• Home
  • Preke
  • Esegiël 37 Droë Bene, Hoop en Advent

Esegiël 37 Droë Bene, Hoop en Advent

Hoop en Verwagting

Ons vier tans Advent.  Die tyd voor Kersfees.  Dis ’n tyd van refleksie, afwagting, verwagting, hoop.  Die vier Sondae van Advent het gewoonlik vier temas:  hoop, vrede, vreugde en liefde.  Vanjaar fokus ons elke Sondag op dieselfde tema:  hoop.

Daarom het Kobus verlede week begin in die kokende vuuroond van Daniël.  Vandag klim ons uit die vuuroond in die vallei van droë bene.

Want sien, hoop is nie ’n maklike of idealistiese suikerlagie bo-oor ons stukkende realiteit nie.  Ware hoop vat ons op reis na ’n paar uitdagende plekke.  Dit stap verby die vrolikheid van “Sleigh Bells Ringing in the Snow”, na die diep vreugde van Kersfees, van God met ons.

Hoop is ’n geskenk.  En hoop is werk.

Hoop kan twee goed gelyk doen.  Dit berei voor vir Kersfees, vir die koms van Christus.  Maar dit sien ook oral langs die pad die teenwoordigheid van Christus, hier en nou.

Ek wil jou regtig nooi om nie vanjaar dadelik te spring na die trifle en blinkertjies van Kersfees nie.  Daardie goed het ’n plek en dis goed.  Maar bly ook vir ’n paar oomblikke in die skaduwees.  In die stilte.  In die valleie.  Staan saam met my stil.  Kyk.  Kom ons soek hoop.

Terwyl ons dan vandag die tweede Adventkers aansteek, sing ons ’n gebed om vrede, “Dona Nobis Pacem”, wat letterlik beteken: “Here gee ons vrede”.

Toetrede

Lied 178 Dona Nobis Pacem

Votum

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.  Hy was reeds in die begin by God.  Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.  In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.  Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Seëngroet

Lofsang

Lied 349 Kom kinders besing met ’n vrolike stem

Toewyding

Hierdie tyd voor Kersfees, is ’n tyd waartydens ons eintlik wil vergeet van alles wat sleg is.  Ons wil fokus op die kuier met familie.  Almal moet vriendelik wees, lekker kuier, niemand moet baklei nie. Elkeen moet hulle deel doen, hulle eie bed opmaak, help skottelgoed was, help kos maak. Ons wil liefs nie nuus kyk nie.  Jou kar se tenk moet wonderbaarlik vol petrol bly.  Jy moet net waatlemoen eet en “Jingle Bells” luister.

Maar dan vier ons nie egte hoop nie.  Dan is dit gewoon ontkenning.

Ek het vroeër vanjaar ’n boekie geskryf met refleksies oor Kersfees.  Daar ontdek ek toe ’n tradisie van die Katalane in Spanje. Ek kon dit nie in die boekie sit nie.  Ek kan dit amper ook nie hier vir julle vertel nie.  Maar die Katalane is blykbaar baie ernstig hieroor, dis ’n hoofstroom kerstradisie.

Sien, in elke Katalaanse Kerstoneel, is daar ’n mannetjie wat hulle noem ’n “Caganer” (jammer as jy Spaans verstaan).  Die Spaanse regering het dit in ’n stadium in openbare Kerstonele probeer verban, maar het byna ’n revolusie ophande gehad.

Te midde van die Kerstoneel met krip, diere, sterrekykers, herders, is daar altyd iewers in die agtergrond hierdie mannetjie in tradisionele Katalaanse klere, besig om toilet toe te gaan.

Een verduideliking van hierdie bisarre tradisie, is dat dit mense herinner dat die Kersverhaal nie ’n sprokie is nie, nie ’n gesteriliseerde weergawe van menslike realiteit is nie. Jesus het deel geword van ons wêreld, te midde van die drek en die gemors.  Die Kersverhaal is nie net blinkertjies en liggies nie.  Jesus het een van ons geword, mens geword, tussen diere en diere se gemors, in strooi.

Dit is in ons donkerte dat God by ons kom wees het.  In ons swaarkry en worstelinge, in ons gebrokenheid en sonde, in ons eensaamheid, in ons onreg en oppervlakkigheid.

Sodat ons kan weet dat Jesus vandag ook weet van ons gemors, van die strooi waarmee ons saamleef.

Die strooi maak nie inbraak op Kersfees nie.  Dit is Kersfees wat inbreek in die strooi van die wêreld in.

Wat is die strooi wat jou onderkry, waarvan jy graag hierdie tyd van die jaar sou wou vergeet?

Wat is die hoop waaruit jy graag wil leef in hierdie tyd?

Gebed

Lied 320:1-2 O kom, o kom Immanuel

Antwoord

Video:  He’s Here (Jesus Storybook Bible)

Gebed

Skriflesing

Esegiël 37:1-10

Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ’n laagte. Die laagte was vol bene.

Hierdie is beendere wat oorwin is.  Hulle is dood in ’n veldslag.  Hulle is nie eers die waardigheid van ’n begrafnis gegun nie.  Hulle is so volledig deur die vyand oorwin, dat as laaste vernedering hul beendere in die veld lê en vergaan.

2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

Nie sommer “dood” nie.  Dood dood.  Droog.  Lankal dood.

3Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

Dis ’n baie interessante antwoord hierdie!  Esegiël sê nie “nee” of selfs “ja” nie.  Hy gee ’n oop antwoord.  Wat laat Esegiël so antwoord?  Dalk vertroue in God?  Dit wil lyk asof Esegiël nie vaskyk in droë bene nie, maar eerder kyk na God.  Sy antwoord fokus nie op droë bene nie, maar op God.

4Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! 5So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

Vreemd!  Dis ’n nuttelose opdrag!  Die beendere is dood!  Enige iemand kan dit sien.  En in elke geval, as God dit wou laat lewe, kon God dit doen.  Hoekom vir Esegiël vra om te profeteer?  Maar weereens verras Esegiël ons.  Hy gehoorsaam vir God.  Hy doen wat God sê.  Selfs as dit is om vir dooie bene te sê julle gaan lewe.

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ’n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. 9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ’n baie groot menigte.

Inleiding

En hierdeur sê die Here vir Israel:  julle voel soos droë bene, maar God sal julle herstel.  Selfs die dood sal God nie keer nie.  Die krag om te leef sal van God self afkom.  God sal Gees stuur.  God sal lewe stuur.

Ek wonder of die kinders die ou liedjie nog ken:  “Dem Bones, Dem Dry Bones”? “The foot bone’s connected to the… ?”  Ken julle dit?  Daardie liedjie gaan oor hierdie gedeelte wat ons nou gelees het.  Kom ons luister gou na ‘n stukkie daarvan, dan luister jy of jy kan agterkom hoe dit oor die Bybel praat.  Terwyl jy dit luister, wys vir die grootmens langs jou waar die bene sit waarvan die liedjie praat.

Preek

Droë bene

Hier aan die einde van 2017 kan dit vir ons ook voel asof ons in ’n vallei van droë bene staan.  Ons vier Advent te midde van die 16 dae teen geweld teen vroue en kinders, wetende dat die mees lewensgevaarlike ding wat jy in SA kan wees, steeds ’n vrou is – heel spesifiek ’n vrou in verhouding met ’n man.  Ons maak gereed om Kersfees te vier, wetende dat die boere in ons land uitgelewer is aan brutale marteling en moord.  Ons leef daagliks met misdaad saam, met die moord van bure vars in ons geheue.

Praat van droë bene!  Ons maak gereed om Kersfees te vier met waterbeperkings.  Ons wonder of ons nie liewer die kuier in die Kaap moet kanselleer nie, want daar is nie water nie.

Droë bene.  Ek weet nie meer wat “rommel status” beteken nie.  Want een oomblik hoor jy rommel status en jy dink nou het ons die bodem getref, dan hoor jy nee, daar is nóg ’n rommel status, ons het toe nóg laer gedaal.

Dit voel asof korrupsie die laaste stukkie sening van die droë bene afgekou het.  En dan maak die polisie, die mense wat ons moet beskerm, jag op die mense wat die korrupsie ontbloot?!

