Die beproewings van ‘n koning (22-28 April)
Dawid se probleme begin in dié deel van sy geskiedenis by die verontagsaming van sy verantwoordelikhede as koning. Die skrywer sê: “Die volgende lente, die tyd waarin die konings gewoonlik gaan veg … het Dawid vir Joab en sy manskappe gestuur en self in Jerusalem agtergebly.” Sy sonde met Batseba lei hom nog verder die moeilikheid in deurdat hy kies om Urija, ironies genoeg ‘n uitlander wat met integriteit optree, te laat doodmaak. Let op dat die Here Dawid se verkeerde dade laat boemerang op sy eie huis, nie net deur die dood van die kind wat vir hulle gebore word nie, maar ook deur Absalom wat ellende oor hulle huis bring met sy rebellie. Wat in die geheim gebeur het, word op die koop toe ‘n openbare skande.
Anders as Saul het Dawid egter nie verskonings gesoek vir sy sonde nie, en die Here om vergifnis gesmeek, soos ons in die onvergelyklike Psalm 51 lees. Hy ervaar daarmee: “Ek het my oortredings bely … my oortredings het U vergewe,” al moes hy steeds die straf dra. Die Here draai dié tragiese gebeure in sy genade om met die geboorte van Salomo, juis uit dié verbintenis met Batseba, vir wie die Here die naam Jedidja gee, geliefde van die Here. Salomo sou verantwoordelik wees vir die bou van die tempel wat ‘n tyd van ongekende vrede in Israel sou inlui.
Let op hoe Dawid Salomo moed inpraat vir sy termyn: “Wees sterk en vol moed … Begin nou met die werk, en mag die Here met jou wees!” Die Here seën dié inisiatief met die oorvloedige vreugdevolle en vrywillige gawes van die volk vir die tempel waarmee hulle eenheid as geloofsgemeenskap gedemonstreer word. Dit mond uit in ‘n groot lofprysing en verering van God.
Kleingroep byeenkoms
Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken.
Vertel vir mekaar veral hoe God julle geseën het en hoe julle tot ’n seën gebruik is. Ons sal graag wil deel in van die stories!
Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):
-
Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer. Dawid, Batseba, Urija, Natan en Joab is van die karakters wat opval in Die Storie. Watter karakter se verhaal het jou getref? Hoekom? Wat leer jy by dié karakter? Gee vir almal ’n kans.
-
Vertel vir mekaar wat julle dink gelei het tot Dawid se sonde met Batseba (vergelyk ook 1ste paragraaf bo). Watter lewensles leer jy hieruit?
-
Beide Dawid en Saul het gesondig teen die Here. Hoe het hulle reaksies op die teregwysings van die Here verskil (vergelyk ook 2de paragraaf hierbo)? Wat was die gevolge daarvan vir hulleself, hulle families en vir die volk? Hoe beïnvloed hulle ervarings jou eie verhouding met die Here?
-
Waar Dawid gefaal het in sy verhouding met Absalom, doen hy die regte ding in sy verhouding met Salomo deur alles in sy vermoë te doen om Salomo in sy termyn as koning te ondersteun (vergelyk 3de paragraaf hierbo). Wat leer dit jou van jou invloed en betrokkenheid in jou eie kinders of jou geloofsvriende se lewens?
Wat vra die Here nou van jou in jou eie persoonlike lewe en die wêreld waarbinne jy Hom moet dien? Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.
Laai die kleingroepmateriaal af in Word formaat hieronder: