Skip to main content

Die wet as bladmusiek van die koninkryk – Matteus 22:34-40

Die musiek van Beethoven

Wie ken die musiek wat met hierdie vier note begin: ta, ta, ta, DA? Ja, Beethoven se Vyfde Simfonie (1804-1808). Wêreldbekend. Interessant, Beethoven was al doof toe hy dit gekombineer het. Hy kon die note net in sy kop hoor. So lyk die musiek van die eerste blad:

Hierdie Vyfde Simfonie word uitgevoer deur groot simfonie orkeste. Dit word deur bands uitgevoer. Dit is verwerk vir klavier. Selfs vir ghitaar – gaan luister na Kelly Valleau se uitvoering daarvan. Tegnies uitdagend. Pragtig.

En sommige uitvoerings van die musiek is meesleurend mooi. Ander weergawes is nie so musikaal nie. Veral nie die elektroniese midi weergawes nie wat half dowwerig en blikkerig klink. En ‘n groot simfonie orkes het net ‘n groter klank as ‘n enkel ghitaar, selfs al is die ghitaar ook hoe goed.

Maar, die musiek is altyd herkenbaar. Hoekom? Want daar is bladmusiek. Die note is heilig. Onaantasbaar. Dit kan nie verander word nie. Ta, ta, ta, DA.

Jy kan wel die musiek op baie maniere interpreteer, mooi of minder mooi. Maar as jy van die bladmusiek afwyk, speel jy nie meer Beethoven se musiek nie. Is dit nie meer die Vyfde Simfonie nie. Jy kan nie ‘n noot weglaat óf ‘n noot bysit van Beethoven se vyfde nie. Nooit nie. Jy sal altyd uitgevang word.

Die teks van die Bybel

Dit is nie anders met die Bybel nie, al is daar baie wat dit probeer doen. Jy mag en kan jou eie interpretasie gee van hoe ‘n gedeelte jou raak, wat dit vir jou beteken, hoe dit ander raak, en wat dit vir ander kan beteken. Jy moet dit in die konteks wat dit geskryf is, uitlê, wat natuurlik tot beter of slegter interpretasie kan lei. Die konteks kan jou ‘n gedeelte beter laat verstaan, of ‘n gebrek daaraan weer slegter. Jy kan dit meesleurend vertel of aframmel.

Maar, die oomblik as jy die teks verander, is jy nie meer met die Bybel besig nie. Is jy met jou eie Bybel besig.

Wat ons versigtig moet maak vir mense wat vir jou sê, maar ‘n sekere verstaan van die teks is net jou eie interpretasie. Wat sê, ek maak my eie interpretasie van die Bybel. En as dit verskil van jou interpretasie, moet jy maar verlief neem daarmee.

Trouens, baie keer word jou interpretasie van die teks, veral waar jy by die teks wil hou, in die proses verdag gemaak, en talle keer nog jyself ook. Die boodskapper word saam met die boodskap aangeval.

Daarop sal ‘n mens moet antwoord, ja, dit is reg so, jy mag jou eie interpretasie van die teks voorstel … maar, die oomblik as dit duidelik word dat jy aan die teks verander, of dele van die teks weglaat, of dele daarby voeg, dan is jy nie meer met interpretasie besig nie, maar met ‘n ander teks.

Beethoven se Vyfde Simfonie begin met vier note, nie vyf of drie nie. Só ook die Bybel, by wyse van spreke. Daar is 66 boeke. Die kanon is afgesluit. Ons kan nie meer daartoe byvoeg nie. Ons kan ook nie dele van die Bybel weglaat nie. En dit geld die hele Bybel.

Continue reading

Die wet as spieël, stang en sweep – Eksodus 20

Ons het verlede week Hervormingsondag gevier. Dié dag waarop ons nadink oor ons Protestantse erfenis. Ons kon die baanbrekerswerk van die Waldense, Johannes Hus van Boheme, Maarten Luther van Duitsland, John Wycliff van Engeland, Johannes Calvyn van Genève, en talle ander hervormers in herinnering roep.

Waarmee hulle ons gehelp het, is om terug te beweeg na die Skrifte, om teenoor die kerktradisie die primêre plek van die Skrifte te beklemtoon (sola Scriptura). Om teenoor die aflaatstelsel die primêre plek van Christus wat sy genade deur geloof in ons lewens aan die werk sit te beklemtoon (solus Christus, sola gratia en sola fide). En oorhoofs vir ons te leer om tot God se eer te lewe (soli Deo Gloria).

Die Tien Woorde

Ek wil egter vandag ‘n bietjie verder terug gaan in die geskiedenis, na die basis van die belydenis van Sola Scriptura. Na die eerste gawe van God se Woord aan ons. Na die tien woorde wat God op Sinai in sy eie handskrif aan ons gegee het. Die Tien Gebooie.

Want, dit is wat die tien gebooie in die Hebreeus genoem word: tien woorde, vanwaar die naam vir die Tien Gebooie as die Dekaloog kom (deka = tien; logos = woord: Eks 34:28; Deut 4:13; 10:4):

Soos Moses dit vertel:

4Die Here het in dieselfde skrif as tevore die tien gebooie (tien woorde – ʿǎśěʹ·rěṯ   hǎd·deḇā·rîmʹ) geskryf wat Hy op die berg, die dag toe die volk bymekaargekom het, uit die vuur uit vir julle gegee het.  Daarna het Hy die twee plat klippe vir my gegee. 5Toe het ek van die berg af gekom en soos die Here my beveel het, het ek die plat klippe in die ark gesit wat ek gemaak het.”

