Skip to main content

Die Krag van die Opstanding – Efesiërs 1:17-20

Inleiding

Die opstanding van Jesus verander alles. Die hele Christelike geloof is gebaseer op die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het. As ons dit nie glo nie, het ons geloof geen krag nie en verskil dit geensins van enige ander kultus of godsdienste wat beelde aanbid nie.

Wat is anders na die opstanding van Jesus? God het sy beloftes van die Ou Testament en die Verbond vervul toe Hy Jesus uit die dood opgewek het. Ons geloof is nou gebaseer op hoe God Homself in die opstanding van Christus openbaar het – Hy vervul sy beloftes dat Hy die Messias, die Verlosser sal stuur om versoening tussen God en mens te bewerkstellig. Hiermee is die vleesgeworde Christus se werk voltooi en vaar Hy kort daarna op na die hemel.

Wat is nou anders vir die mens? Hoe verander dit my lewe? Vir die gelowiges kom daar ‘n nuwe bedeling, veral ook na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Die Opstanding en Pinskter is eintlik ‘n twee-ledige moment in God se verlossingsplan wat nie losgemaak kan word van mekaar nie, want vanaf die uitstorting van die Gees werk God in elke gelowige met dieselfde krag waarmee Hy Jesus uit die dood opgewek het. Paulus se bekering en die totale lewensverandering wat in hom plaasvind op pad na Damaskus is ‘n lewende voorbeeld.

Continue reading

Immanuel, God is by ons.

God is wie Hy is, daarom is ek wie ek is

Skriflesing: Daniël 3:1; 8-30
AGTERGROND
Vandag is die eerste Sondag van Advent. Ons gaan tot einde Desember praat oor hoop. Wat gee vir ons hoop? Vandag kyk ons na die vraag: Waar begin hoop?

INLEIDING
Die engel sê vir Maria, noem die kindjie Immanuel, want God is met ons. Is God met ons?
Ongelowiges se maklike antwoord is nee, God is nie by ons nie.
Baie gelowiges se maklike antwoord is nee, God is nie by ons nie, want kyk al die ellende en geweld in die wêreld.

WAAR IS GOD?
Met Kersfees vra mense weer: Waar is God? Die sprokiesverhaal van die geboorte van Jesus wat ek as kind geglo het, het saam met die harde werklikheid van die lewe verdwyn.
Die rede waarom ons hierdie soort vraee vra, is omdat ons vir onsself ‘n lewe skep waarin ons vasgevang geraak, ‘n lewe van self-verheerliking en self-onderhouding sodat ons nie meer glo dat God by ons is nie. Ons baseer nie meer ons lewe op die paradys-lewe waarvoor God die mensdom geskep het nie; ons baseer ons lewe op die lewe buite die paradys [Genesis 3] asof dit die enigste werklikheid is.
Die geboorte van Jesus herinner ons aan die paradys-lewe waarvoor God ons geskep het, ‘n lewe waar daar volkome harmonie met God en ons medemens is, ‘n lewe waar ons nooit sou sterf nie [Genesis 3:22].

GOD IS IN DIE VUUROOND
In Daniël 3:25 sê Nebukadneser “Ons sien dan vier manne vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n hemelwese!”. God het nie agtergebly in die tuin van Eden, toe Adam en Eva daar moes uitgaan nie, Hy het saam met hulle gegaan.
God is saam met die drie manne in die vuuroond, so herkenbaar dat selfs Nebukadneser hom herken as ‘n hemelwese. Ons maak onsself dikwels wys dat God nie in die ‘vuuroonde’ van die lewe by ons is nie, want ons verwag Hom nie daar nie. Hier leer ons dat God juis in die vuuroonde van die lewe met ons is.
Meer nog, Nebukadneser roep die drie manne uit die vuuroond en daar kom hulle aangestap na hom toe.

DAAR IS GEEN ANDER GOD WAT SO RED NIE
Uit dit wat voor Nebukadneser se oë afspeel begin hy getuig oor die almag van die God van Gananja, Misael en Asarja en van hulle geloof.
God is wie Hy is, …
God openbaar Homself aan die ongelwige koning van Babilon op so ‘n oortuigende manier dat Nebukadneser nie anders kan as om in ‘geloofstaal’ oor God te praat nie.
Ons hoef nie mense te oortuig wie God is nie, Hy openbaar Homself. Ons kan net met die geloof van Gananja, Misael en Asarja in die geloof leef.
… daarom is ek wie ek is.
Hierdie drie manne het op God vertrou [v28], selfs al red Hy hulle nie uit die brandende vuuroond nie [v18]. Hoewel hulle in ‘n vreemde land was en deur Nebukadneser geïndoktrineer was, het hulle nie hulle identiteit vergeet nie, want hulle name het hulle herinner dat God met hulle is:
Hananja se naam beteken: God is genadig.
Misael se naam beteken: Wie is soos God?
Asarja se naam beteken: God bewaar jou.
Aangesien hulle onthou het dat God hulle geskep het vir die lewe binne-in die paradys, het hulle daaraan vasgehou, selfs toe hulle voor die deur van die vuuroond gestaan het. Die mens-gemaakte lewe wat Nebukadneser op hulle wou afdwing, was nie sterker as hulle verhouding met God nie – die lewe binne die paradys.

