Skip to main content

God kan vertrou word. God sal voorsien (Genesis 22).

Die een legende vertel die verhaal vanuit Isak se hoek. Daarvolgens het Isak nooit oor die kinderervaring gekom nie.  Dit sluit af met hierdie woorde: “En daardie kyk in sy pa se oë kon Isak ná die tyd nooit vergeet nie. Dikwels, jare daarna nog, as hy na sy pa gekyk het, was sy knieë weer lam en het dit vir hom gevoel of hy naar word.”

Dit was ‘n afgryslike ding om as kind deur te maak – dít moet ons goed besef.  Dit was nie speletjies nie.  Ons moet in Isak iets raaksien van Jesus wat vra: “My God, my God waarom het U my verlaat?”  Want dít is wat Isak op ‘n manier ervaar het. ‘n Pa wat bereid is om God te gehoorsaam, deur sy lewe te neem.

In die tweede Joodse legende is Sara die hooffiguur.  Uiteraard, soos ons weet uit die Bybelse storie, het Sara nie geweet wat sou gebeur nie.  Ons lees aan die einde van dié legende: “Toe Abraham egter terugkom by die huis en vir haar vertel wat byna met hul kind gebeur het, het sy ses keer gegil en toe gesterf. ’n Ma!” 

Ons moet iets in Sara raaksien van ‘n Maria wat haar Seun moes afstaan aan die kruisdood, met ‘n swaard wat deur haar siel gesteek het.  Want dít is wat Sara op ‘n manier ervaar het.  Soms is die moontlikheid van die dood so erg as die dood self …  Sara, wat so hard probeer het om ‘n kind vir Abraham te gee, en uiteindelik die wonder van ‘n kind in haar ouderdom beleef, dié moet hoor dat sy hom byna aan die dood afgestaan het.  Afgryslik.

Dié legendes is nie die werklikheid nie. Maar laat ons eerlik wees, die werklikheid is eintlik nog erger as wat die legendes dit vertel.

Coenie Burger noem drie vlakke waarop ons die verhaal kan verstaan.

  1. Eerstens verstaan ons almal wat kinders het die emosie van die moontlike verlies van ’n kind. Daar is min dinge wat ‘n mens se lewe so ernstig kan omkeer as die verlies van ‘nDit is iets waaroor jy nooit kom nie.  Jy leer hoogstens om daarmee saam te leef.  En dit is waardeur Abraham moes worstel.  So pas het hy vir Ismael verloor, sy bloed, sy nageslag.  Hier moet hy sy volgende, laaste seun aan die dood afstaan.  Verskriklik.  Tree vir tree is dit al waaraan hy kan dink terwyl hy na die berg van die Here op pad is.
  2. Op ’n tweede vlak moet ons verstaan dat Isak al kind was wat hulle gehad het. ’n Mens kan verstaan dat die Here soms van jou vra om van sondige dinge afstand te doen, maar met Isak was dit anders. Hy was God seHoe kan God dit dan van hom vra?  Hoe kan God die kind wat God self gegee het, van hom kom vra?  Is die volk van God uiteindelik maar net soos die ander volkere wat geen probleem met die offer van kinders gehad het?  Is dit regtig wat God wil hê dat hy moet doen … en dit sy enigste, die kind van die belofte?
  3. Dit bring ons by die derde vlak van verstaan. Isak was baie meer as net ’n enigste bloedkind. Hy was die kind in wie die nageslagbelofte vervul is. Sonder hom sou daar nie enige seën na die nasies kon vloeiDit is Abraham se grootste krisis. Dit is die grootste toets vir sy geloof.  Sy afskeid van Ismael was al moeilik genoeg, maar om die kind waaraan al sy toekomsverwagtinge verweef is, waaraan ‘n hele volk se verwagtinge gekoppel is, aan die dood af te staan … dit grens aan besetenheid.  Dit kan mos nie wees nie.

Alles waarvoor Abraham geleef het, was dus in die weegskaal.  Alles.  As Isak sou sterf, sou Abraham se lewe tot niks kom.  Sy trek na Kanaän en sy vasgryp aan God se beloftes sou verniet wees. Vroeër moes Abraham hom van sy hele verlede afsny en uit sy land en mense trek na die land wat die Here hom sou aanwys.  En hy moes belewe dat hy ‘n vreemdeling in die land bly, net met ‘n spelonk uiteindelik wat hy gekoop het om vir Sara te begrawe (Gen 23). Nou word hy voor ‘n keuse gestel waar hy sy hele toekoms moet opgee.  Alles sou dus tevergeefs wees.

Dit is wat op die spel is in dié verhaal.  Dit moet ons goed weet, om die boodskap hiervan te kan begryp.

Tog lees ons dat Abraham God nie bevraagteken nie, maar doen wat God vra. Abraham gehoorsaam God: saal sy donkie op, kap hout vir die offer, sit dit op die donkie, neem 2 slawe saam, neem sy seun Isak, en reis 3 dae lank om by Moria uit te kom.  Daar los hy die 2 slawe, sit die hout op Isak se skouers, van alle plekke (laat ‘n mens dink aan die houtkruis veel later in die verhaal van die kerk), neem die vuur, neem die mes en stap saam die berg op.

Hoekom? 

Daar is twee perspektiewe in die gedeelte wat Abraham se gehoorsaamheid verklaar.

  1. Die eerste is dat Abraham geleer het om God te vertrou.
  2. Die tweede is dat Abraham geglo het dat God voorsien.

Abraham het geleer om God te vertrou

Sien, die hele Abrahamverhaal is een van toetsing – sal Abraham die Here vertrou of nie.

Abraham moes sy land verlaat en moes God se beloftes ernstig neem toe daar fisiek geen moontlikheid van ’n nageslag was nie. Dit was alreeds ’n toets vir sy geloof en vertroue.  Maar God het hom in die land ingebring en hom daar geseën.  En hy het geleer om God te vertrou as Hy sê trek.

Toe kry sy nefie Lot en dié se veewagters stry met Abraham se manne, en hulle het ‘n krisis met die saambestaan in die beloofde land.  En, nice ou wat Abraham is, hy laat Lot kies waar hy wil trek.  Lot kies op die oog af die beste deel van die land, waar daar baie water is, en gaan bly Oos van die Jordaan.  Abraham bly half beteuterd agter, met die droër dele van Israel, maar gelukkig sonder die verleiding van Sodom en Gomorra wat uiteindelik Lot se ondergang sou wees.  En die Here belowe vir hom dat Hy nie net sal sorg vir Abraham nie, maar dat al die grond wat hy rondom hom sien, syne en dié van sy nageslag sal wees.  En Abraham leer om God te vertrou met sy grond.

Op ‘n slag was daar droogte en moes hy na Egipte trek.  Daar onder druk van die koning het hy gelieg oor Sara en gesê dat sy sy suster is, toe die koning in haar belang gestel het.  En die Here het ingegryp en die farao gewaarsku dat hy niks met Abraham se vrou te doene moet hê nie.  God het Abraham van sy eie dwaasheid beskerm.  En hy het geleer om God te vertrou selfs in die vreemde.

Toe kom daar die uitdaging van sy bejaardheid toe hy en Sara net nie daarin kan slaag om kinders te hê nie.  Jaar na jaar gaan verby tot Sara uit radeloosheid vir hom laat trou met Hagar, sodat hy ‘n seun by haar kan hê.  Maar dié gebeure het eintlik net die situasie laat verswak.  Sara het so jaloers geword op Hagar dat sy uiteindelik weggestuur is, die woestyn in.  Abraham moes van Ismael, vir wie hy lief was, afskeid neem.  Maar, ook daarin het die Here hom gelei, en het hy geleer om God te vertrou, selfs as dinge regtig nie goed gaan nie.  God maak vir hom wonderlike beloftes van wat met Ismael sou gebeur, en red Ismael van ‘n seker dood in die woestyn.

Trouens die verhaal van hoofstuk 21, waar Hagar met haar kind Ismael weggestuur word die woestyn in, vertoon baie parallelle met hoofstuk 22, die verhaal van Isak se offer.  Die gebeure rondom Ismael het Abraham dus al voorberei op wat op die spel is wanneer God van jou jou kind vra.  Dit het hom gehelp om dié groot toets te deurstaan, omdat hy uit sy vorige ervarings met God geleer het om Hom te vertrou, al gebeur wat ook al.

Maar, maak geen fout nie, hierdie opdrag van God om Isak te offer is die ergste toets vir sy geloof en sy vertroue op God.  Dit is ’n doodsaak. Soos Luther gesê het, hierdie toets is veel erger as die versoekings wat uit die vlees opkom of deur die duiwel oor ons pad gestuur word.  Die Here se opdrag om Isak te offer is die terugkeer na onvrugbaarheid.  Geen toets kon groter wees as dit nie. 

En uit Abraham se reaksie sou ’n mens kon sien hoe ernstig hy is oor God. Want, dit moet ons weet, wanneer God ons toets of beproef, is dit om te bepaal of dit wat ons sê ons glo werklik waar is: “God tests to identify his people, to discern who is serious about faith and to know in whose lives he will be fully God” (Brueggemann).

Soos Coenie Burger sê: “Dit kan gebeur dat ons dit wat God aan ons leen – gawes, geliefde mense, voorregte, geleenthede; eintlik alles wat ons is en het – vir ons begin toe-eien, dat ons later daaroor as ons eiendom begin dink, dat ons dit sien as iets wat ons toekom – en voor jy jou kom kry, praat en dink jy so oor die dinge wat God aan jou geleen het. Daarom is dit nodig dat die Here soms aan dié goed kom pluk, dit ’n tyd lank onttrek aan ons lewe …”

Wanneer Abraham dus die opdrag van die Here nakom en op die drie dae se reis volhou en uithou en aanhou en uiteindelik bereid is om sy seun te offer, al verstaan hy nie hoe nie, maar wel dát God sal voorsien, dán slaag hy die toets waarvoor God hom geplaas het.

Martin Luther King het tereg gesê: “The ultimate measure of a man is not where he stands in times of comfort and convenience, but where he stands in times of challenge and controversy.” Dít is wat ons in Abraham raaksien.  Dít is ook waarvoor ons geroep word.

God sal sy eie offerlam voorsien

Maar daar is ook ’n tweede perspektief wat Abraham se gehoorsaamheid verklaar.

Abraham het iets verstaan van God wat hom in staat gestel het om in geloof aan God te laat vasgryp. 

Die eerste leidraad van sy geloof in God lê in vers 5 toe hy vir die slawe sê: “Wag hier met die donkie.  Ek en die seun gaan daar aanbid, dan kom ons terug na julle toe.”  In die verwarring en worsteling met die skrikwekkende ding wat hy gevra word om te doen, het hy die vertroue dat God op ‘n manier sal intree en sy seun aan hom sal teruggee.

Die tweede leidraad vir hierdie geloof in God wat vertrou dat Hy ten diepste ‘n goeie God is, lê in vers 8.  Toe Isak vir Abraham vra: “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?” (vers 7)  antwoord Abraham: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.” (vers 8). 

Dit is duidelik dat Abraham met hierdie “oop” uitspraak toon dat hy onwrikbaar glo in ‘n God wat vertrou kan word vir die uitkoms van selfs die mees onverstaanbare situasie. Dis ook ’n aanduiding dat hy die toets van God “geslaag” het.

Hoekom?  Want Hy weet God sal voorsien.  Hy weet nie wat hierdie voorsiening sal behels nie, maar hy wéét dat die beloftes wat God gemaak het, God se beloftes is en dat Hy die alleenreg het om daarmee te handel. Met hierdie uitspraak word die eerste gebod duidelik onderstreep: naas God is daar niemand anders wat gedien mag word nie!

Hoe oorleef ’n mens dus hierdie toets? Die antwoord lê in Genesis 22:8, naamlik dat God self sy offerlam sal voorsien. Dit is waarop ‘n mens vertrou.  Op die berg van die Here, Moria, het die Here inderdaad die offerlam gegee, en Isak as’t ware uit die dood uit vir hom terug gegee soos Hebreërs 11 veel later sou skryf.  God kan vertrou word.

Ons dien ’n God wat kyk na sy kinders – daarvan kan ons seker wees.  Oor die jare het Abraham dit geleer: hierdie God is ’n God van sy Woord.  Hy kan vertrou word.  Hy sal voorsien.

En dít is my boodskap aan julle: God kan vertrou word.  God sal voorsien.

As Nuwe-Testamentiese Christene weet ons dit natuurlik nog beter as Abraham.  Op ’n ander berg, op Golgota, ‘n paar 100 meter van Moria, die tempelberg, af (2 Kron. 3:1 – volgens Joodse tradisie dieselfde berg waar Isak geoffer is), het ons gesien dat God in sy voorsiening selfs nog verder gaan as op Moria. Daar het God finaal voorsiening gemaak vir al die uitdagings van die lewe met die dood van sy Seun, Jesus.  Dit het God meer gekos as wat Hy nog ooit van enige mens gevra het, Sy eie Seun.

Juis daarin, in die feit dat God self bereid was om te doen wat Hy Abraham in die laaste oomblik gespaar het, naamlik om sy Seun in die dood te gee, sien ons God se liefde die helderste.

Daarom kan ons ook nou weet: die lewe is nie altyd maklik nie; soms is daar snaakse draaie in die pad – ook vir kinders van die Here. Maar op die berg van die Here, dit kan ons weet, sal daar altyd voorsien word. 

God kan vertrou word.  God sal voorsien.

Eksodus 1-17 – Bevryding – 10 Februarie 2013

Verwelkoming

Jaco Barnard praat vandag oor dissipelskap en indeling van nuwe groepe.

Toetrede

Liedboek 170 Heilig, heilig, heilig – koor x1, gemeente x1 – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 146:1,5 Prys die Here, loof en prys Hom – staan

Lied 280  Here, Redder, groot en magtig – staan

Verootmoediging

Riglyne vir die lewe – Eksodus 20 bly die basis, soos opgesom deur die Here Jesus in die dubbele liefdesgebod.  Ons hoor egter soms die liefde vir die naaste, net met die kwalifikasie, “soos jouself”.  Dit is nie al wat Jesus oor die liefde vir die naaste gesê het nie.  Met Sy voetewas van die dissipels het Hy die liefde vir die naaste verder gekwalifiseer, “soos Ek julle liefhet” (Joh. 13).

Dit is vandag die Sondag van Verheerliking.  Dit pas ons om na te dink oor die liefde wat Hy vir ons gehad het en dan met daardie liefde te gaan leef.

Geloofsbelydenis

Artikel 1:              Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;

Artikel 2:              en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

Artikel 3:              wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

Artikel 4:              wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

Artikel 5:              wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

Artikel 6:              wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

Artikel 7:              van waar Hy sal kom om te oordeel, die wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Artikel 8:              Ek glo in die Heilige Gees;

Artikel 9:              ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

Artikel 10:            die vergewing van sondes;

Artikel 11:            die opstanding van die vlees

Artikel 12:            en ’n ewige lewe.

Kindertyd

Ons het dié week die storie van Moses gelees. Ons het geleer dat God ‘n groot plan met sy lewe gehad het.  Reg van sy geboorte af het sy ma, Jogabed, en sy suster, Miriam, na hom gekyk.  Sy ma het vir hom ’n biesiemandjie gemaak waarmee sy hom in die riete van die Nylrivier weggesteek het, toe die farao, die koning van Egipte, al die klein seuntjies wou doodmaak.  En sy suster het na hom gekyk.  Die Here het in die hart van farao se dogter gewerk dat sy hom as haar eie kind aangeneem het en hy in die paleis van die farao kon grootword.

Maar toe kom daar fout.  Moses het jammer gevoel vir sy mense en hulle probeer help, maar in die proses ’n Egiptenaar doodgeslaan.  En Moses moes vlug.  Alleen in die woestyn het hy gaan bly.

Toe eendag, terwyl hy vee oppas, sien hy iets baie vreemd.

Kan julle onthou wat dit was?

’n Bos wat nie uitbrand nie.

Toe Moses nadergaan, het die Here met hom gepraat en vir hom gesê, Ek het gesien dat jou mense swaar kry en baie hard moet werk.  Ek wil hulle red dat hulle in hulle eie land kan gaan bly.

En ek wil jou stuur om hulle te help.

Was Moses baie opgewonde?

Nee, hy was bang vir die farao.  Hy was bang hulle sit hom in die tronk omdat hy iemand doodgemaak het.  En hy was bang vir sy eie mense.  Sal hulle luister vir hom?  En hy was bang, want hy het moeilik gepraat.

Wat doen die Here toe?

God sê, Hy sal vir Moses sorg dat die farao hom nie kwaad aandoen nie en dat sy mense vir hom sal luister, en dat Hy vir hom iemand sal gee wat namens hom kan praat, sy broer Aäron.  En dit was ook so. 

God het vir alles gesorg en uiteindelik was sy mense vry en kon hulle in hulle eie land gaan woon.

Wat leer die verhaal ons?

  • God sien raak as ons swaarkry.  En Hy stuur mense om te gaan help.  Baie keer stuur Hy vir ons.
  • Baie keer is mense bang, selfs grootmense, om te doen wat God wil hê dat hulle moet doen.  Maar ons leer ook dat God selfs vir bang mense kan help om te doen wat Hy wil hê.

Ons kan die Here vertrou.

Epiklese

Laat my mense gaan – koor (n.a.v. Eksodus 3-5)

Skriflesing

Eksodus 1-17 in Die Storie – ons lees Eksodus 2:23-3:15.

Terloops: Moses se skoonpa se naam was Reüel (Eks 2:18), maar hy is aan ons beter bekend met die naam Jetro (Eks 3:1; 18:1).  Omdat die naam Jetro telkens gebruik word wanneer van hom as priester van Midian gepraat word, vermoed ons dat Jetro sy ampsnaam was.  Hy word interessant genoeg ook nog Gobab genoem (Rigt 4:11).  Wat vir my nogal wonderlik is, is dat die naam Reüel beteken “metgesel van God”.   En dit wil regtig voorkom asof Jetro besondere insig in geestelike dinge gehad het, soos ons kan aflei uit die raad wat hy vir Moses gee in hoofstuk 18 om nie alle werk self te doen nie, maar ook ander in te trek in die geestelike begeleiding van die volk.

God hoor die Israeliete se geroep om hulp

23Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. 24God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 25Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.

God openbaar Hom aan Moses

3 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ’n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.

2Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?”

4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”

En hy antwoord: “Hier is ek.”

5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”

Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

7Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

11Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”

12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

15Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.

Woordverkondiging

God hoor, onthou en neem ter harte

Wat my getref het dié week in Die Storie is die woorde aan die einde van Eksodus hoofstuk 2: “God het gehoor hoe hulle roep.” Die NAV sê: “Hy het hulle gekerm gehoor”.  Nog dieper: “Hy het gedink (NAV) of onthou (Die Storie) dat Hy ’n verbond … gesluit het.”  En God het hulle nood, “ter harte geneem”.

Toe ek dit gelees het, het ek net geweet dit is die woord wat die Here vanoggend vir ons het.  Die eenvoudige boodskap – God hoor; God onthou; God neem ter harte – dit is waarmee die Here ons moed wil gee vir die roeping wat Hy vir ons het.

Dit is die basis van ons vertroue op God – dat Hy hoor, dat Hy ons onthou, dat Hy ons nood ter harte neem.  Dit is hoe God is.  Dit is waarop ons vertrou.  Dit is wat ons na God toe neem as ons in die nood is.  Dit is waarop ons staatmaak.

En vanoggend wil ek jou maar net weer daarvan verseker.  God hoor;  God onthou; God neem ter harte.

Ons kan baie dinge in die Bybel lees.  Daar is ongelooflike interessante kante van die geloof.  En ek het net weer met die Psalms die week verwonderd gestaan oor die ontwikkeling van ons geloof oor die eeue en watter rol digters en leiers gespeel het en wat ons kan leer van God en van hoe geloof werk.

Maar, belangriker as dit en dieper as dit, is die eenvoudige fundamentele waarheid: God hoor; God onthou; God neem ter harte.

Hierdie verhaal van Moses en die volk is dus opgeteken om jou hierop te laat vertrou.  Want alles wat ons in Eksodus 3 en verder gaan lees, vloei voort uit hierdie waarheid oor God.

Wat doen hierdie God?

En wat doen hierdie horende, onthouende en ter-harte-nemende God volgens Eksodus 3?  Drie goed:

  1. Hy maak Homself bekend aan Moses – “Ek is”, die altyd-teenwoordige, presies die wyse waarop Jesus Homself in Johannes 8 aan die volk bekend stel.
  2. Hy maak ’n plan waarvoor Hy Moses inspan.  God doen alles wat nodig is, selfs al vererg Hy hom vir Moses se verskonings, om Moses in staat te stel om te doen wat God van hom vra.
  3. Hy begelei hulle elke deel van die pad tot hulle bevry is.  Dit is die verstommende van die verhaal, hoe vêr God bereid is om in die gewoel en gewerskaf van die lewe betrokke te raak en die volk uit die nood waarin hulle is, te verlos.

Kom ons dink na oor hierdie 3 aspekte van God se manier van doen as getuienis vir ons eie lewe.

God maak Homself bekend aan Moses

God maak Homself aan Moses in die eerste plek bekend met ‘n werkwoord, haja – “Ek is”.  Dit is een van die mees diepgaande openbarings van God wat daar is.  God is nie net beperk tot een interpretasie, ‘n naamwoord nie, of ‘n beskrywing, ‘n byvoeglike naamwoord nie.  God is ‘n werkwoord, ‘n aktiewe dinamiese ewige handelende teenwoordigheid. 

Trouens, Hebreërs 11:6 sê dat dit die belangrikste ding is wat ons van God moet glo, dat Hy bestaan, dat Hy teenwoordig is, dat Hy is wat Hy is. 

Dit is wat ek dink die ewigheid ook is, ’n toestand waar verlede en toekoms altyd teenwoordig is, en tyd ‘n vreemde konsep is (maar dit is bietjie bo my begrip- of uitdrukkingsvermoë!).

In die tweede plek maak Hy Homself ook bekend aan Moses met ‘n verwante naamwoord, Jahwe, wat beteken “Hy is”, die perfekte naam om só ‘n altyd-teenwoordige wese mee te beskryf.  En van dié punt af aan was dit die naam waarmee God se persoonlike teenwoordigheid by ons uitgedruk is – Jahwe.

God is dus die teenwoordige.  Hy is nie afwesig nie.  Hy is aanwesig. 

Geen wonder dat Jesus Homself met dieselfde openbaring bekend gestel het aan ons nie, want dít is die fundamentele van God.  Hy is teenwoordig. 

Ons ken waarskynlik die 7 naamwoorde waarmee Jesus Homself bekend gestel het,

  • “Ek is die brood wat lewe gee” – Joh. 6:35,48 (vgl Eks 16:4, waar God deur die manna voorsien het);
  • “Ek is die lig vir die wêreld” – Joh. 8:12 (vgl Jes 49:6 waar dit van die dienaar van die Here voorspel word);
  • “Ek is die ingang vir die skape” – Joh. 10:7, 9 – (vgl Eseg 41 waar die ingang na die hemelse tempel en God se ewige teenwoordigheid beskrywe word);
  • “Ek is die goeie herder” – Joh. 10:11,14 (vgl Eseg 34 waar God self as herder optree en sy dienaar Dawid daarvoor aanstel);
  • “Ek is die opstanding en die lewe” – Joh. 11:25 (vgl Jes 53:7-12 waar die dienaar van die Here se dood en opstanding beskrywe word wat lewe vir baie sal gee);
  • “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” – Joh. 14:6 (vgl Jes 30:20-21 waar God as die Een beskryf word wat sy volk leer en op die regte koers hou);
  • “Ek is die wingerdstok” – Joh. 15:5 (vgl Jes 5 waar Israel die wingerd van die Here is, maar in hulle roeping gefaal het).

Maar die belangrikste manier bly Jesus se aanspraak daarop dat Hyself ook is: “Ek is wat Ek is” – Joh. 8:24,58 – presies dieselfde uitspraak as wat God van Homself sê in Eks 3:14.

Jesus tree in die NT immers op as die Jahwe van die OT.  Trouens Hy kry ook die naam Immanuel, God met ons, wat presies dié eienskap van God uitdruk, Sy teenwoordigheid.  En dít is wat God vir ons is – die teenwoordige.

God maak ‘n plan waarvoor Hy Moses inspan

God roep mense

In Eksodus 3 ontmoet ons dus hierdie teenwoordige God in gesprek met Moses.   En wat doen dié God in die tweede plek?  God maak ’n plan waarvoor Hy Moses gaan inspan.

Merkwaardig genoeg werk God deur mense.  Ons kan so bewus wees van menslike swakheid en tekortkoming dat jy kan wonder of God Homself nie in die voet skiet deur mense te gebruik nie. 

Dit is egter die patroon reg deur die Bybel.  God skakel Noag in by sy planne om  ʼn nuwe begin met die wêreld te maak.  God wil die nasies seën en roep Abraham.  In die hoeveelste roepingsverhaal in die Ou Testament, hierdie verhaal van Moses se roeping, blyk opnuut weer hoe helder God se keuse is om deur mense te werk.

God se roeping staan daarom sentraal in ons selfverstaan en ons identiteit.  Dit is wie ons is: geroepenes en gestuurdes van God.  Ons roeping definieer wie ons is.

Só was dit met Moses.  Hoewel hy hier reeds ʼn ou man is, blyk duidelik dat sy hele lewensverhaal enersyds voorbereiding vir hierdie roeping was, en andersyds (na Eksodus 3) die uitspeel van hierdie roeping is.

Só is dit ook met elkeen van ons.  Ons lewens word gestempel deur die feit dat God ons roep en stuur. 

  • Enersyds om ʼn goeie lewensmaat, ouer, werkgewer of werknemer ensomeer te wees. 
  • Andersyds gee God se roeping ook ʼn bykomende fokus aan ons lewe.  Daarom wy sommige hul lewe aan die verligting van armes se swaarkry, ander wy hulle aan die verspreiding van die evangelie oor allerlei grense, nog ander lê hulle toe op die geestelike vorming van jongmense.  Ons doen hierdie dinge op verskeie plekke en tye, by die kerk, huis, werkplek, sportveld, oral waar ons ons voete sit.

Roeping bring die fokus en die sin in ons lewe.  Dit stempel ons.  Dit bewaar ons van die betekenislose ronddobber in die lewe.

Waarom roep God mense?

Waarom roep God mense as medewerkers?  Ons teks gee die aangrypende motivering:

Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.  Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.  Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk.  Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” (Eks 3:7-10)

Ons teks, en in ’n sin die hele Bybel, ken die belangrikste rede waarom God mense roep.  God sien die nood en behoefte van ander mense (verse 7 en 9).  God sien en weet dat mense swaarkry en seerkry.  God neem die nood van mense ter harte.  Dit raak Hom diep om mense in ellende en lyding te sien.

Derhalwe roep God mense ter wille van ander mense.  God word telkens deur die nood  en gesukkel van mense gemotiveer om ander mense te roep as sy helpers en medewerkers om hierdie nood aan te spreek en mense vry te maak.

Juis om hierdie rede gee roeping soveel sin aan ʼn mens se lewe.  Dit mag jou met vrees vervul, maar dit is altyd ʼn geleentheid om deel te neem aan die genesing wat God in die wêreld bewerk.

Waarom deins geroepenes terug?

Moses deins terug vir sy roeping.  Hy maak allerlei verskonings.  Baie gelowige mense doen dit ook.  Waarom is dit moeilik om positief te reageer wanneer die Here ons roep?  Waarom ignoreer mense hul roeping, stuur daarvan weg, of sukkel om sovêr te kom om die roeping te begin leef en dit uit te voer?

Eerstens weet mens gehoorsaamheid aan jou roeping gaan nie maklik wees nie.  Soos Moses later sou ondervind, weet mens dinge gaan moeilik en taai wees.  Jy gaan teenstand ervaar.  ʼn Roeping verg opoffering, toewyding, en persoonlike ontbering.  Dietrich Bonnhoeffer, wat self vir sy roeping in ʼn Duitse tronk gesterf het (hy het Hitler se bewind teengestaan), het geskryf: “Wanneer Christus mense roep, roep Hy hulle om te kom en aan hulleself te sterf” (The cost of discipleship).

Tweedens is ons geneig om te veel van onsself – en veral ons eie gebreke – bewus te wees.  Soos Moses wonder mens wie jy nou eintlik is, of jy oor die nodige talente beskik, en hoe jy nou eintlik iets sal kan regkry.  Sal die Here my kan gebruik?  Mens dink daar is baie beter en bekwamer mense as jy beskikbaar.  Daarmee hoop ons om los te kom van ons roeping en los te kom van die Here se aanspraak op ons lewens.

Derdens word ons gewoonlik nie maklik geraak en geroer deur die nood en deur die swaarkry van ander nie.  Soms kan ander se lyding vir jou so normaal voorkom – jy kan so gewoond raak daaraan – dat jy dit nie meer raaksien nie.  Soms kan jy mense selfs jammer kry, sonder om werklik ʼn diepe deernis te hê wat jou tot aksie laat oorgaan.  Ons het  ʼn gebrek aan liefde wat tot goeie dade oorgaan.  Ons is traag om ons roeping in die nood van ander te erken.  Dis soos Moses wat rustig kon skape oppas nadat hy uit Egipte gevlug het, wetende hoe swaar dit met die Israeliete gaan.

God bemoedig en versterk

Hoe reageer God op ons onwilligheid?  Kyk na verse 11 en 12:

Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”  God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

Die Here gee aan die mense wat Hy roep die belofte en versekering van sy teenwoordigheid en sy bystand.  God se teenwoordigheid gee die moed en bekwaamheid wat ons nodig het.  God se teenwoordigheid bestaan daaruit dat Hy saam met ons gaan, voor ons uit, met ons, en ook agter ons.

In Matteus 28:18-20 word hierdie teenwoordigheid in die groot opdrag op onvergelyklike wyse uitgespel.  Jesus gee die opdrag om na die nasies te gaan, en raam die opdrag met die mededeling dat alle mag op aarde en in die hemel aan Hom gegee is, en dat Hy by ons is tot aan die einde.

Die Here is in beheer van ons roeping, Hy gebruik ons, maar ons is God se medewerkers.  Ons roeping is altyd ʼn vennootskap waar God direk teenwoordig is.  Soms mag ons moedeloos en terneergedruk raak, maar die Here sê sy teenwoordigheid aan ons toe.  Dit troos ons.

Uiteindelik gee die Here ook Aäron as menslike vennoot vir Moses.  Ook dit kenmerk dikwels die manier waarop God ons op die pad van roepingsvervulling begelei.  Elke geroepene kan daarom weet dat God ons nooit alleen stuur nie.  Dit troos ons ook.

God begelei die volk elke deel van die pad

Die res van die verhaal van Eksodus is die verhaal van God wat saamgaan op elke deel van die pad wat Moses en Aäron, die leiers en die volk, moet stap om uiteindelik as bevryde volk van God deur die woestyn na die beloofde land te trek.

In elke gesprek om God se wil te onderskei, met elke gebed waar om God se ingrype vir kos en water en veiligheid gevra word, ervaar die volk die lewensveranderende  teenwoordigheid van die Here.  Elke wonderwerk wat God se krag ten toon stel, elke geskenk wat op die pad gegee word, elke ingrype van die Here bewys dat Hy daar is vir hulle en dat Hy dié beloon wat in Hom glo, wat rekening hou met Sy teenwoordigheid.

Slot

Waarop kan jy dus vertrou?  Wat sal die horende, onthouende en ter-harte-nemende God ook vir jou doen?

  1. God sal Homself ook aan jou bekend maak.
  2. Hy sal vir jou ’n plan gee waarby jy ingetrek word.
  3. Hy sal jou elke deel van die pad begelei tot Sy doelwit met jou en jou lewe bereikDit geld elkeen van ons.  Dit geld ook vir ons as ’n gemeente en ’n land.

Gebed

Dankoffer

Vonkk 159 Heer, ons dink aan Afrika – koor

Slotsang

Liedboek 531 Ons Here, God van alvermoë – staan

Seën

Respons

Liedboek 269:1 God bly met u waar u ook mag gaan

Genesis 12-36 – God bou ‘n nasie – 27 Januarie 2013

Verwelkoming

Toetrede

Psalm 48:1 – Lofwaardig, groot is God die Heer – staan

Votum en Seëngroet

Lofsang

Liedboek 343 – Loof die God van ons verlange! – sit

Liedboek 365 – Hoor die blye eng’le lied aan die Koningseun gebied – staan

Kindertyd

Wie van julle het al getrek in julle lewe? 

Hoe voel dit? Dit vat ’n tyd om alles te leer ken.  Daar is altyd baie nuwe goed, ’n nuwe huis, nuwe kamers, nuwe maats, nuwe winkels. En sommige goed is lekker en opwindend.  Ander goed moet jy eers aan gewoond raak.

Die Bybel vertel ons van Abram wat só na ’n nuwe plek moes trek. 

Abram het in Ur gebly.  Eendag het die Here met hom gepraat en gesê: “Trek uit jou land uit na die land toe wat Ek jou sal aanwys.  Ek sal vir jou ’n plek gee waar jy kan bly en waar jy ’n groot familie sal word.”  Abram het baie spesiaal gevoel en die pad gevat na die nuwe plek wat die Here vir hom belowe het, die land waar Jerusalem uiteindelik gebou sou word.

Maar, hy het nie alleen getrek nie. 

Al sy mense het saamgetrek, ook sy werkers, want hulle sou in die nuwe land steeds sy skape moes oppas.  Abram het egter nie kinders gehad nie.  Sy nefie Lot het toe ook saamgetrek.  Lot was Abram se broer se kind.

Het julle nefies?  Nou stel julle voordat die nefie al oud genoeg is en dan besluit om saam te trek met julle.  Hoe sal julle voel?

Toe hulle in Israel aankom het hulle rondgetrek in die land.  Hulle was baie bly dat hulle só ’n mooi land van die Here gekry het.

Op ’n dag het Abram en Lot egter ’n probleem gekry. 

Hulle het baie skape gehad en die skaapwagters het begin stry met mekaar.  Daar was te veel skape en te min kos en water.

Hoe nou gemaak? Wat dink julle?

Abram sê toe vir Lot: “Ons kan mos nou nie stry met mekaar nie.  Ons is familie.  Ons moet die land tussen ons verdeel dat ons nie hoef te stry oor water en kos vir ons skape nie.  Kies vir jou ’n helfte dan sal ek die ander helfte vat.”

Lot het toe gekyk en hy sien toe daar is baie water by die Jordaanrivier.  En hy besluit dít is waar hy gaan bly.  En hy trek met al sy skape en al sy mense daarheen.

Abram moes toe in die droër deel gaan bly, waar daar minder water is.  Lot het die beste deel gekies.  Abram moet met die res tevrede wees.

Hoe sou julle gevoel het as die nefie die beste deel kry?

Wat doen die Here toe?  Hy kom na Abram toe en sê vir hom: Ek gee vir jou hierdie land van bo af tot onder, van hierdie kant af tot die ander kant.  Ek sal vir jou sorg , want Ek wil jou seën.

En die Here het dit gedoen.  Abram was geseënd en het ’n kind Isak gekry en die hele volk van die Israeliete het van hom afgekom.

En Lot?  Dinge het nie so goed gegaan met hom nie.  Hy het in ’n slegte stad gaan bly.  Eendag is hy in ’n oorlog weggevoer.  En wie moes gaan help?  Abram!

Die ergste was dat die Here later die stad wou uitwis en Abram moes ernstig bid sodat die Here engele moes stuur om Lot te red.

God het vir Abram geseën, sodat hy selfs vir Lot kon seën en kon help toe hy in die moeilikheid kom.

Ons kan die Here dus vertrou dat Hy vir ons sal sorg, selfs al lyk dit asof iemand anders die beste deel kies.  En die Here wil hê dat ons ander mense ook sal seën, vir hulle goed sal wees.

Gebed

Skriflesing

Genesis 12-36 – ons fokus egter net op Gen. 12:1-4 binne die konteks van die hele Abram, Isak en Jakob geskiedenis.

’n Mens kan die verhaal van Abraham en Jakob lees vir die intriges wat in ’n paar episodes vir ons vertel word, ’n antropologiese perspektief.  En daar is baie:

  • Lot, Abram se nefie, wat saamtrek en die beste waterryke deel van die land vir homself kry.  Wanneer Abraham beteuterd agterbly met die droër dele, is dit asof ’n mens die idioom hoor: “Nice guys come second”.  Dit is ’n verhaal wat ’n mens diep laat nadink oor die wedywering oor grond, soos ons in ons land nou alreeds ’n paar eeue ervaar, trouens grond is iets wat regdeur die wêreld ’n kritiese rol speel in onderlinge verhoudinge en waarsonder niemand ’n menswaardige bestaan kan hê nie.
  • Sara, Abram se vrou, wat dit regkry om van Hagar met haar seun Ismael ontslae te raak omdat sy nie haar seun Isak se erfporsie met die slavin en haar nageslag wil deel nie.  Dit is ’n verhaal wat ’n mens diep laat nadink oor nasieskap en medemenslikheid en hoe ’n mens saamleef met ander kulture.  Die konflik en manipulasie en wedywering bring immers hulle fisiese voortbestaan in gedrang en ons sien hier alreeds die begin van die eeue-lange konflik in die Midde-Ooste tussen nasies, iets wat natuurlik uiteindelik waar is van alle nasies op hierdie aarde.
  • Lot se ervaringe in die sondige stede Sodom en Gomorra waar hy aan ontvoering,  goddeloosheid en geweld blootgestel word en selfs ná sy ontvlugting by bloedskande betrokke raak.  Dit is ’n verhaal wat jou diep laat nadink oor familiewees en die effek wat die plek waar jy bly het op die onderlinge verhoudinge.  Sy dogters verlei hom omdat hulle hom verkwalik dat hy hulle voortbestaan in gedrang gebring het deur hulle in die berge te laat woon.  Sy keuses boemerang liederlik op sy familie en almal betaal ’n prys.
  • Jakob en Esau asook Jakob en Laban se geskiedenis van wedersydse misleiding en manipulasie waarin Jakob dit regkry om uiteindelik bó uit te kom, selfs met God in menslike gedaante te worstel, sodat die man vir hom sê: “Jy het met God en mens geworstel en nie kopgegee nie.”  Dit is ’n verhaal wat jou diep laat nadink oor persoonlike ambisie en selfverwesenliking en waar die grense lê tussen mens en mens en tussen mens en God.
  • Dan is daar nog die intriges tussen:

o Abram en Sara (dit lyk soms asof sy hom doodgewoon hiet en gebied na willekeur),

o Abram en Isak (wonder wat ’n tiener dink as sy pa bereid is om hom te offer),

o Rebekka en Isak (sy speel saam in die misleiding van Jakob, neem eintlik die voortou teen dié een wat haar só lief gehad het) en

o Lea en Ragel (die wedywering om die aandag van Jakob definieer hulle onderlinge verhouding).  Dit hou net nie op nie!

Maar dan kan jy die verhaal ook lees vanuit ’n teologiese perspektief, om agter te kom watter rol God in die intriges speel nie, sodat jy kan leer hoe om jou eie pad met God te vind.  Die Bybel is immers ’n bril wat ons opsit om God en sy pad met ons beter raak te sien.

Dit is hoe ons dit gaan lees.

Woordverkondiging

God gee ’n ruimte en ’n roeping

Ons het verlede week gefokus op God se plan met hierdie wêreld.  Hy het ’n ruimte vir alles geskep, ’n woonplek, sodat alles hulle plek kon vind, plant, mens en dier.  Hy het alles met ’n doel geskep, wat in die mens se geval die roeping was om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.

God wou op ’n spesiale manier ’n pad stap met mense.  Hy wou by hulle Sy eie woonplek vind.  Twee gevare het egter dié bedoeling van God bedreig:

  1. Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en
  2. Kain het vir Abel doodgemaak, sodat dié droom van God nie verwesenlik kon word nie.

God het egter nie sy bedoelings laat vaar nie.  Eers het hy vir Noag gekies uit al die mense om met hom ’n nuwe begin te maak.  En toe dit nie uitwerk soos God dit wou hê nie, weens die uiteindelik bou van die toring van Babel, het God besluit om ’n nog beter plan te maak.

God bou ’n nasie

Hy kies om ’n nasie te bou waaruit uiteindelik die Verlosser van die wêreld gebore sou word.

Dit is interessant dat dit lyk asof Abram se pa, Tera, deel van hierdie droom van God was, want hy het aanvanklik begin trek uit Ur van die Galdeërs na Kanaän, saam met Abram en Lot.  Om die waarheid te sê, hulle het saam met hom getrek.  Maar Tera het net tot in Haran getrek en daar die droom van Kanaän laat vaar.  Miskien het hy moeg geword, of siek, want Tera is daar dood (Gen. 11:31-32).

En toe kom daardie lewensveranderende roeping van God, waarvan Genesis 12 ons vertel, wat alles verander het:

12:1 “Trek uit jou landuit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.” Aan hierdie trek word twee groot beloftes gekoppel. 

  1. Die eerste is die land wat God hom sal
  2. Die tweede is die belofte van ’n nageslag: “2 Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak.”

En die bedoeling wat God daarmee het, word ook duidelik uitgespel: “en jy moet tot ’n seën wees.”

Ek sal jou seën met ’n land en ’n nageslag.  En my bedoeling is dat jy tot ’n seën sal wees.  Trouens, “3 Ek sal seën wie jou seën en hom vervloek wat jou vervloek.  In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

En die wonderlike reaksie van Abram: “4 Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek.”

God seën vir Abram

God begin met ’n nuwe nasie.  Sy droom is dat die hele aarde bewoon, bewerk en bewaar sal word.  Dit is waarom Hy ’n stokkie gesteek het voor die planne met die toring van Babel.  En Hy demonstreer op ’n baie persoonlike manier wat Hy wil hê moet gebeur.  Mense moet voel hulle behoort aan die aarde en aan mekaar en aan God.  En daar is nie ’n beter plek om dit te ervaar as binne ’n uitgebreide familie nie.

Daarom stuur Hy vir Abram na Kanaän om aan Sy opdrag om die aarde te bewoon, uiting te gee.  Let op dat dieselfde opdrag nie gegee word aan Isak of Jakob nie, ook nie later aan Josef en die res van die Israeliete nie.  Nét Abram moet trek, die res van sy nageslag moet bly waar hulle is.  Selfs wanneer dit nodig is om ter wille van droogte of vanweë ongehoorsaamheid die vreemde in te trek of daarheen weggevoer te word, bly die verbintenis aan die grondgebied waar God hulle geplaas het.  Want dít is die plek waar God hulle wil seën en wil koester en wil laat ontwikkel en wil gebruik.

Let ook op dat Abram en Sara nie op die oog af na die beste materiaal lyk om die nasie mee te begin nie.  Hulle is oud en ’n bietjie afgeleef.  Hulle ouers en voorouers het heidense gode gedien.  Hulle sukkel om volledig op God te vertrou.  Tera trek net tot in Haran en versaak die trek na Kanaän.  Sara lag vir God en Abram slaap by Hagar.

Tog kies God hulle en stap Hy enduit die pad met hulle, ironies genoeg deur vir hulle ’n kind te gee wie se naam “lag” beteken, Isak.  Want die geheim van nasiebou lê nie in Abram en Sara opgesluit nie.  Dit lê in God opgesluit.  In ’n besondere sin wys God daarmee dat sy keuse vir mense nie afhang van wie hulle is nie, maar van wat Hy beplan. 

Dít is die evangelie, die goeie nuus vir ons.  God kies ons nie vir wie en wat ons is nie, maar vir wie en wat Hý van ons kan maak.

Om die waarheid te sê, as ’n mens na Jakob se verhaal kyk, sien jy dat hier ’n aartsskelm en manipuleerder van formaat optree wat ten alle koste bo wil uitkom.  Hy het ongelooflike beloftes van God, reeds van geboorte af, wat herhaal is in die woestyn toe hy van Esau af wegvlug, maar hy kies om self te probeer om te sorg dat hy bo uitkom.

En dan wanneer hy hom uiteindelik in God vasloop by die Jabbokrivier, sien jy dat Hy uiteindelik buig voor God en dat hy sy arrogansie en manipulasie los en Esau met nederigheid tegemoet loop. “God was baie goed vir my,” sê hy vir sy broer en dít raak die getuienis van sy lewe wat tot vandag toe met ons spreek.

God bou ’n nasie en Hy bepaal die wyse waarop dit verwesenlik word.  En Hy doen dit as ’n motivering vir ander om Hom daarmee te vertrou.

God seën die nasies

Maar, dit is nie al nie.  God seën nie vir Abram om só ’n eksklusiewe nasie te skep, een wat al God se goedheid kan ervaar en die res van die wêreld word net aan hulle eie genade oorgelaat nie.

Nee, God seën vir Abram met land en nageslag SODAT hy tot ’n seën kan wees vir die ander nasies, die nasies wat God ook wil seën.

Die Here wil met die nageslag van Abram ’n ontmoetingsplek skep waar Hy Homself aan ander kan bekendstel, waar Hy kan woon en Sy genade en goedheid kan demonstreer en deur Abram se nageslag kan aangee na ander.

  • Dit is waarom God vir Abram lei om Lot nie teë te staan toe hy die beste deel van die land vir homself kies nie, want God wil vir Lot ook seën.  Abram se hantering van Lot het dus ’n seënende effek op Lot en sy nageslag en verseker dat hulle ook ’n plek sal hê om in te ontwikkel.
  • Dit is waarom God vir Abram lei om Lot te gaan verlos uit die penarie waarin hy beland toe hy ontvoer word.  God ontferm hom dus oor dié een wat eintlik met Abram in konflik was en red hom ten spyte daarvan dat Abram en Lot se paaie uitmekaar geloop het. 
  • Dieselfde gebeur wanneer God die goddelose Sodom en Gomorra wil uitwis.  Op Abram se voorbidding vir Lot, red God vir Lot.  Trouens, ek dink Abram kon bid vir Lot omdat God reeds twee keer vir hom gelei het om vir Lot te red.  Abram is dus tot ’n seën vir ’n ander nasie, eintlik nasies, gegewe die Moabiete en Ammoniete wat uit Lot se nageslag voortgekom het. Trouens, Rut, ’n Moabiet, word later ingesluit in die geslagsregister van die Verlosser van die wêreld, wat net wys hoe ver die seën gestrek het.
  • Dieselfde gebeur wanneer God vir Abram lei om Hagar te laat gaan met die uitdruklike belofte dat God Hagar sal seën omdat Ismael Abram se kind is.  Ismael is nie ’n weggooikind nie en sy nageslag nie ’n weggooi nasie nie.

God seën Abram sodat hy tot ’n seën kan wees – en beide God se seën en Abram se seën is sigbaar op vele wyses in die verhaal.

God seën ons om te seën

En daarmee het ons ’n patroon gekry van hoe God met ons ook wil werk.  Dít is fundamenteel tot die Christelike lewe.  Soos Abram deur God gebruik is, só is Christus deur God gebruik.  En soos Christus deur God gebruik is, só gebruik God vandag nog die Christelike geloofsgemeenskap, Sy liggaam.

God het vir ons as individue en as gemeente ook ’n ruimte gegee waarin Hy ons seën.  Hy het ons ’n roeping gegee om ander tot ’n seën te wees.

My gebed is dat ons ook soos Abram sal gehoorsaam en ons roeping enduit sal uitvoer.  Dit beteken dat ons na God se stem sal moet luister om sy roeping vir ons lewens te identifiseer en uit te voer – persoonlik en in die gemeente.  Soms sal dit ook beteken dat daar Lotte en Hagars oor ons pad sal kom wat ons met deernis en menswaardigheid sal moet hanteer.  Bowenal sal ons die ruimte wat God ons gee met passie moet benut sodat ons die roeping wat Hy vir ons het met oorgawe kan nakom.

Geseën om te seën – dít is ons motto vir die lewe.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Liedboek 521 – Erkentlik deur die dae, my aardse lewe lank – staan

Seën

Respons

Liedboek 521 – laaste vier reëls van vers 1

2 Korintiërs 4:16-5:10 – Ons het ‘n vaste gebou in die hemel

Roudiens vir Rinette Dickinson

Die lewe is ‘n reis in ‘n tentwoning

Paulus vertel die verhaal van ons lewe as ‘n reis in ‘n wêreld waar daar lyding en swaarkry is.  Ons intense verleentheid, selfs as gelowiges, is die tydelikheid en verganklikheid van alles.  Niks wat ons hier opbou, is blywend nie – alles gaan verby.  Ons beleef die afwesigheid van heerlikheid, ons beleef verlange.  Ons leef onder die swaard van verganklikheid.  Tyd kalwe selfs ons beste en ons hoogtepunte weg.

Paulus praat daarom van ons lewe as ‘n tentwoning (vers 2), ‘n woning wat nie blywend is nie, ‘n tentwoning wat uitgelewer is aan die elemente van die weer en die omgewing, ‘n tentwoning wat eintlik verbasend gou verweer en verval.

Julle het hierdie proses moes waarneem in Rinette se lewe.  Die agter uitgang, die afbreek van menswaardigheid, die frustrasie, die verlange dat dit anders kon wees.  Dit is moeilik om die swaarkry te sien en die droom te laat vaar van ‘n oudag saam, en te moet weet dat Rinette nou by sekere mylpale waardeur julle as ‘n familie sal gaan, nie gaan wees nie.  En dit is nie net iets wat ‘n mens eenmaal oor hartseer is en dan is dit verby nie. Elke keer wanneer daar ‘n mylpaal kom, sal die verlange na Rinette en na die deel van die oomblikke van verwondering en gemeenskap by julle weer opvlam.

Dié ervarings kan ‘n mens sonder moed laat en jou laat wanhoop aan die lewe.  Dit is ‘n proses en ‘n ervaring wat ons laat sug en laat verlang na iets meer blywends, iets meer standvastig, iets wat nie tydelik sal wees nie, maar ewig, iets wat nie gou sal vergaan nie, maar vastigheid en blywende krag sal hê, ‘n vaste gebou, ‘n permanente struktuur, een wat bestand sal wees teen die aanslae van die weer en van die omgewing, wat nie verweer nie en nie verval nie.

Ons het ‘n vaste gebou in die hemel

En dit is presies die hoop wat Paulus in hierdie gedeelte vir ons gee met die prentjie wat hy teken van die vaste gebou wat ons in die hemel het (vers 1).  En ek wil dit as troos vir julle gee vir die afskeid-neem en die verdere reis met mekaar.

Paulus sê, ons weet tog dat ons swaarkry in hierdie lewe verby gaan.  Ons het nie illusies oor die pyn en die verydeling van ons lyding nie, maar ons weet ook dat dit nie vir altyd is nie, dat selfs dié swaarkry verbygaan. En ons weet dat hierdie lewe vir gelowiges uitloop op ‘n heerlikheid wat nie net alles sal oortref nie, maar vir ewig sal bly (vers 17).  Ons oog is daarom op daardie onsigbare, ewige dinge gemik.

En om ons te help om ons fokus op die onsigbare ewige dinge te hou, gebruik Paulus die beeld van die vaste gebou wat ons in die hemel het (vers 1).

Die “vaste gebou by God” (5:1) is ‘n belangrike sleutel om Paulus se boodskap, maar ook sy lewe, sy diensbaarheid en sy selfprysgawe te verstaan.  Hy weet – wat ook al gebeur – God berei vir hom ‘n oorgang voor van die tydelike, sugtende, gebroke lewe – die tentwoning – na die heerlike, ewige bestemming in God se teenwoordigheid – die vaste gebou.

Die Heilige Gees is ons waarborg

Hoe weet ons dit?  Watter getuienis het ons om dít te glo?

Paulus verwys nie hier na ‘n teks in die Bybel om as getuienis daarvan te dien nie, hoewel hy ‘n hele paar Skrifverwysings sou kon aangee.  Nee, hy verwys na iets baie meer intiem, iets baie nader aan ons hart.  Hy verwys daarna dat God: “As waarborg hiervan ons sy Gees gegee het.” (vers 5)  God het reeds die deposito op die vaste gebou betaal.  Die waarborg daarvan is die wonderlike werklikheid dat Hy vir ons sy Gees gegee het.  Die Heilige Gees is die getuie in ons harte en lewens wat ons oortuig van die vaste gebou wat God vir ons voorberei.  En diep binne ons hart doen Hy die oortuigingswerk dat dié belofte van God betroubaar is.

Dit is natuurlik presies wat Jesus eenmaal vir die dissipels vertel het in sy laaste gesprekke met hulle, net voor hy gevange geneem is in Getsemane, een van die Skrifverwysings wat Paulus sou kon aanhaal:  “Glo in God; glo ook in My.  In die huis van my Vader is daar baie woonplek … As Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh 14:1-2).

En hier herhaal Paulus dié diep bemoedigende boodskap van Jesus en verbind dit aan die getuienis van die Heilige Gees in ons harte.

Daarmee spel Paulus die hoop en verwagting uit wat ons in ons omdra.  Die swaarkry van hierdie lewe – ons tentwoning – gaan verby, en ons wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan – ons vaste gebou in die hemel.

Dáárom kan ons roekeloos doen wat God vra.  Ons kan ons lewe gee in diens van ander.  Ons kan ons lewe in gevaar stel vir ander.  Ons kan slae verduur ter wille van die evangelie, en ter wille van ander.  Want ons sien die vaste gebou en ons verheug ons daaroor, die eindpunt van ons geloof en die einddoel van ons lewe.

