Skip to main content

Sagaria 4:1-14 – die moed om te volhard

Begeesterd3-9 Mei 2015 in voorbereiding vir die erediens 10 Mei

RUS

1.  Vertel mekaar ‘n kort verhaal van ‘n groot uitdaging waarvoor jy gestaan het, en iemand jou bemoedig het. Wat het dit vir jou beteken?

2.  Raak stil en laat iemand die volgende teks deurlees: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” (Sagaria 4:6). Oordink die betekenis daarvan vir jou en laat iemand na twee minute ‘n kort gebed doen.

LUISTER

3.  Daar is baie op die spel in die stad Jerusalem. Die profeet Haggai het ‘n nuwe motivering gebring om die tempel te herbou met sy vier profesieë ‘n skrale ses maande tevore in 520 v.C. Net die fondamente van die tempel is egter nou al gelê. Die werk was nog baie en die pad na die einde nog lank en swaar. Daarom gee die Here vir die profeet Sagaria agt visioene Donderdagnag die 15de Februarie 519 v.C. Hierdie vyfde visioen se boodskap is bedoel vir die politieke leier, goewerneur Serubbabel, en die volk.

4.  Lees Sagaria 4:1-14.

5.  Wat tref jou in hierdie gedeelte?

6.  ‘n Paar opmerkings om jou te help sin maak van die gedeelte:

  • Die goue kandelaar (menora) met sewe arms is die klassieke prentjie van die geloofsgemeenskap (vgl. Openbaring 1-3).
  • Die twee olyfbome is simbole van die twee leiers, die hoëpriester Jesua en die goewerneur Serubbabel. Hulle is ook die twee gesalfdes van die Here, letterlik “seuns van olie”, wat op politiese en godsdienstige vlak leiding (moet) neem.
  • Die verklaring van die sewe oë is eintlik bedoel vir die vorige visioen. Dit dui op God se alomteenwoordigheid.

7.  Dink na oor wat dit beteken dat die Here vir Serubbabel, die goewerneur, sê dat hy “nie met mag en krag” sal slaag nie, maar deur God se Gees (vers 6).   Watter boodskap het dit vir jou? En vir ons gemeente en land?

8.  Dink na oor wat dit beteken dat die Here vir Serubbabel verseker dat hy die tempel se herbou projek sal klaar maak, vier jaar voordat dit inderdaad gebeur het, in 516 v.C. (vers 7-9). Watter boodskap het dit vir jou? En vir ons gemeente en land?

9.  Watter boodskap het dit vir die volk ingehou dat die Here hom (en die volk) oproep om nie die: “dag van klein dingetjies”, gering te ag nie (vers 10)? Watter boodskap het dit vir jou? En vir ons gemeente en land?

LEEF

10.  Sagaria leer ons dat deur te fokus op die stukkie vir stukkie vordering met die werk wat elke dag gedoen word, word alle berge uiteindelik gelyktes. Dit is hoe die Gees werk. Ook in jou lewe. Watter werk het die Here vir jou gegee om te voltooi? Dink aan dinge in die gesin/familie, gemeente en wêreld.

11. Bid vir mekaar dat ons die moed sal hê om God se werk te voltooi. Gebruik ook die gebedsriglyne.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.