Droë bene.

En ons wil Kersfees vier.

Ek kan verstaan dat jy op ’n Sondagoggend hier kan aankom en kan voel:  moet ons nou regtig van droë bene lees?  Kan ons nie maar net vir hierdie rukkie hier vrolike liedjies sing en vir mekaar mooi sprokies vertel nie?

Hoe kan ons van droë bene lees in die tyd voor Kersfees?  Aan die ander kant:  hoe kan ons Kersfees vier, as ons tussen droë bene staan?

Maar dis juis omdat ons tussen droë bene staan, dat ons Advent vier.  Want Advent is ’n tyd van hoop, van uitsien, van verwagting.  Hoop se plek is juis tussen droë bene.  Hoop erken dat alles nie is soos wat dit moet wees nie.  Die wêreld is stukkend.  Dinge moet anders wees.

Advent is dan die ding wat ons herinner om ons oë en ons harte en ons arms wyd oop te hou.  Om soos Esegiël, wanneer die vraag gevra word of hierdie droë bene kan lewe, te antwoord:  “Dit weet net U, Here, my God.”

Advent herinner ons om ons nie blind en moedeloos te staar na die droë bene nie, maar om na God te kyk.  Om ons fokus op God te hou.

Spreek hoop

Brueggemann sê ons as gelowiges se profetiese taak is tweeledig.  Hy praat van truth telling and hope speakingTruth telling beteken dat ons die waarheid sal praat oor ons realiteit.  Dat ons nie die waarheid sal ontken en sal maak asof alles blink en voor die wind is nie.  Dat ons die onreg en onsekerheid en pyn by die naam sal noem.

Hope speaking beteken dat ons ook sal sê dat die droë bene nie die enigste, finale realiteit is nie.

Dis baie interessant dat God vir Esegiël opdrag gee om te praat.  Dat God nie sommer net lewe in die droë bene blaas nie, maar dat hy sy kind oproep om eers lewe uit te spreek, om eers sy woord van lewe te verkondig.  Dit is natuurlik God wat die lewe bring!  Maar God roep sy kinders om hoop te spreek.

Advent is ’n manier om vir onsself en vir die wêreld hoop te spreek.  Dit herinner ons aan hierdie waarheid:  God het lank gelede aarde toe gekom.  God is steeds met ons.  En God gaan weer kom om dinge finaal reg te maak.  So ons vat wat ons nou sien en hou dit op teen wat was en wat waar sal wees en wat ook nou waar is.

God het mens geword, nie in ’n paleis of tussen die politici of die ekonome nie, maar tussen die gemors en geklank van diere in ’n stal.  Waar mense weggewys is, omdat daar nie vir hulle plek is nie.  Te midde van politieke onrus word die teenwoordigheid van God aangekondig, nie aan belangrike leiers nie, maar aan skaapwagters en vreemdelinge.

Hoop voer jou nie weg uit die vallei van droë bene nie.  Soms roep hoop jou om juis reg in die middel van die pyn en vrees te sê:  jy, droë bene, jy is nie die volle verhaal nie.  Jy is nie die volle waarheid nie.

Daarom sit ons Kersliggies aan, want ons weet:  die lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.

Die voorbereiding op Kersfees is nie ’n ontkenning van die droë bene nie.  Dit is om lewe en hoop uit te roep oor die droë bene.

Of, in die woorde van die teoloog Jürgen Moltmann:

Faith, wherever it develops into hope, causes not rest but unrest, not patience but impatience. It does not calm the unquiet heart, but is itself this unquiet heart in [all of us]. Those who hope…can no longer put up with reality as it is, but begin to suffer under it, to contradict it. [True hope] means conflict with the world, for the goad of the promised future stabs inexorably into the flesh of every unfulfilled present.”

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Vonkk 142 Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer

Seën

Psalm 85:10-12

Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien: Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar. Liefde en trou sal mekaar ontmoet, geregtigheid en vrede sal mekaar omhels; trou sal uit die aarde uit opspruit, geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.

Respons

Lied 320 vers 1 laaste 2 reëls

     

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment