Skip to main content

Handelinge 4:32-35 – Son 19 April 09

Skriflesing
Agtergrond oor armoede

Getrou aan Lukas se perspektief, wat ook in sy evangelie wys hoe Jesus se boodskap goeie nuus was vir veral die armes onder die volk (Luk 4), is dit een van die belangrike hoeke waaruit hy die gemeenskapslewe van die eerste gemeente beskryf.

Vir ons wat in ander omstandighede lewe, en miskien nie altyd armoede goed verstaan nie, is dit goed om ‘n bietjie te dink oor die redes hoekom daar so baie arm Jode was in die tyd van Jesus (nie dat Jode vandag as ‘n groep meer regtig arm is nie, maar ons praat van toe!)

  • Voor die vestiging van die koningshuis, was die ekonomie van Israel gebaseer op selfversorgende gesinne wat die min beskikbare landbougrond in Palestina bewerk het. Die land as geheel was baie arm. Jerusalem se reënval is ongeveer 500 mm per jaar met die gevolg dat die boere grootliks ‘n bestaanstryd gevoer het.
  • Die koms van die koningstyd het alles verander (1000-597 v.C.). Die koning met sy voltydse weermag, hofhouding en amptenare wat nie geproduseer het nie, was afhanklik van die boere se belasting (klink bekend nê!). Soos wat die nie-produserende sektor toegeneem het, het belasting toegeneem. Salomo se geweldige bouprojekte het die belasting-las nog verder verhoog (vgl. die profete soos Amos wat toe begin optree het).
  • Boere se skuld het toegeneem totdat hulle hulle grond verloor het. Daarna moes hulle as arm ambagmanne werk (vgl. Josef en Maria wat oënskynlik nie grond besit nie).
  • Toe kom die periode van vreemde oorheersing: Babilonië, die Perse, die Grieke, Egipte, Sirië en toe Rome. Almal het die land geplunder en verwoes, en daarna die belasting verhoog.
  • Ten tye van Jesus was die mense dus brandarm, en het hulle nog verder verarm. Herodes het van die arm boere onteien en aan ryk landhere verkoop vir politieke gunste. Die infrastruktuur is oorweldig deur die bevolkingsgroei. ‘n Reeks natuurrampe (droogtes) het die land getref. Aangesien ‘n huwelik grootliks ‘n ekonomiese transaksie was, het armes met armes getrou, en só nog verder verarm.

Die gelowiges van die eerste gemeente is ook stelselmatig uit die Joodse gemeenskap, wat hulle as families in staat gestel het om te oorleef, gewerp.  Op hulle eie was hulle dus die armste, religieuse groepering onder die Jode.

Lees Hand 4:32-35

Woordverkondiging

Hulle was een van hart en siel – niemand het gebrek gely nie

Wie is die grootste?

Iemand het op ‘n keer vir Albert Schweitzer gevra:  “Doctor, name the greatest person alive in the world at this moment.”  Hy het ‘n oomblik gedink en toe hierdie antwoord gegee:

“The greatest person alive in the world at this moment, is some unknown individual in some obscure place who, at this hour, has gone in love, to be with another person in need.”

Dié wat help, is die grootste

En dit is een van die eerste dinge wat Lukas vir ons in Handelinge vertel van die vroeë kerk, dat dit ‘n plek was waar mense mekaar gehelp het. Duisende klein dade van gehoorsaamheid was die lewensasem van die eerste gemeente.

Eenheid en mededeelsaamheid

Lukas vertel vir ons, dat binne die eerste paar weke na Pinkster, hulle getalle gegroei het tot 5 000 ( 4:4).  En dié getal gelowiges was veral uit die armer dele van die gemeenskap van Jerusalem.

En, soos ons weet, dit is van die allergrootste belang, veral in so ‘n groot gemeenskap, dat daar geestelike eenheid en eensgesindheid onder gelowiges moet wees ten opsigte van toewyding, lojaliteit en liefde vir God en sy Woord. Die kerk kan nie sonder geestelike eenheid oorleef nie.

En al het ons gesonde meningsverskil oor die beste manier om dinge te doen, moet daar in ‘n gemeente ‘n basiese eenheid wees in die toewyding aan God en sy Woord – en as ons oor Somerstrand dink, ‘n eenheid van toewyding aan God in ons wyke, in ons kleingroepe, in ons eredienste, in ons Didage aanbiedinge.

Die eerste boodskap van hierdie teksgedeelte, is dus dat ons hulle voorbeeld moet volg, en nog meer ons eenheid as gelowiges moet vier en vertroetel.

Praktiese eenheid in mededeelsaamheid

Maar – en dit is die tweede boodskap van die gedeelte – kerklike eenheid is nooit net ‘n geestelike saak nie.  Dit is altyd ook ‘n praktiese kwessie.  Die onderlinge liefde en eenheid moet uitmond in ‘n praktiese manier waarop ons teenoor mekaar en die wêreld optree.

Ons kan ongelooflik baie leer by hierdie eerste gemeente.  Lukas sê vir ons, nie een van hierdie Christene het gevoel dat hulle besittings net hulle eie was nie, daarom het hulle dít wat hulle gehad het, met die ander gedeel. Op dié manier het hulle die armes ook gehelp. Hulle wou nie een broer of suster in die geloof laat swaarkry terwyl daar ander was wat oorvloed het nie.

Alles behoort aan God (Rethie vannaand)

En dit is wonderlik dat die redes hoekom hulle dit gedoen het, gewortel was in een ding en een ding alleen: hulle besef van wie God is.

Daar is maar een rede hoekom ons ooit kans sal sien vir mededeelsaamheid.  En dit is wie God is vir ons.

As ‘n mens die belydenis van Genesis ernstig neem, dat God uit die niks en uit die chaos alles gemaak het wat ons vandag kan sien, selfs ons menswees, dan behoort alles aan God.  En as ek dit glo, dan is enigiets wat ek het ‘n gawe van God, ‘n geskenk, deel van sy genade aan my.  Dan is die enigste manier om met jou besittings om te gaan, om uit dankbaarheid vir God, jou besittings tot voordeel van God en van ander op aarde te bestuur.

Die volgende storie illustreer iets hiervan.

‘n Tiener wonderkind het sy hart op die verhoog voor ‘n groot gehoor uitgespeel. Hy kon die klavier speel! Toe hy klaar is, het hy van die verhoog afgeloop, terwyl die gehoor hom ‘n staande applous gegee het. Die man agter die gordyn het blykbaar die tiener aangemoedig om weer uit stap en voor die gehoor te buig.

“Nee” het die seun geantwoord “ek kan nie!”

“Waarom nie?” het die verhoogbestuurder gevra  “Hulle almal staan en klap vir jou.”

“Nie almal nie” het die tiener geantwoord  “Die man in die agterste ry op die balkon, sit nog.”

“Dis die enigste een!” sê die verhoogbestuurder  “Wat maak hom so belangrik?”

“Hy is my leermeester.” het hy saggies geantwoord, terwyl hy skelmpies agter die gordyn uitloer  “Ek het vir hom gespeel.”

Net toe het die man op gestaan en deel van die staande applous vir sy leerling geword.

Is dit nie waaroor die lewe gaan nie? Soos Paulus dit mooi opsom:

“Ons wil nie guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God van ons verwag.”  (1 Tess 2:4)

Dit maak ons een in hart en siel – al verskil ons dikwels soos dag en nag van mekaar- dit gaan vir ons oor God die Vader, God die Seun en God die Gees.

Nog dieper, as ek regtig glo in die opstanding van Jesus uit die dood, kan ek my nooit weer losmaak van wie Hy is vir die gemeenskap van gelowiges en vir die wêreld nie.  Sonder die opstanding sou daar natuurlik nooit ‘n kerk gewees het nie.  Dit is vanweë die opstanding van Jesus dat daar ‘n gemeenskap van gelowiges ontstaan het wat deur hierdie sentrale waarheid en werklikheid saamgesnoer is.

Hulle het ‘n eenheid van hart en siel ervaar, soos Lukas hier skrywe, omdat elkeen in Jesus geglo en die krag van die opstanding persoonlik ervaar het. En omdat almal dit ervaar het, was daar ‘n amper onkeerbare drang om dit wat hulle het met ander wat soos hulle glo, te deel.

“True love and faith inspire social concern, especially within the community of believers” (Evangelical Commentary)

En jy kan maar dit toets – as iemand nie sy besittings deel met ander nie, lê die fout eintlik maar net op een plek: hy of sy erken nie hulle goed as gawes van God nie, en daarom voel hulle nie deel van die gemeenskap van gelowiges nie.  En die omgekeerde is net so waar – as jy God erken as die Skepper, dan kan jy nie anders om dit in oorleg met Hom te bestuur nie; netso as jy ander gelowiges as jou medegelowiges ervaar, dan kan jy nie anders om hulle belange in ag te neem in jou hantering van jou besittings nie.

Daarom het die eerste Christene nie net ‘n tiende van alles gegee nie, maar alles wat hulle het.  Hulle het nie gevra wat hulle moet gee nie, eerder wat mag hulle vir hulleself hou in die lig van die behoeftes van die gemeenskap.

Scott Russell Sanders vertel van ‘n vooraanstaande bouer in ‘n klein  Ohio dorpie wat gevra is of hy as vrywilliger wil aansluit by die plaaslike brandweer wat net bestaan uit vrywilligers.  Hy het dit vriendelik van die hand gewys, want wat kon hy daaruit kry? Sy huis was van baksteen gemaak en brand bestand.

Maar een dag het sy huis aan die brand geslaan. Die brandweer, wat bestaan het  uit vrywilligers, het met hulle brandweerwa daar aangekom.

Maar voor hulle die begin het om die brand in sy huis te blus, het hulle speels vir hom gevra of hy steeds geen rede het om by hulle aan te sluit nie.  Sonder huiwering het hy ingestem om dadelik by hulle aan te sluit!

Sanders hou daarvan om die storie te vertel omdat sy pa een van daardie vrywilligers was wat daar opgedaag het om die bouer se huisbrand te blus. Hy hou daarvan om dit ook te vertel omdat dit presies verduidelik wat dit beteken om deel van ‘n gemeenskap te wees. Hy skryf dan:

“We should not have to wait until our houses are burning before we see the wisdom of facing our local needs by joining in common work… We had better learn how to live well together, or we will live miserably apart.”

En God se genade was groot oor almal, dit wil sê God het almal vervul, ook hul praktiese lewe ten opsigte van dinge soos mededeelsaamheid.

Ek lees in Vincent Brümmer se wonderlike boek oor gebed (What are we doing when we pray?) dat God altyd die eerste oorsaak van gebedsverhoring is.  Dit is Hy wat intree en help waar daar behoefte is.  Maar, en dit is die wonder van die geloofsgemeenskap, ons is die tweede oorsaak van gebedsverhoring.  God tree deur ons hande en ons besittings in om te help waar daar behoefte is.

Die gelowiges in die vroeë kerk het dus hulle besittings en eiendom met mekaar gedeel omdat daar ‘n werklike eenheid en liefde onder hulle was en dit omdat hulle aan God self verbind was.

Kommunisme?

