Om God te soek in elke situasie – die verhaal van Josia
Wat doen jy wanneer jy worstel met ‘n saak?
Waarmee worstel jy op die oomblik? ‘n Groot besluit oor jou toekoms? ‘n Konflik binne jou familie? ‘n Deur wat vir jou toegegaan het? ‘n Deur wat vir jou oopgegaan het? Want, laat ons eerlik wees, beide oop en toe deure is uitdagings! (Download English translation)
Hoe hanteer jy jou worsteling? Wat doen jy om by ‘n oplossing uit te kom?
Kronieke sê dat jy die gewoonte moet aanleer om God te soek in elke saak
Die boek Kronieke sê dat die oplossing vir die worsteling in enige situasie is om “God te soek”. Om die gewoonte aan te leer om vir God te soek in elke situasie, maak nie saak wat die situasie is nie.
Ons almal ken daardie wonderlike belofte in 2 Kronieke 7:14 waar die Here vir Salomo en die volk by die inwyding van die tempel uitnooi om telkens as dinge swaar gaan – droogte, teenspoed, pes:
“hulle te verootmoedig en te bid en sy aangesig te soek en hulle te bekeer van hul verkeerde weë, want dan sal God uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”
God hoor waar mense sy aangesig soek, sy leiding vra in gebed – terwyl hulle hulle verootmoedig en bekeer van hulle verkeerde weë – en vergewe en genees. Hy verander en gee helderheid oor die pad vorentoe, waar mense sy aangesig soek.
Dit is waar: “vir elkeen wat sy hart daarop gerig het om God die Here, die God van sy vaders, te soek,” sê Hiskia, een van die goeie konings van Juda (2 Kron 30:19).
Trouens, dit was dié onderskeidingsteken van die goeie konings van Israel teenoor die slegte konings. Konings soos Dawid, Salomo en Hiskia het die Here gesoek, en Hom gevind. Konings soos Jerobeam, Agab en Agas het Hom nie gesoek nie, en ondergegaan in die proses.
Martin Selman sê in sy kommentaar op Kronieke.
“’Seeking’ in Chronicles describes the habit of looking to God in every situation, and also the attitude which God looks for in those who pray (2 Chr. 7:14; 30:19)”