En die kommentaar van die redakteurs van die Pentateug: “Hulle is nog daar.” (Deut 10:4)

Continue reading

God is een Wese in wie drie Persone is: Vader, Seun en Heilige Gees – Lukas 1:26-38

Wat is die Drie-eenheid?

Verlede week het ons gepraat oor ons Godsbeeld. God is groot en genadig, goed en getrou. Hy sorg vir alles en almal, vol liefde en trou. (Download English Version: Luke 1_26-38 – Trinity)

Met die droogte in die tyd van Elia het God geïllustreer dat Hy die kosmos beheer. Met die kraaie by die Kritspruit het God geïllustreer dat Hy vir sy profeet kan sorg. Met die meel en olie wat nie opraak in die kruike en kanne van die weduwee van Sarfat nie het God geïllustreer dat Hy self kos kan voorsien. Met die seun van die weduwee van Sarfat se opwekking uit die dood het Hy geïllustreer dat Hy selfs beheer oor die dood het.

En daarmee het God ons ook ‘n voorsmakie gegee van die opstanding uit die dood van sy Seun Jesus juis ná die dood aan die kruis … en die hoop in ons aangesteek van ons eie opstanding ná ons dood. Soms is die opstanding uit die dood reeds in hierdie lewe, soos talle dit al ervaar het. Soms is dit eers aan die einde van die tyd. Maar, opstaan sal ons opstaan!

Maar, hierdie prentjies van God is maar net uit een hoofstuk in die Bybel, 1 Konings 17, soos wat Elia dit vir ons vertel … daar is 1188 ander hoofstukke. Dink ‘n bietjie oor die grootheid daarvan.

Want, ons het sulke stories oor God nodig in ons tyd. Ons moet dit aanmekaar vir mekaar vertel. Want ons Godsbeeld bepaal ons menswees. Ons Godsbeeld bepaal ons wêreldbeeld. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te glo. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te hoop. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te doen. Ons Godsbeeld bepaal waarvoor ons bereid is om ons lewe te gee, selfs al kos dit ons dood.

Waar jou God groot is, is jy bereid om groot dinge vir Hom te waag. Waar jou God genadig is, is jy bereid om God te gehoorsaam. Waar jou God goed en getrou is, is jy bereid om God vir kos en water te vertrou. Waar jou God vir alles en almal sorg, waar Hy vol liefde en trou is, is jy bereid om in te tree vir die uitdagings wat mense ervaar, selfs waar hulle die erge kruis van die dood moet trotseer.

Die omgekeerde is ook waar. Waar jou Godsbeeld vervaag, of jy die verkeerde idee van God begin kry, kan jy eintlik nie anders as om vir jouself te begin sorg, om volgens jou eie behoeftes te begin leef. Raak jy die maatstaf vir jou eie lewe en vir dié van ander.

Waar jy met die verkeerde idee van God begin werk, skep jy jou eie gode, leef jy volgens jou eie kode. Begin jy jou eie voordeel soek. Lei dit tot uitbuiting, die grootboere teen die kleinboere, die konings teen hulle onderdane, die magtiges teen die eenvoudiges. Hele gemeenskappe verval in onsedelikheid en anargie waar God nie meer beleef en gedien word nie.

Dit is uit hierdie hoek wat ons moet dink oor die Drie-eenheid. Want die beskrywing van God as die Drie-eenheid is die beste en grootste prentjie van Hom wat ons het. Dit is die beste verduideliking van wie God is. Dit is die diepste prentjie van wie God is. Misterieus. Groots. Ontsagwekkend. Onpeilbaar. Soos ‘n waterpoel waarvan jy die diepte nie kan meet nie. Soos die heelal waarvan jy die einde nie kan raaksien nie. Maar helder en duidelik.

En laat niemand jou vertel dat dit ‘n prentjie is wat die vroeë kerk geskep het. Asof dit nie duidelik in die Bybel na vore kom nie.

Continue reading

God is groot en genadig – 1 Konings 17

Onsekerheid en onrus

Ek dink nie ons was al ooit in ons land in soveel onsekerheid en onrus gedompel nie. Die politieke gevegte in ons stede is vuil en verbete. Die sosiale onrus rondom grond en dienslewering groei by die dag. Ons regstelsel het slagvelde geword waar wydverspreide korrupsie en die grootskaalse kaping van bronne blootgelê word. Selfs die kerk beland in die gedrang waarin die vraag ten diepste is na die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.

Hoe maak ‘n mens sin hiervan? Hoe kies ‘n mens koers? Hoe besluit jy wat is die regte ding om te doen?

Fokus op jou Godsbeeld

Die antwoord is om terug te keer na die fundamentele vraag na God. Jou Godsbeeld. Wie Hy is. Wat Hy doen. Wat Hy vra.

Want, jou Godsbeeld beïnvloed jou mens- en wêreldbeeld. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die uitdagings in die politiek en die gemeenskap. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.

Dit leer die verhaal van Elia ons.

Continue reading