Johannes 18:1-11 – Laat Jesus deur jou praat
Written by on . Posted in Laat Jesus deur jou leef. No Comments on Johannes 18:1-11 – Laat Jesus deur jou praat
Kleingroepmateriaal: Laat Jesus deur jou praat
Week van 9-15 Maart
RUS
- Vertel vir mekaar wat op die oomblik in jul lewens aangaan.
- Is jy geneig om altyd te sê wat jy dink, of om eerder ’n wit leuen te vertel om mense se gevoelens te spaar?
HOOR
Laat iemand bid en die Here vra om julle te help om te LUISTER na God se Woord en te LEEF soos wat God vra.
Lees Johannes 18:1-11
- Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.
- Jan Johnson bespreek hierdie teksgedeelte onder die opskrif “Truth Drenched in Love” en praat oor die manier waarop Jesus in hierdie verhaal telkens die waarheid praat. Matteus vertel dat Jesus vir Judas “vriend” noem (lees Jesus se reaksie in Matteus 26:50). In Johannes sien ons die aanvallers se verbysterde reaksie op die manier waarop Jesus die waarheid praat. Wat val julle op omtrent Jesus se optrede in dié verhaal?
- Om in liefde die waarheid te praat, is van die moeilikste dinge om te doen. Dalk kan julle voorbeelde deel van kere wat jy geworstel het met óf en hóé jy met iemand oor ’n saak moet praat.
- Hoe weet ’n mens wanneer jy moet praat – en wanneer jy eerder moet stilbly? Is dit aanvaarbaar om soms eerder nié die waarheid te praat nie en eerder mense se gevoelens te spaar? Wanneer? En wanneer nie?
- Dit is een ding om die waarheid te praat. Dit is iets heeltemal anders om die waarheid op só ’n manier te praat dat mense liefde eerder as oordeel hoor. Wat is die verskil? Hoe sal laasgenoemde lyk? Dink aan dinge soos motiewe, tydsberekening, ens.
LEEF
- Waartoe roep die Here jou nou? Is daar ’n spesifieke saak waaroor jy by God moet hoor óf jy daaroor moet praat en hoe jy daaroor moet praat? Bid vir mekaar vir wysheid.
- Oefen vir die volgende drie dae om stil te bly. Eerder as om te kla of te kritiseer, dink na oor wat onderliggend is aan jou behoefte om te kla of kritiseer. Gebruik die drie dae daarna om liefdevolle waarheid te praat, om opbouende gesprekke te voer.
Huisgeloof 9-15 Maart
Written by on . Posted in Huisgodsdiens. No Comments on Huisgeloof 9-15 Maart
Laat Jesus Deur Jou Praat
OMGEE-GESPREKKE
Partykeer moet ons vir mense goed sê wat moeilik is – soos wanneer ons ouers met ons raas. Vertel vir mekaar hoe dit vir jou voel wanneer iemand so iets vir jou sê.
BYBELLEES
Lees Johannes 18:1-11
• Terwyl iemand die verhaal lees, probeer dit in jou gedagtes sien gebeur. Laat elkeen hulleself in die verskillende karakters probeer inleef: Judas, die wagte, Jesus, Petrus, die slaaf. Nadat julle gelees het, laat elkeen vertel hoe hulle dink hulle karakter gevoel het soos die verhaal afspeel.
• Jesus weet presies wat aangaan en hy probeer nie maak asof dinge anders is as wat dit is nie. Hy praat die waarheid sonder om lelik te wees. Oor watter goed moet ons die waarheid praat, al is dit moeilik? Is daar goed waaroor ’n mens maar eerder (dalk t.w.v. ander se gevoelens) nie die waarheid moet praat nie?
• Hoe kan ons moeilike goed vir mense sê op ’n manier wat hulle nie seermaak nie? Probeer aan spesifieke voorbeelde dink.
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Ons is ’n Gereformeerde Kerk. Herinner mekaar wat dit beteken deur te vertel wat julle glo. Sê saam die Geloofsbelydenis op.
GESEËN OM TE SEËN
• Dink na oor die manier waarop jy moeilike goed vir mense sê. Hoe kan jy dit doen sodat ander mense daardeur beleef dat jy hulle lief het?
• Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam daarvoor. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge en vir die sendeling wat julle gesin ondersteun.
Johannes 13:1-17 – Laat Jesus deur jou voete was
Written by on . Posted in Laat Jesus deur jou leef. No Comments on Johannes 13:1-17 – Laat Jesus deur jou voete was
Kleingroepmateriaal 1-7 Maart 2015 in voorbereiding vir die erediens 8 Maart
RUS
- Verlede week het ons gesels oor Jesus wat ook verontwaardig oor onreg kan raak. Ons het gesels oor hoe ons Jesus se deernis en liefde kan bewys, selfs waar ons skerp teëstand ervaar, en selfs waar ons vir ons geloof kan sterf, soos die 21 Egiptiese Christen martelare in Libië, wat deur IS tereggestel is, op die Koptiese Christene gehad het. Hulle het binne 48 uur traktaatjies gedruk en in Libië laat versprei wat die boodskap van Christus aan die radikale ekstremiste versprei.
- Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree.” (Openb. 20:4).
Oordink die betekenis daarvan vir ons en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.
LUISTER
- Lees Johannes 13:1-17
- Wat tref julle in die verhaal? Gee elkeen geleentheid om te deel wat hulle hoor in die teks. Luister na mekaar sonder om te beoordeel of te interpreteer. Julle kan dit eggo en waarderend daarop reageer.
