Skip to main content

Kleingroepe – materiaal vir Pinkster 2013 (12-18 Mei)

Almal word hartlik uitgenooi na Pinkster 2013, gelei deur ds Gys van Schoor, vorige leraar van die gemeente. 

Tema: Ons het ons misgis met Jesus

  • Sondagoggend – ‘n Woestynstorie
  • Sondagaand – Ons het ons misgis met Jesus
  • Maandagaand – Jesus se evangelie. Leer leef saam met Jesus (‘n nuwe manier van lewe 1)
  • Dinsdagaand – Jesus se evangelie: Leer doen wat Hy sê (‘n nuwe manier van lewe 2 )
  • Woensdagaand – Jesus se evangelie: Radikale innerlike transformasie (meer  mens)
  • Donderdagaand – Jesus se evangelie: Leef anders op die plekke waar ons reeds is

Klaagliedere 3:1-20

Die teks vir Sondagoggend se erediens is Klaagliedere van Jeremia 3:1-20.  Die kleingroepmateriaal fokus dus daarop.  ’n Bietjie agtergrond oor Klaagliedere:

Die Klaagliedere van Jeremia treur oor die val Jerusalem in 586 vC.  In vyf kunstig-saamgestelde gedigte betreur Jeremia dit dat die volk nie die gevolge van hulle sonde in ag geneem het nie (1:9), deur spesifiek nie rekening te hou met die vernietigende toorn van God wat hulle in ballingskap gestuur het nie (2:3).  Sy raad aan die volk is om erns te maak met hulle trane en dit voor die Here uit te stort (2:18), en hulle hoop op God te bly vestig dat Hy hulle lot sal verander, soos die bekende lied, Great is Thy faithfulness, dit verwoord: “Daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut” (3:22).  “Die Here verstoot ‘n mens immers nie vir altyd nie” (3:31).  “As Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.” (3:32-33).

Kleingroep byeenkoms

  1. Lees Klaagliedere 3:1-20.  Deel met mekaar wat jou daarin tref.
  2. Die gedeelte skok ’n mens met die pyn en angs wat dit vertolk, veral omdat die ellende beleef word as God se straf op sonde.  Sommige sal sê dat hierdie idee van ’n God wat straf net ’n OT perspektief op die lewe is wat nie meer geld nie.  Ander sal egter verwys na Paulus se perspektief in Romeine 2:9: “Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen …”  wat lyding en benoudheid as deel van God se genadige betrokkenheid by ons lewens sien.  Hoe dink jy oor die verhouding tussen ons sonde en die lyding en benoudheid wat ons ervaar?
  3. Ons wêreld maak baie van sukses en voorspoed en is ongemaklik met lyding en wroeging.  Daarom is mense skaam oor hulle ervarings van diep ellende en erken nie graag dat dit sleg gaan nie en probeer te alle tye die blink kant bohou.  Claus Westermann sê dat Klaagliedere ons die krag en waarde van die klaaglied laat herontdek en dat dit ons woorde gee om ons hele lewenservaring – veral dié dinge wat ons terneerdruk asook ons sonde – voor God te bring.  Wat is jou ervaring?  Kla jy by God oor jou ellende en jou sonde? Help dit?
  4. Lees nou Klaagliedere 3:21-33.  Deel met mekaar wat jou daarin tref.
  5. Klaagliedere sê vir ons dat sonde destruktief is.  Sonde moet bely word om vergifnis te kan ervaar.  Dit is dán wat ’n mens God se lankmoedigheid en genade kan omarm.  Deel met mekaar wat jou ervaring van God se vergifnis is?  Watter hoop gee dit jou?  Hoe verander dit jou lewe?

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

‘n Koninkryk in twee geskeur (6-12 Mei)

1 Konings 12-16

Die Storie fokus in dié gedeelte op die skeuring van die koninkryk van Dawid (regeringstyd 40 jaar) en Salomo (40) soos dit in die verhale van Rehabeam (17) en Jerobeam (22) na vore kom sowel as hulle opvolgers.  Abia (3) en Asa (41) het telkens hulle vaders opgevolg in die suidelik ryk Juda.  Dit was anders in die noordelike ryk.  Nadab (2) het wel sy pa Jerobeam opgevolg, maar Baesa (24) het Nadab vermoor.  Ela (2) het ook sy pa Basea opgevolg, maar is deur Simri (7 dae) vermoor, om net weer deur Omri (12) beleër te word en doodgebrand is in sy paleis.  Agab (22) het ook sy pa Omri opgevolg en sý seun Amasia (2) weer vir hom, maar iemand anders, Joram (12), het hom weer opgevolg, omdat hy nie kinders gehad het nie.  In die een deel van die ryk was daar dus meer stabiliteit in die koningshuis, al het almal nie die Here gedien nie.  In die ander deel van die ryk het hulle al hoe verder van die Here af geleef en het anargie op die koop toe telkens oorgeneem in die land, en was daar min stabiliteit in terme van die koningshuise.  Beide koninkryke eindig uiteindelik egter in ballingskap, met net die suidelike ryk Juda wat weer kon terugkeer.

Daar is twee redes vir dié tragiese toestand:

  • Die eerste rede is dat die konings in die breë nie moeite gedoen het om die Here te ken nie, Hom nie met hulle hele hart en gewillige gemoed gedien het nie, Hom nie telkens gesoek en geraadpleeg het nie, en nie in die praktyk alles gedoen het wat die Here gevra het nie.  Dawid was hierin die beste voorbeeld, die man ná God se hart, en Salomo die naasbeste, die man mét God se hart, veral in terme van sy Godgegewe wysheid en met die bou van die tempel. 
  • Maar die tweede rede is dat die leiers in Israel regdeur moeite gehad het om goeie pa’s vir hulle kinders te wees. Dit begin al by Eli met sy kinders Hofni en Pinehas, Samuel vaar nie beter met Joël en Abia nie, Dawid faal liederlik met Absalom en Adonia, hoewel hy beter doen met Salomo en hom kon motiveer en mentor om die tempel vir die Here te bou.  Maar die prentjie is donker!  Hulle gebrek aan ouerskap wreek hom in die stabiliteit van die koninkryke.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Die diepste geheim van ’n betekenisvolle lewe is om God te ken, met jou hele lewe te dien, in alles sy wil te soek en dít dan te doen – soos Dawid, soos Salomo.  Vertel mekaar hoe dit geestelik met jou gaan: Wat leer die Here jou op die oomblik?  Waarmee sukkel jy?  Waarmee inspireer die Here jou?
  2. Die diepste geheim van ‘n betekenisvolle nalatenskap is om moeite te doen om die beste ouer moontlik vir jou kinders te wees – anders as baie van die konings waarvan ons lees.  Inspireer mekaar met uitkomste wat die Here vir julle as familie gee.  Bid vir mekaar rondom uitdagings, sonder om detail te deel waarmee die ander lede van jou gesin ongemaklik sal wees.
  3. Die diepste geheim van ’n betekenisvolle geloofsgemeenskap is waar ouer mense en jonger mense mekaar motiveer en mentor om God te ken en dien.  Dit steek die vuur van die evangelie oor grense aan wat ’n nalatenskap vir die geloofsgemeenskap verseker.  Motiveer mekaar met moontlikhede om ’n verskil te maak in ons geloofsgemeenskap aan die verhoudinge oor ouderdomsgrense heen.

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Die koning wat alles gehad het – Salomo (29 April – 5 Mei)

Die koning wat alles gehad het – Salomo (1 Kon. 1-11; 2 Kron. 5-7; Spr 1-4; 8-13; 20-21)

Salomo is die derde koning van Israel.  Sy naam beteken vrede. Die Here het hom liefgehad en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”. Die koningmoeder Batseba speel ‘n belangrike rol om Dawid so ver te kry om Salomo as koning aan te stel: “Wees sterk en dapper,” is Dawid se mentorsraad aan Salomo.  Só word Salomo die eerste dinastieke koning van Israel, as afstammeling van Dawid.

Salomo word bekend vir sy uitnemende wysheid, wat voortspruit uit sy versoek aan die Here vir ‘n “luisterende hart” (letterlike vertaling) om met verstandigheid en regverdigheid oor die volk te regeer.  Israel beleef onder sy heerskappy ‘n tyd van vrede en ‘n hoogbloei beide in die stabilisering van die ryk, maar ook in bouwerk en literêre arbeid.  Talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hom as ‘n wyse.  Daar is Joodse, Arabiese en Ethiopiese verhale van Salomo waar sy intellek en ander vermoëns verheerlik word.  Groot dele van Spreuke word aan hom toegeskryf, sowel as Prediker en Hooglied.  Ook twee Psalms word aan hom toegeskryf.  Die hoogtepunt van sy regering was die bou van die indrukwekkende tempel waarmee die godsdiens van Israel nie net in Jerusalem gesentreer is nie, maar as heerlike punt van ontmoeting met God se teenwoordigheid vir die volk en selfs vir die nasies gedien het.  Salomo kon van die tempel sê: “Hou tot dag en nag ‘n wakende oog oor hierdie tempel.  Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig.”

