Die Stryd begin – Josua (25 Feb tot 3 Maart)
Die inname van die land word in dié boek beskryf. Dit kan uit twee hoeke beskou word. Aan die een kant neem Israel die land in deur oorlog te maak teen die ander volke wat daar woon. Dit is die historiese perspektief wat gebaseer is op die belofte aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob (verbind met die Gilgal heiligdom vanwaar die onderskeie veldslae geskied het).
Maar telkens is die oorwinning aan die ander kant afhanklik van God se ingrype. Dit hang saam met die feit dat die land immers as God se land beskou en beskryf is (Lev. 25:23). Dit kan as die kultiese perspektief beskrywe word wat onder andere beteken het dat die land se verdeling en wyse van besit deur die priesters gereël is (verbind met die Sigem heiligdom waar Josua sy afskeidsboodskap lewer).
Daarom is die tema van gehoorsaamheid aan God al dan nie so ‘n belangrike deel van die verhaal, wat eintlik regdeur die Ou Testament tot in die Nuwe Testament ‘n hooftema bly, en selfs in die lewe van Jesus ‘n deurslaggewende rol speel. Israel en die land is net aan mekaar verbind in terme van die verhouding wat hulle met God het. Israel se verhouding met die land is dus nie ‘n bloed-en-bodem verhouding nie. Die land is ook nie ‘n “heilige land” in ‘n kosmiese of materiële sin nie, alleen in ‘n afgeleide sin, as ‘n gawe van God wat deur ongehoorsaamheid verloor kan word.
Kleingroep byeenkoms
Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is. Ons sal graag wil deel in van die stories!
Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):
Vertel vir mekaar wat julle tref in hierdie verhaal:
- God roep Josua op om die Bybel (wetboek) altyd by hom te hou, dag en nag daaroor na te dink, sodat hy alles kan doen wat daarin geskryf is. Dan sal hy suksesvol wees en voorspoedig in die uitvoering van die Here se opdrag om die land in te neem. Wat leer julle daaruit oor die belangrikheid van die Bybel vir ons lewe vandag? Vertel vir mekaar watter rol die Bybel al in julle lewe gespeel het om God se wil te kan uitvoer.
- Reg deur die hoofstuk sien ons dat Josua opgeroep word om sterk te wees enGod sê dit vir hom, die leiers sê dit vir hom en hy self herhaal dit ook by geleentheid. Watter rol speel die regte houding en ingesteldheid in ons dissipelskap? Watter rol speel die Heilige Gees vandag daarin in jou lewe?
- Gehoorsaamheid is een van die sleutels om die boek te verstaan. Ons sien dit in die opdrag om die besnydenis na te kom, in die gebeure rondom die stad Ai en in Josua se afskeidsboodskap. Vertel vir mekaar hoe dit in julle eie lewe werk en waarin julle nog moet groei.
Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien? Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.