Skip to main content

Dag 2 – Wie God is – 24/11/09

Lees Efesiërs 3:1-21

Ons is beperk in ons begrip van God se doel met die skepping van die wêreld. Sy gedagtes is hoër as ons s’n en sy bedoelinge baie keer vir ons ondeurdringbaar.  Maar iets wat ons van God uit die Skrif kan agterkom, is dat Hy ‘n passie vir ‘n intieme verhouding met mense het.  Dit sien ons al in die tuin van Eden, en op gesette tye regdeur die eeue, waar Hy mense opsoek en met hulle in verhouding tree.  In Jesus se vleeswording sien ons hierdie passie die duidelikste geïllustreer.

Dit sluit in dat God mense uit alle volke een liggaam in Christus wil maak, en daarmee aan die bose magte in die hemelruim iets van die krag van sy liefde ten toon wil stel.  Daarom dat Paulus die hoofstuk as ‘n gebed skryf, omdat dié doel van God hom só beetgepak het, dat Hy bid dat ons almal, mense van alle stamme, tale en nasies, God se liefde sal ken en met sy volheid vervul sal word.  Dink na oor wat die implikasies hiervan vir jou lewe is, as God jou saam met ander mense, van wie jy miskien verskil, wil gebruik om sy doel met die wêreld te bereik. Hoe kan jy vandag die grens begin oorsteek na iemand wat anders is as jy?

Dag 1 – om met passie ‘n doel na te streef – 23/11/09

Lees Filippense 3:7-14

Paulus het ‘n ongelooflike klomp werk in net meer as twee dekades van sy bediening verrig.  Hierdie gedeelte gee ons insig in wat hom aangevuur het.  Die teks ontplof letterlik van sy passie vir sy roeping, om Christus te ken.  Omdat hy geweet het wat sy doel is, kon hy met oorgawe dit na streef.

Voor sy dramatiese bekering (Hand 9) het hy ‘n ander doel in die lewe gehad.  Sy godsdienstige opleiding, sy afkoms en sy onberispelike Joodse lewe was belangrik om die Jode te beïndruk.  Maar dit alles was nikswerd om as Christen sy doel te bereik: om Christus te ken.  Toe dit sy passie word, was sy vorige lewe se bates hindernisse wat hy moes agterlaat. Dink na oor jou passie en jou doel in die lewe.  Wat is die een ding waarvoor jy bo alles staan?

Mark 12 – Son 15 Nov 09

 

Teks:  Markus 12:38 – 44

 

Die arm weduwee:  Om met die regte prioriteite te leef

ʼn Mens se karakter, daardie konstante manier van doen en nie doen nie, word geopenbaar deur die lewensbeginsels waarvolgens jy leef – anders gesê, deur die prioriteite wat jy vir jouself stel.

Ons teks handel oor ’n vrou wie se lewensbeginsels baie duidelik geopenbaar word deur die keuse wat sy maak as sy haar dankoffer in die offergawekis in die tempel gooi.  Ons sien baie duidelik wat vir haar belangriker as ander minder belangrike dinge was.  En daarin lê daar miskien ’n baie belangrike lewensles vir ons opgesluit.

1.      Die Skrifgeleerdes en die weduwee

In verse 38 –  40 waarsku Jesus teen die skrifgeleerdes, leiers op godsdienstige gebied.  Hulle hou van swier en aansien, maar toon terselfdertyd dat hulle ’n gebrek aan genade vir die magteloses het.  ’n Weduwee was juis ’n goeie voorbeeld van magteloosheid omdat, soos met die wese en die vreemdelinge, hulle nie toegang tot die lang gehad het nie, en daarmee nie in die land se opbrengs kon deel nie.  Daarom was hulle weerloos en kon hulle maklik uitgebuit word.

Die tweede deel van die Skriflesing, verse 41 – 44, vertel van die arm weduwee wat twee muntstukkies in die offergawekis kom gooi.  Haar dankoffer staan in skerp kontras met die dankoffers wat baie ryk mense gegee het.  Dat dit hier nie oor geld gaan nie, is duidelik as Jesus sy dissipels naderroepe en sê:  Dit verseker ek julle:  Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.  Die rede hiervoor lê daarin  dat hierdie vrou alles wat sy gehad het, gegee het.  Al het van die rykes hoeveel gegee, het hulle ook nog baie gehad wat hulle nie gegee het nie.  Hierdie vrou se lewensbeginsel waarvolgens sy leef, word duidelik geopenbaar.  Vir haar is die Heer die Een vir sy alles gee, vir sy haarself sonder enige reserwe, gee.

Dit word soveel meer aangrypend as ’n mens besef dat sy haar offer aan ’n sisteem toevertrou, die georganiseerde tempeldiens, wat juis magtelose mense soos sy uitbuit!  Weet sy dit dan nie?!  Is sy arm én dom?  Ek kan aan ’n klomp mense dink, myself ingesluit, wat doodgewoon sou sê ek gee geen dankoffer aan so ’n instansie nie.  ’n Mens kan maklik verlei word om die voorstelling by jouself te hê van ’n arme, patetiese vroutjie in verslete klere wat skuifelend, onseker, na die offergawekis beweeg om haar skaam-skaam nietige offer te bring.  Maar dan sou jy meer in die teks lees as wat daar staan.  Hierdie vrou was ’n weduwee, sy was dus een van die groep wat nie toegang tot die grond se opbrengs gehad het nie, sy was weerloos.  Maar dit kan wees dat sy met haar vaste oortuiging van die plek wat die Here in haar lewe inneem, met waardigheid na die offergawekis toe stap omdat sy so oortuig is van dit wat sy is en wat sy doen!  Hierdie vrou het dit heel moontlik met haarself uitgemaak dat haar verhouding met die Here hierdie offer van haar vra, ongeag wat die instansie aan wie sy dit gee, is en doen!  Sy gee haar alles, al palm die magtiges die weerlose weduwees se huise in.

2.      ’n Onvolmaakte kerk

Daar is mense wat hulle rug op die kerk draai as gevolg van die optrede van leiers in die kerk – kerkraad, predikante.  Of miskien besluite wat in die kerk geneem is of beleid wat geformuleer is.  Daar is heel  moontlik heelwat geldige redes aan te voer hoekom ’n mens jou dankoffer kan weerhou, of kan ophou om die eredienste by te woon, of om doodgewoon net op te hou deel wees van die gemeente.  Hierdie vrou in die teks het blykbaar genoeg rede gehad.  Maar sy doen dit nie.  Diegene in die kerk wat vir ander ’n struikelblok kan wees, moet ook weet dat hulle daarvoor verantwoordelikheid sal moet aanvaar.

Maar hierdie vrou laat nie toe dat die situasie waarin sy haar bevind, haar lewensbeginsels, haar prioriteite, bepaal of voorskryf nie.  Sy reageer nie op die omstandighede nie.  Ongeag die omstandighede, bly sy getrou aan die beginsels wat sy vir haar lewe gekies het.  En dit is ’n baie belangrike ding om in jou lewe te doen.  Jy behoort ’n baie duidelike verstaan van wie jy is en hoe jy maak te hê.  En hierdie konstante kern van optrede behoort nie bepaal te word deur die situasie nie.  Byvoorbeeld:  As my lewensbeginsels inhou dat ek nie ander mense se goed vat nie, dan sal ek dit nie doen al is ek ’n situasie waarin ek dit kan doen sonder om uitgevang te word.  Omstandighede behoort my nie te verlei om anders op te tree as wat ek wil optree nie, as wat my waardes en my prioriteite inhou nie.

 

3.      Paulus se voorbeeld

Paulus is hier nogal ’n belangrike voorbeeld.  In Filippense 3:13 sê hy ’n belangrike ding.  Hy sê:  Maar een ding doen ek …  Hy het te midde van die situasies waarin hy hom bevind en die keuses wat hy moes maak, ’n duidelike verstaan van wat belangrik was en wat minder belangrik in sy lewe was, gehad.  So helder dat hy kon sê dat daar een, duidelike beginsel was wat sy lewe bepaal het.  Dit is ook in ons eie lewe belangrik.  Ek behoort ook te kan sê:  Een ding doen ek, dit is ek …  En as die oorkoepelende beginsel van my lewe is om die Here te dien, dan lewe ek daarvolgens.  Soos wat die weduwee gedoen het.  Dan doen ek soos my beginsel bepaal, sonder om my te laat weglei deur dit wat ander mense doen.   ’n Helder verstaan van ’n enkele, oorkoepelende prioriteit, is baie belangrik in die lewe.  Die lewe is te kompleks om met lang lyste prioriteite te lewe.  Paulus het geweet van een sentrale ding wat sy lewe bepaal het, en sy prioriteite het uit hierdie sentrale fokus gegroei.

 

4.      ’n Kritiese kyk na myself

Ek moet krities na my eie lewe, na my beginsels, na my prioriteite, na my keuses kyk.  Want die gevaar van selfregverdiging is baie groot.  Dit is maklik om raak te sien dat ander se karakter blootgelê word deur hulle lewe, maar vir myself en my eie lewe is ek dikwels blind.  Daarom is dit genade as die Here ’n onrustigheid oor jouself gee en vir jou ’n helder insig in jou eie manier van wees en doen, gee.  En dit is nie altyd lekker nie.  Dit behoort nie altyd aangenaam te wees nie.  Maar dit is die punt waar ’n nuwe groei in jou lewe kan begin, ’n nuwe groei in jou oorgawe aan die Here kan begin, ’n nuwe groei in die verstaan van sy wil vir jou lewe kan begin.