Ons is vry om te lewe soos God wil

Ons uitsig op die vaste gebou maak ons dus vry.  Dit gee ons die moed om te lewe:

  1. Ons mag sug dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef (vers 2).  God is immers besig om ons vir hierdie oorgang voor te berei, in karakter, in insig, in ervaring van Hom, in gemeenskap met mekaar (vers 5).  Ons mag vra daarvoor, ons mag selfs kla daaroor, en God se beloftes vashou dat Hy dit sal vervul – dat ons tentwoning nie die laaste sê oor ons lewe sal hê nie.
  2. Ons kan die Gees vertrou wat ons moed gee om te wag op God se tyd (vers 5).  Hy werk in ons harte om geduldig te wag, om met oorgawe te leef op pad na die allesoortreffende heerlikheid wat ons deel in die Vaderhuis sal wees – die vaste gebou in die hemel.
  3. Ons kan ons lewens fokus op die een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil (vers 9).    Ons wil sien dat die goeie seëvier, dat die kwade oorwin word, dat die koninkryk van God gevestig sal word oor elke duimbreedte van hierdieEn ons gee onsself dus daarvoor, resloos, sonder om iets terug te hou.

Ons het ‘n belofte van ‘n tuiskoms

Ons is verseker waar die geskiedenis gaan eindig: voor God se regterstoel.  En daaroor kan ons ons verheug en daarna kan ons uitsien.

Maar die geskiedenis het nog nie geëindig nie.  Nie die wêreld se geskiedenis nie, en ook nie ons eie persoonlike geskiedenisse nie.  Rinette is in die vaste gebou, maar ons is nog in die tussentyd, êrens op die tydlyn tussen hier en daar in ons tentwoning.

Wat ons moed gee is dat ons hierdie belofte van ‘n tuiskoms het, in die vaste gebou wat God ons gaan gee.  Daarom kan ons moed skep uit Paulus se woorde:

“Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (vers 17).

Dit gee ons die moed (vers 6) wat ons laat aanhou en uithou en leef midde in die verganklikheid.  Want, is dit nie ook iets wat ons in Rinette se lewe kon sien nie?!  Sy het gelewe met hierdie verwagting en gesterwe met hierdie verwagting.  Sy het inderdaad nou die oorgang belewe waarvan hierdie teks praat.  En sy getuig nou met haar hele lewe van begin tot einde dat hierdie boodskap die moeite werd is om aan te gryp en te glo.

Egte moed kom altyd van buite af.  Vir Paulus kom dit van God af.  God is in hierdie lewe aan die werk.  God is in Rinette se lewe aan die werk.  God is in ons lewens aan die werk.  God is besig om ons innerlik te vernuwe, soos hy dit vir haar gedoen het.  God is besig om ons almal te lei na die vaste gebou, die onomstootlike heerlike bestemming wat God vir ons weggelê het.  Soos hy dit vir Rinette gedoen het.

Dit is die egte bron van moed vir die lewe.  Daarop kan ons vertrou.  Daaraan kan ons vashou.  Daarmee kan ons volhou, enduit, tot ons self die oorgang beleef na die vaste gebou in die hemel.

Liedboek 602

Bedankings

Seëngroet

 

Genesis 1-11 – Die Skepping: Die begin van lewe soos ons dit ken – 20 Jan 2013

Verwelkoming

  • Orrel en trompette: Die Heilige stad (Adams) – Baie dankie aan Albert saam met Jan Coetzer en Mark en Marcell Muller (trompette) en Frances Coetzer (Franse Horing)
  • Ons kort nog NET een kategeet vir Gr 1.  Maar dis dringend.
  • Ouers wat help met die Toepassing vir voorskoolse kinders moet in die konsistorie bymekaar kom.  Oud en nuut baie welkom!  Veral ter wille van dié wat ook skoolgaande kinders het.

Graad 7’s kom gou vorentoe en kom staan hier by my.  Ons wil vir julle ietsie gee vir die jaar wat kom en vir julle bid.

Toetrede

VONKK 40 – Kom en vul ons met vrede – sit

Lofsang

VONKK 39 – Lank, lank terug in Bethlehem – sit

VONKK 124 – Jesus bring vreugde, redding en vreugde – staan

Doop

Arnold en Michelle Pienaar se seun Robert

Liedboek 293:1,3 – Jesus neem ons kleine kinders – sit

Kindertyd

  • Ursula Kilian – graad 1’s spesiaal verwelkom.

Ons gaan hierdie jaar die hele storie van die Bybel deurlees hier in die erediens.  Elke week gaan ons almal een hoofstuk lees in die boek Die Storie waarin al die verhale van die Bybel vertel word.  Daar is ook ‘n eenvoudige boek vir al die kleiner kinders, Die Bybelstorie vir klein hartjies.

Hierdie week het ons almal gelees van die Skepping en van Adam en Eva en nog ‘n paar ander mense.

Ek wil vir julle in my eie woorde ietsie vertel daarvan.

Lank, lank gelede was daar niks op die aarde nie.  Om die waarheid te sê daar was nie ‘n aarde nie, ook nie ‘n hemel nie.  Moeilik om te glo, nê!?

Wie was daar?  God, ja.

Toe besluit God om die hemel en die aarde te maak.  Hy maak die sterre, die son en die maan, en die aarde.  Hy maak die see en die land, en Hy gee vir al die diere ‘n plekkie om te bly.  Vir sommige gee Hy die see: al die visse en die walvisse en die seeperdjies, en die krappe, en die krewe. Vir sommige gee Hy die land: die leeus, die olifante, die miere, die sprinkane en die katte en die honde.

En vir wie gee Hy die lug om in te vlieg?  Die voëls, ja.  Al die duiwe en mossies, die loeries en die valke, selfs die kraaie!

Vir almal van hulle gee Hy ook kos om te eet.  Sommige eet blare, ander eet vrugte.  Almal het genoeg, want daar is volop kos.

Maar, daar was niemand met wie God kon praat nie, wat na Hom kon luister en wat met Hom kon gesels nie.

Wat doen God toe?  Hy maak die mense.  En Hy gee vir hulle ‘n plekkie om te bly, die tuin van Eden.  Dit was ‘n wonderlike plek met baie water en bome en vrugte.  En God was baie bly.  Die Bybel vertel vir ons, elke aand het Hy in die tuin van Eden met hulle kom gesels.  God het die man Adam genoem, en Adam het sy vrou Eva genoem.

Die wonderlike ding is dat dieselfde God ook vir jou en my gemaak het.  En Hy is net so bly oor jou en my as wat Hy oor Adam en Eva was.

Ek gaan nou ‘n bietjie meer daaroor sê en ook gesels oor die groot probleem wat Adam en Eva gehad het.  Maar, kom ons sê vir die Here eers dankie dat Hy ons gemaak het.  En dat Hy bly is oor elkeen van ons.

Gebed

Skriflesing

Ons het dié week gelees van drie sleutelgebeure:  Skepping, Sondeval, Sondvloed (Noag).  Daar is natuurlik eintlik vier sleutelgebeure, maar die vierde is weggelaat in die deel wat ons in Die Storie lees.  Dit is die verhaal van die Nasies en die toring van Babel.

Ek gaan uiteraard nie al 11 hoofstukke vanoggend lees nie, maar net ‘n paar dele daarvan lees soos ek die verhaal van die Skepping: die begin van lewe soos ons dit ken, vertel en interpreteer.

Woordverkondiging

Gen 1:1-2 – “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.”

Alles is deur God gemaak en behoort aan Hom

Reg van die eerste verse van Genesis af, word die grondoortuiging gestel wat ons wêreldbeeld vorm: die aarde is God se skepping.  Hy het dit gemaak reg in die begin van alles.  Alles wat bestaan kom van God af.  Alles.  Wat beteken, die aarde behoort aan God en alles daarop en daarin.  Dit is fundamenteel.  Maak nie saak waaroor ons dink, of wat ons doen nie – ons doen dit op God se aarde, in Sy heelal, in die ruimte wat Hy vir alles en almal geskep het.

Hy is die hoofkarakter van die Skeppingsverhaal.  Alles draai om Hom, want alles is deur Hom en vir Hom gemaak.

  • God het die lig gemaak – Dag 1 (die dae word natuurlik digterlik en metafories bedoel). Die versoeking is groot om dit met die Big Bang te verbind.  Ek het juis die week weer gelees oor die boson wat Peter Higgs voorspel het, en nou met Cern se eksperimente waargeneem is.  Hierdie Higgs boson was die deeltjie wat direk na die eerste millisekonde van die eerste ontploffing van materie sy werk begin doen het om aan alles massa te gee.  Maar dit is nie wat die skrywer hier probeer doen nie, naamlik om ‘n wetenskaplike prentjie te gee van hoe dit gebeur het nie.  Hy wil doodgewoon sê, die feit dat daar iets is en nie niks nie, is aan God te danke.  Dat daar lig is in die donker, is aan God te danke.
  • God het die aarde waterryk gemaak – Dag 2. Sonder water sou ons nie kon bestaan nie.  Ons liggame bestaan vir 75% uit water, en die omgewing waarin ons leef, moes waterryk wees.
  • God het die land en die see geskei – Dag 3 – en die plante en bome laat uitspruit om kos te verskaf, die lewensmiddele wat alle lewende wesens nodig het om van die te lewe.
  • God het die seisoene gemaak sodat daar ‘n ritme van lewe kan wees – Dag 4 – wat verbind word met die hemelliggame se bewegings.
  • God het die seediere en die voëls gemaak – Dag 5 – vir wie Hy ‘n ruimte in die see en in die lug en op land gegee het.
  • God het die diere en die mens gemaak – Dag 6 – vir wie Hy ‘n ruimte op land gegee het om vrugbaar te wees en te vermenigvuldig om te geniet wat God hulle gegee het.

Die eerste drie dae het God dus ‘n ruimte gemaak waarin alles hulle plek kan vind.  Die volgende drie dae het God alles wat lewe gemaak, plante, diere en die mens.  Ruimte en Lewe – dit alles is die werk van God.

God se bedoeling met die ruimte van hemel en aarde was dus dat alles wat lewe ‘n plek daarop sal vind, ‘n habitat, ‘n tuiste – vir mens, dier en plant.  Ons kan dié bedoeling selfs sien in die manier waarop die Bybel diere en plante klassifiseer.  As jy Genesis 1 deeglik lees, sien jy dat die diere nie volgens hulle anatomie en morfologie geklassifiseer word nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly, die voëls in die lug, die visse in die see, die diere op die aarde.  Dit is selfs waar van die mens in die tuin, en later in die onderskeie streke van die aarde waar hulle gaan woon het (Gen 2-11).  Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef. 

God het die mens gemaak om by hulle te kom woon

Gen 1:26-28 – “26Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.’ 27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. 28Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.’”

Die punt van die mens se skepping is dat ons in só ‘n nou verhouding met God bestaan, dat Hy by ons Sy plek kan vind.  Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën, sodat Hy by hulle tuis kan kom. 

God se groot passie is dus nie die uitsonderlike grootsheid van die heelal nie.  Hy is nie tevrede met die unieke verskeidenheid van die fauna en flora van die aarde nie, al is dit ook hoe aantreklik en interessant.  Nee, God se doel met dit alles is om in verhouding te tree met die mens en Sy tuiste te vind by ons.  Die God wat alles gemaak het, wat vir alles ‘n plek gevind het, wil by ons kom woon.  Sy plek is by ons.

Dink daaroor na.  God skep die heelal en alles daarin met die visie om by ons te kom woon.  Ons is die punt van Sy storie. Jy is die punt van God se storie.

