Geloofsonderskeiding – Petrus en Kornelius Handelinge 10 Preek
My vraag, hier op die vooraand van die verkiesing, is: wat kan ons leer oor die manier waarop God praat, oor hoe ons God se wil ken?
Nou moet jy hoor dat hier ‘n diep voorveronderstelling in hierdie vraag lê. Dit veronderstel dat ons God se wil soek, dat ons wil weet wat God se wil is. In alles in die lewe, in alle besluite wat ons neem. Byvoorbeeld wanneer ons hierdie week gaan stem: dan is die veronderstelling in my vraag dat ons nié net wêreldse oorweegredes gebruik in die maak van ons kruisie nie, maar dat ons dit biddend doen, soekend na God se wil. Maar die verkiesing is natuurlik net ‘n voorbeeld. Die veronderstelling is dat ons met enige iets in ons lewens – met alles, soek na God se wil. En dan is die vraag: hoe weet ek wat God sê? Watter leidrade gee hierdie verhaal vir ons oor hoe om God se stem te onderskei?
Verwelkoming/groet
Toetrede
Lied 528 Leer my u wil, Heer
Koor: Psalm 16 v2 “Snags praat U met my”
Votum & Seëngroet
Psalm 29
Lofsang
Psalm 29
Lied 215 Besing die lof van Jesus saam
Toewyding
Is daar iets waaroor jy op die oomblik God se wil soek? Hoe doen jy dit? Op watter maniere en plekke soek jy God se stem? Kom ons neem ‘n paar oomblikke stilte en vra vir God om met ons te praat. Dalk wil jy die spesifieke dinge noem waarvoor jy God se stem soek.
Flam182 Herder Heer
Flam 182 se refrein, wat ons nie vanoggend sing nie, sê:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry
Gebed
Skriflesing
Handelinge 10
Inleiding
Vertel verhaal mbv Bible App for Kids
Wie van julle is vol nonsens as dit by kos kom? Wat eet julle nie? (Ek ook, maar daar is so baie goed wat ek nie eet nie, dis makliker om te vra wat ek wel eet.) Wie van julle sal dít eet? (Wys goggas.)
Ons het vanoggend in die Bybel gelees dat God vir Petrus ‘n klomp goed gewys het – goed wat die Bybel sê ‘n mens mag nie eet nie – om só vir Petrus te sê dat hy nie mag sê dat daar mense is vir wie God nie lief is nie. God is lief vir almal. Jesus het vir almal se sondes gesterf. Mense wat hou van ______ én mense wat nié hou van ________
Kom ons kyk gou hoe dit werk:
Vir wie dink julle is God die liefste:
- Kinders wat goeie punte kry, of kinders wat nie sulke goeie punte kry nie?
- Ryk mense of arm mense?
- Mense wat mooi aantrek of mense wat altyd weird lyk?
God is ewe lief vir ons almal!
Preek
‘n Draaipunt in die verhaal
Die wêreldbekende teoloog en prediker, Walter Brueggemann, het eendag op Moedersdag oor hierdie teks gepreek. In sy preek het hy uitgebrei oor Petrus se ma, hoe sy vir Petrus grootgemaak het, vir hom die wette uit Levitikus geleer het. En toe het Brueggemann gesê: Petrus se ma was verkeerd.
Nou, gelukkig is vandag nie Moedersdag nie (dis volgende Sondag, vir die van julle wat dalk vergeet het). Ek is nie Brueggemann nie en ek gaan ook nie preek wat Brueggemann gepreek het nie.
Maar hierdie is ‘n besondere verhaal binne die groter verhaal van die kerk. ‘n Draaipunt. In Handelinge 1-9 lees ons hoe die Jesus-beweging al meer gegroei het binne die Joodse geloof. Hulle het hul lang-verlore familie, die Samaritane, ingesluit. Maar dit lyk asof niemand – behalwe een Etiopiese eunug – verwag dat dit ander sal wees, verder sal gaan nie. Jesus se woorde oor die nie-Jode en die nasies het nog nie hul verbeelding geroer nie.
