Al wat van belang is – dagstukkies
Dag 1
Lees 1 Johannes 4:11
Ons is deur liefde geskape vir liefde. Die lewe gaan dus nie oor besittings, posisie, invloed of selfs geluk nie. Om God lief te hê en ander lief te hê, om liefde te gee en te ontvang – dis eintlik waaroor die lewe gaan. Geen wonder nie dat Jesus sê: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ (Matt. 27:37-39)
Ongelukkig kom dit nie natuurlik vir ons nie – selfsug heers dikwels in ons harte. Maar deur God se genade kan ons leer om te dien en ander lief te hê. In die kerk, deur ons saam-leef met ander gelowiges, gee God se Gees vir ons ’n skool waar ons leer om lief te hê. Erediensbywoning, kleingroepe, stiltetyd – hierdie is van die maniere wat ons groei in ware liefde. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. God, wat liefde is, maak dit in ons en deur ons moontlik om ander lief te hê.