Johannes 20:19-25 Paasfees Preek
Wonde vertel ‘n storie. Dink maar aan die wonde aan jou eie lyf. (Dalk wil die kinders op hierdie punt gou vir hul ouers wys – of vertel – wat hul gunsteling wonde is.) Ons almal dra wonde aan ons lyf. Wonde wat stories vertel.
Stories van prettige kinderdae, van knieë wat stukkend geval is terwyl ons gespeel het. Van ‘n bottel wat my vinger gesny het toe ek op ‘n plaas huis-huis gespeel het. Wonde van swaarkry. Van operasies. Van ongelukke. Van geweld. Innerlike, emosionele wonde. Elkeen van daardie wonde vertel is storie. Daardie storie vertel wie ons is, wat ons gevorm het, hoekom ons vandag is wie ons is.
So watter storie vertel Jesus se wonde?
Vooraf
Lied 420 Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem!
Toetrede
Lied 425 v 1 en 4 Kyk die Heer het opgestaan! (staan)
Votum
Kerse word aangesteek
Voorganger (V): Die Here het opgestaan!
Gemeente (G): Die Here het waarlik opgestaan!
V: Die Here het opgestaan!
G: Die Here het waarlik opgestaan!
V: Moenie skrik nie: julle soek Jesus van Nasaret. Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is uit die dood opgewek.
Vroue: Die Here het opgestaan!
V: As Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en ons geloof ook sonder inhoud.
Almal: Die Here het opgestaan!
V: As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die mees bejammerenswaardige van alle mense.
Mans: Die Here hét opgestaan!
V: Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
Almal: Die Here het opgestaan!
V: Die dood is vernietig. Die oorwinning is behaal. Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en aan sy Gesalfde en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.
Vroue: Die Here het opgestaan!
V: Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
Almal: Die Here het opgestaan!
V: Hy wat op die troon sit, sê: “Kyk, Ek maak alles nuut! Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”
Mans: Die Here het opgestaan!
V: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid!
Almal: Die Here het waarlik opgestaan!
Respons
Vonkk 5 Vreugde! Vreugde! (staan)
Seëngroet
Jesus leef! En ons leef met hom! Daarom is daar vir ons elkeen genade en vrede.
Afkondiginge
Lofsang
Lied 414 Juig, verlostes, juig en sing (staan)
Lied 423 Kom laat ons almal vrolik (staan)
Geloofsbelydenis van Nicea
Respons
Lied 417 Jesus, ons eer U (staan)
Gebed
Skriflesing
Video: God’s Wonderful Surprise
Ek het hierdie video al vantevore gewys, maar dit is vir my so ‘n pragtige vertelling van die eerste gedeelte van Johannes 20! Die eerste gedeelte van Johannes 20 speel af op die Sondagoggend na Jesus se kruisiging.
Ons skrifgedeelte vanoggend vertel wat daardie aand gebeur het: Johannes 20:19-25
Dan lees ons in die volgende deel van Johannes 20 van ‘n week later, wanneer Jesus weer verskyn, dié slag met Thomas teenwoordig. Dis interessant hoe arme Thomas oor die jare die gewig van almal se oordeel moes dra. Ons noem hom sommer “Ongelowige Thomas”. Maar ons vergeet gerieflikheidshalwe dat die manne getwyfel het, totdat hulle self ook vir Jesus gesien het. Thomas se verhaal is eintlik fantasties: wanneer hy Jesus se wonde sien, bely hy: “My Here en my God!” So word Thomas – die ou wat ons vandag ongelowig noem – die eerste mens wat Jesus as God bely, wat hierdie fantastiese geloofsbelydenis – die kulminasie van die Johannes-evangelie – “My Here en my God!” – uitspreek.
Hierdie tweede deel van Johannes 20 (Jesus se tweede verskyning), word gewoonlik tydens Pinkster gelees, terwyl die derde deel (Thomas se verhaal) gewoonlik ‘n Sondag of 2 ná Paasfees gelees word. Maar veral die eerste gedeelte vertel die verhaal van Jesus se verskyning na sy opsdanding, nog dieselfde dag, daarom is dit ‘n goeie gedeelte vir ons om vandag te oordink.
Inleiding
Wag, ek is nou eers lus vir ‘n stukkie kougom. My keel raak so droog as ek preek. Wie van julle wil ook hê? [Kougkompapiertjies is leeg.]
Wat, dis leeg?! Wat het jy verwag om daarin te kry? As jy dit dan oopmaak en daar is niks in nie, dan is jy skoon verras!
