Skip to main content

By God is alles moontlik – Matteus 19:16-30

Verhoudings, kinders en geld

Jesus praat in Matteus 19 oor drie wesenlike sake in die koninkryk. Verhoudings, kinders en geld. Of as ‘n mens dit anders wil stel; money, sex and power. Want wat Jesus oor die huwelik sê, het met seks te make. Wat Jesus oor kinders te sê het, het met mag te make. Wat Jesus oor die ryk jongman te sê het, het met geld te make. Dit is so fundamenteel as wat hierdie hoofstuk 19 Jesus se houding oor money, sex and power weergee.

Continue reading

Lojaliteit en waagmoed – Rut 4

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie. ‘n Mens kan dit eenvoudig lees – as ‘n liefdesverhaal – óf jy kan dit dieper lees – as ‘n verhaal oor immigrasie en grondbesit – of nog dieper as ‘n getuienis van God se getrouheid in hierdie wêreld.

  • Daar is dinge wat jou tone wil laat krul van plesier. ‘n Rut by die voete van Boas (hfst 3). ‘n Boas in die poorte wat op sy voete kan dink (hfst 4)! Sy naam beteken nie verniet “vinnig” nie. Dit is daarom ‘n uitsonderlike liefdesverhaal. Hulle voetwerk dans ‘n toekoms los!
  • Daar is dinge wat jou bewus maak van die broosheid van die lewe. ‘n Naomi wat haarself Mara noem. Die naam Naomi beteken “lieflik”. Die naam Mara beteken “bitter”. Soos die keer by bitter waters van Mara in die woestyn (Eks 15:23). Wat jou laat besef, die lot van immigrante en die geveg om grond is intense vraagstukke. Naomi het die geweld daarvan aan haar lyf gevoel. En die gesprek van Boas in die poorte was deurslaggewend om haar lot om te keer, en so die ouma van ‘n kleinseun te kon word.
  • En dan daar is dinge wat jou asem wil laat wegslaan van ontsag vir God se werk. ‘n Kind wat gebore word vir Rut en Naomi en wat van baie groter betekenis is as wat hulle in hulle wildste drome kon droom. Obed, die dienskneg. Uit wie die Groot Dienskneg gebore sou word. Soos die geslagsregister aan die einde vir ons vertel. Obed se nageslag is Dawid, en Matteus 1 vertel ons dat Jesus weer Dawid se nageslag is. En dit is nie al nie. Naomi se oorlede man was Elimelek; “my God is koning”. Wat ‘n ander perspektief gee op die komende Messias. Hy was en is die Koning van die wêreld.

Wat ‘n mens met die oorhoofse boodskap laat. God weef ons verhale in sy groter verhaal met die wêreld in.

Maar, ek loop die preek vooruit. Ek wil aan al drie hierdie aspekte van die verhaal laat reg geskied. En ek wil jou uitnooi om jou oor te gee aan die verhaal, en die betekenis daarvan vir jouself. En toelaat dat God jou hart roer met die vlammetjie van hoop wat Hy wil aansteek in jou.

Hetsy deur op die liefde te fokus, óf op die grondkwessie wat hier aangespreek word, óf op die groter prentjie van God se trou in jou eie verhaal van lojaliteit en waagmoed, wat dit ook al van jou mag vra.

Continue reading

Resilience – Veerkragtige geloof – 2 Timoteus 1:6-14

Julle het gevra dat ek oor resilience praat, veerkragtigheid. Hoe om uit te hou en aan te hou sonder om in te gee of te breek.

Dit is waarom ek vir julle ‘n rekkie uitgedeel. Ek gaan dit as ‘n metafoor gebruik in die erediens om resilience te illustreer.

Kyk eers na jou rekkie. Watter kleur dit is. Hoe lank dit is. Hoe goed dit kan rek. Rek dit en laat dit los, sodat jy die veerkragtigheid daarvan kan toets.

Dink nou aan jou eie ervarings van resilience of veerkragtigheid. Ek is seker baie van julle het al ervarings gehad dat jy soos ‘n rekkie gestrek is tot by breekpunt en geval het byvoorbeeld vir versoeking. Dit is mos hoe dit voel as jy in versoeking kom. Jy hou uit tot dit voel, nou kan ek nie meer nie. En dan val jy vir die versoeking.

Wat gee ‘n mens resilience in geloof?

Wat gee ‘n mens resilience in geloof? Wat help jou te volhard in die geloof al gebeur wat ook al met jou? Hoe kan jy die versoekings wat jou kant toe kom, weerstaan? Hoe kan jy getrou bly aan die Here al gaan jy deur beproewinge? Hoe kan jy gehoorsaam bly aan die Woord van die Here al kos dit jou alles wat jy het?

Dié versoekings kan seksueel van aard wees. Dit kan die versoeking wees om te skinder, of kwaad te praat van iemand. Om jou beter voor te doen as wat jy is. Om iemand te manipuleer sodat jy voordeel daaruit kan trek.

En ons rek tot by breekpunt. En dan gee jou rekkie skiet, by wyse van spreke. Dit gebeur! Met almal van ons. Al is dit op verskillende wyses.

Hoe kan ‘n mens meer weerbaar raak? Hoe kan jy sterker word in die geloof, tough, sonder om in te gee of te breek? Hoe kan jy resilient raak in die geloof, veerkragtig, met ‘n groot uithouvermoë?

Continue reading

God is groot en genadig – 1 Konings 17

Onsekerheid en onrus

Ek dink nie ons was al ooit in ons land in soveel onsekerheid en onrus gedompel nie. Die politieke gevegte in ons stede is vuil en verbete. Die sosiale onrus rondom grond en dienslewering groei by die dag. Ons regstelsel het slagvelde geword waar wydverspreide korrupsie en die grootskaalse kaping van bronne blootgelê word. Selfs die kerk beland in die gedrang waarin die vraag ten diepste is na die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.

Hoe maak ‘n mens sin hiervan? Hoe kies ‘n mens koers? Hoe besluit jy wat is die regte ding om te doen?

Fokus op jou Godsbeeld

Die antwoord is om terug te keer na die fundamentele vraag na God. Jou Godsbeeld. Wie Hy is. Wat Hy doen. Wat Hy vra.

Want, jou Godsbeeld beïnvloed jou mens- en wêreldbeeld. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die uitdagings in die politiek en die gemeenskap. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.

Dit leer die verhaal van Elia ons.

Continue reading

Gratis foto’s en illustrasies vir Bybelverhale, -karakters en -temas

Hier is ‘n wonderlike hulpmiddel vir families wat die Bybelverhale met hulle kinders wil deurwerk. Dit is die webtuiste Free Bible Images. Dit is ‘n webwerf waar jy gratis stelle Bybelverhaalprente (foto’s of illustrasies) kan aflaai om te gebruik in PowerPoint-, PDF-, Keynote- of JPEG-formate. Jy kan dit ook direk op jou rekenaar gebruik om die stories vir jou kinders te vertel.

Gebruik die Find a story op die spyskaart om ‘n Bybelverhaal volgens boek, karakter of tema te soek, of klik op die Photos, Illustrations of Contributors opsies in die hoofkieslys om deur die grafika te blaai.

Die vier verhale van Elia wat ek vanoggend gebruik het, kan jy bv by die Character spyskaart kry (daar is honderde!): Elia. Ek sluit ‘n paar van die grafika hieronder in om jou ‘n idee te gee hoe goed dit is.

Free bible Images is ‘n geregistreerde Christelike liefdadigheidsorganisasie. Dit word gefinansier deur skenkings. Hulle het ‘n hart vir besige mense en stel dié hulpmiddels gratis aan die wêreld beskikbaar as ‘n Christelike hulpbron.

Elia waarsku vir Agab
Die droogte
Die kraaie
Die wedewee van Sarfat
Die kruis – haar seun sterf
Elia dra die seun boontoe
Elia bid ernstig
Die Here wek die seun op
Vreugde oor God se seën

God is een Wese in wie drie Persone is: Vader, Seun en Heilige Gees – Lukas 1:26-38

Wat is die Drie-eenheid?

Verlede week het ons gepraat oor ons Godsbeeld. God is groot en genadig, goed en getrou. Hy sorg vir alles en almal, vol liefde en trou. (Download English Version: Luke 1_26-38 – Trinity)

Met die droogte in die tyd van Elia het God geïllustreer dat Hy die kosmos beheer. Met die kraaie by die Kritspruit het God geïllustreer dat Hy vir sy profeet kan sorg. Met die meel en olie wat nie opraak in die kruike en kanne van die weduwee van Sarfat nie het God geïllustreer dat Hy self kos kan voorsien. Met die seun van die weduwee van Sarfat se opwekking uit die dood het Hy geïllustreer dat Hy selfs beheer oor die dood het.

En daarmee het God ons ook ‘n voorsmakie gegee van die opstanding uit die dood van sy Seun Jesus juis ná die dood aan die kruis … en die hoop in ons aangesteek van ons eie opstanding ná ons dood. Soms is die opstanding uit die dood reeds in hierdie lewe, soos talle dit al ervaar het. Soms is dit eers aan die einde van die tyd. Maar, opstaan sal ons opstaan!

Maar, hierdie prentjies van God is maar net uit een hoofstuk in die Bybel, 1 Konings 17, soos wat Elia dit vir ons vertel … daar is 1188 ander hoofstukke. Dink ‘n bietjie oor die grootheid daarvan.

Want, ons het sulke stories oor God nodig in ons tyd. Ons moet dit aanmekaar vir mekaar vertel. Want ons Godsbeeld bepaal ons menswees. Ons Godsbeeld bepaal ons wêreldbeeld. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te glo. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te hoop. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te doen. Ons Godsbeeld bepaal waarvoor ons bereid is om ons lewe te gee, selfs al kos dit ons dood.

Waar jou God groot is, is jy bereid om groot dinge vir Hom te waag. Waar jou God genadig is, is jy bereid om God te gehoorsaam. Waar jou God goed en getrou is, is jy bereid om God vir kos en water te vertrou. Waar jou God vir alles en almal sorg, waar Hy vol liefde en trou is, is jy bereid om in te tree vir die uitdagings wat mense ervaar, selfs waar hulle die erge kruis van die dood moet trotseer.

Die omgekeerde is ook waar. Waar jou Godsbeeld vervaag, of jy die verkeerde idee van God begin kry, kan jy eintlik nie anders as om vir jouself te begin sorg, om volgens jou eie behoeftes te begin leef. Raak jy die maatstaf vir jou eie lewe en vir dié van ander.

Waar jy met die verkeerde idee van God begin werk, skep jy jou eie gode, leef jy volgens jou eie kode. Begin jy jou eie voordeel soek. Lei dit tot uitbuiting, die grootboere teen die kleinboere, die konings teen hulle onderdane, die magtiges teen die eenvoudiges. Hele gemeenskappe verval in onsedelikheid en anargie waar God nie meer beleef en gedien word nie.

Dit is uit hierdie hoek wat ons moet dink oor die Drie-eenheid. Want die beskrywing van God as die Drie-eenheid is die beste en grootste prentjie van Hom wat ons het. Dit is die beste verduideliking van wie God is. Dit is die diepste prentjie van wie God is. Misterieus. Groots. Ontsagwekkend. Onpeilbaar. Soos ‘n waterpoel waarvan jy die diepte nie kan meet nie. Soos die heelal waarvan jy die einde nie kan raaksien nie. Maar helder en duidelik.

En laat niemand jou vertel dat dit ‘n prentjie is wat die vroeë kerk geskep het. Asof dit nie duidelik in die Bybel na vore kom nie.

Continue reading