Skip to main content

Rut 1:15-19 – Om met Toewyding te leef – 29 Nov 09

29 November 2009

Teks:  Rut 1:15-19

Rut – om met toewyding te leef

1.      Die verhaal

Die verhaal van Rut klink met die eerste lees eenvoudig.  Die verhaal van Naomi en Elimelek begin in Betlehem tydens ’n hongersnood.    Om sy familie te red, is die enigste opsie vir Elimelek om oorkant die Jordaan, in die land van ’n vyandige volk te gaan bly.  So het dit gekom dat Naomi en Elimelek en hulle twee seuns, Maglon en Kiljon, vir 10 jaar gelukkig in Moab gewoon het.  Die seuns  het groot geword en hulle het elkeen met ’n Moabitiese meisie getrou, Rut en Orpa.  Maar dan gebeur die hartseer –  eers sterf Elimelek en dan sy een seun en daarna die ander seun ook.  Dit laat die drie vroue sonder sorg en in ’n baie benarde posisie.  En vir Naomi is dan ook nog in ’n vreemde land.  En dan besluit sy dat dit die beste vir haar sal wees om terug te gaan Bethlehem toe waar daar nog ’n stukkie grond was wat aan haar behoort het en waarop sy dan in haar bejaardheid ’n nuwe lewe kan begin.

En verder, al was sy so afhanklik van haar twee skoondogters, want die jonger geslag moes vir die ouer geslag sorg, stel sy hulle vry van enige verpligting.  In hulle eie land van herkoms kan hulle miskien weer in die huwelik tree, terwyl hulle Betlehem vreemdelinge sou wees.  Orpa maak van die aanbod gebruik.  Maar Rut nie.

2.       Die betekenis daarvan vir ons

Dit is ’n eenvoudige vertelling.  En tog, ʼn verhaal wat van vele kante af bekyk kan word en waarin daar kan ’n verskeidenheid van waarhede ook vir ons lewe gevind kan word.  Die verhaal doen iets vir vroue – in ’n tyd waarin die status van vroue nie baie hoog was nie.  Die hooffigure is twee baie moedige vroue.  Maar dit is nie al nie.  Rut is ook ’n Moabiet.  Dit is veelseggend.  Sy is uit ’n heidense nasie.  Maar nog meer belangrik.  Sy is die oumagrootjie van Koning Dawid!  ’n Koning na God se hart kom uit ’n geslag in wie se are ook heidene se bloed vloei!  En dan is daar ook nog die tema van medemenslikheid, mededeelsaamheid, sorg en omgee vir ander wanneer ons na Boas se optrede gaan kyk.  En uiteindelik is dit ’n storie van geloof en hoop!

3.       ’n Voorbeeld van Toewyding

Maar ons wil nie vanoggend op een van hierdie(baie belangrike) fasette fokus nie.  Ons wil na ’n ander belangrike element kyk, naamlik die verhouding tussen Naomi en Rut.  Die verhouding tussen die twee skoondogters en hulle skoonma word met mekaar gekontrasteer.  Vir Orpa, al was sy miskien hoe lief vir haar skoonma, daar kom ’n oomblik dat sy besluit dat sy liewer haar eie pad moete gaan.  Sy draai om om terug na Moab toe te gaan.

Maar met Naomi is dit anders.  Sy sê: 

“Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17 waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

Dit noem ’n mens ’n totale oorgawe, ’n verbondenheid, ’n toegewydheid.  En dit is hierop waarop ons vanoggend wil fokus.  Ons wil vanoggend vir Rut as ’n voorbeeld gebruik, ’n voorbeeld van toewyding.  En in ons geval, toewyding aan God.

4.       ’n Belangrike kenmerk van alle naby verhoudings

Is ʼn algehele toewyding, ’n algehele oorgawe, nie ’n belangrike element van alle naby verhoudings nie?  Is dit byvoorbeeld nie ook so van ’n huweliksverhouding nie?  Sou ’n huweliksverhouding waarin ’n mens baie duidelik weet jy en jou belange weeg nie baie swaar vir jou lewensmaat nie, werklik gelukkig en vervullend kan wees?  Of is hierdie verbondeheid, hierdie oorgawe juis dit wat ’n huweliksverhouding diep bevredigend maak?