Maar – ‘n mens moet dit nie verkeerd verstaan nie.  Dit was geen kommunistiese stelsel waarin hulle noodwendig afgesien het van besitreg nie.

Een van die kommentare (De Villiers) sê dat ‘n mens hier gebruiksgemeenskap van goedere vind, maar nie ‘n eiendomsgemeenskap nie. Lukas wys eerder dat die meer vermoënde Christene hulle besittings nie net as hulle eie beskou het of uitsluitlik vir hulleself aangewend het nie, maar ook met opregte liefde omgesien het na die behoeftes van die medegelowiges.  Privaatbesit is dus nie opgehef nie.  Beskikkingsreg het steeds aan die individuele gelowiges behoort.

Dit blyk bv. uit die feit dat Barnabas nog sy eie grond besit het en dit op eie inisiatief verkoop het, soos ons hier in 4:37 lees (hy was uit die geslag van Levi en mag streng gesproke nie grond besit het nie, maar dit daar gelaat), en dat Petrus aan Ananias, wat ook nog sy eie grond besit het, gesê het dat by die grond en die opbrengs daarvan kon bly behou het (5:3).

Ons lees ook verder aan in Handelinge dat Maria, die moeder van Markus, nog haar eie huis besit het (12:12).

Privaatbesit is dus in geen opsig opgehef nie, maar eiendom is van tyd tot tyd verkoop om in die behoeftes van medegelowiges te voorsien. Die mededeelsaamheid is dus op die basis van behoefte nie op die basis van gelykheid of gelykstelling uitgevoer nie (“carried out not on the basis of equality but on the basis of personal need” – Wycliffe Bible Commentary).  Dit is nie bv. net gelykop verdeel, wat in elk geval eintlik dan net die armoede gelykop verdeel.

En dit is belangrik om te besef dat dit gereeld gebeur het.  Lukas vertel van minstens 3 keer wat hierdie verkoop van besittings gebeur het.

Wat dus gebeur het, is dat die lidmate, uit hulle ervaring van eenheid en mededeelsaamheid sélf besluit het om hulle besittings met ander te deel.  En hulle het nie nodig gehad om álles met die ander te deel nie, maar slegs soveel dat dit in almal se behoeftes voorsien het.

Dit het spontaan vir die eerste Christene gekom. Wanneer nie die wet ons dwing om te deel met ander nie, maar wanneer ons harte beweeg word om te deel en te help, dan is ‘n gemeenskap regtig ‘Christelik’.

Die visie van Deuteronomium 15

Die visie van Deut. 15:4, dat daar nie ‘n arme onder die volk sal wees, as hulle regtig die Here gehoorsaam nie, het dus hier in vervulling gegaan.  Soos Lukas sê: “nie een van hulle het gebrek gelei nie …”

Dit is ‘n visie wat in gevaar gestel is deur Ananias se optrede, soos ons in hfst. 5 lees, en later deur die vervolging wat ook ‘n ekonomiese impak op die eerste gemeente gehad het, maar toe deur die hulp van ander gemeentes in Europa en Asië in stand gehou is.

En terloops – vir dié wat wonder oor die volgende verhaal van Ananias en Saffira – hulle probleem was dat hulle met hulle gewaande mededeelsaamheid indruk wou maak. Deur so vir die gemeente te lieg, het Ananias en Saffira bedrog teen God sélf gepleeg. Die verskriklike gevolge het gedien as voorbeeld vir die hele kerk (Handboek by die Bybel).

Laat my dink aan die storie van die koning wat ‘n klomp kleinboere op sy grond met wingerd laat boer het.  Hy wou nie meer geld maak nie, maar wou baie graag genoeg wyn hê wat vir hom ‘n jaar lank kon hou tot die volgende oes.  Sy reëling met die kleinboere was dat hulle ‘n bottel van hulle beste wyn in ‘n vat by sy kasteel moes kom gooi.  Die koning het geweet dat as almal dit doen, hy genoeg wyn vir die jaar sou hê en ook van die lekkerste wyn wat jy kon kry – praat van ‘n goeie versnit!

So het die klein boere jaar na jaar ‘n bottel van hulle lekkerste wyn gebring en die koning was baie tevrede.

Een van die boere het egter een jaar gedink dat as hy daardie jaar nie wyn ingooi nie, die koning dit tog nie sou agterkom nie.  Hy het toe, in plaas van die wyn, ‘n bottel water gaan ingooi.

Toe die oestyd verby was en die koning van sy wyn wou geniet, het hy woedend al die kleinboere geroep.  Voor hulle oë het hy van die wyn uit die vat geskep en tot almal se verbasing was daar net suiwer water in die vat.  Elkeen van die boere het dieselfde gedagte gehad – dat hulle beskeie bydrae tot die koning se wynvat tog nie so belangrik is nie.

Die koning het toe al die boere van hulle wingerde verjaag en die grond vir ander mense gegee.

Ek sluit af

Ons fokus dié kwartaal op gasvryheid.  Ons gaan nie soseer preek daaroor nie, maar dit beoefen.  Dit is reeds so dat daar ‘n ongelooflike omgee in ons gemeente vaardig is. Praat net met mense wat deur een of ander krisis gaan, en hoe mense regtig betrokke raak en uitreik na hulle.

Ons wil aansluit daarby en die Here vertrou dat dit nog groter sal groei, die mense sal insluit wat soms oorgeslaan word en veral die mense in ons buurte wat nie van ons gemeente of selfs geloof is nie, ook sal insluit.

Alexander Irvine het ‘n wonderlike ding geskryf in sy roman, My Lady of the Chimney Corner. Die heldin van die boek gaan na ‘n buurvrou wat in rou is en plaas haar hand om haar en sê:

“God takes a hand whenever he can find it and just does what he likes with it. Sometimes he takes a bishop’s hand and lays it on a child’s head in benediction. And then he takes the hand of a doctor to relieve the pain, the hand of a mother to guide a child. And sometimes he takes the hand of a poor old creature like me to give comfort to a neighbor. But they’re all hands touched by his Spirit, and his Spirit’s everywhere lookin’ for hands to use.”

Gedagtes oor armoede
Strategieë vir die hantering van armoede (Seisoen van Luister)

Watter riglyne gee Lukas vir ʼn gemeente wat oorval word met armes?  Lukas gee vir ons meer as een antwoord.  Unieke situasies vra dus om verskillende optredes.  Die volgende blyk egter belangrike riglyne te wees:

1.  Ons moet waak om materiële dinge te begeer (Luk. 12:15-21).  Ons moet eerder begeer om barmhartig te wees soos wat God is (Luk 6:36).

2. Daar moet verder as ‘n gevoel van jammerte gegaan word deurdat daar konkreet iets gedoen is.  Daarom praat ons van liefdadigheid.

3. Die gee van Aalmoese en die verlening van gasvryheid is deel van ons taak as kerk (dis Jesus se oproep – Luk 12:33 en word deur gelowiges gemodelleer: Paulus gee in Hand. 11:27-30, 12:25, 24:17; en in Hand. 10:2 gee Cornelius ruim).  Dis immers saliger om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35b).  Die vraag is ook nie hoeveel jy gee nie, maar hoeveel jy vir jouself hou.

4.  Lukas vermeld drie keer (dus ʼn algemene gebruik) dat die gelowiges hulle besittings verkoop het en alles met mekaar gedeel het  (Hand. 2:45, 4:32 en 4:34).  Dit gaan in die gedeeltes egter eerder oor mededeelsaamheid as besitloosheid.  Jesus word bv. nie as ‘n askeet geskets nie (vgl. sy optrede by die troue in Joh. 2 en die aanklag teen Hom in Luk. 7:34).  Hand. 4:32-37 getuig van die verdeling van besittings eerder as die totale afsien daarvan.  Liefdadigheid en die verligting van lyding, is die motief.  Die grammatika van die verse dui ook eerder op ‘n voortdurende (soos nood ontstaan het?) proses as ‘n eenmalige een.

5.  Die oproep tot mededeelsaamheid geld vir almal.  Die rykes ten opsigte van die armes, maar ook ten opsigte van die minder armes teenoor die meer armes (vgl. Luk. 3:11 waar die wat net twee het, ook moet ook deel).  Daar was egter geen dwang om alles te verkoop en weg te gee nie soos wat Ananias-hulle voorgegee het nie (5:3-4).

6.  Waar moontlik, moet die armes selfversorgend wees (vgl. Paulus as tentmaker – Hand 20:35).

7.  Gelowiges moet alle uitbuiters met liefde behandel (Luk. 6:27 & 35), maar hulle moet weer met hulle onreg breek (Luk. 19:8).  Let op Saggeüs se weggee van die helfte van sy besittings!

8.  Dis ‘n geestelike gawe om te kan gee (Rom. 12:8).  Miskien moet ons meer (indien ons ooit wel), daarvoor bid as vir ander gawes wat vir ons as mense meer belangrik lyk.

9.  Dit is duidelik in vers 35 dat die apostels ‘n leidende rol gespeel het in die insameling en die verdeling van die gemeente se middele.  Die geld wat ingesamel is, is letterlik aan hulle voete neergelê as simbool van die onderwerping daarvan aan hulle beheer (Hand. 4:35, 37, 5:2).

Die Gees stuur ons oor grense

Pinkster 2009

Die term ruach het verskillende betekenisse in die Ou Testament:

  1. wind, ‘n onsigbare, misterieuse, magtige krag wat baie keer aan die idee van krag en geweld verbind word;
  2. asem (wind op ‘n kleiner skaal!) of gees, dieselfde misterieuse krag wat ons waarneem as die lewe en vitaliteit van menslike lewe, wat geaktiveer kan word in ‘n sekere rigting, gehinder of onderdruk kan word en weer lewe gegee kan word.  Dit is ‘n dinamiese lewenskrag wat by tye laag kan wees (dit verdwyn by die dood) of kan opbeur in ‘n skielike opbruising van krag.
  3. Goddelike krag of Gees waar iemand meegevoer word, nie net deur ‘n natuurlike opbruising van energie nie, maar deur ‘n bo-natuurlike krag wat besit neem, soos ons sien in die vroeë charismatiese leiers (Ehud, Debora, Gideon, Jefta, Simson) en profete (Samuel, Elia, Elisa).

Dit is duidelik dat ruach ‘n eksistensiële term is, dat dit gaan oor die ervaring van ‘n misterieuse awesome krag, wat alles ‘n manifestasie is van Goddelike energie.  Soos Psalm 139:7 sê, dié kragtige teenwoordigheid van God is kosmies en onontwykbaar.  Dit vul alles met lewe-gewende energie.

En dit is dié Gees wat Jesus met Pinksterdag uitstort oor sy 120 dissipels in die bovertrek.

“Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.  Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.  Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.” (Hand 2:2-4)

En dit is dié Gees wat my dring om dié Pinkster grense oor te steek in reaksie op sy lewe-gewende energieke werking.

In 7 Pinksterdienste gaan ons die Gees se werking naspeur en ondervind. 

