Barmhartige Samaritaan Preek Lukas 10:25-37
Dis interessante tye waarin ons leef. Dit voel vir my ek kan nie bybly oor waaroor ek ontstoke moet wees nie. Eers is almal woedend oor ‘n dominee wat dit durf waag om liefde en solidariteit te betoon aan Moslems. Toe jy weer kyk, begin almal hul DSTV skottels vernietig. Ek het nog nie eers al die videos van verontwaardigde vernietiging klaar gekyk nie, toe dreig Moreletta Park om die NG Kerk te verlaat en almal baklei daaroor. En toe is daar ‘n Boer wat almal verwar met wat presies hy nou eintlik soek.
Verlede week die tyd sit ek en kyk hoe die verkiesingsluitslae stuk-stuk uitkom en een ding is duidelik: ons leef in ‘n samelewing wat al meer gepolariseerd raak. Wêreldwyd. Maar ook hier by ons.
Maar die Messias vertel stories van ‘n barmhartige Samaritaan.
Nou het ons natuurlik hierdie storie al te veel gehoor, dit te mak gemaak.
Amy-Jill Levine skryf dat ons geloof bedoel is om verdruktes te troos en gemaklikes te verdruk. In Engels: “to comfort the afflicted and to afflict the comfortable.” As ‘n mens m.a.w. na ‘n gelykenis soos hierdie luister en jy dink “Ja! Ek hou daarvan”, of, erger nog, dit daag jou nie uit nie, dan, sê Levine, het jy nog nie goed genoeg geluister nie. Dis veronderstel om jou ongemaklik te maak, om jou uit jou gemaksone te skud.
Verwelkoming/groet
Afkondiginge
Toetrede
Vonkk 243 Laat my nooit die grond verlaat nie
Votum
Klaagliedere 3:22-23 BDV
Seëngroet
Lofsang
Lied 334 “God is liefde!” juig ons harte
Lied 526 Afr, Latyn, Afr Waar daar liefde is
Wet
Lukas 10:25-28
Verootmoediging
Lied 250 (koor v2) Gods wet vra al ons liefde
Genadeverkondiging
Johannes 15:9-17
Geloofsbelydenis
Flam 5 Daar is geen grens
Gebed
Video
God’s story – the Good Samaritan
Inleiding
Ek wil vir julle vertel van hierdie vrou. Haar naam was Emily Hobhouse en sy was ‘n Brit – van Engeland af. Die ding is, sy het geleef in ‘n tyd toe die Engelse hier in Suid-Afrika kom oorlog maak het. Oorlog is altyd baie erg, baie wreed. En wat met hierdie oorlog gebeur het, is terwyl die boere gaan veg het in die oorlog, het die Engelse die boere vroue en kinders gevat en toegesluit in wat mense “konsentrasiekampe” genoem het. Konsentrasiekampe is soos tronke, maar dis eintlik maar net tente waar duisende mense, ook kinders en babatjies, woon. In die kampe is mense baie, baie sleg behandel. Hulle het nie kos gehad nie, nie seep nie. Dit was baie warm, of baie koud. Party mense sê dat daar in sommige van die kampe tot 50 kinders per dag dood is.
So Emily was van Engeland. Sy kom toe in Suid-Afrika. Nou moet jy onthou, sy is Engels. En die Engelse en die boere maak oorlog. Toe sien Emily hoe lyk dit in die kampe, hoe die mense – haar vyande – daar behandel word.
Nou sal ‘n mens dink sy sal lekker kry. Dis mos haar vyande! Maar Emily het gesê, “Nee! Dit kan nie so werk nie. Ons kan mense nie so behandel nie. Dit is nie reg volgens die Bybel nie.” En sy het begin werk om die omstandighede te verbeter. Sy het verslae geskryf, het vir die mense in Engeland gesê wat aangaan. Want sien, die mense daar het nie besef hoe erg die goed is wat hier gedoen word nie.
Toe die oorlog oor is, het sy vir lank in SA gebly om die mense wat deur die oorlog seergemaak is – die mense wat eintlik haar vyande moes wees – te help. Sy het vir jong meisies geleer weef en handwerk doen, sodat mense weer kon geld verdien.
So Emily het die mense gehelp wat eintlik haar vyande moes wees.
As ons vir Jesus dien, dan sê Jesus ons moet vir God lief wees – en ons moet vir ander mense lief wees. Party mense is maklik om lief te wees. Maar Jesus vra van ons om soos Emily te wees – om die mense lief te hê wat ander mense eintlik sê ons vyande is.
Interlude
Vonkk 200 Koor v1, gemeente v2-3 Daar Is ’n Verlosser
Skriflesing
Ons gaan nou die gedeelte in Lukas 10 bietjie meer in diepte saam lees. Maar ek wil julle gou eers herinner aan iets wat kort vantevore gebeur het, in Lukas 9:51-55
Lukas 10:25-37
25Daar was ’n wetgeleerde
Die wetgeleerdes was die mense wat die Torah – die wet van hulle tyd – permanent bestudeer en uit hulle kop geken het. Hulle was onder die indruk dat hulle hierdie hele wet nougeset nagekom het, onder andere deur hulleself “rein” te hou, deur bv. kontak te vermy met mense wat hulle gedink het “onrein” is.
wat aan Jesus ’n strikvraag wou stel.
Want sien, Jesus het mos hierdie reputasie gehad dat hy nie die wet ernstig opgeneem het nie. So hierdie wetgeleerde het dit as sy kans gesien om vir Jesus vas te trek.
Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”
26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”
27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand,
Hierdie is ‘n samevoeging van Deuteronomium 6:5, die sogenaamde “Shema” en Levitikus 19:18
en jou naaste soos jouself.”
Dit is Levitukus 19:18
28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”
29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”
30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ’n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval.
Hierdie was ‘n uiters berugte pad. Jerusalem is 2300 ft bo seespieël, terwyl die Dooie See, naby Jerigo, 1300 ft onder seespieël is. Binne net meer as 32km val die pad dus met 3600 ft. Dis nie wat dit gevaarlik gemaak het nie. Die draaie en rotse en nou paaie het dit die ideale plek vir rowers gemaak. In die 5de eeu het dit nog bekendgestaan as die “Rooi Pad” of die “Bloedige pad”. Selfs so onlangs soos 1930 het reisigers nog geskryf dat jy nie ná donker op dié pad gaan nie.
Hulle het hom kaal uitgetrek
Dis ‘n belangrike detail. In daardie dae het mense klere gedra wat hulle stam identifiseer. As hy kaal is, weet ons nie wie of wat hy is nie.
en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar ’n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook ’n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby.
Wat te verstane is! Dit kan ‘n lokval wees. Dalk is hulle haastig, het hulle afsprake waar hulle moet wees. In elk geval, die kans is groot dat hulle, as hulle aan die ou raak, onrein gaan raak. Hulle albei werk in die tempel. As hulle onrein is, sal hulle nie hulle werk kan doen nie.
33Maar ’n Samaritaan
Nou hierdie is ‘n groot twist in die storie.
Die Jode het destyds stories vertel om die geestelike elite – die wetgeleerdes en so – se beheptheid met die detail van die wet, te kontrasteer met die gewoon gesonde verstand van die gewone Jood op straat. Hulle het stories vertel van die priester, die Leviet en die Jood – soos wat ons vandag stories sal vertel van (ek weet nie), die boer, die Engelsman en Van der Merwe. Die punt is, hulle verwag van die derde karakter om ‘n Jood te wees. Dis hoe hierdie stories verloop.
Maar ‘n Samaritaan?! Daar was ‘n gesegde: Die enigste goeie Samaritaan is ‘n dooie Samaritaan. Gewoon net as ‘n Samaritaan se skaduwee oor ‘n Jood val, is daardie Jood onrein. Jode het nie deur Samaria gereis nie.
Die Samaritane was ‘n nasie van gemengde bloed. Toe die suiwer, goeie, godsdienstige Jode lank, lank gelede weggevoer is in ballingskap, was hierdie mense se voorsate die mense wat agtergebly het. En toe gaan staan vermeng het met die Babiloniese en ander koloniste. Toe die suiwer Jode terugkeer en begin om die tempel te herbou, wou die Samaritane help, maar die Jode het geweier. Die Samaritane het gereageer deur die bouproses te probeer ondermyn. Toe gaan staan bou hulle mos hul eie tempel op ‘n ander plek en bid op die heel verkeerde manier op die heel verkeerde plek. Hulle was ketters, g’n suiwer Jode nie.
In die Makkabese oorlog het die Jode die Samaritane se tempel vernietig.
Rondom die tyd wat Jesus gebore is, het ‘n groep Samaritane menslike beendere in die tempel in Jerusalem gestrooi, en sodoende die tempel ontheilig.
Hierdie is nie hoe die storie moet verloop nie!
wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.
Die woord wat hier vertaal word met “innig jammer gekry”, kom net op 2 ander plekke in Lukas voor. Een keer beskryf dit vir Jesus en die ander keer die pa van die verlore seun. Dit verwys dus elke keer na iets wat God nie, nie ‘n menslike emosie nie.
34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind.
Wat ‘n tipiese manier was om wonde in daardie tyd te behandel. Maar dit herinner ook aan godsdienstige rituele wat in die tempel gebruik is. Die Samaritaan se optrede verteenwoordig die ware godsdiens.
Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem en hom daar verder versorg.
Die naaste herberg sou in Jerigo wees – in die Joodse gebied waar die Samaritane glad nie welkom is nie! Nou, as ‘n Samaritaan met ‘n aangerande Jood by ‘n ander Jood aankom, dan sal jy mos nou aanneem dis daardie Samaritaan self wat die Jood so aangerand het! Jy weet mos van Samaritane!
35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’
Daar bestaan onsekerheid oor presies hoeveel dit was. Dit blyk genoeg te wees vir enigiets tussen twee weke of twee maande se versorging.
36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”
37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”
Let op: die wetgeleerde kan nie eers die woord “Samaritaan” oor sy lippe kry nie. Hy antwoord maar eerder so met ‘n ompad.
Dan kies die wetgeleerde ‘n interessante woord… “medelye”. Net soos “jammer kry”, is dit ook ‘n woord wat in die Nuwe Testament nét van Jesus gebruik word. Op een ander plek verwys dit na Abraham, wanneer die ryk man soebat vir genade in Lukas 16:24. “Medelye”, soos wat dit hier gebruik word, is ook iets wat God doen.
Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
Preek
Verdeeldheid
Dis interessante tye waarin ons leef. Dit voel vir my ek kan nie bybly oor waaroor ek ontstoke moet wees nie. Eers is almal woedend oor ‘n dominee wat dit durf waag om liefde en solidariteit te betoon aan Moslems. Toe jy weer kyk, begin almal hul DSTV skottels vernietig. Ek het nog nie eers al die videos van verontwaardigde vernietiging klaar gekyk nie, toe dreig Moreletta Park om die NG Kerk te verlaat en almal baklei daaroor. En toe is daar ‘n Boer wat almal verwar met wat presies hy nou eintlik soek.
Verlede week die tyd sit ek en kyk hoe die verkiesingsluitslae stuk-stuk uitkom en een ding is duidelik: ons leef in ‘n samelewing wat al meer gepolariseerd raak. Wêreldwyd. Maar ook hier by ons.
Maar die Messias vertel stories van ‘n barmhartige Samaritaan.
Nou het ons natuurlik hierdie storie al te veel gehoor, dit te mak gemaak.
Amy-Jill Levine skryf dat ons geloof bedoel is om verdruktes te troos en gemaklikes te verdruk. In Engels: “to comfort the afflicted and to afflict the comfortable.” As ‘n mens m.a.w. na ‘n gelykenis soos hierdie luister en jy dink “Ja! Ek hou daarvan”, of, erger nog, dit daag jou nie uit nie, dan, sê Levine, het jy nog nie goed genoeg geluister nie. Dis veronderstel om jou ongemaklik te maak, om jou uit jou gemaksone te skud.
Dalk moet ons vandag se gelykenis vertaal vir ons dag. Dan sal dit die storie wees oor die boer wat langs die pad lê na ‘n plaasaanval, en die Black First Land First aktivis wat verbygestap kom.
En dan sit hierdie storie heel anders in ‘n mens se keel.
Watter karakter is ek?
Hierdie storie verander, afhangend van waar jy jouself in die storie plaas, met wie jy identifiseer. Ek vermoed meeste van ons identifiseer op ons slegte dae waarskynlik met die priester of die Leviet. Op ons beter dae voel ons darem so bietjie soos die barmhartige Samaritaan.
Maar Lukas is ‘n boek van ommekeer, “reversal”. Dit draai heeltyd die wêreld soos wat ons daaraan dink, op sy kop.
Dalk is die punt van die Samaritaan dan juis… hy is nie ons nie. Die Samaritaan is die “ander”. Die vyand. Die buitestander. Die een wat ons uit ou. Die een vir wie ons bang is. Of die een op wie ons neersien. Die een wat ons so bietjie laat gril. Die een wat ons veroordeel. Die een wat ons dink nie in die kerk hoort nie.
Wie is die laaste mens op aarde aan wie jy sal wil dink as die “good guy”, die held van die verhaal? Die mens wat jy dalk wil bekeer, beheer, red… maar die mens wat jy beslis nooit ooit wil nodig hê nie?
Hierdie goed was in Jesus se tyd nie teoretiese goed nie. Die stryd tussen die Samaritane en Jode was beliggaam, eg. En vandag? Ek vermoed ons lyste van Samaritane is vandag selfs nog langer as in Jesus se tyd.
Met hierdie gelykenis daag Jesus ons uit om ons ‘n ander tipe wêreld te verbeel. Om te oorweeg dat iemand dalk méér kan wees as ons vooroordele. Jesus daag ons uit om ruimte te laat vir goddelike ingrepe, vir daardie goddelike verrassings wat ons verstaan van die wêreld en hoe die wêreld werk, vir altyd verander.
Dalk sal dit ons help, as ons aan die gelykenis dink, om onsself in die verhaal te plaas as die beseerde man. Die een sonder identiteit, anders as dat hy beseer en kaal is.
Want wanneer jy bebloed langs die pad lê, dan val jou vooroordele weg. Dan maak dit nie meer saak wie se hulp jy sou verkies nie, met wie se politiek jy saamstem nie, wie jy as “jou mense” beskou nie. Wat saak maak, is of iemand jou gaan raaksien en medelye gaan hê.
Jou naaste is die een wie se medelye vir jou skandelik is. Wat jou diepgewortelde vooroordele omkeer en jou skok met ‘n nuwe gesig van God. Wat genadiglik oor die antieke, bloederige skeidslyn stap en jou leer wat “barmhartig” beteken.
En dan… dan sê Jesus: Gaan maak jy ook so.
Dis eers wanneer ons onsself ingedink het in die posisie van die man langs die pad, wat deur die Samaritaan gehelp word – die boer wat deur die BFLF aktivis gehelp word – wat ons vir Jesus kan hoor.
Gaan maak jy ook so.
Hoe om ‘n Christen te wees.
Wat is die kern daarvan om ‘n Christen te wees?
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
Dis so eenvoudig. Dis nie rocket science nie.
As ek dan in enige omstandighede wil weet wat is die regte ding om te doen, hoe moet ek optree? Dis eenvoudig: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
En daar is nie handige klousules van mense wat nie ons naastes is nie, mense wat ons maar kan uitsluit, mense wat ons nie hoef lief te hê nie.
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Dit beteken óók jou Samaritane.
Dis nie rocket science nie.
Om te weet wát om te doen, dis eenvoudig.
Maar HOE? Nou dit. Dis kwantum fisika. Om sit reg te kry… om jou naaste lief te hê, as dit die mens aan die anderkant van jou vooroordele is. Weet jy wat? As jy dit self probeer doen, dan is dit onmoontlik. Jy kan dit nie doen nie.
DIS hoekom ons Christene is, en nie sommer maar net humaniste of nice mense nie. Want om te leef as ‘n Christen, is om:
die Here jou God lief [te] hê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
Daai twee hoort saam. Daar is mense vir wie ek nie uit my eie uit innig jammer kan kry of medelye mee kan hê nie. Ek kan nie. Daardie goed is wat God doen. Wat ek doen, is om vir God lief te hê. En wanneer ek dan mense of groepe op my pad teëkom wat net, regtig, Samaritane is – dan is ek lief vir God. Met my hele hart en met my hele siel en met al my krag en met my hele verstand.
En dan verander God my. Dan ontvang ek krag en liefde – wat nie myne was nie. Dan sien ek myself, en hoe nodig ek self daardie jammerte en medelye het. En dan kan ek dit deel. Ook met daai Samaritane!
Andrew Murray het gesê ‘n mens se verstand kan oortuig word om om te gee, maar nie om lief te hê nie. ‘n Verstand kan in omgee in redeneer word, maar nie in liefde in nie. Maar ‘n hart wat in Christus rus, is ‘n hart wat leer om lief te hê.
Julle moet in my liefde bly
Dis hoekom ek vanoggend Johannes 15 ook gelees het, waar Jesus sê: julle moet in my liefde bly.
Dis hoe jy ‘n Christen is. Deur vir God lief te hê. Deur in Jesus se liefde te bly.
Maak nie saak wát die lewe oor jou pad bring nie, dis wat jy doen: jy bly in Jesus se liefde. Met alles in jou, met jou hele hart en siel en verstand, met al jou krag. Bly in sy liefde.
En dan sal die Gees jou vorm en jou lei en help, sodat jy jou naaste kan liefhê soos jouself.
“Gaan maak jy ook so.”
Gebed
Dankoffer
Koor Vonkk 400 Op U verlaat ek my
Slotsang
Lied 530 Praat ek mense, eng’letale