Die wet as bladmusiek van die koninkryk – Matteus 22:34-40
Wie ken die musiek wat met hierdie vier note begin: ta, ta, ta, DA? Ja, Beethoven se Vyfde Simfonie (1804-1808). Wêreldbekend. Interessant, Beethoven was al doof toe hy dit gekombineer het. Hy kon die note net in sy kop hoor. So lyk die musiek van die eerste blad:
Hierdie Vyfde Simfonie word uitgevoer deur groot simfonie orkeste. Dit word deur bands uitgevoer. Dit is verwerk vir klavier. Selfs vir ghitaar – gaan luister na Kelly Valleau se uitvoering daarvan. Tegnies uitdagend. Pragtig.
En sommige uitvoerings van die musiek is meesleurend mooi. Ander weergawes is nie so musikaal nie. Veral nie die elektroniese midi weergawes nie wat half dowwerig en blikkerig klink. En ‘n groot simfonie orkes het net ‘n groter klank as ‘n enkel ghitaar, selfs al is die ghitaar ook hoe goed.
Maar, die musiek is altyd herkenbaar. Hoekom? Want daar is bladmusiek. Die note is heilig. Onaantasbaar. Dit kan nie verander word nie. Ta, ta, ta, DA.
Jy kan wel die musiek op baie maniere interpreteer, mooi of minder mooi. Maar as jy van die bladmusiek afwyk, speel jy nie meer Beethoven se musiek nie. Is dit nie meer die Vyfde Simfonie nie. Jy kan nie ‘n noot weglaat óf ‘n noot bysit van Beethoven se vyfde nie. Nooit nie. Jy sal altyd uitgevang word.
Die teks van die Bybel
Dit is nie anders met die Bybel nie, al is daar baie wat dit probeer doen. Jy mag en kan jou eie interpretasie gee van hoe ‘n gedeelte jou raak, wat dit vir jou beteken, hoe dit ander raak, en wat dit vir ander kan beteken. Jy moet dit in die konteks wat dit geskryf is, uitlê, wat natuurlik tot beter of slegter interpretasie kan lei. Die konteks kan jou ‘n gedeelte beter laat verstaan, of ‘n gebrek daaraan weer slegter. Jy kan dit meesleurend vertel of aframmel.
Maar, die oomblik as jy die teks verander, is jy nie meer met die Bybel besig nie. Is jy met jou eie Bybel besig.
Wat ons versigtig moet maak vir mense wat vir jou sê, maar ‘n sekere verstaan van die teks is net jou eie interpretasie. Wat sê, ek maak my eie interpretasie van die Bybel. En as dit verskil van jou interpretasie, moet jy maar verlief neem daarmee.
Trouens, baie keer word jou interpretasie van die teks, veral waar jy by die teks wil hou, in die proses verdag gemaak, en talle keer nog jyself ook. Die boodskapper word saam met die boodskap aangeval.
Daarop sal ‘n mens moet antwoord, ja, dit is reg so, jy mag jou eie interpretasie van die teks voorstel … maar, die oomblik as dit duidelik word dat jy aan die teks verander, of dele van die teks weglaat, of dele daarby voeg, dan is jy nie meer met interpretasie besig nie, maar met ‘n ander teks.
Beethoven se Vyfde Simfonie begin met vier note, nie vyf of drie nie. Só ook die Bybel, by wyse van spreke. Daar is 66 boeke. Die kanon is afgesluit. Ons kan nie meer daartoe byvoeg nie. Ons kan ook nie dele van die Bybel weglaat nie. En dit geld die hele Bybel.



