Twee sentrale perspektiewe uit Matteus 2:13-23 gee my hoop vandag en vir 2014:
1. Die eerste is die insig dat “die beslissende dinge wat God doen, nie altyd duidelik is in die morsige oomblik waar die swaard uitgepluk en die bloed van kinders vloei nie, soos dit hier van die kindermoord deur Herodes vertel word” (dankie Danie Mouton!).
Herodes slaag nie in sy bose planne nie. Die Kind wat hy wou bykom, word deur God beskerm, nogal in vervulling van die profetiese belofte in Hosea 11, om die verlossende werk wat Jesus in Israel sou doen, te verseker.
Soos daar in die tagtigerjare gebedskettings deur gelowiges regdeur ons land gevorm is om die dreigende burgeroorlog te beëindig, dink ek dit is waarskynlik op die oomblik weer nodig dat ons in gebed verenig om die Here te vra om ’n einde aan die grootskaalse korrupsie en misdaad in ons land te maak en dit moontlik te maak vir ons om regtig ’n verandering te bring regdeur ons samelewing deur onderwys en gesondheid en ander basiese dienste, terwyl ons van die werklikheid van God se teenwoordigheid getuig.
Sulke gebed sal dan ook altyd van ons vra dat ons bereid moet wees om deel van die antwoord daarop te wees. Daarvoor moet ons ons in die nuwe jaar gee – soos Jesaja 62:6-12 (RCL teks) ons op Kersdag herinner het. Ons is die wagte op die mure wat moet bid totdat die Here verlossing bring vir ons land en vir hierdie wêreld.
2. Die tweede is die interessante feit dat Matteus Jesus in dié teks die NASARENER noem.
Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie NASARET waar hulle gaan woon het, en die Hebreeuse woord NESER wat loot of takkie beteken. In Jes 11:1 word die woord neser gebruik in ‘n Messiaanse betekenis: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra …” En daarby word gevoeg: “Die Gees van die Here sal op hom rus …”. In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl ook Jes 53:2).
Die term “Nasarener” het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ’n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.
Matteus sê vir ons deur hierdie identifikasie van Jesus as Nasarener, dat hierdie God in beheer is van die geskiedenis, selfs op en vanaf die plekke waar jy dit die minste verwag. Hy is besig om sy koningskap te vestig deur die werk van Jesus Christus op aarde – selfs al is dit verskuil en onder die radar. Dit kan julle glo. Daarop kan julle staatmaak.
God word nooit onkant gevang nie – nie deur Herodes nie, nie deur gewaande onbenulligheid nie. God is besig om die wêreld onafwendbaar te lei na die heerlike bestemming van vir die kinders van God weggelê is. Daarin kan en sal ek en jy deel, maak nie saak in watter krisisse ons of ons mense ons ook al in bevind nie.
Dit is ’n perspektief wat my baie hoop gee vir ons gemeente en vir ons kerk, veral in die lig van die idee wat sommige mense het dat ons invloed gekrimp het en daar min hoop is dat ons kerk nog ’n verskil kan maak in hierdie land van ons.
Wat beteken dat Jesus ook nou in jou lewe aan die werk is, ook in ons gemeente, ook in ons kerk. Die Nasarener is die Messias. En deur ons, deur ons gebede, deur ons getuienis, deur ons gemeenskapsbetrokkenheid, kan Hy die land verander, sál Hy trouens die land verander.
Daarvoor kan ons onsself in 2014 gee.
Hier volg nou die hele teks van my erediens vandag: