Die koning wat alles gehad het – Salomo (29 April – 5 Mei)
Die koning wat alles gehad het – Salomo (1 Kon. 1-11; 2 Kron. 5-7; Spr 1-4; 8-13; 20-21)
Salomo is die derde koning van Israel. Sy naam beteken vrede. Die Here het hom liefgehad en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”. Die koningmoeder Batseba speel ‘n belangrike rol om Dawid so ver te kry om Salomo as koning aan te stel: “Wees sterk en dapper,” is Dawid se mentorsraad aan Salomo. Só word Salomo die eerste dinastieke koning van Israel, as afstammeling van Dawid.
Salomo word bekend vir sy uitnemende wysheid, wat voortspruit uit sy versoek aan die Here vir ‘n “luisterende hart” (letterlike vertaling) om met verstandigheid en regverdigheid oor die volk te regeer. Israel beleef onder sy heerskappy ‘n tyd van vrede en ‘n hoogbloei beide in die stabilisering van die ryk, maar ook in bouwerk en literêre arbeid. Talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hom as ‘n wyse. Daar is Joodse, Arabiese en Ethiopiese verhale van Salomo waar sy intellek en ander vermoëns verheerlik word. Groot dele van Spreuke word aan hom toegeskryf, sowel as Prediker en Hooglied. Ook twee Psalms word aan hom toegeskryf. Die hoogtepunt van sy regering was die bou van die indrukwekkende tempel waarmee die godsdiens van Israel nie net in Jerusalem gesentreer is nie, maar as heerlike punt van ontmoeting met God se teenwoordigheid vir die volk en selfs vir die nasies gedien het. Salomo kon van die tempel sê: “Hou tot dag en nag ‘n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig.”
Salomo was ‘n ondernemende handelaar wat die strategiese posisie van Israel ten opsigte van die karavaanroetes baie goed benut het. Sy verbintenis met Hiram het vir hom die hawens verseker. Hy dryf in alles handel, onder andere in perde met die Hetiete en die Arameërs. Die troue met farao se dogter was ‘n verdere hoogtepunt in sy internasionale betrekkinge. In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie. En so het hy sy betrekkinge verstewig met huwelik na huwelik. Maar wat polities gewerk het, het geestelik nie gewerk nie. Sy talle huwelike stel hom bloot aan afgodediens wat hy mettertyd self begin navolg wat God se toorn oor hom laat ontflam. En dit lui die doodsklokke vir sy regering wat die ryk laat skeur.
Kleingroep byeenkoms
Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.
Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is. Ons sal graag wil deel in van die stories!
Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):
- Hoe verskil wysheid van kennis en breinkrag? Dink aan die verhaal van die twee prostitute sowel as die gawe van ’n “luisterende hart”. Watter ervarings van wysheid het jy al gehad wat jou lewe verander het?
- Watter een van die Spreuke wat in Die Storie aangehaal word, het jou besonderlik getref? Watter lewenswyshede of “woorde van wysheid” rig tans jou eie lewe?
- Die tempel was ’n besondere punt van ontmoeting met God en ’n kragtige simbool van God se beloftes van gebedsverhoring. Watter ervarings van gebedsverhoring het jy al gehad wat jou lewe verryk het?
- Dit is duidelik dat Salomo ’n briljante strateeg was en goeie internasionale verhoudinge gevestig en in standgehou het wat tot groot voordeel van Israel was. Dit het sy aandag egter uiteindelik afgelei van sy primêre afhanklikheid van en verhouding met God. Wat leer jy daaruit vir jou eie verhouding met God?
Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien? Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.