Twee goed bedreig God se bedoeling

Nou belangrik: hierdie bedoeling van God is deur twee goed bedreig.

  1. Die eerste bedreiging was deur ongehoorsaamheid aan God (Adam en Eva – Gen 3) wat in die eerste plek die verhouding tussen Adam-Eva en God verbreek het en God se bedoeling met hulle in die wiele geryNatuurlik het dit  ook die verhouding tussen Adam en Eva vertroebel asook vir hulle in konflik met hulle omgewing gebring – “die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit” (Gen 3:18).  Maar die belangrikste was dat die verhouding met God deurbreek is.  En dit was nie net vir Adam en Eva katastrofaal nie.  Ook vir God.  Julle sal raaksien ek hanteer hulle bestaan as metafore vir die ontstaan van die mens in terme van ’n persoonlike verhouding met God.  Wie Adam en Eva was en presies hoe dit gewerk het, is ’n onderwerp vir ’n ander dag.
  2. Die tweede bedreiging was deur geweld teenoor medemense (Kain wat Abel doodmaak – Gen 4).  Natuurlik sny geweld teenoor medemense jou verbintenis met hulleWanneer Kain tot swerwer verdoem word, dan kla hy juis dat sy verbintenis met sy medemense en ook met die ruimte wat God hulle gegee het, afgesny word.  Hoe ontstellend klink Kain se uitroep nie na hy Abel van kant gemaak nie: “My straf is te swaar om te dra.  U verdryf my nou van my grond af” (Gen 4:13-14).  Maar die belangrikste gevolg van hierdie geweld was dat dit vir Kain verder van God vervreem het.  Hy kies selfs wanneer God hom aanspreek en ‘n opsie gee om die regte ding te begin doen, om eerder die verhouding met God te versaak en nie te soek na wat God wil hê nie.  En só verloor Kain homself en sy verbintenis met sy medemense en die ruimtes waar ware lewe moontlik is.

Geen wonder dat Jesus se opsomming van die wet baie eeue later sou wees: om God lief te hê en jou naaste soos jouself, presies die oplossing vir die twee goed wat die verhouding met God bedreig.

God wil steeds by ons kom woon

Maar God se passie vir ‘n verhouding met mense is groter as sy afgryse van die ongehoorsaamheid van Adam en Eva en die geweld van Kain teenoor Abel.  Hy wil by ons kom woon.  En die res van die storie van die Bybel vertel die verhaal vir ons van God se onvermoeide pogings om die verhouding met ons te herstel, om ons terug te wen in ‘n verhouding met Hom, sodat Hy ons kan liefhê en ons vir Hom.

Die verhaal van Noag is God se eerste poging om met sy familie oor te begin.  En let op dat God nie met individue in isolasie werk nie.  Hy werk met families.  Maar dit slaag nie volledig nie, soos ons reeds lees in die dronkenskap van Noag en die ongemaklike storie van Gam.  Dit kon natuurlik ook nie, want die sonde het saam opgeklim op die ark, want dit was deel van hulle geestelike DNA.

En toe dít nie werk nie, kies Hy vir Abraham, en Isak, en Jakob, en Josef … totdat Hy sy eie Seun na ons toe stuur om in Hom ‘n weg oop te maak na ‘n herstelde verhouding met God.

Dit bly vir my een van die mees treffende leringe van Jesus, waar Hy in Johannes 14:23 vir die “goeie” Judas-dissipel (wat waarskynlik ook die naam Taddeus gehad het en dus nie met Judas Iskariot verwar moet word nie) sê:

“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

En dit is wat God ook met jou hierdie jaar wil doen.  In jou lees van Die Storie wil God sy teenwoordigheid só ‘n werklikheid vir jou laat word, dat jy inderdaad die ervaring sal hê dat God by jou sal kom woon.

Dit is my gebed vir jou, en vir my.

Watter voorreg en watter avontuur om saam hierdie jaar te onderneem.

Gebed

Dankoffers

Slotlied

VONKK 92 – Als so mooi en wonderlik – staan

Seën

Respons

Liedboek 313 – Amen

Jesaja 43:1-13 – In die smeltkroes van die lewe – 13 Jan 2013

Verwelkoming

Die sentrale tema van die gemeente vir 2013 is: Geseën om te seën.  Om die jaartema tot sy reg te laat kom, fokus ons in die eredienste en in die kleingroepe gedurende die skoolkwartale op die oorhoofse aaneenlopende verhaal van God en sy mense in die Bybel.

Ons gebruik as vertrekpunt hiervoor die inhoud van die boek Die Storie.  Hierdie boek van Max Lucado en Randy Frazee gebruik die Nuwe Lewende Vertaling as Bybelteks en vertel die aaneenlopende verhaal van die Bybel in 31 hoofstukke.  Die voordeel hiervan is dat die werklike teks van die Bybel gebruik word, en mense in ‘n jaar nie net die verhalende gedeeltes van die Bybel deurlees nie, maar ook ‘n globale prentjie van God se verhaal met sy mense sal kry.

Die boek is in Afrikaans beskikbaar in verskillende uitgawes vir volwassenes, tieners, jonger kinders, en selfs vir voorskoolse kinders.   Bestel Die Storie en Die Storie vir Tieners @ R50 (gewone prys R99.94) en Die Storie vir Kinders @ R120 (gewone prys R149.96) en Die Storie  vir klein hartjies @ R105 (gewone prys R129.95)  by die kerkkantoor.  Dit is ook in Eboek (ePub) formaat beskikbaar by Kalahari.com.

Daar is ook baie ander hulpmiddels beskikbaar, soos DVD’s.  Kyk gerus by CUM uitgewers na meer inligting.

Ons wil dus graag hê dat almal in die gemeente saam met ons die Bybel op dié manier deurlees, terwyl ons dan elke Sondag fokus op een van die onderwerpe uit die Bybelgedeeltes wat in die voorafgaande week gelees is.  Daar sal telkens ‘n week vooruit by www.ngkerksomerstrand.co.za/kleingroepe/materiaal  kleingroepmateriaal beskikbaar wees vir Bybelstudiegroepe, gemeenteselle en huisgodsdiens, sodat mense saam met ons die pad met die Bybel kan loop.  Dit is gebaseer op die kleingroepmateriaal wat agter in die boek Die Storie verskyn en wat groepe ook kan raadpleeg.

Kleingroepe kan in die kerkkantoor die eerste week se materiaal gaan kry.  Dit is ook op die webtuiste beskikbaar.  Ons begin met Genesis 1-11.

Hier is die eerste kwartaal se teksgedeeltes wat ons gaan lees, die tema van die gedeeltes, en die week waarin ons dit gaan lees:

Week

Teksgedeelte

Tema

13-19 Januarie

Genesis 1-11

Die begin van lewe soos ons dit ken

20-26 Januarie

Genesis 12-36

God bou ‘n nasie

27 Januarie – 02 Februarie

Genesis 37-50

Josef: van slaaf tot onderkoning

03-09 Februarie

Eksodus 1-17

Bevryding

10-16 Februarie

Eksodus 18-40

Nuwe wette en ‘n nuwe verbond

17-23 Februarie

Numeri, Deuteronomium

Omswerwinge

24 Februarie – 02 Maart

Josua

Die stryd begin

03-09 Maart

Rigters

‘n Klompie goeie mans … en vroue

10-16 Maart

Rut

Die geloof van ‘n heidense vrou

Die Bybelskool fokus die eerste kwartaal op Psalms 42-72.  Eerste byeenkoms 23 Januarie in die konsistorie.

Toetrede

Lied 343 Loof die God van ons verlange!  – sit

Votum

Prys die Here, julle hemelinge!

Prys die Here om sy eer en mag!

2Prys die Here om die eer van sy Naam!

Buig voor die Here by sy heilige verskyning!

(Uit Psalm 29)

Seëngroet

Aan almal wat aan God behoort, getroue broers en susters in Christus.

Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

(Ahv Kolossense 1:1-2)

Lofsang

Lied 350 In die stad van koning Dawid, in die nederige stal  – sit

Lied 370 Eng’le uit die hoogste hemel – vers 1,4,5 – staan

Geloofsbelydenis

Epifanie is ‘n tyd van nadenke oor die identiteit van Jesus, die Christus-Kind. 

Verlede week het ons gelet op die feit dat Hy alreeds as Kind as Koning aan ons bekendgestel is.  Die sterrekykers – nuwe vertaling wat kom, praat van hulle as sterrekenners – het Hom as koning erken en gehuldig; Selfs Herodes het ironies genoeg Hom as koning erken, in sy verydelde poging om Jesus te probeer uitwis.

Maar, Jesus se koningskap is nie net goddelik van aard nie. Hy is volledig mens.  En een van die maniere waarop ons sy menslikheid vier in Epifanie-tyd is om oor sy doop na te dink, want dít is die punt waar Hy met ons sondigheid geïdentifiseer het, waar Hy werklik een van ons geword het, natuurlik sonder om self te sondig.

Ons lees in Lukas 3:21-22:

21Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ’n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Dít is die evangelie aan ons, die goeie nuus, dat hierdie geliefde Seun Hom aan ons verbind het, Homself vir ons gegee het.

Ek wil nou vra dat ons almal ons geloof bely, en dat dié wat die vrymoedigheid het, daarna hulle hand in die doopwater kom steek en net weer die belofte van God, dat Hy daar is vir ons, kom omhels.

Voorganger: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Vader ‘n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy  ons tot Sy kinders en erfgename aanneem.

(Oomblik van stilte)

Voorganger: Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van Sy dood en opstanding ingelyf het.

(Oomblik van stilte)

Voorganger: Glo jy in die Heilige Gees?

Gemeente: Ja, ek glo.

Voorganger: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.

(Oomblik van stilte)

Doopherinnering

Lidmate kan nou na die doopvont kom word waar elkeen geleentheid sal kry om sy/ haar hand in die doopwater te plaas, waarin ek die woorde gaan sê: “Jy behoort aan God.”

Gebed

Skriflesing      

Jesaja 43:1-13

Inleiding

Hierdie hoofstuk moet eintlik as ‘n eenheid gelees word, want in die drie perikope word God se getrouheid in die smeltkroes van die lewe geskets.

  1. Jesaja verseker eerstens die volk van God se liefde vir sy mense: “Jy/julle is myne”.  Hierdie liefde van God is só groot, dat Hy hulle ‘n nuwe begin laat maak, sodat hulle Hom weer kan ken en in Hom kan glo (43:1-13).
  2. Jesaja verseker tweedens die volk dat Hy dit ter wille van hulle doen, maar ook ter wille van Homself, want Hy het hulle “vir Hom” geskep, sodat hulle sy lof kan verkondig.  Hulle is sy getuies (43:14-21).
  3. Jesaja verseker derdens die volk dat selfs al het hulle Hom nie gesoek nie, gaan Hy dit nogtans doen, omdat Hy getrou is aan Homself (43:22-28).

Geseën om te seën – dít is wat Jesaja 43 sê.  En onthou, dié woorde kom in die smeltkroes van die lewe.

