Psalm 8 Huisgodsdiensmateriaal 24-30 Oktober 2011
Rus
- Vertel vir mekaar hoe en waar julle vandag God se sorg beleef het.
- Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.
Hoor
- Lees Psalm 8.
O, Here, ons Here, almal op aarde kan sien hoe wonderlik U is! As ek na die hemel kyk, kan ek sien hoe groot en sterk U is. Selfs klein kindertjies kan U daaroor prys. Selfs mense wat nie van U hou nie, moet erken hoe wonderlik U is. As ek in die nag opkyk, sien ek die maan en die sterre wat U gemaak het, Dan wonder ek: Hoekom dink U nog aan mense? U het niks van mense nodig nie. Tog het U ons so belangrik gemaak. U gebruik ons om alles wat U gemaak het, op te pas. Ons kan mak diere soos skape en beeste oppas. Maar ons kan ook die wilde diere oppas. Ons kan besluit oor visse en voëls. O, Here, ons Here, almal op aarde kan sien hoe wonderlik U is! (diebybel@kinders.co.za)
- Gesels oor die Psalm (ouers kan ook kyk na die inligting in die kleingroepmateriaal):
Hierdie Psalm sê vir ons dat
1) Ons klein en min is in vergelyking met God. Ons het nie rede om hoogmoedig te wees nie.
2) Dat ons vir God kosbaar is – ons is na sy beeld geskape en hy dink baie van ons!
3) Dat God ons gebruik om sy goed op te pas.
Leef
- Vertel vir mekaar van dié goed wat jou klein en min laat voel (boelies, werk waarmee jy sukkel, siekte, ens.)
- Jy is vir God kosbaar. Hy dink baie van jou en sien die goed raak wat jou klein laat voel. Hoe help dié wete jou om die slegte goed te oorkom? Gesels met mekaar daaroor.
- Maak ‘n lys van goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.
- Bid nou die Psalm!