Skip to main content

Huisgeloof – 3-9 Mei 2015

Sagaria 4 – die moed om te volhard

OMGEE-GESPREKKE

  1. Is dit lekker as iemand jou bemoedig? Hoe help dit jou as jy iets moeiliks moet doen?
  2. Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” (Sagaria 4:6).

Oordink die betekenis daarvan vir jou en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.

BYBELLEES

  1. Lees Sagaria 4:1-14
  2. Wat tref jou in hierdie gedeelte?
  3. Wat beteken dit vir jou dat die Here vir Serubbabel, die goewerneur, sê dat hy “nie met mag en krag” sal slaag nie, maar deur God se Gees (vers 6)? Dit het vier jaar later inderdaad gebeur.
  4. Watter boodskap het dit vir jou dat die Here vir Serubbabel en die volk oproep om nie die: “dag van klein dingetjies”, gering te ag nie (vers 10)?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

  1. Sagaria leer ons dat deur te fokus op die stukkie vir stukkie vordering met die werk wat elke dag gedoen word, word alle berge uiteindelik gelyktes. Dit is hoe die Gees werk. Ook in jou lewe. Watter werk het die Here vir jou gegee om te voltooi? Dink aan dinge in die gesin/familie, gemeente en wêreld.

GESEËN OM TE SEËN

  1. Bid saam dat ons die werk sal kan doen wat die Here vir ons gee.
  2. Gebruik die gebedsriglyne op die aankondigings vir jou verdere voorbidding dié week.

Huisgeloof 27 April tot 3 Mei

Haggai 2

OMGEE-GESPREKKE

Vertel vir mekaar wat jou bang maak. Wat help jou om dapper te wees, al is jy bang?

BYBEL LEES

Lees Haggai 2:1-9

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Wat gaan mamma doen as jy eerder speel en nie jou kamer reg pak soos wat sy gevra het nie? God het vir sy volk gesê om sy tempel (hul kerkgebou) weer te bou (dit is lank gelede in ’n oorlog vernietig). Maar vir 19 jaar lank het hulle gedraai en eerder hul eie goed gedoen. Toe hulle uiteindelik weer begin, was dit baie moeiliker as wat hulle gedink het. Hulle was skoon moedeloos! Kyk weer in verse 4 en 5 hoe God reageer.
  • Wat beteken “skep moed”?
  • God belowe dat hy by ons is. Hoe kan dit jou help om nie bang te wees nie?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Bid vir die Christene in die Midde-Ooste. Mense is baie lelik met hulle omdat hulle vir Jesus dien. Bid dat hulle sal dapper wees, sal moed skep. Gee ’n geloofsoffer bydrae vir een van ons sendelinge se werk. Ons sendelinge help o.a. hierdie mense deur hulle te herinner dat God by hulle is, sodat hulle nie bang sal wees nie.

GESEËN OM TE SEËN

Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge

Huisgeloof – 13-19 April 2015

BegeesterdMiga 3 – om onreg aan te spreek

OMGEE-GESPREKKE

  1. Is dit lekker as iemand jou teregwys? Hoe help dit jou as jy iets verkeerd gedoen het?
  2. Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die HERE van jou
as om net te doen wat reg is,
om troue liefde te bewys en om noulettend die pad saam met jou God te loop?” (Miga. 6:8 – voorgestelde BDV).

Oordink die betekenis daarvan vir jou en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.

BYBELLEES

  1. Lees Miga 3:1-12
  2. Wat tref jou in hierdie gedeelte?
  3. Ons dink baie keer aan die troos en die vrug wat die Gees bring. Watter nuwe perspektief gee Miga oor die werk van die Gees in vers 8?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

  1. Watter dinge in die nuus die afgelope tyd het julle getref? Dink aan geweld, onreg en gierigheid. Deel met mekaar dié dinge wat julle ontstel – ook dié dinge wat ander mense (as ons) in ons land ontstel.
  2. Miga dink aan vervulling met die Gees as die krag en die moed om op te tree teen onreg. Wat vra die Here nou van julle in ons eie situasie – dink aan die dinge wat julle in punt 7 gedeel het?

GESEËN OM TE SEËN

  1. Bid vir die mense wat ly onder geweld, onreg en gierigheid. Gebruik ook die gebedsriglyne op die aankondigings vir julle voorbidding dié week.

Huisgeloof 9-15 Maart

Laat Jesus Deur Jou Praat

OMGEE-GESPREKKE

Partykeer moet ons vir mense goed sê wat moeilik is – soos wanneer ons ouers met ons raas. Vertel vir mekaar hoe dit vir jou voel wanneer iemand so iets vir jou sê.

BYBELLEES

Lees Johannes 18:1-11

• Terwyl iemand die verhaal lees, probeer dit in jou gedagtes sien gebeur. Laat elkeen hulleself in die verskillende karakters probeer inleef: Judas, die wagte, Jesus, Petrus, die slaaf. Nadat julle gelees het, laat elkeen vertel hoe hulle dink hulle karakter gevoel het soos die verhaal afspeel.
• Jesus weet presies wat aangaan en hy probeer nie maak asof dinge anders is as wat dit is nie. Hy praat die waarheid sonder om lelik te wees. Oor watter goed moet ons die waarheid praat, al is dit moeilik? Is daar goed waaroor ’n mens maar eerder (dalk t.w.v. ander se gevoelens) nie die waarheid moet praat nie?
• Hoe kan ons moeilike goed vir mense sê op ’n manier wat hulle nie seermaak nie? Probeer aan spesifieke voorbeelde dink.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Ons is ’n Gereformeerde Kerk. Herinner mekaar wat dit beteken deur te vertel wat julle glo. Sê saam die Geloofsbelydenis op.

GESEËN OM TE SEËN

• Dink na oor die manier waarop jy moeilike goed vir mense sê. Hoe kan jy dit doen sodat ander mense daardeur beleef dat jy hulle lief het?
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge en vir die sendeling wat julle gesin ondersteun.