Skip to main content

Joh 4 – Son 25 Jan 09

VERWELKOMING

Daar is by baie van ons ‘n begeerte na meer: meer tyd vir die belangrike dinge in die lewe, meer insig in wat mense by ‘n regtig betekenisvolle lewe uitbring, en veral om meer van God in ons lewe te hê. 

Die wonder is, hierdie begeerte na meer val nie uit die lug nie.  Die begeerte na meer in ‘n mens se lewe is alreeds ‘n getuienis dat God aan die werk is in ons lewe.

Wat ons nodig het, is maniere om hierdie werk van God nie net agter te kom in ons lewe nie, maar veral om ruimte daarvoor te maak, daarby aan te sluit en daarmee saam te werk.

Een van die wonderlike maniere waarop ons ruimte vir God kan maak, is deur Geestelike Gewoontes of dissiplines.  Geestelike Gewoontes is soos druppels water vir ons dors na God.  Dit skep ‘n ruimte waarin ons dors na God geles kan word: druppels vir die dors.  Dít is waarop ons dié kwartaal fokus.

Al die inligting is in die brosjures asook in die Joernaal wat u soos verlede kwartaal elke Sondag sal ontvang.  Dit is nie net vir gebruik in die kerk nie, maar veral ook in kleingroepe en saam met vriende.

Kom ons begin met ‘n lied wat van ons behoefte na God praat wat ook ons verootmoediging voor die Here is:

VEROOTMOEDIGING

Lied 163: “Soos ‘n wildsbok wat smag na water, smag my siel na U, o Heer.” – sit

VOTUM

Psalm 36:8-11:
“Hoe kosbaar is u trou, o God!
U beskerm die mense wat by U skuil.
In u huis geniet hulle oorvloed,
U laat hulle drink
uit die strome van u goedheid.
U is die bron van die lewe,
deur u lig lewe ons.
Laat u liefde bly by dié wat U erken
en u trou by dié wat opreg is.

SEËNGROET

Jesaja 55:1:
“Kom, almal wat dors is,
kom na die water toe,
selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,
koop en eet;
ja, kom, koop sonder geld
en sonder om te betaal,
wyn en melk.”

LOFSANG

Lied 154:2,3 “Hier is die Heer by ons teenwoordig, Hy skep die ruimte vir sy werk” – staan
Lied 484:1,3 “Almal wat dors het, kom geniet, die grootste gunsbewys, neem wat die Here gee, verniet.” – staan

DOOP

Lied 289:1 “Jesus, Heer, op wie ons hoop, ons maak soos U ons beveel het: Ons bring kinders hier ten doop.” – sit
Lied 288:3 “Gee aan ons kroos u hulp en troos; gee aan ons wysheid, Here.” – sit

KINDERTYD

Lied 541:1,2,3 “Ons bring aan U, Heer Jesus, ons lof en dank en eer.  Ons wil U met ons lewe, terwyl ons jonk is, eer.” – sit

Was julle al regtig dors?

Wat doen julle as julle dors is?

En help dit?

Hier is ‘n paar diere – kom ons kyk wat hulle doen?

Hoe lank help dit?

‘n Mens raak altyd maar weer dors.

Een keer het die Israeliete in die woestyn só dors geraak.  En hulle het gekla.

Wat het toe gebeur?  Kan julle onthou?

Moses het gebid en die Here het vir hulle water gegee.

Moses het op ‘n rots geslaan, en toe het daar water uitgevloei.

En hulle kon hulle dors les.

Dink julle dit was genoeg?

Nee, want hulle het weer dors geraak.

Net soos ons.

En ons kan ook vra vir God vir ons behoeftes, water, kos, klere, al die dinge wat ons nodig het.

Nou ons gaan netnou die storie lees van Jesus by ‘n put.

Weet julle wat is ‘n put?

Hier is ‘n prentjie van ‘n vrou by ‘n put.

Nou Jesus was ook dors.

En daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou aan wat ‘n kruik het waarmee sy water kan skep.

En Jesus vra vir haar vir water.

En as sy wonder hoekom hy vir haar vra, dan begin Jesus praat van ‘n ander dors.

Die dors na God.

Want julle weet, ons sal altyd weer water wil drink as ons dors is.

En dit is reg so.  Ons is so gemaak.

Maar, Jesus kan ons dors na God regmaak.

Weet julle wat dit is as ons dors is na God?

Dit is as ons sleg voel oor iets wat ons verkeerd gedoen het, en ons wil hê Hy God moet ons vergewe, dan het ons ‘n dors na God.

En as ons bid en ons vra Hom om ons te vergewe, en ons weet mos Hy doen dit as ons dit bedoel, dan voel ons asof ‘n lekker glas koue water of ‘n glas koeldrank gedrink het.

God gee vir ons geestelike water!

En Hy les ons dors.

GEBED

SKRIFLESING

Net iets oor die put van Jakob – dit is ‘n put wat Hy gekoop het van Hamor (Gen 33) en aan Josef gegee het op sy sterfbed (Gen 50), hoewel Josef dit nooit in besit geneem het nie.  Net sy bene is daar begrawe (Jos 24).

Lees Johannes 4

WOORDVERKONDIGING

Jesus is die enigste een wat jou lewe kan verander.  Hy is die enigste een wat jou begeerte na God, daardie behoefte na sin en betekenis, na heelheid en tevredenheid kan bevredig.

En die beste manier om dit reg te kry, is om, soos Eugene Petersen dit noem, ‘n aptyt vir God te ontwikkel, ‘n dors na Hom.  Hoekom sê hy so?  In The Message, vry vertaal, sê hy dit as volg: “God is die kos en wyn van die beste ete wat jy ooit sal eet.” (Matt 5:6).

Nou die interessante van God se manier, is dat Hy ons ontmoet waar óns is, in ons behoeftes en begeertes.  Hy sit nie eers jou begeertes af en begin dán met jou werk nie.  Hy vra nie eers dat jy darem net só ‘n bietjie meer volwasse moet raak in jou begeertes nie.  God is nie ‘n askeet, een wat die vreugdes en genietinge van die lewe afsit, nie!

Nee – Hy is maar te bly as ons behoeftes het, want dan kan Hy daarby aansluit, dit bevredig, en ‘n geleentheid skep dat ons dieper dors na meer van Hom bevredig kan word.

Hoekom?  Want verborge in ons behoeftes en begeertes is ‘n aptyt, ‘n dors vir God, die een wat ware lewe gee.

KOM ONS KYK EERS VAN JESUS SE KANT AF NA DIÉ VERHAAL:

Jesus is op reis na Galilea in die noorde.  Hy vat die kortpad deur Samaria en nie die gebruiklike langer roete aan die oostekant van die Jordaanrivier om die Samaritane te vermy nie.

Nou ons moet onthou: Jode het nie met Samaritane geassosieer nie.  En dit was wedersyds.  Hulle onderlinge stryd het reeds 7 eeue tevore begin, toe die noordelike ryk, met Samaria as hoofstad, deur die Assiriërs verower is.  ‘n Klomp Assiriërs het daar kom bly, wat tot grootskaalse ondertrouery tussen die Jode en Assiriërs gelei het.  Dit het tot ’n gemengde godsdiens en ‘n gemengde rasse groep in daardie gebied gelei. Die Jode van Juda, die suidelike ryk, het die Samaritane dus as ’n onsuiwer groep mense beskou en hulle gehaat omdat hulle, volgens die Jode, hulle volk en godsdiens verraai het. Daarom het die Jode uit hulle pad gegaan om Samaria en die Samaritane te vermy.

Jesus laat Hom egter nie deur dié eeue lange stryd van stryk bring nie, en as hy by die fontein ‘n Samaritaanse vrou kry, vra Hy vir haar water.

Daarmee het Jesus twee grense oorgesteek.  Hy steek 1) die rasse en sosiale grens oor, én Hy steek 2) die geslag- of gender grens oor – Hy as man praat met ‘n vreemde vrou op ‘n publieke plek.

En die interessante van sy gesprek met haar, is dat Hy haar baie spesifiek vra om sy dors te les.  Daardeur erken Hy haar behoefte aan waardigheid, en Hy gee haar die mag om iets vir Hom te beteken.

As sy met Hom terug begin praat, bied Hy vir haar die lewende water aan, iets waarin sy onmiddellik belang stel, hoewel sy dit eers verkeerd verstaan.

En op haar vraag na die regte plek van aanbidding, lei Jesus haar na ‘n nuwe manier om God te aanbid, nie meer in Jerusalem of Samaria nie, maar op enige plek, solank dit in Gees en in waarheid geskied.

Daarmee steek Jesus natuurlik saam met haar ook 3) die godsdiens grens oor na ‘n nuwe plek waar almal voor God gelyk is en met Hom in ‘n geestelike verhouding kan leef.

Die afloop van die verhaal is treffend – die vrou wat ‘n verstoteling in haar eie gemeenskap was, dié dat sy op die middag kom water skep het, gaan terug na die Samaritaanse gemeenskap, bring hulle na Jesus toe, en herstel eintlik die gemeenskap nie net met God nie, maar ook tussen Jode en Samaritane.

Jesus bevredig dus haar behoefte aan menswaardigheid, aan gemeenskap met haar mense, maar ook aan die regte verhouding met God.

MAAR KOM ONS KYK NOU NA DIE VERHAAL UIT DIE VROU SE HOEK:

Sy gaan skep water op die warmste tyd van die dag, 12:00.  Vroue het twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise in daardie tyd, soggens en saans, wanneer dit koeler was.  Hierdie Samaritaanse vrou vermy dus die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was.  En verwerpte mense weet ons mos, het ‘n behoefte aan aanvaarding en gemeenskap met ander mense – al sal hulle dit wegsteek of ‘n front voorhou. Die feit dat sy saamgebly het met iemand op dié stadium verraai dat sy ‘n behoefte aan mense gehad het, al was dit dan nou ‘n opeenvolging van mans.

As Jesus vir haar by die put vra na water, is haar eerste reaksie om Hom weg te stoot met die verweer dat Jode nie met Samaritane gepraat het nie, en mans weer nie met vroue in die openbaar nie.

Maar ‘n interessante ding gebeur.  As Jesus vir haar antwoord en begin om God by haar behoefte uit te bring: “As jy geweet het wat God gee …” (vers 10) dan raak sy geïnteresseerd en wil sy by hierdie vreemdeling leer, haar behoefte na meer bevredig.

Eers toets sy nog ‘n laaste keer sy vermoë: “Jy is tog nie tot meer in staat as ons voorvader Jakob nie …” (vers 12), maar soos Jesus haar al hoe dieper inlei in alles wat God haar kan gee, ‘n fontein van water wat in haar binneste kan opborrel en vir haar die ewige lewe kan gee, dan raak sy leerbaar.

En haar leerbaarheid lei haar tot ‘n oorgawe aan Jesus se perspektief op God en die wyse waarop Hy aanbid moet word.

En as Jesus vir haar sê dat Hy die Christus is, raak sy ‘n getuie, wat nie net teruggaan na die dorp en die waarheid oor haarself vertel nie, maar nog meer belangrik, Jesus as die Christus aan hulle voorstel.

Dit is asof die ruimte in haar lewe vir God progressief groter word deur vier fases:
•    Sy raak leerbaar.
•    Sy gee haarself oor aan Jesus
•    Sy vertel die waarheid oor haarself
•    En sy raak ‘n getuie.

