Skip to main content

Huisgeloof: 19-25 Oktober 2015

OMGEE-GESPREKKE

  • Gesels bietjie oor verskillende tipes bordspeletjies en die reëls wat daardie speletjies het.
  • Hoekom dink julle is daar reëls by speletjies?

BYBELLEES

In ons teksgedeelte van hierdie week lees ons oor hoe ons nie meer vasgebind word deur reëls nie, maar dat Christus ons vrygemaak het.

  • Lees Galasiërs 3:23-29 saam.

Hier is die Bybel vir almal se vertaling:

23 Die wette was vir ons soos ’n wag. Dit het ons toegesluit en opgepas totdat God gesê het dit is nou die regte tyd vir mense om in Christus te glo.24 Die wette het ons opgepas soos ’n mens ’n kind oppas wat nie vir homself kan sorg nie. Die wette het ons opgepas totdat Christus gekom het. Toe het ons in Hom geglo, en God het ons vrygespreek van ons sondes.25 Nou glo ons in Christus en daarom is dit nie nodig dat die wette ons moet oppas nie. 26 Julle almal is kinders van God, want julle glo in Christus Jesus.27 Julle is gedoop en julle is nou by Christus. Christus is nou so naby julle soos die klere wat julle aantrek. 28 Party van julle is Jode en party is Grieke, party van julle is slawe en party is nie slawe nie, party van julle is mans en party is vroue. Maar dit alles maak nie meer saak nie, want julle behoort almal saam aan Christus Jesus, julle is een.29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die kinders van Abraham en dan kry julle wat God belowe het. Ja, julle kry dit omdat God dit belowe het.

 

  • Dink julle daar is vandag nog “wette” waaraan ons vashou omdat ons dink dis iets wat ons moet doen om aan Jesus te behoort?
  • Dink julle daar is wel sommige wette of voorwaardes wat sin maak om te volg?
  • Hoekom dink julle sê hierdie teksgedeelte dat die wette ons nie meer oppas nie, maar dat Jesus ons vrygespreek het?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Sondag vier ons Hervormingssondag. Dit is die dag waar ons onthou dat die Bybel die bron is wat ons moet glo oor wie God vir ons is en hoe Hy ons roep om in Hom te  glo, eerder as wat mense vir ons sê hoe ons in God moet glo en wie Hy vir ons is.

  • Dink as gesin saam aan een stelling(nie ‘n wet wat julle navolg nie) van wie God vir julle is en maak dit julle leuse vir die week.

Huisgeloof: 12-18 Oktober 2015

Getuig

OMGEE-GESPREKKE

  • Wat doen jy as jy baie goeie nuus kry?
  • Hoekom vertel ons vir ander mense van ons goeie nuus?

BYBELLEES

In ons teksgedeelte van hierdie week kry die dissipels goeie nuus.

  • Lees Matteus 28:16-20 saam.
  • Wat tref julle in hierdie teksgedeelte oor Jesus se groot opdrag?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

  • Gesels oor die betekenis van die woord “GETUIG” sodat almal in die gesin mooi verstaan wat dit beteken.
  • Hoe kan julle as gesin elke dag getuig oor die goeie nuus van Jesus?
    • Skryf of teken julle getuig-maniere op ‘n bladsy en sit dit iewers in de huis op waar julle dit gereeld kan sien.
    • Laat ook ‘n spasie oop waar julle later nog getuig maniere kan bysit. Maak dit duidelik aan die gesin dat daar baie verskillende maniere is waarop mens kan getuig en dit kan die hele tyd verander soos wat mens se situasies verander.

 

Sendingweek begin 18 Oktober waar ons meer gaan gesels oor hoe ons op God se getuigspan is.

 

 

God is BARMHARTIG: 27 Sept – 3 Okt

OMGEE-GESPREKKE

Gesels met mekaar oor iemand wat dié week vir jou omgegee het.  Hoe het dit gevoel?  Wat het dit vir jou beteken?

BYBELLEES

Terwyl iemand Psalm 112 voorlees, fokus op watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom.  Neem twee minute stilte om daaroor na te dink na die voorlesing.

Ons ontvang God se Woord deur na mekaar te luister.  Deel met ons watter insig jou tref, watter belofte jou inspireer, watter opdrag jou motiveer.

GESEËN OM TE SEËN

“Barmhartigheid is ’n lewe van diens, ʼn lewe van omgee, ʼn lewe waarin ander mense se belange vir jou net so swaar weeg soos jou eie, ʼn lewe waarin jy jou hulpbronne, tyd, invloed en vaardighede gebruik om vir ander te sorg, of dit nou is om hulle te beskerm, te versorg, te koester of vir hulle regte op te kom.”  Bespreek.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Omgee vra van ons om oë en ’n hart vir ons naaste te hê, en dan hande en voete aan ons gevoel van barmhartigheid en omgee te gee: “Wie aardse besittings het en sy broer of suster sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom of haar het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh. 3:17).

Hier is ’n paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel om die geloofsgewoonte dié week te beoefen:

  • Dink aan mense wat in nood is, soos weduwees, weeskinders of minderbevoorregtes. Dink biddend vir wie jy iets prakties kan doen deur jou invloed te gebruik of deur ’n uitstappie te reël, met inkopies te help of regshulp of maatskaplike hulp te verleen.
  • Vra vir iemand: “Wat kan ek vandag vir jou doen?” Dit kan iemand in jou familie of in jou vriende- of werkkring wees. Dit kan iets klein of groot wees. Dit kan iets moeilik of maklik wees.
  • Kies een van die sendelinge vir wie ons as gemeente ondersteun. Vra vir hulle wat jy vir hulle kan doen. Miskien het hulle kruideniersware nodig wat jy vir hulle kan stuur. Dalk kan jy hulle help met hulle banksake of ander administratiewe take vir hulle doen. Oorweeg ‘n geloofsoffer om hulle te ondersteun.
  • Maak ’n ekstra bord kos en bêre dit in jou vrieskas (of hier by die kerk) vir iemand wat dit dalk kan nodig kry. As jy die bord kos met iemand deel, maak ook kontak en gesels met die persoon om iets van die liefde van die Here oor te dra.

God is Transformerend

Teologiese raamwerk

Vals beeld van God: Ek is ‘n sondaar in God se oë

Ons almal is sondaars. Dit is die waarheid wat Romeine 3:23 vir ons leer. En tog kan ons hierdie waarheid verkeerd verstaan en skeef trek in ‘n onwaarheid as ons daardeur bedoel dat sonde steeds heerskappy oor ons lewe voer en ons geen beheer of mag daaroor het nie.

Christus het immers die kruisweg geloop en aan die kruis gestref om sondes te vergewe, om ons skoon te was en te reining van al ons sonde, om ons te bevry uit die mag van sonde, om ons met God te versoen,om ons te regverdig en heilig voor God te verklaar. Om onsself dus steeds te sien as mense wat in God se oë niks anders as sondaars is nie, is ‘n vals beeld van God en ‘n vals beeld van onsself.

Ons kan verander. Ons kan nie onsself verander nie, maar God kan ons verander en God doen dit! Jesus se kruisdood smeer nie net ons sonde toe nie, maar Jesus se kruisdood kom maak nuwe mense van ons, mense wat skoongewas en nuutgemaak is deur die bloed van Jesus, mense wat vergewe, versoen en vrygemaak is deur die liggaam van Jesus, mense wat geregverdig en geheilig is deur die kruis van Jesus.

Ons identiteit lê nie meer in die feit dat ons sondaars is nie, maar in die feit dat ons vrygespreek is van ons sondes. God verander ons van sondaars na uitverkiesdes.

Kleingroepmateriaal

Rus

Gesels met mekaar oor die eerste keer wat jy werklik begryp het wie Jesus was/is.

Hoor

Laat een persoon Lukas 5:1-11 hardop deurlees. Terwyl die persoon die verhaal lees, verbeeld jouself dat jy ook op die oewers van die Genesaretmeer is en dat jy deelneem in hierdie verhaal.

  • Deel met mekaar: wat het jou opgeval, geraak of watter vrae het jy n.a.v. die Skriflesing?
  • Wat beteken dit vir jou persoonlik om Jesus te volg? Deel iets van jou persoonlike reis met die Here.

Leef

Vers 11 is die klimaks van hierdie perikoop: “En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.”

  • Dink oor jou lewe: is daar dinge wat jy nog nie bereid is om net so te los en Jesus te volg nie
  • Dra hierdie dinge aan die Here op. Hierdie is veral ‘n punt waarop jy kan fokus wanneer jy hierdie week se geloofsgewoonte, afsondering, inoefen.

 

Geloofsgewoonte vir die week

Afsondering

Afsondering is een van die mees basiese geloofsgewoontes, tog is dit een wat dikwels afgeskeep word. Afsondering stel ons in staat om vir God, onsself en die lewe eerlik in die oë te kyk. Sonder afsondering is dit maklik om nooit eerlik te raak oor die lelike en slegte dinge in ons lewe nie.

 

Daar is duisende redes waarom ons nie tyd het vir afsonderling in ons besige programme nie, maar die enigste ware rede waarom ons onsself nie kan afsonder nie, is waarskynlik omdat ons nie kans sien om God, onsself en die lewe eerlik in die oë te kyk nie.

 

  • Wat maak dit vir moeilik om jouself saam met God af te sonder?
  • Wanneer jy jouself afsonder, wat is jy geneig om te doen?

 

Kreatiewe voorstelle:

Afsondering moenie met die geloofsgewoonte van stilte verwar word nie.

  • Maak vir jou in die oggende ‘n koppie koffie of tee, en drink dit in afsondering sonder om iets ander te doen.
  • Gaan sit tydens middagete onder ‘n boom in pleks van om saam met jou kolegas te eet.
  • In plaas van om na die gimnasium te gaan, gaan stap op jou eie.

Huisgeloof

Omgee-gesprekke

Gesels met mekaar oor as julle Jesus aan ander mense moet beskryf, mense wat nog nooit van Hom of God gehoor het nie, wat sal julle sê?

Bybellees

Lees Matteus 20:1-16 saam.

  • Gesels oor al die verskillende dinge wat in die teks gebeur en hoe dit julle laat voel.

Gesels saam oor hoe oor hoe Jesus gewone mense gekies het om sy volgelinge te wees en wat dit vir ons beteken om dat nou ook sy volgelinge en vissers van mense te wees?

Gewoontes en Gebruike

Die geloofsgewoonte vir hierdie week is afsondering. Lees asb. die riglyne daarvan deur voor die huisgelooftyd. Asondering is ‘n moeilike konsep vir kinders omdat hulle dit met straf assosieer.

  • Wat sal vir jou ‘n lekkker manier wees om alleen tyd met Jesus te spandeer?
  • Indien dit moontlik is, spandeer die volgende 6 minute dat elkeen op hul eie voorgekeurde manier tyd saam met God in afsondering spandeer.

Geseën om te seën

Hierdie week gaan ons hard probeer om vissers van mense te wees. Wat is dinge wat julle vir ander kan doen om vir hulle te wys dat jy Jesus volg?

 

God is REGVERDIG: 13-19 Sept

OMGEE-GESPREKKE

  • Gesels met mekaar oor iets wat jy die afgelope week gelees of gesien het. Wat het dit vir jou beteken?
  • Gesels met mekaar oor wat John Stott oor die waarde van Bybellees sê: “In the Bible God gives us revelations of himself which leads us to worship, promises of salvation which stimulates our faith, and commandments expressing his will which demand our obedience. This is the meaning of Christian discipleship.” Wat het jou eie Bybellees dié week vir jou beteken?

BYBELLEES

  • Terwyl iemand Psalm 111 voorlees, fokus op watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom. Neem twee minute stilte om daaroor na te dink na die voorlesing.
  • Ons ontvang God se Woord deur na mekaar te luister. Deel met ons watter insig jou tref, watter belofte jou inspireer, watter opdrag jou motiveer.
  • Dink ná oor wat in die prediking Sondag daaroor vir jou getref het en deel dit met ons. Die preek is by ons webtuiste www.ngkerksomerstrand.co.za.
  • Iemand lees weer die Psalm voor. Luister nuut na die Skrifgedeelte. Raak bewus van hoe hierdie gedeelte jou nou ruk en/of troos.

GESEËN OM TE SEËN

  • Ons gesels saam oor watter moontlikhede God in ons tyd saam vir jou oopgemaak het? Watter van dié moontlikhede voel jy wil God hê moet jy laat vaar/ontgin?
  • Sê vir ons wat jy nou gaan doen. Dit is hoe ons God se genade uitleef en vir ander aangee.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

  • Besluit op ‘n Bybelboek of hoofstuk wat julle dié week saam wil lees. Kies een van die drie metodes wat ek hierbo aangegee: drie simbole, luistersiklus, of drie vrae.

God is HEILIG – 6-12 Sept

OMGEE-GESPREKKE

  1. Maak dié week tyd vir mekaar. Luister na mekaar, laat elkeen vertel wat in hul dag gebeur het. Kyk na die geloofsgewoonte kantlyne vir verdere voorbeelde.

BYBELLEES

  1. Lees 1 Petrus 1:13-16. The Message vertaal dit so: “So roll up your sleeves, put your mind in gear, be totally ready to receive the gift that’s coming when Jesus arrives. Don’t lazily slip back into those old grooves of evil, doing just what you feel like doing. You didn’t know any better then; you do now. As obedient children, let yourselves be pulled into a way of life shaped by God’s life, a life energetic and blazing with holiness. God said, “I am holy; you be holy.” Gesels oor wat dit vir julle beteken.
  2. Raak julle ook soms so besig, dat daar nie tyd is vir God of vir mekaar nie? Hoe kan julle seker maak dat julle nie te besig raak nie? Waarvoor moet julle NEE sê? Wat kan julle doen om meer tyd te maak vir God en vir mekaar?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

  1. Kyk weer na die geloofsgewoonte kantlyne en beplan hoe julle hierdie week ruimte gaan maak. Wat kan julle doen dat julle in die oggend tyd kan hê vir stilte? Dalk die vorige aand al ontbyt voorberei? Maak praktiese planne, sodat julle hierdie week kantlyne kan hê.

GESEËN OM TE SEËN

  1. Is daar dalk iemand vir wie julle dié week tyd kan maak? Dink aan iemand vir wie julle met iets kleins kan help, sodat hulle deel van julle kantlyne raak.