Skip to main content

Markus 5:21-43 – Bly maar net glo!

Verwelkoming

PowerPoint agtergrond:

Edvard Munch: The Sick Child 1907

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Vonkk 72:1 Wees stil, want die Heilige is hier (sit)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 508:1-2 Vaste Rots op wie ek bou, een op wie ek kan vertrou (staan)

Lied 513:1-3 Soek in God jou sterkte; kry by Hom jou krag (staan)

Verootmoediging

Geloofsbelydenis

Lied 514:1 Ek weet verseker: Jesus is Heer (sit)

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing

Die evangelie van Markus  is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n nefie van Barnabas, en metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13].  Sy ma was Maria, die vrou in wie se huis die kerk van Jerusalem baie keer vergader het.

Markus vertel die verhaal van Jesus van Sy doop tot Sy opstanding.  Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

In 2de hoofdeel van die boek, Markus 3:7-8:21, fokus Markus op die impak van Jesus se bediening op drie belangrike groepe:

  • die skares wat verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê;
  • die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is;
  • die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.

En Markus skryf veral oor Jesus se gesprekke en genesings – soos in die twee verhale wat ons gaan lees: dié van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en dié van Jaïrus se dogtertjie wat uit die dood opgewek is.

Die twee verhale leen hulle uitstekend om te praat oor hoe geloof prakties werk.  Die tekste fokus op die rol van geloof in die genesing – beide die magiese geloof van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die weifelende geloof van Jaïrus.  Die sleutel tot genesing lê egter op ’n ander plek, in die verhouding met en afhanklikheid van Jesus self.  Wanneer geloof op Hom gerig is, kom God se krag in werking. 

Só nooi die twee verhale ons uit om te bly glo in die Een wat ons lewe in sy hande hou.  Of ons lewe, genees word, uit ‘n ernstige siekbed opstaan en huis toe terugkeer, of nie.  God is ons troos.  In lewe en in sterwe.

Markus 5:21-43

21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ’n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. ’n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.

Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

Woordverkondiging

Joni Eareckson Tada

Die verhaal van Joni Eareckson Tada (Joni.  The unforgettable story of a young woman’s struggle against quadriplegia & depression, wat ook die basis vir ’n rolprent oor haar lewe gevorm het) is vir baie van u bekend. Sy het op 18 in ’n duik-ongeluk ’n kwadrupleeg geword (1967), en uiteindelik na 2 jaar se ontwrigtende worsteling, haar gebrek te bowe gekom en ’n loopbaan van skilder en skryf gevolg, met baie groot sukses.  Sy is ’n gewilde spreker wat haar geloof in Jesus op innemende manier verwoord en baie mense aangeraak het met haar boodskap van hoop.

Sy is onlangs deur ‘n volgende fase van toetsing, met borskanker, waarna sy die boek – A Place of Healing: Wrestling with the mysteries of suffering, pain and God’s Sovereignty – geskryf het .  Sy vertel in dié nuwe boek van ’n jongman David wat haar een oggend na ’n diens bygedam het, vir haar gebid het, en toe verras was dat sy nie genees is nie.  In die gesprek wat daarna gevolg het, het hy haar beskuldig dat sy sonde in haar lewe moes hê, anders sou sy gesond geword het.  Joni het op haar kenmerkende innemende manier geantwoord, nee, dit is nie die geval nie. 

Hy het egter volhard en toe vir haar van ongeloof beskuldig.  Sy het geantwoord: dit kan wees, maar dan het dit met jou geloof te make en uit Lukas 5 aangehaal waar Jesus die verlamde man genees toe hy die geloof van sy vriende sien (vers 20)!

Inderdaad!  Soos sy self sê: “The focus is always on Jesus Christ and His will for those who suffer.  To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.”

Ons sien dit geïllustreer in die twee ineengestrengelde genesingswonders van Markus.

Jaïrus se nood

Die verhaal begin met die raadslid van die sinagoge in Kapernaum wat by Jesus om hulp aanklop omdat sy dogter sterwend is.  Die man is in die nood:  “My dogtertjie lê op haar uiterste” (vers 23). Elkeen wat al ’n siek kind gehad het, sal weet wat hierdie situasie aan ’n ouer kan doen. Die siekte is akuut en vereis Jesus se onmiddellike aandag.

Maar ons lees nie net van Jaïrus se nood nie, ook van sy geloof: “Kom lê tog u hande op haar sodat sy kan gesond word en lewe”. Daarom is ons bly om te lees dat Jesus sy versoek toestaan en saam met hom gaan na sy 12-jarige dogtertjie.

Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het

Maar, hierdie kind is nie die enigste sieke nie. “Daar was ook ’n vrou” (ver 25) wat al 12 jaar lank siek is, sê Markus vir ons. Alhoewel haar siekte ook besonder erg is, is haar toestand chronies van aard en nie lewensbedreigend nie.

Sy het verskillende dokters besoek, in die hoop dat iemand haar kan help. In die proses het sy alles wat sy besit het, daaraan bestee. Maar haar toestand het net vererger.

Die realiteit van haar lewe was dus baie hartseer: Sy was nie net siek nie, maar sy was arm ook weens die onkostes. Sy was ook sosiaal waarskynlik uitgestoot as gevolg van haar bloedvloeiing, wat haar in die oë van die samelewing permanent onrein gemaak het (Lev 12).

Hierdie arm verworpe mens vestig haar laaste hoop op Jesus. Sy glo dat as sy net aan sy klere kan raak, sal sy genees word.

Dit doen Jesus dan ook. Hy ontferm Hom oor haar. Hy gee haar kans om Hom haar hele storie te vertel.  Dit moes vir die vrou ’n wonderlike en bevrydende oomblik gewees het.  Al die jare se lyding kon sy voor Jesus uitstort. Jesus doen hier niks minder nie as om haar lewe vir haar terug te gee. In dié gesprek spreek Jesus hierdie merkwaardige woorde: “Jou geloof het jou gered.”

Jaïrus se geloof

Die feit dat Jesus eers aan haar tyd afstaan, het egter tot gevolg dat die siek dogtertjie intussen sterf. Omdat ons die einde van die verhaal ken, is dit vir ons nie so ’n groot probleem nie. Ek kan my voorstel dat die pa van die kind dalk anders daaroor gevoel het!

Wat vir die vrou ’n wonderlike ervaring moes wees, was vir Jaïrus dus waarskynlik louter hel. En terwyl hy seker ongeduldig, maar beleefd, wag dat Jesus klaar luister na die arme vrou se hele lewensgeskiedenis, sterf sy kind.

Hy wat Jaïrus is, het ook in Jesus geglo. Selfs al was hy ’n raadslid van die sinagoge, wend hy hom tot Jesus in weerwil van die groeiende Joodse teenstand teen Jesus. En hy verklaar sy geloof in Jesus duidelik: “Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” (vers 23).  Hy glo dus dat Jesus die mag het om haar gesond te maak en haar lewe ook volledig vir haar terug te gee, soos wat Jesus vir die vrou gedoen het.

Maar nou het Jesus so lank gedraai dat dit te laat geword het. Sy kind is dood. Sy huismense, wat die boodskap bring, sê vir hom dat hy Jesus nie langer moet lastig val nie. Hulle glo duidelik nie dat Jesus nou meer iets kan doen nie.

Wat het in Jaïrus se hart aangegaan? Ons weet nie. Die Bybel sê niks daaroor nie. Wat ons wel sien, is dat ook in Jaïrus se geval daar nie sprake van onwrikbare wonderwerkende geloof by hom is nie. Nee, die krag in hierdie situasie kom ook van Jesus af. Dit is Jesus wat hom troos en bemoedig met die woorde: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo” (vers 36).

Wanneer Hy by die huis kom, saam met die binnekring dissipels en die ouers, en dit nogal met die boodskap dat die kindjie net slaap, lag die mense Hom egter uit.

Ons moenie te negatief oordeel oor hierdie gelag nie. Want, dit is ten diepste die reaksie van verdriet, van verlore hoop. Hierdie mense weet wat die dood is. Hulle weet wanneer iemand dood is. En in ’n pynlike situasie waar ’n kind nou net dood is, het hulle nie tyd vir speletjies nie.

Wat ons agterkom, is dat hulle die dood ken, maar nie vir Jesus nie. Later sal hulle egter ook weet: By Hom is daar lewe en hoop – in lewe en dood! Want, Jesus wek die dogtertjie uit die dood op met die bekende woorde: “Talita, koem!”

By al die veronderstelde trane van vreugde en blydskap, sê die Bybel ook dat die mense stom was van verbasing. Daar was nou geen plek meer vir ’n siniese lag nie. Net maar plek vir stille dankbaarheid en respek vir Jesus.

Die rol van geloof

Geloof – die geloof van die persoon wat genees word – speel dikwels ’n groot rol in wondergenesings. Dit sien ons in die twee verhale in Markus

Nog meer – die geloof van dié wat bid, speel dikwels ’n groot rol in genesings.  Dit sien ons in Lukas 5 met die verlamde man en sy vriende.  Dit sien ons by Jakobus 5:15: “As hulle (die ouderlinge) gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring.”

Maar, en dit is belangrik, daar is geen bloudruk in die NT van ’n “perfekte geloof” wat die minimum standaard sou haal sodat Jesus dan daarop reageer deur ’n wonderwerk te doen nie!  Nie in die geloof van dié wat siek is nie.  Ook nie in die geloof van dié wat bid nie.

As ’n mens bv die vrou se geloof moet beoordeel, sal ’n mens moet sê, dat sy ’n ietwat twyfelagtige geloof het, naamlik dat daar magiese krag uit Jesus se klere na haar sal oorvloei. Sekerlik nie ons idee van hoe geloof werk nie!   Die vrou se geloof wentel om die aanraking van Jesus, iets wat vreemd is … maar, sy word steeds deur Hom genees.

Daar is dus geen sprake van ’n perfekte geloof by die ontvangers van God se genade nie. Net maar ’n fokus op Jesus, dat Hy Hom op een of ander manier oor hulle sal ontferm. En Jesus ontferm Hom oor hierdie vrou en genees haar.

Ons sien dieselfde in Jaïrus se geval.  Jesus sien raak dat Jaïrus nie seker is of dié geloof regtig genoeg is nie, veral toe hy hoor dat sy dogtertjie weens die vertraging dood is (vers 36).  En Jesus kom Jaïrus tegemoet deur hom te versterk: “Bly maar net glo!” op pad na eintlik ’n groter wonder, dat sy dogtertjie uit die dood opgewek word. 

Geloof is onontbeerlik

Jy kan met reg vra: Wat is dan die eintlike oorsaak van die genesing? Is dit die vrou en Jaïrus se geloof, of Jesus se krag (ten spyte van die gebreke in hulle geloof)?

Van Ruler sê hiervan dat ’n mens die twee kante van die saak nie so teen mekaar durf afspeel nie. Dit is duidelik dat albei hier ’n rol speel: sowel die vrou se misplaaste, maar opregte geloof, as die feit dat Jesus om Godswil haar wil aanraak; sowel Jaïrus se geloof onder baie druk, en Jesus se versterkende woorde.

En natuurlik is dit God se krag wat hier deur Jesus werk, wat uiteindelik die deurslag gee, en wat die sleutel is om God se werk te verstaan. Die fokus is altyd op Jesus en Sy wil vir dié wat ly.  “To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.”  (Joni)

Maar die verhaal leer ons verder dat ons deur God se krag in Jesus Christus aangeraak word juis wanneer ons ons deur die geloof in afhanklikheid voor God stel. Wanneer ons, by wyse van spreke, moeite doen om aan die soom van Jesus se kleed te raak, en te bly glo.

Aan diegene wat só in geloof en afhanklikheid na Jesus toe kom, sê Hy: “Jou geloof het jou gered,” “Talita, koem!” Diegene wat nie na Jesus toe kom nie, hoor nooit dat Jesus dit sê nie.

Daar bly ook onbeantwoorde vrae

Die verhaal leer ons ook dat daar onbeantwoorde vrae bly.  Daar is bv geen antwoord op die vraag waarom Jesus eers Jaïrus se dogtertjie laat sterf het terwyl Hy tyd bestee het aan die siek vrou nie. So is daar baie vrae wat ons kan vra – veral rondom swaarkry en lyding – waarop daar geen goeie antwoorde is nie.

As ons self die draaiboek vir hierdie verhaal geskryf het, sou ons waarskynlik dat Jesus eers gou die akute probleem van die siek kind hanteer het. Daarna kon Hy rustig aandag gegee het aan die chroniese probleem van die vrou, wie se lewe nie in gevaar was nie.

Maar ons skryf nie die draaiboek nie. Nie van hierdie verhaal nie en ook nie van ons eie lewensverhaal nie – alhoewel ons medewerkers daaraan is.

Die draaiboek van ons eie lewensverhaal maak dikwels ook onverstaanbare draaie sodat ons maar net saam met Jaïrus kan wonder waarom God dan nie aandag gee aan ons dringende smeekbedes nie. Of saam met die vrou wonder waarom sy twaalf jaar lank gebuk moes gaan onder erger wordende lyding. Jesus verduidelik nie sy optrede aan Jaïrus nie. Hy gee nie ’n antwoord aan die vrou nie.  Hy verduidelik dit ook nie aan ons nie.

Bly maar net glo!

Maar Jesus bemoedig die vrou: “Jou geloof het jou gered.”

Jesus bemoedig Jaïrus met die woorde: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

Só bemoedig Jesus ook vir ons: “Bly maar net glo!”

Vir ons is dit goed om te weet dat die Een wat so sê, die Koning is; Ons Koning.

En ons leer hier dat geloof en geduld baie naby mekaar lê. Markus roep ons met hierdie twee verhale op om te “volhard in die geloof”. Om te doen wat Jesus in hierdie verhaal sê: “Bly maar net glo.”

Ja, ons word genooi om te bly glo in die Een wat ons lewe in Sy hande hou.  Of ons lewe, of nie, genees word of nie, uit ‘n ernstige siekbed, of nie.  God is ons troos … in lewe en in sterwe.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 494:1-3 Gelukkig is die mens wat op die Here bou (staan)

Seën

Amen

Respons

Refrein Lied 494

2 Korintiërs 6:1-13 – Ambassadeurs van die versoening

Verwelkoming

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Lied 169:1 Heilig, heilig, heilig, Heer, God almagtig (sit)

Votum

“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Seëngroet

Lofsang

Lied 107:1,2,12 Die mense wat behou is, moet sê: “Ons is bevry!”(Tweede melodie) (staan)

Lied 190:1-3 Grote God aan U die eer (staan)

Verootmoediging

Geloofsbelydenis

Lied 499:1 Die Heer is God, en niemand meer, sy almag ken gee perke (sit)

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing

Paulus sit in ’n soort “catch 22”-situasie in sy verhouding met die gemeente in Korinte.  Sommige mense skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Hy antwoord daarop deur te wys dat dit die liefde van Christus is wat hom dring.  Hy probeer nie geld maak uit die evangelie, soos baie van sy teenstanders gedoen het nie (2:17).