En dan kom Kornelius. En Handelinge vertel die verhaal, vertel dit dan weer en vertel dit dan nóg ‘n keer. Hier word heelwat meer tyd aan hierdie verhaal spandeer as aan meeste ander gebeure in Handelinge, om vir ons te sê: hierdie is sleutel. Hier gebeur iets belangrik. Wat ons hier sien, is nie maar net ‘n demografiese skuif nie. Dit is ‘n diep teologiese skuif, weg van diep ingeburgerde idees oor grense en wette.
Maar ons ken die verhaal, ons weet goed wat hier gebeur. Al lyk dit, as mens so na die wêreld kyk, asof ons dit nog steeds nie gesnap het nie.
Geloofsonderskeiding
My vraag, hier op die vooraand van die verkiesing, is eerder: wat kan ons hieruit leer oor die manier waarop God praat, oor hoe ons God se wil ken?
Nou moet jy hoor dat hier ‘n diep voorveronderstelling in hierdie vraag lê. Dit veronderstel dat ons God se wil soek, dat ons wil weet wat God se wil is. In alles in die lewe, in alle besluite wat ons neem. Byvoorbeeld wanneer ons hierdie week gaan stem: dan is die veronderstelling in my vraag dat ons nié net wêreldse oorweegredes gebruik in die maak van ons kruisie nie, maar dat ons dit biddend doen, soekend na God se wil. Maar die verkiesing is natuurlik net ‘n voorbeeld. Die veronderstelling is dat ons met enige iets in ons lewens – met alles, soek na God se wil. En dan is die vraag: hoe weet ek wat God sê? Watter leidrade gee hierdie verhaal vir ons oor hoe om God se stem te onderskei?
In hierdie verhaal is daar heelwat sulke leidrade. Ek gaan ‘n klompie sommer net uitlig, sonder om ‘n vreeslike referaat oor enige van hulle te lewe.
God werk tegelykertyd op verskillende plekke
Die eerste ding wat opval, is dat God gelyk op verskillende plekke werk. Sonder dat Kornelius of Petrus van mekaar weet, praat God met hulle albei. Berei God hulle voor vir die ontmoetings wat gaan volg.
Gebed
Tweedens, God praat met Petrus terwyl Petrus besig is om te bid. Dis so voor die hand liggend, so eenvoudig, maar tog lyk dit vir my dat ons hierdie stap dikwels oorslaan. Ons verwag God gaan ons lei, gaan met ons praat – maar ons praat nie met God nie!
En kyk mooi, Petrus was nie besig om te bid oor die Romeine nie. Hy was besig om te bid. Dit gaan hier oor ‘n verhouding, om in kontak met God te leef. Dan sal God met jou praat. Dalk nie oor die spesifieke ding waaroor jy ‘n antwoord soek nie! Maar dan is jy oop daarvoor om God se stem te hoor, want daar is ‘n gesonde verhouding.
Bo-natuurlik
Die volgende een is effens moeiliker. God praat met beide Kornelius en Petrus in ‘n gesig, ‘n visioen. En dan is Petrus se visioen nog boonop direk teenoor dít wat Petrus op daardie stadium as die Skrif ken. So met hierdie een is ons effens ongemaklik. Veral ons tradisie is maar altyd so bietjie verdag van visioene en drome. Want jy kan dit nie so lekker toets nie. Dit lyk bietjie lukraak. Wanneer is dit God, wanneer is dit waansin?
Maar ons moet daarteen waak dat ons nié so rasioneel raak, dat ons die bo-natuurlike, die wonderbaarlike, heeltemal uit ons geloof uithaal nie. God praat steeds deur drome en visioene. Dalk, in ons wêreld, minder as voorheen – ook omdat ons anders is as ons voorsate. Maar dit gebeur steeds.
Proses
Wat ons wel moet oplet, as dat die visioene nie op hulle eie staan nie. Dit is deel van ‘n groter proses van geloofsonderskeiding. Dit is nié NET die visioene wat die verloop van sake bepaal nie. Om God se stem duidelik te onderskei, is altyd ‘n proses. Dit is bitter selde een ding wat jy eenmalig hoor en dan kan jy maar onwrikbaar hardkoppig daarby bly staan. Jy moet dit oor en oor toets, seker maak dat dit belyn met die res van die maniere waarop ons God se stem hoor.
Hierdie een is belangrik genoeg dat ek dit net nou weer gaan noem. Ek waarsku solank.
Omstandighede
Net nadat Petrus gebid het en ‘n gesig gesien het, kom Kornelius se mense by hom aan. So sy omstandighede help hom nie net om te verstaan wat hy by God gehoor het nie, maar bevestig dit ook.
*Nou gaan ek die hele tyd by elke punt ‘n “disclaimer” sit. Want sien, daar is eintlik nie ‘n resep vir geloofsonderskeiding nie. Hierdie is nie ‘n paar boksies wat jy kan tick en as hulle almal afgemerk is, is dit die Here se wil nie. Dit kan jy maar weet: die oomblik wat ons dink ons het ‘n greep op God of op hoe God werk, dan verras God ons. Maar hierdie help ons wel om sommige van die maniere te herken waarop God met ons praat.
So, soms bevestig ons omstandighede dít wat ons van God af hoor. Soms hoor ons iets van God, maar die omstandighede is presies die teenoorgestelde. Dan is daar weer ander aspekte wat belyn, wat ons oortuig om téén die omstandighede in steeds in die rigting te gaan wat ons glo God vir ons wys.
Fluistering in die hart
Terwyl Petrus nog nadink oor wat hy gehoor het, sê die Gees vir hom van die drie manne wat daar aangekom het. Want dit is óók een van die maniere wat God met ons praat – deur die fluistering van die Gees in ons harte.
Nou sien jy, dis nie ‘n eksakte wetenskap nie! Maar dikwels is daar ‘n diep oortuiging in ons harte, wat eenvoudig niks anders kan wees as die stem van die Gees nie.
Solank dit belyn met ‘n klomp ander goed. Solank dit nié NET die oortuiging van ons harte is wat ons by ‘n besluit uitbring nie.
Gasvryheid
Dan is hier in hierdie verhaal ‘n baie interessante aspek van geloofsonderskeiding: gasvryheid. Deur mense – spesifiek mense na wie hulle nie voorheen sou luister of selfs nie eers in hul huise sou toelaat nie – in hul lewens in te nooi, saam met hulle te eet, verander God hulle. In ontmoetings met mense wat anders is as ons – eerlike, oop ontmoetings, waar ons hulle in ons lewens innooi – leer ons ook vir God nuut ken.
Verander en verras
Nou verbind hieraan, is die feit dat God se Gees ons dikwels oor grense lei. Ons lei na plekke en idees wat ons nie voorheen oorweeg het nie. Aan die einde van hierdie storie is almal anders – die ganse kerk is anders! Elke enkele party in hierdie storie is verras.
As jy na God luister, en jy is nog nie verras nie, of is nog nie oor ‘n grens geneem nie – hetsy fisies of dalk ‘n grens binne jouself, jy het nog nie van plan of van oortuiging verander nie – dan sou ek sê jy is nog nie klaar geluister nie. Dan moet jy dalk nog ‘n tydjie op die dakstoep bly.
Wie Jesus is
Wanneer Petrus vir Kornelius en sy mense preek (dis die deel wat ons oorgeslaan het, vers 36 tot 43) dan lyk dit asof die Gees in die proses ook vir Petrus herinner aan wie presies Jesus is, aan wat Jesus kom doen het:
- Hierdie Jesus is Here van almal (v36)
- Jesus het “almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was” (v38)
- Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang. (v43)
Wanneer ons God se wil soek, kan ons altyd kyk na wie Jesus is. Nou lyk dit vir my mense wil dan die graagste kyk na die reiniging van die tempel, na Jesus wat swepies vleg en tafels omkeer. Maar ons uitdaging is om alles van wie Jesus is en wat Jesus gedoen het, te onthou. Want in Jesus leer ons vir God ken en daaruit kan ons die beste aflei, wat God se wil is. Inderdaad, What Would Jesus Do.