En ek wil baie graag saam met ‘n paar mense die pad stap om saam te bid, te lees en die Gees se leiding te volg …

1         God steek grense oor
  • Ons fokus op die Gees se werking en dinamika binne die Triniteit en die kosmos.
  • Ons kyk spesifiek hoe die Gees grense oorsteek in en met gemarginaliseerde mense (Rigters).
2         Jesus steek gender grense oor
  • Ons leer by Jesus hoe die Gees Hom oor die gender en godsdiens grens lei om ‘n vrou en ‘n dorpie te bereik (Johannes 4) – en ons dink na oor hoe ons in gasvryheid die grense na ons eie omgewing kan oorsteek.
3         Jerusalem steek armoede grense oor
  • Ons leer by die eerste gemeente hoe die Gees hulle lei om die armoede grens oor te steek (Handelinge 2 en 4) – en ons dink na oor ander uitdagings vir ons vandag: armoede, MIV en Vigs, geweld, werkloosheid.
4         Filippus steek etniese grense oor
  • Ons leer by Filippus hoe die Gees hom lei om die etniese grens na die Ethiopiese amptenaar oor te steek (Handelinge 8) – en ons dink na oor die 3 groot vrese van Afrika (voorvaders, heksery en towery, onreinheid).
5         Petrus steek politiese grense oor
  • Ons leer by Petrus hoe die Gees hom ‘n politieke grens laat oorsteek na die Italiaanse soldaat, Kornelius (Handelinge 10 ) – en ons dink na hoe ons na die verkiesing met mekaar as gelowiges in hierdie land van ons kan saamwerk.
6         Paulus steek godsdiens grense oor
  • Ons leer by Paulus hoe die Gees hom die godsdiens grens laat oorsteek na die Ateense wysgere, Epikureërs en Stoïsyne (Handelinge 17) – en dink na hoe ons dit in ons land kan doen na die ander godsdienste in ons land.
7         Die Gees stuur ons oor grense
  • Ons verbind ons aan die Gees wat alles met sy teenwoordigheid wil volmaak en ons in die proses wil stuur oor ons selfgemaakte grense.

Sal graag met ‘n paar mense ‘n pad wil stap tot en met die Pinksterdienste.  Bid, lees, lewer kommentaar en raak betrokke!

Chris van Wyk (acv.vanwyk@gmail.com)

Handelinge 4:5-12 – Son 3 Mei 09

Die getuienis van ‘n 5-jarige

‘n Predikant vertel van ‘n 5 jarige dogtertjie, Lauren wat sy elke Sondag na Sondagskool raakloop en vir wie sy dan vra: “Lauren, wat het jy vandag by die Sondagskool geleer?” en dan antwoord sy:  “Ek het geleer dat Jesus my liefhet”.

So was dit elke week … die predikant vra dieselfde vraag en Lauren gee dieselfde antwoord.

Na etlike weke van hierdie selfde gesprekke, het Lauren se ma haar onderbreek:  “Maar jy sê dit elke week.”

Die predikant het vir die ma gesê:  “Wel, sy is reg!  Dis wat dit op neerkom – vir 52 Sondae probeer ons hierdie boodskap deurgee: ‘Jesus het jou lief!’ Ek wens meer mense snap dit.”

Terwyl sy dit sê, stap klein Lauren na die ingang van die kerk en sê vir ‘n besoeker:  “Jesus het jou lief.” Haar eerste preek … die besoeker glimlag.

Sy was nie ‘n predikant se kind nie, ook nie die ster van haar klas nie, net ‘n gewone 5 jarige ….

Die getuienis van Petrus en Johannes

Jesus gebruik gewone mense om Sy boodskap van liefde aan die wêreld te bring.

Dit is die boodskap van hierdie gedeelte in Handelinge, soos vers 4:13 dit stel: “die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense.”

Petrus en Johannes, twee baie gewone eenvoudige mense, vissermanne nie geleerdes nie, bring die boodskap van Jesus se liefde aan ‘n wêreld wat dit nodig het.

Want onthou, hierdie verhoor vind plaas in reaksie op die genesing van die verlamde man deur Petrus een middag kort na Pinksterdag (3:1-10).  Hy en Johannes het gaan bid by die tempel, so 3-uur die middag, die tweede gebed van die dag (godvresende  Jode het 3 keer ‘n dag gebid by die tempel, 9-uur, 3-uur en 6-uur) en op pad die verlamde man genees, omdat Jesus hom liefhet.

As kinders het ons Petrus se woorde gesing: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop.” Ons het nog van goud en silwer gesing, soos dit in die oorspronklike teks staan: “Argurion kai chrusion ouch hupargei moi.” – “silwer en goud besit ek nie.”

En Petrus (en Johannes – sy stille vennoot) het sommer die geleentheid gebruik om hulle Pinksterdag preek voort te sit by die Pilaargang van Salomo.  “Hoekom is julle hieroor (die genesing) verbaas?  … Deur die geloof in sy Naam het Hy (Jesus) die bene van hierdie man … sterk gemaak.  God … (het) Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ‘n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Die genesing lok reaksie uit van die Joodse Raad

Die Joodse Raad kon darem nie dié optrede toelaat nie en laat vang hulle laat middag, net voor die laaste bidtyd, en sit hulle oornag in die tronk.  Uit Josefus se geskrifte weet ons dat die Joodse Raad ‘n raadsaal direk aan die westekant van die tempelterrein gehad het, vanwaar hulle die preek seker kon hoor en waar die verhoor die volgende dag waarskynlik ook plaasvind het.

Die volgende môre het die Joodse Raad (waarskynlik sinoniem met die Sanhedrin) vergader.  Die Joodse Raad was die hoogste regsprekende en godsdienstige liggaam van die Jode.  Hulle het bestaan uit 71 lede, afkomstig uit invloedryke families, en saamgestel uit die geledere van die priesters en die Sadduseërs (wat die liggaam gedomineer het), met die hoëpriester aan die hoof.  Dit was die politieke en religieuse elite van die Jode.  Hulle het oor alle sake wat op die godsdienstige en algemene lewe van die Jode betrekking gehad het, die beslissende sê gehad.

Ons lees hier van die familiehoofde (letterlik “die oudstes”), die senior priesters, en die skrifgeleerdes.  In vers 6 word enkele leidende priesters by die naam genoem.  In hierdie stadium het Annas al afgetree as hoëpriester (hy het van 6-14 n.C. as sulks gedien) en het Kajafas die amp beklee (18-36 n.C.).  Annas het steeds groot aansien geniet as patriarg van die familie waaruit die meeste hoëpriesters gekom het.

Terloops, Kajafas se been-kis is onlangs opgegrawe.  Die Johannes wat hier vermeld word, het hoëpriester geword in 37 n.C.

Die apostels het voor die raad verskyn wat in ‘n halfsirkel gesit het.  Die vraag wat die raad wou ondersoek, was deur watter krag en in wie se naam die apostels die wonders verrig het wat hulle gedoen het.

Petrus tree op vol van die Heilige Gees

Lukas vertel dan dat Petrus onder die leiding van die Heilige Gees geantwoord het (vers 8): “vol van die Heilige Gees”.  Só word Jesus se woorde in Matteus 10:17-20 waar, dat die dissipels nie sou hoef bang te wees wat hulle moes sê as hulle voor hooggeplaastes oor Hom moet getuig nie.

Let op hoe beleefd Petrus begin (vers 8).  Hy maak dit egter duidelik dat die apostels verhoor word oor ‘n goeie daad wat hulle verrig het (vers 9).  Hy bely vervolgens dat hy die verlamde man in die Naam van Jesus gesond gemaak het (vers 10).  Hy het dit reeds in 3:16 aan die skare verklaar, so dit was nie ‘n geheim nie.

Hy maak dit nou ook duidelik dat dit dié Jesus is wat die raad laat doodmaak het, in wie se naam die apostels optree.  Die uitspraak moes die spanningsvlakke in die vertrek opgejaag het!  Dis nie meer die Petrus wat vir ‘n slavin skrik nie.

Dan haal hy uit Psalm 118:22 aan (vers 11).  Dié Psalm is telkens deur die vroeë Christene op Jesus se optrede van toepassing gemaak (vgl. Ef. 2:20; 1 Pet 2:4-6).  Die Psalm getuig dat God vir Jesus, wat deur die Jode verwerp is, verhoog en verheerlik het.

Petrus insinueer dus dat hulle oordeel oor wie in die naam van God optree, in die verlede verkeerd was.  Dit is daarom ook eerder die Joodse Raad wie hier verhoor word en nie hy nie.

Jesus bring die verlossing en niemand anders nie

Petrus gaan voort en sê dat net Jesus nou mense in die regte verhouding met God kan bring (vers 12).  Daar is letterlik geen ander een na wie toe mense kan draai nie.  “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”

Dit moes die Sadduseërs en die priesters wat die tempel beheer het, ernstig ontstel het.  Jesus maak dus nie net siekes gesond, soos die verlamde man by die Mooipoort nie (in vers 10 sê Petrus letterlik dat die man nou “heel” is).  Jesus se dood en opstanding bied nou ook hoop en verlossing vir almal (nie net die Jode nie) wat ver van God af leef.  Jesus se Naam bring dus universele redding.

Na Petrus se skerp woorde aan die Joodse Raad, was hulle almal verbaas oor sy vrymoedigheid omdat hy en Johannes geen formele opleiding in die wet van Moses by een van die amptelike rabbynse skole ondergaan het nie.  Hulle kon ook nie veel aan die apostels doen nie, want die verlamde man van vroeër het immers nou gesond langs hulle gestaan as die lewende bewys van Petrus se woorde (vers 14)!

Uiteindelik kon hulle net die apostels dreig en hulle loslaat.

Wat is hier op die spel?

Twee goed:

1.      die gesag van Jesus as Verlosser vir die wêreld en

2.      die getuies wat dit met gesag kan verkondig.

Die gesag van Jesus as Verlosser van die wêreld

Watter gesag lê daar in Jesus as Verlosser van die wêreld, soos Petrus hier sê, die enigste een wat die verlossing bring en niemand anders nie?

1) Ek dink ons begryp nie altyd hoe sentraal Jesus in die wêreldgeskiedenis is nie.

‘n Mens word soms verlei deur die agnostici en ateïste in die media se uitsprake oor geloof  in die algemeen en Jesus se boodskap in die besonder om te dink dat geloof as sodanig en meer spesifiek geloof in Jesus eintlik iets is wat net in jou huis gehoor moet word, en darem ook in die kerk.

Maar die media en die regering en die ekonomiese – en vermaaklikheidswêreld is van meer belang op die publieke terrein en eintlik van groter historiese belang.

Nou dit is bog.

H.G. Wells, die beroemde skrywer en geskiedkundige, was een van die grootste kritici van die Christendom, maar hy het wel gesê: “I am an historian, I am not a believer, but I must confess as an historian that this penniless preacher from Nazareth is irrevocably the very centre of history. Jesus Christ is easily the most dominant figure in all history.

2) Nog dieper as dit, Petrus maak dit duidelik dat Jesus nie net nóg ‘n weg na God en vergifnis is nie.  Hy is volgens sy getuienis die enigste weg.