Om halfhartig in so ’n verhouding te wees, moet die verhouding baie moeilik en onbevredigend maak.  Om die hele tyd voor te gee dat die ander persoon vir jou belangrik is en dat jy op die ander se belange gefokus is, moet uitputtend wees.  Jy sal die hele tyd so versigtig moet wees!  Aan die ander kant, as jy heelhartig, eg in so ’n verhouding is, dan is  dit maklik, ongekompliseerd en juis emosioneel bevredigend.  Jy hoef nie voor te gee nie, jy kan dood gewoon doen soos jy voel om te doen.

Het jy ook al gewonder hoekom God so alles van ’n mens vra?  Hoekom is Hy nie met ’n bietjie minder as alles tevrede nie?  As ek baie van myself gee, behoort dit ook mos al goed genoeg te wees!   Maar sien:  God vra alles, want Hy vra ’n egte verhouding.   Soos in ’n huweliks-verhouding vra Hy ook om die enigste Een te wees, deur dik en dun, deur voorspoed en teenspoed.  Hy vra ’n totale oorgawe, ’n totale toewyding.  Luk 16:13 is hieroor baie duidelik:  Julle kan nie God én Mamon dien nie.  Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep.

Die Here het ook geweet dit is van ons kant af gesien, die enigste moontlikheid om ’n bevredigende verhouding met Hom te hê.

Hierin lê heel moontlik die oorsaak dat sommige mense ophou glo.  Hulle verwagtings word teleurgestel.  Hulle verhouding met God het minder opgelewer as wat hulle verwag het.  As ’n mens byvoorbeeld wonder oor die rede hoekom Judas opgehou het om ’n navolger van Jesus te wees en liewer gekies het om Hom te verraai, dan wonder ek of dit nie teleurgestelde verwagtings was nie.  Judas het uiteindelik in sy verhouding met Jesus nie gekry wat hy gesoek het nie.  Maar het hy homself heeltemal vir hierdie verhouding met Jesus gegee?  As iets heeltemal beslag op jou lê, dan is geen opoffering te veel nie, dan is geen inspanning te veel nie.  Jy doen dit omdat jy dit wil doen, met jou stokperdjies, in die huwelik, maar ook in jou verhouding met die Here.

5.       God doen dit in ons

As ’n mens in jou eie krag moet probeer om ’n ander lief te hê, of ’n bietjie liewer te hê, gaan jy nie baie suksesvol wees nie.  Liefde is ’n reaksie op dit wat die ander persoon is en doen.  En die wonderlike is, in ons verhouding met die Here werk dit ook so.  Ons kan maar net op Hom reageer!  In hierdie verband is dit weer belangrik om te onthou hoe die Here teenoor ons is, en ook doen.  Hy kom verbind Hom aan ons deur sy verbond, deur die beloftes van liefde en trou wat Hy teenoor ons maak.  Hy gee Jesus Christus om ons te kom verlos, Hy stuur sy Heilige Gees om in ons te kom woon om ons van binne af te verander.  Die Here se genade gaan dus altyd ons geloofsreaksie vooraf.  Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes (1 Joh 4:9-10).  Die Here verbind Hom so aan ons, hierop kan ons maar net reageer deur te stamel:  Vir so ’n Heer gee ek myself, dag vir dag, keer op keer, met blydskap!

’n Lewe van toegewydheid aan God – dit is waarvoor ons geskep is, dit is die enigste moontlikheid wat kan bevredig, wat egte geluk kan bring.

Amen

Filippense 3:12-14 – Paulus: om met passie ‘n doel na te streef – Son 22 Nov 09



Paulus – Filippense 3 – om met passie ‘n doel na te streef

Vooraf

10 minute video clip van 6 wêreld rekords van Usain Bolt – eer aan God!

CD van Almal hier tesaam (Retief Burger)

Verwelkoming

  • Begin met ‘n storie wat my bly maak:
    • Dankoffer inkomste staan al op R332000 vir die maand November, met vandag en volgende Sondag nog oor!
    • Kerkraad, ouderlingeraad en finansies kommissie het ‘n meningsopname goedgekeur Maandag wat in die volgende paar weke deur die hele gemeente geneem gaan word. Ons kan daarin ons mening oor die eredienste, die kleingroepe en ander sake in die gemeente uitspreek, sowel as ons commit vir betrokkenheid by die verskeie kleingroepe en ook vir die begroting vir volgende jaar.
    • Intense plesier in my stiltetyd en die Bybelskool.
  • Wat maak jou bly?
  • Vertel vir mekaar.

Votum en Seëngroet

  • Blydskap oor saamwees en oor God se teenwoordigheid

Lofprysing

  • Een prentjie van God wat baie keer in die Bybel voorkom, is dat Hy bly is oor ons.
  • Gen 1 – God het gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.
  • Job 1:8 – Sy gelyke kry jy nie op aarde nie.
  • Jes 43:1 – Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

Liedere

  • Ek is so bly
  • Loof Hom met die tromme
  • Alle volke klap jul hande (547)

Reflekteer

  • Kom ons gaan ‘n bietjie dieper in op hierdie blydskap.
  • Wat fassineer jou?
  • Wat neem jou heeltemal in beslag?
  • Verhale vertel van navorsers
    • Robert Evans, ‘n predikant in die Blue Mountains van Australië. 80 km wes van Sydney, doen ‘n uitsonderlike ding. Hy het ‘n groterige teleskoop en het die ongelooflike vermoë ontwikkel om dooie sterre te ontdek. Hy soek vir Supernovas. Dit is sterre, baie groter as ons eie son, inmekaar stort en dan op ‘n skouspelagtige manier ontplof. Dit is soos ‘n triljoen waterstof bomme wat tegelykertyd afgaan. As so iets binne ‘n 500 ligjare van ons af sal gebeur, is die aarde en die sonnestelsel daarmee heen. Maar, die meeste hiervan is gelukkig so ver van ons af dat dit net ‘n opflikkering in die hemelruim is. So vir ‘n maand is hulle sigbaar, dan verdwyn hulle weer. En dit is dié supernovas wat Robert soek en vind.
    • Dit is ongelooflik moeilik – as jy ‘n tafel vat met ‘n swart doek op en jy gooi ‘n handvol sout daaroor, dan het jy galaksie, ‘n sterrestelsel. Nou dink só daaraan: as jy nog 1500 tafels langs mekaar sit met ‘n handvol sout op elkeen, en jy vat een korrel sout en jy sit dit op een van die 1500 tafels, en laat Robert Evans daar verby loop – dan sal hy dit optel!
    • Daar is niemand in die wêreld wat dit kan doen nie! Praat van wêreldrekords! Hy het reeds 36 opgespoor teen 2003 in net meer as 20 jaar (1980 begin). (A short history of nearly everything – Bill Bryson)
  • Vertel mekaar wat is jou passie?

Kinders

  • Teken ‘n prent oor iets wat jou bly of opgewonde maak. Die ding waarvan jy die meeste van hou.
  • Julle kan dit na die tyd vir my kom wys.

Deel in die kerk

  • Vertel vir die groter gehoor.
  • Dit is so belangrik dat ons mekaar ‘n platform gee om te deel wat die Here nou besig is om te doen.

Liedere

  • Ek is bly ek ken vir Jesus (553)
  • Waar daar liefde is (526)
  • Majesteit (175)

Skriflesing

  • Filippense 3:12-14

Woordverkondiging

Ek dink ek kan

Die kinders moet nou mooi luister:

Ken julle die verhaal van The Little Engine That Could – Die klein lokomotief wat kon.

Dit is die storie van ‘n klein treintjie, ‘n lokomotief, wat baie kleiner as die ander treine was.  Die ander treine was groter en sterker en kon baie meer trokke trek tussen die groot stede en op en af met die heuwels.  Die klein treintjie is vir kleiner werkies gebruik soos om ‘n paar trokke in die stasie self rond te trek.

Eendag het een van die groter lokomotiewe gebreek terwyl dit ‘n groot klomp trokke met speelgoed teen ‘n heuwel uitgetrek het.  Die kinders aan die ander kant van die heuwel wou baie graag hulle speelgoed hê, maar hoe nou gemaak.  Die enigste trein wat kon help was die klein lokomotief.  Maar sou hy dit kon maak? Was hy nie net te klein nie?

Selfs die klein lokomotief het getwyfel.  Maar dan probeer die klein treintjie tog om die trokke met speelgoed oor die heuwel te trek.  En soos hy stadig uitbeur teen die heuwel, sê hy vir homself, “Ek dink ek kan, ek dink ek kan, ek dink ek kan.” Absolute commitment.  Wonderlike moed.  Geweldige inspanning.  “Ek dink ek kan, ek dink ek kan, ek dink ek kan.”  Absolute passie.  Hy gaan nie die seuns en dogters in die steek laat nie.  “Ek dink ek kan, ek dink ek kan, ek dink ek kan.”  En stukkie vir stukkie beur die klein lokomotief teen die heuwel uit en maak dit sowaar!

En terwyl die klein lokomotief teen die anderkant afry, sê hy: “Ek weet ek kan, ek weet ek kan, ek weet ek kan.”  Sy passie en durf het hom deurgetrek en laat slaag.  En die kinders kon hulle speelgoed kry.

Om met passie ‘n doel na te streef

Ons hou van sulke heldeverhale, van mense wat dit maak, van ‘n Usain Bolt wat 6 wêreld rekords in ‘n kort tydperk breek en ‘n Robert Evans wat 36 supernovas ontdek.

Ook in die kerk – ons eer die nagedagtenis van ‘n Andrew Murray, en ‘n Hudson Taylor, en ‘n Maartin Luther, en die grootste van hulle almal, Paulus.

Daar is niemand wat meer gedoen het dat die evangelie oor die aardbol versprei as Paulus nie.  Hy was ‘n intense gedrewe man.  Niks of niemand kon hom onderkry nie.

  • Met sy reuse intellek was hy enige tyd die beste redenaars van die tyd se gelyke.
  • Met sy indringende fokus op die opbou van gelowiges, het hy die mindset van gelowiges vir altyd verander.
  • En oral waar hy kom het hy die politiese en kulture grense na dié wat anders was, oorgesteek.
  • Hy het gepreek, geskryf, gereis, die magte en kragte uitgedaag, wonderwerke gedoen, en die wêreld verander.
  • En dit, terwyl hy male sonder tal geslaan is, verwerp is, in die tronk gegooi is, skipbreuk gely het, deur slange gepik is, honger gely het, en die swakheid van mense om hom moes verdra.

Hy het passie gehad.  Hy  het alles ingesit en alles gegee. En dit alles om sy doel te bereik: om Christus te ken, en mense te help om Christus te ken.

As hy hier aan die einde van sy lewe in die tronk in Rome sit en vir die Filippense skryf, geleerdes raai dat dit in die lente van 60 nC was, dan kan hy ook soos die klein treintjie sê: “Ek weet ek kan, ek weet ek kan, ek weet ek kan.” Want hy het al 27 jaar lank die pad geloop, en die hele bekende wêreld van daardie tyd is met die evangelie bereik.  Drie groot sendingreise, ‘n groot aantal nuwe gemeentes, meer as die helfte van die Nuwe Testament geskrifte geskrywe.  Met een woord, verstommend.

Passie is ononderhandelbaar

Kyk, daar is niks so sleg as ‘n passielose lewe nie.  Dit is nog erger as dit waar is van leiers, hetsy in ‘n gemeente of in die besigheidswêreld of in die gemeenskap.  Dit is nie net oninspirerend nie, dit suig die inspirasie uit jou dat jy in mekaar krimp soos ‘n leë Liquifruit boksie.