Sien die werk van die Gees
God se wil word ook dikwels bevestig deur die werk van die Gees. Wat beteken ons ken ook God se wil deur die vrug daarvan. En dit gaan nie nét oor gedrag wat verander nie. Dit gaan in die eerste plek oor ‘n nuwe verstaan van Wie God is, van die verlossing wat God moontlik maak deur Jesus. (“this repentance includes more than changed behavior; it refers primarily to arriving at a new understanding of God and the salvation God has made possible through Jesus Christ.”Skinner, Matthew L.. Intrusive God, Disruptive Gospel (p. 82). Baker Publishing Group. Kindle Edition.)
Gemeenskap van gelowiges
Dan is daar nog ‘n belangrike een – en hou moed, dis die voorlaaste een: die gemeenskap van gelowiges. Let op dat Petrus nie alleen na Kornelius-hulle toe gaan nie. Hy het ‘n paar van die gelowiges in Joppe saamgeneem. En wanneer die Gees oor Kornelius en sy mense kom, dan is die gelowiges wat saam met Petrus gekom het, verbaas. Later word ook die kerk se leierskap, die gelowiges in Jerusalem, hierby betrek.
En dis wederkerig – Kornelius help vir Petrus, Petrus help vir Kornelis, Petrus help die mense in Jerusalem, en vice versa.
Ons kan nooit op ons eie sê ons weet nou presies wat God wil hê nie. Om God se wil te onderskei, is altyd ‘n gemeenskaplike proses. Dit is hoekom dit so ongelooflik belangrik is dat ons ingeprop is by ‘n geloofsgemeenskap. En nie net op ‘n Sondag hier kom sit en luister nie, maar by ‘n groep wat saam met jou bid, wat jou ken, wat weet waarmee God besig is in jou lewe, wat weet wat jou worstelinge en soekes is, wat saam met jou God se wil kan soek.
Terugskouend
En dan, aan die einde, is die enigste manier om werklik God se stem te onderskei, na die tyd.
Dis ‘n proses. (Onthou, ek het gesê ek gaan dit weer sê?) Om God se werk raak te sien en die implikasies van die evangelie te begryp, is nie maklik nie. Ook nie vir Petrus nie. Petrus het tyd nodig. Hy moet die storie sien uitspeel, stukkie vir stukkie.
En op die ou end maak alles meer sin aan die einde van die storie.
En gewoonlik is dit die beste manier waarop ons kan praat oor God se stem in ons lewens.
Om God se wil te onderskei, is altyd ‘n proses. En selfs al is ons so gelukkig dat dit vir ons soos ‘n lysie uitgewerk het waar ons elke blokkie kan afmerk – dan gaan ons nog steeds eers wanneer ons terugkyk kan sien: o ja, ek het reg gehoor. Ons moet, moet altyd oopbly vir korrigering, dat die Gees ons in nuwe rigtings stuur, dat ons dalk verkeerd gehoor het.
Om na God te luister, is altyd ‘n daad van geloof. Dit behels waagmoed – soos ons gemeente se waardes sê, ons waag in geloof. Dit beteken dat ons waag om nuwe, onverwagse moontlikhede te bedink.
Maar stap een, stap een, voor al hierdie goed, wat elkeen met ‘n voetnoot kom wat sê: “soms werk dit so, soms nie”, is die stap om te sê: ek wil actually weet wat God se wil is. Om God se wil te soek. Ook vir ons gewone, dag tot dag lewe.
Gebed
Dalk is daar iets spesifiek in jou lewe waarvoor jy God se wil soek – dalk die ding waaraan jy aan die begin van die diens gedink het? Of dalk wil jy net oop wees, om te hoor wat God ook al vir jou wil sê, al is dit nie iets wat tans op jou agenda is nie.
Ek gaan ‘n paar oomblikke van stilte gee, waartydens jy óf kan reflekteer oor hierdie riglyne – wat soms daar is, soms nie – of gewoon begin by stap een, en vir God vra om sy wil vir jou te wys.
Dankoffer
Koor: Vonkk 159 Heer, ons dink aan Afrika
Voorbidding
Slotsang
Vonkk 272 Heer, ons bid as reënboognasie
Seën
Respons
Vonkk 38 Here, ons God, as ons nou huis toe gaan
die wil van God, Geloofsonderskeiding, Handelinge 10, Kornelius, onderskeiding, Petrus, preke, Rethie van Niekerk, verkiesing