Dit is nie ‘n populêre standpunt vandag nie.  Dit klink vir baie net te kompromieloos, te kontroversieel, te eksklusief.  Kan dit regtig so wees dat verlossing net in een Naam beskikbaar is: “Hy bring die verlossing en niemand anders nie.”?

Daar is immers 10 000 onderskeibare godsdienste, waarvan ‘n 150 meer as ‘n miljoen volgelinge het (Barrett).

Kan dit wees dat net 1 godsdiens reg is en 9 999 verkeerd?

Daarom dat baie mense, ook Christene, een of ander vorm van pluralisme aanvaar – die geloof dat nie een enkele godsdiens daarop kan of mag aanspraak maak dat dit normatief vir alle mense is en meerderwaardig is as al die ander godsdienste nie.

As jy só ‘n pluralistiese standpunt konsekwent wil handhaaf, moet jy ook aanvaar dat alle godsdienste gelyk is.  Soos ‘n Japanese idioom sê: “Alhoewel alle paaie na die kruin verskil, van die bergtop sien ‘n mens dieselfde maan.” Of die Hindoes se godsdiens-figuur Krishna wat in die Ghagava-Gita sê: “Watter pad mense ook neem, dit is my pad; maak nie saak waar hulle loop nie, dit lei na my toe.”

Maar, al klink dit ook hoe goed, kan ‘n mens pluralisme nie konsekwent handhaaf nie:

  • Sommige godsdienste se idees en praktyke stuit ‘n mens teen die bors. Die menslike offers van sommige Amasone stamme of die Hindoes se verbranding van weduwees, hoewel daar hervormings hier rondom gekom het in die vorige eeu, kan tog nie op dieselfde vlak as ander godsdienste gestel word wat ‘n etiek van liefde en verantwoordelikheid verkondig nie?
  • En dit is onsinnig om te sê dat alle godsdienste uiteindelik min of meer dieselfde dinge sê, want dit is doodgewoon nie waar nie, en die meeste godsdienste sal self sê dat hulle verskillend is.

Natuurlik hoef ons nie alles te verwerp van ander godsdienste nie.  In Pinkster sal ek bv. aandui hoe Paulus in Athene aansluit by die idees van twee Griekse groepe, die Epikureërs en Stoïsyne, en die evangelie aan hulle verkondig.

Daar is immers ooreenkomste sowel as verskille.

Maar ons kan verseker onderskei en ‘n ingeligte keuse maak, terwyl jy oopbly vir nuwe insigte – anders as bv. ateïste wat glad nie verdraagsaam is teenoor mense wat in God glo nie, maak nie saak in watter een nie.

Waarom is Jesus die enigste weg?

Wat sit Petrus op die tafel vir sy standpunt wat geloof in Jesus die enigste verlossende geloof maak?

Drie goed:

  1. Die opstanding van Jesus uit die dood en
  2. die goeie dade, wat in Jesus se Naam gedoen word, soos met die wonder-genesing van die verlamde man geïllustreer is.  En
  3. die inspirasie en oortuiging van die charisma wat kom van die Heilige Gees (4:8), en wat duidelik sigbaar was in die welsprekende en oortuigende getuienis wat hy voor die Joodse Raad kon lewer.

Nou oor die laaste twee sou jy nog argumente kon voer, ander godsdienste doen ook goed aan ander, en daar is baie charismatiese leiers, maar jy kan beswaarlik kies om te glo in die opstanding van Jesus uit die dode, en dan ook nog dink dat Jesus en Mohammed op dieselfde vlak is.  Die opstanding is dié onderskeidende faktor.

Die verlossing is in Jesus en nie in ons nie

Terwyl ‘n mens dus, soos Petrus, kies vir die standpunt dat Jesus die enigste verlossende geloof is, kan ‘n mens Kurt Marti se styl in gedagte hou.  Hy maak 2 opmerkings :

  1. Die verlossing is in Jesus Christus – nie in ons wat Christene is nie.
  2. Die verlossing is in ‘n Persoon – nie in dogmas of ideologiese standpunte nie.

Dit beteken dat ons nie kan dink en praat oor die verlossing asof dit ons geestelike besitting is nie. En hierdie verlossing word slegs ‘n werklikheid in gesprekke met en getuienis oor grense heen wat met gasvryheid en liefde  gedoen word … wat meer is as die konfrontasie van opponente, waar elkeen net harder praat sonder om ook te luister.

Jesus is dus die enigste weg na God, die enigste verlosser.  Hy bring die verlossing en niemand anders nie.

Maar daar is nog baie meer op die spel.

Wie kan die boodskap van Jesus met gesag verkondig?

Wie se boodskap is dit?  Wie kan dit met gesag verkondig?

In ‘n merkwaardige studie van Elliot het hy aangetoon dat daar twee dominante sosiologiese ruimtes in Lukas en Handelinge is, naamlik die “tempel” en die “huishouding“.

Lukas evangelie begin en eindig by die tempel (Luk 1:5-23 / 24:50-53), maar Handelinge begin en eindig by huishoudingstonele in die bovertrek (Hand 1 – weliswaar nog by die tempel, maar as mense wat aan ‘n nuwe huishouding behoort) en Paulus in die gevangenis-huis waar hy die evangelie “vrymoedig en onverhinderd” verkondig (28:30).

Wat het gebeur dat Lukas se twee verhale in twee sulke verskillende sosiologiese ruimtes afspeel?

In Handelinge 3 met die genesing van die verlamde man vind ons die antwoord. Hier vind die sosiologiese verskuiwing plaas!

  • In Handelinge 1-8 kry ons talle huis-tonele … dit is waar die gelowiges vergader, eendragtig saambid, brood breek, in eenvoud saameet, die Gees ontvang, mededeelsaamheid beoefen, versterk word en groei.
  • In dieselfde hoofstukke word die tempel (die sentrum vir politieke en godsdienstige beheer van die volk) geteken as die plek waar mense jare verlam lê, aalmoese soek, oproer beleef en skaregeweld, gearresteer word, in tronke gestop word, gedreig word, ‘n swygverbod opgelê word, geslaan word en selfs ‘n moord gepleeg word (Stefanus).

Dié twee instellings dra dus elkeen ‘n afsonderlike karakter en gesag.

  • Die tempel is (volgens Elliot) “an alienating form of collective institutional life”
    • terwyl die huishouding “a creative form of integrative group life” weerspieël.
  • By die een word regeer en oorheers (= om lewe te neem) en
    • by die ander word getuig van die opstanding deur na elkeen se behoefte om te sien (= om lewe te gee).

Die dissipels het nog aanvanklik die tempel besoek (hfst. 3), maar na al die moeilikheid by die tempel en ook Stefanus se steniging omdat hy “dinge teen die heilige tempel sê” (6:13) word die huishouding die draende ruimte van die evangelie.

En Paulus se bediening onder die heidene loop eweneens deur huishoudings en “huisgemeentes”.   Hy begin weliswaar by die sinagoges, maar dit is telkens in die huishoudings wat geloof groei.

Die tempel word in die res van Handelinge plekke van sameswerings, beplande moorde, politieke gekonkel en strydgesprekke oor reinheid.

Die huishouding vervang dus die tempel as sfeer van die reddende teenwoordigheid van God.

Wat het dit alles met die Naam van Jesus te doen?

Wel, Jesus se lewe en naam kon duidelik nie meer aan die tempel gekoppel word nie, so maak Handelinge 4 duidelik, maar wel aan ‘n nuwe sosiale groepering waar sy waardes gelewe word, die gemeenskap van gelowiges in hulle huisgemeenskappe.

Iets wat Jesus self natuurlik al voorspel het in die gesprek met die Samaritaanse vrou by die put van Sigar: “daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg (Gerisim) en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie … (maar) deur die Gees en in waarheid sal aanbid.” (Joh. 4:21-24)

Slot

Wat ons terugbring by die verhaal van Lauren.

Die eenvoudige boodskap van Handelinge 4 is dat Jesus jou liefhet, en dat elkeen wat dit vir ‘n ander persoon sê, ‘n getuie word van die mees ongelooflike boodskap wat dié wêreld ooit gekry het.

En daarvoor gebruik God eenvoudige en doodgewone mense, mense soos jy en mense soos ek.  En hy gebruik ons in ons huise en ons buurtes.  Die kerk kan net effektief bestaan en funksioneer as ons as ‘n huishouding funksioneer, en nie as ‘n tempel nie.

“The essence of hospitality is a heart open to God, with room prepared for the Guestness of the Holy Spirit, that welcomes the presence of Christ.  This is what we share with those to whom we open our doors.  We give them Him.” Karen Burton Mains

 

Handelinge 10:44-48 – Son 17 Mei 09

Ek wil vandag ‘n eeue-oue manier van prediking gebruik om die boodskap van dié gedeelte te ontsluit.  Dit is om eers die teks uit te lê en dan die betekenis daarvan vir vandag uit te spel.  Sommige het die een explicatio en die ander applicatio genoem.  Calvyn het dit die eenvoudige betekenis van die teks (sensus simplex) en die praktiese betekenis van die teks (usus) genoem.

Ek begin met die teks en die uitleg, die eenvoudige betekenis.

1.  Die perikoop vorm deel van ‘n baie belangrike storie van die eerste gemeente in Handelinge, hulle insluiting van nie-Jode, d.w.s. heidene in die gemeente van die Here. En ons moet vir geen oomblik dink dat dit plein-sailing was nie.  Dit was een ding om te sien hoe God-vresende Jode van ander nasies  op Pinksterdag tot bekering kom en hulle in die gemeente in te sluit.  Maar dit was ‘n heel ander ding om selfs net die idee van mense wat van ‘n ander godsdiens kom, mense wat hulle sommer almal saam as heidene beskryf het, in hulle gemeenskap in te sluit.

Die feit dat die Heilige Gees op nie-Jode uitgestort word in Handelinge 10 het hulle asem weggeslaan van verbasing.  Dit was nou regtig iets wat hulle nie verwag het nie.  Geen wonder dat Petrus hierna tot in die fynste detail in Jerusalem vir die leiers moet gaan verduidelik wat gebeur het.  Tot hulle krediet het hulle die hand van die Here hierin herken en was die kerk net nooit hierna weer dieselfde nie.

2.  Die perikoop bevestig ook dat die ervaring van die Heilige Gees ‘n onontbeerlike faset van elke gelowige en elke gemeente se lewe was.

Lukas gebruik hier 3 woorde om die ervaring van die Heilige Gees te beskryf.

