Skip to main content

Luisterblad Rut 1 – 15 tot 21 Julie 2018

KLEINGROEPE SAAM-LUISTER

Ingenooi deur God:

Dalk het julle weens die vakansie lanklaas ontmoet.  Laat elkeen kortliks vertel hoe dit met julle gaan.

Ingaan in God se tyd:

Maak julle oë toe en luister biddend terwyl iemand Matteus 5:3-9 rustig lees.

Luister na God se Woord: 

Lees Rut 1.  Gee kans dat elkeen rustig op hul eie oor die teks reflekteer:  wat staan vir jou uit, wat raak jou, wat ontwrig jou of daag jou uit?

Luister na mekaar: 

Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks.

Vertel vir mekaar die stories van tye in jul lewens wat dit “sleg” gegaan het, waar jy dalk soos Naomi kon voel dat God ’n ramp oor jou gebring het.  Deel met mekaar wat die onverwagse maniere was waarop God jou bygestaan en vir jou voorsien het – maniere wat jy nie tóé raakgesien het nie, maar wat jy nou weet God was.

Luister na ander en die tye: 

Kobus Myburgh maak ’n onderskeid tussen God as Magtig en God as Almagtig.  Wanneer mense oor God dink as die een wat alles vooruitbeplan en net so laat afloop, beperk hulle hom net tot magtig.  Dis hoe dit met die magtiges in ons wêreld werk.  Solank dinge verloop soos hulle beveel, is hul in beheer.  Die oomblik wat iemand nie meer doen wat hulle sê nie, verloor hulle hul mag…  God is nié magtig nie.  Hy is  Almagtig!  Dit beteken enigiemand kan enige tyd enigiets doen.  Enigiets kan enige tyd gebeur.  Wat ook al gebeur, wie wat ook al doen, dit beëindig nie die verhouding tussen God en mense nie. Hoe beleef julle dit in jul eie lewens?

Luister weer na God se Woord: 

Soos só dikwels in die Bybel, gaan hierdie verhaal nié oor die sterkes nie, maar oor swakkes – uitgelewerde, brose mense.  Nie oor mans nie, maar oor vrouens.  Nie oor belangrikes nie, maar oor onbelangrikes.  Aan watter ander sulke voorbeelde in die Bybel kan julle dink?  Wat leer ons hieruit oor God?  Watter reaksie vra dit van ons?

Die mense van Juda het nie ooghare gehad vir die Moabiete nie.  Tydens die uittog uit Egipte, toe die volk op pad na Kanaän deur Moab getrek het en vir brood gevra het, het die Moabiete geweier om vir hulle brood te gee.  Kyk bv. na Nehemia 13:1-2.  Boonop leef hulle in ’n tyd waar rasegtheid al belangriker geword het.  Hulle hou nie rekening daarmee dat verhoudings tussen mense al die verskille tussen hulle ophef nie.  Op watter maniere is hierdie dimensie van die verhaal relevant vir ons?

Fokus op wat God nou doen: 

’n Gesin trek uit die huis van brood [Betlehem], in daardie tydstip met te min brood, om brood te kry waar brood vantevore geweier is.  ’n Voorbeeld van hoe omstandighede met verloop van tyd verander het! (Myburgh) Hoe help hierdie herinnering jou vandag?

Antwoord met ons lewe: 

Bid saam en reageer op wat julle uit die Woord gehoor het.

FAMILIE-LUISTER

Rus: 

Vertel vir mekaar wat julle elkeen se gunsteling deel van die afgelope vakansie was.

Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

Hoor: 

Lees Rut 1 saam.

Leef: 

Rut is vir Naomi ’n baie goeie vriendin.  Ook toe dit met Naomi baie, baie sleg gaan.  Naomi wou selfs vir Rut wegjaag, maar Rut het haar vriendin gebly.  Wie is vir julle sulke goeie vriende?  Vir wie kan julle sulke goeie vriende wees?  Gesels oor hoe julle goeie vriende kan wees vir ander mense.

PERSOONLIKE LUISTER

Stop:

Waar en hoe beleef jy dat God vir jou sorg?

Neem Waar: 

Lees hierdie week Rut 1 in jou stiltetyd.  Lees die verhaal rustig deur.  Wat tref jou?  Met watter dele van die verhaal identifiseer jy hierdie week en hoekom?  Is God besig om deur dit met jou te praat?

Luister: 

Dink na oor jou lewe.  Kyk veral terug na tye wat dit “sleg” gegaan het, waar jy dalk soos Naomi kon voel God het ’n ramp oor jou gebring, of selfs “die Here het teen my gedraai” (vv 13 en 22).  As jy nou terugkyk, kan jy maniere sien waarop God jou bygestaan en vir jou voorsien het – maniere wat jy nie tóé raakgesien het nie?  Het jy dalk vandag weer nodig om aan daardie sorg van God herinner te word?  Praat met God daaroor.

bybelstudie, bybelstudiemateriaal, Huisgodsdiens, Kleingroepe, kleingroepmateriaal, rut, selmateriaal, stiltetyd

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.