2 Korintiërs 6:1-13

6 As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:

“Op die regte tyd

het Ek jou gebede verhoor,

en op die dag van redding

het Ek jou gehelp.” d

Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.

8Ons ontvang eer en oneer,

ons word beledig en geprys.

Ons word behandel as verleiers,

en tog is ons betroubaar;

9as onbekendes,

en tog is ons goed bekend;

as sterwendes

en, soos julle sien, ons lewe;

as gestraf,

maar ons is nie doodgemaak nie;

10as bedroefdes,

en tog is ons altyd opgeruimd;

as armes,

maar ons maak baie ander ryk;

as mense wat niks het nie,

en tog besit ons alles.

11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

Woordverkondiging

Passie vir die evangelie

God se genade ontsluit in ons ’n passie om dit met ander te deel.  Hy bring ons in ‘n lewende verhouding met Hom as Vader, Seun en Heilige Gees.  Hierdie verhouding verander ons lewe.  Ons is nie net kinders van die lewende God nie, maar ons hele identiteit word vanuit hierdie nuwe familie gestempel.

Daarom lewe ons nie meer vir onsself nie, kan ons nie meer vir onsself lewe nie, maar vir God.

Dit sluit in dat ons God se genade deel met die mense rondom ons.  Ons word geroep om dit met passie te doen.

Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie.

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar. 

Oswald Sanders

Dit laat my dink aan die verhaal van Oswald Sanders.  Voor sy vyftigste verjaardag het Oswald Sanders alreeds so erg aan artritis gely dat hy skaars uit die bed kon kom.  Hy moes eintlik op vroeë pensioen gaan. 

  • Hy het nie.  Inteendeel, ten spyte van sy lyding het die mees produktiewe jare van sy lewe eers toe begin.
  • Op vyftig het Sanders ‘n suksesvolle loopbaan as prokureur in Nieu Zeeland laat vaar om die China Inland Mission (deesdae die Overseas Missionary Fellowship) te lei. 
  • Na verskeie geseënde jare aan die spits van dié organisasie het hy afgetree. 
  • Net om toe die uitvoerende direkteur van ‘n Christelike kollege te word.  Toe het hy weer afgetree.
  • Sy laaste twintig lewensjare het hy as spreker opgetree, reg rondom die wêreld, gemiddeld meer as 300 lesings per jaar.  Respek en waardering vir hom het gegroei, hoewel hy nooit die kalklig gesoek het nie. 
  • Oswald Sanders was ten tye van sy dood byna negentig en besig om aan ‘n boek te werk.

Paulus se lewe

Paulus was net so ‘n passievolle mens.  Hy het met passie die kerk vervolg.  Maar Jesus stuit hom in sy spore op pad Damaskus toe.  Só word die koers van sy lewe verander.  Nou leef hy vir God, met dieselfde passie, maar nou om die roeping om God se genade met die mense rondom hom te deel. 

Soos Oswald Sanders het Paulus verstaan dat ons in ‘n groot wêreld lewe.  Die mense rondom ons is nie net die bure of die mense wat in die kantoor langsaan werk nie.  Die bure is ook ons woonbuurt, ons stad of dorp, ons provinsie, ons land, ons kontinent, ons hele wêreld. 

Dit tref my dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe, dws: al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10).  Dit is die paradoks van die Christelike bediening – die “dood” van die bedienaar is die “lewe” van die wat bedien word.  Hy stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees (vers 8), want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.

Ons is geroep om op só ‘n manier passievol te lewe dat die evangelie ons hele wêreld bereik.

Waaroor dit gaan

Waaroor gaan die Christelike lewe nou eintlik?  Wat dryf ons?  Wat skep die passie in ons om vir God te leef en werk?  Wat vuur ons aan?

Dit is belangrik om uitsluitsel hieroor te kry.  Paulus waarsku ons dat die risiko lewensgroot is dat ’n mens die genade van God tevergeefs mag ontvang (1).  Tevergeefs verwys hier na die gevaar dat die genade nie ‘n aktiewe, lewensveranderende krag in jou lewe word nie.  Die genade wil jou juis aanvuur. 

Hoe kan ons seker maak dat ons die genade nie tevergeefs ontvang nie?

Paulus skryf in ons teks oor drie perspektiewe wat die passie in ons hart nie net kan aansteek nie, maar sorg dat ons die genade van God nie tevergeefs ontvang nie:

Een:  Nóú is die tyd!

‘n Aanhaling uit Jesaja 49 oor die kairos-moment, die regte tyd, moedig ons aan om dag vir dag die evangelie passievol te beliggaam:

Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor,

Op die dag van redding het Ek jou gehelp.

Paulus maak die “regte tyd” meer intens: dit is “nou” die regte tyd.

Mens leef elke dag soos iemand wat voor ‘n vurk in die pad te staan kom.  Dan moet jy kies om die regte dinge te doen.  Jou lewensreis plaas jou voor keuses.  Jy moet die regte koers kies.  En jy moet dit nóú doen, jy moet dit dáágliks doen.

Geleenthede raak verspeel as mens nie dag vir dag die regte pad kies nie.

Hierdie keuses verg van jou om met onderskeiding te lewe.  Jy moet die regte voorbereidings tref sodat jy voorbereid is om geleenthede te benut.

Twee: Voorbeeld van ander gelowiges

Daarvoor het ons die voorbeeld van talle gelowiges uit die verlede en die hede om ons aan te spoor.  In wie se lewens ons kan sien hoe dit werk.

In ‘n lang gedeelte (verse 3 tot 10) verduidelik Paulus hoe sy lewe in diens van die evangelie verloop het, hoe dit hom gevorm het, en watter waardes dit by hom gevorm het.

Sy beliggaming van sy roeping beteken dat:

  • Sy identiteit as dienaar van God die allesoorheersende motief in sy lewe geword het (4);
  • Hy geleer het om geduldig (4), onberispelik, met begrip verdraagsaamheid en vriendelikheid op te tree (6);
  • Hy ontdek het sy roeping kan net in die liefde van God, in gemeenskap met die Heilige Gees, deur woorde van waarheid, en deur die krag van God gedoen word (6-7);
  • Die wapen vir aanval en verdediging nie die selfregverdiging van die ou mens is nie, maar die doen van die wil van God (7).

Paulus is ‘n goeie voorbeeld van hoe die roeping van God ‘n mens se lewe oorneem. 

Só het ons vele mense in dié gemeente gehad wat vir ons ’n voorbeeld tot sulke diens was en is:

  • jongmense wat by sending betrokke geraak het en steeds is: Jean en Louise Greyling, Hugo en Jakkie Wolmarans, Hannes Hattingh, Lieb en Elspeth Liebenberg, Evelyn Lotz, Gerrit en Sonja Brink, Corneille du Plooy, Lourens Oberholzer – te veel om op te noem. 
  • En mense wat by dienswerk hier rondom om ons betrokke geraak het en steeds betrokke is – ek wil nie nou name noem nie, net nou laat ek ’n 100 of so uit – maar dit is van die bosslapers af, Vistarus, kinders kosgee, Maranatha, bejaardes, gestremdes, weeskinders, die herstel van allerlei, selfs met regsake in die platteland, kleingroepe, en die breër gemeenskap.
  • Danie Mouton is lief om te sê, hy tref gemeentelede van Somerstrand regdeur die Oos-Kaap aan.

Ons het die voorbeeld van ander nodig wat ons help verstaan hoe om ons eie roeping te beliggaam.  En in dié gemeente is daar talle en talle sulke voorbeelde.

Interessant: Mens se roeping gaan ook deur fases.  Oswald Sanders het ‘n suksesvolle regspraktyk gehad.  Dit het die platform geword vir die tweede fase van sy roeping: sending na China.  Wat hom weer gevorm het vir die derde fase: opleiding en toerusting.  Wat tot die laaste groot fase in sy lewe gelei het: internasionale spreker en mentor.

Ek sien dieselfde in ons gemeentelede se voorbeelde –mense wat deur fases gaan, en ons wat daarby betrokke bly.  Elspeth saam met Lieb in Rusland, nou sonder Lieb die hoof van Campus Crusade for Christ in SA; Evelyn Lotz in Egipte, Israel, en nou hier in die Metropool besig om te werk met kinders.  Hugo in Egipte en nou ’n direkteur van Arab World Ministries; Gerrit en Sonja in Noord-Irak, toe Turkye en vandag in Nederland besig met die uitreik na Moslems.

En dit bly die lewensbloed van hierdie gemeente – om wyd en naby betrokke te wees, en om saam met mekaar te groei as ambassadeurs van die versoening.

Drie:  Oop harte

Paulus sluit sy gesprek in ons teksgedeelte af deur die Korintiërs tot “oop harte” aan te spoor.  Sy hart was en is te alle tye oop vir die Korintiërs.  Ja, oop vir alle mense wat die Here nie ken nie, en/of ‘n behoefte het aan die genade van die Here.

Dít is hoe jou lewe ook vlamvat soos die voorbeelde van gemeentelede wat ek so pas genoem het.

“Oop harte” veronderstel die vermoë om te reageer op ander mense – op wie hulle is en wat hulle benodig.  “Oop harte” neem ander ernstig, en doen moeite om ‘n medemens vir ander te wees.  “Oop harte” sien mense met ander oë, sien die potensiaal in hulle raak, weier om net deur die bril van menslike swakhede en mislukkings te kyk. 

Só ontvang ook jy die roeping wat God vir jou het.

Soos Christus dit met ons gedoen het, die potensiaal in ons raakgesien het, ten spyte van ons sonde en swakhede, só kyk ons na ander mense, en raak ons betrokke!

‘n Navolger van Jesus moet leer om ‘n oop hart te hê.  Dit verg ‘n oog wat oplettend kyk na ander en hulle omstandighede.  Sagte oë wat met God se hart oplettend kyk.  Dit verg oop ore wat fyn luister na wat ander sê.  Dit verg empatie wat jouself onder die vel van ander – in hulle lewens­omstandighede – kan indink.  Dit verg voete wat loop na ander en deel word van hulle omstandighede.  Dit verg dienende hande wat graag ander ophelp.

Mag ons sensitief wees vir God se roeping. En mag ons dit met passie doen.  Nou is die tyd!

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffers

Radio Feba

Frik Veldsman – predikant, later SAUK met godsdiensprogramme, nou by Radio Feba

Slotlied

Lied 440:1-3 Die Here salf ons met sy Gees, tot diens en heiligheid (staan)

Seën

24Die Here sal julle seën en julle beskerm; 25die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; 26die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! Amen


d Vgl. Jes. 49:8

2 Korintiërs 5:6-17 – Geseën om tot ’n seën te wees

VOLLE LITURGIE

Koor: Twee dele uit Stabat Mater (Pergolesi)

Verwelkoming en aankondigings

Welkom aan DIE OOS-KAAPSE KINDERKOOR olv Lionel van Zyl, met koorvoorsitter, Henriëtte Visser, en Albert Troskie as amptelike begeleier.  Die koor vertrek DV in September na Europa op ’n konserttoer.

Hulle vra asb. dat ons applous terug hou tot aan die einde na die dankoffers.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede       Koor:  Our Father who art in Heaven  (Fanshaw)

Votum en Seëngroet

Lofliedere

Koor:  Psalm 150  (Kodaly)

Gemeente: Lied 159 v. 1 en 3                        (Staan)

Gemeente:  Lied 205 v. 1 en 3                       (Staan)

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing

2 Korintiërs 5:6-17

6Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, 7want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie. 8Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon. 9Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. 10Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Die bediening van die versoening

11Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is. 12Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle ’n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie. 13As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle.

14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15En Hy het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Woordverkondiging

In die 2007-film, The Bucket List, onderneem twee terminaal-siek mans ‘n reis om die dinge te doen wat hulle nog altyd wou doen.  Dis nou voor hulle die spreekwoordelike emmer skop.  Die rolle word gespeel deur Jack Nicholson en Morgan Freeman.

Voor die film vrygestel is, het Parade-tydskrif ‘n onderhoud met Jack Nicholson gevoer.  Oor sy persoonlike lewe sê hy: “Ek het altyd so vry gelewe.  Die mantra vir my generasie was; ‘Wees jouself, wees jou eie man!‘  Ek het altyd gesê mense kan hulle eie reëls hê, wat hulle ook al wil.  Ek sal ook my reëls hê.  Ek sal verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.  Ek sal vir my keuses betaal en die skuld daarvoor dra.  Ek het my eie kop gevolg.  Dit was my lewensfilosofie tot diep in my vyftigs.  Maar soos ek ouer geword het, moes ek aanpassings maak.”

Die feite van die lewe het uiteindelik die aandag getrek van selfs ‘n geharde vrydenker soos Nicholson.  Later in die onderhoud sê hy: “Ons wil almal graag vir altyd lewe, nie waar nie?  Ons vrees die onbekende.  Almal bevind hulle egter op een of ander stadium teen ‘n muur vasgedruk.  Ons weet nie wat aan die anderkant van daardie muur is nie.  Dit is waarom ons die dood vrees.”

Einde van die pad

Baie mense se brawe en selfversekerde lewenstyl is maar net voorgee.  Baie vrydenkers en diegene wat self besluit hoe wil hulle wil lewe, is soos die dapper muis.  Hulle is vir niks bang nie.  Regtig?  Dalk is hulle nie in kontak met die diepste feite van die lewe nie.  Aan alles kom daar ‘n einde.  Mens kan kies soos jy wil, op ‘n dag kom jy teen die groot muur te staan waarvan jy nie weet wat aan die anderkant daarvan is nie.  Dan is jou opsies uitgeput.  Die lewe is verby.  Jy mag die meester van jou eie lot gewees het.  Maar ook dit is nou verby.  Punt.

Moed om te lewe

Ons leef onder die swaard van verganklikheid.  Tyd kalwe selfs ons beste en ons hoogtepunte weg.  Wat gee mens die moed om tog reg te lewe?  Om nederig te dien, in die geheim op te offer, die beste vir ander te soek in plaas van om alles vir jouself in so ‘n kort tyd moontlik in te palm?

Jack Nicholson se sug na ‘n vol lewe, baie ervarings, en die vryheid om te doen wat jou hart begeer, het ‘n plek in die lewe.  Blootstelling, vreugde en ervaring, ‘n eie “bucket list” is nie noodwendig sleg nie.  Maar dit is nie ‘n goeie of allesomvattende bron van moed om die lewe aan te pak nie.  Op ‘n dag besef jy jy speel ook die rol van die dapper muis.  Jy is net tot op ‘n punt in beheer van jou lewe.

Egte moed kom van buite af.  Vir Paulus kom dit van God af.  God is immer in hierdie lewe aan die werk.  God is in my lewe aan die werk.  God is besig om my innerlik te vernuwe.  God is besig om my te lei na die vaste gebou, die onomstootlike heerlike bestemming wat God vir my weggelê het.  Dit is die egte bron van moed vir die lewe.  Dit spoor Paulus aan.  Dit vuur sy lewe en sy bediening aan.  En só moet dit ook vir ons wees.

En Paulus spel vir ons hier 3 bronne van moed uit wat ons kan aandryf in die lewe, dinge waarvoor ons kan lewe.

Een: ‘n Vaste gebou by God

Die “vaste gebou by God” is ‘n belangrike sleutel om Paulus se lewe, diensbaarheid en selfprysgawe te verstaan, soos Kobus Prinsloo verlede week ook aangeraak het.  Paulus weet – wat ook al gebeur – God berei vir hom ‘n oorgang voor van die tydelike, sugtende, gebroke lewe na die heerlike, ewige bestemming in God se teenwoordigheid.

Hoe weet ons dit?  “As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.” God het reeds die deposito op die vaste gebou betaal.  Die waarborg is gegee.  Die Heilige Gees is binne in ons die getuie van die vaste gebou wat die sekerheid op grond van die Skrifte in ons lewens werk.

Mens kan verganklikheid vrees omdat dit jou lewe hier op losse skroewe plaas.  Verganklikheid kan jou laat gryp na die maksimum genot en die maksimum ongebondenheid (soos Jack Nicholson) in hierdie lewe.

Paulus sê: God self plaas ons lewe hier op losse skroewe.  Want God werk in ons en werk met ons na die punt waar ons tydelike tentwoning oordek sal word met die vaste, ewige gebou.  Dit is die gebou van ons nuwe mens-wees op God se nuwe aarde onder God se nuwe hemel.  God plaas hierdie lewe op losse skroewe. Dáárom kan ons roekeloos doen wat God vra.  Ons kan ons lewe gee in diens van ander.  Ons kan ons lewe in gevaar stel vir ander.  Ons kan slae ter wille van die evangelie, en ter wille van ander verduur.

Daar is talle voorbeelde van hierdie roekelose gehoorsaamheid aan God.  Mense kies om hul lewe te verloor eerder as om Christus te verloën.  Reddingswerkers  kruip in tonnels of beskadigde geboue in om ander te red.  Mense trotseer plae, peste, malaria, tuberkulose, noem maar op, om ander by te staan.

Ons uitsig op die vaste gebou maak ons vry.  Dit gee ons moed om te lewe.

Twee: Gedring deur die liefde van Christus

Die onbesorgdheid van ons uitsig op die vaste gebou moet verdiep word.  Dit word verdiep deur die liefde wat ons dring om hierdie lewe maksimaal te benut.

Mens kan sê: “Aangesien ek die lewe by God het, met al die waarborge, sal ek nou agteroor sit en my lewe rustig geniet.”  Mens kan dan die sonde vermy, en in ‘n paar opsigte voorbeeldig wees.

Dis nie Paulus se prentjie nie.  Sy lewe getuig van die teenoorgestelde.  Hy het by mense betrokke geraak.  Hy het uit sy pad gegaan om van die evangelie te getuig.  Sy onbesorgdheid oor wat mense aan hom kan doen, het hom vry gemaak om ander met die evangelie te dien.  Daarvoor is hy dikwels geslaan en verwerp.

Hy het gesnap dat ons geseën word om vir ander tot ‘n seën te wees.

Agter ons moed om te lewe sit die liefde van Christus wat ons dring:

Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.  En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. (5:14-15)

Hierdie liefde dring ons om ons vryheid tot diens van ander te gebruik.  Ons is geroep om niks aan mekaar verskuldig te wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.

Liefde is ‘n manifestasie van God se lewe en werk in ons lewens.  Die liefde van God word deur die Gees van God in ons lewens uitgestort. (Rom. 5:5)

Drie: Élke mens!

Om te leef vanuit die kennis van die vaste gebou in Christus, gedring deur die liefde van Christus, laat mens die hele lewe op ‘n nuwe manier sien.  Jy sien ook jou medemens deur ‘n nuwe bril: “Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie.” Ons beoordeel ander nie meer in terme van hulle swakhede en mislukkings nie, maar deur Christus se oë.  Selfs het Paulus Jesus vroeër met menslike waardes beoordeel, maar vandat hy Hom as Here ontmoet het, het hy ‘n nuwe besef van Jesus se identiteit ontvang.  Dit help hom ander nuut sien.

Pieter van Niekerk skryf aangrypend wat hierdie nuwe beoordeling beteken vir ons verhouding met jongmense.  Ons het immers pas Jeugdag gevier:

Ons kyk met Christus se oë na ander, en veral na ons jeug (kinders en jongmense). Ons steek nie vas by die destruktiewe dinge wat sommige jongmense aanvang nie, maar sien hulle potensiaal, die nuwe moontlikhede in hulle raak. As “herskeptes” in Christus waardeer ons die jeug.

En hoe doen ons dit? 

Ons heg waarde aan kinders en jongmense deur hulle te respekteer, eerlik met hulle te wees, en met waardigheid en integriteit te behandel. Ons groet hulle vriendelik en stel in hulle doen en late belang. Hulle is ten volle deel van die gemeenskap.

So ontstaan as ’t ware ’n kweekhuis van wedersydse respek, gebondenheid en kreatiwiteit. Indien ons kinders misken, ongeduldig en ongeskik teenoor hulle optree, hulle uitskel en uitsluit, bevorder ons ’n onbetrokke, onsensitiewe, destruktiewe en apatiese samelewing.

Maslow, die bekende sielkundige wat veral vir sy hiërargie van menslike behoeftes bekend is, skryf: “Dit kos nege waarderende opmerkings om op te maak vir elke afbrekende opmerking wat ons teenoor ons kinders maak.” Kinders word gesien en gehoor, soos jongmense wat deur die gemeenskap gerespekteer en geprys word.

God het mens geword sodat die mens Godwaardig is. Dit dwing ons om alle mense te waardeer, veral diegene wat so anders en soveel jonger as ons is. So maak ons Christus se hart baie bly.

“Die karakter van ʼn nasie word gemeet aan die manier hoe hy sy kinders behandel” (Nelson Mandela).

Die moed om te lewe word gebore uit die passie om vir ander te lewe.

Toepassing

Ons moet onsself voortdurend afvra:  Waarvoor en waartoe lewe ek?  ‘n Lewe waarin hierdie diep vrae nooit gevra word nie, is nie die moeite werd om te lewe nie.

Ons is geseën om tot ‘n seën te wees – dit wat hierdie skildery van Alida Bothma ook sê.

Finansiële sekuriteit, gesondheid, ‘n netjiese huis en betroubare motor is goeie doelwitte in die lewe.  Maar dit kan nooit die diepste en finale motiewe van ‘n mense se lewe wees nie.

Die reg om jouself te geniet, jou eie mens te wees, die vryheid om jouself te verwesenlik, dit is goeie motiewe.  Maar sodra dit die finale en diepste dryfvere van jou lewe word, is jy brandarm.  Dan is jy uitgelewer aan jouself en jou ou, sondige mens.

Mense wat aan Christus behoort, is nuwe mense:

  • Mense met ‘n vaste toekoms by God, wat vry is om te dien;
  • Mense wat vry is om soos Christus lief te hê en te dien,
  • Mense wat leef om tot ‘n seën vir ander te wees.

Gebed

God stuur ons om te leef

Dankoffers    

Koor:  Panis Angelicus (Caplet) en Maria Wiegenlied (Reger)

Applous en bedankings

Slotlied         

Gemeente:   Lied 266                                      (Staan)

Seën

Respons        

Koor:  Amen  (Gemeente bly staan)

2 Korintiërs 5:6-17 – Geseën om tot ’n seën te wees

In die 2007-film, The Bucket List, onderneem twee terminaal-siek mans ‘n reis om die dinge te doen wat hulle nog altyd wou doen.  Dis nou voor hulle die spreekwoordelike emmer skop.  Die rolle word gespeel deur Jack Nicholson en Morgan Freeman.

Voor die film vrygestel is, het Parade-tydskrif ‘n onderhoud met Jack Nicholson gevoer.  Oor sy persoonlike lewe sê hy: “Ek het altyd so vry gelewe.  Die mantra vir my generasie was; ‘Wees jouself, wees jou eie man!‘  Ek het altyd gesê mense kan hulle eie reëls hê, wat hulle ook al wil.  Ek sal ook my reëls hê.  Ek sal verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.  Ek sal vir my keuses betaal en die skuld daarvoor dra.  Ek het my eie kop gevolg.  Dit was my lewensfilosofie tot diep in my vyftigs.  Maar soos ek ouer geword het, moes ek aanpassings maak.”

Die feite van die lewe het uiteindelik die aandag getrek van selfs ‘n geharde vrydenker soos Nicholson.  Later in die onderhoud sê hy: “Ons wil almal graag vir altyd lewe, nie waar nie?  Ons vrees die onbekende.  Almal bevind hulle egter op een of ander stadium teen ‘n muur vasgedruk.  Ons weet nie wat aan die anderkant van daardie muur is nie.  Dit is waarom ons die dood vrees.”

Continue reading