Skip to main content

Dag 1 – om met passie ‘n doel na te streef – 23/11/09

Lees Filippense 3:7-14

Paulus het ‘n ongelooflike klomp werk in net meer as twee dekades van sy bediening verrig.  Hierdie gedeelte gee ons insig in wat hom aangevuur het.  Die teks ontplof letterlik van sy passie vir sy roeping, om Christus te ken.  Omdat hy geweet het wat sy doel is, kon hy met oorgawe dit na streef.

Voor sy dramatiese bekering (Hand 9) het hy ‘n ander doel in die lewe gehad.  Sy godsdienstige opleiding, sy afkoms en sy onberispelike Joodse lewe was belangrik om die Jode te beïndruk.  Maar dit alles was nikswerd om as Christen sy doel te bereik: om Christus te ken.  Toe dit sy passie word, was sy vorige lewe se bates hindernisse wat hy moes agterlaat. Dink na oor jou passie en jou doel in die lewe.  Wat is die een ding waarvoor jy bo alles staan?

Dag 5 – om met passie ‘n doel na te streef – 27/11/09

Lees 2 Korintiërs 5:1-10

Ons het dié week geleer dat ons lewens op God en sy koninkryk gerig moet wees.  Beteken dit dat ons rustig agteroor sit en wag dat Christus weer kom?  Verseker nie!  Paulus leer ons hier dat ons God HIER sowel as in die hemel moet dien.  En om dit reg te kry, moet ons baie prakties raak in die uitvoering van ons oorhoofse doel (om Christus te ken en Hom aan almal bekend te maak) sowel as ons unieke doel (wat saamhang met ons passie en gawes).

Rick Warren sê hieroor dat jy 1) jou doelwit in die lewe moet beplan, 2) jou self moet toerus om daardie doelwit te bereik, 3) deel van ‘n kleingroep moet raak wat jou kan help daarmee, 4) mense moet intrek wat jou kan help met die uitvoering van daardie doel, 5) strukture skep wat die doel vir jou kan help bereik, 6) telkens evalueer hoe jy die doelwit verwesenlik.  Neem ‘n halfuur vandag en gebruik hierdie opmerkings van Rick om doelgerig te beplan aan jou passie en doel in die lewe. Deel dit met iemand na aan jou. En as jy ‘n leraar nodig het om saam met jou daaroor te bid, kontak ons vandag nog.

Dag 4 – Hoe dit werk – 26/11/09

Lees Josua 14:6-14

Waar kom passie vandaan?  Een man wat geweet het hoe om met passie te lewe, selfs op 85 jarige ouderdom, was Kaleb.  Sy geheim?  Drie keer word dit hier gesê: “Ek het die Here my God getrou gevolg” (vers 8,9,14).  Sy passie het gekom van die Een wat hy getrou gevolg het.  Daarom was  hy entoesiasties en passievol met baie guts, selfs wanneer hy in die minderheid was.  Sy lewe het getuig van wat God kan doen deur een wat Hom volkome vertrou.

Dit is steeds die geheim van gelowiges se lewe vandag, om God getrou te volg in wat Hy besig is om te doen.  Dit is ‘n meesleurende passie wat betekenis gee aan alles wat ons doen.  Wy jou weer vandag met oorgawe toe aan God en laat dit jou lewe weer die betekenis gee wat dit verdien.  Dink terug aan kere wat jy geweet het wat die Here van jou verwag en die genade gekry het om dit te doen.  Verbind jou weer daaraan, terwyl jy wag op nuwe goed wat Hy op jou pad bring.

Dag 3 – Wie ek is – 25/10/09

Lees 2 Korintiërs 4:7-18

Hoekom staan jy in die oggend uit die bed uit op?  Wat is jou doel in die lewe?  Min mense kan regtig ‘n helder doelwit vir hulle lewe verwoord.  Dit is ironies dat mense baie keer meer tyd spandeer om ‘n twee-weke vakansie te beplan as aan die beplanning van hulle lewensdoel.

Die Bybel is duidelik oor wat ons oorhoofse doel is as gelowiges: om Christus te ken en om Hom aan almal bekend te maak. God wil hê dat ons sal groei in ons kennis van Christus (geestelike groei) en die evangelie sal uitdra aan almal op aarde (geestelike vermenigvuldiging).  God het ook ‘n unieke doelwit vir elkeen van ons wat saamhang met ons gawes, vermoëns, ervaring, en invloedsfeer. Dink verder na oor jou doel in die lewe, en vra die Here om jou te begelei in die doelstelling vir jou lewe wat pas by jou passie en gawes.  Watter geestelike groei doelwite kan jy vir jou vandag stel?  En watter geestelike vermenigvuldigings doelwitte?