  • Hy sê dat die Heilige Gees gekom (letterlik geval) het op almal wat na die woord wat Petrus verkondig het, geluister het. Nou die interessante hiervan is dat dit presies is soos Jesus die ervaring van die Heilige Gees in hoofstuk 1 belowe het: Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees op julle kom of val. Dieselfde God is aan die werk in die ervaring wat die heidene hier het. Dit is sy gawe aan alle mense.
  • Hy sê ook vir ons dat die Joodse gelowiges wat saam met Petrus daar is, die ervaring beskryf as ‘n uitstorting van die Heilige Gees. Nou die interessante hiervan is dat, al is hulle verbaas dat dit met nie-Jode gebeur , hulle onmiddellik weet, maar dit is dieselfde tipe gebeure as op Pinksterdag. Die tale is onder andere ‘n bewys daarvan, hoewel dit lyk asof dit hier die eerste voorkoms van glossolalie is, terwyl die eerste uitstorting van die Heilige Gees bekende tale was. Wat dit vir die Jode beteken, is dat hulle nou iets deel met die heidene wat vir hulle baie kosbaar is, en dit beteken dat hulle die heidene nooit weer as tweedeklas mense sal kan hanteer nie.
  • En Lukas sê vir ons dat Petrus die gebeure interpreteer as ‘n ontvangs van die Heilige Gees. Die interessante is dat dit presies is soos hy dit aan die eerste gelowiges verduidelik het in hoofstuk 2, bekeer julle, laat julle doop en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Dit is ook dan die rede waarom hy onmiddellik besef daar is niks wat verhinder dat hulle ook met water gedoop word nie, en daarom deel van die liggaam van Christus word.

Daar is eintlik nie ‘n manier om die betekenis hiervan te oorskat nie.  Die interpretasie van die uitstorting van die Heilige Gees op hierdie heidene beteken:

  • dat die belofte wat Jesus aan die begin van Handelinge gemaak het ook vir die heidene bedoel was;
  • dat dit nie saak maak dat jy nie by die eerste geleentheid by Pinksterdag was nie. Jy kan die Heilige Gees ervaar te enige tyd wanneer die woord verkondig word;
  • en dit beteken dat jy nie nog iets hoef te doen nadat jy jouself aan die Here toegewy het en gedoop is, om die Gees in ‘n aparte ervaring te ontvang nie. Deur te luister na die woord en jou aan die Here toe te wy is die manier om die Heilige Gees te ontvang. En terloops die orde waarin die doop en die ontvangs van die Heilige Gees gebeur word dikwels omgeruil in Handelinge, sodat ‘n mens kan aflei, albei is belangrik, maar die orde waarin dit gebeur is van geen belang nie.

Die gevolg van die ervaring van die Heilige Gees is

  • dat die mense God prys met ongewone tale of klanke – die belangrike is natuurlik dat hulle God prys, en nie soseer met tale nie, soos Paulus later sal aantoon, nie almal kry tale nie, daar is ‘n reeks van gawes wat almal belangrik is;
  • dat hulle gedoop word wat beteken dat hulle deel van die liggaam van Christus van die kerk word op grond van die doop en die ontvangs van die Heilige Gees en
  • Petrus en die Joodse gelowiges gaan bly by hulle wat beteken dat hulle in ‘n gemeenskap met mekaar begin lewe, hoewel die Joodse wet dit verbied het. Die middelmuur van skeiding tussen Jood en heiden is weggeneem.

Dit is die eenvoudige betekenis van die teks:

  • Nie-Jode is ingesluit in die kerk van Christus, maak nie saak waar nie.
  • Die ervaring van die Heilige Gees is ‘n onontbeerlike faset van gelowiges se lewe.

En daarby resoneer dit

  • met beloftes in die Ou Testament – Genesis 12 en Joël 2-3 om maar net twee te noem – dat die nasies ingesluit is in God se plan vir die kerk en resoneer dit ook
  • met die beskrywing van die Heilige Gees regdeur die Bybel as ‘n dinamiese persoon wat werklik en ervaarbaar is, so werklik dat ander dit kan waarneem.

Ek wil nou graag die praktiese betekenis hiervan vir ons gemeente uitspel, soos ek dit van die Here ontvang het.

1.  Die eerste praktiese betekenis het te make met ons eie ervaring van die Heilige Gees. Die kerk is ‘n plek waar God Homself openbaar en waar Hy ervaar word as die een wat lig bring, wat insig gee, wat ons met vreugde volmaak, wat ons diep aan mekaar verbind, wat ons laat omgee en bereid maak om ander te dien met ons besittings en gawes.

Ons taak is om onsself oop te stel vir Hom, ons toe te wy aan Hom en te doen wat ons hand vind om te doen, soos Hy ons begelei.

Ek was in ‘n gesprek met ‘n groot sakeman dié week wat vertel het hoe hy begin het om vir sy opposisie te bid, en hoe moeilik dit vir hom was, want soos hy sê, ons predikante weet nie lekker van opposisie nie.  En was sy verrassing groot, toe hy na ‘n tyd wat hy dit getrou gedoen het, ervaar het dat die Here ‘n jarelange probleem waarmee hy gesukkel het net een dag laat verdwyn het.  Sy lewe het vol van die krag van die Gees geraak, deurdat hy begin het om in sy toewyding die Here na te volg deur sy vyande lief te hê.

Dit is hoe dit werk met die vervulling met die Heilige Gees.  Daar is verruklike vreugdevolle ontmoeting en ervarings, maar die diepste veranderinge gebeur wanneer ons die pad begin stap met God in die praktyk van ons lewe.

Dit is waarom die Geestelike Gewoontes van Adele Calhoun en die Bly in Voeling kursus van Johan Ackerman so belangrik vir my persoonlik is.  Want dit help my met my toewyding.

  • Ek het daar geleer hoe om te kyk na stories uit my verlede sodat ek of die stem van die Here daarin kan hoor sodat ek dit beter vandag kan herken, of van die impak van negatiewe stories genees kan word.
  • Ek het daar geleer hoe belangrik selfondersoek is, en dat dit die begin is van ware vrede en tot rus kom – beide die gebeure van die afgelope 24 uur as my innerlike wêreld.

Dit is in hierdie gewone goed waar ek luister na die woord van God vir my lewe, dat ek met die Gees vervul word en my lewe al hoe meer die gestalte van Christus begin aanneem.

Ek wil jou uitdaag om jou toe te wy aan die Here – nou, vandag.  Hebreërs sê mos, vandag as jy sy stem hoor, besluit om Hom te volg.

Dit is immers die doel van prediking, dat jy en ek by ‘n besluit kom en onsself toewy aan die Here.

2.  Die tweede praktiese betekenis vir ons is die vraag wat ons moet antwoord – is ons bereid om saam met die Gees te gaan as Hy oor ons mensgemaakte grense heen beweeg na mense en groepe wat Hy liefhet ten spyte van ons vooroordele?

Die vraag wat aan ons gevra word, is of ons saamkom.  In die gedeelte hoor ons hoe die Gees met Petrus werk om sy oë oop te maak vir God se werk en hom te oortuig om saam te kom – teen al sy vooroordele in!

Andrew Walls, die bekende Skotse sendinghistorikus, het heelwat geskryf oor die bekering van die heidene tot die Christendom en oor die wyse waarop hulle ingebind is in die een kerk van Christus saam met die Joodse Christene. Walls is van mening dat ons gans te min aandag gegee het aan die verskynsel.

Die Christendom – anders as Islam en die Judaïsme – het van die begin af uitgebreek uit die spesifieke kulturele en taalkonteks waarin dit oorspronklik gekom het. In beide die Judaïsme en Islam kom die godsdienskant altyd saam met `n bepaalde taal en kultuurvorm – wat beteken dat bekering tot hierdie gelowe eintlik ook die aanvaarding van `n bepaalde kultuur en taal behels.

In die Christendom was dit van die begin af anders. En dit sien ons nêrens so duidelik as in Handelinge 10 nie!

Die Joodse Christene het waarskynlik van die begin af gedink (en selfs ook gehoop!) dat daar ook heidene tot geloof in Christus sou kom, maar, sê Walls, dat hulle nie gedink het dat dit so baie sou wees nie.  As daar bekerings uit die heidene was, sou dit waarskynlik min genoeg wees dat hulle die mense in die Joodse Kerk kon assimileer. Dit sou beteken dat die heidene deel van die gemeente kon word, maar dat hulle (soos die geval was in die Jodedom voor die koms van Christus) eintlik eers Jode sou moes word.

Nou kan ons die belang van Hand 10 begin verstaan. Dit is duidelik dat hier `n nuwe episode vir die kerk begin: mense wat nie Jode is nie word ingesluit in die kerk en klaarblyklik gaan daar nie van hulle verwag word om in te val by Joodse godsdiensgebruike nie!

En ons hele Pinkster gaan aan hierdie beweging oor grense gewy word.

Wat beteken dit vir ons in ons gemeente?

Wel – die Gees is besig om die evangelie te neem na mense wat nie is soos ons nie.  En soos hier met Petrus, laat Hy Hom nie dwarsboom deur ons vooroordele nie.  Om die waarheid te sê, hy is selfs bereid om ons, soos vir Petrus, al skoppende en teëstribbelend mee te neem en te gebruik in hierdie proses.

Maar dit beteken ons moet weer tot bekering kom, veral van ons vooroordele.  Soms het hierdie vooroordele te make met kultuur- en taal-verskille, soms met ekonomiese verskille of godsdienstige of morele verskille of soms net met generasie verskille.

In ons eie gemeente het dit onder ander te make met jonger mense as ons.

Ek praat van die Kindertyd wat ons gevestig het as deel van ons erediens – maar wat soos julle weet, ‘n hele klomp lidmate laat besluit het, hulle gaan liewers na ander gemeentes.  En aan die een kant gun ek sulke mense die reg om te gaan na ‘n plek wat hulle behoeftes in hulle eie perspektief beter ondervang.  Maar van ‘n ander kant is die evangelie ook op die spel – kinders is of ingesluit in die evangelie en ons maak moeite om die boodskap van die evangelie saam met hulle te ontgin en geniet of ons redeneer dat hulle eerder op hulle eie moet wees en gefokusde aandag moet kry.  En ek wil vir geen oomblik die waarde van gefokusde aandag ontken nie, ons doen dit immers ook met die toepassing vir voorskools tot graad 7, maar die gedagte rigting daaragter het ons al by aparte kerke in ons eie familie en by aparte denominasies in die wêreld uitgebring.

Ek praat ook van Klema, wat ‘n eie unieke manier van aanbidding en kerkwees binne ons grense gestig het.

Aan die een kant sal ons as gemeente steeds moet voortgaan om die nuwe kultuurvorm waarin dit gestalte kry, te eer en respekteer en te ondersteun.  Dit is ‘n gawe van God aan ons en aan die kerk in die breë.

Maar aan die ander kant is die uitdaging vir ons en meer spesifiek vir Klema om erns te maak met die boodskap van Handelinge dat die uitbreiding van die kerk en die akkommodering van ander kulture nooit gelei het tot die stigting van ‘n ander of nuwe of tweede kerk nie, maar dat hierdie variasie, hierdie diversiteit in een liggaam ontplooi is.

Petrus se woorde hier dui duidelik op `n erkenning dat die verskeidenheid wat besig is om te ontplooi binne die kerk en die geloof, alles van Een God en Een Gees kom en dus binne Een Liggaam gekoester moet word.

En ek praat ook van ons breër gemeenskap, waar dit te make het met mense van ander kerke met wie ons ‘n pad moet stap op die mees eensgesinde manier moontlik, en ek praat van ander gemeentes in Somerstrand en in die stad en die gemeentes van die VGK.