En nou moet u mooi luister, want ons leer ongelooflik baie hieruit: Jesus sluit aan by haar behoefte aan aanvaarding, haar behoefte om mens in eie reg te wees, haar behoefte om ingesluit te word in die gemeenskap waar sy bly, en Hy bevredig ál die behoeftes, oor en oor … maar sy leer ook die Messias ken, dié Een wat haar diepste begeerte na God kan bevredig.

En God laat water opborrel uit die fontein binne in haar, sodat sy in die dorpie gaan getuig van die lewende water wat Jesus bring.  En haar getuienis maak die deure van die dorpie oop vir Jesus.  Hulle reageer in gasvryheid, nooi Jesus om vir ‘n paar dae daar oor te bly, en raak op hulle beurt getuies: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vir ons vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.” (vers 42).

BETEKENIS

En dit gee ons ‘n diep insig in hoe die geestelike lewe werk:

Van God se kant af sluit Hy by die behoefte aan wat dié vrou het na aanvaarding, en selfs in die geval van die dorpie.  En Jesus nooi haar uit, daag haar uit, moedig haar aan, vertoef by haar totdat sy kan reageer op die geskenk wat Hy gee.

En in die proses kom daar ruimte vir Hom in haar en in die dorpie se lewens.

Wat sien ons in die vrou?
•    Leerbaarheid
•    Oorgawe
•    Getuienis!
•    Praat die waarheid

En by die dorpie Sigar?
•    Gasvryheid
•    Getuienis

Van die vrou en die dorpie se kant af, maak hulle ruimte vir God in hulle lewe deur leerbaar te word, deur hulle oor te gee aan wat God deur Jesus vir hulle wys, deur nie stil te bly oor die geskenk van lewende water wat God deur sy Gees gee nie, deur die waarheid te begin omhels as die enigste manier waarop gemeenskap herstel word, deur gasvry te wees en deur te getuig.

En omdat dié dinge so kragtig gewerk het in hierdie mense se lewens, het dit deel geword van die geestelike wysheid van die kerk.  Die kerk het agtergekom, mense wat leerbaar word, mense wat hulle aan God oorgee, mense wat die waarheid begin praat, mense wat gasvryheid begin leef, is mense wat die lewende water wat God gee, ervaar as ‘n fontein wat in hulle binneste opborrel.

Én … het die kerk geleer deur die eeue, as jy meer van God in jou lewe wil ervaar, is dit dié dinge wat jy as geestelike gewoontes of dissiplines kan aanleer, sodat dit jou gedrag kan bepaal en jy ruimte vir God kan maak in jou lewe.  Dws, as jy leerbaar is, as jy jou oorgee aan God op ‘n daaglikse basis, as jy die waarheid praat, as jy gasvry lewe, dan gee jy God kans om sy werk te doen. 

En dit is wanneer dié dinge ‘n lewenswyse word, wat jou lewe regtig vrug begin dra, dat jou behoeftes bevredig word, dat jy ‘n fontein van lewende water vir ander word.

Só word ‘n mens met jou volle menswees en met jou spesifieke behoefte ingetrek in God se werk en kom daar ‘n ruimte dat Hy ons lewens kan transformeer.

Natuurlik is die dieptepunt van al ons begeertes eintlik ‘n begeerte na God, maar jy begin op die plek waar jy is, soos die vrou, by haar verworpe ervaring, die middag by die put, en deur die ruimte wat daar in haar kom vir God se werk,  in haar geval deur leerbaarheid en oorgawe aan Jesus lei dit haar tot ‘n lewe in waarheid en getuienis … En haar diepste begeerte na God word bevredig.  Sy ontmoet die Messias.

Dít is waarmee geestelike dissiplines ons hierdie kwartaal gaan help.  Om in ons begeertes ons behoefte aan God raak te sien, en in die beoefening van spesifieke geestelike gewoontes ruimte te skep dat Hy ons lewe kan volmaak met die lewende water, vir ons, en vir ander.

Elke week gaan ons daarom een geestelike gewoonte neem, dit verbind aan ‘n behoefte na meer, die Skrif perspektiewe daarop uitspel, en dan maniere om die gewoonte te beoefen ondersoek en voorstel vir inoefening in die daaropvolgende week.  Rethie gaan ook ‘n groep Woensdagaande met Didage op ‘n dieper reis met die geestelike gewoontes neem.  Daar is plek vir 20 mense.

VOORBIDDING

DANKOFFER

SLOTSANG

‘n Mens kan baie woorde vir die dissiplines gebruik: om Hom te aanbid, om sy Naam aan te roep, om Hom te loof, om tot Hom te bid. En ‘n mens kan dit op baie maniere doen – Adel Calhoun noem 62 sulke dissiplines wat ons vandag nog kan beoefen, en daar was en is nog meer.

En hoe ‘n mens ook al dink oor die doel van die geestelike dissiplines, ten diepste is dit telkens om met God gemeenskap te hê.  Om Hom lief te hê, om Hom te dien, om na Hom te luister, om van Hom te leer, om deur Hom vertroos te word, om deur Hom tot rus gebring te word, om deur Hom vergewe te word, om ‘n antwoord op gebed van Hom te ontvang.

Lied 601:1,4,5 “Elkeen wat dors het, mag kom; drink die fontein se water.  God kom dan self by ons woon.” – staan

SEËN

AMEN

Lied 313 – staan

Hebr 4:12-13 – Son 8 Mrt 09

Kindertyd

Luister julle maklik?

Sê nou jou ma sê – maak jou kamer aan kant en sit al jou klere in die kas?

Sê nou sy sê – kom help my gou skottelgoed was?

Sê nou sy sê – daar is koek op die tafel?

Dan sit jy mos jou spesiale ore aan!

Dan luister ons met alles wat ons kan.

Nou ek wil julle vertel van ‘n man wat dit geleer het toe hy al ‘n groot man was.

Sy naam was Naäman

Eerste skyfie – hy was ‘n belangrike man – hoof van die weermag van die Arameërs

Tweede skyfie – hy was melaats

Derde skyfie – daar was ‘n jong dogtertjie in sy huis, wat ‘n slaaf was.  Sy vertel vir hom van die profeet Elisa in Samaria in Israel wat kan bid vir hom, dan sal hy gesond word.

Vierde skyfie – hy besluit om te gaan met baie geld en klere

Vyfde skyfie – groot was sy verbasing toe die profeet hom nie eers wil sien nie, en vir hom sê hy moet hom sewe keer in die Jordaan gaan was.

Sesde skyfie – O en hy wou dit nie doen nie – tot sy amptenare vir hom sê: sit jou spesiale ore aan. Hulle sê, sê nou hy het iets moeiliks gevra, sou jy dit dan nie gedoen het nie?  Nou het hy iets eenvoudigs gevra, hoekom sou ‘n mens nou nie dit wil doen nie!  En wat doen Naäman?  Hy sit sy spesiale ore aan en hy luister.

Sewende skyfie – hy duik in en na sewe keer is hy silwerskoon gesond, sy vel was soos ‘n klein seuntjie s’n.

Spesiale ore help!

Teks

12 Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. 13 Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

Woordverkondiging

Ek lees die Bybel al van laerskool dae af. Dit is ná my voorskoolse dae met die Kinderbybel en sy prente.

Ek help mense om die Bybel te lees van my hoërskool dae af.

En dit is nie so maklik as wat ‘n mens dink nie.

Om my te help is ek blootgestel aan ‘n verskeidenheid akademiese dissiplines in my studies – Grieks, Hebreeus, Aramees, tekskritiek, vertalingstegnieke, Ou Testament Teologie, Nuwe Testament Teologie, Dogmatiek en al die voortvloeiende vakke wat meer op ‘n praktiese vlak lê, liturgiek, gemeentebediening, jeug, pastoraat, ens.

En julle sal weet dat ek baie keer van dié insigte invleg in my hulp aan mense om die Bybel te lees, ook by die Bybelskool.

En dit is goed om te weet hoe die Bybel in mekaar steek.  Dit is goed om te weet wat die spesifieke woord is wat in ‘n vers gebruik word, want dan keer dit dat jy verkeerde interpretasies maak.  Dwaling het immers net een vers, en soms net ‘n frase of ‘n woord in ‘n vers nodig wat verkeerd gelees word!  En niemand van ons wil tog doelbewus dwaal nie, of ten minste die meeste van ons.

En dié manier van Bybel lees is ‘n ou tradisie. Dit kom van die skool van Antiochië af uit die eerste eeue.  Dit is die stad waar Paulus gewerk het en vanwaar af hy sy sendingreise gedoen het.  Dit was vir die Antiochiërs ontsettend belangrik om die regte grammaties-histories betekenis van ‘n teks vas te stel, want het hulle geglo, dit help dat ‘n mens presies weet wat ‘n teks sê en dan kan jy reg daarop reageer.

Calvyn het dit die sensus simplex genoem – die plein, eenvoudige betekenis van ‘n teks. ‘n Mens kan dit ook ‘n informatiewe lees van die teks noem.

Informatiewe lees

Ek het van hierdie tipe inligting oor die teks in die joernaal gesit.

Kom ons kyk kortliks daarna:

Oorhoofs: Die teks gaan oor die effektiwiteit en deurdringendheid van die Woord van God

Twee temas: 1) wat die Woord doen , 2) wat ons moet doen.

Die eerste word uitvoerig beskryf – die tweede in 5 kort Griekse woorde aan die einde opgesom: “aan Hom moet ons rekenskap gee”.

Agtergrond: Die teks sluit aan by die verhaal van Israel wat God se Woord verontagsaam het in die woestyn (Psalm 95 vertel dit poëties: die ongehoorsaamheid by Massa en Meriba toe hulle in opstand gekom het teen die Here oor hulle gebrek aan water – hulle kon net nie hulleself so ver kry om die Here te vertrou dat Hy vir hulle sal sorg nie).

En die Hebreër skrywer sê: moenie in dieselfde strik trap van opstand en ongehoorsaamheid as hulle nie!  Hierdie Woord van God is ‘n swaard met twee snykante – maar nie saak wat jy doen nie, sny gaan hy jou sny, as hy ongehoorsaam is!  En daarby is daar sy oë wat alles sien – letterlik oral!

So die skrywer probeer vir ons wys dat die Woord kan doen en eintlik sê hy, die Woord kan doen wat niks anders kan nie – daar is niemand wat daarteen bestand is nie – jy kan dit verontagsaam, maar jy kan dit nie keer nie.

Nou as jy dit weet – dan kan jy ‘n bietjie dieper kyk na wat die teks sê, die Woord doen.

Die skrywer sê, dit is lewend (persoonlik) en dit is kragtig (energiek).

En dit werk persoonlik en energiek in op drie aspekte van ons menswees:

Dit raak ons identiteit:

Die skrywer praat hier van die woord wat in dring tot by die skeiding van siel en gees – daarmee wil hy sê: die woord skei dinge wat ons soms dink is onskeibaar, dinge in ons binne-wêreld, daar waar ons persoonlikheid en ons geestelike aanvoeling setel.  Kortom: God se Woord dring deur tot in die plek waar ons identiteit is, ons mens-wees, ons ervaring van wie ons is, die kontakpunt met die wêreld en met God – en dit help ons onderskei wat in ons van God is en wat nie.

Dit raak ons energie punte:

Die woord dring deur tot die skeiding van gewrigte en murg.  Die twee, gewrigte en murg, is altwee liggaamseienskappe wat met krag te make het, die een bring die boodskappe van die brein an die ledemate, die ander sorg dat daar beweging kan wees, deur beweging toe te laat vir die spiere en ledemate.  En die skrywer sê daarmee, dat niks die krag van die Woord kan troef nie – dit dring deur tot dít wat ons energie gee, dit wat ons in beweging bring, en doen sy werk – en dit help ons onderskei waar die energie van God ons heen neem.

Dit raak ons diepste motiveringe:

Die skrywer sê die Woord beoordeel die bedoelings en gedagtes van ons hart.  Met gedagtes bedoel hy ons intellektuele kapasiteit en met bedoelinge het in gedagte dié dinge wat ons motiveer, die dinge van ons hart.  Kortom, die Woord dring deur tot ons diepste motivering, dit wat ons sin en betekenis en motivering gee om te lewe – en dit help ons onderskei wat agter die dinge sit wat ons doen en help ons om opreg en eg te wees.

En die boodskap is, God se Woord penetreer en ontmasker en beoordeel en onderskei wat reg en goed is van wat sleg en boos is – en niks kan dit keer nie.

En wat ons moet doen?

Ons moet rekenskap gee (logos)  aan dié God. (“aan Hom ons die rekenskap” – letterlik)

In terme van ons tema: ons moet sê: Ek sal luister.

Formatiewe lees van die Bybel

Die probleem is net, dat só ‘n Bybel lees nou ook weer nie so eenvoudig is nie.  As ek presies weet wat die teks sê, is dit nog net die eerste deel van die proses van verstaan. Om regtig te kan hoor, moet die teks in my lewe inkom en my lewe verander. En ten spyte van die hoop dat mense met ‘n regte lees van die teks dit ook sal regkry om dit te doen, het die hoop baie keer beskaam.

En die gevaar is natuurlik lewensgroot dat ons so besig raak met ‘n teks, so ingegrawe daarin, dat ons half begin dink, ons beheer die teks, ons het die teks onder die knie, ons kan met dit maak wat ons wil.

En dan luister ons nie meer na die teks nie.  Ons laat die teks luister na ons!

Nee, wat ook nodig is, is ‘n formatiewe lees van die Bybel, ‘n geestelike lees.

Dit is iets wat ‘n ander groot skool uit die eerste eeue geleer het, die skool van Alexandrië.  Hulle het geleer dat die teks ‘n geestelike impak in ons lewe wil maak, dat die teks besig wil raak met ons, dat God besig wil raak met ons.  En daarvoor moet jy nie net bly by die plein betekenis van die teks nie – dit bly altyd daar as ‘n korrektief. Maar jy moet vra, nou maar wat beteken dit vir my?  Wat moet ek hiermee maak?  Wat wil die Here hierdeur vir my sê?  Hoe maak dit my pad vorentoe meer duidelik?

Calvyn het ook hierby aangesluit en dit genoem die usus van die teks, die praktiese of geestelike waarde van die teks.

En met al my studies en al my leeswerk en al my praktiese ondervinding, weet ek vandag dat albei dié aspekte belangrik is – ‘n mens moet weet wat die sensus simplex is en jy moet vra wat is die usus, die praktiese nut hiervan vir my, informatief en formatief.

En ek moet bely, ons kerk het meer klem gelê op die eerste, die informatiewe lees van die Bybel, vir baie lank en selfs dié mense wat meer geestelik wou lees, afgekraak!

Daarom dat ons half vandag wil oorhel en sê, nee, genoeg informasie, vorm my Here, Ek sal Luister.

En dit is waarmee ek vandag vir ons wil help, om só te kan luister dat dit jou lewe aanraak en jou lewe vorm.   Die informasie bly belangrik, daarom het ek daarmee begin, maar dit gaan vanoggend oor die tema: “Ek sal luister”, en gaan oor die oproep dat jy sal toelaat dat die Woord jou vorm.

Om jou te help om só vormend na die Bybel te luister wil ek twee aspekte van luister beklemtoon.

Kom ek begin met ‘n metafoor: Die Bybel is soos water.

  • Jy voel die water as jy induik en dit jou hele liggaam nat maak.
  • Jy kan die water beskryf as H2O en jy kan sê dit is helder of troebel, maar jy kan dit net ervaar as jy daarin induik of daarvan drink.

Kom ek pas dit toe op Bybel lees en luister en verduidelik die twee aspekte van luister:

  • Die eerste is: dat ‘n mens die Bybel nadenkend moet lees – en dit help om te bly by een woord of een frase TOTDAT jy dit verstaan en jy dit gehoor het. Dit is soos om in te duik in die water en daarin rond te swem om dit te geniet.
  • Die tweede is: dat ‘n mens die Bybel persoonlik moet lees – wat wil God VIR MY in hierdie gedeelte sê. En net te konsentreer op dit wat jou tref of ontstel of bemoedig of uitdaag – en ek kan dit nie vir jou doen nie, en jy kan dit nie vir my doen nie. Ons kan vir mekaar tekste gee wat ons voel die Here op ons hart lê, maar ons kan nie bepaal wat persoonlik sal gebeur met die lees en luister van die teksgedeelte nie. Dit is soos die water metafoor: ek kan nie vir jou induik in die water nie.

Só ‘n lees van die Bybel neem dus meer van ons as ons intellek, dit is direk, dit is reflekterend, dit is persoonlik dit is ‘n wag op die ervaring van God se aanraking diep binne ons lewe.

Om só te kan lees, veronderstel ‘n verhouding met God.  Dit veronderstel dat jy in Hom glo, nie as ‘n vêraf Skepper God nie, maar as ‘n naby persoonlike God.  Dit veronderstel dat jy op Hom vertrou.

En nie een van die dinge, ‘n verhouding, geloof, vertroue, is iets wat jy kan verstaan of beleef deur ‘n aantal boeke daaroor te lees nie.  As jy nie in ‘n verhouding met God is nie, dan sal jy dit nie ervaar of verstaan nie.  As jy nie glo in God nie, dan sal jy geloof nie ervaar of verstaan nie.  As jy nie vertrou op God nie, sal jy vertroue nie ervaar of verstaan nie.

En dan is jou eerste opdrag – om in ‘n verhouding met God te kom, om in Hom te begin glo, en om op Hom te begin vertrou.

Hoe kan ek dus die Bybel nadenkend en persoonlik lees, sodat ek kan luister en die Woord my lewe kan verander?

Die eerste en belangrikste is:

MAAK ‘N GEREELDE AFSPRAAK EN HOU DAARBY.

Dit is wanneer ‘n mens tyd spandeer met God en met die Bybel dat jy sy stem sal hoor.  As jy nie in water induik nie, sal jy dit nie ervaar nie.  Petersen vertaal Matt 11:28-30 in The Message as volg: “Walk with me and work with me – watch how I do it.  Learn the unforced rhythms of grace . .. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.” O hoe wens ek, ek kan elkeen van julle hiermee help – en in Staying in Touch en die Spiritual Disciplines help ons mos mense hiermee – maar dit is uiteindelik iets wat jy self moet begin.

Die tweede is:

LEES DIESELFDE TEKS ‘N PAAR KEER EN LUISTER VIR ‘N PERSOONLIKE WOORD.

Daar is die wonderlike belofte van Jesus, dat elkeen wat soek, sal vind, en elkeen wat klop, vir hom sal oopgemaak word, en vir elkeen wat vra, sal gegee word.  Dit kan ‘n woord wees of ‘n frase of die gedagte van die hele gedeelte.

Gister oggend het ek ‘n teks gelees in die Psalms waarin ek ‘n woord gehoor het wat eintlik die teenoorgestelde was as wat die situasie van Dawid was – en dit was helend om God se aanraking via die teks te kry, al was dit selfs nie eers in die direkte woorde geleë nie.

En in hierdie teks het die rede vir die ongehoorsaamheid van die Israeliete my getref: dat hulle hulleself nie sover kon kry om God te vertrou nie.  Dit het my lewe op verskillende vlakke aangespreek.

Die derde is:

BLY IN DIE TEKS TOTDAT JY ‘N PERSOONLIKE WOORD HOOR.

Hierdie stap is miskien die moeilikste as ‘n mens begin, omdat jy half simpel kan voel, en half kan voel, maar is dit so eenvoudig, en wat as ek verkeerd hoor.  Ek onthou in Staying in Touch, Bly in Voeling, hoe half huiwerig mense dinge die eerste of tweede keer deel – “ek weet nou nie of ek reg gehoor het nie” – en hoe dít verander in ‘n ontspanne vrymoedige wandel met die Here.

Die vierde is:

DINK NA OOR DIE PERSOONLIKE WOORD TOT DIT BEGIN LEWE IN JOU EN JOU VOLMAAK VAN BINNE.

Dit is iets wat jou hele menswees, intellek, hart, gees, wil en gevoel betrek.

  • Soms inspireer die struktuur van ‘n boek my só ongelooflik -bv. Lukas wat sy verhaal in drie dele in sy evangelie vertel, die begin van die evangelie in die platteland, die omvattende reis na Jerusalem wat uitmond in die verhoor in Jerusalem, en in Handelinge dieselfde drie dele, die begin van die verspreiding van die evangelie in die platteland, die omvattende 3 sendingreise van Paulus uiteindelik op pad na Jerusalem en dan die verhoor in Jerusalem en uiteindelik in Rome.
  • Soms die emosie van ‘n Dawid wat skreeu om hulp van sy vervolgers soos in gister se Psalm (35), of
  • die uitdaging van ‘n Maria, moeder van Jesus, “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Luk 1:38) – soos ek onlangs in ‘n boek oor haar gelees het.

Geen wonder dat van ‘n hele paar profete gesê word dat hulle die Woord geëet het, Johannes op Patmos (Open 10:10 “Ek het dit … opgeëet.  In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword.” ), Jeremia (15:16 – “Ek het u woorde verslind”), Esegiël (3:3 “Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond”).

Die vyfde is:

REAGEER IN GEBED EN LEWENSTYL OP DIE PERSOONLIKE WOORD.

God wil met ons in ‘n verhouding staan, waarin Hy praat en ons praat, waarin Hy opdragte gee en ons gehoorsaam, waarin Hy vir ons sê Hy het ons lief en ons dit vir Hom terugsê, waarin Hy ons bemoedig en ons daarop reageer.

Die sesde is:

LAAT DIE BYBEL JOU GESPREK MET GOD BEPAAL.

Daarom is dit so nodig om ‘n gereelde tyd met God te spandeer.  Sodat soos jy deur die Psalms werk of deur ‘n evangelie of deur ‘n historiese boek in die Ou Testament God jou begin begelei.  Ek kan onomwonde verklaar, God lei deur enige deel in sy Woord en uit enige woord daarin.  Al wat nodig is dat jy jouself sistematies daaraan blootstel.  Die wonder is dat die Woord dan so lewendig en kragtig raak dat dit soos ‘n elektriese draad is – jy weet daarvan as jy daaraan raak!

 

Jer 31:31-34 – Son 29 Maart 09

Daar is baie dinge wat ons ontstel in die lewe.
  • Onreg – dink maar net aan die debakel met die Kouga waardasies en die regering se weiering van die Dalai Lama se visum,
  • Misdaad – Greenacres onlangs weer mense geskiet met ‘n rooftog,
  • Immoraliteit – saak van Barbie wat voortsleep,
  • Siekte – Japie en Dalene in die hospitaal en ‘n hele paar ander op die lys,
  • Dood – Len Hudson se vrou nou onlangs en my vriend Piet Delport wat selfmoord gepleeg het.

En ons kan lank gesels oor die redes daarvoor, en hoe ‘n mens dit verwerk, en hoe ‘n mens jou beskerm teen die onsekerhede van die lewe.  Maar, laat ons eerlik wees, die lewe is nie en sal nooit maklik wees nie.

Ek het baie geworstel hiermee die afgelope tyd, en het Vrydag ‘n woord in Psalm 46 gekry wat my hoop gegee het.  Dit is die bekende vers 11: “Wees stil en weet, Ek is die Heer.” Een van die kommentare vertaal dit met: “Relax, and know that I am God” wat ooreenkom met die Hebreeuse רָפָה wat letterlik beteken “hang limp“.  En die tweede deel van die vers gee die motivering vir die ontspan aan: God is hoog bo die nasies, en hoog bo die aarde, d.w.s. onaantasbaar deur die historiese verloop van dinge, onaantasbaar deur die werklikheid van die aarde en alles wat hier verkeerd kan gaan.

Nou, dit beteken nie dat ‘n mens moet slaplê nie. Dit beteken net dat jy jou fokus moet verander na God toe – minder bekommerd wees oor wat jy kan sien, meer bewus van wat jy nie kan sien nie, en dit is, van God wat betrokke is in die geskiedenis en die werklikheid, die verlede en die hede en boonop die toekoms ook.

En die boodskap wat dit vir my gehad het, is dat ek moet werk met die idee dat God sorg vanuit ‘n onaantasbare posisie, sodat ek die moed het om te doen wat Hy oor my pad bring.

En ek moet sê die Here het op besondere en verskillende maniere in my eie lewe die afgelope tyd ingegryp en ek dank Hom daarvoor.  En hoewel ek nog sukkel met die ontspan deel, werk ek darem al ten minste met die idee dat God daar is en dat ek Hom kan vertrou!

Maar daar is iets waarteen ons geen verweer het nie.  Dit is ons eie hart.

Kyk jy kan nog werk aan die regering en mense monster en briewe skryf en koukus en wat nog ook al.  Jy kan jou mure hoër bou en perimeter defences insit en gesond lewe en oefen en nog ‘n klomp ander goed doen om jou teen die onsekerheid van die lewe te beskerm.  En ek probeer dit glad nie afmaak nie.

Maar jy kan self niks aan jou hart doen nie.

Die hart is verraderlik.  Jeremia skryf in hoofstuk 17: “9 Die hart is bedriegliker as enigiets anders, dit is ongeneeslik; wie kan dit verstaan?” Verdorwe, sê die Ou Vertaling van die eerste Hebreeuse beskrywing עָקֹב.  Deceitful, sê ‘n hele paar Engelse vertalings.  Glibberig sê ‘n ander!  En die volgende beskrywende woord vir die hart in Hebreeus is אָנוּשׁ.  Beyond cureOngeneeslik .

Kortom: die hart is soos ‘n glyerige slymerige donker put, en ‘n ongeneeslike bose sweer wat alles infekteer en tot die dood lei.

Hoekom?

Vers 1 sê: “Die sonde van Juda is ingegraveer met ‘n ysterpen, ingegrif met ‘n diamantpunt op hulle harte.”

In plaas van God se wil, is ons eie wil ingeskrywe op ons harte.  In plaas van liefde vir God en ons naaste, is liefde vir ons self en vir ons eie belange ingeskrywe op ons harte.

En dit is nie iets wat ons op ons eie ongedaan kan maak nie.

Reëls

Dit is nie dat mense nie al in die geskiedenis probeer het om die hart te genees nie.  Maar niks het gewerk nie.  Moses se wet het ‘n stel reëls gegee waaraan ‘n mens jou kon hou en wat die belofte van sukses gehad het.  As jy net God aanbid en niemand anders nie – dan is jy reg.  As jy net een dag rus en die ander werk – dan is jy reg.  As jy net jou vrou liefhet en niemand anders nie – dan is jy reg.  As jy net niks van iemand anders vat nie – dan is jy reg.  En noem maar nog uitsprake van die Tien Gebooie op.

Maar, dit kon nie slaag nie, want al werk dit, en jy doen niks uiterliks verkeerd nie – dan sit jy nog steeds met ‘n bedrieglike en ongeneeslike hart, wat net met die volgende versoeking in glibberigheid  kan verval.  Die sonde is ingeskryf op ons harte.

Vrees

Die profete het probeer deur die volk bang te maak met die oordeel van God, wat ‘n paar keer letterlik ook in vervulling gegaan het.  Maar selfs dié vrees vir die oordeel van God het nie geslaag om die hart van die mens te genees nie.

En laat ons maar eerlik met mekaar wees, wat nie toe gehelp het nie, sal ook nie vandag help nie.

  • Dit help nie om ‘n stel reëls te hê waarmee jy gehoorsaamheid wil afdwing nie, selfs nie iets soos ons Grondwet nie.
  • En dit help nie jy probeer mense bang maak met die oordeel van God nie – dié week het iemand met my kom gesels om my bang te maak met die idee van die wegraping en dat besighede probleme gaan hê as van die vennote skielik weg is en jy nie by die geld kan uitkom nie! Hello!

Die probleem is, dat nie reëls of vrees jou hart gaan regmaak nie.

Net God kan dit doen!

Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek my woord op julle harte (קֶרֶב – binneste/ingewande) skryf en dit in julle gedagte (לֵב – hart) vaslê. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. Jy sal nie meer vir jou buurman of vir jou familie hoef te sê: ‘Jy moet die Here dien’ nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal julle oortredings vergewe en nie meer aan julle sondes dink nie.”

Jeremia noem dit ‘n nuwe ooreenkoms, ‘n nuwe verbond.  En uit die Nuwe Testament weet ons dat die ooreenkoms met die bloed van Jesus Christus verseël is.

Toe dit donker geraak het vir Hom aan die kruis, toe Hy ervaar het God self het Hom verlaat, het die lig vir ons begin aanbreek.

Wat doen God?

Hy vergewe ons die sonde wat op ons harte ingeskryf is, en Hy skryf nuwe woorde daarop, Sy woorde, woorde wat van binne af ons gehoorsaam maak.  In ons binneste en in ons gedagtes raak die woorde aktief om vir God en ons naaste lief te hê.

Hoe ontvang ons dit?
Eenmalig

Nou – en dit is belangrik – daar is ‘n eenmaligheid hieraan, ‘n dag wat dít vir ons in vervulling begin gaan het.  Ons kan dit die dag of die tydperk noem van ons bekering of ons wedergeboorte of of ons bewussyn van God se teenwoordigheid.  Daardie tyd toe ons vir die eerste keer bewus geraak het van die roering van God in ons binneste – die dag wat ons ja gesê het, die dag wat ons fees gevier het oor ons kinders van God is en ons gevoel het, niks kan ooit weer verkeerd gaan nie, niks kan ons uit die hand van God uitruk nie.

Alledaags

Maar – en dit is nog meer belangrik – daar is ook ‘n alledaagsheid hieraan – die vinger van God wat elke oggend in my lewe sy woorde vir daardie dag skryf, wat regdeur die dag my herinner aan die woorde wat nodig is vir my om van te lewe.

As Jesus in die woestyn vir die duiwel sê, dat Hy lewe van elke woord wat uit die mond van God gaan, is dit hierdie alledaagse woord waarvan Hy praat, die woord vir die versoeking van daardie dag.  Jesus haal Moses aan in Deuteronomium 8:3 wat vir die volk geleer het: “dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat jy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Soos Jesus ook later vir die dissipels sou sê, terwyl die Samaritaanse vrou haar dorpie gaan haal het, “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4).  En dit is iets wat Jesus op ‘n daaglikse basis ontvang het – elke dag, sonder uitsondering.

U sien, as ons toelaat dat daar ‘n dag verby gaan dat ons nie die woord van God op ons harte ontvang nie, dan word dit met ander goed beskrywe – dit hoef nie altyd sonde te wees, growwe dinge wat skeiding bring tussen ons en God nie, maar dit is net nie God se woorde nie.  En as ons nie ons hartswoorde van Hom ontvang nie, dan is dit baie maklik om ander dinge te ontvang, wat in die plek van God se woorde kom, en wat dan nie noodwendig ons heeltemal weglei van God af nie, nie noodwendig ons slegte goed laat doen nie, maar net nie die dinge is wat God wil hê nie.

En dit maak ons moeg, en dit put ons uit, en dit maak ons oneffektief.  Jesus sê nie verniet dat dit voedsel is vir Hom om God se woorde, sy wil, te doen nie.

Uitdaging en pleidooi

U hoor ons die afgelope 6 maande baie spesifiek praat oor geestelike groei.  Want ons het oortuig geraak dat daar niks meer belangrik is as dit nie.  Dat dit is waarom gemeente-wees gaan, mense wat God se woorde hoor en dit gaan doen in hierdie wêreld.

En ons het nou al twee reekse gedoen die afgelope twee kwartale, wat klem lê op hoe geestelike groei werk, en hoe ‘n mens daarby kan inskakel: Hulle het hulle heelhartig toegelê en Druppels vir die dors.  Ons het ook al twee reekse aanbiedinge gehad op Woensdae, Didage, wat vir jou as ‘n hulp gegee is om God se woorde vir jou te ontvang – vir jou huwelik, vir jou eie geestelike groei met Adele Calhoun se goed en John Ackerman se goed en die Bybelskool en Lectio Divina en Op pad met God met ‘n joernaal.

En ons het ‘n ongeveer 80 mense wat verlede jaar en dié afgelope kwartaal daarby ingeskakel het – en dit is goed, ‘n baie goeie begin.

Maar – ons is nie 80 mense in die gemeente nie.  Ons is 1500.  Kom ons laat die kinders buite berekening, hulle gaan immers na kategese toe, en die tieners doen dissipelskap – hulle is ongeveer 300.  En ‘n hele aantal mense bly ver van die kerk af en vir mense in ons tehuise is dit soms onmoontlik om hier te kom.  Kom ons sê daar is ongeveer 800 mense uit die gemeente wat Didage kan bywoon, dan is net 10% van ons mense besig hiermee.

En dit is te min.

En dit gaan nie oor die sukses of nie-sukses van die projek van geestelike groei nie en van Woensdagaande nie.

Dit gaan oor die saak van God se woorde wat elke dag op ons harte geskryf word.  Óf ons leer hoe dit werk en groei geestelik …  óf ons harte word beskrywe met ons eie woorde óf nog erger met die woorde van die wêreld, en ons stagneer geestelik, raak ongeduldig met dié en daaí, begin fout vind, en raak onbetrokke.

God se woorde op ons harte moet ‘n alledaagse werklikheid word – en ons kan mekaar help daarmee.  Ek weet persoonlik, uit eie ervaring, hoe moeilik dit is om alleen te luister, as ek dit dag in en dag uit op my eie doen.

Daar is in my ‘n bekommernis, dat ons hierdie dinge van die kansel af sê, en dat dit aankom by jou, maar sodra jy by die deur uit is, die sorge van hierdie lewe die woorde van God verstrik en uitvee op jou hart.

En ek moet bely: Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is die dag vir my ‘n mislukking.  Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is vir my ‘n vermorsing.  Elke dag wat ék nie luister na wat God sê nie, is vir my ‘n fiasko.  En ek wonder vir hoe baie van ons dit nie so is nie?

Dit is nie die dramatiese goed wat in my lewe gebeur wat dit ‘n mislukking en ‘n vermorsing en ‘n fiasko maak nie.  Nee, dit is die middelmatigheid, die insigloosheid, die hooploosheid van die daaglikse gesprekke waarvan ek lees in die koerante en wat ek sien op die TV en wat ek hoor in ons onderlinge gesprekke, wat  die lewe uit my pers en wat, as dit al is wat ek hoor, van my lewe ‘n mislukking en ‘n vermorsing en ‘n fiasko maak.

Jy sien, ons harte word daagliks beskrywe – en as dit nie ook God is wat daarop skrywe nie – dan word ons harte gou-gou hard en onbuigsaam en ongevoelig.

Ek rig dus ‘n uitdaging en ‘n pleidooi – nie ‘n reël nie, en ek maak jou ook nie bang nie.  Skryf in vir een van ons aanbiedinge vir geestelike groei.  Maak die afspraak en hou daarby.  As jy uitstedig moet wees, kom dan die ander tye.  Gebruik ons webtuiste om by te bly – dit is waarvoor ons dit geskep het.  En as jy iets anders wil voorstel wat jy graag saam met ons wil doen – stel dit voor.  As jy liewer in ‘n kleingroep wil inskakel of een wil begin, kom gesels met ons. Dit wil voorkom asof dit makliker is om nuwe groepe te begin – so kry ‘n maat en kom sien my.

Maar moenie wegbly nie.  Ons het mekaar nodig om mekaar moed in te praat en by mekaar te leer en saam die teenwoordigheid van die Here te ervaar.

Soos God met ons ‘n ooreenkoms gesluit het – Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees – kom ons sluit ‘n ooreenkoms met mekaar – om mekaar te ondersteun in ons eie luister na sy stem.

Amen.

Jesaja 50:4-9 – Son 5 April 09

Skriflesing

Die boek Jesaja kan volgens geleerdes in drie dele verdeel word.

  • Hoofstuk 1 tot 39 is voor die ballingskap geskrywe in die 8ste eeu, toe Juda bedreig was deur Sirië en Assirië as gevolg van veral hulle sosiale sondes en die Here se straf daarop.
  • Hoofstuk 40 tot 55 is heel moontlik geskrywe gedurende die ballingskap in Babilon.  Dit is vol hoop dat God binnekort die ballingskap sal ophef.
  • Die laaste deel in hoofstuk 56 tot 66 is heel moontlik geskrywe ná die terugkeer na die beloofde land, met ‘n mengsel van hoop en wanhoop, hoop op God se trou om sy volk te herstel, wanhoop omdat die volk só traag is om op sy ingrype te reageer.

Hoofstuk 40-55 het vier dienskneg liedere, dele wat eintlik die vloei van die boek onderbreek, maar tog ‘n onderlinge eenheid het.

  • In die eerste lied (42:1-7) gaan dit oor die keuse van God se dienskneg, wat God se Gees ontvang en God se wil bekend maak en ‘n lig vir die nasies word.
  • in die tweede lied (49:1-7) gaan dit oor die worsteling van die dienskneg of sy arbeid die moeite werd sou wees, en wat verseker word dat dit nie net Israel is wat baat daarby sal vind nie, maar al die nasies.
  • In die derde lied, die lied wat ons gaan lees (50:4-9), gaan dit oor die dienskneg wat getrou bly aan sy opdrag, presies sê wat hy hoor, ten spyte van die lyding wat hy ervaar.
  • In die vierde lied, (52:13-53:12) gaan dit oor die ontsag vir die lydende en verworpe dienskneg, selfs onder die heidene, juis omdat hy goed gedoen het terwyl hy ly, vir ander die straf gedra het, en deur dit alles geduldig gewag het op God se verlossing.

Dié dienskneg is die volmaakte Israeliet, een van onoortreflike heiligheid, die Messias, dié een waarmee Jesus Homself identifiseer het, en dié een met wie die evangelieskrywers Hom ook identifiseer het.

Jesaja 50:4-9

Woordverkondiging

Ek is gefassineer met die laaste week van Jesus se lewe.

Die Saterdagaand na die Sabbat het Jesus nog in Betanië, naby die Olyfberg (Mark. 11), gekuier by Lasarus, Marta en Maria, in die huis van Simon, waar Maria sy voete gesalf het met nardusolie.  En het Hy gesê dat sy dit gedoen het vir sy begrafnis (Joh. 12).

Die volgende oggend, Sondag, wat ooreenkom met vandag, het hy Jerusalem binne gery op die rug van ‘n donkie met die skare wat geskree het, Prys Hom!  Hosanna vir Hom wat kom in die Naam van die Here (Joh. 12).

Die eerste ding wat Hy in Jerusalem gedoen het, was om die tempel in te gaan en die handelaars uit te jaag.  My Vader se huis is ‘n huis van gebed – en Ek sal nie toelaat dat dit ‘n rowersnes gemaak word nie (Luk. 20 – al 4 evangelies vertel hiervan), het Hy gesê.

Dan begin Hy om die mense in die tempel te leer – en die volk het gretig na Hom geluister (Luk. 20).

Die komende Lyding

Van die dinge wat Hy die mense leer, het te make met die komende lyding:

Hy vertel bv. die gelykenis van die boere en die wingerd wat die eienaar se seun doodmaak en hulle blootstel aan vergelding (Luk. 20).   Daarmee sit Hy die komende stryd met die Joodse establishment vierkantig op die tafel (Luk. 22).

In dieselfde lyn weier Hy om na die pype te dans van die priesterhoofde en skrifgeleerdes en familiehoofde wat Hom uitvra na sy gesag – omdat die vraag volgens Hom uit skynheiligheid gebore is (Luk. 20).  En Hy troef hulle vrae oor belasting en die opstanding uit die dood (as jy nou meer as een vrou hier het, wie is jou vrou aan die ander kant?) en sy afkoms van Dawid (Luk. 20).

Daarom berispe Hy ook sy dissipels oor hulle sug na mag (Luk 22) en praat oor die ware grootheid, die grootheid van een wat dien, ten spyte van lyding wat jou deel kan wees, soos Hy met die voete was episode illustreer op die laaste aand by die nagmaal se instelling (Joh. 13).

Die komende koninkryk

Van die dinge wat Hy die mense leer, het te make met die komende koninkryk:

Hy praat eintlik die hele tyd oor wat in die koninkryk belangrik is: die gawe van die arm weduwee (Luk. 21) en die volharding in tye van swaarkry (profetiese rede Luk. 21 en die ander evangelies) en die groot gebod (Mark. 12 en Matt 22) en wie nou eintlik in die koninkryk sal ingaan – sondaars wat glo (Matt. 21 en ander).

Hy skets die koms van die koninkryk met die wonderlike verhaal van ‘n bruilofsfees, wanneer die ongenooide gaste sal aansit by die koning se bruilofsfees (Matt. 22).  En brei daarop uit met die gelykenisse van die getroue en ongetroue slaaf (Matt. 24), die vyf onverstandige en vyf verstandige meisies (Matt. 25), die gawe van die muntstukke en die pragtige gelykenis van die laaste oordeel, met die metafoor van die skape en die bokke.

Hy vertoef elke nag op die Olyfberg

Maar wat my die meeste tref, is dat Hy elke aand, na Hy die mense deur die dag in die tempel geleer het, regdeur Sondag, Maandag, Dinsdag en Woensdag, uit die stad uitgaan en buite op die Olyfberg vertoef – om die volgende dag maar weer in die tempel die mense te leer.  Soos Lukas sê: “In die môre vroeg het die hele volk dan weer in die tempel na Hom kom luister (21:38)”.

En dan die laaste aand, Donderdagaand, na die nagmaal, sê Lukas, dat Jesus weer die stad verlaat en “volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan” het (22:39).  D.w.s. Jesus gaan na die plek waar Hy al van Sondagnag af vertoef het, uiteindelik na die tuin Getsemane op die Olyfberg, waar Hy sou worstel in gebed en uiteindelik deur Judas verraai sou word.  Judas het natuurlik saam met Hom die week daar vertoef, en het dus goed geweet waar Jesus dié nag sou wees.

Hoekom tref dit my so?

Wel, ek dink, dit het te make met my eie blootstelling aan die verhaal van Jesus in die Bybelskool die afgelope kwartaal.  Ons het Lukas en Handelinge deurgelees en dit het ‘n groot effek op my gehad.

Die evangelie en die uitbreiding van die evangelie het met Jesus te make.

Selfs al is Handelinge die verhaal van die Gees en die kerk, sentreer dit steeds om die boodskap van die Goeie Nuus in Jesus.

Maar, daar is nog ‘n dieper rede.  In my kyk na Jesaja 50, en onthou, Jesus haal gereeld uit Jesaja aan reg deur sy bediening, is dit asof ek nie anders kan as om Jesus in elke woord daarvan te herken nie.

Ek herken Jesus in elke woord van Jesaja 50.

Die dienskneg word in Jesaja 50 as volg geteken:

  • Die dienskneg is ‘n dissipel/leerling van God – God het sy oor geopen, geleer om te luister, en geleer om die regte woorde te gebruik.  Dit gebeur daagliks, en dit gebeur sonder teëstribbeling, en dit gebeur ten spyte van die aanslae en teenstand teen sy bediening.
    • En ek sien Jesus op die berg besig met God, met oop ore, besig om te luister vir die volgende dag, vir die regte woorde, vir die moed om nie terug te deins vir die skerp kante daarvan nie, maar ook die deernis daarin raak te sien, om mense te bemoedig.
  • Die dienskneg is ‘n prediker-profeet – Hy praat dié wat moeg is moed in, selfs dié wat in rebellie is teen God.  Ten spyte van selfs die fisiese leed wat Hom aangedoen word, gaan Hy aan met bemoediging, maar nie net in die algemeen nie, woorde vir spesifieke situasies.  Hy is ‘n profeet-prediker.
    • Lees juis dié week iets van Gordon MacDonald, waar hy ‘n onderskeid tref tussen predikers en profete – predikers verkondig die meer tydlose waarheid van God, profete die spesifieke woord van God vir die spesifieke situasie waarin mense en die volk hulle bevind – hulle onderskei die kairos van God, die tyd van beslissing, die tyd wat jy nie kan vermy nie.
    • En dit is hoe ek Jesus ook daar op die berg en dan weer in die tempel sien: besig met die indringendste dialoog van sy lewe, besig om nie net te antwoord op vrae nie, maar ook die werklikheid te skep, die sonde van die leiers aan die kaak te stel, en nie terug te deins vir die onvermydelike reaksie, om die boodskapper te kruisig.  Hy kies wel sy tyd, moes eers die hele volk aan die boodskap bloot stel, maar Hy het geweet, aan die einde wag die kruis, en Hy is onwrikbaar in sy oortuiging.
  • Die dienskneg is volledig getrou aan God – Hy rebelleer nie teen sy opdrag nie; Hy draai nie weg van bespotting en veragting en fisiese marteling nie; Hy ontstel Hom nie oor enigiets wat met Hom gebeur in die uitvoering van sy opdrag nie.  Hoekom nie?  Omdat Hy weet 1) die woorde kom van die Here af, Hy hoor dit immers elke dag 2) die Here help Hom in die uitvoering van sy opdrag, 3) God is naby, en dié sal Hom onskuldig verklaar tot die verleentheid van dié wat Hom aankla.
    • Weereens, dié woorde kan op baie mense van toepassing gemaak word, maar dit pas Jesus doodgewoon die beste, veral in hierdie laaste week van sy lewe – Hy hoor God se woorde vir elke dag en lewer dit onverdund, Hy maak nie staat op sy eie krag nie, maar op dít wat God Hom gee, ontstel Hom nie oor die teenstand nie, deins nie terug daarvoor nie, rebelleer nie teen sy opdraggewer, God, nie, en verlaat Hom in die laaste instansie op dié Een wat sy onskuld ken.  Hy is tot in die laaste instansie getrou aan God.
En dít is die Woord van God aan elkeen van ons.

1. Ons is geroep om radikaal anders as die wêreld te lewe.

Ek het al die storie vertel van die vriende wat besluit het om ‘n speelhok vir ‘n vriendin te gee wat so pas geboorte gegee het aan haar vierde kind. Sy het hierdie dankie-sê briefie vir hulle geskrywe: “Baie dankie vir die speelhok. Dit is wonderlik. Ek sit elke middag daarin en lees. Die kinders kan nie naby my kom nie!”

As ‘n mens dink dat Christenskap dít vir jou sal doen, die lewe net vir so rukkie van jou af kan weghou … dan gaan jy teleurgestel word, want Jesaja 50 vertel ons van die teendeel – die lewe is in jou gesig en op jou rug …

“You can’t have an omelet without breaking eggs. The same is true in confronting evil.” (Utah Phillips)  Dit is die ervaring van almal wat regtig getrou wou wees in hulle dissipelskap, dat daar ongelooflike risiko’s in die navolging van die Here Jesus is, dat dit ‘n pad van groot lyding en ontbering is, maar dat daar geen ander manier is nie.

Ons is geroep om radikaal anders as die wêreld te lewe.  En nie op te hou daarmee as dit groot eise aan ons stel nie.

Handdoek ingooi, is nie waarvoor handdoeke gemaak is.  Opgee is nie waarvoor gelowiges gemaak is.

Daar is ‘n groot stuk wysheid en “tot-rus-kom” as ‘n mens aanvaar dat jou pad … jou pad is … en dat daar niks meer verskrikliks is as dat jy nie meer jou pad … die pad wat die Here vir jou uitgestippel het … sal loop nie. Uiteraard moet ‘n mens daagliks luister na die leiding van die Here … en dit is presies wat God doen … Hy lei ons daagliks, nie weekliks of maandeliks of jaarliks nie … daagliks.  Soos ‘n leerling laat God ons elke oggend opnuut luister … en dít is jou pad, die pad wat jy moet loop.

Daar is ‘n groot stuk berusting wat kom as ‘n mens dit aanvaar en jou fokus plaas op die doen van God se wil vir jou lewe … en jy nie daarteen teenstribbel nie.

2. Ons is geroep om nie direkte vergoeding vir ons lyding te verwag nie

Een van die moeilikste uitdagings vir diens, is hierdie stryd teen selfsug. Ons ego’s roep uit na erkenning en kollig! Ons wil graag ‘n klop op die skouer ontvang… maar Jesaja 50 vertel ‘n ander storie – “luister” neem jou uit die kollig, dit plaas die kollig op die persoon wat gedien word en uiteindelik op die Persoon wat jou inspireer om te dien… Dis so anders as wat die geval is in die wêreld.

Die beloning vir die goeie wat jy doen, lê baie keer, eintlik meesal, in die toekoms.  Die beste beloning is eintlik in die blote gehoorsaamheid van die Here se wil, nie in die dankie-sê van mense en/of die Here nie.  Wanneer dit kom, geniet dit.  As dit uitbly, soos dit gewoonlik gebeur, neem verlief daarmee.

3. Ons is geroep om ons diens te verrig met grasie en elegansie

Dit is een van die dinge wat ek die moeilikste leer, om met grasie en elegansie, ‘n tweede en derde en vierde myl te stap, ten spyte van onkunde en/of onbekwaamheid en/of kwaadwilligheid.

  • Jesus het Judas, sy verraaier, verdra … selfs hier saam met Hom op die berg … sou ek nie ook my verraaiers verdra nie?
  • Hy het Petrus, sy verloëner, verdra … sou ek nie ook dié wat my verloën verdra nie?
  • Hy het Paulus verdra, sy vyand … en van hom een van sy getrouste diensknegte gemaak … sou ek nie ook dieselfde doen om van my opponente my vennote te maak nie?

4. Ons is geroep om met alles in ons lief te hê

Daar is nie kortpaaie na die vervulling van ons lewensroeping nie.  Dit loop deur die seer van omgee.  Dit kom tot stand deur die pyn van misverstand en teëstand. Dit vra van ons dat ons die kruis sal opneem en enduit sal dra.

Maar, as ons bereid is om die risiko’s te neem, as ons bereid is om lief te hê ten spyte van die koste daarvan, dan kan ons uitsien na wat God kan doen met ons lewens, soos wat Jesus illustreer met sy verhale van die komende koninkryk, veral na die bruilofsfees wat wag vir dié wat getrou was aan hierdie Jesus.

Hebreërs 4:14-16 & 5:7-9 – Goeie Vrydag – Vry 10 April 09

Skriflesing

Die brief aan die Hebreërs draai in ‘n groot mate om die belydenis dat Jesus ons Hoëpriester is.  In hoofstuk 1 word Hy as God se laaste en beste woord aan die mense geteken.  Hy is groter as die profete en engele (hfst. 1), groter as Moses met die uittog uit Egipte (hfst. 3) en groter as Josua met die intog in Israel (hfst. 4) – d.w.s. groter as enigiets wat die Ou Testament aan gelowiges gebied het.

Hoekom?  Want Hy is die een wat TUSSEN ons en God kan staan, wat barmhartig is met ons EN getrou is aan God – ‘n ware Hoëpriester.  Dit is die rede waarom gelowiges met vrymoedigheid tot God kan nader (hfst. 10) – die grootste voorreg wat ‘n mens kan hê – want Jesus staan tussen ons, soos nie een van die Ou Testament karakters dit kon wees nie, nie eers die Hemelse karakters nie.

Hebreërs 4:14-16, wat ons nou gaan lees, is ‘n oproep om vas te hou aan hierdie Hoëpriester, en met Hom die pad te stap met vrymoedigheid, met hfst. 5 ‘n verduideliking van hoe dit moontlik geraak het, deur Sy lyding, dit wat ons op Goeie Vrydag in herinnering roep.

Woordverkondiging

Vandag draai om Jesus en om Hom as die gekruisigde, Heer.

Ek wil dus op Hom fokus, en selfs as ek gaan gesels oor die toepassing in ons eie lewe, dan bly die fokus op Hom en nie op ons nie.

Ek lees dié week by die Seisoen van Luister span die volgende storie:

‘n Sewe jarige seuntjie het geld van sy pa gekry om ‘n verjaarsdag geskenk vir sy ma te koop. Hy wou dit op sy eie doen. Sy pa het hom van ‘n afstand dopgehou, terwyl hy na een van die verkoopsdames toe loop.

“Ek wil vir my ma ‘n rok koop, maar ek weet nie watter grootte sy dra nie.”

Die verkoopsdame het met ‘n glimlag gevra: “Wel, is sy lank of kort, vet of maer, groot of klein?”

Die seuntjie het vir tydjie gedink en toe met ‘n groot glimlag geantwoord:  “Sy’s net perfek!”

Pragtige storie!

Jesus is volmaak

Maar op ‘n diep vlak is dit ook waar van Jesus.

Jesus was perfek, of dan volmaak, soos ons miskien eerder sou sê – daar was nie ‘n gebrek van watter aard ook al in Hom nie.  Hy was ‘n innemende, liefdevolle, wyse, joviale, geestige mens.  Hy kon lag en Hy kon huil.  Hy het Hom, met respek gesê, “dood”-gewerk, maar tog genoeg tyd vir stilword gemaak, en vir loop langs die see en in die oeslande.  Hy het feesmaaltye geniet en was doodgewoon iemand wat jy graag as gas wou onthaal.  En Hy kon, weer met respek gesê, toor met wyn.

Maar nog dieper as dit, Hy was volmaak omdat Hy deur God vir ‘n baie spesifieke werk aangestel is, en dit is om die kosmos met Homself te versoen.

En hoe het Jesus dit gedoen?

Jesus identifiseer volledig met mense

In die eerste plek het Hy Homself volledig  geïdentifiseer met mense, sonder om daarmee in dieselfde strik van sonde te trap as ons.  Jesus is in elke opsig aan elke versoeking onderwerp wat ons maar aan kan dink, Hy ken dus ons stryd, maar met dié verskil, Hy het nie gesondig nie.  Hy het rein gebly, om daarmee aan God gehoorsaam te bly.

Terloops, dit beteken dat Jesus met sy  verhoging tot die hemel Hom ook nie verwyder van ons, soos ‘n politikus wat kontak verloor met die gepeupel nie.  Inteendeel, Sy aardse lyding bind Hom steeds aan ons, maar daaroor meer met die Hemelvaart diens.

Jesus het dus simpatie met ons, nie as een wat van buite af vir ons jammer is nie.  Nee, Hy was al daar waar ons was!

Hulle vertel dat een van die beste rehabilitasie-sentrums vir dwelms verslaafdes ter wêreld ‘n sentrum is wat beheer word deur ‘n voormalige dwelmbaas wat self verslaaf was, en nou gerehabiliteer is.  Daar word vertel dat die verslaafdes, wanneer hulle so sukkel met die proses, wanneer hulle die heeltyd wil opgee, hulle vir die verpleegsters en raadgewers sê hulle kan nie meer nie, dis onmoontlik.  Maar die oomblik as die bestuurder daar instap, het hulle geen verskoning meer nie… Dan moet hulle maar net vasbyt.

Dit is ook die waarde wat Jesus vir ons het in ons stryd.  Hy weet waardeur ons gaan.  Hy was voor ons al daardeur.  Daarom kan ons met vrymoedigheid na Hom toe gaan en weet Hy sal ons nie in die steek laat nie.  En kan ons vasbyt in ons eie stryd.

Gisteraand met die reis deur die stasies hier in die kerk, het ek selfs terug gegaan na die Getsémané uitbeelding, omdat dit vir my die boodskap gehad het – Ek het vasgebyt – en dit vir my ook moed gegee het om in my eie lewe vas te byt.

Jesus is volledig gehoorsaam aan God

Maar in die tweede plek het Jesus sy aanstelling as Versoener in die mees volledige gehoorsaamheid aan God uitgevoer.  En dis belangrik om te besef, dat dié gehoorsaamheid nie maklik gekom het nie.  Daarom skryf die evangelies so baie oor sy gebede en sy smekinge wat Hy met harde geroep en met trane  aan God geoffer het, soos ook hier in Hebreërs.

Jesus het dus gedeel in die angs wat dikwels ons lewens kenmerk … as ons gehoorsaam wil wees.  As die Hebreër skrywer hier skryf oor sy angs gebede, verwys hy heel waarskynlik na Jesus se gebed in die tuin van Getsémané (Matt 26:39).  In hierdie volmaakte gebed het Jesus vir God gevra om Hom die lydensbeker te spaar. (Mat 26:39).

As ‘n mens dié gebed van Jesus ontleed, dan is dit opvallend dat dit aan alle moontlike gebedsvereistes voldoen:

  • Jesus het God korrek aangespreek (Abba, Vader);
  • Die omstandighede was dié van afsondering (Hy was heeltemal alleen) en nie ter wille van ‘n gehoor gedoen nie;
  • Hy het God met die volmaakte gesindheid genader (dringend, maar sonder om God se arm te probeer draai);
  • Hy het die gepaste houding gehad (Met nederigheid en onderwerping );
  • Daar was ‘n duidelike en spesifieke inhoud in sy gebed – (laat hierdie beker by my verby gaan);
  • Dit was ‘n gebed met die geloof wat berge kon versit (Vader, alles is vir U moontlik);
  • Dit is met onwrikbare vertroue gedoen (nogtans nie my wil nie, maar U wil);
  • Dit is met uiterste konsentrasie en inspanning gedoen (Sy sweetdruppels het in bloed verander);
  • Dit was ‘n volhardende gebed (Hy het drie maal gebid – die volmaakte getal).

Tog het God hierdie volmaakte en aangrypende gebed nie geantwoord, op die manier wat Jesus dit sou wou hê nie!

En ten spyte daarvan, bly Jesus getrou en gehoorsaam aan die opdrag wat God vir Hom gegee het.

Jesus word hiermee die volmaakte tussenganger tussen ons – Hy identifiseer volledig met ons – en God – en Hy bly gehoorsaam tot die dood toe.

Ons verstaan moeilik die radikaliteit van hierdie gehoorsaamheid.

Wanneer Jesus aan die kruis hang, nadat God die Vader sy versoek weier, staar Hy nie net die dood in die oë nie.  Hy staar die verwydering van God se teenwoordigheid, van Sy Gees, in die oë.  Dit is soos ‘n afgrond wat voor Hom oopmaak, ‘n donker bodemlose put, waar Hy God en Homself moet laat los, sy eie mag moet prysgee, moet besluit om nie op te tree nie, die onreg en die geknoeiery en die verraad moet verdra, en iets moet deurmaak waarvan Hy die hoop het dat Hy daarvan verlos sal word, maar nie self die hoop kan waarmaak nie.  Hy is volledig afhanklik van God die Vader.

Dit is die krisis van die kruis – dat die toeganklikheid van God vir Hom toegesluit word;  dat die gemeenskap wat Hulle ononderbroke van voor die begin van alles af gehad het, deurbreek word; dat die teenwoordigheid van die Gees in sy lewe tot niet gaan; dat Hy die alleenheid van die niks moet trotseer, van nie-wees, van nie-bestaan, van nie-mand wees.

En al wat Hom laat volhard aan die kruis, is sy vashou aan die hoop op verlossing, die hoop op die opstanding, die hoop op die herstel van God se teenwoordigheid.  En daarom gee Hy sy Gees terug aan die Vader, in die hoop dat die Vader dit vir Hom sal teruggee.

Ons navolging

As ons nadink oor die effek van dié boodskap op ons eie lewe, dan kan ons vier goed daaroor sê:

Eerstens: Jesus het gesterf sodat ons nooit weer op dieselfde wyse deur God verlaat sal word nie. Daar is niks wat ons kan skei van die liefde van God in Jesus Christus nie.

Tweedens: Jesus het gesterf om vir ons ‘n vrye toegang na sy Vader te verwerf. Gelowiges kan op grond van Jesus se hoëpriesterskap met vrymoedigheid (parresia) na die genadetroon gaan.  Parresia het in sekulêre Grieks gedui op die vryheid van spraak wat die vryburgers van ‘n stad geniet het.  Gelowiges het egter méér as vryheid van spraak (d.m.v. gebed) in God se troonkamer.  Hulle het die sekerheid dat hulle daar oorvloedige barmhartigheid en genade sal ontvang.

Ons kan dus dag en nag met God praat en ons kan weet dat Hy ons hoor en verhoor.  Jesus is in die hemel om dit vir ons te verseker.

Derdens: Jesus kan na sy dood ons nog beter bystaan in die krisisse wat ons self moet deur.

En dan bedoel ek spesifiek die krisis van gebede wat anders beantwoord word as wat ons dit vra.  Dit is immers so dat ons nie alles kry waarvoor ons vra nie.  Ons het ook ons eie kwota ongeluk en lyding en siekte en onreg wat ons kant toe kom, wat nie deur gebede voorkom kan word nie.  Selfs wanneer ons gebede en lewenstyl in ons eie oë voldoen aan al die voorwaardes wat die Woord vra, weet ons mos dat God soms vir ons “Nee” sê, en dat daar slegte dinge oor ons pad kom.

Maar die kruis van Jesus help ons om verder te kyk as die krisis self. Toe God Jesus se gebedsversoek geweier het, het Hy die redding van die mensdom in gedagte gehad. Hy het Nee gesê op die spesifieke gebedsversoek, omdat Hy ‘n veel wonderlike en heerlike verlossing  waar wou laat word.  Hy het dus geantwoord, maar nie soos Jesus dit wou hê nie.

Al is dit vir ons moeilik,  moet ons ook ons  “onverhoorde gebede”  in die raamwerk van God se plan plaas en moet ons in ons eie krisisse ons vertroue in God plaas – soos Jesus gedoen het! Gewoonlik sien ons nie die groter prentjie onmiddellik raak nie en soms sien ons dit nooit raak nie. Dit is wat ‘n krisistyd so intens kan maak.  En dan nog steeds moet ons ons hoop en ons vertroue in God plaas.

Vierdens: Jesus moedig ons aan om op dieselfde manier as Hy regtig om te gee vir mense

Jesus sit op hierdie Goeie Vrydag ons voete uit dankbaarheid in beweging na ‘n wêreld wat verlang na iemand wat regtig omgee, sodat hulle deur ons liefde kan weet daar is Iemand wat regtig omgee …  Jesus, die bron van ewige saligheid  (vers  9).

En as dít die enigste effek is wat Goeie Vrydag op ons het vandag, dan was dit ook al genoeg.

Jesaja 25:6-9 – Paas Sondag – 12 April 09



Skriflesing

Soos ek reeds verlede Sondag gesê het, beslaan die boek Jesaja eintlik 3 dele wat met die voor-ballingskap tyd (hfst. 1-39), die tyd in die ballingskap (hfst. 40-55) en die tyd na die ballingskap (hfst.. 56-66) van die 6de eeu v.C. verbind kan word.

Jesaja 25 is deel van Eerste Jesaja (hoofstukke 1-39).  In die tydperk gaan dit aanvanklik op ekonomiese gebied nog goed met die volk.  Die samelewing was egter inherent siek deurdat die mense volgens Jesaja uiterlik baie godsdienstig was, maar innerlik verrot.  Hy het vervolgens veral die uitbuiting van armes, oneerlikheid en eiebelang aan die kaak gestel en aangekondig dat God sy volk gaan straf.  Uiteindelik sou die volk in ballingskap weggevoer word, die eerste keer in die 8ste eeu v.C. veral die 10 stamme van Israel en in die 6de eeu v. C. die 2 stamme van Juda.

Die klem val baie sterk in Jes. 1-39 op die oordeel oor Juda en Jerusalem (1-12), die nasies (13-23), die wêreld (24-27) en uiteindelik ook die verbondsvolk (28-35).  In elk van die onderafdelings is daar egter ook ondertone van hoop, soos met dié gedeelte in hfst. 25.

Woordverkondiging

‘n Mens word nogal honger as jy die evangelies lees, dis die een ete na die ander … Jesus was lief vir eet … om te “kuier-eet” saam met mense en so die lewe én God se goedheid te vier.

Ek dink Jesus sou vandag die restaurante geniet het.  Geen wonder dat een van die sakramente wat Hy ingestel het rondom eet was nie – die Nagmaal. Dis die beste uiteet-geleentheid wat daar is!

Hier in Jesaja 25 word ook gepraat van ‘n uiteet-geleentheid … en dis vol van vreugde-gevulde woorde. Dit lyk asof die teks ‘n kronings banket beskryf, waar God as die Heerser gekroon word, in NT terme, waar Jesus se opstanding gevier sal word. Dit is ‘n gelukkige, vreugdevolle geleentheid. Ek kan in my geestesoog sien hoe kreun die tafels onder die wonderlike oorvloed wat God vir ons en die wêreld opdis!

God hou ‘n feesmaal

Feeste en die gode is natuurlik eintlik half sinoniem.  In al die mitologieë lees ‘n mens van groot en uitspattige feeste wat die gode gehou het.  Dit is waar van Egipte, Griekeland, Assirië en Babilonië.

Jesaja se visie op die eindtyd, dat dit ‘n feesmaal sal wees, is dus heeltemal in lyn met wat in ander godsdienste ook die geval is.  Daar is ‘n hele paar ooreenkomste.  Maar wat Jesaja uniek maak, is dat die gaste nie ander gode is nie, maar mense.  In al die mitologieë nooi die gode ander gode uit om saam met hulle fees te vier – baie keer met die mense wat dit moes ontgeld.

Mense is God se gaste

Wanneer God ‘n feesmaal hou, hou Hy dit met mense, mense soos jy en ek.

Om die waarheid te sê, omring soos Hy is in die hemel met die vier lewende wesens, met die 24 ouderlinge, met die skare engele, is sy gaste mense, mense uit elke deel van die wêreld, mense wat Hy verlos het, mense van wie Hy die kleed van skuld verwyder het, letterlik staan daar, Hy het dit opgeëet en ingesluk, mense van wie Hy die trane afvee.

God gee sy beste

En Hy gee die beste wyn, verouderde wyn, kan seker net rooiwyn wees, ander wyn verouder nie so goed nie.  Hy gee die beste kos, en dit in oorvloed.  En Hy verwyder die skande wat oor sy volk gekom het vanweë hulle ongehoorsaamheid, en laat hulle in ere herstel weer saam aansit saam met al die ander volke oor wie Sy Naam uitgeroep is.  Soos Dawid ook in Psalm 23 ervaar – U laat my by ‘n feesmaal aansit, al was daar donker dieptes op die pad daarheen.

Sulke oorvloed moet ‘n mens met vreugde vier!  Paastyd is mos die tyd wat oorloop van vreugde omdat Paastyd vir ons sê:  “Ek het die toekoms gesien en dis wonderlik!”

Jesaja 25 roep ons ook tot vreugde:  “Laat ons bly wees en juig omdat God ons gered het.” Dis die Paasboodskap in ‘n neutedop.

Jesus se lyding van Goeie Vrydag word omgesit in die vreugde van die verlossing op Paas Sondag.

