Skip to main content

Psalm 1 Huisgodsdiensmateriaal 10-16 Oktober 2011

Rus

  • Vertel vir mekaar hoe en waar julle vandag God se sorg beleef het.
  • Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

Hoor

Die boek “Psalms” in die Bybel is eintlik ‘n klomp gebede van Israeliete wat vir ons neergeskryf is.  Die Israeliete het na die tempel (amper soos die kerk) toe gegaan om die Here te aanbid.  Daar het hulle vir die Here liedere gesing (soos wat ons vandag nog doen).  Partykeer was hulle baie hartseer.  Dan het hulle treurige liedere gesing.  Soms het hulle in hul liedere vir God gevra om hulle te help.  Ander kere was hulle baie bly.  Dan het hulle vrolike liedere gesing om die Here te loof.

Party psalms is liedere wat iemand alleen kon opsê as hulle wil bid.  Ander Psalms is gebede wat ‘n klomp mense saam gesing het.

Nog ander psalms is lesse waarmee die priesters (soos dominees) mense wat na die tempel toe gekom het, wou leer.

Die psalms leer ons dat ons altyd vir God kan vertel hoe ons voel, maak nie saak hoe hartseer of bly ons is nie.

  • Lees Psalm 1.

Dit gaan goed met ‘n mens wat nie luister na mense wat verkeerd doen nie [“wat nie vriende maak met goddelose mense nie”, sê diebybel@kinders.co.za], en wat nie saam spot wanneer mense sit en spot nie.  Dit gaan goed met ‘n mens wat lief is vir wat die Here sê, ‘n mens wat elke dag en nag dink aan wat die Here sê.    (Ps 1:1-2 uit Die Bybel vir Almal)

  • Gesels oor die Psalm (ouers kan ook kyk na die inligting in die kleingroepmateriaal):

Hierdie Psalm sê dat God sorg vir mense wat hom dien:

mense wat hulle nie steur aan die goed wat mense sê wat nie vir God liefhet nie en

mense wat na God luister / die Bybel lees.

  • Vertel vir mekaar wat in die teks vir jou uitgestaan het of nuut was.

Leef

  • Gesels oor vriende en hul invloed.  Hoe kan ons vriendelik wees met almal en dit steeds regkry om “nie te luister na mense wat verkeerd doen nie”?  (Vir ouer kinders kan dit dalk goed wees as julle ook gesels oor spot  en boelie.  Onthou dat ons almal soms geboelie word EN self soms boelie – bespreek albei kante van die saak.)
  • Gesels oor die Bybel – hoe gereeld lees julle Bybel (saam en elkeen op jul eie)?  Wat kan julle help om dit meer gereeld te doen (soos bv. ‘n makliker vertaling)?  Laat elkeen sê hoe hulle onderneem om Bybel te lees – bv. “elke aand net voor ek gaan slaap een vers” of “elke oggend net nadat ek opgestaan het die Psalm wat ons gemeente daardie dag lees”.
  • Maak ‘n lys van goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid  saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.
  • Bid nou die Psalm!  Bv:

“Here, ek wil nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie.  Ek wil in U woord my vreugde vind, dit dag en nag oordink.  Help my om soos ‘n boom te wees wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra.  Gee dat ek voorspoedig sal wees in alles wat ek aanpak.  Lei my op my pad.”

 

 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.