Tog interessant dat dit juis God is wat ‘n hele paar keer in die Skrif hieroor sy keel skoonmaak, by wyse van spreke.  In Openbaring 3 sê hy bv. vir die gemeente van Laodisea: “Ek weet alles wat julle doen.  Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie.  As julle tog maar koud of warm was!  Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” (:15-16)  (Johannes het vermoedelik die omgewing geken en weet dat daar sowat 10 km weg in die buurt van Hiërapolis ’n warmbron was waarvan die water afgevloei het na Laodisea. Die mense het geweet van die lou water wat walglik is om te drink. ’n Mens spoeg dit liewer uit.)

‘n Doel is eweneens ononderhandelbaar

Maar, weet jy, passie sonder ‘n doel, is net so sleg.  Dis soos ‘n groot motorfiets enjin op ‘n garagevloer.  Jy kan hom so hard rev as wat jy wil, maar vorentoe sal hy nie gaan nie.

Daarom is dit so krities om te onderskei tussen dit wat belangrik is en dit wat onbelangrik is, tussen dit wat ‘n lofwaardige doel is om na te streef en dit wat dit nie is nie.

En hieroor kan ons baie leer by Paulus.

Hy kyk terug op alles wat deel van sy lewe was tot hier in Rome.  En hy besef, daar is dinge wat lofwaardig was en ander wat dit nie was nie.  Daar is dinge wat belangrik is en daar is dinge wat nie belangrik is nie.

En die interessante is, daar is baie dinge aan die onbelangrike kant, en eintlik net een ding aan die belangrike kant.

  • Hy beskou bv. sy afkoms en herkoms as waardeloos. En onthou, hy kom uit die stam van Benjamin, uit wie die eerste koning gekom het. En met die skeuring van die ryk na Salomo, het Benjamin saam met Juda getrou gebly aan Dawid se nageslag. Dit is ook net dié twee stamme se mense wat na die ballingskap teruggekom het na Israel toe. Maar Paulus ag dit as waardeloos.
  • Ditto sy religieuse opleiding. Hy het van die beste opleiding gehad wat beskikbaar was en daarin het hy ook uitgeblink. Maar hy beskou selfs dit ook as waardeloos.
  • Ditto sy onberispelike lewe. Hy was die Jood der Jode, en hy beskou dit as waardeloos.

Wat is dan vir hom aan die belangrike kant?  Net een ding: Hy beskou Christus as die enigste regtige bate.  Vroeër in die hoofstuk skryf hy hieroor, die enigste ding wat van waarde is, die enigste ding wat hy met sy hele lewe najaag, die enigste doel wat die moeite werd is, is :

  • Om Christus te ken,
  • Om die krag van sy opstanding te ondervind – om sy lewe deur jou te voel bruis,
  • En deel te hê aan sy lyding – om te wees waar Jesus is, by die mense wat nood ervaar, by die mense wat verguis word omdat hulle Jesus dien,
  • In die verwagting dat hy self die opstanding uit die dood sal ervaar – om soos Jesus by God te wees en vir ewig die vreugde van kindskap te kan vier.

Dis wat Paulus bedoel as hy sê, hy het ervaar dat God hom roep na die wenstreep in die hemel, en hy het besluit om dit met alles in hom na te jaag – om Christus te ken en Hom aan ander bekend te stel.  Dit was sy passie, en dit was sy doel, om die lewe Christus te maak.

Ek verbeel my nie dat ek alles al het nie

Maar – dan sê Paulus hier ‘n verdere belangrike ding – “Ek sê nie nie dat ek dit alles al het nie.”  En hy herhaal dit: “Ek verbeel my nie dat ek alles al het nie.”

Paulus sou hier met reg kon sê, ek het die goeie stryd gestry, ek het bereik wat ek kon, ek het ‘n nalatenskap, ek kan nou rustiger wees hier in die tronk, terwyl ek wag vir die einde.

Nee, die vlam brand nog te sterk, daar is nog meer om te leer, daar is nog meer om te doen, daar is nog meer om te ervaar.

Hy sê selfs: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.”  Dws, selfs die goeie dinge wat gebeur het, die goeie dinge wat bereik is, kan nooit die einde wees van ‘n passievolle lewe gemik op Christus nie.  Ek maak my los en strek my uit na wat voorlê.

Die verlede is altyd minder belangrik as die hede, en nog minder belangrik as dít wat in die toekoms wag.  Dit is soos Usain Bolt – met elke rekord is die vorige een vergete: 9.71; 9.69; 9.58.  Waar gaan dit eindig?  Ons weet nie, maar “Ek strek my uit na wat voor is.”

Wat is ons passie en ons doel as individue en as gemeente?

Dit laat my vra: hoe is dit met my en hoe is dit met jou?

  • Persoonlik – wat is daar wat ek belangriker ag as Christus? Indien dit my afkoms is – dan moet ek die belang wat dit vir my het, laat los. Indien dit my opleiding is – dan moet ek die belang wat dit vir my het, selfs die trots en die waarde wat ek daaraan heg, laat los. Indien dit my onberispelike lewe binne ‘n sekere gemeenskap is – dan moet ek dit herwaardeer. Om Christus te ken oortref alles. Alles is minder belangrik as Hy.
  • Gemeenskap – waar lê ons lojaliteit regtig, aan Christus, en daarom aan sy volgelinge, of aan die groep wat soos ons groot geword het en aan dieselfde tradisies vashou? En laat ons maar eerlik wees – daardie lojaliteite is baie keer subtiel. Hoe ouer ‘n mens ook word, hoe vaster klou jy aan sekere maniere van doen. Dit raak later vir jou soos die evangelie. En dan hou ons vas aan kleredrag en vorme van musiek, en is iemand wat anders aantrek en van ander musiek hou, benede ons, of anders as ons.

As gemeente het ons ‘n visie geformuleer, en dit is nou maar eenmaal so – visie lek.  As ons mekaar nie gedurig daaraan herinner en gedurig weer onsself daaraan verbind nie, dan verswak ons commitment daaraan:

  • Om met vreugde te lewe en met liefde te dien vanuit ‘n vaste geloofsverbintenis aan Jesus Christus ons Hoof.

Hoe doen ‘n mens as gemeente dit?

Rick Warren sê:

  • Programmeer jou doelwit in die lewe
  • Rus mense toe vir die doelwitte
  • Stig kleingroepe om die doel te bereik
  • Stel personeel aan om daardie doel te bereik
  • Skep strukture om daardie doel te bereik
  • En evalueer telkens alles aan hoe die doel bereik word.

Ons is pas deur ‘n groot proses om ‘n gemeenteplan vir volgende jaar op te stel.  Die kerkraad oorweeg dit oor ‘n week.  Daarna gaan ons ‘n implementeringsplan opstel en doelgerig begin uitvoer: eredienste, kleingroepe, besoekwerk.

En daar kom ‘n meningsopname wat ons baie gaan help daarmee.  Ouderlinge en lidmate gaan binnekort by julle besoek kom aflê om die vraelys te laat invul.  Ons beoog om teen 11 Desember die inligting te kan begin verwerk in samewerking met die universiteit.

En die doel: om met vreugde te lewe, en met liefde te dien, vanuit ‘n vaste geloofsverbintenis aan Jesus Christus ons Hoof.  Ons wil Hom ken, en Hom dien, en Hom in liefde aan mense bekend stel.  Niks anders is belangriker as dit nie.

Die kruks is – Christus Jesus het my reeds Syne gemaak

Ek sluit af met die kruks van die gedeelte, die hart van alles wat Paulus oor sy passie en sy doelwit om Christus te ken, sê.

En nou moet jy mooi luister, want ‘n mens mis dit maklik in die bruising van jou passie: Belangriker as sy passie en sy ywer om Christus te ken en Hom bekend te maak, is die rede waarom Paulus dit doen, sy motivering.  Dit is eintlik die groot geheim van die Christelike lewe.

Paulus sê hier in vers 12: “Ek span my in om dit alles myne te maak OMDAT Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Hy gebruik die woordjie lambano, gryp, om dit uit te druk – Hy leef met passie om Christus te ken, omdat Christus hom gegryp het.

