Skip to main content

Johannes 1 Broosheid, Liefde en Kersfees

Op ons eie verstaan ons nie liefde nie.  Ons sal hoor “God is liefde” en sê “wonderlik!” In ons gedagtes sal ons dink reënboë en unicorns.  Ons sal dink liefde beteken so ’n lekker warm gevoeletjie in jou hart;  dat liefde beteken dat alles altyd lekker is, dat niks ooit verkeerd loop nie, dat niks moeilik is nie.  As ons net gehoor het “liefde”,  dan sou ons gedink het dat liefde maklik is.  Toe word God mens, sodat ons kan sien hoe liefde lyk.

Continue reading

Lukas 2 Broosheid, Hoop en Advent

God kom aarde toe.  God, die skepper van die heelal, wat die planete in hul wentelbane geplaas het, kom om die mensdom te verlos.  En hy doen dit, deur mens te word.  Maar meer nog.  God kom verlos die mensdom, deur mens te word, deur gebore te word… as ’n baba.  Het jy al ’n pasgebore baba gesien?  Weet jy hoe broos is daardie goedjies? En hier is hierdie babatjie – God! – in ’n stal!  In die diere se voerbak!

 

Die verhaal van Jesus se geboorte, van God se verlossing van die mensdom, is ’n verhaal van broosheid en kwesbaarheid.

Continue reading

Jesaja 55 Water, Hoop en Advent

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,

Hierdie woorde klink anders vandag as ’n paar jaar gelede.  Die belofte aan water, wanneer daar nie water is nie.  Ons munisipaliteit beleef van die ergste droogtes in mense heugenis. Teen Woensdag was ons damme gesamentlik op 28.69% kapasiteit.

Ons situasie is nog nie eers so erg soos die droogte in die Wes-Kaap nie!

Die afgelope week was daar boonop nuusberigte oor ’n wyn tekort – globaal, die ergste in 50 jaar.  Wat mense natuurlik laat uitroep:  wat kan nog verkeerd loop?!  Net nie die wyn nie!

Ek lees die week ’n artikel deur Nadia Marais, ’n dosent in dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch, getiteld #rainmustfall  – ’n teologiese refleksie op droogte, dors en die water van die lewe.  Sy vra o.a. of #rainmustfall ’n roep van wanhoop is, of juis van hoop?  Of is dit ’n wens?  ’n Gebed?

Wat dit ook al is, ons lees hierdie belofte aan water vandag met meer erns en ’n groter begrip van die waarde van water, as ’n tydjie gelede.  Ons besef in ons are:  water is lewe.

Continue reading

Esegiël 37 Droë Bene, Hoop en Advent

Hoop en Verwagting

Ons vier tans Advent.  Die tyd voor Kersfees.  Dis ’n tyd van refleksie, afwagting, verwagting, hoop.  Die vier Sondae van Advent het gewoonlik vier temas:  hoop, vrede, vreugde en liefde.  Vanjaar fokus ons elke Sondag op dieselfde tema:  hoop.

Daarom het Kobus verlede week begin in die kokende vuuroond van Daniël.  Vandag klim ons uit die vuuroond in die vallei van droë bene.

Want sien, hoop is nie ’n maklike of idealistiese suikerlagie bo-oor ons stukkende realiteit nie.  Ware hoop vat ons op reis na ’n paar uitdagende plekke.  Dit stap verby die vrolikheid van “Sleigh Bells Ringing in the Snow”, na die diep vreugde van Kersfees, van God met ons.

Hoop is ’n geskenk.  En hoop is werk.

Hoop kan twee goed gelyk doen.  Dit berei voor vir Kersfees, vir die koms van Christus.  Maar dit sien ook oral langs die pad die teenwoordigheid van Christus, hier en nou.

Ek wil jou regtig nooi om nie vanjaar dadelik te spring na die trifle en blinkertjies van Kersfees nie.  Daardie goed het ’n plek en dis goed.  Maar bly ook vir ’n paar oomblikke in die skaduwees.  In die stilte.  In die valleie.  Staan saam met my stil.  Kyk.  Kom ons soek hoop.

Continue reading

Vreugdevol Vry! Meer as genoeg… net Jesus

As jy aan Jesus dink, wat is die prentjie wat jy in jou gedagtes sien?  Die verlosser aan die kruis?  Dalk ’n prentjie uit klassieke kuns, of ’n meer onlangse uitbeelding soos uit The Passion of the Christ?  Of dink jy aan die oorwinnaar, die opstanding, aan Christus wat heers aan die regterhand van God?  Of dink jy aan die Man wat op aarde geleef het, saam met dissipels gereis, mense genees en geleer het?  Was Hy nors en kwaai, of vriendelik en uitbundig? Hartseer?  Tussen-in?  Is die prentjie in jou gedagtes ’n blou-oog Jesus met ligte hare?  Of ’n Midde-Oosterse man met ’n blas vel en ’n welige donker baard?

Hierdie vrae maak ons dalk effens ongemaklik, ons voel dis disrespekvol.  Tog is dit belangrik, want ons prent van Jesus is ons prent van God.  Die prentjie in ons gedagtes beïnvloed wie ons dink God is, wat ons dink God doen.  Uiteindelik beïnvloed dit ook ons optrede.

Continue reading