Skip to main content

Glo jy God is? Skriflesing: Genesis 22:1-19

Inleiding: Is God moedswillig?
Is God moedswillig as Hy Abraham beveel om sy seun, Isak te gaan offer?
Die vraag is: Wat toets God?
Maak God ons lewensomstandighede moeilik net om die lewe vir ons onaangenaam te maak of om ons geloof te toets?
Maak God Abraham se lewe raaiselagtig, sodat hy moet wonder wat is God se volgende skuif op die skaakbord van die lewe?
Is geloof ons poging om God te oortuig dat die spel van die lewe in ons guns behoort te eindig?
Dit is die vraag waaroor ons vanoggend in diepte wil kyk.

Wanneer beproef God vir Abraham?
Hierdie beproewing kom nadat God verskeie kere aan Abraham verskyn het. Genesis 12:1-3, 7; 15:1-2, 5-6; 17:1-16; 18:1-33 en nou in 22:1-19. Eers nadat God homself baie duidelik aan Abraham openbaar het en sy beloftes vervul het, stel God hom op die proef.
Ook nadat Isak gebore is en God bewys het dat Hy doen wat Hy beloof, toets Hy vir Abraham.
Ook nadat Abraham vir Hagar die woestyn ingestuur het en daarmee afstand gedoen het van sy eie plan van hoe hy gedink het hy God se belofte aan ‘n nageslag, tot uitvoering sal bring. Abraham moes eers erken dat sy eie poging in die pad van God staan en daardie deur toemaak.
En ons vra steeds die vraag: Wat toets God wanneer Hy Abraham beveel om Isak te gaan offer?

Wat weet Abraham?
Hy weet dat niks te buitengewoon vir die Here is nie [Gen 18:14].
Hy weet, soos Dawid, dat hy hom nie oor groot dinge wat bo sy vermoë is, moet bekommer nie [Ps 131:2].

Wat glo Abraham?
Beproewings is deel van aanbidding. Terwyl Abraham en Isak en die slawe op pad is na die plek wat die Here vir hom aangewys het, sê hy vir die slawe: “Wag hier…Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe” [22:5].
Hierdie opdrag van die Here is vir Abraham ‘n tyd van toewyding en verootmoediging voor die Here. ‘n Tyd van oorgawe en onderdanigheid aan die wil van God, met die wete dat God op ‘n manier sal voorsiening maak dat Isak sal bly lewe.
Hoewel die uitkoms vir Abraham totaal onbekend is, reken hy op wie God is en op grond van wat God reeds in sy lewe gedoen het. Hoe meer onbekend en onverstaanbaar God se werke en die lewe raak, hoe meer buig Abraham in afhanklikheid voor God neer.
Die apostel Petrus leer ons dat beproewings ons verhouding met God suiwer. In 1 Pet 1:3-7 begin hy ook met dit wat God reeds vir ons gedoen het deur Christus se kruisdood. Hy skenk aan ons die nuwe lewe deur die opstanding en dood van Christus. Dit is ons lewende hoop op die onbesmette onverwelklike erfenis wat God vir ons in bewaring hou, soos wat Hy Abraham se nageslag in bewaring gehou het deur sy belofte en die geboorte van Isak.
In vers 5 sê Petrus dan, en omdat julle glo word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
Vers 6: Verheug julle oor die beproewings, want dit toets julle geloof sodat julle kan sien God is wie Hy sê Hy is, want hoe meer ons sien God is wie Hy sê Hy is, hoe sterker word ons geloof in Hom.
Glo jy dit?

Slot: God is nie moedswillig nie
Soos God aan Abraham verskyn het in Gen 18 om te kom sê dat Sara oor ‘n jaar ‘n seuntjie sal hê, so verskyn God aan Abraham in die opdrag om vir Isak te gaan offer, sodat Abraham kan sien God is wie Hy sê Hy is.
Selfs al neem dit beproewings, sal God dit gebruik om te wys hoe lief Hy ons het.
God sê vir my en jou vandag: Kom saam met My sodat jy kan sien wie Ek is.
AMEN

‘n Nuwe Hart As jy geweet het wat God gee … Johannes 4:5-42 en Romeine 5:1-2

Inleiding

Ons kan die Johannes-evangelie die ‘Evangelie van die Heilige Gees’ noem.  Johannes verduidelik dat God met die koms van Christus ‘n nuwe bedeling kom vestig.  God wil met ons ‘n verhouding tot stand bring wat gebaseer is op die wedergeboorte [Joh 1:13].  Elkeen wat Hom aanneem, word uit die Heilige Gees gebore [Joh 3:6] en so bewerk God ‘n nuwe hart/gees in elkeen wat glo.

Die hoofmomente van die eerste vier hoofstukke is bekering en wedergeboorte [1:12-13], Jesus se gesprek met Nikodemus [Wat uit die mens gebore is is mens, wat uit die Gees gebore is, is gees. Joh  3:6] en die gesprek met die Samaritaanse vrou [As jy geweet het wat God gee… Joh 4:10].  Die boodskap van die Johannes-evangelie is dat God aan elkeen van ons ‘n nuwe hart wil kom gee, sodat ons ‘n persoonlike verhouding met God kan hê. 

Die vrou

Sy is privaat, geslote en verdedigend wanneer Jesus met haar by die put praat.  Sy wil eintlik nie met hierdie vreemdeling iets te doen hê nie. Sy is gewoond daaraan om vreemde mense, inteendeel, alle mense te vermy, weens die stories wat oor haar lewenswyse vertel word. Sy kom skep water op ‘n tyd wanneer daar min mense is, maar vandag sit hierdie man hier, wat nie wil ophou gesels nie – sy wens hy wil net weggaan.  Hy bly praat oor lewende water. 

Jesus sien die bitterheid en die pyn in haar oë.  Om ‘n gesprek met haar aan te knoop, vra Jesus vir haar water om te drink. 

Jesus

Die vrou se eerste reaksie is om die skeidinge tussen die Jode en die Samaritane te gebruik om ‘n gesprek met Jesus te vermy, terwyl Jesus die gesprek dadelik na haar hart toe neem.  Weet jy wat God gee?  [Joh 4:10].  Jesus laat hom nie afskrik deur die menslike skeidinge nie, hy kyk bo-oor dit na die hart van die vrou.  Hy kan sien sy is soekende na die lewende water wat God gee.  Hy lei haar om te ontdek dat sy die lewende water nodig het en Hy weet ook wat weerhou haar van die lewende water.  Dit is waarom hy haar vra om haar man te gaan roep, wanneer sy vra na die water wat die ewige lewe gee.    

‘n Nuwe hart

Nou is Jesus by die punt om haar te laat verstaan dat sy Hom nodig het [Joh 1:4].  Sy besef nou dat sy eintlik in duisternis lewe, ver van die Lig af waar daar ware lewe is.  Op hierdie stadium in die gesprek raak sy bewus van die feit dat Jesus ‘n ‘profeet’ is, dat sy eintlik met iemand met ‘n bo-menslike karakter gesprek voer.   Dit is al wat Jesus in gedagte het, want nou kan hy haar begin bewus maak dat sy eintlik met ‘n hart vol doodsheid lewe. 

 

‘n Nuwe hart, ‘n nuwe lewe

Met die nuwe bedeling wat Jesus begin, val alle doodsheid weg, ‘n doodsheid wat veroorsaak word deur die twis tussen die Jode en die Samaritane oor hulle gebruike, lewenswyse en die plek waar hulle onderskeidelik aanbid.    

Die skeidinge tussen haar en God verval.  Deur haar ontmoeting met Jesus by die put word sy bevry van haar sondige verlede en bring Jesus haar tot ware geloof in God. 

Nou kan sy die Vader deur die Gees en in waarheid – die waarheid wat sy in Jesus ontdek, aanbid, want Jesus is die weg die waarheid en die lewe.

In Filippense 3:3 lees ons “Ons het die ware besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie”.  Dit is die bedeling wat Jesus aan die vrou by die put wil bekend maak, sodat dit ook in Samaria bekend kan word dat die Messias gekom het en dat die bedeling van die uiterlike dinge verby is.  Paulus sê in vers 7-8 “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus…. Want om Christus Jesus my Here te ken, oortref alles in waarde”.  Daar is geen plaasvervanger vir ‘n lewende verhouding met Jesus Christus nie. 

Het jy ‘n nuwe hart en ‘n nuwe lewe?  Dien jy God deur die Gees en die Waarheid [Jesus Christus]?

Geloof, Vryspraak, Vrede

Voer jy nog ‘n stryd met jou verlede, soos die vrou by die put?  Het jy die vryspraak deur Christus aangeneem [Romeine 5:1-2] sodat daar vrede tussen jou en God kan wees?  Elkeen wat glo het vrye toegang tot die ganade van God.  Dit is die nuwe bedeling wat God vir elkeen bedoel met die koms van Jesus Christus na die wêreld. 

Ken jy hierdie verhouding met God waar jy Hom in Gees en in Waarheid aanbid?

Slot

Jesus sê vir die vrou by die put “As jy geweet het wat God gee, … sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou die lewende water gegee het” [Joh 4:10]. 

Weet jy wat God vir jou wil gee?  Het jy dit al aangeneem? 

AMEN         

Utopia, ‘n wêreld wat nie bestaan nie Lukas 20:45 – 21:19

INLEIDING

Ons leef in twee wêrelde. Die natuurlike en die nie-natuurlike wêreld. Efes 2:19 sê ons is of ‘n bywoner of ‘n burger van die wêreld wat ons verkies.  In terme van hierdie vers is ons of ‘n medeburger van die huisgesin van God [die koninkryk van God] of ons is ‘n bywoner in die huisgesin van God [die koninkryk van God].  Elkeen van ons kies in watter wêreld ons wil leef, God se koninkryk, die nie-natuurlike wêreld, of die natuurlike wêreld. 

Watter een van hierdie twee wêrelde is jou “Utopia”?

 

DIE WêRELD VAN DIE SKRIFGELEERDES

In Lukas 20:45-47 lees ons dat die wêreld van die skrifgeleerdes bestaan uit ‘n soeke na aansien en ‘n verwagting dat mense ‘n ophef van hulle moet maak. 

Hulle was selfgerig en het so aangetrek dat mense hulle sal raaksien. Hulle het die voorste plekke in die sinagoge ingeneem en verwag om as eregaste by maaltye behandel te word.

Intussen het hulle hulleself verryk uit weerlose mense soos weduwees. Hierdie onreg teenoor weerlose mense het hulle probeer wegsteek deur vroom gebede in die openbaar te bid by elke geleentheid wat hulle kon kry. 

Jesus is baie duidelik oor die skrifgeleerdes.  God sal hulle swaar straf.  Hulle verdien die oordeel van God. 

 

DIE WêRELD VAN DIE ARM WEDUWEE  

Haar wêreld lyk heeltemal anders.  Sy het geen status nie en niemand sien haar raak nie.  Dit is juis hierdie soort mense wat deur die skrifgeleerdes uitgebuit word. 

Sy leef met ander waardes. Sy offer haar lewe aan die Here en dien Hom met alles wat sy het.  Sy maak nie aanspraak op enigiets nie, want sy is gewoond daaraan om niks te hê nie.  Vir haar maak dit nie eintlik saak of sy hierdie twee muntstukke in die offergawekis gooi nie, want dit is in elk geval te min om van te leef. 

Daarom leef sy in totale afhanklikheid van God. Sy weet dat haar lewe elke dag van God se genade afhang.  Haar lewe het geen materiële waarborge nie.  Sy leef nie vanuit die natuurlike [vleeslike] wêreld na die nie-natuurlike [geestelike] wêreld toe nie, maar sy leef vanuit God se koninkryk [die geestelike wêreld] na die natuurlike wêreld toe.  Haar waarborg lê nie in die sigbare dinge nie, maar in die onsigbare.  2 Kor 4:18 sê: “Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare dinge is ewig”.   

Jesus gaan dan voort in Lukas 21:5-19 om die verskil tussen hierdie twee wêrelde te beskryf:

 

DIE WêRELD VAN DIE SKRIFGELEERDES

Die tempel, die sigbare simbool van die skrifgeleerdes se wêreld, sal afgebreek word. Soos dit ook tussen 35 en 40 jaar later wel gebeur het. Want ons het in 2 Kor 4:18 gelees die sigbare is tydelik.  Die waarde en mag wat die tempel aan die lewens van die skrifgeleerdes gegee het, is dus ook tydelik [Lukas 21:5-6].

Die wêreld van die skrifgeleerdes is ‘n wêreld van misleiding en geestelike en morele verval [Lukas 21:8]. Hierdie wêreld is op valshede en onwaarhede gebaseer. 

