Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan. Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref.
‘n Mens sou wou dink dat die probleme van die verlede oorkom is. Hulle oorwin juis dié mense waarteen hulle ouers verloor het 38 jaar gelede (Num. 14:45). Ek het drie weke terug oor die vier voorbidders voor die volk in Numeri 14 gepreek.
En ‘n mens begin opgewonde raak oor die feit dat hulle dié keer die Here aanroep in gebed, selfs ‘n gelofte aan Hom maak, en alles vir Hom gee, elke stukkie van die buit wat hulle in die oorlog maak.
Verset lei tot veroordeling
Maar nee, die opgewondenheid oor die tweede generasie verdamp wanneer dié groot oorwinning opgevolg word deur nog ‘n tranedal van verset oor kos en water. Die skrywer gee dit weer met ‘n perfekte idioom: “die siel van die Israeliete het kort geraak.” Hulle het sat geraak vir hierdie slegte kos.
Die blydskap oor die oorwinning was dus van korte duur. In plaas daarvan om soos met die bedreiging van koning Arad van die Kanaäniete tot die Here te bid, vaar hulle uit teen Moses en die Here oor hulle omstandighede. Die reis deur die woestyn het ‘n groot tol van hulle geëis. Miskien was daar verwyte teen hulle ouers. Maar dieper was die ongeduld met die Here.
Die Here se reaksie dié keer op hulle verset is weereens drasties. Hy stuur giftige slange onder hulle in en baie van die Israeliete sterf. Die giftigheid van hulle verset word begroet deur die gif van God se oordeel. Verset lei tot veroordeling.
Vertroue lei tot verlossing
Die Here se oordeel word egter genadiglik begroet met skuldbelydenis deur die volk – teenoor die Here sowel as teenoor Moses – en die hoeveelste voorbidding deur Moses vir die volk in verset. Op bevel van die Here maak Moses hierdie keer ‘n koperslang maak met die belofte: “Elkeen wat gepik is en daarheen opkyk, sal lewe.”
Die slang het die vloek voorgestel wat hulle getref het. Deur die slang “op te lig” teen die paal is die vloek weggeneem, sodat, wanneer hulle daarheen gekyk het, ‘n teken van geloof en vertroue, hulle genees sou word.
En dit is presies wat gebeur. Soos hulle na die koperslang opgekyk het in vertroue, het die gif uit hulle sisteem verdwyn en het die lewe teruggekeer en is hulle genees. Vertroue lei tot verlossing.
Uit die hierdie boodskap wil ek ‘n paar gevolgtrekkings trek vir jou eie geestelike lewe.
HIER VOLG DIE HELE EREDIENS: