Skip to main content

Johannes 7:37-39 – die Gees bring lewe vir ander – 25-31 Mei

25-31 Mei 2015 in voorbereiding vir die erediens 31 Mei

RUS

  1. ‘n Mens raak van die Gees bewus wanneer jy stil word en aan die verborge dinge in jou lewe dink, dinge waarvoor jy waardering het (troos), of dinge wat jou ontstel (ruk).
  2. Dink dus terug aan die dinge waaroor jy dankbaar is, die “heilige momente” in jou lewe waarin jy God se seënende hand in jou lewe kan raaksien. “Being grateful is a way of listening, a way of noticing God in the story of your life. And that gratitude will lead us to joy.” (Kerry Kent – Listen: finding God in the story of your life). Gee vir elkeen tyd hiervoor in die groep.
  3. Dink ook terug aan dié dinge wat jou ontstel het, wat jou binneste op hol jaag. Só raak ‘n mens bewus van jou behoefte aan God … en van hoe Hy daardie behoefte kan bevredig. In dié terugdink – begin die Gees met jou praat! Gee vir elkeen tyd hiervoor in die groep.
  4. Laat iemand met ‘n gebed begin.

LUISTER

  1. Deel met mekaar wat julle in die nadenke oor die Gees se werk in julle lewe ervaar het.
  2. Lees Johannes 7:37-39 en gesels eers oor wat julle in die gedeelte aanspreek – wat julle ruk en/of wat julle troos.
  3. Deel met mekaar hoe dié teks aansluit by dinge waaroor jy nagedink het in die RUS gedeelte.
  4. Fokus nou op vers 38: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Letterlik: “Uit sy binneste (maag/binnekant – figuurlik gebruik: binneste) sal lewende (vars, verkwikkende) water vloei.” Wat hoor julle in dié uitspraak van Jesus?

LEEF

  1. Jesus sê hier dié wat in Hom glo, dié wat die ewige lewe hét, kanale van lewende water sal wees wat ‘n impak in die wêreld sal maak! Dit is wat die Gees in en deur ons lewe wil doen. Hoe kan julle dié week die Heilige Gees toelaat om julle kanale van lewende water vir mense rondom julle te laat wees?
  2. Bid vir mekaar dat ons die moed sal hê om die Gees hierin te gehoorsaam. Gebruik ook die gebedsriglyne in die aankondigings.

Inspiratus: 10-17 Mei

Pinkster 2015: InspiratusWeek van 10 tot 16 Mei se kleingroepmateriaal, in voorbereiding vir 17 Mei se eredienste

RUS

  • Laat iemand bid en die Here vra om julle te help om te LUISTER na God se Woord en te LEEF soos wat God vra.
  • Vertel vir mekaar wat op die oomblik in jul lewens aangaan.
  • Gesels oor jul kennis en ervaring van die Heilige Gees. Wat weet julle van die werk van die Gees?  Wat wonder julle?  Hoe beleef julle die werk van die Gees in jul lewens?

HOOR

Continue reading

Sagaria 4:1-14 – die moed om te volhard

Begeesterd3-9 Mei 2015 in voorbereiding vir die erediens 10 Mei

RUS

1.  Vertel mekaar ‘n kort verhaal van ‘n groot uitdaging waarvoor jy gestaan het, en iemand jou bemoedig het. Wat het dit vir jou beteken?

2.  Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” (Sagaria 4:6). Oordink die betekenis daarvan vir jou en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.

LUISTER

3.  Daar is baie op die spel in die stad Jerusalem. Die profeet Haggai het ‘n nuwe motivering gebring om die tempel te herbou met sy vier profesieë ‘n skrale ses maande tevore in 520 v.C. Net die fondamente van die tempel is egter nou al gelê. Die werk was nog baie en die pad na die einde nog lank en swaar. Daarom gee die Here vir die profeet Sagaria agt visioene Donderdagnag die 15de Februarie 519 v.C. Hierdie vyfde visioen se boodskap is bedoel vir die politieke leier, goewerneur Serubbabel, en die volk.

4.  Lees Sagaria 4:1-14.

5.  Wat tref jou in hierdie gedeelte?

6.  ‘n Paar opmerkings om jou te help sin maak van die gedeelte:

  • Die goue kandelaar (menora) met sewe arms is die klassieke prentjie van die geloofsgemeenskap (vgl. Openbaring 1-3).
  • Die twee olyfbome is simbole van die twee leiers, die hoëpriester Jesua en die goewerneur Serubbabel. Hulle is ook die twee gesalfdes van die Here, letterlik “seuns van olie”, wat op politiese en godsdienstige vlak leiding (moet) neem.
  • Die verklaring van die sewe oë is eintlik bedoel vir die vorige visioen. Dit dui op God se alomteenwoordigheid.

7.  Dink na oor wat dit beteken dat die Here vir Serubbabel, die goewerneur, sê dat hy “nie met mag en krag” sal slaag nie, maar deur God se Gees (vers 6).   Watter boodskap het dit vir jou? En vir ons gemeente en land?

8.  Dink na oor wat dit beteken dat die Here vir Serubbabel verseker dat hy die tempel se herbou projek sal klaar maak, vier jaar voordat dit inderdaad gebeur het, in 516 v.C. (vers 7-9). Watter boodskap het dit vir jou? En vir ons gemeente en land?

9.  Watter boodskap het dit vir die volk ingehou dat die Here hom (en die volk) oproep om nie die: “dag van klein dingetjies”, gering te ag nie (vers 10)? Watter boodskap het dit vir jou? En vir ons gemeente en land?

LEEF

10.  Sagaria leer ons dat deur te fokus op die stukkie vir stukkie vordering met die werk wat elke dag gedoen word, word alle berge uiteindelik gelyktes. Dit is hoe die Gees werk. Ook in jou lewe. Watter werk het die Here vir jou gegee om te voltooi? Dink aan dinge in die gesin/familie, gemeente en wêreld.

11. Bid vir mekaar dat ons die moed sal hê om God se werk te voltooi. Gebruik ook die gebedsriglyne.

Huisgeloof – 3-9 Mei 2015

Sagaria 4 – die moed om te volhard

OMGEE-GESPREKKE

  1. Is dit lekker as iemand jou bemoedig? Hoe help dit jou as jy iets moeiliks moet doen?
  2. Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” (Sagaria 4:6).

Oordink die betekenis daarvan vir jou en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.

BYBELLEES

  1. Lees Sagaria 4:1-14
  2. Wat tref jou in hierdie gedeelte?
  3. Wat beteken dit vir jou dat die Here vir Serubbabel, die goewerneur, sê dat hy “nie met mag en krag” sal slaag nie, maar deur God se Gees (vers 6)? Dit het vier jaar later inderdaad gebeur.
  4. Watter boodskap het dit vir jou dat die Here vir Serubbabel en die volk oproep om nie die: “dag van klein dingetjies”, gering te ag nie (vers 10)?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

  1. Sagaria leer ons dat deur te fokus op die stukkie vir stukkie vordering met die werk wat elke dag gedoen word, word alle berge uiteindelik gelyktes. Dit is hoe die Gees werk. Ook in jou lewe. Watter werk het die Here vir jou gegee om te voltooi? Dink aan dinge in die gesin/familie, gemeente en wêreld.

GESEËN OM TE SEËN

  1. Bid saam dat ons die werk sal kan doen wat die Here vir ons gee.
  2. Gebruik die gebedsriglyne op die aankondigings vir jou verdere voorbidding dié week.

Huisgeloof 27 April tot 3 Mei

Haggai 2

OMGEE-GESPREKKE

Vertel vir mekaar wat jou bang maak. Wat help jou om dapper te wees, al is jy bang?

BYBEL LEES

Lees Haggai 2:1-9

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Wat gaan mamma doen as jy eerder speel en nie jou kamer reg pak soos wat sy gevra het nie? God het vir sy volk gesê om sy tempel (hul kerkgebou) weer te bou (dit is lank gelede in ’n oorlog vernietig). Maar vir 19 jaar lank het hulle gedraai en eerder hul eie goed gedoen. Toe hulle uiteindelik weer begin, was dit baie moeiliker as wat hulle gedink het. Hulle was skoon moedeloos! Kyk weer in verse 4 en 5 hoe God reageer.
  • Wat beteken “skep moed”?
  • God belowe dat hy by ons is. Hoe kan dit jou help om nie bang te wees nie?

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Bid vir die Christene in die Midde-Ooste. Mense is baie lelik met hulle omdat hulle vir Jesus dien. Bid dat hulle sal dapper wees, sal moed skep. Gee ’n geloofsoffer bydrae vir een van ons sendelinge se werk. Ons sendelinge help o.a. hierdie mense deur hulle te herinner dat God by hulle is, sodat hulle nie bang sal wees nie.

GESEËN OM TE SEËN

Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge