd, gemak, middele, talente en gemoedsrus op te offer, diensbaar te maak aan ander in hulle nood.  

Waaroor dit hier gaan, natuurlik, is steeds Jesus. Dissipelskap is die vraag of ons net in Jesus glo en of ons hom volg ook?  Bonheoffer (wat letterlik gesterf het in navolging van Jesus) stel dit ontstellend sterk: “Ons het saamgedrom soos aasvoëls rondom die karkas van goedkoop genade, en daar het ons van die gif gedrink wat die lewe in navolging van Jesus doodgemaak het.”  

Dissipelskap gaan daaroor om te dink wat God wil hê, om hom nommer een in jou lewe te maak, bo jouself en jou eie behoeftes en begeertes en hóm dan te volg.

Frederick Marais vertel van ‘n gedig van Gabriel Setiloane – ‘n teoloog van Zimbabwe:

I am an African

And yet for us it is when he is on the cross
This Jesus of Nazareth, with holed hands and open side,
Like a beast at a sacrifice:
When he is stripped, naked like us,
Browned and sweating water and blood in the heat of the sun,
Yet silent,

That we cannot resist him

Om dan in navolging van Jesus uit te reik na dié in nood.  Dan reik ons uit, doen barmhartigheidwerk, uit ware geloof, in navolging van Christus.  
Nie as angstige soeke na erkenning of roem nie, nie as ‘n manier om ander afhanklik te hou of om die sinvolheid van ons eie bestaan te bevestig nie, nie uit jammerte of selfs uit eie liefde nie, maar uit die liefde van Christus, in navolging van hom.

Lewe!

 

Maar hierdie perikoop eindig nie net met die oproep om jou kruis op te neem en te sterwe nie.  Dit eindig met die belofte van lewe.  Want hierdie oproep tot dissipelskap, selfs tot kruis opneem, is nie ‘n sware las waaroor ons moet moedeloos raak nie.  Dit is deel van die evangelie.  Vers 24 moet altyd saam verse 25-26 gelees word.  Jesus spel die vreemde reëls van die koninkryk uit: Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar wie sy lewe om Christus ontwil verloor, sal dit terugkry, sal werklik lewe.  

Wat die Here wil, is nie noodwendig altyd dieselfde as wat mense wil nie.  Lewe in navolging van Christus lyk nie altyd soos ons gedink het die lewe veronderstel was om te lyk nie, maar die lewe in navolging van Christus is werklik, ware LEWE.

Dit laat ‘n mens dink aan die saligsprekinge, waar die aanspraak van die  koninkryk telkens presies die teenoorgestelde is van die waardes waarin die wêreld glo en wat vir mense logies lyk.  Die wil van God is eintlik kontra-intuïtief.  Dis hoe die koninkryk werk!

Deel van die “lewe”, lê in die belofte dat Jesus by ons teenwoordig is.  Dissipelskap beteken om nie alleen te loop, alleen swaar te dra aan ‘n kruis nie. Jesus het reeds die kruis gedra.  Dissipelskap beteken om agter hom aan te loop, so naby aan hom as wat ons kan bly, om sáám met hom te loop.  Dit beteken dat ons kan rus in die wete dat hy ons nie sal stuur na plekke waar hy nie is of nie eerste sal ingaan nie.

As dit beteken dat ons soms deur water of deur vuur of deur dale van doodskaduwee moet gaan, dan kan ons altyd weet – die Here is saam met ons en DIT is lewe.
Amen

Terugvoer Barhmartigheid – Gemeenskapsaksies

(Gebaseer op gedagtes van CW Burger)

Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08

KINDERTYD

Weet julle wie is die president van Amerika?

  • Nou sy pa, George Bush snr, het eenmaal, toe hyself president van die VSA was, ’n ouetehuis besoek. 

Weet julle wat ’n ouetehuis is?

  • En daar het vriendelik met ‘n ou oom begin gesels en vir hom gevra:  “Weet jy wie ek is?” 
  • Die ou oom het nie geweet nie en geantwoord:  “Nee, maar gaan na die ontvangs toe, want as ons vergeet, vertel hulle vir ons wie ons is!”

Maar jongmense het ook dié probleem!

  • Ek onthou ‘n dogtertjie wat toe sy een keer in ‘n kring om my staan, haarself aan my moes voorstel, en toe gesê het: “Wie is ek nou weer?!”

Kom ek vra vir julle: “Wie is jy?” 

  • En “Nou wie is  …….. ?”
  • En “Wie is ………. ?”

Ons almal weet min of meer vanwaar af ons kom.  Jy ken jou ma en jy ken jou pa en jy ken jou ouma en oupa en ooms en tannies en neefs en niggies en sommer nog ’n hele spul ander mense ook.  Dit help ons verstaan wie ons is.

In die Bybel het Jesus dieselfde vraag gevra: “Weet julle wie is Ek?”

  • Wat dink julle het hulle geantwoord?
  • Wat sou julle antwoord?

Petrus het die ‘regte’ antwoord gehad; hy kon sê wie se Seun Jesus is.

En wie se Seun is Jesus?

God s’n!

En omdat Hy God se seun is, kan ons op Hom vertrou. Ons ken Hom.  Hy is God se Seun!

Daarom kan Hy ons gebede verhoor, Hy vergewe ons sonde, Hy help ons wanneer ons sukkel, Hy troos ons wanneer ons hartseer is.

Dis darem maar goed ons weet Hy is God se Seun, nê!

SKRIFLESING

Die hart van ons Gereformeerde Identiteit het te make met vier frases:

  • Net genade             Ef 2:8-10/ Rom 3:23-24
  • Net geloof               Rom 1:17/ Rom 5:1
  • Net Christus            Rom 5:8/ Rom 6:8 en 23
  • Net die Skrifte         Ps 1:1-3/ 2 Tim 3:16; 4: 2-3

En dit is nie asof dit ‘n optelsom is nie – jy sien die genade in Christus, en sonder geloof maak die Skrifte nie sin nie – dit is ‘n beskrywing van ‘n geheel.
Ons fokus vandag op Jesus en wie Hy is, want dit is wat die teks op die tafel sit, maar ons is telkens besig met die hele geheel – die kern van ‘n Gereformeerde kyk na wat Christelik is.

Opbou en agtergrond

Hoewel hierdie gedeelte ten nouste met die voorafgaande gedeelte oor die suurdeeg en sy invloed saamhang, onderstreep die begin van dié gedeelte van toe af (wat ook in 4:17 voorkom) dat hier ’n nuwe fase in Matteus begin waarin besondere klem op Jesus se lyding en sterwe val.  Die gedeelte self bestaan uit drie dele:

  1. die vraag aan die dissipels oor sy identiteit deur Jesus, met ’n rits antwoorde met Petrus s’n as hoogtepunt (vers 13–16);
  2. die uitsonderings posisie van Petrus (vers 17–19) en
  3. die opdrag aan die dissipels om oor Jesus se identiteit te swyg (vers 20).

Kom ons lees Matteus 16:13-20

WOORDVERKONDIGING

“Wie is ek?”

In vers 13 vra Jesus wie die mense dink die Seun van die mens is. 

Word on the street vertaal:”13 What’s the gossip? What are people saying about Me? They worked it out yet?”

Dis ’n ongelooflike gelaaide vraag.

Nou vir die ingeligte hoorder, sou die titel al klokkies laat lui het.  Hulle sou onthou het van die geheimsinnige man wat Daniël (7:13) in sy nagtelike visioen gesien het.  Dié verwysing het immers ’n uiters belangrike rol in die Jode se Messias verwagting gespeel.  Só, hulle sou die afleiding kon maak, dat Jesus eintlik na Homself as Messias verwys.

En dit is nie asof Jesus die term net een keer in ‘n gesprek oor Homself gebruik het nie.  Dit kom in al vier evangelies voor, dat Jesus só na Homself verwys (Matt 8:20, 9:6, 11 en 19; Mark 2:10; Luk 7:34; 9:58; Joh 9:35-37).  En niemand anders gebruik die term nie, net Hy. 

Maar die antwoorde wat die mense vir die dissipels gee, wys dat die mense nie verstaan het wie Jesus is nie.  Uit die uiteenlopende antwoorde lyk dit asof almal op een of ander manier dink dat Jesus ’n profeet was (vers 14): Johannes die Doper, Elia, Jeremia (net Matteus vermeld die feit).  Maar die kloutjie kon hulle nie by die oor kry nie.

Maar julle, wie sê julle is Ek?

En dan kom die belydenis van Simon, wat sy voorloper al in hfst. 14 gehad het toe Simon op die see saam met Jesus geloop het, en hy en die ander dissipels voor Jesus gekniel het en as die Seun van God aanbid het. 

U is die Christus, d.w.s. die gesalfde, die een wat God as Messias gesalf het (Christus is immers die Griekse vorm van die Hebreeuse woord Messias), die Seun van die lewende God.

En met vreugde verklaar Jesus dan vir Simon as gelukkig, geseënd.  Interessant dat Hy Simon as die Seun van Jona, Simon Barjona (bar is die Aramese woord “seun [van]”)  aanspreek en dan sy naam verander na Simon Petrus toe. 

Jy is Petrus, rots, en op dié rots sal Ek my kerk bou, ‘n ongelooflike belofte (vers 18)! 

Die gesag om die kerk te onderrig, die sleutels van die hemel, word ook aan hom gegee (vers 19). 

Nou daar is ’n groot verskil in hoe Katolieke en Gereformeerdes die teks verstaan. 

  • Vir eersgenoemde gaan dit om die vestiging van ’n amp – dié van die pous, ‘n individu as ‘n rots, wat hiërargiese volmag het in alles van die kerk. 
  • Vir laasgenoemde gaan dit oor die rol van die kerk – as geloofsgemeenskap, ‘n gemeenskap wat op die rots van Petrus se belydenis gebou is, in wie Christus die volmag het. 

Interessante vertaling in Word on the Street werp miskien ‘n ander lig op die betekenis van dié gedeelte: “I’ll tell you the security codes of heaven: if you block something down here, heaven will make sure it stays blocked, if you give something the green light down here, heaven will make sure it goes through.”  Dit klop met die betekenis in Matteus 18:18-19 waar ook oor dié sleutelmag gepraat word, en die uitoefening daarvan verbind word aan die saamstemmende gebed van die gemeenskap van gelowiges.

Wat ‘n mens onmiddellik anders laat dink oor die belangrikheid van gebed!  Dit is die kodes wat die hemel oop- en toesluit – en ons het dié mag gekry, om in afhanklikheid van ons Messias, die een wat mense kinders van God wil maak, te gebruik.

Maar dan kom ons by die gedagte wat my die meeste getref het.  “Op hierdie rots sal Ek my kerk bou en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (vers 18).  Doderyk of Hades staan hier vir die plek waar die ongelowiges gebêre word vir die oordeel, ‘n uiters ongemaklike plek, wat sommer in later gebruik van die woord, as die hel bekend geword het, hoewel tegnies die hel eers aan die einde van die tyd regtig in spel sal kom, as ‘n mens Openbaring in gedagte hou.
Maar belangrik.  Dit is nie Petrus wat bou nie.  Dit is Jesus Christus wat bou. 

Dit is nie Petrus of sy dissipel-vriende of enige ander Christen daarna wat die voortgang van die kerk verseker nie.  Dit is Jesus Christus wat die bose magte sal teëstaan sodat die kerk nie oorweldig word nie.

Matteus sluit die gedeelte af met die bevel van Jesus in vers 20 dat hulle dié insig in wie Jesus werklik is, nie verder met buitestaanders moet deel nie.  Sonder die kruisdood en opstanding van Jesus, sou sy Messiasskap immers nie sin maak nie. Geen wonder dat Matteus met smaak aan die einde van die evangelie dié kleed van geheimsinnigheid  afgooi en in die woorde van Jesus self sê dat dié boodskap van die Messias die hele wêreld in verkondig moet word (28:19) – die bekende Groot Opdrag.

TOEPASSING

Ek wil na hierdie Skrifuitleg twee dimensies hiervan uitlig.

1.  Jou eie identiteit in Christus

Jesus begin hier met ’n algemene vraag aan die dissipels:  “Wie sê die mense is Ek?”

En as hulle vir Hom ’n paar antwoorde gee, dan maak hy dit persoonlik: “Wie sê julle is Ek?”

Dis die vraag wat elke mens deur die eeue moet antwoord … Wie is Jesus vir jou?

Ek het onlangs die boek van Francis Collins gelees, The Language of God, waarin hy as wetenskaplike oor geloof gesels.  Hy is die vader van die menslike genoom projek en het die Nobelprys daarvoor gekry.

Hy begin sy volwasse lewe as ‘n ateïs, iemand wat nie in ‘n God glo nie.  Maar dan ontmoet hy ‘n vrou in die hospitaal wat besig is om dood te gaan, en dié vra hom wat hy regtig glo.  En met ‘n skok besef hy dat hy eintlik sy hele lewe die vraag na God ontwyk het.  En dat Hy nie langer dít sou kon doen nie.   Hy sou moes ‘n antwoord gee op die vraag, in terme van die teks, wie is Jesus vir jou?

En dan met die lees van ‘n paar boeke, veral CS Lewis se boeke, raak hy oortuig van die bestaan van ‘n universele morele wet wat nie uit natuurlike ontwikkeling verklaar kan word nie.  En wat hom spesifiek aanspreek, is dat mense altruïsties kan optree, d.w.s. lief kan hê sonder om iets terug te verwag (wat die Bybel as agape liefde beskryf).  En omdat hy dié tipe liefde nie uit natuurlike ontwikkeling kan verklaar nie, kon hy eenvoudig nie God se bestaan langer ontken nie.  En Jesus raak vir Hom die Seun van God, die Messias, die Christus.

Ek weet ek praat met mense wat die evangelie ken – maar die vraag bly steeds – wie is Jesus vir jou?  Dit bly die belangrikste vraag, een wat ‘n mens nie kan ontwyk nie, en een wat jou lewe hier en nou bepaal.

2.  Ons identiteit in Christus

As ons seker is van ons identiteit in Christus, dan is die tweede vraag wie is die kerk, dié kerk wat Jesus bou en waarvan Hy sê, die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie?

Nou, ek is nie onbewus daarvan dat die antwoord op die vraag baie diep deur ons konteks bepaal word.

Dié week het bv. die kerkherenigingsbootjie ‘n rowwe see binnegevaar.  U het seker kennis geneem daarvan dat die VGK die NGK se afskeid van apartheid ernstig bevraagteken het, en nie ons aansoek om deel van ‘n Afrika Konferensie van Kerke te word, goed te keur nie. En dit plaas die hele gesprek tussen ons in gevaar.
En die ontstellende is dat ons eie kontekse ons perspektiewe daarop so indringend bepaal.

  • Vir die NGK was dit ‘n skok, só onverwags.  Die VGK het weer teruggekrabbel na hulle hantering van die belydenis van Belhar as ‘n uitsluitende voorwaarde vir gesprekvoering en nié ‘n insluitende voorneme om dit deel van die belydenisgrondslag van die herenigde kerk te maak.  En die beskuldiging van apartheid en rassisme word weer voor ons deur gegooi.  Ons voel seergemaak en verraai.
  • Maar ek kan dink dat die VGK se terugkrabbelry ook kom uit ‘n ervaring van pyn, spesifiek onverwerkte pyn uit die verlede: die pyn van menswaardigheid wat aangetas is, die pyn van gedwonge verskuiwings, die pyn van verbrokkelde gesinne en afwesige pa’s, die pyn van die verlies van geliefdes op ‘n verskeidenheid van maniere, wat natuurlik aan albei kante van die spektrum van ons verlede plaasgevind het.

En dít maak dit so moeilik om in dieselfde gespreksruimte te bly:

  • as die NGK se mense sê, ons gaan nie almal die belydenis van Belhar aanvaar nie, dan hoor die VGK dit in hulle pyn … dat ons húlle nie aanvaar nie, en nié erken dat hulle pyn gely het in die verlede nie. 
  • En ons hoor weer in hulle voorwaardes, dat hulle ons nie aanvaar nie, ten spyte van ons verskeie belydenisse van die verlede en die nuwe oortuiging waarmee ons die pad van hereniging stap.

En die probleem is, ons gesukkel om mekaar te vind, laat die kerk in die breë skade ly, en ten diepste, laat die boodskap van Christus skade ly.

Die tyd het miskien gekom dat ons nog dieper die pyn van die verlede in die oë staar en iets daaraan probeer doen. 

Ons identiteit sal nooit nét in ons eie geledere uitgeklaar kan word nie.  Ons is verbind aan mekaar met drie eeue se saam-Christen-wees.  Vir die eerste 200 jaar was hier net een kerk, was ons saam, en kan ons nooit heel wees sonder dat ons by mekaar op een of ander manier is nie.

Miskien gee die teks vir ons ‘n weg vorentoe, want dit is interessant dat die gesprek tussen Jesus en Simon Petrus na beide kante toe ‘n bevestigende gesprek is.  Simon Petrus bevestig Jesus se identiteit, U is die Christus, en so ook Jesus die identiteit van Simon Petrus, jy is die seun van Jona, en ek gee ook vir jou nou ‘n nuwe identiteit, dié van ‘n rots, Petrus.

Die gemeente en die proses van kerkhereniging behoort juis ‘n veilige plek te wees waar ons mekaar bevestig en nie verder beskaam nie! En hoe nodig het ons nie dat die Here vir ons ‘n pad vorentoe wys, op ‘n wedersydse bevestigende manier. 

Ten minste is ek oortuig dat die Here sê dat ons mekaar nie mag los nie!

  • Selfs wanneer jy hoog opgee oor ‘n spesifieke greep op die waarheid, soos wat belydenisskrifte per se is, ‘n greep op die waarheid, jy die ander een nie mag los nie! Dit het ek geleer by Brenda Salter McNeil se A Credible Witness – Reflections on power, evangelism and race. (2008, Downers Grove: IVP). Sy maak die volgende stellings oor eenheid:
  • “To choose Christ is also to choose his community.” (2008:16)
  • “Our unity in the midst of our diversity is one of the most powerful ways we reveal the reality of what Jesus accomplished on the cross.” (2008:16)
    • Ek het ‘n artikel daaroor geskryf in die vorige Kruisgewys vir mense wat meer daaroor wil lees: http://www.gemeentes.co.za/Pdf/McNeil.pdf  .  Of kom haal een in my kantoor.

Dit is wonderlik om te sien hoe die kerk in die vlaag xenofobie wat onlangs deur die land gespoel het, bakens van hoop was, wat mense in hulle nood ingesluit het en hulle oor randfigure ontferm het.

Dít is wie ons as kerk is, ‘n insluitende gemeenskap!  En ons moet dit nie vergeet nie en gebruik in die antwoord op die vraag, wie is ons?

Ek sluit af.

  • “Wie is Ek?” vra Jesus.  U is die Christus, die seun van die lewende God.
  • “Wie is ons?” as Christene.  Ons almal, saam, is kinders van die lewende God, en ons het die heilige opdrag om te sorg dat ons dit saam kan vier.

Amen.

GEBED

DANKOFFERS

SLOTSANG

  • Lied 478 “Op vaste fondamente” staan

SEËN

AMEN

  • Lied 314 “Amen” staan

AANKONDIGINGS