Maar dit het ook te make met mense van ander tale en gewoontes en in die laaste paar jaar ook baie spesifiek studente wat van oor die hele Afrika hier ingetrek het.  In ons vorige gesprek by die kerkraad het die Here die studente spesifiek op ons hart gelê.  En die Bybel projek het vir ons ‘n manier gewys hoe ons die uitreik op ‘n baie eenvoudige manier kan begin.

Ons het ‘n geleentheid hierdie Pinkster om mense te nooi in ons gemeenskap en saam te kom gesels oor grense en hoe die Gees ons oor grense stuur.  Reik dus uit in gasvryheid en nooi mense saam om te luister en te deel en met ons in gesprek te gaan.

Ek sluit af met Fred Cradock se storie wie se een boek Overhearing the Gospel ek geweldig geniet het op Universiteit.

Toe  Fred Craddock ‘n teologiese student was, was hy die aflos predikant van ‘n pragtige, klein, witgeverfde kerkie in Oos-Tennessee, in ‘n prentjie mooi omgewing.

Fred het gou ontdek dat nie een van die nuwe mense in die dorp, hulle wat werk vir die groot regerings projek, die kerk bywoon nie. Hulle was arm buitestaanders wat geleef het in woonwaens en tente saam met hulle kinders.

By ‘n kerkraadsvergadering het Craddock gesmeek:  “Ons moet uitreik na die nuwe mense wat hier in die dorp is.”  Maar die voorsitter het geantwoord:  “O, ek dink nie so nie.  Hulle sou nie hier inpas nie.”

Craddock het beswaar gemaak:  “Maar hulle het die evangelie nodig! Hulle het die kerk nodig”  “Nee, ek dink nie so nie!” het die voorsitter weer geantwoord.

En net om seker te maak dat dit nie gebeur nie, het die voorsitter die volgende week ‘n besluit laat goedkeur dat net mense met eiendom op die dorp aan hierdie gemeente mag behoort.

Toe hy later professor by Candler Teologiese Kweekskool in Atlanta was, het Craddock die ou dorpie weer gaan besoek. Die kerkgebou was nog steeds daar, maar op die bord voor die gebou het daar nou groot gestaan: “Barbecued Chicken, Ribs & Pork.”

Dit was nou ‘n restaurant vol van alle soorte mense. En Craddock het aan sy vrou gesê: “Dis ‘n goeie ding dat dit nie meer ‘n kerk is nie, want baie van hierdie mense sou nie welkom gewees het nie.”

 

Psalm 110 – Kom sit aan my regterhand – Hemelvaart 22 Mei 2009


Inleiding

‘n Ouma vertel dat hulle saam met hulle jong kleinseun, Richard, vakansie gehou het in die Drakensberge. Een dag het hulle twee so gestaan en die prag van alles aanskou.  Na ‘n paar minute van stilte, het klein Richard die stilte verbreek:

“Ouma, om te dink dat God dit alles gemaak het met net een Hand!”

Die ouma het gewonder wat bedoel hy daarmee en toe vir hom uitgevra:  “Ag, oumie, jy weet mos die Bybel sê dat Jesus sit op die regterhand van God!”

Vir kinders is die almag van God ‘n werklikheid!

Wat bely ons?

Maar ons bely ook hierdie werklikheid as ons Sondae hardop sê:

“Ek glo in Jesus Christus… wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader.”

Hy is almagtig en in beheer. Hy is die eintlike regeerder van hierdie wêreld. Hemelvaart sê dis ‘n werklikheid!

Die Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 49

Vraag: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons ?

Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel as Voorspraak by die Vader is. Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur, deur wie se krag ons soek wat daar bo is waar Christus aan die regterhand van God sit, en wat nie op die aarde is nie.

Skriflesing

Een van die OT tekste wat die vroeë Christene met die Hemelvaart verbind het, was Psalm 110, en wat ook deur die Revised Common Lectionary vir vandag voorgeskryf word.

Psalm 110 is een van die tien konings Psalms in die Ou Testament en kan, na aanleiding van die drie orakels of Godsprake (‘n woord van die Here) daarin vervat, in drie dele verdeel word (verse 1-2, 3-4 en 5-7).

Kom ons lees dit so met kommentaar:

Lees Vers 1-2 – HEERSER

Hierdie is die eerste orakel: “Kom sit aan my regterhand …  Ek sal jou vyande aan jou onderwerp”.  Die Psalmis is soos ‘n profeet optree wat namens die Here tot die koning (“my heer”) spreek, met die boodskap dat die koning se ere posisie aan God se regterhand hom verseker dat hy alle teenstand sal kan onderwerp.  En as teken daarvan word die septer, die simbool van gesag aan hom oorhandig.

En let op dat die vers heel moontlik daarop dui dat die inhuldiging van die koning in ‘n tyd van spanning en dreigende oorlog plaasgevind het.  En die opdrag is: “heers dan oor u vyande!”

So die prentjie van die Koning as HEERSER word hiermee op die tafel gesit.

Lees Vers 3-4 – PRIESTER

Met die tweede orakel, in vers 3 en verder, word die tafel gedek vir die “heilige stryd”.  God voorsien die mense vir die stryd. Hy monster sy magte, en dit is die jongmense veral wat die stryd gaan voer.

Dan, interessant, word in vers 4 naas die militêre mag, soos deur die septer gesimboliseer, ook ‘n priesterlike seën oor die koning uitgespreek.  Die koning kry die magte van ‘n priester.  Die seënbede dui op ‘n tradisie wat baie ouer is as dié wat na Aäron, uit die stam van Levi, teruggevoer kan word, naamlik die van Melgisedek, die priester-koning van Salem (die vroeëre naam van Jerusalem).

Volgens Gen. 14 het hy nie net aan Abraham voorrade voorsien in sy veldtog teen sy vyande nie, maar hom ook soos ‘n priester geseën. En Abraham het hom ‘n tiende gegee van sy buit, wat ‘n mens onmiddellik laat dink aan ‘n Goddelike person.

Maar die punt is, die koning wat ingehuldig word, is soos Melgisedek, ‘n koning en priester tegelykertyd.

So die prentjie van die heerser word uitgebrei met die prentjie van die koning as PRIESTER, iemand wat omgee en tussen God en mens funksioneer.

Lees Vers 5-7 – OORWINNAAR

Na die tweede orakel volg ‘n beskrywende gedeelte waarin dit duidelik gemaak word dat Jahwe self in die komende heilige oorlog die leër teen die vyand sou aanvoer.  Vgl. wat Hy alles belowe om te doen in vers 6 – Hy straf die nasies, Hy verdelg hulle leiers, Hy laat die wêreld vol lê van hulle lyke.

Dit word afgesluit met ‘n soort heilige seremonie langs die pad waar die koning water drink uit die stroom langs die pad wat ‘n mens laat dink aan soortgelyke seremonies by kroningsgeleenthede (vgl bv. 1 Konings 1:38-40 waar Salomo se koningskap by die Gihon-fontein bevestig word.  Moontlik verwys vers 7 na die seremonie.)

Die Koning word hier dus as OORWINNAAR geteken.

Nuwe Testament

Nou die interessante van hierdie Psalm is dat dit so baie in die NT aangehaal word.  Trouens dit is die Psalm wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word.  En Jesus self en die skrywers van die Nuwe Testament gebruik hierdie Psalm dikwels as “bewysplaas” vir sy Messiasskap.  Daarom word dit ook Messiaanse Psalm genoem.

  • In ‘n stryd gesprek met die Fariseërs (Matt. 22:41-46) verwys Jesus bv. na vers 1 van die Psalm, waarvolgens Hy die seun van Dawid en van Jahwe is, om hulle van sy Goddelike afkoms en sodoende van sy Messiasskap te oortuig.
    • Jesus as HEERSER.
  • in Hebreërs 7 word na aanleiding van vers 4 van die Psalm (wat handel oor Melgisedek) na Christus se ware en blywende priesterskap verwys.
    • Jesus as PRIESTER.
  • En in aansluiting by Jesus se getuienis voor die Sanhedrin (Matt. 26:64), het die apostels en die skrywers van die Nuwe Testament die “gaan sit aan my regterhand” (vers 1) veral op Jesus hemelvaart, maar ook die opstanding en finale oorwinning oor die vyand van toepassing gemaak (vgl. veral Hand. 2:34ev in Petrus se toespraak, maar ook 5:31; Rom. 8:34; 1 Kor. 15:23-28; Efes. 1:20; Hebr. 1:3, 13; 8:1; 10:12ev; 12:2; 1 Pet. 3:21 ev.; Openb. 3:21).
    • Jesus as OORWINNAAR.

Drie sake word dus op die tafel gesit.  Jesus:

1.                  Heers  oor die aarde

2.                  Gee om en staan tussen ons en God

3.                  Oorwin die vyande

Wat is die betekenis daarvan vir ons?

Hemelvaart sê Jesus is in beheer en sal sy vyande oorwin!

Dis wat die belydenis “opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader”, beteken. Ons vergeet dit te maklik. Ons vergeet maklik van al die magtiges en koninkryke wat al tot ‘n val gekom het.  En ons vergeet maklik dat Hy wat in die hemel woon, lag vir hulle (Psalm 2:4). Ons vergeet heeltemal te maklik dat daar ‘n dag kom wanneer Hy in heerlikheid gaan verskyn op die wolke!  Dit is hoekom ons so maklik en so onnodig swartgallig kan raak.

Soms word ons mislei deur mense wat sinies en skepties is oor God se beheer, wat soort van sê, die mense wat glo is in die minderheid, so die mening van die meerderheid, dat God nie in beheer is nie, tel.

Soos Isaac Asimov vertel van ‘n Rabbi, ene Feldman, wat moeilikheid met sy gemeente gehad het. Hulle kon oor niks saamstem nie. Die president van die Joodse gemeente het ‘n vergadering belê om die saak uit te sorteer.  12 van hulle sit toe om ‘n pragtige mahonie hout tafel.  Soos die vergadering aangaan, het dit al hoe duideliker geword dat die rabbi ‘n alleen stem in die wildernis was!

Die president van die sinagoge het toe gesê:  “Komaan, Rabbi, genoeg van hierdie gepraat. Kom ons stem, laat die meerderheid heers.” Hy het die papiertjies uitgedeel en elkeen het sy stem uitgebring. Die president het dit getel en gesê:  “Rabbi, jy kan self tel as jy wil. Maar dit is 11 teen 1. Ons is die meerderheid.”

Die Rabbi het opgestaan en gesê: “So, julle dink as gevolg van dié stemmery is julle reg en ek is verkeerd. Wel, dit is nie so nie! Ek staan hier en roep tot die Heilige Een om vir ons ‘n teken te gee dat ek reg is en julle verkeerd is!”

Skaars was hierdie woord uit sy mond of daar was ‘n oorverdowende klap van donderweer en ‘n weerligstraal het die mahonie tafel in twee gebreek!

Die kamer was gevul met rook en vlamme en die president en oudste was op die vloer neergegooi. Die rabbi het onaangeraak gestaan en met ‘n glimlag op sy gesig alles aanskou.

Stadig het die president opgestaan, sy hare was geskroei, sy bril het aan een oor gehang en sy klere was deurmekaar.

Uiteindelik het hy gesê:  “Nou goed, 11 teen 2! Maar ons het steeds die meerderheid!”

NB –  Maak nie saak wat die wêreld sê of dink nie, of hulle dink hulle het die meerderheid nie!  Hemelvaart sê Jesus is in beheer en die oorwinning is syne.  En ons sal dié oorwinning sien.

Die uitdaging aan ons: Ons kan ons koppe optel en met trots die naam Christen dra.  En ons kan begin om waar daar onreg is, die saak van die magteloses op ons te neem, namens Christus.

Jesus is naby ons en gee om

Ek lees onlangs ‘n bydrae van Flip Theron in die Kerkbode oor die Hemelvaart.  Hy het die baie belangrike opmerking gemaak:

  • Die Hemelvaart is nie ‘n reis binne ons ruimte nie.
  • Dit is ‘n reis na buite ons ruimte.

Daarvan is die wolk wat met God geassossieer word in beide Testamente ‘n teken.

As Jesus dus “met ‘n wolk weggeneem word” (Hand. 1:9) terwyl die dissipels kyk, dan word Hy in God se ruimte opgeneem, dit wat ons die hemel noem.

En daarom is Jesus, weens sy Hemelvaart, net so naby aan ons as wat God is.

Jesus sê immers in Matteus (28:20), “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

En Hy verskyn ná sy Hemelvaart steeds aan:

  • Saulus op pad na Damaskus (Hand 9:3 vv) waar Jesus vir Saulus verklaar: “Ek is Jesus … Dit is vir My wat jy vervolg.”
  • En aan Annanias, die “volgeling van Jesus” in Damaskus om hom te gebruik om vir Saulus te gaan bid (Hand 9:10 vv). Ananias sê “Hier is ek Here … maar Here, ek het al baie van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo … aangedoen het.”
  • En regdeur by genesings en toesprake word die voortgaande aktiwiteit van Jesus veronderstel. Bv. Petrus sê aan Eneas in Lidda: “Jesus Christus maak jou gesond.” (9:34)
  • En aan Petrus op die dak met die visioen (Hand 10:13), waar Petrus God aanspreek met “Here”, die naam wat Petrus in sy eerste toespraak aan Jesus toedig (“God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” – Hand 2:36).
  • En later as die Gees Paulus verhinder om verder in Asië te werk en Hom stuur om die evangelie na Europa te neem, dan word die Gees spesifiek die “Gees van Jesus” genoem. (16:7)

Soos Flip Theron sê: “Hy is binne roepafstand.” Om die waarheid te sê, sê Flip: “Nee nog nader … Hy is só naby deur sy Gees dat Hy ons hoor sug” (Waar was Christus die 40 dae voor sy hemelvaart? – Kerkbode 1 Mei 2009)

Wat sê dit vir ons?

Dit stel ons gerus – Hy is in beheer en Hy is naby.

Maar dit sê ook vir ons dat ons daardie waarheid kan gaan leef teenoor en saam met ander mense

En ons doen dit beide as heersers saam met Christus, en as priesters.

Dit beteken ook dat ons nie ons HEERSER funksie kan uitoefen los van ons PRIESTER funksie, ons omgee vir mense, nie.

Ek luister dié week in Stellenbosch na Scott McKnight wat ‘n prentjie van die eerste gemeentes teken wat my geboul het.  Hy sê:

  • Jesus het nie die onreg in die wêreld aangevat en ‘n “heilige oorlog” gevoer teen die owerhede of samelewingstrukture nie.
  • Nee, Jesus het ‘n gemeenskap gevorm, wat mense wat onreg belewe, insluit deur self vir hulle te sorg! Hy het die nederiges, die hongeriges, die siekes, die blindes, die lammes, die mense wat onreg belewe ingesluit en op dié manier deur onderlinge omgee ‘n sosiale verandering gemaak.

Om die waarheid te sê, die sosiale verandering het baie keer eerste gekom voordat mense persoonlik getransformeer is.

Dit is die uitdaging vir ons as gemeente – om dinge te verander deur om te gee.  Om die grense oor te steek, soos die Gees ons dit wys.  Die grense na mense wat onreg belewe,

  • sommige as gevolg van gender diskriminasie,
  • sommige omdat hulle jonk is of omdat hulle oud is,
  • sommige omdat hulle ‘n ander taal praat,
  • sommige omdat hulle vel te veel of te min pigment het,
  • sommige omdat hulle van ‘n ander kultuur as die heersende is,
  • of sommige selfs wat net anders is as die heersende kultuur al deel hulle dit histories.

Kom ons stap die pad met mekaar dié Pinksterweek, kyk uit vir die mense wat die Here oor ons pad stuur, en steek die grense oor!

Rigters 13 – Die Gees steek grense oor met Randfigure – 24 Mei 09 – Pinkster 1

Verwelkoming

Die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat IN mense gebeur nie, maar wat TUSSEN mense gebeur.  Verhoudings tussen mense is die plek waar ware gemeenskap gebeur. Dit is ook waar van die Drie-enige God self.  Hy is in ‘n intieme verhouding met Homself, Vader, Seun en Gees.  God vra dit dus nie net van ons nie.  Hy is in verhouding met Homself.

Ons mens-wees kom daarom tot sy reg wanneer ons in positiewe waarderende omgee-verhoudings met ander lewe.  Elkeen van ons is ‘n ketting, ‘n band wat mense verbind.  Telkens as ons uitreik na mekaar in gemeenskap en versorging gee dit sin en betekenis aan ander en ons eie lewe.

Dit is ook waar van die uitbreiding van gemeentes en die vestiging van die evangelie en die koninkryk.  Geloof in Christus in ‘n spesifieke plek en deur spesifieke mense het reg deur die geskiedenis te make met die bereidheid van gelowiges om grense na ander oor te steek.

In dié mate wat die Woord gestalte kry in ‘n gemeenskap, in dié mate brei die invloed van Christus uit of krimp dit in.  Die effektiwiteit en weerstandigheid van die Christelike geloof is direk verbind aan gelowiges en gemeentes se vermoë tot: “acts of cultural translation by which the Christians of any community make their faith substantial within that community” (Walls The Cross-cultural process in Christian History, 13).

Om grense oor te steek: kultureel, eties, generasies, etnies, sosiaal, ekonomies, gender en noem maar self verder op, was en sal altyd die lewensbloed van die geloof in Christus bly.  Telkens as die invloed van Christus ingekrimp het, bv. in die eerste gemeente van Jerusalem na die eerste vervolging, het daar lewe van die randte gekom, gewoonlik waar ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. lees met die ontstaan van die gemeente in Antiochië, weens die getuienis van onbekende Joodse gelowiges van Ciprus en Griekeland. (Hand 11:19-20).

Ek wil jou dus uitdaag om ‘n reis dié week met ‘n paar mense in die gemeente te onderneem – ons noem die reis: Die Gees stuur ons oor Grense. Vir 5 dae gaan jy en ‘n paar van jou vriende fokus op die mense wat oor julle pad kom.  Elke aand gaan ek jou begelei om te gesels daaroor en te probeer agterkom wie dit is wat die Here oor jou pad stuur.  En ons sluit met ‘n heerlike Pinksterete Vrydagaand af met ‘n feesviering volgende Sondag.

Omdat sulke ontmoetings met mense geskenke uit die hand van die Here is, vra ons elke aand hoe dié ontmoetings jou geruk of getroos of geseën het.  En ons gaan praat oor hoe die Gees jou moontlik voorberei het daarop en wat jy dink die Here deur die persoon(e) met jou wil laat gebeur.

Telkens gaan ons ook vra wat die Here deur jou wil bevestig in die ander persoon en/of moontlik wil verander in jou.  En elke aand help ons mekaar om te leer wat ons beter wil leer doen.

Kortom – ons gaan op reis met mekaar om ‘n paar grense na ander mense oor te steek, wat uiteindelik geskenke van die Here word.

Dit beteken dat jy nou moet dink aan mense wat jy graag wil uitnooi op jou reis dié week.

Toetrede

Lied 444 – Kom kyk!  Kom kyk! Kyk alles word nuut! – koor 1x, gemeente 2x – staan

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 435 – Heil’ge Gees, u bou ‘n tempel deur die Woord wat kragtig werk – staan

Lied 436 – Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – sit

Lied 456 – Loof, heel die skepping, loof die Heer – koor

Toewyding

Lied 450 – Vader, Seun, Heil’ge Gees, hoe sal ons u heerlikheid kan verwoord – sit

Kindertyd

Julle gaan Ark toe vir Pinkster – almal, geen kategese, geen toepassing, net GroeiGoggas!

Epiklese

Lied 442 – Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my – koor vers 1, gemeente vers 2 – sit

Skriflesing

Ons kan ons moeilik indink in die chaos wat in Israel geheers het in die 12de en 11de eeu v.C.  Die boek Rigters vertel vir ons ‘n hele paar keer dat “elkeen gedoen het wat reg is in sy eie oë” (17:6; 21:25).  Daar was min mense wat die moed gehad het om die regte goed te doen.

Selfs die Rigters wat in die naam van God optree, het ernstige karakterfoute gehad.

Kom ek skets vir jou twee van hulle:

  • Nommer een – hy is bang en kruip in die veld weg waar niemand hom kan bykom nie, hy is sarkasties as die Engel van die Here aan hom verskyn: “Ekskuus meneer …” sê hy as die engel vir hom sê die Here is by hom, en jy kom agter dat agter die beleefdheid ernstige wantroue sit. Of wat van hierdie antwoord: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my ‘n wonder …” waarmee jy duidelik sien hy dink net mooi niks gaan gebeur nie. En as die wonder gebeur, en hy moet optree, dan bly hy wantrouig, agteraf, gaan bv. in die nag en breek die Baäl altaar af, en skuil dan agter sy pa as die mense vir hom kwaad is. Die ergste is, dat as hy die oorwinning behaal raak hy arrogant en wreed, en op die koop toe geldgierig. As hulle hom wil koning maak, vra hy net geld! En sy seun is nog erger, dié maak 69 van sy broers dood (een het weggekom) omdat hy geen kompetisie vir sy koningskap wil hê nie. ‘n Vrou moes ‘n maalklip op sy kop gooi om Israel van hom ontslae te laat raak.
  • Wie is dit?
    • Gideon en sy seun Abimelek
  • Nommer twee – hy is ‘n onderhandelaar by uitnemendheid, selfs met God, ‘n aartsmanipuleerder, wat sy brood aan alle kante gebotter wil hê, en ‘n grusame versekeringspolis uitneem, die oorsaak dat sy dogter haar lewe verloor as gevolg van sy dwaasheid, omdat sy toe die een is wat eerste uit sy huis vir hom kom verwelkom na die oorwinning. Hy het miskien gedink een van sy honde sou hom tegemoetkom, dié dat hy belowe het dat die eerste een wat hom by die huis verwelkom, sal hy offer aan die Here. Praat van dwaas en deurmekaar!
  • Wie is dit?
    • Jefta

Maar dit is gelukkig nie al wat in die boek Rigters staan oor hulle en die ander rigters nie!

Oor al twee van hulle skryf die Bybel dat die Gees van die Here op hulle was, hulle gelei het, hulle omvou het met sy krag en hulle gebruik het om die volk van Israel te verlos van hulle vyande.

Wat onmiddellik vir ons moet sê: God kies baie keer randfigure uit om sy werk te doen.  Hy steek die grense oor na mense en Hy deins nie terug vir die karakterfoute van sy mense nie, maar doen sy werk ten spyte daarvan.

Ek dink ons dink te maklik dat God net uitnemende persone gebruik:

  • Moses wat met God gepraat het soos met ‘n vriend.
  • Josef wat behalwe vir so ‘n bietjie arrogansie in die begin, een van die wysste mense ooit was en die rede was dat die hele volk Israel in Egipte, sommer saam met die Egiptenaars, bewaar gebly het.
  • Dawid, wat wel sy gebreke gehad het, maar van die mees roerende gedigte en liedere geskep het, waarvan ons vandag nog sing, en ‘n ongelooflike dapper held was.
  • Paulus, wat met onverskrokkenheid die pad deur die Midde-Ooste en Europa plat gestap het en ‘n hele beskawing aan die evangelie blootgestel het.
  • Andrew Murray, Hudson Taylor, Billy Graham, Rick Warren, Bill Hybels – ag en so kan ons aangaan.

Maar, dit is net een kant van die verhaal.

Daar is ‘n ander lyn in die Skrif, mense wat baie gebreke gehad het, mense wat jy eintlik amper wil sê, ek wil jou nie ken nie, wat ook deur God gebruik is.

Want sien, God se Gees werk nie net met die gesondes nie.  Nee, Hy steek altyd grense oor.  En as Hy grense oorsteek, steek Hy die grense baie keer oor met mense wat allerhande gebreke het of wat onaansienlik is of aan die onderpunt van die sosiale leer is.

En dit is waar die verandering gebeur – tussen ons en God en tussen ons en mense.

En dit beteken, dat daar vir ons ook plek is – dat as ons maar net eenmaal sal luister, en die Gees vaardig raak oor ons, ons deur God gebruik kan word.

Ek wou dus vanoggend hier begin, by die randfigure, by Gideon, en Jefta en Simson voordat ons vannaand en verder na die meer prominente of dan uitnemende karakters in die Bybel gaan kyk en spesifiek die wyse waarop God met hulle grense oorgesteek het.

Kom ons lees die verhaal van Manoag, sy vrou, die eintlike kontakpunt met God, en die geboorte van hulle seun, Simson – Rigters 13.

Woordverkondiging

Die geskiedenis van Simson het ‘n besondere karakter.

Meer gebeurtenisse as by enige ander leier word hier van hfst. 13-16 vertel.

Die verhaal vorm ‘n pragtige eenheid wat tot ‘n klimaks oploop.

Ons fokus vandag op die begin daarvan.

Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.  Die Here gee hierdie keer Israel vir ‘n baie langer tyd as vantevore in die hand van hulle vyande oor – 40 jaar lank.  Die vyand kom nie hierdie keer uit die ooste, soos by Jefta nie, maar uit die weste.  Die Filistyne het wes van Kanaän, in die kusstrook by die Middellandse See, gewoon.

Dan word die verhaal van Manoag en sy vrou vertel, wat gebly het in Sora en uit die stam Dan was.  Sy naam word genoem, maar dié van sy vrou nie, hoewel dit gou blyk dat sy die eintlike kontakpunt met die Here gaan wees.

Dié vrou is kinderloos.  Die Engel van die Here verskyn dan aan haar, nie aan haar man nie, en belowe vir haar ‘n kind.  Sy, die kinderlose, sal swanger word en haar skande sal weggeneem word.

Interessant is dat sy in fyn detail opdrag kry hoe sy moet lewe en hoe die kind moet lewe – totaal toegewy aan die Here.

Sy vertel dié gebeure in detail vir haar man, wat onmiddellik bid dat die man van God weer sal verskyn aan hulle sodat hulle kan weet wat hulle moet doen met die kind.  Sy vrou het hom vertel, maar hy wil dit self hoor.  Sy versoek word verhoor, maar die Engel verskyn weer aanvanklik net aan die vrou.  En as die vrou hom gaan haal, en Manoag die Engel vra hoe die kind moet lewe, dan verwys hy Manoag net na alles wat hy reeds vir die vrou gesê, en beklemtoon haar rol, eerder as dié van die kind.

Wonderlik om te sien met hoeveel teenwoordigheid van gees en doodgewone praktiese wysheid die vrou optree as hulle agterkom dat dit eintlik die Here self was wat aan hulle verskyn het.  Op haar man se angstige voorspelling dat hulle nou sal doodgaan, omdat hulle die Here gesien het, sê sy net: die Here sou dan nie ons offer aanvaar het nie, die engel laat sien het, en boonop die wonderlike nuus van ‘n seun gegee het nie.

En uit hierdie relatiewe eenvoudige gesin, ‘n man wat versigtig glo, en ‘n vrou wat, hoewel ons nie haar naam verneem nie, ‘n ongelooflike vertroue openbaar (sy vra geen vrae nie, aanvaar net wat die Here sê, presies soos Maria veel later) en op die koop toe uiters prakties kan dink, kom die seun Simson wat vir20 jaar leier van sy volk sou wees.

Let op – God kies nie ‘n vooraanstaande gesin nie.  Hy kies randfigure, soos ‘n mens in die unieke alleenloper Terminator van ‘n man Simson gaan sien.  Hy kies wie Hy wil, mense na wie Hy die grense oorsteek, mense in wie Hy Sy heerlikheid en krag kan ten toon stel.

Let ook op – die vers aan die einde van die hoofstuk: “Simson het groot geword en die Here het hom geseën: die Gees van die Here het hom … begin lei.”  Daar staan letterlik: God het sy treë begin bepaal.

En regdeur kom hierdie leiding van God na vore.  Hoewel Simson se optrede altyd heel uitsonderlik bly: hy is ‘n alleenloper, sonder ‘n leër, word daar meer as met die ander rigters gesê: die Gees van die Here het hom sterk gemaak (kragtig op hom gekom – sê die oorspronklike).

‘n Mens sien dit ook in die vreemde verhale van sy liefde en ontberinge met vroue.  Kyk, hoewel Simson sy lewe lank ‘n nasireër was, d.w.s. hy het nie wyn gedrink nie, en hy nie sy hare geskeer nie, behalwe die een keer aan die einde van die verhaal, weet ons dat hy nie juis ‘n sedelike reus was nie. Hy het die vermoë gehad om, heel naïewelik wil dit voorkom, in sy liefde vir vroue deurgaans vernietigende verhoudings aan te knoop.

Maar, en dit is só diepsinnig, die skrywer van Rigters verseker ons, dat op ‘n manier die Here juis met sy swakheid ‘n plan gehad het.  Hy verklaar selfs in 14:4 dat die Here hierdie insidente beskik het, omdat Hy ‘n geleentheid wou skep om die Filistyne te straf.

Wat beteken ons moet versigtig oordeel.  Telkens is dit weens die strik wat ‘n vrou vir hom stel, dat hy ‘n hele boel Filistyne kan vernietig.  En dit is waarvoor God hom geroep het.  Die Here het dus in en deur Simson se menswees die verlossing van Israel beplan.

En op ‘n manier verrig hy sy grootste verlossingdaad toe hy op sy swakste is, oë uitgesteek, in die tempel van Dagon, en in sy laaste doodskreet die hele tempel op die Filistyne aftrek.  In sy dood raak hy eintlik ‘n Christusfiguur, Christus wat ook deur sy dood die oorwinning behaal het.

Waar laat dit ons?

God steek grense oor na randfigure.  Hy gebruik hulle in sy koninkryk, selfs mense wat ons vandag net sou afskryf.  Gideon, Jefta en Simson.

As dit die aard is van God, as dit is hoe Hy werk, kan ons nie eintlik anders werk nie.  Ons sal moet leer om sagter te oordeel oor mense.  Ons sal moet leer om self grense oor te steek na mense wat ons uit ons gemaksones neem, waar ons bereid is om selfs verander te word op pad na die koninkryk van God.

Dié week gaan ons gesels oor verskillende grense – en ek nooi jou uit om baie bewus te wees deur die dag watter mense oor jou pad kom, dat ons daaroor kan gesels en daar ‘n verandering kan kom.

Dit is die uitdaging.  Stap die pad saam met my.  So kan die wonder gebeur, dat God ons gemeente ook oor sy grense stuur en ‘n verskil maak in hierdie wêreld.

Daar is altyd ‘n wêreld

Wat jy nog nie ken nie

Daar is altyd ‘n taal

Wat ons nie verstaan

Een deel van jouself

Waarvan jy vergeet het

Daar is altyd ‘n pad

Wat jy nog kan gaan

Daar’s altyd ‘n lewe wat jy nog kan leef

Daar’s altyd ‘n grens om verby te beweeg

 

Stef Bos – Komatiepoort 2009

Gebed

Dankoffer

Lied 443 – Wind kan jy nie sien nie – niemand sien dit raak – koor

Slotlied

Lied 440 – Die Here salf ons met sy Gees tot diens en heiligheid – staan

Seën

Amen

Lied 189 – Halleluja – staan

Aankondigings

Teepotte

Vannaand 18:30

Jesus steek grense oor deur gender – die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put

Stukkie ekstra

God werk in Rigters natuurlik nie net deur randfigure nie.

Ons lees darem ook in Rigters van Otniël wat ‘n besondere leier was, al weet ons min van hom.  Otniël was ‘n seun van Kenas, ‘n jonger broer van Kaleb.  Kaleb was een van die verkenners wat die aanvanklike poging ondersteun het om die beloofde land binne te trek .  Otniël is dus een van die oorlewendes uit die woestyntyd, saam met Kaleb.  En dit is betekenisvol.   God het hom die geleentheid gegee om die beloofde land binne te trek.

Maar ons weet egter genoeg van hom om die volgende vier goed van hom te kan sê:

  • Hy was dapper. 
    • Toe sy oom Kaleb iemand vra om die stad Kirjat-Sefer in te neem, het hy dit gedoen.
  • Hy het baie vernuf gehad.
    • Kaleb het sy dogter, Aksa, wie se naam beteken “ornament”, uitgeloof vir die oorwinnaar.  Otniël het dus ‘n baie goeie motivering gehad vir dié geveg.
  • Maar, Otniël het nie net ‘n oog gehad vir ‘n goeie vrou nie, wat sy lewe soos ‘n ornament kan versier nie, maar ook vir wat sy vir hom kon beteken.
    • Want toe sy by hom kom, oorreed hy haar om vir haar pa landbougrond te vra, en dié gee toe vir haar grond met standhoudende water.
  • Maar die belangrikste wat ons van hom lees, is dat die Gees van die Here op hom was. 
    • Daarom kon die Here hom gebruik om die volk te bevry toe daar ‘n bedreiging van die Mesopotamiërs kom.

Hy was dus die modelrigter, wat die skrywer van die boek as riglyn of maatstaf gebruik vir die ander rigters:
Die Gees van die Here was op Hom en hy het nie net die Mesopotamiërs oorwin nie, maar veertig jaar lank vrede geniet in die land.