HEMEL OP AARDE
In Matteus 6:13 leer Jesus ons bid: “Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”. Met die geboorte van Jesus, maak God dit hemel op aarde. Dit word hemel op aarde waar God se Naam geheilig word, waar sy Koningskap bely word en waar sy wil eerbiedig word – of dit nou in die vuuroond is en of dit in die paradys is. Vir Hananja, Misael en Asarja was dit hemel op aarde binne-in die vuuroond.
Vir ons wat glo gaan dit nie oor waar ons is nie, maar of ons God toelaat en innooi om met ons te wees.
God wil juis op plekke wees waar niemand Hom verwag nie, want Hy kan die mees onwaarskynlike plek op aarde in hemel verander.

IMMANUEL, GOD IS BY ONS
As gelowiges met dieselfde oortuiging leef as hierdie drie manne, sal God homself aan die ongelowige wêreld openbaar, soos net Hy Homself kan openbaar. Dink net wat kan gebeur as elkeen wat die Naam van Jesus bely, vandag in SA sal sê: “Ons God vir wie ons dien het die mag om ons te red uit enige ‘vuuroond’ wat mag bestaan. Selfs al doen Hy dit nie, sal ons Hom nog steeds dien” [Daniël 3:17-18].
Hananja, Misael en Asarja het geglo, omdat hulle vantevore reeds ontdek het God is met hulle. Elkeen van ons het ook sulke ervaringe.
Dink net wat sal in ons land gebeur as gelowiges tydens hierdie Kersgety begin vertel dat God by hulle is, selfs ook in die ‘vuuroonde’ van die lewe.

WAAR IS JY?
Hou jy jouself meer besig met die vuuroonde in jou lewe, of is jy meer besig met God wat saam met jou in die vuuroond is? Daniël 3 leer ons dat die warmste vuuroond ‘n plek kan wees waar jy ongedeerd kan lewe [v25]. Die vuur sal jou niks doen nie, jou hare sal nie eers skroei nie, jou klere sal nie brand nie, jy sal nie eers na vuur ruik nie.
Dit gee ons hoop.
AMEN

GOD STAAN VOOR JOU: NUMERI 22:1-35

‘n VERHAAL VAN GOD SE SORG wanneer ons op gevaarlike plekke beweeg – simbool: donkie

INLEIDING
Hierdie verhaal het baie uiteenlopende karakters. Koning Balak van Moab en die Moabiete aanbid die god Baal-Peor. Bileam is ‘n waarsêer wat in die land Ammau, Mesopotamië gewoon het, iemand wat enige G[g]oddelike wese sal aanroep ter wille van professionele sukses. Israel is op pad uit Egipte na die land wat God aan hulle beloof het en het nou in die land Moab aangekom. Dan lees ons ook van twee uitsonderlike karakters in hierdie verhaal, naamlik, die Engel van die Here en van Bileam se donkie.
Elkeen van hierdie persone in die verhaal, Balak, Bileam en Israel het op ‘n onvergeetlike manier ontdek dat God voor hulle staan. As God dit persoonlik vir Bileam sê, verstaan ons almal ook beter wat dit beteken dat God voor ons staan. Hy sê vir Bileam “Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op ‘n gevaarlike pad” [Numeri 22:32].
Ons kan onsself in die posisie van enigeen van hierdie persone plaas, en ons sal vind hoe die Here met ons praat. Vir elkeen van hierdie persone was daar ‘n ander rede waarom God voor hulle kom staan het.

BALAK
Balak wil die Israeliete vervloek, omdat hy bang is dat hulle sy land sal inneem. Uit vrees laat roep hy vir Bileam, die bekende waarsêer. Hy probeer sy invloed gebruik om dit vir Bileam so aantreklik as moontlik te maak om na sy land Moab te kom en die Israeliete te vervloek.
God staan egter voor hom, sodat dit nie kan gebeur nie. Geen poging om Bileam te oorreed om Israel te vervloek, slaag nie. God staan nie net voor Balak om hom te keer om Israel te vervloek nie, maar ook om homself te beskerm, want Israel is deur God geseën, en daarom sal Balak ‘n vloek oor homself bring as hy vir Israel vervloek. Sonder dat hy dus bewus is van die gevaarlike pad waarop hy hom begewe, beskerm God vir Balak.

BILEAM
God staan voor Bileam op ‘n baie aangrypende manier. Hy beskerm hom ook van dieselfde gevaarlike pad deur hom te verhoed om Israel te vervloek. Daar is natuurlik ook ander redes waarom Bileam op ‘n gevaarlike pad is.
As waarsêer, is Bileam bereid om enige bo-natuurlike en G[g]oddelike mag te gebruik om suksesvol te wees in sy uitsprake. Sover ons weet, was hy bewus van JHWH, die God van Israel. Bileam het in Mesopotamië gewoon. Hy was wel deeglik bewus van die magtige dade van die God van Israel, daarom raadpleeg hy eers vir God voordat hy besluit om saam met Balak se boodskappers te gaan. Wanneer God dan aan Bileam verskyn met die duidelike opdrag om nie saam met die boodskappers van Balak te gaan nie, was hy gehoorsaam, omdat God vir hom gesê het, hy mag nie vir Israel vervloek nie, want God het hulle geseën.
So is God besig om voor Bileam te staan, om hom te beskerm van ’n gevaarlike pad.
Dan kom die tweede groep boodskappers van Balak af en Bileam raadpleeg weer die Here voor hy hulle die volgende dag antwoord. Hierdie keer sê die Here hy kan saamgaan, maar hy mag net sê wat Hy hom beveel, maar omdat die Here onrustig is oor Bileam, gaan staan die Engel van die Here [God self, in die gedaante van ‘n engel] voor Bileam om hom te waarsku dat hy op ‘n gevaarlike pad is [v32].
Bileam het teen die tyd die stem van die Here geken, maar nog nie die gedaante van die Here, in die vorm van ‘n engel met ‘n swaard in die hand, herken nie.
Dan gebeur die verrassende, die donkie sien die Engel raak en wend drie pogings aan om Bileam bewus te maak van die Engel voor hulle, maar steeds sien hy niks raak nie. Eers toe die donkie met hom begin praat, besef Bileam hier is iets buitengewoon aan die gebeur. Eers toe maak die Here Bileam se oe oop, sodat hy die Engel van die Here kan sien. Dan se die Here vir Bileam: “Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op ‘n gevaarlike pad” [Numeri 22:32]. Die donkie het dit gesien en drie keer uitgedraai, maar jy wou nie raaksien dat jy op ‘n gevaarlike pad is nie.
Na hierdie persoonlike ontmoeting met die Engel van God is Bileam in die bevoorregte posisie om nie net die stem van die Here te hoor nie, maar ook vir God in die gedaante van ‘n engel te sien. In hoofstukke 23 en 24 lees ons hoe Bileam vier keer openbarings van God uitspreek en Israel seën in plaas van om hulle te vervloek. Die waarsêer word toe ‘n profeet van God self.
Hierdie ondervinding sou Bileam se werk as waarsêer in die toekoms geheel en al verander.

ISRAEL
Hoewel ons niks lees van Israel nie, moes hulle bewus gewees het van die optrede van Bileam en dat die donkie met hom gepraat het. Israel sou ook weer op ‘n nuwe manier verstaan het hoe God voor hulle staan, selfs al is hulle totaal onbewus van alles wat God tussen Balak en Bileam laat plaasvind het. Hulle sou weer eens besef hoe God vir hulle sorg, selfs al is hulle nie bewus hoe gevaarlik die pad na die beloofde land is nie.

EK EN JY
Waar beweeg jy? Op watter paaie begewe jy jouself?
Wat gebeur in jou lewe wat maak dat dinge nie uitwerk nie? Gebeur ongewone dinge soos Bileam se donkie wat begin praat?
Wat is God besig om vir jou te sê?

GOD
Hy het ook die mees ongewone ding gedoen deur sy Seun aan die kruis te laat sterf, sodat ek en jy Sy stem kan hoor, veel meer as Bileam se donkie wat gepraat het.

Keer terug van die gevaarlike pad waarop jy is.