Jesus voorspel die tekens van die tye waaraan hierdie wêreld uitgeken sal word [Luk 21:9-11].  Met hierdie tekens is die dissipels in staat om die sigbare, tydelike en verganklike wêreld te onderskei van die onsigbare, ewige en onverganklike wêreld – die koninkryk van God. 

‘n Nog duideliker teken waaraan die verganklike en die onverganklike wêrelde uitgeken sal word, is die vervolging van die gelowiges [Luk 21:12].  Geen vorm van vervolging is deel van God se koninkryk nie. Gelowiges het nie die reg om mense wat van hulle verskil te veroordeel of te verwerp nie, want dit is nie hoe God met hulle maak nie. Die enigste gemeenskaplike faktor wat mense aan God en aan mekaar as geloofegemeenskap bind, is God se liefde.  Geen ander kriteria is toelaatbaar nie. 

 

DIE WêRELD VAN DIE ARM WEDUWEE

Die wêreld van die skrifgeleerdes, die verganklike wêreld, is in diens van die wêreld van die arm weduwee.  Die natuurlike, verganklike wêreld het geen bestaansreg op sy eie nie.  God gebruik dit net om Sy koninkryk mee te bevorder.  Wanneer Jesus sê die tempel sal afgebreek word, bedoel Hy die hele wêreld wat deur die tempel gesimboliseer word sal saam met die tempel vernietig word.  Daarom is vervolging vir die dissipels ‘n geleentheid om van Jesus te getuig, want dissipels se lewe word nie gedefinieër deur vervolging of nie-vervolging nie, maar deur die liefde van God [Luk 21:13].

Vervolging inspireer gelowiges ook om nog meer op die Heilige Gees ingestel te wees en om God se stem te hoor. Dit help ook om vrees vir die vervolgers te oorkom [Luk 21:14].  Stefanus het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus aan die regterhand van die Vader sien staan [Hand 7:55-56].

Vervolging is God se geleentheid om te wys dat sy Gees in sy dissipels werk en aan hulle woorde van wysheid gee wat groter as die verganklike wêreld is [Luk 21:15].  Die Joodse Raad was verbaas om te sien met watter vrymoedigheid Petrus en Johannes voor hulle getuig, al was hulle mense van die arm weduwee se wêreld [Hand 4:13].

Deur vervolging openbaar God hoe Hy vir sy kinders sorg, want nie eers ‘n haar sal van hulle kop af val nie [Luk 21:18].

In die wêreld van die arm weduwee lei vervolging tot volharding in die geloof.  “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding ….[Rom 5:3-5].  Dit is wat Jesus bedoel wanneer Hy sê deur volharding moet ons onsself red. 

 

UTOPIA – LEEF JY VIR ‘N WêRELD WAT NIE BESTAAN NIE?   

Die wêreld van die skrifgeleerdes bestaan nie.  Dit is tydelik.  Dit sal vernietig word, want dit is gebaseer op stryd en verdeeldheid tussen mense. 

Die wêreld van die weduwee bestaan wel.  In hierdie wêreld is ons bereid om ons lewens te verloor [Luk 9:24].  ‘n Wêreld waar die wolf en die lam saam wei [Jes 65:25]. Dit is die ewig en onverganklik.         

 

WATTER WêRELD IS JOU TUISTE?   WATTER WêRELD IS JOU UTOPIA?

In watter wêreld is jy ‘n bywoner?

In watter wêreld is jy ‘n burger?       

AMEN

SAMEL DIE OES IN

Skriflesing: Johannes 4:27-42

Teks: Joh 4:34-42

 Dam of fontein

Verlede week het ons gepraat oor Joh 4:13-14 waar Jesus sê die water wat Hy ons sal gee, sal in ons ‘n fontein word met water wat opborrel en aan ons die ewige lewe gee.  As ons Jesus as ons Verlosser aanneem, onvang ons die ewige lewe en hierdie ewige lewe kan ons nie vir onsself hou nie. Ons kan nie soos ‘n dam wees wat water opgaar nie, ons word ‘n fontein wat water verskaf. 

