Skip to main content

Die geloof van ‘n heidense vrou (11-17 Maart)

Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie.  Dit is aan die een kant ’n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ’n ontvouende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi se emigrasie na Moab weens droogte en Rut se immigrasie saam met haar terug na Israel weens weduweeskap.  Aan die ander kant is dit ook ’n verhaal van getrouheid aan Jahwe in die tyd van die Rigters (1:1) toe baie aan Hom ontrou was, soos ons in die vorige hoofstuk in Die Storie gesien het. 

Die verhaal kry uiteindelik ’n nog groter betekenis deurdat Rut en Boas ouma- en oupagrootjie word van koning Dawid wat as die nageslag van hul seun Obed en kleinseun Isai gebore sou word (4:22).  Die grootste eer sou hulle egter eers meer as ’n millennium later te beurt val, deurdat Rut en Boas ingesluit word in die geslagsregister van die Seun van God, Jesus van Nasaret (Matt 1:5-6).

Die sentrale figuur is Naomi wat ervaar hoe haar lot van verlies in ’n vreemde land verander na volheid in haar tuisdorp, Bethlehem, die “huis van brood”.

Die spanningslyn word briljant opgebou van 1) die  verlange wat Naomi ervaar na uitkoms in ’n vreemde land (hoofstuk 1) na 2) die hoop wat ontvlam dat daar vir hulle voorsiening gaan wees in haar tuisdorp (hoofstuk 2) na 3) die potensiaal wat in die ontmoeting met Boas vir haar en Rut opgesluit lê (hoofstuk 3) na 4) die  vervulling wat sy ervaar met die huwelik van Rut en Boas en die geboorte van ’n nageslag in Obed (hoofstuk 4).

Die verhaal is natuurlik ook ’n boodskap aan Israel in die Rigterstyd dat God ingryp in nood en vir dié wat in en op Hom vertrou uitkoms bring.  Dit wys ook dat die risiko wat Rut loop met die koms na ’n vreemde land, en wat Boas loop om as losser op te tree, oor en oor die moeite werd is wanneer op God vertrou word.  En laat ons nie dink dat die risiko klein was nie.  Orpa het nie kans gesien daarvoor nie; ook nie die losser wat nader familie as Boas was nie.  Maar daardeur het hulle ook uitgemis op God se voorsiening.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Dit is die moeite werd om met ’n merker deur die boek Rut te gaan en al die gedeeltes te merk waar die Here se naam genoem word. Dit leer jou op ’n baie eenvoudige manier hoe God te werk gaan en hoe mense in verhouding met Hom lewe.  Vertel mekaar wat julle van God en mense se verhouding met Hom in die boek Rut agtergekom het?
  2. Die boek Rut gee ons ook perspektiewe op God se insluiting van vreemdelinge.  Vertel vir mekaar wat julle raaksien in die verhaal en hoe dit jou lewe en sosiale gemeenskap raak.
  3. Die boek gee ons ook perspektiewe op die rol van lyding in gelowiges se lewe, veral as ’n mens oor ’n langer termyn daarna kyk.  Wat leer julle oor God se betrokkenheid in lyding?  Werk alles altyd ten goede mee, soos Paulus in Rom 8:26 sê?
  4. Die boek Rut gee ons ook ’n kykie in die gelyktydigheid van God se werk en ons s’n.  Die een gebeur nie sonder die ander nie.  Hoe kan dié perspektief jou lewe verryk en selfs verander?

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.