Dit was dus nie iets in homself nie, dit was nie ‘n spesiale eienskap waarop hy sou kon roem nie … dit het van God af gekom.  Soos hy sê hier, ek span my in, omdat Christus my Syne gemaak het.  Ek gryp daarna, omdat ek gegryp is.

Hoe hardloop jy jou wedloop?

As jy na jou eie geestelike lewe kyk, hoe hardloop jy jou resies?

Daar is ten minste drie moontlikhede (uit Bybel in Praktyk).

(1)   Jy hardloop gemaklik, rus-rus, effens doelloos. Jy het jou eie momentum, en jy geniet die afdraande. Jy sê vir jouself: Christus het aan die kruis vir my gesterf, en ek gaan gereeld kerk toe. Alles is pluis, ek kan voortgaan met my lewe.   Maar jy stap teen die opdraendes en jy sorg dat jy wegkom met die minimum.  Geen kleingroep byeenkoms, niks nuuts wat jy leer by die baie geleenthede wat ons aanbied nie.  Net jy en die pas wat vir jou gemaklik is.

(2)   Jy kan die resies ook angstig en senuagtig hardloop, terwyl jy die horlosie dophou en bang is jy gaan nie klaarmaak nie. Jy sê vir jouself: Ek moet die hele wêreld bereik; en jy raak vervaard en ‘n pyn om mee saam te leef, omdat jy ander die hele tyd laat skuldig voel. Dit is ook ‘n gevaar wat ons moet vermy.

(3)   Die ware gelowige hardloop die resies egter vasbeslote en doelgerig, met die wenstreep in die oog. So moet jy dit doen. Omdat Christus jou syne gemaak het, kan jy uithaal om alles wat Hy vir jou gedoen het, te gryp, joune te maak. Dan is die lewenswedloop ‘n vreugde, ‘n diepe blydskap.

Dan sal jy jou lewe kan afsluit met die frase: nie “Ek dink ek kan, ek dink ek kan”nie, ook nie “Ek weet ek kan, ek weet ek kan” nie, MAAR “Ek weet HY kan, Ek weet HY kan.”

Toewyding

Ek wil jou kans gee om te beplan hoe jy van nou af die wedloop gaan hardloop – om Christus te ken en te sorg dat ander Hom leer ken.  Ons het baie toerustingsgeleenthede in die gemeente en baie geleenthede tot diens.  En as die Here iets nuuts op jou hart lê, beplan dit dan op ‘n doelgerigte wyse:

  • Dag 5 in Joernaal is spesifiek geskryf om jou met die beplanning te help
  • Ons is op reis – sommige ver, ander aan die begin.
  • Is jy besig met dit wat God jou voor roep?
  • Wat is die eerste stappe wat jy nou moet doen?

Gebed

Dankoffers

Almal hier tesaam (Retief Burger)

Kinders se kunswerke – bring vir my

Liedere

  • Soek allereers die koninkryk van God (471)

Seën

  • Stuur ons Heer (533)

Dag 5 – om met passie ‘n doel na te streef – 27/11/09

Lees 2 Korintiërs 5:1-10

Ons het dié week geleer dat ons lewens op God en sy koninkryk gerig moet wees.  Beteken dit dat ons rustig agteroor sit en wag dat Christus weer kom?  Verseker nie!  Paulus leer ons hier dat ons God HIER sowel as in die hemel moet dien.  En om dit reg te kry, moet ons baie prakties raak in die uitvoering van ons oorhoofse doel (om Christus te ken en Hom aan almal bekend te maak) sowel as ons unieke doel (wat saamhang met ons passie en gawes).

Rick Warren sê hieroor dat jy 1) jou doelwit in die lewe moet beplan, 2) jou self moet toerus om daardie doelwit te bereik, 3) deel van ‘n kleingroep moet raak wat jou kan help daarmee, 4) mense moet intrek wat jou kan help met die uitvoering van daardie doel, 5) strukture skep wat die doel vir jou kan help bereik, 6) telkens evalueer hoe jy die doelwit verwesenlik.  Neem ‘n halfuur vandag en gebruik hierdie opmerkings van Rick om doelgerig te beplan aan jou passie en doel in die lewe. Deel dit met iemand na aan jou. En as jy ‘n leraar nodig het om saam met jou daaroor te bid, kontak ons vandag nog.

Dag 4 – Hoe dit werk – 26/11/09

Lees Josua 14:6-14

Waar kom passie vandaan?  Een man wat geweet het hoe om met passie te lewe, selfs op 85 jarige ouderdom, was Kaleb.  Sy geheim?  Drie keer word dit hier gesê: “Ek het die Here my God getrou gevolg” (vers 8,9,14).  Sy passie het gekom van die Een wat hy getrou gevolg het.  Daarom was  hy entoesiasties en passievol met baie guts, selfs wanneer hy in die minderheid was.  Sy lewe het getuig van wat God kan doen deur een wat Hom volkome vertrou.

Dit is steeds die geheim van gelowiges se lewe vandag, om God getrou te volg in wat Hy besig is om te doen.  Dit is ‘n meesleurende passie wat betekenis gee aan alles wat ons doen.  Wy jou weer vandag met oorgawe toe aan God en laat dit jou lewe weer die betekenis gee wat dit verdien.  Dink terug aan kere wat jy geweet het wat die Here van jou verwag en die genade gekry het om dit te doen.  Verbind jou weer daaraan, terwyl jy wag op nuwe goed wat Hy op jou pad bring.

Dag 3 – Wie ek is – 25/10/09

Lees 2 Korintiërs 4:7-18

Hoekom staan jy in die oggend uit die bed uit op?  Wat is jou doel in die lewe?  Min mense kan regtig ‘n helder doelwit vir hulle lewe verwoord.  Dit is ironies dat mense baie keer meer tyd spandeer om ‘n twee-weke vakansie te beplan as aan die beplanning van hulle lewensdoel.

Die Bybel is duidelik oor wat ons oorhoofse doel is as gelowiges: om Christus te ken en om Hom aan almal bekend te maak. God wil hê dat ons sal groei in ons kennis van Christus (geestelike groei) en die evangelie sal uitdra aan almal op aarde (geestelike vermenigvuldiging).  God het ook ‘n unieke doelwit vir elkeen van ons wat saamhang met ons gawes, vermoëns, ervaring, en invloedsfeer. Dink verder na oor jou doel in die lewe, en vra die Here om jou te begelei in die doelstelling vir jou lewe wat pas by jou passie en gawes.  Watter geestelike groei doelwite kan jy vir jou vandag stel?  En watter geestelike vermenigvuldigings doelwitte?

Dag 2 – Wie God is – 24/11/09

Lees Efesiërs 3:1-21

Ons is beperk in ons begrip van God se doel met die skepping van die wêreld. Sy gedagtes is hoër as ons s’n en sy bedoelinge baie keer vir ons ondeurdringbaar.  Maar iets wat ons van God uit die Skrif kan agterkom, is dat Hy ‘n passie vir ‘n intieme verhouding met mense het.  Dit sien ons al in die tuin van Eden, en op gesette tye regdeur die eeue, waar Hy mense opsoek en met hulle in verhouding tree.  In Jesus se vleeswording sien ons hierdie passie die duidelikste geïllustreer.

Dit sluit in dat God mense uit alle volke een liggaam in Christus wil maak, en daarmee aan die bose magte in die hemelruim iets van die krag van sy liefde ten toon wil stel.  Daarom dat Paulus die hoofstuk as ‘n gebed skryf, omdat dié doel van God hom só beetgepak het, dat Hy bid dat ons almal, mense van alle stamme, tale en nasies, God se liefde sal ken en met sy volheid vervul sal word.  Dink na oor wat die implikasies hiervan vir jou lewe is, as God jou saam met ander mense, van wie jy miskien verskil, wil gebruik om sy doel met die wêreld te bereik. Hoe kan jy vandag die grens begin oorsteek na iemand wat anders is as jy?