• Home
  • Preke
  • Die Pad na Lewe IV – Kruispaaie – Matteus 7 Preek

Die Pad na Lewe IV – Kruispaaie – Matteus 7 Preek

Wanneer ‘n mens gaan vir jou bestuurslisensie, moet jy eers ‘n leerlinglisensie kry.  Vir ‘n leerlinglisensie kan jy nog nie bestuur nie, maar jy moet die tekens ken.  Jy moet die tekens langs die pad kan sien en weet wat dit beteken.  Baie van daardie tekens, is waarskuwingstekens:  “Moenie hier ry nie.  Wees versigtig hier.  Gee hier toe.  Ry stadiger.  Wees wakker.  Pasop, hier kom ‘n draai of ‘n spoedhobbel.”  Wanneer jy ry, moet jy nie net die pad ken nie, jy moet ook die tekens kan onderskei.

Ons het die laaste paar weke gesels oor die pad na lewe.  En die pad na lewe is Jesus.  Soos wat Jesus in Johannes 14 sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

Hier aan die einde van die bergpredikasie sit Jesus ‘n paar padtekens neer.  Waarskuwingstekens, wat soos op ‘n snelweg vinnig verbykom.

Vooraf

Koor:  Vonkk 396 Ons behoort nie aan onsself nie

Verwelkoming/groet

Toetrede

Lydenstyd – 5de kers – Vonkk 174 Strome van seën

Votum

Vonkk 396

Ons behoort aan U.  Elke dag en elke oomblik – ons behoort aan U.

Neem my hele lewe, Here, neem my rede, neem my wil.

Laat my dade en gedagtes slegs u diepste wens vervul.

Seëngroet

Geliefdes, dit is omdat ons aan God behoort, dat ek julle kan groet in die Naam van die Drie-enige God.   Genade en vrede vir julle.

Lofsang

Lied 400 Juig, juig in Hom

Verootmoediging

Johannes 14:6

Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Toewyding

Geloofsbelydenis

Lied 496 Jesus U die lewe

Gebed

Skriflesing

Matteus 7:13-29

Inleiding

Webster, the preacher duck

Wat gebeur met die eende?  Die dominee sê hulle moet vlieg.  Hulle kan vlieg.  Maar hulle vlieg nie!  Ons is Jesus se kinders, omdat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het.  En omdat ons Jesus se kinders is, leef ons soos Jesus gesê het.  Anders is ons soos eende wat vlerke het, maar nie vlieg nie.

Preek

Die pad na lewe

Wanneer ‘n mens gaan vir jou bestuurslisensie, moet jy eers ‘n leerlinglisensie kry.  Vir ‘n leerlinglisensie kan jy nog nie bestuur nie, maar jy moet die tekens ken.  Jy moet die tekens langs die pad kan sien en weet wat dit beteken.  Baie van daardie tekens, is waarskuwingstekens:  Moenie hier ry nie.  Wees versigtig hier.  Gee hier toe.  Ry stadiger.  Wees wakker.  Pasop, hier kom ‘n draai of ‘n spoedhobbel.

Wanneer jy ry, moet jy nie net die pad ken nie, jy moet ook die tekens kan onderskei.

Ons het die laaste paar weke gesels oor die pad na lewe.  En die pad na lewe is Jesus.  Soos wat Jesus in Johannes 14 sê:

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

Hier aan die einde van die bergpredikasie sit Jesus ‘n paar padtekens neer.  Waarskuwingstekens, wat soos op ‘n snelweg vinnig verbykom:  Daar’s 2 paaie, 2 soorte vrugte, 2 groepe, 2 huise.

Daar is 2 paaie.  Die ou stad Jerusalem het ‘n muur om gehad, met verskeie poorte in die stad in.  Van die poorte was wyd, sodat baie mense, waens, vragte gelyk deur die poorte kon gaan.  Ander poorte was nou.  Jy moes jou beurt afwag.

Om Jesus te volg, beteken dat jy nie sommer net by die skare inval nie, nie sommer net “go with the flow” nie.  En jy kan nie albei paaie gelyk volg nie.  Jy moet die tekens lees, seker maak dat die pad waarop jy is, die regte pad is.

Daar is twee wingerde of twee soorte bome wat verskillende vrugte lewer.  Ook hier moet jy die tekens onderskei.  In die Ou Testament sou die tekens ‘n tipe “wag en kyk” wees – as iemand profeteer, wag ons en kyk of die profesie waar word.  Jesus sê, kyk na die vrug.  Lewe dit heerlike, soet vrugte?  Of is dit blink en indrukwekkend, maar vrot aan die binnekant?

Daar is twee groepe mense:  mense wat Jesus as die weg ken en daardie weg bewandel, en ander wat sommer net inval by die skare, maar nie regtig self vir Jesus volg nie.  Ook hier moet jy die waarskuwingstekens lees en vir Jesus volg.  Nie sommer net inval by die skare nie, maar persoonlik aan Jesus verbind leef.

Dan is daar twee soorte bouers:  mense wat Jesus se woorde hoor en hulle vlerke klap soos eende.  En mense wat Jesus se woorde hoor en daaruit lééf.  En weer moet jy die tekens lees.  Jesus sê:  hier loop die pad.   Die pad na lewe.  Jy moenie net staan en sê:  “ja kyk, daar is die pad.  Kyk hoe mooi is die pad!”  nie.  Jy moet op die pad gaan.

Om Jesus te volg, die weg, die lewe, verg ‘n verbintenis – ‘n commitment – en aksie.  Ons moet dit doen!  Ons kan nie net daaroor praat en dink en sing nie.  Ons moet op die weg gaan!

De breede en de smalle weg

Nou dink ek altyd aan daardie prentjies van vroeërjare, van “de breede en de smalle weg”, wat natuurlik op hierdie teks gebaseer is.  Ek het selfs so een in my kantoor, maar eerder oor die ironiese boodskap van die prent as die inhoud van die prent.

Daar op die breë weg dobbel mense.  Daar is ‘n kroeg waar mense sit en kuier met ‘n bier in die hand.  Daar is prostitute met ‘n lang ry manne wat staan en wag.  ‘n Man wat ‘n ander man met ‘n knuppel doodslaan.  Op die nuwer weergawe is daar flieks.

Op hierdie ou Nederlandse een is daar ‘n “scouwburg” – ‘n teater waar mense toneelstukke gaan kyk.  ‘n Balzaal, waar mense dans.  ‘n Gebou genaamd Sondagsontheiliging.  ‘n Paar mense wat by ‘n kafeteria onder ‘n sambreel sit.

Dis altyd vir my opvallend watter goed ons kies om uit te lig as sonde.  En natuurlik, baie van daardie goed is sonde!  (Hoewel ek nie oortuig is dat bv. toneelstukke per se sonde is nie, soos wat o.a. die groot kerkvader Augustinus gedink het nie.)

Dan voel dit altyd vir my die goed wat ons so hoogheilig uitlig, is so bietjie laergraad.  Intreevlak gehoorsaamheid.  Jy moenie moord pleeg nie.  Moenie vloek nie.  Moenie hoereer nie.  Dit lyk vir my baie asof ons lyste van goed maak waarmee ons nie sukkel nie, sodat ons kan goed voel oor onsself, oor hoe heilig ons is, oor hoe oulik ons op die nou weg wandel, terwyl ons met ‘n geligte wenkbrou veroordelend oor die muur na die breë weg loer.

Dit laat my dink aan die storie van John Newton, wat ek ‘n paar jaar gelede ook vertel het.  John Newton is die skrywer van die lied “Amazing Grace”,  waarin hy skryf:  “Amazing Grace, how sweet the sound, that saved a wretch like me.”  John Newton was ook ‘n slawehandelaar.  Hy was die kaptein van skepe wat slawe ontvoer het uit hul eie land en in die weste verkoop het.  En Newton kom tot bekering.  Hy skryf:  “Amazing Grace, how sweet the sound that saved a wretch like me.”  ‘n Ellendeling.

Maar “Amazing Grace” het Newton geskryf terwyl hy nog betrokke was in slawehandel.  Hy kom tot bekering in 1748.  En hierdie bekering, hierdie ellendigheid waaroor hy skryf, was, volgens sy eie getuienis:  vloek, dobbel, drink.  Hy het aan homself gedink as ellendeling, omdat hy gevloek, gedobbel en gedrink het.  Met sy bekering het hy daarmee opgehou.  Maar dit sou nog 40 jaar wees, voordat hy sou opstaan teen slawerny.  Veertig jaar waarin hy gedink het bekering is om op te hou rummikub speel.  Dit het 40 jaar geneem voordat hy kon sien – en sê – dat slawerny sonde is.  Dat dit verkeerd is om mense gewelddadig te ontvoer uit hul eie land, van hul eie mense, en hulle te verkoop as besittings om gratis arbeid te verrig.

Maar ten minste vloek hy nie, rook, drink en dobbel hy nie.

Dis nie die pad wat Jesus vir ons wys nie.  Die pad wat Jesus vir ons wys, die pad na lewe, is soveel meer.  Dit is lowergroen van liefde en lewe.

