Skip to main content

Rigters 13 – Die Gees steek grense oor met Randfigure – 24 Mei 09 – Pinkster 1

Verwelkoming

Die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat IN mense gebeur nie, maar wat TUSSEN mense gebeur.  Verhoudings tussen mense is die plek waar ware gemeenskap gebeur. Dit is ook waar van die Drie-enige God self.  Hy is in ‘n intieme verhouding met Homself, Vader, Seun en Gees.  God vra dit dus nie net van ons nie.  Hy is in verhouding met Homself.

Ons mens-wees kom daarom tot sy reg wanneer ons in positiewe waarderende omgee-verhoudings met ander lewe.  Elkeen van ons is ‘n ketting, ‘n band wat mense verbind.  Telkens as ons uitreik na mekaar in gemeenskap en versorging gee dit sin en betekenis aan ander en ons eie lewe.

Dit is ook waar van die uitbreiding van gemeentes en die vestiging van die evangelie en die koninkryk.  Geloof in Christus in ‘n spesifieke plek en deur spesifieke mense het reg deur die geskiedenis te make met die bereidheid van gelowiges om grense na ander oor te steek.

In dié mate wat die Woord gestalte kry in ‘n gemeenskap, in dié mate brei die invloed van Christus uit of krimp dit in.  Die effektiwiteit en weerstandigheid van die Christelike geloof is direk verbind aan gelowiges en gemeentes se vermoë tot: “acts of cultural translation by which the Christians of any community make their faith substantial within that community” (Walls The Cross-cultural process in Christian History, 13).

Om grense oor te steek: kultureel, eties, generasies, etnies, sosiaal, ekonomies, gender en noem maar self verder op, was en sal altyd die lewensbloed van die geloof in Christus bly.  Telkens as die invloed van Christus ingekrimp het, bv. in die eerste gemeente van Jerusalem na die eerste vervolging, het daar lewe van die randte gekom, gewoonlik waar ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. lees met die ontstaan van die gemeente in Antiochië, weens die getuienis van onbekende Joodse gelowiges van Ciprus en Griekeland. (Hand 11:19-20).

Ek wil jou dus uitdaag om ‘n reis dié week met ‘n paar mense in die gemeente te onderneem – ons noem die reis: Die Gees stuur ons oor Grense. Vir 5 dae gaan jy en ‘n paar van jou vriende fokus op die mense wat oor julle pad kom.  Elke aand gaan ek jou begelei om te gesels daaroor en te probeer agterkom wie dit is wat die Here oor jou pad stuur.  En ons sluit met ‘n heerlike Pinksterete Vrydagaand af met ‘n feesviering volgende Sondag.

Omdat sulke ontmoetings met mense geskenke uit die hand van die Here is, vra ons elke aand hoe dié ontmoetings jou geruk of getroos of geseën het.  En ons gaan praat oor hoe die Gees jou moontlik voorberei het daarop en wat jy dink die Here deur die persoon(e) met jou wil laat gebeur.

Telkens gaan ons ook vra wat die Here deur jou wil bevestig in die ander persoon en/of moontlik wil verander in jou.  En elke aand help ons mekaar om te leer wat ons beter wil leer doen.

Kortom – ons gaan op reis met mekaar om ‘n paar grense na ander mense oor te steek, wat uiteindelik geskenke van die Here word.

Dit beteken dat jy nou moet dink aan mense wat jy graag wil uitnooi op jou reis dié week.

Toetrede

Lied 444 – Kom kyk!  Kom kyk! Kyk alles word nuut! – koor 1x, gemeente 2x – staan

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 435 – Heil’ge Gees, u bou ‘n tempel deur die Woord wat kragtig werk – staan

Lied 436 – Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – sit

Lied 456 – Loof, heel die skepping, loof die Heer – koor

Toewyding

Lied 450 – Vader, Seun, Heil’ge Gees, hoe sal ons u heerlikheid kan verwoord – sit

Kindertyd

Julle gaan Ark toe vir Pinkster – almal, geen kategese, geen toepassing, net GroeiGoggas!

Epiklese

Lied 442 – Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my – koor vers 1, gemeente vers 2 – sit

Skriflesing

Ons kan ons moeilik indink in die chaos wat in Israel geheers het in die 12de en 11de eeu v.C.  Die boek Rigters vertel vir ons ‘n hele paar keer dat “elkeen gedoen het wat reg is in sy eie oë” (17:6; 21:25).  Daar was min mense wat die moed gehad het om die regte goed te doen.

Selfs die Rigters wat in die naam van God optree, het ernstige karakterfoute gehad.

Kom ek skets vir jou twee van hulle:

  • Nommer een – hy is bang en kruip in die veld weg waar niemand hom kan bykom nie, hy is sarkasties as die Engel van die Here aan hom verskyn: “Ekskuus meneer …” sê hy as die engel vir hom sê die Here is by hom, en jy kom agter dat agter die beleefdheid ernstige wantroue sit. Of wat van hierdie antwoord: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my ‘n wonder …” waarmee jy duidelik sien hy dink net mooi niks gaan gebeur nie. En as die wonder gebeur, en hy moet optree, dan bly hy wantrouig, agteraf, gaan bv. in die nag en breek die Baäl altaar af, en skuil dan agter sy pa as die mense vir hom kwaad is. Die ergste is, dat as hy die oorwinning behaal raak hy arrogant en wreed, en op die koop toe geldgierig. As hulle hom wil koning maak, vra hy net geld! En sy seun is nog erger, dié maak 69 van sy broers dood (een het weggekom) omdat hy geen kompetisie vir sy koningskap wil hê nie. ‘n Vrou moes ‘n maalklip op sy kop gooi om Israel van hom ontslae te laat raak.
  • Wie is dit?
    • Gideon en sy seun Abimelek
  • Nommer twee – hy is ‘n onderhandelaar by uitnemendheid, selfs met God, ‘n aartsmanipuleerder, wat sy brood aan alle kante gebotter wil hê, en ‘n grusame versekeringspolis uitneem, die oorsaak dat sy dogter haar lewe verloor as gevolg van sy dwaasheid, omdat sy toe die een is wat eerste uit sy huis vir hom kom verwelkom na die oorwinning. Hy het miskien gedink een van sy honde sou hom tegemoetkom, dié dat hy belowe het dat die eerste een wat hom by die huis verwelkom, sal hy offer aan die Here. Praat van dwaas en deurmekaar!
  • Wie is dit?
    • Jefta

Maar dit is gelukkig nie al wat in die boek Rigters staan oor hulle en die ander rigters nie!

Oor al twee van hulle skryf die Bybel dat die Gees van die Here op hulle was, hulle gelei het, hulle omvou het met sy krag en hulle gebruik het om die volk van Israel te verlos van hulle vyande.

Wat onmiddellik vir ons moet sê: God kies baie keer randfigure uit om sy werk te doen.  Hy steek die grense oor na mense en Hy deins nie terug vir die karakterfoute van sy mense nie, maar doen sy werk ten spyte daarvan.

Ek dink ons dink te maklik dat God net uitnemende persone gebruik:

  • Moses wat met God gepraat het soos met ‘n vriend.
  • Josef wat behalwe vir so ‘n bietjie arrogansie in die begin, een van die wysste mense ooit was en die rede was dat die hele volk Israel in Egipte, sommer saam met die Egiptenaars, bewaar gebly het.
  • Dawid, wat wel sy gebreke gehad het, maar van die mees roerende gedigte en liedere geskep het, waarvan ons vandag nog sing, en ‘n ongelooflike dapper held was.
  • Paulus, wat met onverskrokkenheid die pad deur die Midde-Ooste en Europa plat gestap het en ‘n hele beskawing aan die evangelie blootgestel het.
  • Andrew Murray, Hudson Taylor, Billy Graham, Rick Warren, Bill Hybels – ag en so kan ons aangaan.

Maar, dit is net een kant van die verhaal.

Daar is ‘n ander lyn in die Skrif, mense wat baie gebreke gehad het, mense wat jy eintlik amper wil sê, ek wil jou nie ken nie, wat ook deur God gebruik is.

Want sien, God se Gees werk nie net met die gesondes nie.  Nee, Hy steek altyd grense oor.  En as Hy grense oorsteek, steek Hy die grense baie keer oor met mense wat allerhande gebreke het of wat onaansienlik is of aan die onderpunt van die sosiale leer is.

En dit is waar die verandering gebeur – tussen ons en God en tussen ons en mense.

En dit beteken, dat daar vir ons ook plek is – dat as ons maar net eenmaal sal luister, en die Gees vaardig raak oor ons, ons deur God gebruik kan word.

Ek wou dus vanoggend hier begin, by die randfigure, by Gideon, en Jefta en Simson voordat ons vannaand en verder na die meer prominente of dan uitnemende karakters in die Bybel gaan kyk en spesifiek die wyse waarop God met hulle grense oorgesteek het.

Kom ons lees die verhaal van Manoag, sy vrou, die eintlike kontakpunt met God, en die geboorte van hulle seun, Simson – Rigters 13.

Woordverkondiging

Die geskiedenis van Simson het ‘n besondere karakter.

Meer gebeurtenisse as by enige ander leier word hier van hfst. 13-16 vertel.

Die verhaal vorm ‘n pragtige eenheid wat tot ‘n klimaks oploop.

Ons fokus vandag op die begin daarvan.

Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.  Die Here gee hierdie keer Israel vir ‘n baie langer tyd as vantevore in die hand van hulle vyande oor – 40 jaar lank.  Die vyand kom nie hierdie keer uit die ooste, soos by Jefta nie, maar uit die weste.  Die Filistyne het wes van Kanaän, in die kusstrook by die Middellandse See, gewoon.

Dan word die verhaal van Manoag en sy vrou vertel, wat gebly het in Sora en uit die stam Dan was.  Sy naam word genoem, maar dié van sy vrou nie, hoewel dit gou blyk dat sy die eintlike kontakpunt met die Here gaan wees.

Dié vrou is kinderloos.  Die Engel van die Here verskyn dan aan haar, nie aan haar man nie, en belowe vir haar ‘n kind.  Sy, die kinderlose, sal swanger word en haar skande sal weggeneem word.

Interessant is dat sy in fyn detail opdrag kry hoe sy moet lewe en hoe die kind moet lewe – totaal toegewy aan die Here.

