Skip to main content

Huisgeloof – 1-7 Maart 2015

Laat Jesus deur jou voete was

OMGEE-GESPREKKE

  1. Verlede week het ons gesels oor Jesus wat ook verontwaardig oor onreg kan raak. Ons het gesels oor hoe ons Jesus se deernis en liefde kan bewys, selfs waar ons skerp teëstand ervaar. Indien dit gepas is vir julle huis, kan julle gesels oor die effek wat die dood van die 21 Egiptiese Christen martelare in Libië, wat deur IS tereggestel is, op die Koptiese Christene gehad het. Hulle het binne 48 uur traktaatjies gedruk en in Libië laat versprei wat die boodskap van Christus aan die radikale ekstremiste versprei. Hoe moet ons daaroor dink? Wat vra dit van ons?
  2. Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree.” (Openb. 20:4).

Oordink die betekenis daarvan vir julle en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.

BYBELLEES

  1. Begin deur mekaar se voete te was. Die ouers (of oueres) kan die kinders (of jongeres) se voete was om aan te pas by die Bybelse verhaal.
  2. Lees nou Johannes 13:1-17, in ‘n kindervriendelike vertaling as dit kan, terwyl die huisgenote hulle oë toemaak en hulleself inleef hoe dit was toe Jesus eenmaal die dissipels se voete gewas het.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

  1. Die belangrikste punt van die verhaal is in vers 12-16 wat só afgesluit word: “Gelukkig is julle as julle dit ook doen.” Hoe kan ons dit prakties uitleef in die huis? Laat elkeen iets kleins onderneem vir die week wat kom. Dink ook hoe julle dit teenoor ander kan doen. Laat elkeen ook iets kleins onderneem vir die week wat kom.

GESEËN OM TE SEËN

  1. Gebruik die gebedsriglyne op die aankondigings vir julle voorbidding dié week. Bid spesifiek ook vir Sonja (en haar gesin, een van ons sendeling-gesinne), wat Sondag by ons opgetree het.

Huisgeloof 16 tot 22 Feb

Laat Jesus Deur Jou Vreemdelinge Ontmoet

OMGEE-GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat jy nuut/vreemd was en iemand jou gehelp het om welkom te voel. Wat het hulle gedoen?

BYBELLEES

Lees Lukas 10:1-12 uit Die Nuwe Testament vir Kinders

Later het die Here twee en sewentig volgelinge uitgestuur. Hulle moes twee-twee voor Hom uitgaan na die dorpe toe waar Hy sou oorbly op pad na Jerusalem toe. Hy sê vir hulle: “Daar is so baie mense wat nog van God moet hoor, maar daar is heeltemal te min mense wat vir hulle van Hom kan vertel. Vra vir die Here om nog mense te stuur om dit te doen. “Gaan na al die plekke toe waarheen Ek op pad is. Maar oppas: dit is ’n gevaarlike werk. Ek stuur julle soos lammetjies tussen gevaarlike diere in. Moenie geld saamvat nie. Los ook julle tasse vol klere by die huis. En moenie langs die pad kuier nie. As julle in ’n huis inkom, groet almal vriendelik. Sê vir hulle: ‘God sal baie goed wees vir hierdie huis.’ As hulle vir julle blyplek gee, dan sal God by almal in daardie huis wees. Maar as hulle julle wegjaag, sal God hulle straf. Bly in die huise waar mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Dit is die betaling vir julle werk. Maak al die siek mense gesond. Sê vir hulle: ‘God se nuwe wêreld is nou hier by julle! Wanneer die mense van een dorp nie na julle wil luister nie, gaan dan na ’n ander dorp toe. Maar skud eers voor almal die stof van daardie plek uit julle klere uit. Sê vir hulle: ‘God gaan julle eendag straf.’ Weet julle, dit sal op die laaste dag makliker wees vir Sodom en Gomorra, daardie twee stede wat sulke lelike sondes gedoen het, as vir die dorpe wat nie na julle luister nie.

• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
• Jesus wil ons gebruik om vreemdelinge te laat welkom voel, sodat hulle weet dat Jesus hulle lief het. Maar ons mag ook nie met vreemdelinge praat nie! Hoe nou gemaak? Wie is die vreemdelinge wat jy wél kan laat welkom voel? Dink bv. aan die nuwe kind by die skool, nuwe mense in die kerk, mense wat jy gewoonlik wil uitsluit of ignoreer. Hoe kan jy hulle laat welkom voel?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Is julle besig om te vas? Vertel vir mekaar wat gebeur, hoe julle daaroor voel, wat julle daaruit leer.

GESEËN OM TE SEËN

• Is daar iemand spesifiek wat vreemd is na wie Jesus wil hê julle moet uitreik? Beplan saam hoe julle dit gaan doen.
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge en vir die sendeling wat julle gesin ondersteun.

Huisgeloof 25-31 Januarie

Laat Jesus Deur Jou Omgee

OMGEE-GESPREKKE

Vertel ’n storie van ’n keer wat jy regtig gevoel het iemand gee vir jou om. Wat het hulle gedoen wat jou so laat voel het?

BYBELLEES

Lees Lukas 10:25-37, die verhaal van die Barmhartige Samaritaan.

• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
• Jesus vertel hierdie gelykenis (’n storie waaruit ons iets leer) nadat iemand gevra het wie ons “naaste” is, m.a.w. wie ons moet liefhê. In Jesus se storie is dit die mense wat die beseerde man se vriende moes wees, wat hom ignoreer. Die een wat sy vyand moes wees, help hom. Dink saam oor wie julle “naaste” is – die mense aan wie jy nie gewoonlik sal dink as “naaste” of “vriende” nie.
• Watter verskonings gebruik ons om mense nie te help nie?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Woon saam julle kleingroep by. As julle nie aan ’n kleingroep behoort nie, sluit by een aan deur die kerkkantoor te kontak (041 583 5115 info@somerstrandgemeente.co.za).

GESEËN OM TE SEËN

• Noem soveel moontlik maniere waarop ons kan “omgee”. Hoe gaan julle hierdie week “omgee”?
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.