Skip to main content

Die pad na lewe III – Afdraaipaaie – Matteus 6 en 7 Preek

Een van my gunsteling woorde, is die Engelse “ornery”, of selfs “cantankerous”,  maar veral ornery.  “Ornery” is die aaklige beer.  Dis wanneer iemand sommer mislik of knorrig is, suur en nukkerig.

Ouers sal dit goed ken.  Dit is wat gebeur wanneer kleintjies moeg raak, maar nie wil bed toe gaan nie.  Dan skree hulle oor alles en is moeilik oor alles, maar weier om die een ding te doen wat hulle sal help.

Maar wat is dit wat grootmense so knorrig maak?

In die deel van die bergpredikasie wat ons vanoggend gelees het, noem Jesus drie goed wat ons in aaklige bere verander en veroorsaak dat ons nie die volheid van die lewe kan geniet nie.

Verwelkoming/groet

Toetrede

Lied 471 Soek allereers die koninkryk van God (sit)

Votum

Psalm 8

2Here, ons Here,

hoe wonderbaar is u Naam

oor die hele aarde,

hoe glansryk alles wat U

in die hemelruim geplaas het!

3Kinders en suigelinge besing

die magtige werk

wat U tot stand gebring het.

So word u teëstanders,

die vyande en wraakgieriges,

tot swye gebring.

4As ek u hemel aanskou,

die werk van u vingers,

die maan en die sterre

waaraan U ’n plek gegee het,

5wat is die mens dan

dat U aan ons dink,

die mensekind dat U na ons omsien?

10Here, ons Here,

hoe wonderbaar is u Naam

oor die hele aarde!

Seëngroet

Lofsang

Lied 385 Loof, loof die Here, dis volbring

Toewyding

In ons Skrifgedeelte vanoggend sê Jesus onder andere:

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; 2met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

3“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ’n balk in jou eie oog? 5Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.

12“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Verootmoediging

Vonkk 243 Laat my nooit die grond verlaat nie

Gebed

Skriflesing

Matteus 6:19-7:12

Inleiding

Horrible Bear deur Ame Dyckman, illustrasies Zachariah OHora

Preek

Ornery

Een van my gunsteling woorde, is die Engelse “ornery”, of selfs “cantankerous”,  maar veral ornery.  “Ornery” is die aaklige beer.  Dis wanneer iemand sommer mislik of knorrig is, suur en nukkerig.

Ouers sal dit goed ken.  Dit is wat gebeur wanneer kleintjies moeg raak, maar nie wil bed toe gaan nie.  Dan skree hulle oor alles en is moeilik oor alles, maar weier om die een ding te doen wat hulle sal help.

Maar wat is dit wat grootmense so knorrig maak?

In die deel van die bergpredikasie wat ons vanoggend gelees het, noem Jesus drie goed wat ons in aaklige bere verander en veroorsaak dat ons nie die volheid van die lewe kan geniet nie.

Angstigheid

Die eerste hiervan is angstigheid. Ons raak so angstig oor alles en nog wat, oor alles wat ons nié kan beheer nie, dat ons selfs die goed mis wat ons wél kan beheer.  Gestel bv jy is angstig dat jy ‘n iemand vir wie jy lief is, gaan verloor.  So jy klou so krampagtig aan hulle vas, dat jy hulle versmoor en in jou angstigheid juis die persoon wegdryf.

As jy die hele tyd angstig is oor die lewe, dan kan jy nie die ervaring van die lewe geniet nie.

So angstigheid is destruktief.  Dit beroof ons van lewe.

Maar Jesus wys ons na die blomme en die voëls.  God weet wat hulle nodig het.  God sorg vir hulle.  Hoeveel te meer, sê Jesus, sal God dan nie vir jou sorg nie.  Hoekom lê jy wakker?

Hoekom is ons dan so angstig?  Dalk is dit omdat ons weet dat God se sorg nie altyd lyk soos wat ons wil hê dit moet lyk nie.  Dat God se sorg nie ‘n waarborg is dat geen teenspoed ons ooit gaan tref nie.

Terwyl ek die hele week met hierdie teks gewerk het, was ek akuut bewus daarvan dat ek oor hierdie teks praat as iemand wat aan die begin van die jaar dwarsdeur die nag op ‘n sypaadjie gesit het en kyk het hoe alles, alles in vlamme opgaan.  Dat daar geen waarborge is nie.  Dat God se sorg nie ‘n buffer teen verliese en swaarkry is nie.

So ons leef saam met die kompleksiteit:  die realiteit van God se sorg, maar ook die wete dat God se sorg dikwels anders lyk as wat ons verwag of as wat ons sou wou.

En hierdie angstigheid is nie net op individuele vlak nie.  Dikwels raak dit ‘n kommunale, ‘n gemeenskaplike angstigheid.  Want angstige mense voel hulle moet kompeteer vir alles.  In so ‘n gemeenskap is daar wantroue, ‘n gebrek aan gemeenskap, geen onderlinge liefde nie, trek mense laer in hul eie groepe en is daar al meer en meer groepvorming en lyk versoening onmoontlik.

Totdat die groep ‘n ander persoon of groep vind, wat hulle dan identifiseer as die oorsaak van al hul probleme.  Al hul angstigheid word op daardie groep geprojekteer.  Maar dit neem nie die angstigheid weg nie!  Al wat dit doen, is om al die liefdeloosheid en groepvorming – en die angstigheid – te eskaleer.

Okay, so nou lyk die prentjie donker:  op individuele vlak is ons angstig, want ons is nie seker wat dit beteken dat God vir ons gaan sorg nie.  Gemeenskaplik is ons angstig en beskou ons alles wat nie “ons” is nie, as die vyand.  Ons is knorrige bere.

