God se genade leer ons dat ons néé’s en já’s saak maak – Titus 2:11-15
Die genade van God het verskyn
Hierdie brief van Paulus aan Titus is deur die eeue ‘n gewilde keuse in gemeentes vir Kersdag. Die brief bevat nie enige verwysings na herders of wyse manne, ‘n jongvrou en ‘n baba in ‘n krip nie. Maar veral twee verse boei gelowiges se aandag op Kersdag
Paulus sê in hoofstuk 2 vers 11:
“Want die genade van God wat redding bring aan alle mense het verskyn.”
Hierdie “verskyning” verwys nie net na Jesus se geboorte nie, maar na sy eerste koms in sy geheel, en die impak wat dit in hierdie wêreld maak. Paulus sê dit is die genade (charis) van God wat verskyn het, en wat redding bring aan alle mense.
Paulus herhaal die gedagte in hoofstuk 3 en verwoord dit so in vers 4:
“Maar toe het die goedheid en die liefde vir mense van God, ons Verlosser, verskyn.”
Dit is wat hierdie verskyning inhou, die goedheid (chrēstotēs) en die liefde vir mense (philanthrōpia) van God, ons Verlosser. Sy goedhartigheid, sy vriendelikheid, en sy filantropie, want dit is die Griekse woord wat gebruik word vir sy “liefde vir die mense” wat verskyn het.
Dit is wat die geboorte in Betlehem ingehou het. Dit is wat die hele lewe en bediening van die Here Jesus ingehou het. Dat ons bewus geraak het, soos van ‘n helder lig, dat God goed is, dat Hy genadig is, dat Hy vriendelik is, dat Hy goedhartig is, dat Hy lief is vir mense, dat Hy die eerste filantroop is.
Maar wat ons maklik mis, is dat Paulus baie spesifiek uitspel dat hierdie genade en liefde van God redding bring, dat God in Jesus ons Verlosser geraak het. Die verskyning van God se genade, die verskyning van God se liefde, het met redding te make, met verlossing.
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS: (Download the English translation: Titus 2:11-15)




