Skip to main content

Droogte – 2 Kronieke 7:11-16

Dit is heerlik om hierdie belofte van God te hoor: “As … my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

Dit is een van die wonderlike beloftes van die Here in die Woord. Hy sal hoor, Hy sal vergewe, Hy sal genees. En waar die probleem droogte is, sal Hy reën gee. Waar dit verwoesting is deur sprinkane, sal Hy vrugbaarheid verseker. Waar dit allerhande pestilensies is wat ons tref, sal Hy genesend optree.

God belowe dat Hy sal voorsien.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis bely oor God se voorsienigheid: “dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.”(artikel 13 – vgl Joh 5:17).

Dit is God se belofte aan ons. Dit is wat ons van God kan glo. Dit was ons van God moet glo. Dat Hy voorsien. Dat Hy sy beloftes hou. Dat Hy hoor, vergewe en genees.

Dit beteken, sê die NGB, dat: “niks per toeval oor ons kan kom nie, maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30).”

Dit is ‘n onuitspreeklike troos vir ons. ‘n Belofte waarop ons onsself kan verlaat, soos die NGB sê: “omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.”

As dít is hoe God in die Bybel geteken word, en ons geloofsbelydenisse dit vir ons onderstreep, hoekom het ons dan droogte? In die woorde van ons Pinkstertema: “Wanneer kom die reën?”

En dit gaan nie net oor die droogte nie. Dit gaan ook oor daardie tender. Dit gaan ook oor daardie hofbevel. Dit gaan ook oor jou swaarkry weens ander se nalatigheid. Dit gaan ook oor dié dinge wat nie uitwerk soos jy dit graag wil hê nie. Al stort jy jou hart in jou gebede voor die Here uit. Waarom gryp die Here nie in nie?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Continue reading

Bly wag op die Vader se belofte – Hemelvaart 2018

A typical rural Karoo scene in South Africa – a water pumping windmill with a leaking dam. Monochrome

In drie jaar se bediening het Jesus nooit een keer die woord “wag” gebruik nie. Nie een keer nie. Elkeen wat na Hom toe gekom het, is onmiddellik gehelp. Die melaatses. Die blindes. Die verlamdes. Die gebreklikes. Die besetenes. Jesus was die God wat naby gekom het. Hy was Immanuel. God met ons[1].

Daar is wel ‘n gelykenis wat Jesus oor die wederkoms vertel waarin Hy ons waarsku om op die regte manier te “wag” daarvoor (Luk 12). Maar, Jesus sê nooit vir enigiemand tydens sy aardse bediening dat hulle moet wag voor Hy hulle versoeke beantwoord nie. Selfs in sy gesprek met die Siro-Fenisiese vrou oortuig sy Hom met ‘n paar woorde om haar dogter van die bose gees te verlos (Mark 7).[2]

Dit dra die boodskap aan ons almal dat Jesus die tyd van God se genade ingelei het. Dat Hy God se beloftes kom vervul het. Dat in Hom al God se beloftes ja en amen is, soos Paulus ‘n tyd hierna aan die Korintiërs sou skryf (2 Kor 1:20). Dat jy op Hom kan staatmaak om met oorgawe sy beloftes waar te maak.

Daar is egter twee keer, waarvan ek weet, wat Jesus getalm het om iets te doen. Die een keer wat Hy getalm het, was met sy besoek aan die Loofhuttefees (Joh 7) en die tweede keer met Lasarus se siekte (Joh 11). En daar was baie goeie redes daarvoor.

Continue reading