 

Jesus vertel ’n storie van ’n man wie se belangrikste prioriteite hyself en sy besittings was, die storie van die sogenaamde Ryk Dwaas.  Met hierdie storie waarsku Jesus nie net teen die gevaar van hebsug of geldgierigheid nie.  Hy wys veral op die futiliteit van prioriteite wat nie ooreenstem met God se wil vir jou lewe nie.  Die man in die gelykenis se prioriteite is duidelik – persoonlike rykdom en ’n toekoms waarin hy goed versorg sal wees.  Maar hierdie ryk dwaas begin met die verkeerde motiewe en slaag nie daarin om een van hierdie doelwitte te verwesenlik nie.  Hy is dood voordat hy sy besigheid kon uitbrei of sy aftrede kon geniet.  Jesus maak dan hierdie gelykenis van toepassing op almal wie se prioriteite openbaar dat hulle harte by hulle eie belang in plaas van by God gelê het.  Ons lewe behoort God te verheerlik en nie op onsself gerig te wees nie.  Ons sou dus kon vra of ons belangrikste prioriteite tot die erkenning van God sal lei.  Indien wel, dan sal ons ryk in God se oë wees.

 

Wat doen die Here se Woord vanoggend in ons?  Maak dit jou onrustig en wil jy jou voorneem om in die toekoms harder te probeer om dit of dat te doen?

 

Dink eerder aan nog ’n gawe wat ook meer werd is as enige ander gawe.  Dink aan die offer wat daar reeds vir jou en vir my gebring is.  Die offer van ’n lewe aan die kruis.  Daar lê die moontlikheid van ’n daaglikse nuwe begin in ’n nuwe verhouding met Christus.  Laat dit jou oorkoepelende, bepalende riglyn vir jou lewe wees.  Gee jouself uit dankbaarheid as ’n lewende offer aan Hom …

 

Amen

Dag 5 – om met prioriteite te leef – 20/11/09

Lees Jeremia 9:23 – 24

In die gelese gedeelte word ons aangemoedig om ons lewe te evalueer en ons prioriteite te herrangskik.  Die belangrikste fokus moet wees om die Here te ken en te verstaan en te dien.  As jy dit doen, dan sal jy in staat wees om dit wat werklik belangrik is, te kies en nie toe te laat dat die druk van die lewe jou fokus en jou keuses bepaal nie.

Dag 4 – Hoe dit werk – 19/11/09

Lees Filippense 3:12 – 14

Paulus het verstommend baie bereik in die ongeveer twintig jaar waarin hy as apostel opgetree het.  Die kerke wat hy geplant het en die briewe wat hy geskryf het, het ‘n vormende invloed op die Westerse kultuur gehad.  ‘n Deel van Paulus se vermoë om so baie te bereik, word in Filippense 3:13 gegee waar hy sê:  “Maar een ding doen ek …”  In Handelinge en in Paulus se briewe lees ons dat Paulus geleef het in werklike omstandighede en werklike keuses moes maak.  Hy moes, soos elkeen van ons, besluit wat om te doen en wat om nie te doen nie.  Hy het duidelik wyse keuses gemaak.   Hy het aan werklik belangrike sake aandag gegee.   Sy prioriteite het begin by “… hierdie een ding doen ek …”  Sonder ‘n enkele, bepalende prioriteit kan daar geen sinvolle prioriteite vir ‘n lewe gestel word nie.  Die lewe is te kompleks om met lang lyste prioriteite te lewe.  Paulus het geweet van een sentrale ding wat sy lewe bepaal het, en sy prioriteite het uit hierdie sentrale fokus gegroei.  Prioriteite help ons om ja en nee te sê vir dinge wat belangrik of onbelangrik is.  Maar meer nog, ‘n omvattende prioriteit herdefinieer hoe ons ja sê en hoe ons lewe om hierdie ja ‘n werklikheid te maak.

Dag 3 – Wie ek is – 18/11/09

Lees 1 Johannes 2:15 – 17

Ons perspektief behoort ons prioriteite te bepaal, en ons prioriteite ons praktyke.  ‘n Bybelse perspektief hou in dat alles wat ons van die liefde van die Vader weghou, eintlik afgodery is, ongeag hoe goed of lofwaardig dit mag wees.  Op ‘n manier is dit nie korrek om te sê dat ‘n Christen se prioriteite God eerste, familie tweede en beroep en bediening derde moet wees nie.  As Christus ons lewe is (Kolossense 3:3 – 4), dan verdra hy geen kompetisie of rangorde nie.   ‘n Christus-gesentreerde lewe beteken dat alles in verhouding tot Christus gesien moet word.  “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.  Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,  want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God” (Kolossense 3:1 – 3). In Lukas 10:38 – 42 lees ons van Marta wat vir ons as waarskuwing dien dat ons so maklik deur die sorge en bekommernisse van die wêreld in beslag geneem kan word, dat ons die heel belangrikste in die lewe mis.  Die sorge van hierdie lewe, die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande dinge, kan die Woord van God in ons lewe verstik en onvrugbaar maak (Lukas 4:19).  Kyk na jou lewe deur die lens van die heerskappy van Christus.  Wat is die implikasie van hierdie manier van sien?