LEEF
- Die belangrikste punt van die verhaal is in vers 12-16 wat só afgesluit word: “Gelukkig is julle as julle dit ook doen.” Hoe kan ons dit prakties uitleef in die gemeente en gemeenskap?
- Dink verder na oor die verhaal van Judas. Jesus was ook sy voete, maar net hierna sal Hy Jesus verraai. Wat leer ons hieruit van Jesus se hantering van verraaiers? Wat sê dit vir ons houding teenoor verraaiers?
- Dink verder na oor die verhaal van Petrus. Jesus was ook sy voete, maar net hierna sal Hy Jesus verloën. Wat leer ons hieruit van Jesus se hantering van verloënaars? Wat sê dit vir ons houding teenoor verloënaars?
- Julle ken die uiteinde van Judas – hy volhard in sy verraad en gaan verlore. Julle ken ook die uiteinde van Petrus – hy kom tot inkeer en Jesus herstel hom as dissipel en leier. Wat leer dit jou van jou eie geestelike lewe?
- Gebruik die gebedsriglyne op die aankondigings vir jou voorbidding dié week.
Huisgeloof – 1-7 Maart 2015
Written by on . Posted in Huisgodsdiens. No Comments on Huisgeloof – 1-7 Maart 2015
Laat Jesus deur jou voete was
OMGEE-GESPREKKE
- Verlede week het ons gesels oor Jesus wat ook verontwaardig oor onreg kan raak. Ons het gesels oor hoe ons Jesus se deernis en liefde kan bewys, selfs waar ons skerp teëstand ervaar. Indien dit gepas is vir julle huis, kan julle gesels oor die effek wat die dood van die 21 Egiptiese Christen martelare in Libië, wat deur IS tereggestel is, op die Koptiese Christene gehad het. Hulle het binne 48 uur traktaatjies gedruk en in Libië laat versprei wat die boodskap van Christus aan die radikale ekstremiste versprei. Hoe moet ons daaroor dink? Wat vra dit van ons?
- Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree.” (Openb. 20:4).
Oordink die betekenis daarvan vir julle en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.
BYBELLEES
- Begin deur mekaar se voete te was. Die ouers (of oueres) kan die kinders (of jongeres) se voete was om aan te pas by die Bybelse verhaal.
- Lees nou Johannes 13:1-17, in ‘n kindervriendelike vertaling as dit kan, terwyl die huisgenote hulle oë toemaak en hulleself inleef hoe dit was toe Jesus eenmaal die dissipels se voete gewas het.
GEWOONTES EN GEBRUIKE
- Die belangrikste punt van die verhaal is in vers 12-16 wat só afgesluit word: “Gelukkig is julle as julle dit ook doen.” Hoe kan ons dit prakties uitleef in die huis? Laat elkeen iets kleins onderneem vir die week wat kom. Dink ook hoe julle dit teenoor ander kan doen. Laat elkeen ook iets kleins onderneem vir die week wat kom.
GESEËN OM TE SEËN
- Gebruik die gebedsriglyne op die aankondigings vir julle voorbidding dié week. Bid spesifiek ook vir Sonja (en haar gesin, een van ons sendeling-gesinne), wat Sondag by ons opgetree het.
Markus 3:1-6 Verontwaardig
Written by on . Posted in Laat Jesus deur jou leef. No Comments on Markus 3:1-6 Verontwaardig
Laat Jesus deur jou verontwaardig wees
Week van 23-28 Februarie
RUS
- Vertel vir mekaar wat op die oomblik in jul lewens aangaan.
- Wat maak jou kwaad? Hoe reageer jy gewoonlik wanneer jy kwaad raak?
HOOR
Laat iemand bid en die Here vra om julle te help om te LUISTER na God se Woord en te LEEF soos wat God vra.
Lees Markus 3:1-6
1. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.
2. Hierdie is die enigste plek in die Bybel waar ons lees dat Jesus kwaad was. Baie mense neem aan dat Jesus kwaad was met die reiniging van die tempel, maar die Bybel sê nie dat hy kwaad was nie (en sou Jesus regtig sy woede uitdruk deur mense en diere te slaan, of was dit net om hulle aan te jaag?). Kyk weer na vers 5. Jesus se woede word gekombineer met droefheid “oor hul verhardheid”. Hy is kwaad juis omdat hy omgee! Hoe dink julle het Jesus se woede gelyk?
3. Jesus se woede is:
- gefokus: Jesus wil graag die beste hê vir dié vir wie hy kwaad is
- rein: hy word nie bitter nie, neem dinge nie persoonlik op nie
- deernisvol: hy gee om en het deernis vir diegene vir wie hy kwaad is.
Hoe sal dieselfde gesindheid prakties lyk as Jesus deur ons leef?
4. Dink na oor die goed wat jou kwaad maak. Woede is dikwels die produk van vrees. Wat sit regtig agter jou woede? Vrees? Trots? Selfsug? Help mekaar dink aan produktiewe, liefdevolle maniere om woede te hanteer.
LEEF
- Waaroor dink jy sou Jesus vandag verontwaardig raak? Hoe kan julle sy liefde en deernis in daardie situasies bring?
- Waartoe roep die Here jou nou?
- Die situasie in die Midde-Ooste is sekerlik een van die goed waaroor ons verontwaardig moet wees! Bid vir die Christene in die Midde-Ooste, die mense wat hulle vervolg én die mense wat ons ondersteun wat in die veldwerk.