Motivering maak saak – Haman en Mordegai in Ester
Wraak verkoop flieks. Man on fire. The Equalizer. John Wick.
Creasy (Denzel Washington) skilder sy groot meesterstuk in Man on Fire. Sy kuns is die dood. Sy motivering is om ‘n dogtertjie van haar ontvoerders te red. En die onaantasbare korrupte polisiemag te ontbloot. Maar met oordadige bloederige geweld.
In The Equalizer neem Robert McCall (Denzel Washington) ook wraak teen die Russiese Mafia. Sy motivering is mense wat misbruik en gemarginaliseer word. Maar op ‘n bloederige dodelike manier. Dit neem minder as ‘n halfminuut om sonder ‘n wapen in sy hand ‘n hele kamer mense uit te wis.
En Keanu Reeves in John Wick neem op skouspelagtige manier wraak. John se motivering? ‘n Nikswerd seun van ‘n Mafia baas wat sy hond doodgemaak en sy motor gesteel het. As hyself ‘n teiken word in die opvolg fliek, omdat hy een van die kardinale reëls van sy professie oortree het, en die hele wêreld se sluipmoordenaars teen hom opgekommandeer word, sê hy vir Winston: “Tell them… Tell them all… Whoever comes, whoever it is… I’ll kill them. I’ll kill them all …”
Hoe dink julle oor sulke wraak? Voel dit goed? Is dit bevredigend? Is dit billik? Voel julle die mense kry wat hulle verdien het? Voel julle dit is geregverdig om wraak te neem? Wanneer is dit geregverdig? Vir ‘n jong dogtertjie? Vir prostitute wat misbruik word? Vir ‘n hond wat doodgemaak word? Vir ‘n motor? As ander se lewe op die spel is? As jou lewe op die spel is?
Die verhaal van Haman en Mordegai in die boek Ester kan ons help om hieroor te dink.