AMEN

Glo jy God is? Skriflesing: Genesis 22:1-19

Inleiding: Is God moedswillig?
Is God moedswillig as Hy Abraham beveel om sy seun, Isak te gaan offer?
Die vraag is: Wat toets God?
Maak God ons lewensomstandighede moeilik net om die lewe vir ons onaangenaam te maak of om ons geloof te toets?
Maak God Abraham se lewe raaiselagtig, sodat hy moet wonder wat is God se volgende skuif op die skaakbord van die lewe?
Is geloof ons poging om God te oortuig dat die spel van die lewe in ons guns behoort te eindig?
Dit is die vraag waaroor ons vanoggend in diepte wil kyk.

Wanneer beproef God vir Abraham?
Hierdie beproewing kom nadat God verskeie kere aan Abraham verskyn het. Genesis 12:1-3, 7; 15:1-2, 5-6; 17:1-16; 18:1-33 en nou in 22:1-19. Eers nadat God homself baie duidelik aan Abraham openbaar het en sy beloftes vervul het, stel God hom op die proef.
Ook nadat Isak gebore is en God bewys het dat Hy doen wat Hy beloof, toets Hy vir Abraham.
Ook nadat Abraham vir Hagar die woestyn ingestuur het en daarmee afstand gedoen het van sy eie plan van hoe hy gedink het hy God se belofte aan ‘n nageslag, tot uitvoering sal bring. Abraham moes eers erken dat sy eie poging in die pad van God staan en daardie deur toemaak.
En ons vra steeds die vraag: Wat toets God wanneer Hy Abraham beveel om Isak te gaan offer?

Wat weet Abraham?
Hy weet dat niks te buitengewoon vir die Here is nie [Gen 18:14].
Hy weet, soos Dawid, dat hy hom nie oor groot dinge wat bo sy vermoë is, moet bekommer nie [Ps 131:2].

Wat glo Abraham?
Beproewings is deel van aanbidding. Terwyl Abraham en Isak en die slawe op pad is na die plek wat die Here vir hom aangewys het, sê hy vir die slawe: “Wag hier…Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe” [22:5].
Hierdie opdrag van die Here is vir Abraham ‘n tyd van toewyding en verootmoediging voor die Here. ‘n Tyd van oorgawe en onderdanigheid aan die wil van God, met die wete dat God op ‘n manier sal voorsiening maak dat Isak sal bly lewe.
Hoewel die uitkoms vir Abraham totaal onbekend is, reken hy op wie God is en op grond van wat God reeds in sy lewe gedoen het. Hoe meer onbekend en onverstaanbaar God se werke en die lewe raak, hoe meer buig Abraham in afhanklikheid voor God neer.
Die apostel Petrus leer ons dat beproewings ons verhouding met God suiwer. In 1 Pet 1:3-7 begin hy ook met dit wat God reeds vir ons gedoen het deur Christus se kruisdood. Hy skenk aan ons die nuwe lewe deur die opstanding en dood van Christus. Dit is ons lewende hoop op die onbesmette onverwelklike erfenis wat God vir ons in bewaring hou, soos wat Hy Abraham se nageslag in bewaring gehou het deur sy belofte en die geboorte van Isak.
In vers 5 sê Petrus dan, en omdat julle glo word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
Vers 6: Verheug julle oor die beproewings, want dit toets julle geloof sodat julle kan sien God is wie Hy sê Hy is, want hoe meer ons sien God is wie Hy sê Hy is, hoe sterker word ons geloof in Hom.
Glo jy dit?

Slot: God is nie moedswillig nie
Soos God aan Abraham verskyn het in Gen 18 om te kom sê dat Sara oor ‘n jaar ‘n seuntjie sal hê, so verskyn God aan Abraham in die opdrag om vir Isak te gaan offer, sodat Abraham kan sien God is wie Hy sê Hy is.
Selfs al neem dit beproewings, sal God dit gebruik om te wys hoe lief Hy ons het.
God sê vir my en jou vandag: Kom saam met My sodat jy kan sien wie Ek is.
AMEN

‘n Nuwe Hart As jy geweet het wat God gee … Johannes 4:5-42 en Romeine 5:1-2

Inleiding

Ons kan die Johannes-evangelie die ‘Evangelie van die Heilige Gees’ noem.  Johannes verduidelik dat God met die koms van Christus ‘n nuwe bedeling kom vestig.  God wil met ons ‘n verhouding tot stand bring wat gebaseer is op die wedergeboorte [Joh 1:13].  Elkeen wat Hom aanneem, word uit die Heilige Gees gebore [Joh 3:6] en so bewerk God ‘n nuwe hart/gees in elkeen wat glo.

Die hoofmomente van die eerste vier hoofstukke is bekering en wedergeboorte [1:12-13], Jesus se gesprek met Nikodemus [Wat uit die mens gebore is is mens, wat uit die Gees gebore is, is gees. Joh  3:6] en die gesprek met die Samaritaanse vrou [As jy geweet het wat God gee… Joh 4:10].  Die boodskap van die Johannes-evangelie is dat God aan elkeen van ons ‘n nuwe hart wil kom gee, sodat ons ‘n persoonlike verhouding met God kan hê. 

Die vrou

Sy is privaat, geslote en verdedigend wanneer Jesus met haar by die put praat.  Sy wil eintlik nie met hierdie vreemdeling iets te doen hê nie. Sy is gewoond daaraan om vreemde mense, inteendeel, alle mense te vermy, weens die stories wat oor haar lewenswyse vertel word. Sy kom skep water op ‘n tyd wanneer daar min mense is, maar vandag sit hierdie man hier, wat nie wil ophou gesels nie – sy wens hy wil net weggaan.  Hy bly praat oor lewende water. 

Jesus sien die bitterheid en die pyn in haar oë.  Om ‘n gesprek met haar aan te knoop, vra Jesus vir haar water om te drink. 

Jesus

Die vrou se eerste reaksie is om die skeidinge tussen die Jode en die Samaritane te gebruik om ‘n gesprek met Jesus te vermy, terwyl Jesus die gesprek dadelik na haar hart toe neem.  Weet jy wat God gee?  [Joh 4:10].  Jesus laat hom nie afskrik deur die menslike skeidinge nie, hy kyk bo-oor dit na die hart van die vrou.  Hy kan sien sy is soekende na die lewende water wat God gee.  Hy lei haar om te ontdek dat sy die lewende water nodig het en Hy weet ook wat weerhou haar van die lewende water.  Dit is waarom hy haar vra om haar man te gaan roep, wanneer sy vra na die water wat die ewige lewe gee.    

‘n Nuwe hart

Nou is Jesus by die punt om haar te laat verstaan dat sy Hom nodig het [Joh 1:4].  Sy besef nou dat sy eintlik in duisternis lewe, ver van die Lig af waar daar ware lewe is.  Op hierdie stadium in die gesprek raak sy bewus van die feit dat Jesus ‘n ‘profeet’ is, dat sy eintlik met iemand met ‘n bo-menslike karakter gesprek voer.   Dit is al wat Jesus in gedagte het, want nou kan hy haar begin bewus maak dat sy eintlik met ‘n hart vol doodsheid lewe. 

 

‘n Nuwe hart, ‘n nuwe lewe

Met die nuwe bedeling wat Jesus begin, val alle doodsheid weg, ‘n doodsheid wat veroorsaak word deur die twis tussen die Jode en die Samaritane oor hulle gebruike, lewenswyse en die plek waar hulle onderskeidelik aanbid.    

Die skeidinge tussen haar en God verval.  Deur haar ontmoeting met Jesus by die put word sy bevry van haar sondige verlede en bring Jesus haar tot ware geloof in God. 

Nou kan sy die Vader deur die Gees en in waarheid – die waarheid wat sy in Jesus ontdek, aanbid, want Jesus is die weg die waarheid en die lewe.

In Filippense 3:3 lees ons “Ons het die ware besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie”.  Dit is die bedeling wat Jesus aan die vrou by die put wil bekend maak, sodat dit ook in Samaria bekend kan word dat die Messias gekom het en dat die bedeling van die uiterlike dinge verby is.  Paulus sê in vers 7-8 “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus…. Want om Christus Jesus my Here te ken, oortref alles in waarde”.  Daar is geen plaasvervanger vir ‘n lewende verhouding met Jesus Christus nie. 

Het jy ‘n nuwe hart en ‘n nuwe lewe?  Dien jy God deur die Gees en die Waarheid [Jesus Christus]?

Geloof, Vryspraak, Vrede

Voer jy nog ‘n stryd met jou verlede, soos die vrou by die put?  Het jy die vryspraak deur Christus aangeneem [Romeine 5:1-2] sodat daar vrede tussen jou en God kan wees?  Elkeen wat glo het vrye toegang tot die ganade van God.  Dit is die nuwe bedeling wat God vir elkeen bedoel met die koms van Jesus Christus na die wêreld. 

Ken jy hierdie verhouding met God waar jy Hom in Gees en in Waarheid aanbid?

Slot

Jesus sê vir die vrou by die put “As jy geweet het wat God gee, … sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou die lewende water gegee het” [Joh 4:10]. 

Weet jy wat God vir jou wil gee?  Het jy dit al aangeneem? 

AMEN