Salomo was ‘n ondernemende handelaar wat die strategiese posisie van Israel ten opsigte van die karavaanroetes baie goed benut het.  Sy verbintenis met Hiram het vir hom die hawens verseker.  Hy dryf in alles handel, onder andere in perde met die Hetiete en die Arameërs.  Die troue met farao se dogter was ‘n verdere hoogtepunt in sy internasionale betrekkinge.  In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie.  En so het hy sy betrekkinge verstewig met huwelik na huwelik.  Maar wat polities gewerk het, het geestelik nie gewerk nie.  Sy talle huwelike stel hom bloot aan afgodediens wat hy mettertyd self begin navolg wat God se toorn oor hom laat ontflam.  En dit lui die doodsklokke vir sy regering wat die ryk laat skeur.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Hoe verskil wysheid van kennis en breinkrag?  Dink aan die verhaal van die twee prostitute sowel as die gawe van ’n “luisterende hart”.  Watter ervarings van wysheid het jy al gehad wat jou lewe verander het?
  2. Watter een van die Spreuke wat in Die Storie aangehaal word, het jou besonderlik getref?  Watter lewenswyshede of “woorde van wysheid” rig tans jou eie lewe?
  3. Die tempel was ’n besondere punt van ontmoeting met God en ’n kragtige simbool van God se beloftes van gebedsverhoring.  Watter ervarings van gebedsverhoring het jy al gehad wat jou lewe verryk het?
  4. Dit is duidelik dat Salomo ’n briljante strateeg was en goeie internasionale verhoudinge gevestig en in standgehou het wat tot groot voordeel van Israel was.  Dit het sy aandag egter uiteindelik afgelei van sy primêre afhanklikheid van en verhouding met God.  Wat leer jy daaruit vir jou eie verhouding met God?

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Die beproewings van ‘n koning (22-28 April)

Dawid se probleme begin in dié deel van sy geskiedenis by die verontagsaming van sy verantwoordelikhede as koning.  Die skrywer sê: “Die volgende lente, die tyd waarin die konings gewoonlik gaan veg … het Dawid vir Joab en sy manskappe gestuur en self in Jerusalem agtergebly.”  Sy sonde met Batseba lei hom nog verder die moeilikheid in deurdat hy kies om Urija, ironies genoeg ‘n uitlander wat met integriteit optree, te laat doodmaak.  Let op dat die Here Dawid se verkeerde dade laat boemerang op sy eie huis, nie net deur die dood van die kind wat vir hulle gebore word nie, maar ook deur Absalom wat ellende oor hulle huis bring met sy rebellie.  Wat in die geheim gebeur het, word op die koop toe ‘n openbare skande.

Anders as Saul het Dawid egter nie verskonings gesoek vir sy sonde nie, en die Here om vergifnis gesmeek, soos ons in die onvergelyklike Psalm 51 lees.  Hy ervaar daarmee: “Ek het my oortredings bely … my oortredings het U vergewe,” al moes hy steeds die straf dra.  Die Here draai dié tragiese gebeure in sy genade om met die geboorte van Salomo, juis uit dié verbintenis met Batseba, vir wie die Here die naam Jedidja gee, geliefde van die Here.  Salomo sou verantwoordelik wees vir die bou van die tempel wat ‘n tyd van ongekende vrede in Israel sou inlui. 

Let op hoe Dawid Salomo moed inpraat vir sy termyn: “Wees sterk en vol moed … Begin nou met die werk, en mag die Here met jou wees!”  Die Here seën dié inisiatief met die oorvloedige vreugdevolle en vrywillige gawes van die volk vir die tempel waarmee hulle eenheid as geloofsgemeenskap gedemonstreer word.  Dit mond uit in ‘n groot lofprysing en verering van God.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.  Dawid, Batseba, Urija, Natan en Joab is van die karakters wat opval in Die Storie.  Watter karakter se verhaal het jou getref?  Hoekom?  Wat leer jy by dié karakter?  Gee vir almal ’n kans.

  2. Vertel vir mekaar wat julle dink gelei het tot Dawid se sonde met Batseba (vergelyk ook 1ste paragraaf bo).  Watter lewensles leer jy hieruit?

  3. Beide Dawid en Saul het gesondig teen die Here.  Hoe het hulle reaksies op die teregwysings van die Here verskil (vergelyk ook 2de paragraaf hierbo)?  Wat was die gevolge daarvan vir hulleself, hulle families en vir die volk?  Hoe beïnvloed hulle ervarings jou eie verhouding met die Here?

  4. Waar Dawid gefaal het in sy verhouding met Absalom, doen hy die regte ding in sy verhouding met Salomo deur alles in sy vermoë te doen om Salomo in sy termyn as koning te ondersteun (vergelyk 3de paragraaf hierbo).  Wat leer dit jou van jou invloed en betrokkenheid in jou eie kinders of jou geloofsvriende se lewens?

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Laai die kleingroepmateriaal af in Word formaat hieronder:

Van skaapwagter tot koning (15-21 April)

God se onbehae in Saul se ongehoorsaamheid bring ‘n ander koning op die toneel, Dawid.  Let op dat God vir Dawid kies op grond van wat innerlik in hom aan die gang is, en nie op grond van uiterlike kwaliteite nie, hoewel Dawid ook uiterlik aantreklik is en ‘n uiters bedrewe skaapwagter, soldaat en later koning is.  Sy sukses word primêr gewyt aan die Gees van die Here wat kragtig in hom begin werk het, terwyl dit juis dié gebrek is wat Saul van dié punt af vertoon. 

Dawid se lewe wys vir ons hoe God iemand wat ook growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei.  Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid aan God en dit vorm ‘n ongelooflike bate vir die volk.  Anders as Saul, raadpleeg Dawid die Here met elke besluit, en dit word die basis van sy sukses. 

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. God sien Dawid se aanvanklike potensiaal raak op grond van sy innerlikeWatter rol speel hierdie innerlike kwaliteite in die onderskeie verhale wat Die Storie oor hom vertel?  Dink aan sy verhoudinge met Samuel, sy broers, Saul, Jonatan, Mikal, sy manskappe ensomeer.
  2. Dawid is in eie reg uiters dapper as skaapwagter om die kleinvee van leeus en bere teHy tree baie vernuftig op in die geveg met Goliat deur die inisiatief tov terrein en geveg styl te neem.  Hy kry dit ook reg om Saul konsekwent te ontwyk met sy klein en beweeglike bende soldate.  Watter rol speel sy bedrewenheid in allerlei dissiplines in die sukses wat hy as mens en later koning behaal?
  3. Dawid se sukses word egter primêr gewyt aan twee dinge: die werk van die Gees in hom sowel as sy gehoorsaamheid.  Hoe hou dit verband met sy innerlike en uiterlike kwaliteite?  Bespreek.

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Staan sterk, val hard (8-14 April)

Hierdie hoofstuk handel oor die oorgang van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul, in die loop van die 11de eeu v.C.  In die Bybel vorm dié verhaal deel van die Vroeë profete, wat die verhaal van die volk Israel vertel vanuit God se perspektief .  Profete speel deurgaans ‘n belangrike rol om God se wil vir die volk duidelik te maak, soos hier gesien kan word in die verhaal van Samuel.

Histories gesproke was dit ‘n tyd toe geen supermoondheid ‘n rol in Israel gespeel het nie.  Dit was dus moontlik vir plaaslike rolspelers in Kanaän om na vore te tree.  Die vernaamste teenstanders waarmee Israel te doene gekry het, was nie meer die Kanaäniete nie, maar die Filistyne (soos alreeds in die verhale van Samgar en Simson in Rigters te siene is).  Die Filistyne was van die kusstreek aan die Middellandse See met stede soos Gasa, Asdod, Askelon, Gad en Ekron. 

Hierdie bedreiging was een van die redes vir die vereniging van die stamme van Israel en hulle behoefte aan ’n koning.  Dit vorm ‘n belangrike agtergrond vir die ontvouende verhaal van die volk Israel totdat Dawid “die mag uit die Filistyne se hande geneem het.”

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. 

Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is.  Ons sal graag wil deel in van die stories!

Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Die eerste episode in dié storielyn wentel om kinderloosheid.  Let op die rol wat Elkana se liefde en getrouheid, Hanna se vertroue en gelofte, Eli se gebed en God se onthou speel in die uitkoms van ’n kind vir Hanna. Watter hoop gee dit vir jou in jou eie worsteling saam met jou mense in die problematiek van gebreke en behoeftes?
  2. Die gebedsverhoring van die Here loop op iets baie groters uit as net die gawe van ’n kind.  Samuel word die draer van die Goddelike woord vir die volk van Israel.  Hoe verryk dit jou perspektief op jou gebede en hoe God antwoord?  Dink weereens aan die rol wat Hanna se gelofte en haar verbintenis en voorbereiding van Samuel speel, sowel as wat God deur Samuel bereik. 
  3. Eli het baie foute gehad, maar speel ’n baie belangrike mentorsrol in Samuel se lewe.  Dink na oor wat dit vir julle oor die inoefening van geloofsonderskeiding leer.  Is daar mense in jou lewe vir wie jy op dié pad kan begelei?
  4. Saul se koningskap het soveel belofte gehad.  Hy was God se keuse en het die ondersteuning van die kerk van daardie tyd en die volk gehad.  Wat leer sy val en verwerping jou van gehoorsaamheid? 
  5. Dink na oor die kante van God se genade wat jy in die verhaal raaksien – Hanna, Samuel, Eli, volk se behoefte aan ’n koning, Saul en so meer.

Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien?  Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.