Sy vertel dié gebeure in detail vir haar man, wat onmiddellik bid dat die man van God weer sal verskyn aan hulle sodat hulle kan weet wat hulle moet doen met die kind.  Sy vrou het hom vertel, maar hy wil dit self hoor.  Sy versoek word verhoor, maar die Engel verskyn weer aanvanklik net aan die vrou.  En as die vrou hom gaan haal, en Manoag die Engel vra hoe die kind moet lewe, dan verwys hy Manoag net na alles wat hy reeds vir die vrou gesê, en beklemtoon haar rol, eerder as dié van die kind.

Wonderlik om te sien met hoeveel teenwoordigheid van gees en doodgewone praktiese wysheid die vrou optree as hulle agterkom dat dit eintlik die Here self was wat aan hulle verskyn het.  Op haar man se angstige voorspelling dat hulle nou sal doodgaan, omdat hulle die Here gesien het, sê sy net: die Here sou dan nie ons offer aanvaar het nie, die engel laat sien het, en boonop die wonderlike nuus van ‘n seun gegee het nie.

En uit hierdie relatiewe eenvoudige gesin, ‘n man wat versigtig glo, en ‘n vrou wat, hoewel ons nie haar naam verneem nie, ‘n ongelooflike vertroue openbaar (sy vra geen vrae nie, aanvaar net wat die Here sê, presies soos Maria veel later) en op die koop toe uiters prakties kan dink, kom die seun Simson wat vir20 jaar leier van sy volk sou wees.

Let op – God kies nie ‘n vooraanstaande gesin nie.  Hy kies randfigure, soos ‘n mens in die unieke alleenloper Terminator van ‘n man Simson gaan sien.  Hy kies wie Hy wil, mense na wie Hy die grense oorsteek, mense in wie Hy Sy heerlikheid en krag kan ten toon stel.

Let ook op – die vers aan die einde van die hoofstuk: “Simson het groot geword en die Here het hom geseën: die Gees van die Here het hom … begin lei.”  Daar staan letterlik: God het sy treë begin bepaal.

En regdeur kom hierdie leiding van God na vore.  Hoewel Simson se optrede altyd heel uitsonderlik bly: hy is ‘n alleenloper, sonder ‘n leër, word daar meer as met die ander rigters gesê: die Gees van die Here het hom sterk gemaak (kragtig op hom gekom – sê die oorspronklike).

‘n Mens sien dit ook in die vreemde verhale van sy liefde en ontberinge met vroue.  Kyk, hoewel Simson sy lewe lank ‘n nasireër was, d.w.s. hy het nie wyn gedrink nie, en hy nie sy hare geskeer nie, behalwe die een keer aan die einde van die verhaal, weet ons dat hy nie juis ‘n sedelike reus was nie. Hy het die vermoë gehad om, heel naïewelik wil dit voorkom, in sy liefde vir vroue deurgaans vernietigende verhoudings aan te knoop.

Maar, en dit is só diepsinnig, die skrywer van Rigters verseker ons, dat op ‘n manier die Here juis met sy swakheid ‘n plan gehad het.  Hy verklaar selfs in 14:4 dat die Here hierdie insidente beskik het, omdat Hy ‘n geleentheid wou skep om die Filistyne te straf.

Wat beteken ons moet versigtig oordeel.  Telkens is dit weens die strik wat ‘n vrou vir hom stel, dat hy ‘n hele boel Filistyne kan vernietig.  En dit is waarvoor God hom geroep het.  Die Here het dus in en deur Simson se menswees die verlossing van Israel beplan.

En op ‘n manier verrig hy sy grootste verlossingdaad toe hy op sy swakste is, oë uitgesteek, in die tempel van Dagon, en in sy laaste doodskreet die hele tempel op die Filistyne aftrek.  In sy dood raak hy eintlik ‘n Christusfiguur, Christus wat ook deur sy dood die oorwinning behaal het.

Waar laat dit ons?

God steek grense oor na randfigure.  Hy gebruik hulle in sy koninkryk, selfs mense wat ons vandag net sou afskryf.  Gideon, Jefta en Simson.

As dit die aard is van God, as dit is hoe Hy werk, kan ons nie eintlik anders werk nie.  Ons sal moet leer om sagter te oordeel oor mense.  Ons sal moet leer om self grense oor te steek na mense wat ons uit ons gemaksones neem, waar ons bereid is om selfs verander te word op pad na die koninkryk van God.

Dié week gaan ons gesels oor verskillende grense – en ek nooi jou uit om baie bewus te wees deur die dag watter mense oor jou pad kom, dat ons daaroor kan gesels en daar ‘n verandering kan kom.

Dit is die uitdaging.  Stap die pad saam met my.  So kan die wonder gebeur, dat God ons gemeente ook oor sy grense stuur en ‘n verskil maak in hierdie wêreld.

Daar is altyd ‘n wêreld

Wat jy nog nie ken nie

Daar is altyd ‘n taal

Wat ons nie verstaan

Een deel van jouself

Waarvan jy vergeet het

Daar is altyd ‘n pad

Wat jy nog kan gaan

Daar’s altyd ‘n lewe wat jy nog kan leef

Daar’s altyd ‘n grens om verby te beweeg

Stef Bos – Komatiepoort 2009

Gebed

Dankoffer

Lied 443 – Wind kan jy nie sien nie – niemand sien dit raak – koor

Slotlied

Lied 440 – Die Here salf ons met sy Gees tot diens en heiligheid – staan

Seën

Amen

Lied 189 – Halleluja – staan

Aankondigings

Teepotte

Vannaand 18:30

Jesus steek grense oor deur gender – die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put

Stukkie ekstra

God werk in Rigters natuurlik nie net deur randfigure nie.

Ons lees darem ook in Rigters van Otniël wat ‘n besondere leier was, al weet ons min van hom.  Otniël was ‘n seun van Kenas, ‘n jonger broer van Kaleb.  Kaleb was een van die verkenners wat die aanvanklike poging ondersteun het om die beloofde land binne te trek .  Otniël is dus een van die oorlewendes uit die woestyntyd, saam met Kaleb.  En dit is betekenisvol.   God het hom die geleentheid gegee om die beloofde land binne te trek.

Maar ons weet egter genoeg van hom om die volgende vier goed van hom te kan sê:

  • Hy was dapper. 
    • Toe sy oom Kaleb iemand vra om die stad Kirjat-Sefer in te neem, het hy dit gedoen.
  • Hy het baie vernuf gehad.
    • Kaleb het sy dogter, Aksa, wie se naam beteken “ornament”, uitgeloof vir die oorwinnaar.  Otniël het dus ‘n baie goeie motivering gehad vir dié geveg.
  • Maar, Otniël het nie net ‘n oog gehad vir ‘n goeie vrou nie, wat sy lewe soos ‘n ornament kan versier nie, maar ook vir wat sy vir hom kon beteken.
    • Want toe sy by hom kom, oorreed hy haar om vir haar pa landbougrond te vra, en dié gee toe vir haar grond met standhoudende water.
  • Maar die belangrikste wat ons van hom lees, is dat die Gees van die Here op hom was. 
    • Daarom kon die Here hom gebruik om die volk te bevry toe daar ‘n bedreiging van die Mesopotamiërs kom.

Hy was dus die modelrigter, wat die skrywer van die boek as riglyn of maatstaf gebruik vir die ander rigters:
Die Gees van die Here was op Hom en hy het nie net die Mesopotamiërs oorwin nie, maar veertig jaar lank vrede geniet in die land.

Johannes 4 – Jesus steek grense oor deur gender – 24 Mei 09 – Pinkster 2

Sondagaand 18:30 – 24 Mei – Johannes 4 – Pinksterdiens 2

Laai hier die mp3 klankbaan af.

Verwelkoming

Die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat IN mense gebeur nie, maar wat TUSSEN mense gebeur.  Verhoudings tussen mense is die plek waar ware gemeenskap gebeur.

Elkeen van ons is ‘n ketting, ‘n band wat mense verbind.  Telkens as ons uitreik na mekaar in gemeenskap en versorging, en bereid is om grense oor te steek na ander, trek ons mense in, en gee dit sin en betekenis aan ander en ons eie lewe.

Om grense oor te steek: kultureel, eties, generasies, etnies, sosiaal, ekonomies, gender en noem maar self verder op, was en sal altyd die lewensbloed van die geloof in Christus bly.

Van die begin af was dit die patroon: waar gelowiges ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. in Handelinge 11 lees,  waar ‘n paar onbekende Joodse gelowiges in Antiochië met die Grieke oor Jesus gesels het, kom daar ‘n kerk tot stand. (11:19-20). En waar hulle dit nie gedoen het nie, het die kerk gekrimp of tot niet gegaan.

Ek wil jou dus uitdaag om ‘n reis dié week met ‘n paar mense in die gemeente te onderneem – ons noem die reis: Die Gees stuur ons oor Grense. Vir 5 dae gaan jy en ‘n paar van jou vriende fokus op die mense wat oor julle pad kom.  Elke aand gaan ek jou begelei om te gesels daaroor en te probeer agterkom wie dit is wat die Here oor jou pad stuur.  En ons sluit met ‘n heerlike Pinksterete Vrydagaand af met ‘n feesviering volgende Sondag.

Omdat sulke ontmoetings met mense geskenke uit die hand van die Here is, vra ons elke aand hoe dié ontmoetings jou geruk of getroos of geseën het.  En ons gaan praat oor hoe die Gees jou moontlik voorberei het daarop en wat jy dink die Here deur die persoon(e) met jou wil laat gebeur.

Telkens gaan ons ook vra wat die Here deur jou wil bevestig in die ander persoon en/of moontlik wil verander in jou.  En elke aand help ons mekaar om te leer wat ons beter wil leer doen.

Kortom – ons gaan op reis met mekaar om ‘n paar grense na ander mense oor te steek, wat uiteindelik geskenke van die Here word.

Dit beteken dat jy nou moet dink aan mense wat jy graag wil uitnooi op jou reis dié week.

Vannaand gaan ons die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou lees in Johannes 4 en baie spesifiek kyk na die wyse waarop Jesus teen die heersende gedagtes oor die plek van vroue, juis met haar gesels en deur ‘n vrou die dorpie Sigar bereik.

Lees Johannes 4:1-42

Jesus móés deur Samaria gaan

Dat Jesus deur Samaria moes gaan is nogal relevant – omdat dit beteken het dat Hy met ‘n kortpad (so ‘n 3-dag reis) na Galilea sou gaan.  Dit was nie iets wat die Jode maklik gedoen het nie, hulle het Samaria eerder vermy;  Samaria was ‘n “no-go” vir die Jode – ‘n area waar hulle gegril het vir die  “onsuiwerheid” van die Samaritane wat van ‘n gemengde ras was.

Dit is eintlik altyd so as ons oor grense beweeg – mense is anders en doen dinge anders in “Samaria”.  Daarom loop ons dikwels ‘n ompad eerder as om daar deur te gaan.

Dit is die sesde uur

Dit is betekenisvol dat dit die sesde uur was.  Dit beteken dat dit 12 uur die middag was.  In daardie tyd het vroue boonop twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise, soggens en saans, wanneer dit koeler was.  Die Samaritaanse vrou gaan skep dus water op die warmste tyd van die dag.

Sy vermy die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was.  Blykbaar was daar nog boonop ‘n ander put nader aan die dorpie, wat sy sou kon gebruik het.  Die water van Jakob se put was egter suiwerder … en verder van die dorp af.

Die broosheid van Jesus

Jesus is alleen, dit is in die middel van die dag, Hy is moeg en dors en hy het nie ‘n skepding om water uit die put te haal nie.  In een woord, Hy is kwesbaar in meer as een opsig.  Hy het die vrou se hulp nodig, en Hy kan in meer as een opsig in die moeilikheid kom, net omdat Hy met haar praat.

Dit is in hierdie broosheid wat Hy oor grense beweeg en die gesprek tussen Hom en die vrou plaasvind. Geen uit die hoogte posisie, eerder ‘n posisie van magteloosheid en kwesbaarheid.

Jesus praat met ‘n vrou

Dat Jesus met ‘n vrou praat, en dit nogal in die openbaar, was ongehoord.  Volgens Joodse tradisie mag ‘n Rabbi nie eers met sy eie vrou, dogter of suster gepraat het nie, laat staan nog as dit ‘n vreemde vrou was.

Vroue was eenvoudig nie gereken nie.  Mans het soms die Joodse gebed gebid: “Ek loof U, o God . . . dat U my nie ‘n vrou gemaak het nie”!

Ek het nie ‘n man nie

In die gesprek met Jesus kom ‘n mens boonop agter, dat sy saamgebly het met iemand.  Van een kant kan ‘n mens jou wenkbroue daaroor lig, maar van ‘n ander kant moet ons onthou, vroue het in daardie tyd baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans, wat beteken dat die man wat sy nou gehad het, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar “saambly”-status.

Sy is dus nie net verworpe nie, sy is ook uitgelewer aan die wense van die man saam met wie se gebly het.

Dit is Ek, Ek wat met jou praat

Maar dan die verrassende.  Jesus kies om aan ‘n vrou, aan dié vrou, Homself te openbaar.  Hy steek die grens van godsdiens en kultuur en belangrik van gender oor om haar lewe aan te raak.  Dit is ‘n radikale omkeer van die normale geslags- en sosiale posisies.

Oorrompel deur Jesus

En die vrou reageer in geloof.

Ephraem, die Siriese kommentator sê: ” At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” (aangehaal deur J.A. Findlay, Comm, 61 in Beasley-Murray, G. R. 2002 Word Biblical Commentary,  Vol 36, p. 66).

Sy dra groot vrug

Die wonderlikste van die verhaal is vir my, dat die oomblik as sy agterkom wie Jesus is, sy alles net so laat staan, en die mense in die dorpie van die Messias gaan vertel – dié mense wat haar verwerp het.  Sý steek nou die grens van verwerping en veroordeling oor na die dorpie toe.  Sy raak ‘n belangrike getuie wat die dorpie se mense tot geloof lei wat hulle lei tot ‘n diep wete dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.

In teenstelling met Nikodemus (hfst. 3) wat eers later vrug dra (7:50 in die Joodse Raad waar Hy vir ‘n billike hantering van Jesus vra, en 19:39 in die tuin van Josef van Arimitea waar Jesus begrawe is met die 50 liter mirre en aalwyn wat Nikodemus gebring het), toon die Samaritaanse vrou onmiddellik vrug in haar getuienis aan die dorpie.

En teenoor die eerste dissipels wat net enkelinge na Jesus gebring het (hfst. 1), bring die Samaritaanse vrou ‘n hele dorpie!

Die dissipels kon hier ook net kos uit die dorpie vir Jesus bring, wat Hy toe nie eers geëet het nie, maar die Samaritaanse vrou ‘n hele gemeenskap van mense!

En die gedeelte sluit met die dorpie wat in geloof en gasvryheid uitreik na Jesus en Hom vra om twee dae by hulle oor te bly.

Dit is hoe gemeentewees moet werk – grense van watter aard ook al wat oorgesteek word, en ‘n gemeenskap wat gestig word waar in gasvryheid mense mekaar as mense raaksien en waar God gedien en geëer word.

Uitdaging

Die uitdaging aan ons is, om te leer uit dié verhaal om ons gedagtes oor ander mense in pas te bring met die prentjie wat Johannes hier vir ons skets.

1.  Hoe ons dink oor vroue en mans

Dit eerste uitdaging is hoe ons dink oor vroue en mans.

Baie mense werk nog steeds met ‘n baie rigiede idee van hoe mans is en hoe vroue is.  Mans is sterk en vroue sensitief.  Daniël Louw lys die faktore wat hierin ‘n rol speel as volg:

  • Sterk – manlik, in beheer, moed, prestasie.
  • Sensitief – vroulik, subtiel, swakker, verleidelik, emosioneel.

Dié eienskappe is baie meer menslike eienskappe as wat dit net vroulike of net manlike eienskappe is.  En selfs as ‘n mens meer na die sterk kant of meer na die sensitiewe kant oorhel, mag dit nooit die basis wees om te diskrimineer teen iemand nie.

Soos Jesus hier die grens oorsteek na ‘n vrou, met haar sterk en sensitiewe kante, en deur haar die grens kan oorsteek na ‘n dorpie wat ook uit mense wat sterke en sensitiewe kante het – so moet ons dit ook doen.

Wat baie help om hierdie grens oor te steek, is om te besef dat mans en vroue in die eerste plek mense is en slegs in die tweede plek mans en vroue.  En om verder in ag te neem, dat beide geslagte ‘n sterk en sensitiewe kant kan vertoon … omdat hulle mense is.

2.  MENSE IS GESKENKE VAN GOD AAN ONS AL IS HULLE DIKWELS “DISRUPTIONS’

Maar wat ons nog meer kan help, is juis om met ‘n ander verwagting te leef.  Mense is immers geskep na die beeld van God – die ou teologiese gesegde is, mense is geskep as Imago Dei.  Dit is van alle mense wat ons pad kruis waar.

Dit is dus die tweede uitdaging.

Miskien help dit jou om daaroor te dink dat mense wat oor jou pad kom, geskenke van God aan ons is. Dikwels kom hulle onverwags oor jou pad en het jy nie tyd vir nader kennis maak nie en ás jy kennis maak het jy nie altyd die energie of die lus om ‘n gesprek aan te knoop nie. Dit neem nie weg dat élke mens wat ons pad kruis, geskep is na die beeld van God en heel moontlik God se geskenk aan ons is nie.

In ‘n wêreld waar die kitsbank jou waarsku dat alle vreemdelinge as gevaarlik beskou moet word, is dit belangrik om hierdie ingesteldheid van Imago Dei ‘n gewoonte te maak. ‘n Imago Dei blik in jou oë maak nogal ‘n verskil in die manier waarop jy na mense kyk, oor hulle dink en na hulle luister.

Dit geld natuurlik nie net vir die mense met wie ons ‘n natuurlike gevoel van toegeneentheid het nie, maar juis hulle by wie ons sou verby stap omdat hulle anders as ons is. Leer die gewoonte aan om hulle in die oë te kyk, gereed te wees om deur hulle “disrupt” te word en tyd te maak om na hulle te luister. Hierdie gewoontes is belangrik om die “geskenke” van God in ontvangs te neem.

3.  Bereid dat hulle óns bedien

Maar daar is nog ‘n uitdaging, nommer drie.

Vir sommige van ons sal dit moeilik wees, omdat ons gewoond is om te dink dat ons ander moet help. So die oë waardeur ons kyk, is oë wat probleme raaksien en met ons gawes en bronne die probleme wil regmaak. So kan ‘n mens nie ander as geskenke ontvang nie. Uiteindelik word mense eers geskenke aan ons as ons bereid is dat hulle óns bedien met hulle insigte, hulle gawes – ja as ons van hulle interafhanklik raak.

Dalk omdat ons met kritiek groot geword het, dink ons, dit is maar hoe ‘n mens lewe teenoor ander – deur hulle te kritiseer – so ‘n bietjie af te kraak. Elke mens met wie jy te doen het, is geskape na die beeld van God – IMAGO DEI – en is begaafd geskape om hulle begaafdheid uit te leef teenoor ander. Deur hulle gawes te waardeer en te ontvang as geskenke aan jou, ontvang hulle die bevestiging waarop so baie mense wag, naamlik dat hulle mens-waardig is.

Dit is in wese die roeping van hierdie Jesus wat oor grense beweeg, ook die grens na ‘n Samaritaanse vrou, om uit te reik na mense na wie die Here ons stuur en hulle dan te bevestig as mense, as IMAGO DEI, mense wat geskape is na die beeld van God.  So bring ons die koninkryk van God naby aan mense.

4.  Luister na mense wat nie ‘n stem in ons gemeentes het nie

Luister na “ander” verg die prysgee van mag

Dit beteken ook dat ons moet luister na mense wat nie ‘n stem in ons gemeentes het nie. Hulle ís daar en die Gees werk vir seker deur hulle, maar daar is nie noodwendig ‘n plek waar hulle meer as bloot verdra word nie. Omdat ek ‘n man is en boonop ‘n predikant, het ek persoonlik minder ervaring daarvan dat daar nie na my geluister word nie – om behandel te word asof ek nie daar is nie – as wat vroue en ander lidmate dit dikwels ervaar.

Vra maar vir vroue, jongmense, mense uit ‘n ander kultuurgroep en arm mense.  Mense is vriendelik met hulle, verwelkom hulle dalk selfs, maar doen nie noodwendig moeite om na hulle te luister nie. ‘n Vriend van my het as arm student in Nederland so ‘n ervaring gehad. Hy het sy beurs aangevul deur die badkamers en vloere van ‘n speelskool skoon te maak. Sy opdrag het gelui: Jy kan die skoonmaakwerk enige tyd doen wanneer die skool nie aan die gang is nie. “Ons wil graag hê jy moet dit so deeglik moontlik doen, maar ons het nie die behoefte om jou te sien terwyl jy dit doen nie.”

Ons gee dikwels soortgelyke boodskappe aan mense: “Jy is baie welkom hier, maar ons gaan jou bydrae nie noodwendig ernstig opneem nie.”

Luister gebeur wanneer dié wat in magsposisies is doelbewus afstand doen van hulle spreekreg, en dié daarsonder vrymaak deur na hulle te luister.

Luister na hulle

Ek sluit af.  In ‘n gesprek van ‘n gemeentelike leiersgroep in ‘n voorstedelike omgewing is daar eenkeer gepraat oor die pad vorentoe. Iemand merk toe op dat hulle ná al die jare nog nie daarin kon slaag om die groot groep mense van ‘n woonstelkompleks reg voor die kerk by die gemeente te betrek nie. “Ek moet sê, ek weet nie meer wat ons moet doen nie,” het ‘n leraar van die gemeente moedeloos amper kwaad opgemerk.

“Vra hulle,” stel die fasiliteerder toe half ongevraagd voor.

“Wat bedoel jy met vra hulle?”

“Ek bedoel dat jy na hulle sal uitreik, nie met jou planne nie, maar met die doel dat jy by hulle sal gaan leer wat hulle daarvan weerhou om deel van julle geloofsgemeenskap te word.”

Daar was ‘n ongemaklike stilte, waarna een van die kerkraadslede opgemerk het: “Ons is nie ‘n uitreikspan nie. Ons is ‘n raad wat besluite neem.”

Die goeie nuus van die evangelie kan nie oorgedra word sonder dat ons grense oorsteek nie.  En die grense is soms so basies as om ‘n vrou ernstig te neem, of iemand wat aan die onderpunt van die sosiale leer is.

Neem dus die tyd dié week, let op wie die Here oor jou pad stuur, steek die grens oor en praat met iemand wat jy nie normaalweg mee sal praat nie.  En kom gesels verder met die vriende wat die reis saam met jou onderneem: Die Gees stuur jou oor Grense.

Môreaand gesels oor die wyse waarop ons die grense na behoeftiges oorsteek, uit die voorbeeld van die eerste gemeente in Handelinge se eerste 6 hoofstukke.

Handelinge 6:1-7 – Jerusalem steek grense oor deur om te gee vir behoeftiges – 25 Mei 09 – Pinkster 3

Laai hier die mp3 klankbaan af.

Terugvoer

Ons leer deur ons eie stories te vertel.

Blote kennis help nie regtig baie ver nie.  ‘n Mens moet saam met die kennis en in afhanklikheid (houding) van die Gees vaardighede aanleer, soos om te let op die mense wat oor jou pad kom.  Soos jy dit inoefen en dit ‘n gewoonte raak, so begin jy leer hoe dit werk om oor grense te gaan.  En die wonder is dat só ‘n gewoonte vir ander ook geleer kan word (oordraagbaar).

Dink eers alleen na oor jou kontak met mense vandag.

Lys almal wat jy kon groet, waar jy oor ‘n grens kon gaan, waar jy ingenooi is in hulle lewe of huise of kantore, en jy die geleentheid gehad het om aan ‘n dieper verhouding te bou.

o   Vanoggend

o   Vanmiddag

Sommige sal baie kontakte gehad het en ander minder.  En dit is heeltemal OK.  As jy niemand regtig kon groet nie, of daar nie grense oorgesteek is nie, dink dan oor mense wat jy graag môre sou wou groet.

Dit kan iemand wees wat vreemd was of jou uit jou gemaksone uitgeneem het.

Vertel vir mekaar die storie van jou ontmoeting met die persoon(e).

Konsentreer veral op hoe dié ontmoeting JOU geruk of getroos of geseën het.  Vertel dit asof hy/sy nou by julle is.  Onthou die waardes van leerbaarheid, vertroue, deernis en openheid.

Dink na hoe God jou voorberei het vir die ontmoeting met die persoon (oop/kwesbaar).

Ek gaan tyd gee vir 3 persone om met ons te deel wat gebeur het – en wat julle geleer het van die Gees wat ons oor Grense stuur.

Skriflesing

Lukas, die enigste “heidense”  skrywer in die Bybel, skryf twee boeke in die Nuwe Testament: die Evangelie van Lukas en die Handelinge van die Apostels.

In die Evangelie van Lukas vertel hy die verhaal van die evangelie wat alle Jode bereik.

In die Handelinge van die Apostels vertel hy die verhaal van die evangelie wat alle kulture bereik.

Dit begin in Jerusalem, bereik die Griekse Jode, sprei dan na Samaria en bereik die baster-Jode.  ‘n Ethiopiese Jood volg, waarna die evangelie eenvoudige die kulturele en etniese walle oorspoel en regdeur Asië tot in Europa versprei.  Pragtig om te sien hoe die verhaal in Jerusalem begin en in Rome eindig – van Joodse hoofstad tot Wêreld hoofstad.

Die storie wat ons gaan lees is eintlik die hoogtepunt van die gemeente Jerusalem se geskiedenis.  Hierna sou dit baie moeiliker gaan, omdat daar ‘n grootskaalse vervolging sou uitbreek en die lidmate oor die hele wêreld versprei is.  Van ‘n grens-oorsteek-kant is dit natuurlik positief, maar van ‘n gemeente funksionering kant baie moeilik om te hanteer.

Op ‘n manier het dié gemeente uiteindelik gesterf sodat ander die lewe kon hê.

Kom ons lees Handelinge 6:1-7.

Woordverkondiging

Uitbreiding

Die gemeente het geweldig uitgebrei – meer as 5 000 Jode het al by die gemeente aangesluit (4:4).  Hulle het wel verskeie kere konflik belewe met die Joodse Raad wat hulle gedreig het (hfst. 3-5) – dit was immers ‘n beweging wat ‘n mens nie kon afmaak as van verbygaande aard nie –  maar die gelowiges kon nog ongehinderd  voortgaan met hulle daaglikse byeenkomste by die tempel, die maaltye wat hulle met blydskap en in alle eenvoud van huis tot huis geëet het en die lofprysing wat hulle tot God gesing het (2:46).

Mededeelsaam

Hulle het ook al konflik beleef met Ananias en Saffira wat gelieg het oor die hoeveelheid geld wat hulle juis vir die onderlinge versorging gegee het, maar dit is uitgesorteer, nogal brutaal (hfst. 5).  Daar het ‘n ongelooflike mededeelsaamheid geheers: mense het hulle besittings nie net vir hulleself gehou nie, maar daarvan verkoop, en die geld vir die apostels gebring om uit te deel volgens elkeen se behoefte (4:35).

Maar gou het ‘n volgende probleem sy kop uitgesteek: die Griekse weduwees is afgeskeep en ongelyk behandel met die Joodse weduwees in hierdie onderlinge versorging (hfst. 6).

‘n Bietjie agtergrond.

Hellenistiese weduwees

Die Griekssprekende gelowiges (ook Helleniste genoem) was buitelandse Jode wat hulle in Jerusalem kom vestig het, maar steeds Grieks gepraat het.  Hulle was ook baie keer meer bejaard, hulle het daar kom aftree, en daarom was ‘n hele paar van hulle weduwees.  Weens hulle ouderdom was hulle getalle miskien ook meer as die Joodse Hebreeuse weduwees.  Die buitelandse Jode het selfs hulle eie sinagoges gehad, soos ons in hoofstuk 7 lees, hoewel die Griekse Jode waarvan ons hier lees, nou natuurlik deel van die gemeente van Jerusalem geraak het.

Interessant is dat die woord dissipels of leerlinge eintlik hier gebruik word – μαθητῶν.  Dit word hierna in Handelinge die algemene woord waarmee alle gelowiges beskrywe is, anders as in die Evangelies waar dit net vir die 12 dissipels gebruik is.  Later sou in Antiochië die naam Christene ook gebruik word, volgelinge of dissipels van Christus wat die algemene naam vir gelowiges in die wêreld geword het.

Joodse weduwees

Die Hebreeussprekende gelowiges weer was inheemse Jode, wat gebore en getoë is in Jerusalem en omstreke.  Eintlik het hulle natuurlik Noordwes-Aramees gepraat, hoewel Lukas van hulle as Hebreërs praat.

Hulle het die meeste invloed gehad in die gemeente.  Daarom was dit eintlik net natuurlik dat die Jode, dit lyk asof dit eintlik die apostels was, eerste gesorg het vir hulle eie weduwees, hulle het hulle ook seker beter geken, en sodoende ongelukkig die Griekssprekendes se weduwees afgeskeep het.

Versorging van weduwees

Nou voordat julle dink dat dit ‘n storm in ‘n teekoppie was:

Die versorging van weduwees was baie belangrik in die antieke tyd, omdat weduwees nie ‘n eie inkomste gehad het nie en totaal uitgelewer was aan hulle families en die gemeenskap.  Die Jode het selfs ‘n sisteem gehad dat ‘n arm mens op ‘n Vrydag 14 etes kon gaan haal het vir die komende week, juis om vir sulke gevalle te begroot. Maar die Christen-gelowiges kon nie meer dié diens gebruik nie.

Die buitelandse Griekse weduwees was nou uitgelewer aan die wyse waarop die inheemse Joodse gelowiges die kos versprei het.  Dit wil voorkom asof hierdie daaglikse versorging (vers 2) in die huise van ryker gelowiges plaasgevind het.  Die woord wat vir versorging gebruik word, is letterlik eintlik die bediening van die tafels.  Van die woord bediening (διακονία) word ons woord vir diakens afgelei, hoewel die woord ook vir die bediening van die woord gebruik word.

Sewe mans word gekies

Die gemeente maak dus ‘n plan:

Die apostels maak kapsie teen hulle eie betrokkenheid daarby, omdat dit hulle tyd so in beslag geneem het, dat hulle nie meer genoeg aandag kon gee aan die gebed (die soek en onderskeiding van God se wil) en die bediening van die woord nie.