Maar ons staan hier by die begin van die pad: ek vloek nie, ek suip nie, ek hoereer nie, ek gaan Sondae kerk toe.  En ons mis hierdie hele, heerlike pad van oorvloedige lewe!

Dink gou terug aan ‘n paar weke gelede, toe ons ons verbeel het ons is deel van die skare wat saam met Jesus op die berg sit en na sy woorde luister.  Toe het ons gesê dat Jesus sê ja, hierdie is die pad.  Daardie intreevlak goed, dit is die regte pad.  Maar dis die begin van die pad.  Die pad gaan verder, hoër as net hierdie goedjies.

Matteus 5-7

Hier loop die pad:

Lang die wat arm is van gees, wat afhanklik is van God,

Wat sensitief is vir pyn en verlies

Wat leef in die krag van sagmoedigheid

Wat streef na geregtigheid

Wat met ‘n sagte hart na ander kyk

Wat nie skeinheiligheid en huigelary in hul harte wegsteek nie

Wat werk vir vrede

Wat swaarkry en beledigings verdra.

Op die smal weg is mense soos sout en lig, leef hulle die ware bedoeling van die wet, gaan hulle verder as net die nakom van eksterne reëls.

Op hierdie lowergroen pad van oorvloedige lewe, haat ons nie, hou ons nie wrokke nie, geniet ons nie ons woede nie, maar steek ons die hand van versoening uit.

Hierlangs is mense nie blote objekte nie.  Ons koester nie geheime fantasieë oor ander nie, maar ons respekteer mense, behandel hulle met waardigheid.  Ons respekteer veral ons lewensmaats, ons het hulle lief en is getrou aan hulle, met ons liggame, ons gedagtes en ons harte.

Ons hou nie net ‘n uiterlike beeld van reinheid in stand nie, maar ons is regtig, in ons harte, rein.

Ons oordryf nie, maar praat helder, eenvoudige waarheid.  Ons “ja” is eenvoudig “ja”.  Jy kan ons op ons woord neem.

Op hierdie pad is daar geen plek vir wraak of wraakgedagtes nie.  Nee, hier soek ons kreatiewe maniere om onreg te oorkom.

Want hierdie pad is ‘n pad van liefde – selfs vir vyande.

Ons stap nie hierdie pad op ons eie nie.  Ons kry krag om op hierdie pad te bly, deur geestelike dissiplines soos vrygewigheid, gebed en vas te beoefen.

Langs hierdie pad ruil ons nie een vergifnis vir ‘n ander nie, maar leef ons in die realiteit van vergifnis.

Ons reis lig op hierdie pad.  Daar is nie plek om goed op te gaar nie.  Hier is nie gierigheid nie.

Op hierdie pad is ons vry.  Ons word nie vasgehou deur angstigheid nie, maar ons vertrou op God.

Ons kyk sag na mekaar, goed bewus van ons eie sonde.

Terwyl ons op die pad is, weet ons dat ons na God kan gaan met al ons behoeftes.  Want God is ons liefdevolle Vader wat weet wat ons nodig het.

Op hierdie pad doen ons aan ander soos wat ons aan onsself gedoen wil hê.

Op hierdie pad is daar ook kruispaaie.  Ons moet dikwels moeilike keuses maak.  Ons moet die tekens ken en kan lees.

Soms is daar opdraande.  Storms, wat die pad glad en moeilik maak.

Maar dit is die pad wat Jesus vir ons uitgestippel het in die bergpredikasie:  lowergroen.  ‘n Pad van lewe in oorvloed.

As ek dan nou my metafore kan meng:

So kom ons klap ons vlerkies – en dan gaan ons op daardie pad wat Jesus vir ons gewys het.  Die pad van lewe, in oorvloed.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 575 Wie op die Heer vertrou in lyding

Seën

Die Here sal julle seën

en julle beskerm;

die Here sal tot julle redding verskyn

en julle genadig wees;

die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

Respons

Vonkk 144 Vrede van God

     

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.

  • Avatar

    Hansie

    |

    Dankie Chris. Lanklaas so ‘n geestelik verrykende erediens bygewoon. Ek is skoon opgewonde. Alle seen vorentoe.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Boeta!

  • Avatar

    AntonvanWyk

    |

    Baie duidelik. Pragtige versterkende boodskap

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Diederiks, ek het self dit nou weer gelees. Dit is darem net só fundamenteel tot ons hele verstaan van die werklikheid. Ek is só dankbaar dat ek die waarheid ontdek het. Seën vir jou!