Skip to main content

Die geloof van ‘n heidense vrou (11-17 Maart)

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie.  Dit is aan die een kant ’n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ’n ontvouende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi se emigrasie na Moab weens droogte en Rut se immigrasie saam met haar terug na Israel weens weduweeskap.  Aan die ander kant is dit ook ’n verhaal van getrouheid aan Jahwe in die tyd van die Rigters (1:1) toe baie aan Hom ontrou was, soos ons in die vorige hoofstuk in Die Storie gesien het. 

Die verhaal kry uiteindelik ’n nog groter betekenis deurdat Rut en Boas ouma- en oupagrootjie word van koning Dawid wat as die nageslag van hul seun Obed en kleinseun Isai gebore sou word (4:22).  Die grootste eer sou hulle egter eers meer as ’n millennium later te beurt val, deurdat Rut en Boas ingesluit word in die geslagsregister van die Seun van God, Jesus van Nasaret (Matt 1:5-6).

Die sentrale figuur is Naomi wat ervaar hoe haar lot van verlies in ’n vreemde land verander na volheid in haar tuisdorp, Bethlehem, die “huis van brood”.

Die spanningslyn word briljant opgebou van 1) die  verlange wat Naomi ervaar na uitkoms in ’n vreemde land (hoofstuk 1) na 2) die hoop wat ontvlam dat daar vir hulle voorsiening gaan wees in haar tuisdorp (hoofstuk 2) na 3) die potensiaal wat in die ontmoeting met Boas vir haar en Rut opgesluit lê (hoofstuk 3) na 4) die  vervulling wat sy ervaar met die huwelik van Rut en Boas en die geboorte van ’n nageslag in Obed (hoofstuk 4).

Die verhaal is natuurlik ook ’n boodskap aan Israel in die Rigterstyd dat God ingryp in nood en vir dié wat in en op Hom vertrou uitkoms bring.  Dit wys ook dat die risiko wat Rut loop met die koms na ’n vreemde land, en wat Boas loop om as losser op te tree, oor en oor die moeite werd is wanneer op God vertrou word.  En laat ons nie dink dat die risiko klein was nie.  Orpa het nie kans gesien daarvoor nie; ook nie die losser wat nader familie as Boas was nie.  Maar daardeur het hulle ook uitgemis op God se voorsiening.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Dit is die moeite werd om met ’n merker deur die boek Rut te gaan en al die gedeeltes te merk waar die Here se naam genoem word. Dit leer jou op ’n baie eenvoudige manier hoe God te werk gaan en hoe mense in verhouding met Hom lewe.  Vertel mekaar wat julle van God en mense se verhouding met Hom in die boek Rut agtergekom het?
  2. Die boek Rut gee ons ook perspektiewe op God se insluiting van vreemdelinge.  Vertel vir mekaar wat julle raaksien in die verhaal en hoe dit jou lewe en sosiale gemeenskap raak.
  3. Die boek gee ons ook perspektiewe op die rol van lyding in gelowiges se lewe, veral as ’n mens oor ’n langer termyn daarna kyk.  Wat leer julle oor God se betrokkenheid in lyding?  Werk alles altyd ten goede mee, soos Paulus in Rom 8:26 sê?
  4. Die boek Rut gee ons ook ’n kykie in die gelyktydigheid van God se werk en ons s’n.  Die een gebeur nie sonder die ander nie.  Hoe kan dié perspektief jou lewe verryk en selfs verander?

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

‘n Kompie goeie mans … en vroue – Rigters (4-10 Maart)

Ons kan ons moeilik indink in die chaos wat in Israel geheers het in die 12de en 11de eeu v.C.  Die boek Rigters vertel vir ons ‘n hele paar keer dat “elkeen gedoen het wat reg is in sy eie oë” (17:6; 21:25).  Daar was min mense wat die moed gehad het om die regte goed te doen.  Selfs die Rigters wat in die naam van God optree, het ernstige karakterfoute gehad.  Dink bv. aan iemand soos Gideon.  Sy beleefdheid teenoor die engel is eintlik ernstige wantroue.  Hy skuil agter sy pa as die mense vir hom kwaad is omdat hy die Baäl altaar afbreek.  As die Here die wonder-oorwinning laat gebeur, raak hy arrogant en wreed, en op die koop toe geldgierig.  En sy seun is nog erger, dié maak 69 van sy broers dood omdat hy geen kompetisie vir sy koningskap wil hê nie. ‘n Vrou moes ‘n maalklip op sy kop gooi om Israel van hom ontslae te laat raak!

Maar dit is gelukkig nie al wat in die boek Rigters staan oor die onderskeie rigters nie!  Die boek Rigters vertel ons ook dat die Gees van die Here op hulle was, ook op Gideon, hulle gelei het, hulle omvou het met sy krag en hulle gebruik het om die volk van Israel te verlos van hulle vyande.  Wat onmiddellik vir ons moet sê: God kies baie keer randfigure uit om sy werk te doen.  Hy deins nie terug vir die karakterfoute van sy mense nie, maar doen sy werk ten spyte daarvan.

Ons dink miskien te maklik dat God net uitnemende persone gebruik, mense soos Moses met wie God gepraat het soos met ’n vriend.  Maar, dit is net een kant van die verhaal.  Daar is ‘n ander lyn in die Skrif, mense wat baie gebreke gehad het, mense wat jy eintlik amper wil sê, ek wil jou nie ken nie, wat ook deur God gebruik is.  En dit beteken, dat daar vir ons ook plek is – dat as ons maar net eenmaal sal luister, en die Gees vaardig raak oor ons, ons deur God gebruik kan word.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Dink na oor die rol van vroue in die onderskeie verhale – Debora, Jael en Manoag se vrou teenoor Delila.  Wat leer dit jou van God se manier van werk en hoe ons daarby kan aansluit?
  2. Dink na oor Gideon se lewe en nalatenskap.  Wat bemoedig jou?  Wat verontrus jou? Wat sê die Here vir jou deur sy lewe en veral wat God deur hom tot stand gebring het?
  3. Dink na oor Simson se lewe ennalatenskap.  Wat bemoedig jou?  Wat verontrus jou?  Wat sê sy verhaal vir jou van die hantering van versoekings?  Wat sê dit vir jou van God se geduld en deursettingsvermoë met ons?

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Die Stryd begin – Josua (25 Feb tot 3 Maart)

Die inname van die land word in dié boek beskryf.  Dit kan uit twee hoeke beskou word.  Aan die een kant neem Israel die land in deur oorlog te maak teen die ander volke wat daar woon.  Dit is die historiese perspektief wat gebaseer is op die belofte aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob (verbind met die Gilgal heiligdom vanwaar die onderskeie veldslae geskied het). 

Maar telkens is die oorwinning aan die ander kant afhanklik van God se ingrype.  Dit hang saam met die feit dat die land immers as God se land beskou en beskryf is (Lev. 25:23).  Dit kan as die kultiese perspektief beskrywe word wat onder andere beteken het dat die land se verdeling en wyse van besit deur die priesters gereël is (verbind met die Sigem heiligdom waar Josua sy afskeidsboodskap lewer). 

Daarom is die tema van gehoorsaamheid aan God al dan nie so ‘n belangrike deel van die verhaal, wat eintlik regdeur die Ou Testament tot in die Nuwe Testament ‘n hooftema bly, en selfs in die lewe van Jesus ‘n deurslaggewende rol speel.  Israel en die land is net aan mekaar verbind in terme van die verhouding wat hulle met God het.  Israel se verhouding met die land is dus nie ‘n bloed-en-bodem verhouding nie.  Die land is ook nie ‘n “heilige land” in ‘n kosmiese of materiële sin nie, alleen in ‘n afgeleide sin, as ‘n gawe van God wat deur ongehoorsaamheid verloor kan word.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.  Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

Vertel vir mekaar wat julle tref in hierdie verhaal:

  1. God roep Josua op om die Bybel (wetboek) altyd by hom te hou, dag en nag daaroor na te dink, sodat hy alles kan doen wat daarin geskryf is.  Dan sal hy suksesvol wees en voorspoedig in die uitvoering van die Here se opdrag om die land in te neem.  Wat leer julle daaruit oor die belangrikheid van die Bybel vir ons lewe vandag?  Vertel vir mekaar watter rol die Bybel al in julle lewe gespeel het om God se wil te kan uitvoer.
  2. Reg deur die hoofstuk sien ons dat Josua opgeroep word om sterk te wees enGod sê dit vir hom, die leiers sê dit vir hom en hy self herhaal dit ook by geleentheid.  Watter rol speel die regte houding en ingesteldheid in ons dissipelskap? Watter rol speel die Heilige Gees vandag daarin in jou lewe?
  3. Gehoorsaamheid is een van die sleutels om die boek te verstaan.  Ons sien dit in die opdrag om die besnydenis na te kom, in die gebeure rondom die stad Ai en in Josua se afskeidsboodskap.  Vertel vir mekaar hoe dit in julle eie lewe werk en waarin julle nog moet groei.

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Omswerwinge – Numeri en Deuteronomium (18-24 Februarie)

Omswerwinge – Numeri (10-14; 20-21; 25; 27) en Deuteronomium (1-2; 4; 6; 8-9; 29-32; 34)

Numeri is die verhaal van twee generasies van Israel wat 40 jaar trek deur die woestyn tot by die vlaktes van Moab duskant die Beloofde land. Die boek is saamgestel rondom die twee dele van hierdie reisverhaal. 

  • Die eerste deel vertel die verhaal van die mislukte trek van die eerste generasie vanaf Sinai tot by die beloofde land.  Dié deel van die verhaal eindig met die gebrek aan vertroue van die volk in God om die land in te neem en die begin van die gevolglike verdere omswerwinge in die woestyn.
  • Die tweede deel fokus op die voorbereiding van die tweede generasie om die beloofde land in te neem.  Dit fokus op kwessies van leierskap en priesterskap, met die gepaardgaande voorskrifte, ‘n aantal oorwinnings in die woestyn en eindig met die aankoms in Moab, oos van die Jordaan, en die voorbereiding van die tweede generasie om die beloofde land in te neem.

Dit is ‘n boek wat eerlik kyk na die gevolge van die eerste Eksodus-geslag se gebrek aan vertroue in God, maar ook hoop skep deur die verhale van God wat sy beloftes vervul deur hulle nageslag.  Die punt van die boek is dat die eerste Eksodus generasie hulle kanse verspil het om die beloofde land in te trek, dat dit hulle daarom ‘n leeftyd in die woestyn gekos het, en dat dit eers die tweede generasie sou wees wat die Intog sou beleef.

Deuteronomium is die verhaal van die impak van verlede, hede en toekoms soos dit in drie “preke” van Moses na vore kom:

  • Historiese terugkyk (hfst. 1-3) – “Onthou waar julle vandaan kom; ”
  • Riglyne vir navolging (hfst. 4-30): “Luister na en leef in ‘n verbondsverhouding met die Here; ”
  • Profetiese vooruitkyk (hfst. 31-34): “Vertrou op die beloftes van God vir die toekoms.”

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.  Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

Vertel vir mekaar wat julle tref in hierdie verhaal:

  1. Wat leer julle van mense se optredes in moeilike en uitdagende situasies – aan die eenkant teenoor God en aan die ander kant teenoor leiers?  Wat leer julle van God se reaksie daarop, sowel as die leiers se reaksies: veral die eerste geslag Moses, Aäron en Mirjam sowel as die tweede geslag Kaleb en Josua?
  2. Wat leer julle van die rol wat die omvattende ontberinge en uitkomste gespeel het in die geloofsgroei en vertroue op God van die volk en sy leiers?
  3. Wat leer julle van die rol wat nadenke oor die verlede in jou geestelike lewe behoort te speel? En hoe belangrik dink julle is ’n vaste verbintenis aan God vir die hede sowel as vir die toekoms?

Watter keuses vra die Here nou van jou vir jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?

