Skip to main content

Author: Marlein van Deemter

Al wat van belang is – dagstukkies

Dag 1

Lees 1 Johannes 4:11

Ons is deur liefde geskape vir liefde.  Die lewe gaan dus nie oor besittings, posisie, invloed of selfs geluk nie.  Om God lief te hê en ander lief te hê, om liefde te gee en te ontvang – dis eintlik waaroor die lewe gaan.  Geen wonder nie dat Jesus sê:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  (Matt. 27:37-39)

Ongelukkig kom dit nie natuurlik vir ons nie – selfsug heers dikwels in ons harte.  Maar deur God se genade kan ons leer om te dien en ander lief te hê.  In die kerk, deur ons saam-leef met ander gelowiges, gee God se Gees vir ons ’n skool waar ons leer om lief te hê.  Erediensbywoning, kleingroepe, stiltetyd – hierdie is van die maniere wat ons groei in ware liefde.  Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.  God, wat liefde is, maak dit in ons en deur ons moontlik om ander lief te hê.

Continue reading

Luister-Leef – Fil. 1:27:1-4

Ons begin volgende Sondag, 7 Sept., met ’n nuwe reeks. Vir dié reeks gaan die kleingroepmateriaal ná die Sondag se erediens wees. Hierdie week se materiaal is gevolglik ’n oorsig oor ons Luister Leef reeks.

RUS

Ons sê ons gemeente verwelkom almal, luister na God, is en maak dissipels, gee om, reik uit en waag in die geloof. Watter een van hierdie waardes is jou gunsteling en hoekom?

HOOR

Lees Filippense 1:27:1-4.

1. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.

2. Hoe lyk ’n lewenswandel wat in ooreenstemming met die evangelie van Christus is? Kan jy aan ’n praktiese situasie in jou lewe op die oomblik dink waar dit vir jou ’n uitdaging is?

3. Dink terug aan die kwartaal se reeks tot dusvêr (kyk onder “Rus” vir die temas). Watter tema het vir jou die meeste beteken? Hoekom? Watter tema was vir jou die moeilikste? Hoekom? In watter een moet jy nog die meeste groei?

LEEF

• Waartoe roep God jou nou? Hoe gaan jy daarop reageer?
• Oorweeg om nog een persoon of gesin te nooi om by julle aan te sluit. Wie gaan julle nooi? Wie gaan dit doen?
• Bid vir die “Beter Saam” reeks wat Sondag begin.

25-31 Aug: Ons waag in geloof

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat jy bang was. Wat het jy gedoen? Wat het gebeur?

BYBEL LEES

Lees Hebr. 12:1-4

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Kyk na die voorbeelde van geloofshelde in Hebr. 11. Vertel vir mekaar wie julle geloofshelde is. Vertel ook wie julle “skare geloofsgetuies” is – die mense wat julle aanmoedig om te volhard in jul geloof.
  • Baie van die geloofshelde was dapper mense wat gewaag het in geloof: Abraham het die onbekende in getrek, Ragab het spioene weggesteek, ens. Waar het God al vir jou gevra om te waag in geloof? Wat was dit en wat het gebeur? Vra God dalk nou vir jou om te waag in geloof? Vertel vir mekaar daarvan.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Behoort julle gesin aan ’n kleingroep? Indien nie, oorweeg om van 7 Sept. vir die komende paar weke in te skakel by een van ons 40 Dae van Gemeenskap groepe. Kontak die kerkkantoor of bly Sondag na die erediens agter.

GESEËN OM TE SEËN

Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Is daar iets spesifiek waaroor iemand in jul gesin tans die Here se wil soek? Bid saam daarvoor en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

HuisGeloof 18-24 Aug: Ons Reik Uit

OMGEE GESPREKKE

Ouers, vertel vir die kinders hoe julle die Here leer ken het. Was daar ’n volwassene wat ’n groot rol gespeel het in jul geloofsontwikkeling? Wie was hulle en wat het hulle gedoen? Vertel daarvan.

BYBEL LEES

Lees Filippense 1:12-14

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Paulus praat oor die tyd wat hy in die tronk was. Al was dit sleg, het God dit gebruik, sodat ander mense God se kinders kon word. Lees daaroor in Handelinge 16:22-32. Wat het Paulus in die slegte omstandighede gedoen wat “die verkondiging van die evangelie bevorder” het?
  • Watter slegte goed is daar nou in jou lewe? Kan God dit gebruik sodat ander mense vir God leer ken? Wat moet jy doen in hierdie slegte omstandighede van jou sodat mense vir God kan leer ken?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Sondag is Nagmaal! Ouers, gesels met jul kinders oor wat die Nagmaal beteken en hoe ons daaraan deelneem. ’n Boekie met riglyne vir so ’n gesprek is beskikbaar by die kerkkantoor of laai dit hier af.

GESEËN OM TE SEËN

  • Skryf vir een van ons gemeente se sendelinge ’n brief (kry hul kontakbesonderhede by die kerkkantoor). Hoe kan julle hulle nog ondersteun?
  • Ken julle iemand wat nie die Here dien nie? Gesels oor hoe julle na daardie persoon kan uitreik.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Is daar iets spesifiek waaroor iemand in jul gesin tans die Here se wil soek? Bid saam daarvoor en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.