Hulle moes dus ‘n keuse maak – hulle bedien óf die tafels, óf hulle bedien die woord.

Die hele gemeente word daarom bymekaar geroep om die saak uit te pluis en ‘n ander reëling te kry.

Hulle besluit om sewe mans te kies, wat 1) bekend moes wees – d.w.s. ‘n mate van gesag moes hê – 2) hulle moes vol van die Heilige Gees wees – dit is ‘n term wat gereeld gebruik word in Handelinge – en 3) hulle moes wysheid hê – hier word heel moontlik gedink aan praktiese wysheid.

Die sewe (lyk na ‘n amptelike titel – vgl. Filippus wat in Hand 21:8 as “een van die sewe”  aangedui word) het almal Griekse name, wat heel moontlik beteken dat hulle Helleniste was, d.w.s. buitelandse Griekse Jode, en met hulle aftrede in Jerusalem in die Here Jesus begin glo het.  Die enigste uitsondering is moontlik Nikolaus, wat ‘n Antiochiër van geboorte was wat die Joodse geloof (hulle is proseliete genoem) en daarna die Christelike geloof aangeneem het.

Interessant is dat die Joodse stadsbestuur uit sewe mans bestaan het, wat moontlik kan verklaar hoekom daar nou juis sewe gekies is. Of miskien is dit maar net die feit dat 7 as ‘n heilige getal bekend gestaan het.  Navorsing het in elk geval gewys dat 7 ‘n optimum getal is vir ‘n groep, omdat die verbindingslyne onderling dan nog hanteer baar is.

Hande opgelê

Die sewe word die hande opgelê om hulle vir hulle taak toe te rus.  Dit was ‘n ou gebruik.  Ons lees bv. van Moses wat Josua die hande opgelê het toe die leierskap na Josua oorgedra is (vgl Num 27:23; Deut 34:9).  Die volk het ook die Leviete die hande opgelê met hulle toewyding (Num 8:10).  Met die uitstuur van die eerste sendelinge in Handelinge 13, Saulus en Barnabas, doen die gemeente dit weer (13:3).

En die krisis is afgeweer.

Later sou Paulus verdere riglyne neergelê vir hoe gemeentes weduwees moes hanteer (1 Tim. 5:3-16), wat die wyse waarop gemeentes na behoeftiges uitreik, verdere rigting gegee het.

Lukas sê: die woord van God het verder versprei, die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem, selfs ‘n groot aantal priesters het gelowig geword – hulle word ‘n mega-gemeente!

Wat leer ons hieruit vir ons eie oorskryding van grense?

1.  Ons moet grense in eie geledere oorsteek

Handelinge 6 is die afsluiting van die eerste fase van die uitbreiding van die evangelie na Pinkster, wat in 6:8 nou ‘n volgende grens, dié na Samaria en Afrika, gaan oorsteek.  Dit is dus baie insiggewend dat dié verhaal juis hier vertel word.

Dit is amper asof Lukas wil sê, mense, julle kan nie evangelie oor die volgende grens neem, as julle nie bereid is om die grens binne julle eie geledere eers oor te steek nie, dié grens tussen die Hebreeussprekendes en die Griekssprekendes, meer spesifiek rondom die versorging van die weduwees.

Ek weet nie watter behoeftes die Here op jou hart lê nie.  Maar wat dit ook al mag wees, dit is dié behoeftes waarvoor ons grense moet oorsteek.

Een grens wat ek vermoed ons al so gewoond geraak het, is die grens tussen Klema en Somerstrand gemeente.  Dit is wonderlik dat ons Pinkster saam vier.  Maar dit is regtig die enigste tyd in ‘n jaar wat daar sinvolle kontak tussen ons onderskeie lidmate is.  Ons vergaderings het die minimum kontak weens ‘n ongelyke verteenwoordiging.

Het dit nie tyd geword dat ons met meer moeite die grense onderling na mekaar oorsteek nie?

Om dit te kan doen, sal ons moet leer hoe om brugbouers te word.

2.  Die Here vra van ons om brugbouers te word

Hierdie manne was brugbouers, nie diakens, soos baie maal aangevoer word nie. Hulle bou brûe tussen die Grieke en die Jode in die versorging van die weduwees.

‘n Mens sien dit ook in die optredes in die volgende paar hoofstukke.

  • Stefanus slaan die brug oor na die vrygelate slawe, dit was Jode wat van Noord-Afrika en Egipte af gekom het, maar dit lei tot teenstand en uiteindelik steniging deur die Joodse Raad.
  • Filippus word egter nie daardeur afgeskrik nie: en hy bereik Samaria en Ethiopië, maar daaroor meer volledig môre-aand.

En let op hoe die Gees verskillende strategieë gebruik – as die swart slawe uit Noord-Afrika en Egipte nie wil luister nie, dan kies die Gees ‘n Ethiopiër, ‘n ontmande, praat nou van grense wat oorgesteek word!, en bereik deur hom sy doel.

Om oor die grense van ons eie gemeenskap te beweeg lyk vir ons na ‘n moeilike taak en dit is ook.  Daar is egter ‘n ander werklikheid – die werklikheid van die Gees wat brûe bou ten spyte van.

2.1  Selfgerigtheid sit in ons Gene

Die effek van die Christendom is ongelukkig deur die eeue dat dit die kerk en gemeentes selfgerig maak – ons vind ons bestaan in onsself – en dit sit baie dieper in ons gene as wat die meeste van ons sal wil toegee.

Maar, soos ons hier in Handelinge kan sien, is dit die Gees wat hierdie gemeenskap bou oor grense heen, as ons Hom maar net toelaat.

Hoe doen Hy (en ons) dit?

2.2  Brûe bou begin met praktiese behoeftes

Dit is nie altyd so maklik om brûe te bou nie.  Maar ek het  hierdie pragtige verhaal onlangs gelees wat ‘n mens moed gee.

n Leraar van ‘n gemeente in Namibië, wat in ‘n eerlike worsteling is om los te kom van selfgerigtheid, maar wat nie aldag slaag daarin nie – twee tree vorentoe en dan weer drie terug soos met baie van ons – raak betrokke by ‘n gemeenskapsentrum in Katatura, ‘n swart woonbuurt in Windhoek.

Hulle vra hom om betrokke te raak by hulle dagsorgsentrums, en spesifiek by die opbou en instandhouding van die sentrums se infrastruktuur. Die plekke is weinig meer as ‘n kaal stuk grond met ‘n plat sinkplaat dak en ‘n paar mure nie.

Aangesien hy ‘n praktiese mens is, is hy van baie waarde vir die skole en word hy gou ‘n vertroueling vir van die leiers en personeel.  Hy maak toilette reg, ry bou materiaal aan en so leer hy ook die kinders ken, word lief vir hulle, spandeer tyd saam met die personeel en die kinders.  Dit word ‘n passie – ‘n nuutgevonde passie vir ‘n leraar aan die verkeerde kant van 50.

2.3  Sokker klub bou brug na nuwe wêreld

Om ‘n lang storie kort te maak, is hy onlangs gevra om president te word van een van die gemeenskap se sokker klubs! ‘n Middeljarige wit predikant van die NG Kerk, president van ‘n sokkerklub in Katatura.

Daar is verskillende maniere om na hierdie verhaal te kyk.

Een daarvan sou wees dat ‘n mens wonder wat die werklike motivering van die klub is.  Sien hulle nie maar net dat hulle deur hom vinnige toegang tot hulpbronne kan kry wat hulle voorheen nie beskore was nie?

Of … sê nou maar net dit is die manier waarop die Gees God se nuwe wêreld bou, deur ‘n middeljarige wit man te gebruik om ‘n brug te raak tussen twee gemeenskappe wat mekaar eintlik nog nie ken nie?

2.4  Dit beteken dat ons sal moet identifiseer met die “ander”

Paulus skryf in Filippense 2 dat ons ons soos Christus moet leeg maak (die Griekse woord is kenosis) ter wille van ander in die koms van die Koninkryk. Wanneer ons oor grense uitreik na mense sal dit belangrik wees dat ons dit in gedagte hou.

Kenosis – om jouself leeg te maak – is ‘n ingesteldheid.  Dit is om nie net behoeftes as ‘n probleem te sien wat jy buite jouself oplos sonder dat jy daardeur aangeraak word nie.  Dit is om volledig te identifiseer met die behoeftiges en vanuit daardie houding te leef.

Daar word vertel dat in die Tweede Wêreld Oorlog die vervolging van die Jode in Denemarke anders verloop het as in ander lande.  Toe die Duitsers aangedring het daarom dat die Jode almal die Dawid-ster moes dra, het die koning van Denemarke daarop gereageer deur die eerste een te wees om self ‘n ster te dra en sy volk opgeroep om almal die ster van Dawid te dra. Nodeloos om te sê, so het hy dit byna onmoontlik gemaak vir die Duitsers om die Jode te identifiseer!

Kenosis is dus die teenoorgestelde as selfhandhawing en selfvervulling, maar ‘n gesindheid om ter wille van die ander of in die plek van die ander te gaan staan en leef – soos wat Christus mens geword, slaaf geword en in ons plek gesterf het.

Neem  bv. die vestiging van ‘n gemeenskap tussen meer as een generasie.  Generasies kan mekaar nie hoor of verstaan as ons nie bereid is om vanuit die ander generasie se voorveronderstellings na sake te kyk nie.  Om dit te kan doen, moet ons ons ontledig van ons  eie spreekreg, magsposisie, en teologie.  Dit moet gesuspendeer word, sodat die ander generasie in die veilige ruimte kan beweeg van ‘n nuwe ander wat ruimte maak en luister.

Christus het immers nie van ons verwag om soos Hy te word voordat hy nie eers soos ons geword het nie.  Selfontlediging ter wille van die skep van ‘n gemeenskap met diegene na wie die Here ons stuur, is die pad waarop die gemeente sal moet loop in navolging van Christus sodat die potensiaal kan ontstaan dat die nuwe gemeenskap kan gebeur.

3.  Ons moet die grens oorsteek na behoeftiges

In Handelinge was die behoeftiges veral die weduwees.  Vandag is die behoeftiges in ons gemeente miskien nie soseer arm nie, maar miskien alleenlopers.

Maar in die breër gemeenskap is mense steeds arm, het baie keer ook MIV en Vigs, gaan gebuk onder geweld en werkloosheid en het net so nodig dat ons uitreik om iets aan hulle behoeftes te doen.

3.1  Ons moet armoede leer verstaan

Luke Pato maak die punt in die boek Faith in Action dat die “single common issue for all Africans, the single common experience, the single defining question, is the issue of suffering.”[1] Hy is oortuig dat dit nie help om dit te ignoreer of selfs te probeer ontsnap nie.

Dit het met baie faktore te make, maar armoede en die uitbuiting daarvan deur ander mense vorm baie keer die hart daarvan.  Soos Nobelprys-wenner JM Coetzee in The Master of Petersburg sê: “The poor live in their hunger as fish live in water.  The real forces have their origin in the centres of power, in the collusion of interest that takes place there.”[2]

Daarby is daar die tradisionele gebruik in Afrika om jou pyn met trots te dra, iets wat ironies genoeg negatief kan inwerk op mense se bereidheid om hulp en ondersteuning te aanvaar.

Jy ken self die uitdagings van jou omgewing: armoede, MIV en Vigs, geweld, werkloosheid.  Kyk môre uit vir mense wat die Here oor jou pad stuur wat ly aan van die grootste uitdagings in ons omgewing.

En raak betrokke, en leer hoe die Here jou wil gebruik om te groei in ‘n mens vir ander mense. Maphela Ramphele noem dit: “a ministry of service to the least amongst us.”[3]

Môre kan ons dan gesels oor wat die Here jou geleer het en vir wysheid bid hoe om op praktiese maniere te groei oor grense heen.

3.2  Ons moet verlos word van ons skaarsheid mentaliteit

Iets wat ons baie kan help hiermee, is om verlos te word van ons skaarsheid mentaliteit.  Kyk die enigste rede hoekom ‘n mens jou hand toehou as jy met behoeftes gekonfronteer word, waarvoor jy wel die middele het om te help, is as jy dink daar is nie genoeg vir jou en vir hulle nie.

Vanuit God se hoek is daar oorvloed.  Hy het die vermoë om te sorg … en Hy doen dit ook … baie keer deur jou bydrae.

3.3  Armoede is ook sistemies

Maar terwyl ons weet dat die verskil wat jy aan een mens se lewe maak, ‘n groot impak het op die hele sisteem, is dit ook so dat armoede en sy meelopers MIV en Vigs en geweld en werkloosheid, ‘n sistemiese probleem is wat op ‘n groter skaal hanteer moet word.

Van die grootste probleme rondom armoede is die privatisering deur groot maatskappye van allemansgoed soos lug, water en grond.  Dit maak die lewe van die mense aan die onderkant van die sosiale – en gemeenskapsleer onmoontlik, en skep die omgewing vir wat ons ken as armoede.

Die van ons wat ‘n invloed het op die sisteem, of dit nog gaan hê, kan gerus die aanhaling van Nicoloas Berdyaev in gedagte hou: “food for myself is a physical concern; but food for my neighbour is a spiritual concern.”   Ons moet beter doen met die uitwissing van armoede en van behoeftiges se legitieme regte.  Soos ons ook hier in Handelinge sien.

Armoede het ‘n ontmenslikende effek.  Dit skend jou menslike waardigheid, dit benadeel jou lewe, dit maak jou liggaamlik en geestelik siek, dit vertroebel familie-wees en verhoudings, dit benadeel kinderopvoeding en belemmer ontwikkeling wat weer in ‘n bose siklus jou weerloosheid verhoog en werkloosheid bevorder en morele waardes bedreig.  Die syfers is ontstellend:

  • 56 persent van die wêreldbevolking is hieraan blootgestel.
  • Armoede lê op twee vlakke: absolute armoede (ekonomiese kapasiteit) en relatiewe armoede (volgens menslike standaarde).
  • Belemmerde ontwikkeling kom onder ander uit sosiale ongeletterdheid (die onvermoë om inligting te bekom hoe jou gemeenskap werk).
  • Armoede en rykdom is integraal aan mekaar verbind waar armoede ‘n negatiewe begrip is en rykdom ‘n positiewe een.

En ons kan iets hieraan doen.  Ons kan bid.  Ons kan gee.  Ons kan ons houding verander teenoor arm mense en hulle menswaardig hanteer.  Ons kan eenvoudige hulp verleen.

Ek sluit met die wonderlike storie van Cambridge gemeente in Oos-Londen wat my na aan die hart lê.

‘n Groot woonstelblok in hulle gemeente het ‘n groot klomp minder-bevoorregte gesinne.  Hulle het uitgereik na hulle en ‘n na-skoolse projek geloods in hulle kerksaal, waar skoolkinders toegang het tot rekenaars, in veiligheid kan studeer en op die koop toe ‘n ete kry.

Refleksie

Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet.

  • Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur?
  • Wat wil jy bevestig by dié mense?
  • Wat moet in jou verander?
  • Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen?
  • Na wie toe stuur die Here jou weer terug?

Deel met mekaar in kort.

Môreaand

Filippus steek grense oor deur ander etniese groepe te bedien

Handelinge 8

Ons leer by Filippus hoe die Gees hom lei om die etniese grens na die Ethiopiese amptenaar oor te steek (Handelinge 8) en deur hom na Afrika – en ons dink na oor die 3 groot vrese van Afrika: 1) voorvaders, 2) heksery en towery, 3) onreinheid.

[1] Pato, LL 2008 “The unbearable lightness of being African.” in Faith in Action.  Njongonkulu Ndungane – Archbishop for the Church and the World. p 242. SR Jones (ed).

[2] Aangehaal deur Louw, D 2008 in sy hoofstuk “Sickness and health in an African Context” in Cura Vitae.  Illness and the healing of life in pastoral care and counselling, p 153.

[3] Ramphela, M 2008 “Leadership in our Time.” in Faith in Action.  Njongonkulu Ndungane – Archbishop for the Church and the World. p 279. SR Jones (ed) Lux Verbi.BM: Wellington.

Handelinge 8:26-40 – Filippus steek grense oor deur ander etniese groepe te bedien – 26 Mei 09 – Pinkster 4

Teks

Handelinge kan opgedeel word in ongeveer 6 breë bewegings wat telkens afsluit met ‘n paar opsommende opmerkings van Lukas oor die vestiging en uitbreiding van die woord van God en die getal gelowiges.

Elke keer is dit asof Lukas ‘n pouse daarmee skep voor die verhaal in ‘n nuwe rigting beweeg: geografies, etnies, kultureel, eties,  intellektueel, en polities.

Eerste beweging: 1:1-6:7 – Jode in Jerusalem

Die goeie nuus oor Jesus versprei na ander Jode in Jerusalem deur die werk van Petrus en Johannes en die ander apostels.  Dit sluit ‘n hele lys van “godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son” (2:5) in wat op Pinksterdag na Petrus-hulle luister: Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere.   ‘n Verlamde man word genees wat tot ‘n groot stuk getuienis teenoor die Joodse volk en twee keer teenoor die Joodse Raad lei.

Dit sluit af met die opmerking in 6:7 – “Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ‘n groot aantal priesters het gelowig geword.”

Drie grense word hier oorgesteek:

1.      Die eerste interne Joodse gemeenskapsgrens na Jerusalem en die Joodse Raad word deur die gemeente oorgesteek, sowel as

2.      die eksterne Joodse gemeenskapsgrens na die godsdienstige Jode uit al die ander nasies.

3.      En die gemeente self steek die grens oor tussen die Hebreeussprekendes en Griekssprekendes deur hulle weduwees gelyke behandeling met die daaglikse versorging te gee.  En sewe Griekssprekendes word aangestel om dié werk te verrig, waaronder Filippus waarvan ons nou gaan lees.

Tweede beweging: 6:8-9:31 – Jode in Judea, Samaria en Afrika

Die goeie nuus oor Jesus versprei geografies, na die vervolging wat met Stefanus se marteldood begin, merendeels na Jode in Judea, Galilea en Samaria (van gemengde Assiriese en Joodse afkoms) sowel as Afrika (Etiopiese amptenaar – heel moontlik een van die godsdienstige Jode op pad terug na die Paasfees nadat hy God daar gaan aanbid het) met die Griekssprekende evangelis Filippus se grensoorskryding wat veral uitgesonder word, hoewel 8:4 sê dat dit ‘n beweging van gewone gelowiges was: “Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig.”

Die beweging sluit af met die opmerking in 9:31 – “In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk ‘n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe, die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.”

Die horisontale geografiese uitbreiding begin sy aanvang neem, maar hier word die grense nog merendeels na Jode in ander dorpe en stede oorgesteek, wel ook na Jode van ‘n ander etniese groep.

Oor Filippus:

Twee spesifieke stories van Filippus se grensoorskryding, een van die sewe brugbouers (nie die apostel nie), ‘n Grieksprekende Jood, word vertel:

1.      Sy uitreiking na ‘n stad in Samaria (moontlik Samaria self, wat in dié tyd oorwegend Grieksprekend was;

a.      Dit kon Sigem gewees het, naby Sigar, wat tot vandag toe eintlik die middelpunt van die Samaritaanse lewe was. Dit word vandag Neapolia genoem.

b.      Interessant is dat Sigem ook met Abraham verbind word [Gen 12:6] en dat Stefanus juis in sy toespreek na Sigem verwys [7:16]).  Dit word nou die plek waar die evangelie vir die tweede keer aan die Samaritane verkondig word.  Jesus het dit die eerste keer in Sigar gedoen aan die Samaritaanse vrou by die put.

c.       Dit bly verrassend dat Jesus in Matt 10:5 eintlik sy dissipels verbied het om die evangelie aan Samaritane te verkondig, maar tog self die ontmoeting met die Samaritaanse vrou gebruik het om die dorpie te bereik.  En hier kom die evangelie nou na hulle toe in die persoon van Filippus.

2.      die Etiopiër op die pad na Gasa toe, wat ‘n volgende grens is wat oorgesteek word, sosiaal-maatskaplik, etnies en ook godsdienstig (‘n ontmande was nie welkom in die Joodse gemeenskap nie).

Lukas het dié stories heel moontlik gehoor toe hy later by Filippus en sy 4 profetes-dogters in Sesarea oorgebly het (21:8).

Kom ons lees die verhaal – Handelinge 8:26-40

Woordverkondiging

God se beplanning

Die eerste perspektief wat ek op die tafel wil sit, is dat dié ontmoeting met die Etiopiese amptenaar haarfyn deur God beplan is.

Eers praat die Engel van die Here, baie keer met God self geassosieer in die OT, met Filippus om na die pad van Jerusalem af na Gasa te gaan.

Dan praat die Gees (λέγω) direk met Filippus, en beveel hom om te gaan loop saam met die wa van die Etiopiese amptenaar (8:29).

En na die Etiopiër tot geloof kom en gedoop is, neem die Gees van die Here vir Filippus weg (ἁρπάζω) (8:39).

Dit is nogal ‘n algemene ding in Handelinge – dat God mense inspan om Sy beplanning uit te voer.  Die gemeente en die leiers wag op God voordat hulle optree.

Begelei om te verstaan

Die tweede perspektief wat ek op die tafel wil sit, is die groot klem wat Filippus plaas op begrip van die evangelie.

Een van die groot hermeneutiese vrae van ons dag is volgens Dirkie Smit: “Verstaan jy eers iets as jy spesifieke metodes gebruik het om dit te verklaar of nie?” (Neem, Lees, 2006:66)

Daaragter lê die konflik tussen verklaar en verstaan, tussen die meer objektiewe, beskrywende verklaring van iets en die meer subjektiewe, toe-eienende, toepassende verstaan van iets.

Filippus se intree-vraag aan die Etiopiese amptenaar bly relevant tot vandag toe nog: “Verstaan jy wat jy lees?” (:30)

Deur ‘n interessante woordspel op die woord γινώσκω (verstaan) in die oorspronklike Griekse vraag: γινώσκω ἀναγινώσκω (verstaan jy wat jy lees), wys Filippus hoe verstaan nie gelyk is aan lees nie.

Die antwoord van die amptenaar is netso relevant.  “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” (:31) antwoord hy vir Filippus.   Die woord wat hy gebruik vir “uitlê” is ὁδηγέω, wat beteken om te “lei” of “begelei” (soos ‘n gids).  En dít is presies die tipe begeleiding wat Filippus vir hom gee.

Hy klim saam met die amptenaar op die wa en begin ‘n lewensveranderende reisgesprek met die amptenaar.  Hy sluit aan by die vrae wat die amptenaar het oor die lees van die teks (Jes 53:7-8) en beweeg daarvandaan na die evangelie van Jesus Christus.

Die evangelie gaan vir hierdie amptenaar oop, en dit is interessant dat hy vra of iets nou gaan verhinder dat hy gedoop word.  En met ‘n eenvoudige geloofsbelydenis klim Filippus en hy by ‘n riviertjie af en hy word in die koninkryk van God ingedoop.

Filippus steek grense oor

Die derde perspektief wat ek op die tafel wil sit, is die grense wat in dié verhaal oorgesteek word:

  • Hy was kennelik ‘n vername man wat hoër op die sosiale leer was as Filippus. Hy was ook heel moontlik ryk, omdat hy die minister van finansies van sy koningin was. Daarby was hy van ‘n ander ras. ‘n man van Kus uit Afrika, Ethiopië aan die onderpunt van Egipte.
    • Interessant is die storie wat in Jeremia vertel word van ‘n ander Etiopiër Ebed-Melek (slaaf van die koning), wat ook ‘n ontmande was en in die paleis gewerk het. Met Jeremia se ontberinge in die put het hy ‘n bevel van die koning gekry om hom daar te gaan uithaal, waarna Jeremia toe in die koning se binneplaas gebly.
  • Maar die belangriker grens in terme van die Bybelse verhaal, is dat hy ‘n ontmande was. En laat ons onmiddellik onthou, dit het beteken dat hy nie in die Ou-Testamentiese volk van God opgeneem sou kon word nie (Deut. 23:1).
  • Die interessante is dat hy in Jesaja lees, en die vraag is of hy nie ook die gedeelte in Jes. 56:3-5 gelees het wat juis ‘n toekoms vir ontmandes voorspel: “‘n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ‘n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ‘n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie.”

Filippus volg die leiding van die Gees en steek hierdie grense oor om hierdie man met die evangelie van Jesus Christus te bereik.

Die betekenis vir ons

Ek dink dit lê op drie vlakke:

  • Om na God te luister en Hom te volg in sy leiding. Ons het gister al verwys na die apostels wat op gebed en die woord sou konsentreer. Die orde is nogal vir my relevant: om God se wil uit te vind is die sentrum van die lewe. Daarsonder kan ‘n gemeente nie sy roeping vervul nie. Dit is onder andere waarom ons sulke geleenthede soos Pinkster het, maar ook ons eredienste en kleingroepe. Die Biddend Luister is een plek waar al dié goed bymekaar kan kom.
  • Ons moet erns maak met ons begeleiding van mense om regtig te verstaan. Dit beteken dat ons aan ons taal en musiek en kommunikasie moet werk, sodat mense KAN hoor.
  • Die derde vlak waaraan ek meer aandag wil gee, is die grense wat ons moet oorsteek.

Etnisiteit

Etnisiteit was eintlik ‘n grens wat Filippus maklik oorgesteek het.  Eintlik is dit waar van al vier grense wat ek hier bo genoem het.  Die godsdienstige grens het ‘n groter potensiaal gehad om hom af te sit, maar dit het nie.

As ons egter na ons dag kyk, is dit steeds ‘n grens wat baie mense onder ons moeilik oorsteek.

Ons sukkel steeds met kleur in ons land.  Selfs die stemmery in die onlangse verkiesing volg basies kleur skeidslyne.  Miskien verander dit nou ‘n bietjie met die nuwe party Cope, maar die uitsonderings bevestig eintlik nog steeds die reël.

Nie dat ons nie weet dat dié eenheid wat God bring rondom die evangelie, soos die verhaal van die Etiopiër ons weereens herinner, die grense van ras moet oorsteek nie, sodat kleur, etnisiteit, en kultuur nie in ons pad staan om ‘n ware reënboog gemeenskap as beeld van God te vorm nie.

Want dít is waaroor dit gaan – ons almal is die beeld van God, en elkeen van ons het ‘n bydrae om te lewer.  As een van ons ons afskei, en nie wil saamstaan om God te verteenwoordig op hierdie aarde nie, dan skend ons die beeld van God.

Ons kan leer by kinders

Ek het onlangs ‘n kragtige boek van ‘n African-American, Brenda Salter McNeil,  A Credible Witness, gelees, waarin sy op treffende wyse hieroor skryf.

En sy vertel ‘n storie van haar jong kind wat haar lof besing het by sy onderwyser, en dié toe vir haar genooi het om met die graad vier klas oor rassisme te kom praat.

En het hy haar gewaarsku, sy moenie droogmaak en hom in verleentheid bring nie!

Sy besluit toe om ‘n puzzle te bou met hulle en deel vir elkeen ‘n stukkie van die puzzle uit.  En begin toe haar praatjie om eers te praat oor puzzle bou, en uit te vind hoe hulle dit gewoonlik doen – om dan uiteindelik natuurlik ‘n boodskap daaruit vir hulle te onderstreep, oor rassisme – dat almal van ons mekaar nodig het as die beeld van God.

Maar terwyl sy begin verduidelik, sien sy agter in die klas ‘n klompie wat besig is met iets, sy weet nie wat nie, maar hulle luister nie na haar nie.  Sy loop toe nader en kom agter, hulle is besig om die stukkies van die puzzle in mekaar te begin pas, sonder dat sy nog vir hulle die opdrag gegee het om dit te doen.

En toe sy hulle daarna vra, sê hulle:  “The pieces are supposed to go together.  It doesn’t make any sense if we don’t put all of our pieces together.” (2008:85)

Om Christus te kies is ook om vir sy liggaam te kies

Wat ‘n tydige boodskap – uit die mond van kinders!  Ons is bedoel om saam te wees.  As ons nie al ons stukkies by mekaar sit nie, dan maak die beeld nie sin nie.

En ons as kerk moet dié woord goed hoor.  Tony Campolo sê in die voorwoord van Salter se boek: “A church that is not unified is a scandal and a contradiction of the gospel.”

Salter McNeil onderstreep ‘n sentrale waarheid in haar boek, dat om Christus te kies, is om ook vir sy gemeenskap te kies – en dié gemeenskap is opgebou uit elkeen wat die naam van Christus noem, wat kies om met Hom geassosieer te word, wat bely dat hulle deur Hom uitgekies is om deel van sy liggaam te wees.

En die ongelooflike voorreg van só deel van sy gemeenskap te wees, is dat ons eenheid, midde in ons diversiteit, ons verskille van ras en kleur en kultuur, een van die kragtigste maniere is om die werklikheid van wat Jesus vir ons in Paasfees aan die kruis bewerk het, en deur die Gees op alle mense met Pinksterdag uit te stort, te demonstreer … sodat die wêreld kan glo.

Ons het ‘n nuwe storie nodig

Ek dink ons as kerk het ‘n nuwe storie nodig in dié land van ons – ‘n storie wat sin maak, ‘n storie wat die moeite werd is om voor te lewe, ‘n storie wat vir ons vertel wie ons is en wat ons sin en betekenis in die lewe gee.  En dit is ons almal se storie, elkeen van ons het ‘n rol daarin, soos ‘n stokvel, om die gesamentlike storie te kan skryf wat sy oorsprong het in die feit dat God vir ons lief is net soos ons is, swart, wit, bruin en geel, en ons en ons stories is die moeite werd vanweë Christus

En ek dink die begin van daardie storie, is die storie van Jesus by die put in gesprek met die Samaritaanse vrou wat ons Sondagaand gelees het. En die storie word voortgesit met Filippus in Samaria en hier by die Etiopiër en verder aan met Petrus en Kornelius en Paulus in Asië en Europa, waarop ons die res van die week gaan konsentreer.

Ons moet grense oorsteek – want dit is hoe die evangelie werk!

Ek dink die Here gee vir ons met hierdie tekste ‘n model wat wys hoe ‘n mens ander moet lief hê oor grense heen, grense van godsdiens, en etnisiteit en sosiale en politieke affiliasie.  Jesus wys hier vir ons hoe om verhoudinge te bou wat wederkerig is en daag ons uit om ‘n diep verrykende verandering in ons gemeenskappe te begin.

Te veel keer preek ons die vertikale waarheid van die kruis, dat ons met God versoen is deur Jesus Christus.  En dit is waar – maar dit is net een deel van die waarheid.  Daar is ‘n horisontale werklikheid wat ook aangespreek moet word, die mure wat ons verdeel, is afgebreek en ons is nou een bloed-verwante familie in Christus … en om enigiets minder as dit te preek, is ‘n een-dimensionele boodskap.  Soos Salter sê: “(it) is not the cross but a “stick” that we can use to hit people over the head.” (2008:21)

Wat beteken dit vir ons?

  • Ons moet doelbewus uitreik na mense wat anders as ons is om die eenheid in Christus te beleef en te vier.
  • Ons moet wederkerigheid en interafhanklikheid ontwikkel – Jesus vra vir water, en later die vrou ook!
  • Ons moet ons gemaksones verlaat – d.w.s. ons moet ons Etiopiër vind! Ons praat baie van ons getuienis wat gehoor moet word in Jerusalem en Judea en tot aan die uiterste van die aarde, maar minder oor ons getuienis wat gehoor moet word in Samaria, dié plekke wat vir ons ongemaklik is, waar ons grense van andersheid moet oorsteek. Dit is dié plekke ná aan ons, maar wat ons uit ons gemaksone uitneem. Dit is Afrika.
  • Dit beteken dat ons mag moet prysgee en ander se behoefte moet omhels. En ons moet dit nie net doen, omdat dit “nice” is nie, maar omdat dit noodsaaklik is. Die evangelie is net evangelie as dit bereid is om oor grense te gaan.
  • Uiteraard bly só ‘n grens oorsteek storie ‘n risiko – dit was ook vir Jesus ‘n risiko, sy reputasie was op die spel in gesprek met die Samaritaanse vrou en hier vir Filippus met ‘n Etiopiese ontmande. Maar die uitkoms was die risiko werd, ‘n vrou wat haar waardigheid terug gekry het, wat God gevind het, ‘n getuie in haar omgewing geword het en versoening tussen haar Samaritaanse dorpie en die Joodse geselskap van Jesus gebring het. En die Etiopiër se getuienis het ‘n omkeer in die Ethiopië gebring, wat tot vandag toe nog vrug dra.

Uitdagings in Afrika

Ons is vasgevang in ‘n onontwykbare netwerk van gemeenskaplikheid, verbind in ‘n enkele kleed van bestemming (Martin Luther King Jr.: “We are all caught in an inescapable network of mutuality, tied into a single garment of destiny.  Whatever affects one directly, affects all indirectly).  Wat ook al vir jou affekteer, affekteer vir my, en andersom.

Ons sal daarom moet leer om die verhouding wat mense in Afrika met die onsigbare wêreld van die geeste het, te hanteer.

Die drie groot vrese in Afrika is volgens ‘n nuwe boek Mission in an African Way die vrese vir voorouers, vir heksery en toordery en vir onreinheid (bv. die dood, aborsie, miskrame, geboorte van tweelinge, ‘n lang reis).

Tradisioneel het ons ons wenkbroue daaroor gelig en dit as bygeloof, en nog erger, as onbeskaafd beskou en iets wat hulle net moet los.  Ek dink baie van ons dink steeds, hulle moet net bykom!

Maar ons sal moet besef dat dit vir Afrikane net so ‘n werklike manier is om na die wêreld te kyk, as wat ons eie meer wetenskaplike wêreldbeeld vir ons is. En hulle moet met respek en sensitiwiteit hanteer word.

Hierdie idees is een van die maniere waarop Afrika sin maak uit goed wat gebeur waarvoor hulle nie ‘n verklaring het nie; dinge soos toevallige gebeure, veral die voortydige dood van kinders, en onverklaarbare voorspoed of teenspoed.

En deur Afrika bloot te stel aan die evangelie, sonder om hierdie vrese ook aan te spreek, laat mense in ‘n vakuum.

Voorvaders

Nou ek dink ons besef nie hoe baie die voorvader ding ooreenkom met die rol wat tradisie in ons eie geskiedenis speel nie.  Die groot manne en vroue in ons eie verlede is ook maar soos voorvaders.  Want, en dit is belangrik, die voorvaders word nie soseer aanbid nie, maar geëer en vir wysheid gevra, wat baie keer deur drome gebeur.  Daar moet in harmonie met hulle gelewe word, want dit beteken dat die waardes wat vir hulle gegeld het, ook vir jou en jou familie sal geld.

En as ‘n mens die Bybel uit die hoek van ‘n Afrika-verstaan lees, toon die aanhalings van die OT en selfs Jesus oor Abraham, Isak en Jakob asof hulle lewendes is, nogal verrassende ooreenkomste met die rol wat voorvaders speel in Afrika.  Julle moet leef soos julle vaders geleef het – of op ander plekke: julle moenie leef soos sekere van julle voorvaders geleef het nie.

En die berg van verheerliking?  Jesus in gesprek met Moses en Elia, lank reeds oorlede, in die teenwoordigheid van 3 dissipels?  Afrika mense noem hulle die “living dead”.  Moeilik om te sê, daar is nie so iets soos voorvaders nie, as jy só na die Bybel kyk!

Een voorstel van Yusufu Turake, in die nuwe Africa Bible Commentary (geskryf deur 70 Afrika teoloë, 2006:480), is om Jesus as die vervulling van die voorvader kultus te verkondig.  Hy is nou die een na wie toe ons gaan met ons probleme en wat met ons kommunikeer.  En die boek Hebreërs is ‘n goeie boek om as agtergrond daarvoor te gebruik.  Of, ‘n bietjie spitsvondig, na God se stem op die berg van verheerliking te verwys, wat met die verdwyning van Elia en Moses, gesê het, “Luister na Hom!”

Ek dink ons sal moet erken, Afrika se mense het nie net ‘n hoë premie wat hulle plaas op verhoudings onderling nie, maar ook ‘n hoë premie op verhoudings met die geestelike wêreld.  John Mbiti sê daaroor:

“Whatever science may do to prove the existence or non-existence of the spirits, one thing is undeniable, namely, that for African peoples the spirits are a reality which must be reckoned with, whether it is a clear, blurred or confused reality. ” (Mission in an African Way, 2007:20)

En dit moet ons respekteer.

Heksery

Nou voorvaders is nog een ding, en die hele storie van onreinheid kan ‘n mens nog met geduldige blootstelling aan bv. ‘n meer wetenskaplike verstaan van wat met aborsie en miskrame gebeur, hanteer.

Maar wat doen ‘n mens bv. met iemand wat kom vra om ge-ont-heks te word?

Dit is ‘n algemene ding in ‘n Afrika-kultuur.

Ek lees die storie van ‘n sendeling in Zambië wat gevra is om Elizabeth Mulenga in Lusaka te ont-heks (Mission in an African Way: 17).

Elizabeth was getroud met John, en moes toe van die platteland na die stad toe trek.  Maar sy kon nie aanpas by die stadslewe nie en het verskeie kere gevra dat hulle eerder na die platteland moes verhuis.

John het geweier want daar was beter geleenthede vir bevordering in die stad.  Toe sy dit nie langer kon uithou nie, het sy gevlug na haar familie in die platteland en daar haar frustrasie uitgespel met die woorde: “Ek wens ek kan skei.”

Drie dae later is John in ‘n motorongeluk dood in Lusaka.  Toe Elizabeth die nuus kry het sy ‘n kreet geuiter en flou neergeval.  Sy het geweet sy het ‘n heks geword en haar man doodgemaak.

Die hele gemeenskap het hierdie geloof gedeel.  Maar omdat daar nie vantevore hekse in Elizabeth se familie was nie, het hulle geglo, het sy nie die heksery geërf nie, en kon dus genees word.  Sy was ‘n “toevallige” heks.

So – die sendeling word gevra om haar te ont-heks.  Die probleem was, hy wou vir haar bid, en was seker die Here sou haar van die effek van die bygeloof genees.  Maar sy denominasie het dit nie goedgekeur nie, en die familie is na ‘n ander kerk waar sy ge-ont-heks kon word.

Wat dink jy moes hy gedoen het?  En wat sou jyself gedoen het?

Die Afrika Geïnisieerde kerke het geen probleem daarmee nie.  Nie net omdat hulle dié dinge self glo nie, maar omdat hulle weet dat as hulle bid en vra vir genesing, die vrou die ervaring sal hê dat sy genees is.

Hulle houding is hieroor as volg.

  • Daar is sekere goed in Afrika wat smaak aan die lewe gee, dinge soos musiek, dans en verhoudingsbou,
  • daar is ander goed wat goed is en bewaar moet word, ubuntu bv.,
  • en dan is daar ander goed wat genees moet word, omdat dit siek is.

Maar jy genees nie iets, deur eers vir die persoon op ‘n kursus te sit, hoe ek van my idiotiese idee van heksery ontslae kan raak nie! Jy doen dit deur te bid, en te bid vir genesing van die werklikheid van heksery, en die Here vertrou dat die waarheid mettertyd volledig sal vrymaak van alle vrese.

Een van die maniere waarop hierdie kerke dit doen, is deur ‘n nuwe “extended family” te verskaf vir mense wat hulle tradisionele huise verlaat het en hulle op die manier help om ‘n soort “split identity” te voorkom. En waarin nuwe Christelike kennis en houdings, vaardighede en gewoontes aangeleer kan word wat op die lang termyn ‘n nuwe wêreldbeeld tot gevolg kan hê.

Refleksie

Dink nou weer na oor die persoon(e) wat jy vandag kon groet.

  • Wat dink jy is God besig om deur die persoon(e) met jou te laat gebeur?
  • Wat wil jy bevestig by dié mense?
  • Wat moet in jou verander?
  • Wat is jy besig om te leer wat jy beter sou wou doen?
  • Na wie toe stuur die Here jou weer terug?

Môreaand se Pinksterdiens

Petrus steek grense oor deur ander kulture in te sluit – Handelinge 10

  • Ons leer by Petrus hoe die Gees hom ‘n kultuur grens laat oorsteek na die Italiaanse soldaat, Kornelius (Handelinge 10 ) – en ons dink na oor hoe ons in gasvryheid die grense na ons eie omgewing kan oorsteek.
  • Die vraag: wie is in en wie is uit, word hier beantwoord.