Nuwe wette en ‘n nuwe verbond – Eksodus 18-40 (11-17 Februarie)

Nuwe wette en ‘n nuwe verbond – Eksodus 18-40

In hierdie deel van die verhaal van Eksodus word gefokus op:

  1. Die vaste riglyne vir die lewe wat God op die berg Sinai aan die volk gee in die wet as deel van die verbondsverhouding wat Hy met hulleLet op hoe die volk voorberei word vir die gawe van die Tien Gebooie, en hoe die verdere wette, die sogenaamde Boek van die Verbond (Gen 21-23 in die Bybel self), die betekenis van die Tien Gebooie prakties uitspel, veral gefokus op die tweede tafel van die wet. 
  2. Die verskriklike ramp wat die volk se lewe bedreig toe hulle ongeduldig raak met hulle leiers en nie meer rekening hou met God nie en daarom nie volhard in die nakoming van God se riglyneGod neem nooit genoeë met ongehoorsaamheid nie.  Moses se voorspraak vir die volk is egter ‘n voorafskaduwing van die werk van Jesus en die Heilige Gees in die NT vir ons as gelowiges.  Dit is die basis van ons hoop op herstel in ons verhouding met God.
  3. Die dinamiese raad vir die lewe wat God vanuit die “ontmoetingstent” vir die volk gegeeGod gee nie net algemene riglyn nie.  Hy help ons ook met die spesifieke uitdagings waarvoor ons in die lewe te staan kom.  Moses se vriendskap met God is daarby vir ons ‘n model van die tipe verhouding wat ons deur Jesus met God kan hê.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.  Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

Vertel vir mekaar wat julle tref in hierdie verhaal:

  1. Dink na oor hoe mense teenoor mekaar en teenoor God optree en watter rol leiers daarin speel, veral Moses en Aäron?
  2. Dink na oor die rol wat voorbereiding en volharding in die ontvangs van en uitlewe van God se riglyne en raad vir ons lewe speel?
  3. Verlustig julle in God se vriendskap met Moses en wat julle in dié verhaal van sy karakter kan agterkom?

Hoe raak dié perspektiewe jou eie persoonlike lewe en wêreld?

Bevryding – Eksodus 1-17 (4-10 Februarie)

Bevryding – Eksodus 1-17

Die verhaal van Eksodus fokus op drie beslissende invloede in Israel se verstaan van hulleself as God se volk (Vgl. die Hebreeuse titel:“ En dit is die name”) :

  • Die verwondering oor die verlossing wat God bewerk het uit die vernederende afgryse van die tyd van slawerny van ongeveer 400 jaar – die Trek (Eksodus);
  • Die uitverkiesende en verbondsluitende openbaring van God se wil op die berg Sinai – die Tora;
  • Die herstel van God se dinamiese teenwoordigheid by sy mense – die Tabernakel.

Kyk vir die volgende met die deurlees:

  • Hoe Moses se verhaal doelbewus vertel word om sy rol in die Eksodus te beklemtoon.  Let op die twee primêre verhale wat vervleg word met die fokus op die lot van die Israeliete aan die een kant en op die lot van Moses aan die ander kant.
  • Let op die drie fases van die verlossing: 1) die konfrontasie met farao en die eerste 9 plae, 2) die vervlegting van die tiende plaag en die verhaal van die Paasfees, 3) die verhaal van die Eksodus self wat sy hoogtepunt in die wonderbare oorsteek van die Rietsee bereik.  (Daar is eintlik ’n 4de fase ook, die loflied wat Moses, Israel en Miriam sing ter ere van die verlossing.  Maar dit word nie in Die Storie weergegee nie)

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.  Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

Vertel vir mekaar wat julle in die vervlegting van Moses en die volk se lewe raaksien:

  1. van hoe mense met mekaar werk en watter rol leiers speel?
  2. van die rol wat omstandighede, geleenthede, gebeure, selfs wonderwerke speel?
  3. van hoe God betrokke is in die lewe van sy mense binne hulle omstandighede en wat jy van sy karakter kan agterkom?

Hoe raak dié perspektiewe jou eie persoonlike lewe en wêreld?