Hierdie verse is ‘n samevatting van wat Jesus op aarde kom doen het.  Dit onderskei ook die verskil tussen dit wat God deur Jesus kom doen en ons rol as dissipels.  In sy gesprek met die dissipels nadat die vrou terug is dorp toe om haar man te gaan roep, sê Hy hulle moet die oes insamel, hulle hoef nie die saad te saai nie.  Gelowiges dink baie keer hulle moet die saad saai, en omdat dit so moeilik is, gee hulle moed op en versuim hulle roeping om dissipels van Jesus te wees elke dag.  Hierdie opdrag van Jesus stel dit weer baie duidelik, God saai die saad, sy volgelinge samel die oes in. 

Joh 4: Jesus saai, die dissipels oes

In Jesus se gesprek met die vrou by die put is dit baie duidelik. Hy doen die oortuigingswerk.  Hy neem die gesprek na ‘n geestelike vlak en bied vir haar lewende water aan.  Hy openbaar Homself aan haar deur haar persoonlike lewe aan haar uit te lê.  Hy hanteer die godsdienstige verskille tussen die Jode en die Samaritane. Hy openbaar Homself aan haar as die Messias.  Eers dan kom die dissipels terug van die dorp af, nadat Jesus klaar “die saad gesaai het”.  Terwyl die vrou weg is dorp toe om haar man te gaan haal, gee Jesus aan hulle die opdrag om die oes in te samel. Hulle hoef nie die werk van God te probeer doen nie, hulle kan net hulle eie werk doen en die oes insamel. 

Daar is ‘n baie groot verskil tussen saai en oes.  Jy gebruik ander implimente, jy kan nie met ‘n ploeg ‘n koringland gaan stroop nie.  Jy gebruik ‘n sekel of ‘n stroper. Baie keer sê ons dissipelskap is moeilik, want ons verstaan ons rol verkeerd. 

Jesus saai, die dissipels oes

Ons lees dieselfde oprdag in Matt 9:35-38 waar Jesus die menigte sien, hulle innig jammer kry en vir sy dissipels sê “die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes”.   

In Matt 10:5-8 sê Jesus ook die dissipels moet gaan verkondig: “Die koninkryk van die hemel het naby gekom. Maak siekes gesond, ….”. Die dissipels se opdrag is gebaseer op dit wat God klaar kom doen het deur die koninkryk van God te laat aanbreek.

In die Ou Testament saai God ook

In Josua 24:13 sê God ook aan Israel “Ek het julle ‘n land gegee wat julle nie bewerk het nie, stede wat julle nie gebou het nie…julle eet van wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie”. En in vers 24 “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en trou. Sien af van die gode ….”.  God het gesaai deur aan hulle ‘n land te gee wat hulle nie bewerk het nie. Al wat Israel moes doen, is om aan Hom gehoorsaam te wees en so die “oes” in te bring.      

Na Pinkster saai die Heilige Gees

In Handelinge 8 sien ons hoe Filippus die oes gaan insamel in Samaria.  Jesus sê vir sy dissipels in Hand 1:8 hulle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom en hulle sal sy getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Ons is slegs die getuies van wat Jesus klaar gedoen het.  Hier gaan Filippus juis na Samaria, die eerste plek buite die Joodse gebied, soos wat Jesus ook gedoen het in Johannes 4.  Al wat Filippus doen, is om te doen wat Jesus gedoen het, in die krag wat die Heilige Gees aan hom gegee het. Hy verkondig Christus, dryf bose geeste uit, genees verlamdes en kreupeles. Dit het groot blydskap in die stad gebring.

Om te oes is maklik

 God verwag nie dat ons Sy werk moet doen nie. Hy sluit ons in by wat Hy klaar gedoen het en by dit waarmee Hy besig is.

Dissipelskap is om God toe te laat om Sy werk in jou lewe te doen, sodat jy ander kan vertel hoe dit is.  Die werk wat Hy in jou doen, maak jou ‘n fontein van lewende water wat opborrel en aan ander dieselfde water verskaf.  Dit is in die wese van ‘n fontein om water te verskaf.  As ons egter aan onsself dink as ‘n dam, is dit baie moeilik om die oes in te samel. 

Kweek by jouself die bewustheid dat jy ‘n fontein is.

Kweek by jouself die bewustheid dat jy die oes moet insamel.  Dit is waarvoor God jou geroep het.

Wat is daar in jou lewe wat jy nog nie aan die Heilige Gees oorgegee het nie?