God sluk die dood in

En die wonderlikste van alles, God sluk die dood in.  Soos Goeie Vrydag die begrafnis van sy Seun was, is hierdie Feesmaal die begrafnis van die Dood.

Interessant, van die ander gode se feesmaaltye het baie keer een of ander helde daad ingesluit.  Marduk bv., die hoof Babiloniese god, in die Enuma Elish (Babiloniese skeppingsverhaal), een van die stories wat die Bybelskrywers moes geken het, het by een só ‘n feesmaal ‘n kledingstuk laat verdwyn en weer laat verskyn.

Maar Jesaja teken God as die een wat nie maar net sommer ‘n towerkunsie doen nie.  Hy sluk die skuld van mense in, en Hy sluk die dood (hamôt) in, en wis die oordeel en die straf van sy mense uit.

Die doek waarvan hier gepraat word, is die doek van onkunde, die doek van verydeling, die doek wat soos ‘n skaduwee oor die nasies gelê het en alles wat hulle doen, beïnvloed het.

Anders as die Satan, wat in die NT geteken word as die een wat mense soek om te verslind (1 Pet 5:8) om hulle lewens te vernietig,  soos sy voorganger die Leviatan, eet God die dinge op wat skeiding bring tussen Hom en die mens, sodat hulle die lewe kan hê.  Hy eet die vloek van die sonde op, Hy sluk dit in, en Hy eet die gevolge van die sonde ook op, die dood.

Jesus het immers gekom dat ons lewe sal hê en dit in oorvloed (Joh. 10).

God gee ons hoop

En die wonder van hierdie feesmaal is dat dit vir ewig is.  Die dood word nie net vernietig vir ‘n tyd nie, so half soos in die sikliese verstaan van die Hindoeïsme nie, waar lewe en dood mekaar afwissel nie.  Nee, die dood word as entiteit vernietig.  Daarom word daar van DIE DOOD hier gepraat.  Dit is DIE DOOD wat vernietig word.

Net so terloops – dit is dan ook die probleem van die hele idee van reïnkarnasie – daar is nooit ‘n einde aan nie.  Jy kan opgaan in die hiërargie, maar jy kan ook daal – daar is geen versekering dat jy ooit genoeg karma gaan hê om geluksaligheid te bereik nie.

God werk nie so nie.  Hy deurbreek die effek wat die dood en die skuld en die sonde kan hê, en wis dit uit, sluk dit in, sodat ons die lewe en dit vir ewig kan hê.

Eugene O’Neill het ‘n toneelstuk geskryf: “Lazarus Laughed” (1925).  Dit handel oor wat gebeur het nadat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het.

Die toneelstuk wys, hoe vanaf die eerste oomblik wat Lasarus se vriende hom weer sien nadat hy uit die dood opgewek is, sy lewe gevul is met vreugde en blydskap.

“What did you see on the other side of death?” vra hulle hom. En Lasarus antwoord, “There is no death! There is no death! There is only life!” En dan bars hy uit van die lag – O’Neill beskryf hierdie lag as, “full of acceptance of life and a profound joy.”

En die toneelstuk gaan aan om Lasarus te skets as ‘n prediker met net een boodskap: dat die lewende Christus mense kan bevry van die vrees wat die dood bring.

Aan die einde kom daar dan ‘n groot konfrontasie met die wrede Caligula, opvolger van die Romeinse troon. Caligula dreig Lasarus met marteling en teregstelling oor sy boodskap. Maar Lasarus kyk hom in die oë en lag saggies, “Death is dead, Caligula, Death is dead!”

O’Neill sê dus met dié toneelstuk, die grootste verandering in Lasarus se lewe, nadat hy die nuwe lewe in Christus ontdek het, is dat hy nie meer bang was nie. Hy kon lewe met hoop. Lasarus kon op ‘n ander manier as tevore leef en lag. Hy sou wéér moes sterf omdat sy opstanding uit die dood nog nie die uiteindelike opstanding uit die dood in die voetspore van die Opgestane Christus was nie. Maar hy het die dood nie meer gevrees nie. Vir hom was Die Dood, dood! Nou kon hy leef sonder die vrees vir die dood!

Soos John Donne skryf in “Death be not Proud” in die eerste twee reëls:

DEATH be not proud, though some have called thee

Mighty and dreadfull, for, thou art not so,

En dan sluit hy af met die laaste reël:

And death shall be no more; death, thou shalt die.

Ons kan hoop

Nou wat is die effek op ons?  Watter hoop lê in hierdie Feesmaal, hierdie Paasmaaltyd vir ons?

‘n Paar jaar gelede was daar ‘n ondersoek waarin gevra is: “Watter sin sou jy baie graag wou hoor iemand opreg vir jou sê?”

Kan jy raai wat die eerste ding was wat mense graag wou hoor?

  • Die eerste was: “Ek is lief vir jou!”
  • Die tweede een was “Jy is vergewe.”
  • Die derde een was eintlik ‘n verrassing: “Ete is reg!” (D.w.s. Kom eet!)

En dít is wat hierdie Feesmaal, waarvan die nagmaal natuurlik ‘n voorloper is, vir ons sê:

Eerstens: Dit sê vir ons God is lief vir ons.

Die liefde wat God vir sy Seun het, bly my hart roer.  Want dit is eintlik net in God die Vader se liefde vir sy Seun, Jesus, wat ek sy liefde vir my kan raaksien en daarop kan vertrou.  Die wonder van hierdie Paas Sondag is dat die offer wat Jesus op Goeie Vrydag gemaak het, deur God die Vader met die opstanding van Paas Sondag begroet is.

  • Waar Jesus op die Donderdag in Getsémané gevra het, Laat die beker tog by my verbygaan, en nogtans steeds gehoorsaam gesê het, nogtans nie my wil nie, maar U s’n,
  • en op Goeie Vrydag gevra het, Waarom het U my verlaat en nogtans uiteindelik in gehoorsaamheid sy Gees aan God die Vader teruggegee het …
  • so antwoord God die Vader uiteindelik met die opstanding uit die dode en met die verheerliking van Hom as mens bo alle ander op die aarde, voor Hom en na Hom.

En in hierdie liefde vir Sy Seun, lê daar vir my die hoop dat Hy ook vir my liefhet.  Dat Hy ook aan my getrou sal bly.  Dat ek ook hierdie feesmaal aan die einde van die tyd sal kan bywoon.  En elke keer by die nagmaal, soos ook weer by Goeie Vrydag, versterk word in my hoop.

Tweedens: Dit sê vir ons, ons skuld is vergewe:

In ‘n droom het Martin Luther beleef hy word deur die duiwel aangeval. Die duiwel het ‘n lang boekrol, wat ‘n lys van Luther se sondes opgehad het, vir hom gelees. Nadat hy klaar gelees het, het Luther vir hom gevra: “Is dit al?” “Nee” het die antwoord gekom en ‘n tweede boekrol is oopgemaak met nog sondes. Na dit was daar ‘n derde lys, maar toe was die duiwel klaar.

“Jy het iets vergeet!” het Luther uitgeroep.  “Skryf gou vinnig op elkeen van hulle – die bloed van Christus, God se seun, was al ons sondes weg!”

Dit is die wonder van hierdie Paas Sondag – die sonde en die skuld en die straf vir die sonde, die dood, is vernietig, dit is ingesluk, dit is opgeëet.  Ons is vry mense wat met vrymoedigheid (parresia – Hebreërs 4) met God kan praat en met Hom gemeenskap kan hê.

Derdens: En die boodskap sê vir ons – in die taal van Jesaja 25 –  “ete is reg”.

Ek lees die verhaal van ‘n Ier wat, soos baie ander in die 1820’s, met sy familie na Amerika toe wou verhuis. Hy het gespaar, geleen, hard gewerk totdat hy die kaartjies vir die bootreis kon koop. Hulle het die reis aangepak met die klere wat hulle aangehad het en paar muntstukke wat die pa in sy sak gehad het. Hulle sou in Amerika ‘n nuwe, vars begin maak.

Vriende en familie het vir hulle op die kaai kom totsiens sê. Daar het hulle vir hulle sakke vol brood, kaas en aartappels gegee.  Die familie was maar te dankbaar vir al die geskenke, want dit sou die honger weghou van hulle af.

Aan boord het hulle op die onderste dek ‘n slaapplek gekry: ouma, ma, pa en 6 kinders. Die pa het sy reëls uitgespel: wees versigtig, bly naby aan mekaar en moenie verlore raak. Hierdie goed was veral bedoel vir die ore van die familie se 6-jarige woelwater.  Dié was ‘n ontdekker uit die boonste rakke!

Soos die boot verder gevaar het, het die kos opgeraak, behalwe vir ‘n paar gemufte aartappels. Hulle was honger en moedeloos. Die woelwater het gepleit vir iets vars om te eet.  Die ma het na die pa gedraai en gesê:  “Laat hy vir ons ‘n paar vars lemoene gaan koop met die geld wat jy oor het, dan kan ons dit onder mekaar verdeel en vier dat daar nog net ‘n paar dae oor is voor ons voet aan wal sit.”

Die seuntjie is toe opgestuur.  Na ‘n halfuur was daar nog geen teken van die woelwater nie.  Almal was bekommerd, veral die ouma en ma.  Die pa het op die groot boot begin rondsoek.  Einde ten laaste kry hy hom in die eetsaal van alle plekke!  Hy was besig om alles te eet wat hy kon sien!  Die pa het hom aan sy arm gegryp en sê:  “Hoe kon jy?  Ons het geen geld om vir al hierdie kos te betaal nie!  Jy sal ons vernietig nog voor ons by Amerika uitkom” Met sy mond vol kos het die seuntjie sukkel-sukkel die volgende woorde uitgekry:  “Pappa! Pappa!  Jy verstaan nie.  Die kos is verniet.  Die kos is ons s’n. Dit is ingesluit in die prys van die kaartjie!”

Die pa was verstom.  Hy het in die kelner wat naby gestaan het se gesig gekyk en dié het dit bevestig.  Al wat die pa kon uitkry was:  “Goeie genade!”  Hy het die seuntjie gestuur om die res van die familie te roep. Terwyl hulle dankbaar in stilte die wonderlike kos geniet het, het die woorde in hulle kop rondgemaal: “Die kos is verniet.  Die kos is verniet. Dit is ingesluit in die prys.”

Slot

Ek sluit af met ‘n gebed van Ds Stefan Louw wat hy twee jaar voor sy dood in September, 2006 as deel van ‘n meditasie geskryf het.

“Here, laat die dood die sin wees waaruit ek my broosheid put, laat dit die hals wees wat my lewe versier met nederigheid, met vrede, met diensbaarheid, met hoop. Laat dit die laaste woord wees wat elke dag die lewe nuut opbreek, laat my weerloosheid terugval in U Vaderhand, laat die stort oor die rand slegs die vryval wees en dan die sprei van die vlerke, die vlug, die oorgee aan U my Vader van wie my Gees kom en na terugkeer. U die lewensGees, die bron van alle Goeie dinge.

Ek wil Hom nie vrees nie Heer, ek wil Hom verstaan en op die regte tyd ontmoet soos iemand by ‘n deur staan en klop, nie as iemand nie, maar juis as niks, as bloot ‘n oomblik van nietigheid, as bloot ‘n ingang, ‘n donker ingang met U stem wat anderkant klink. Amen.”