Dit is hoe die vroue daardie eerste Sondagmôre gevoel het. Hulle het gedink Jesus is dood, hulle het gedink hulle gaan vir Jesus in die graf kry. Toe is die enigste ding in die graf ‘n wit kleed! Jesus het opgestaan uit die dood uit!
Omdat Jesus opgestaan het uit die dood, is ons nie meer bang nie. Ons is bly. Ons vier fees, sing lekker liedere, eet paaseiers, vertel grappies. Want ons weet: die graf was leeg! Jesus leef!
Glow-in-the-dark Paaseiers – paaseiers is leeg, net soos wat die graf leeg was. Hierdie gloei in die donker. Dit herinner ons dat geen donkerte nooit net donker is nie. Daar is altyd lig. Daarmee bedoel ons die slegte goed is nooit nét sleg nie. Omdat Jesus se graf leeg was, weet ons dat die slegte goed nie wen nie. Jesus wen. Daar is altyd lig.
Finger-puzzle (terwyl jy luister!)
Preek
Graf van vrees
Johannes sê vir ons dit was aand toe die dissipels vreesagtig saam gekluister gesit het agter toe deure. Ons weet dat so ‘n beskrywing in Johannes nie net tyd beskryf nie, maar ook van die omstandighede. Dit was donker. Die dissipels sit vasgekluister in hul eie graf. ‘n Graf van vrees.
Terwyl die vroue besig was om in ‘n donker begraafplaas rond te hardloop en vreemdelinge te konfronteer met vrae oor hul vermiste Heer se liggaam, was die dissipels vasgekeer deur hul eie vrees.
Waarvoor ons hulle natuurlik glad nie kan veroordeel nie, want ons is tog so goed bekend met daardie graf. Ons ken elke hoekie, ons ken die reuk, die gevoel. Al is ons gelowiges, al het ons, soos die dissipels, die nuus gehoor dat Jesus opgestaan het, sit ons maar té dikwels vasgekeer in ons eie vrees. Bang, onseker. Weet nie lekker wat nou nie. Te bang om die deur oop te sluit, buitentoe te gaan, te waag.
Let op wat dan in die verhaal gebeur: terwyl hulle so toegesluit in die graf van hul eie vrees sit, verskyn Jesus aan hulle met die woorde: “Vrede vir julle”. Dan wys Jesus vir hulle sy wonde. En DAN is die dissipels bly om hom te sien – nadat hulle sy wonde gesien het. Dan sê Jesus weer: “Vrede vir julle.” Byna asof hulle nie die eerste vrede kon ontvang, voordat hulle nie eers sy wonde gesien het nie.
Dieselfde gebeur met Thomas. Dis eers nadat hy Jesus se wonde gesien het, dat hy sy geloof bely.
Wonde
Nou kan ons vra: hoe belangrik is Jesus se wonde hier? Maak dit enigsins saak, of is dit bloot insidenteel? Vir Calvyn bv, was dit nie veel meer as ‘n bloot tydelike teken nie – God se manier om die “ongelowige” Thomas tegemoet te kom. Wanneer Calvyn later in polemiek oor die Nagmaal betrokke raak, dan verdwyn Jesus se wonde in Calvyn se gedagtes.
Dit is maar eers in onlangse tye wat teoloë in die Weste begin besef het dat die wonde aan Jesus se opstandingsliggaam belangrik is. Want sien, wonde vertel ‘n storie.
Wonde vertel ‘n storie
Dink maar aan die wonde aan jou eie lyf. (Dalk wil die kinders op hierdie punt gou vir hul ouers wys – of vertel – wat hul gunsteling wonde is.) Ons almal dra wonde aan ons lyf. Wonde wat stories vertel.
Stories van prettige kinderdae, van knieë wat stukkend geval is terwyl ons gespeel het. Van ‘n bottel wat my vinger gesny het toe ek op ‘n plaas huis-huis gespeel het.
Wonde van swaarkry. Van operasies. Van ongelukke. Van geweld. Innerlike, emosionele wonde.
Elkeen van daardie wonde vertel is storie. Daardie storie vertel wie ons is, wat ons gevorm het, hoekom ons vandag is wie ons is.
Wonde van hoop
So watter storie vertel Jesus se wonde?
Wie God is
Jesus se wonde herinner ons in die eerste plek aan Wie God is. Hierdie wonde is ‘n kenmerk van God. Hy dra die wonde van sy offer, van sy liefde.
God se verwondenheid is deel van die kern van God se aard. Die dissipels erken vir Jesus wanneer hulle sy wonde sien. Thomas erken vir Jesus wanneer hy sy wonde sien. Ek wonder oor die Emmausgangers, wat Jesus eers erken het toe hy die brood breek – kon dit wees toe hulle sy wonde sien? Ons ken God deur sy wonde.
Hierdie wonde sê vir ons dat God gedoen het wat ook al nodig was om die verhouding tussen hom en ons, sy skepsels, te herstel.
In hierdie wonde sien ons dat Jesus werklik mens geword het, dat hy werklik sy lewe vir ons geoffer het.
In hierdie wonde sien ons dat God regtig regtig in ons pyn deel, dat hy ons menslike seerkry nie net ken nie, maar op homself geneem het, dat hy intiem bekend is met die wonde van menswees.
In hierdie wonde sien ons dat God die wonde van menswees steeds met hom saamdra. Dat ons wonde nie iets is waarvan God eenmalig kennis geneem het nie, maar dat dit steeds iets is wat God op sy hart – of dan nou, aan sy sy dra.
Ons kan nie Goeie Vrydag oorslaan nie
Verder sê Jesus se wonde vir ons dat ons nie Goeie Vrydag kan oorslaan nie.
Soms val ons vir die tipe geloof wat net die leë graf wil sien – en eintlik ook net so uit die hoek van jou oog. ‘n Tipe geloof wat alle swaarkry wil ontken. Wat dink dat dit met Christene nét moet goed gaan. Dat Christene altyd onder alle omstandighede net moet “happy” wees. Dat ons net oorwinning moet uitspreek, en al ons probleme en wonde sal wonderbaarlik verdwyn.
‘n Geloof wat sê jy mag nie swaarkry nie, jy mag nie sê jy het seer nie, jy mag nie erken dat jy nog wonde van die verlede dra nie.
Die wonde aan Jesus se opstandingsliggaam sê dat ons mag – moet – eerlik wees ook oor ons eie wonde.
Die wonde aan Jesus se opstandingsliggaam sê ook vir ons dat ons die kruis moet ernstig opneem. Dit beteken dat ons Jesus se lyding moet ernstig opneem. Dat ons verlossing iets gekos het. Dat dit nie sommer goedkoop onverdiend by ons neerdaal nie. Dit het ‘n onbeskryflike prys gekos – wat God betaal het.
Nuwe lewe
MAAR hierdie wonde sê ook vir ons dat daar iets anderkant die wonde is, dat daar iets meer is as net die wonde. Vrydag het regtig gebeur – maar daar is meer. Daar is lewe. Die mag van die dood is oorwin.
Ons hoef nie verlam te bly deur ons wonde nie. Daar ís ‘n ander realiteit. ‘n Bo-natuurlike, wonderwerk-realiteit, wat dood oorwin. Wat lewe bring waar daar dood was. Wat die graf van vrees oopbreek en vrede bring.
Dis nie nodig om met jou wonde te skuil in ‘n donker, geslote vertrek nie. Jy kan dit na God toe bring, na die lig van Christus se oorwinning.
Net soos wat ons vir Christus erken in sy wonde, so vermoed ek dat ons ook vir Christus leer ken in ons eie wonde.
Nie wanneer ons daardie wonde styf naby ons koester en probeer vashou nie. Want dis mos ook wat ons soms doen: soos kinders soms probeer om meer bloed uit ‘n wond uit te druk, sodat dit regtig erg kan lyk en hulle meer simpatie kan kry – of jammerder vir hulleself kan voel – so hou ons soms ons wonde vas, bewonder ons ons eie pyn.
Maar ek dink ons ontmoet juis vir Christus in ons eie wonde, wanneer ons dit vir hom gee, aan sy wonde oorgee. Wanneer ons – wonderbaarlik, verrassend – sien dat daar nuwe lewe is, oorwinning is, genesing is, God is – al is daar littekens.
En dis wat Paasfees vir ons sê: geen graf, geen vrees, geen wond, geen litteken kan die lewe terughou nie.
geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Romeine 8:38-39)
Gebed
Dankoffer
Lied 409 Hoor jy die Paasfeesklokke?
Slotsang
Lied 421 Die Here Jesus lewe (staan)
Seën
Voorganger: Jesus Christus is die opstanding en die lewe.
Gemeente: Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Voorganger: Wie in Hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.
Gemeente: Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid.
Voorganger: Amen
Respons
Vonkk 5 v 2 laaste 2 reëls: Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde! Want ons Heiland het verrys.
Johannes 20, Opstanding, Paasfees, Paassondag, preek, Rethie van Niekerk, Thomas, wonde