Maar Jesus gee ‘n alternatief vir hierdie angstigheid.  Hy gee ‘n lewe van geloof wat hy noem: die koninkryk van God en geregtigheid.  (Die 1983 vertaling praat van “die wil van God” eerder as geregtigheid, maar die teks praat eintlik van geregtigheid.)

So die alternatief gaan oor wat ons najaag.  Jaag ek my eie sekuriteit na, of jaag ek God se koninkryk en sy geregtigheid na.  Jaag ek my eie voordeel na, of beywer ek my daarvoor dat reg geskied.

Wanneer ek angstig op my eie welstand fokus, dan sien ek nie om na my bure nie en dan is ons almal in die moeilikheid.  Maar wanneer ons saam leer om op God te fokus, wanneer ons saam streef na die waardes van God se koninkryk, na ware geregtigheid, dan kan ons met mekaar saamwerk en deel.  Dan sien ons om na mekaar, eerder as om met mekaar te kompeteer.  Dan seën ons mekaar, eerder as om mekaar te vrees en te onderdruk.

En dis hoe ek persoonlik vanjaar God se sorg beleef het.  Nie in goed nie, maar in mense, in gemeenskap.  In Morag en Koot wat dwarsdeur die nag saam met ons op die sypaadjie kom sit het, terwyl ons huis afbrand.  In Nandi Joubert, een van ons ouderlinge, wat – terwyl ons nog daar op die sypaadjie sit – reël dat ons haar woonstel se sleutel kry som solank daar te gaan bly.  En so kan ek aanhou en aanhou.  Die een voorbeeld na die ander van hoe God mense gebruik het – julle – om  ons te versorg, ook fisies en materieel.  So al sou ek dalk eerder nie wou hê dinge moes gebeur het soos dit gebeur het nie – te midde van die verlies het God steeds gesorg.

Dis hoe dit werk op individuele vlak, maar ook  op gemeenskaplike vlak.  Wanneer daar onreg gebeur, hetsy sistemies of in dinge wat in ons samelewing gebeur, dan is dit ons taak om in te gryp, om om te gee, om te fokus op God se geregtigheid, te doen wat ons kan sodat die waardes van God se koninkryk al meer hier kan posvat.

Wanneer daar groepvorming is, of onversoendheid, dan werk ons doelbewus aan versoening en eenheid, want dit is hoe ons fokus op die koninkryk van God en sy geregtigheid.

As jy dink aan die sistemiese goed wat jou angstig maak:  onderlinge haat, rassisme, korrupsie, geweld, ekonomiese agteruitgang: Dan is ons taak om te fokus op die waardes van God se koninkryk, op geregtigheid.  Nie net op ons self en ons eie behoud nie.  En om ons dan te beywer vir daardie waardes.

So ja, God se sorg lyk dikwels anders as wat ons verwag.  Maar dit punt is: God sorg.  En God sorg dikwels deur ons vir ander.

Oordeel

Na angstigheid beweeg Jesus na die tweede probleem:  angstige mense raak veroordelende mense.  Hulle is so bang dat ander hulle oordeel, dat hulle die heeltyd ander oordeel.  En niemand is vry nie, want ons is die hele tyd besig om mekaar dop te hou en te probeer uitvang.

As Jesus se antwoord teen angstigheid is om eerste God se koninkryk en geregtigheid te soek, dan is Jesus se antwoord op oordeel om self-ondersoek te doen.

Eerder as om die splinters uit ander se oë te haal – eerder as om op ander se foute te fokus – kyk na die balke in jou eie oog.

En wanneer ons agterkom hoe broos ons is, hoe moeilik daardie balke in ons eie oë is, dan kan ons ook sagter na ander kyk.

Om nie te oordeel nie, beteken natuurlik nie dat ons nie onderskei nie.  Jesus maak dit duidelik: moenie pêrels voor varke gooi nie.

Maar die manier waarop ons dit regkry om nie ander te veroordeel nie, is deur altyd, sonder uitsondering, aan ander te doen soos wat ons wil hê hulle moet aan ons doen.  Deur ander te behandel soos wat ons behandel wil word.

Jy is geliefd

En dan bring Jesus ons terug na die kern van ons probleem, van ons knorrige beer-geid:  diep onderliggend aan ons angstigheid en veroordeling, is die feit dat ons nie besef hoe diep God ons liefhet nie.

Jesus nooi ons om te dink aan ‘n kind wat vir ‘n ouer kos vra.  Geen ouer sal tog vir ‘n honger kind ‘n klip of ‘n slang gee nie!  So as menslike ouers dan, met al ons gebrokenheid saam, kan weet om vir hul kinders te sorg….  dan kan jy mos maar op God vertrou.

Want jy is God se kind.  En God is lief vir jou.  En God weet wat jy nodig het.  En God sal vir jou sorg.

So volgende keer wat jy ‘n knorrige beer is, wat jy die koerant lees of radio luister of TV kyk of met jou bure gesels en angstig voel of wil veroordeel, onthou:  dis onnodig.  Jy hoef nie met hierdie krampagtige onsekerheid saam te leef nie.  Jy kan vry leef.  Want jy is regtig, regtig geliefd.  En dit beteken dat jy veilig is.

Al sit die bok aan die einde aan die vlieër se stert en kou en jy weet daar kom nóg uitdagings:  jy is God se kind.  God is lief vir jou.  Jou hemelse Vader weet wat jy nodig het.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 509 Op berge en in dale

Seën

Die Here sal julle seën

en julle beskerm;

die Here sal tot julle redding verskyn

en julle genadig wees;

die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

Respons

Lied 471 Halleluja Amen

balk, bekommerd, bekommernis, bergpredikasie, Die pad na lewe, lelies, matteus 6, matteus 7, oordeel, preek, Rethie van Niekerk, voëls

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.