Skip to main content

Josef: Van slaaf tot onderkoning – Genesis 37-50 (27 Jan – 2 Feb)

Josef: Van slaaf tot onderkoning – Genesis 37-50

Die Storie vertel vir ons die verhaal van Josef in agt episodes:

  1. Afguns vier die botoon toe Josef se broers hom verkoop aan Ismaelitiese handelaars as gevolg van sy aanstellerigheid oor sy drome.
  2. Josef toon karakter toe die vrou van Potifar Josef probeer verlei. Toe hy weier, mislei sy vir Potifar en laat Josef in die tronk beland.
  3. God bly getrou toe die tronkbewaarder hom as toesighouer aanstel oor die tronk.
  4. God gee wysheid vir Josef om farao se drome uit te lê wat daartoe lei dat farao hom as onderkoning aanstel oor die hele Egipte.
  5. Josef toets sy broers met die uitdaging om Benjamin die volgende keer saam te bring ná hulle kos in Egipte kom soek weens die droogte.
  6. Josef vergewe sy broers toe hulle Benjamin die volgende keer saambring met die belydenis dat dit eintlik God is wat dit bewerk het.
  7. Jakob word met sy seuns verenig in Egipte en verkry só ’n blyplek vir die groterwordende nasie waarop die boek Eksodus verder sal uitbrei.
  8. Josef versoen homself met sy broers toe hulle bang is vir die moontlike wraak van Josef na Jakob se dood en leef verder en sterf uiteindelik in vrede in Egipte.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.  Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

Vertel vir mekaar wat julle in die agt episodes van Josef se lewe raaksien:

  1. van hoe mense met mekaar werk?
  2. van die rol wat omstandighede, geleenthede, gebeure en so meer speel?
  3. van hoe God betrokke is in die lewe van sy mense binne hulle omstandighede?

Hoe raak dié perspektiewe jou eie persoonlike lewe en wêreld?

God bou ‘n nasie – Genesis 12-36 (20-26 Januarie)

God bou ‘n nasie – Genesis 12-36

Ons lees hierdie week die verhaal van die Aartsvaders: Abraham, Isak en Jakob.  Dis ‘n verhaal van ‘n uitgebreide familie wat die begin van die volk van God is.  Dit illustreer hoe God werk, met individue in hulle familieverbande.

Riglyne vir die lees van Genesis 12-36

Let op die volgende:

  • Die Hoofkarakter van die verhaal van die Aartsvaders is steeds God.  Soos Hy ingegryp het in die menslike geskiedenis met die ark van Noag en die toring van Babel, so doen hy dit in die lewe van families.  Hy roep hulle, verbind Homself aan hulle en hulle families met verskillende verbonde waaraan Sy beloftes van seën, voorspoed en vrugbaarheid gekoppel is, en begelei hulle na die vervulling van hulle roeping as families.
  • Abram aanvaar die roeping van God sonder enige teenstand en hoor en gehoorsaam die stem van God: “Die Here het vir Abram gesê: ‘Trek weg uit jou land’…  Abram het toe weggetrek.”  God praat direk met Abram en hy gehoorsaam sonder teëstribbeling, omdat hy God geglo het.  Abram word geroep om tot ‘n seën vir die nasies te wees.
  • Jakob daarenteen manipuleer en konkel om sy broer en pa te uitoorlê, en stoei uiteindelik met God self, voordat hy die roeping wat God vir hom het, begin aanvaar.  Jakob word desnieteenstaande geroep as stamvader van Israel, en kry ook die belofte van land, soos sy oupa, Abraham en pa, Isak.  Jakob is vir ons ‘n voorbeeld van God se transformerende teenwoordigheid.
  • ‘n Mens sien in hierdie familieverhale reeds God se keuse vir die jonger of swakker een en die keuse vir mense sonder verdienste wat in die evangelie van Jesus Christus vir die armes, gevangenes, blindes, en onderdruktes (Luk. 4:18-19) sal uitmond.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.  Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Wat het julle getref met die lees van Genesis 12-36?  Gee genoeg tyd, sonder evaluering.
  2. Die familieverhale van Genesis getuig onomwonde van God se betrokkenheid, sorg en seën vir families regdeur dieHoe ervaar julle dit?
  3. Vergelyk Abraham en Jakob se verhale. Wat is die ooreenkomste?  Wat is die verskille?  Waarmee kan julle identifiseer en waarmee nie? Wat leer julle van God se pad met mense uit hulle verhale?  Wat sê dit vir jou van God se pad met jou en jou familie?
  4. Die idee dat God mense sonder verdienste kies, stuit ons baie keer teen dieBespreek.
  5. Hoe het die Here jou en jou familie die week geseën?  Hoe kan God jou en jou familie die komende week gebruik om ander en die wêreld te seën?

Die begin van lewe soos ons dit ken – Genesis 1-11 (13-19 Januarie)

Die begin van lewe soos ons dit ken – Genesis 1-11

Die verhaal van Genesis kan in twee hoofdele verdeel word, hfst. 1-11 en 12-50 wat ons in die volgende 3 weke gaan lees.  Dis die verhaal van die:

  • Oergeskiedenis (4 sleutel gebeure) met ‘n meer universele karakter en die
  • Aartsvaders (4 sleutel karakters) wat in sy fokus op families die begin van die volk van God is.

Dit is ‘n boek wat fokus op die stories van families en God se bewaring (Noag en Josef).  Maar bo alles is dit die verhaal van God, wat ingryp in die menslike toestand deur individue en hulle families te kies en hulle te seën en te begelei.

Riglyne vir die lees van Genesis 1-11

Let op na die volgende hierdie week:

  • Skepping – alles is deur God gemaak en dit was goed (Skepping en die mens). Lig is ‘n dominante metafoor vir God se betrokkenheid en teenwoordigheid by alles.
  • Sondeval – daar het verwydering gekom tussen God en mens (tuin van Eden) en tussen mens en mens (toring van Babel).  Donkerte is ‘n dominante metafoor vir hierdie verwydering. Paulus skryf daaroor, “almal het gesondig … en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God” (Rom 3).  Dit is ‘n ontsaglike werklikheid: die visie op God en sy natuur en wese is versteur, die beeld van God in ons is versteur en die teenwoordigheid van God in ons is deurbreek.   Dit het tot gevolg dat die leuen bo die waarheid verkies word, dat ons lewens selfliefde eerder as God- en naasteliefde vertoon, en dat ons die sin en doel van ons plek in God se skepping verloor het.
  • Saligheid –die teenpool van die donkerte kom in die vorm van God wat aktief werk om mense met Hom te versoen en vir hulle en die aarde rus te bring (Noag).  Dit is die verhaal van God se keuse van mense en hulle families, deur hulle geslagte heen, tot by die keuse van die Seun, die een wat die prys kon betaal wat mense se visie op God herstel het, in Wie ons God se familie word.

Kleingroep byeenkoms

Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.  Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):

  1. Wat het julle getref met die lees van Genesis 1-11?  Gee genoeg tyd, sonder evaluering.
  2. Watter 4 sleutelgebeure het julle raakgelees?  Bespreek (julle hoef nie konsensus te hê nie!).
  3. Hoe raak die stryd tussen lig en duisternis julle en hoe reageer julle daarop (Persoonlik – Publiek)?
  4. Hoe het die Here jou en jou familie geseën?  Hoe kan God vandag jou en jou familie gebruik om ander en die wêreld te seën?

Kleingroepe – Program vir Die Storie

Die sentrale tema van die gemeente vir 2013 is: Geseën om te seën.  Om die jaartema tot sy reg te laat kom, fokus ons in die eredienste en in die kleingroepe gedurende die skoolkwartale op die oorhoofse aaneenlopende verhaal van God en sy mense in die Bybel.

Ons gebruik as vertrekpunt hiervoor die inhoud van die boek Die Storie.  Hierdie boek van Max Lucado en Randy Frazee gebruik die Nuwe Lewende Vertaling as Bybelteks en vertel die aaneenlopende verhaal van die Bybel in 31 hoofstukke.  Die voordeel hiervan is dat die werklike teks van die Bybel gebruik word, en mense in ‘n jaar nie net die verhalende gedeeltes van die Bybel deurlees nie, maar ook ‘n globale prentjie van God se verhaal met sy mense sal kry.

Die boek is in Afrikaans beskikbaar in verskillende uitgawes vir volwassenes, tieners, jonger kinders, en selfs vir voorskoolse kinders.   Bestel Die Storie en Die Storie vir Tieners @ R50 (gewone prys R99.94) en Die Storie vir Kinders @ R120 (gewone prys R149.96) en Die Storie  vir klein hartjies @ R105 (gewone prys R129.95)  by die kerkkantoor.  Dit is ook in Eboek (ePub) formaat beskikbaar by Kalahari.com.

Daar is ook baie ander hulpmiddels beskikbaar, soos DVD’s.  Kyk gerus hier na meer inligting by CUM uitgewers.

Ons wil dus graag hê dat almal in die gemeente saam met ons die Bybel op dié manier deurlees, terwyl ons dan elke Sondag fokus op een van die onderwerpe uit die Bybelgedeeltes wat in die voorafgaande week gelees is.  Daar sal telkens ‘n week vooruit by www.ngkerksomerstrand.co.za kleingroepmateriaal beskikbaar wees vir Bybelstudiegroepe, gemeenteselle en huisgodsdiens, sodat mense saam met ons die pad met die Bybel kan loop.  Dit is gebaseer op die kleingroepmateriaal wat agter in die boek Die Storie verskyn en wat groepe ook kan raadpleeg.

Hier is die eerste kwartaal se teksgedeeltes wat ons gaan lees, die tema van die gedeeltes, en die week waarin ons dit gaan lees:

Week

Teksgedeelte

Tema

13-19 Januarie

Genesis 1-11

Die begin van lewe soos ons dit ken

20-26 Januarie

Genesis 12-36

God bou ‘n nasie

27 Januarie – 02 Februarie

Genesis 37-50

Josef: van slaaf tot onderkoning

03-09 Februarie

Eksodus 1-17

Bevryding

10-16 Februarie

Eksodus 18-40

Nuwe wette en ‘n nuwe verbond

17-23 Februarie

Numeri, Deuteronomium

Omswerwinge

24 Februarie – 02 Maart

Josua

Die stryd begin

03-09 Maart

Rigters

‘n Klompie goeie mans … en vroue

10-16 Maart

Rut

Die geloof van ‘n heidense vrou

Die Bybelskool fokus die eerste kwartaal op Psalms 42-72.  Eerste byeenkoms 23 Januarie in die konsistorie.

Laai hier die verskillende kleingroep sessies se materiaal af.