Jesaja 43:1-7

Jy is Myne

43 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,

die vlamme sal jou nie brand nie, 3want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. 4Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

5Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Ek bring jou kinders van die ooste af, Ek maak hulle bymekaar van die weste af, 6Ek sê vir die noorde: Gee! vir die suide: Moet hulle nie terughou nie! Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, 7elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.

8Laat my volk hierheen kom, die volk wat blind is, al het hulle oë, wat doof is, al het hulle ore.

9Laat al die nasies bymekaarkom. Al die volke moet teenwoordig wees.

Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig? Wie kon vooraf sê wat gebeur het?

Laat hulle hulle getuies bring dat dié hulle saak bewys, en dié wat luister, kan sê: Dit is waar.

10Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is. Voor My was daar geen god nie, en na My sal daar ook nie een wees nie, 11Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie.

12Ék het die redding aangekondig Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ’n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. 13Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.

Woordverkondiging

Die produksie van suiwer goud is geen eenvoudige prosedure nie.  Daar is verskillende prosesse beskikbaar om goud in die smeltkroes te suiwer.  Goud smelt teen ‘n enorme 1,063 grade Celsius.  In die gesmelte staat kan dit dan gesuiwer word.

  • Die Miller-proses van goudsuiwering behels dat ‘n stroom chloorgas oor en deur gesmelte goud geblaas word.  Onsuiwerhede verbind met die chloor en kan van die gesmelte goud afgeskep word.
  • Die Wohlwill-proses produseer goud van die hoogste suiwerheid, maar is baie duurder.  Dit maak van elektrolise gebruik waar goud as katode gebruik word met chloroauriese-suur as elektroliet.  Dit is ‘n geweldige duur proses omdat groot hoeveelhede gesmelte goud permanent opgelos moet word in die elektroliet.
  • Die boraks-metode werk met die beginsel dat goud by ‘n baie laer temperatuur smelt wanneer die mineraal boraks by die goudmengsel gevoeg word.  Goedkoper installasies is dus nodig en klein-skaal myners kan goud koste-effektief produseer.  Hierdie metode benodig ook nie giftige kwik in die produksieproses nie. 

Maar, dit is nie eenvoudig om goud te produseer nie.  Geen wonder dat die egtheid van ons geloof in die Nuwe Testament ook aan die smeltkroes verbind word nie:

“Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.” (1 Pet 1:7)

In die smeltkroes

In Jesaja 43 bevind die volk Israel hom in die pynlike smeltkroes van die ballingskap.  God se bedoeling was om so met sy volk te wees, dat hulle ‘n konneksiepunt tussen God en die nasies sou wees (Jes 2).  Tog wou die volk nie.  Deur ongehoorsaamheid en afgodediens het hulle hul identiteit as God se eiendomsvolk voortdurend verloën.  Uiteindelik kon God nie meer nie, en beland die volk in ballingskap.

Vernaamste redes

In die vorige perikoop word van die belangrikste redes aangegee waarom die volk in ballingskap weggevoer is (42:18-25):

  • Die volk was blind in hulle sonde.
  • Hulle was doof vir die Woord van God.
  • Hulle wou nie in God se weë wandel nie.

Daarom is hulle as buit weggevoer en oorgelewer in die hande van die Babiloniërs.

God se Naam in gedrang

Jesaja 43 bring egter nou ’n duidelike wending in die gedagtegang van die boodskap van Jesaja mee.  Daar is ’n duidelike ommeswaai selfs in die manier hoe God nou tot die volk spreek.  Jesaja 42 eindig nog met die toorn en oordele van God, maar Jesaja 43 begin sommer met nuwe hoop, nuwe vertroue, nuwe uitdaging.

Hoekom?  Want, daar in die vreemde land, was die Naam van die Here op die spel.  

Liefdesverklaring

Dit is waarom die Here opnuut sy liefde aan die volk verklaar, na die geweldige tydperk van straf en lyding wat hulle in ballingskap deurgemaak het. Want sy Naam is op die spel.

In ‘n roerende liefdesverklaring spreek God sy volk aan: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou.” “Ek het jou by die naam geroep.”  “Jy is myne.”

Boesem vertroue in

Dit is ’n boodskap wat ten doel het om nuwe vertroue by die volk in te boesem.  Hierdie volk is vir jare deur die Babiloniese maghebbers onderdruk.  Hulle weet nie meer hoe dit klink om na die woord van die Here te luister nie.  Daar is geen vertroue meer op God nie.  Hulle harte en gedagtes is ver van die Here af. Daar is eerder wanhoop, mismoedigheid en ongeloof, in plaas van vertroue.

God wil hiermee nuwe vertroue by die volk aanwakker:

  • Dit moet vertroue wees wat die volk sal ophef uit haar ellende.
  • Dit moet vertroue wees wat tot ware geloof lei.
  • Dit moet vertroue wees wat sal help om die verhouding reg te stel tussen God en die volk.
  • Dit moet dus vertroue wees wat ’n versoenende uitwerking het.
  • Dit moet vertroue wees wat die volk moed gee om terug te wil kom.
  • Hierdie nuwe vertroue moet help om die wanhoop te verander in hoop, mismoedigheid in nuwe visie vir die toekoms, saam met die Here hulle God.

Daarom die trooswoorde, “wees nie bevrees nie”. Dit beteken nie net, moenie bang wees nie, maar eerder, dat Israel opnuut haar vertroue in die Here God moet stel, Skepper en Formeerder van die heelal.  Die trooswoord word weer in vers 5 herhaal om te bevestig dat die Here ernstig is in sy toenadering tot die volk.  

Hier is iets van die verbond in hierdie trooswoord.  God wil opnuut weer sy verbondstrou aan die volk bekend maak.  Daarom moet sy nie vrees om die geloofstap te neem en Hom onvoorwaardelik te vertrou nie.  Die uitdrukking “wees nie bevrees nie” kan dus opnuut die betekenis kry van: vertrou My weer, vertrou My nog een keer, vertrou My en julle sal my wonders in julle midde ervaar.

Rus in God se trou

Vir ons as Nuwe Testamentiese gemeente is die goeie nuus dat God se trou steeds aan ons beloof is.  Hierdie opstapeling van troos, bemoediging en beloftes van trou, geld ook vir ons.

Mens kan jou moeilik die verskriklike ontworteling voorstel wat die ballingskap vir Israel ingehou het.  Alles wat hulle van God geken en verwag het, was verbind aan die land wat hulle uit God se hand ontvang het en God se teenwoordigheid in Sion.  Om uit die land weggeruk te word en van God se teenwoordigheid in die tempel beroof te word, was katastrofaal vir hulle geloof.

Tog bly God se trou en God se teenwoordigheid die hoogste en finale werklikheid.

Smeltkroes

Wat maak die ballingskap meer as blote brute straf vir ongehoorsaamheid?  Wat omskep die ballingskap in ‘n geleentheid vir groei, vorming en nuwe gehoorsaamheid?

Die antwoord is duidelik: dit is God se trou, beskerming en versorging.  Dit is die verskil tussen ‘n smeltkroes en ‘n vullishoop.  Antieke vullishope het vuur en verbranding as reinigingsmiddel gebruik.  Giftige afval, die uitskot van menslike lewe, is verbrand en so vernietig.  Die ballingskap sou ‘n vullishoop vir Israel kon word.  God se liefde maak daarvan ‘n smeltkroes waar die volk gereinig word en gereed gemaak word vir nuwe uitdagings van gehoorsaamheid.

Gelowiges en geloofsgemeenskappe kan daarom rus in God se trou.  God weet waarheen God met ons op pad is.  God neem selfs die slegte en die wrange gevolge van ons dwase keuses en bou dit om tot kreatiewe ruimtes vir nuwe geleenthede.

Om God op sy woord te neem

Baie gelowiges is ook in vasgevalde situasies.  Dit word dan baie moeilik om God op sy beloftes te neem en gehoorsaam die treë te gee wat God van ons verwag.

Jesaja 43 is ‘n belofte vir sulke mense.  God se goedheid verdwerg ons onbesonne optrede.  God se goedheid maak van ons dwaasheid en doodsheid ‘n smeltkroes waaruit herstelde, geneesde, gehoorsame mense na vore kom.

Ons word geroep om God op sy woord te neem.  God begelei ons op die pad van gehoorsaamheid.  God versorg en bemagtig ons.  Ons kan dit met God waag.

Dan word ons situasie ‘n smeltkroes, nie ‘n vullishoop nie.  Dan word die krisisse uitdagings, die rampe geleenthede vir groei, die frustrasies uitnodigings vir fokus op God en sy plan vir jou lewe.

Want, as die volk se sonde was dat hulle nie na God geluister het nie, en nie in sy weë wou wandel nie, dan is die volk se herstel geleë in ‘n nuwe luister na God en ‘n nougesette wandel met Hom.

En dit is presies dieselfde vir ons, vir almal wat onder druk is. 

  • Erken dat Hy God is, en dat jy drooggemaak het;
  • Vertrou Hom om jou deur die smeltkroes te suiwer, soos goud gesuiwer word, en
  • soek Hom dag vir dag om na Hom te luister en met Hom jou pad te loop. 

God is daar, Hy dra ons en ons laste dag vir dag (Ps 68:20), en Hy beloon dié wat na Hom soek (Hebr 11:6).  Of soos Die Boodskap dié vers vertaal: Hy sal jou “met oop arms ontvang.”  “He cares enough to respond” (The Message).

Só ervaar jy nie net God se seën nie, maar gebruik Hy jou ook tot seën vir ander mense.  En bring jou geloof, die egtheid daarvan, eer aan God, wat natuurlik die doel van ons lewe is: Soli Deo Gloria.

Gebed

Here

ek weet dat U my gevorm het,

dat U my geskep het.

Ek weet dat ek aan U behoort,

dat U my naam ken.

Ek weet ook dat U daar is as ek in nood is:

as ek deur water of vuur moet gaan,

want U is die Heilige van Israel,

U is God die Redder.

Ek weet dat U my kosbaar ag,

dat U my hoog en belangrik ag,

dat U my liefhet.

Ek weet dat U is wat U sê,

want U het Jesus in my plek gegee.

Daarom Here, is ek nie bang nie,

daarom glo ek soos ‘n kind

dat U my Here is.

Aan U die eer.

Amen

(Gebed ahv Jesaja 43)

Dankoffers

Slotlied

Lied 521 Erkentlik deur die dae – staan

Seën

Die Here is voor jou om die weg gelyk te maak;

die Here is langs jou om jou in Sy arms toe te vou;

die Here is agter jou om die aanvalle van die bose af te weer;

die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val;

die Here is rondom jou om jou te beskerm;

die Here is bokant jou om jou te seën;

die Here is binne-in jou om jou te lei met Sy Heilige Gees-

so seën die drie-enige God jou, van nou af tot in ewigheid.

(Preekstudies met liturgiese voorstelle (BUVTON) 2000/2001: 38)

Respons

Lied       313 Amen – staan