Wat probeer jy nog in jou eie krag vermag? 

AMEN

Lewende water Skriflesing: Johannes 4:1-24

Inleiding
Jesus is besig om die roeping van sy Vader uit te voer en in die proses leer Hy ons wat dissipelskap is. Hy leer ons dat dissipels nie ‘n ander roeping as Hy het nie. Dissipels moet net voortsit wat hy kom doen het.
Ons vra dikwels: “Wat is God se roeping vir my?” Dit is ‘n eenvoudige antwoord. Ons soek gewoonlik baie ingewikkelde antwoorde, en verwar onsself net daardeur. Jesus se lering is eenvoudig. As ons Hom aanneem as ons Verlosser, word ons ‘n fontein van water wat opborrel tot die ewige lewe. Ons kan nie soos ‘n dam bly wat net water opgaar nie, deur die wedergeboorte maak God ons ‘n fontein wat water van die ewige lewe voortbring.
Wat kom Jesus doen?
Joh 4:13-14 is ‘n samevatting van wat Jesus kom doen op aarde. Wie Hom aanneem, ontvang die ewige lewe. Wie Hom aanneem, verander van ‘n dam na ‘n fontein deur die wedergeboorte [regeneration] wat God deur sy Gees in jou bewerk. Dit is waarvan Joh 1:13 praat. God se vaderskap beteken dat ons nie meer deur ons menslike natuur beheer word nie, maar deur die Heilige Gees [Rom 8:11].
Wedergeboorte [regeneration]
Jesus verduidelik die wedergeboorte aan Nikodemus in Joh 3:1-21.
Petrus verduidelik dit ook soos volg: 1 Pet 1:3 – “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê” [2014 Direkte vertaling].
Ook in Titus kry ons ‘n mooi beskrywing van die wedergeboorte: Titus 3:5-6 – “Hy het ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – deur die afwassing van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser” [2014 Direkte vertaling].
Fonteine
In die gesprek met die vrou, stuur Jesus haar om haar man te gaan haal. Sodra jy die boodskap ontvang, dat Jesus die Verlosser is, mag jy dit nie vir jouself hou nie. Jy moet dit gaan vertel, al weet jy nog baie min, want jy mag nie ‘n dam wees nie. Jy is ‘n fontein wat water van die ewige lewe verskaf, jy gaar niks op vir jouself nie.
Jesus se ekonomie is, sodra jy die Evangelie-boodskap ontvang het, moet jy dit gaan oorvertel. Net wat jy gehoor en ervaar het. Jy hoef niks meer te doen nie. In vers 29 lees ons dat die vrou in die dorp gaan oorvertel wat met haar by die put gebeur het, al is sy self nie eers seker van wie is die man wat met haar gepraat het nie. Die belangrike is dat sy gaan vertel het.
Hoe word dissipels fonteine?
Ons sien hoe Jesus dit doen in Joh 1:35-51.
 Johannes die Doper getuig: “Daar is die Lam van God”
 Andreas en nog ‘n dissipel van Johannes volg Jesus
 Andreas gaan roep sy broer, Simon Petrus
 Jesus spreek profeties oor Petrus se lewe, sodat hy kan sien dat Jesus die Messias is
 Jesus roep vir Filippus
 Filippus getuig teenoor Natanael
 Natanael twyfel, Jesus spreek profeties oor Natanael, sodat hy kan sien dat Jesus die Messias is.
Die dissipels gaan vertel ander en Jesus doen die oortuigingswerk. Dit is die patroon van Jesus se ekonomie.
Is jy ‘n fontein?
Jy hoef nie alles te weet nie, jy getuig net oor wat jy weet en ervaar het. Baie van die Samaritane het tot geloof in Jesus gekom oor wat die vrou van Jesus vertel het.
Dit gaan nie oor wat jy van Jesus weet nie, maar oor die lewensverandering wat jou ontmoeting met Jesus in jou lewe veroorsaak het.
Jesus roep eenvoudige vissermanne en maak hulle fonteine van lewende water. Ek en jy kan niks doen om ‘n fontein te word nie, God het dit klaar gedoen met die wedergeboorte toe jy jou lewe vir Hom gegee het. Ons moet net gehoorsaam wees en nie die fontein se water laat wegvloei nie. Dit moet mense se lewens bereik.
Doen jy dit?
AMEN