• Lees Romeine 12:2 en gesels oor wat julle opval of aanspreek in die teksgedeelte.
• Daar is ’n uitdrukking: “Jy is wat jy eet”. Gesels oor hoe dít wat jy insit, bepaal wat jy uitkry. Hoe kan ons dit van toepassing maak op ons lewe saam met God?
Gewoontes en Gebruike
Watter geloofsgewoonte beoefen julle gesin gereeld saam? Bv. huisgodsiens, kerk toe gaan, saam bid. Hoe gaan julle hierdie kwartaal daardie gewoonte inoefen?
Oorweeg om vir hierdie kwartaal by ’n selgroep aan te sluit. Of kry ’n paar vriende bymekaar en begin ’n nuwe selgroep!
Geseën om te seën
Hoe gaan julle gesien hierdie week ’n verskil maak aan iemand anders se lewe?
As julle by die Feesweek was aan die begin van die vakansie, vertel vir jul ouers van die monkey dance – en leer dit vir hulle! Kry die musiek en bewegings hier.
BYBEL LEES
Lees die verhaal van Dawid wat die Ark na Jerusalem neem: 2 Samuel 6:12b-15
Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels. Ouers herinner kinders dat hierdie ’n ander ark is as Noag s’n. Die ark van die verbond het mense herinner dat God by hulle is. Google prente van die ark. Kyk hoe Dawid en die mense vir God geloof het!
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Sing hierdie week elke dag een van jul gunsteling lofliedere saam! Julle kan gerus ook hierdie liedjie leer en saam sing.
GESEËN OM TE SEËN
Watter sendeling(e) ondersteun jul gesin? Bid vir daardie sendeling.
Gesels oor treur en rou. Ouers kan kinders help om te verstaan wat dit is deur te gesels oor iets wat die kinders onlangs hartseer gemaak het. Ouers kan ook self vertel van ’n verlies waaroor hulle gerou het.
BYBEL LEES
Lees 2 Samuel 1:17-27
• Herinner mekaar eers aan die agtergrond van die gedeelte. Kyk by die kleingroepmateriaal om jul geheue te verfris.
• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
• Dawid en Jonatan was baie goeie vriende. Gesels met mekaar oor vriendskap. Wie is julle vriende? Wat maak van iemand ’n goeie vriend?
• Julle kan ook gesels oor die sterk gevoelens wat ’n mens beleef wanneer jy hartseer is. Ons mag maar hartseer wees – kyk hoe hartseer was Koning Dawid. Wat kan ’n mens doen wanneer jy hartseer is? (Bv. Dawid wat stories vertel oor die mense oor wie hy hartseer is – herinneringe deel.)
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Ken julle iemand wat hartseer is? Gaan maak ’n draai by daardie persoon en luister na hulle.
GESEËN OM TE SEËN
Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.
Vertel vir mekaar wat jou bang maak. Wat help jou om dapper te wees, al is jy bang?
BYBEL LEES
Lees Haggai 2:1-9
Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
Wat gaan mamma doen as jy eerder speel en nie jou kamer reg pak soos wat sy gevra het nie? God het vir sy volk gesê om sy tempel (hul kerkgebou) weer te bou (dit is lank gelede in ’n oorlog vernietig). Maar vir 19 jaar lank het hulle gedraai en eerder hul eie goed gedoen. Toe hulle uiteindelik weer begin, was dit baie moeiliker as wat hulle gedink het. Hulle was skoon moedeloos! Kyk weer in verse 4 en 5 hoe God reageer.
Wat beteken “skep moed”?
God belowe dat hy by ons is. Hoe kan dit jou help om nie bang te wees nie?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Bid vir die Christene in die Midde-Ooste. Mense is baie lelik met hulle omdat hulle vir Jesus dien. Bid dat hulle sal dapper wees, sal moed skep. Gee ’n geloofsoffer bydrae vir een van ons sendelinge se werk. Ons sendelinge help o.a. hierdie mense deur hulle te herinner dat God by hulle is, sodat hulle nie bang sal wees nie.
GESEËN OM TE SEËN
Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge
Partykeer moet ons vir mense goed sê wat moeilik is – soos wanneer ons ouers met ons raas. Vertel vir mekaar hoe dit vir jou voel wanneer iemand so iets vir jou sê.
BYBELLEES
Lees Johannes 18:1-11
• Terwyl iemand die verhaal lees, probeer dit in jou gedagtes sien gebeur. Laat elkeen hulleself in die verskillende karakters probeer inleef: Judas, die wagte, Jesus, Petrus, die slaaf. Nadat julle gelees het, laat elkeen vertel hoe hulle dink hulle karakter gevoel het soos die verhaal afspeel.
• Jesus weet presies wat aangaan en hy probeer nie maak asof dinge anders is as wat dit is nie. Hy praat die waarheid sonder om lelik te wees. Oor watter goed moet ons die waarheid praat, al is dit moeilik? Is daar goed waaroor ’n mens maar eerder (dalk t.w.v. ander se gevoelens) nie die waarheid moet praat nie?
• Hoe kan ons moeilike goed vir mense sê op ’n manier wat hulle nie seermaak nie? Probeer aan spesifieke voorbeelde dink.
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Ons is ’n Gereformeerde Kerk. Herinner mekaar wat dit beteken deur te vertel wat julle glo. Sê saam die Geloofsbelydenis op.
GESEËN OM TE SEËN
• Dink na oor die manier waarop jy moeilike goed vir mense sê. Hoe kan jy dit doen sodat ander mense daardeur beleef dat jy hulle lief het?
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge en vir die sendeling wat julle gesin ondersteun.
We use cookies and similar technologies to improve your experience on our website.
Read our Privacy Policy.