Skip to main content

Dag 25: Gebedsfokus op herlewing: Ons Vertroue

Vrydag 7 Mei 2010

Hebreërs 5:1-2 Elke hoëpriester is ‘n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sonde te bring. Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes omdat hyself aan swakheid onderhewig is.

OORDENKING: Die twee vereistes vir ‘n hoëpriester is dat hy deur God aangestel moet wees en ook moet kan simpatiseer met diegene wat hy voor God verteenwoordig. Jesus het aan beide hierdie vereistes voldoen. Jesus is deur God geroep om die mense voor Hom te verteenwoordig! Die werk van die Heilige Gees is om ons te oortuig van God se goeie bedoelings met ons en om ons te help om Jesus te vertrou deur ons die waarheid oor Hom te leer. Is jy oortuig dat God se bedoelings nét goed is?

PERSOONLIK: Jesus is ook swak gemaak sodat Hy ons volledig kon verteenwoordig. Hy het Sy triomf verdien omdat Hy bereid was om soos mense te ly. Lyding en swakheid was Sy kenmerke op aarde. Nou in die hemel wil Hy almal verteenwoordig wat swak is en swaarkry. Dit is Sy ewigheidswerk: om jou te verteenwoordig! Wil jy hierdie Jesus leer ken? Bid dat die Heilige Gees dit vir jou werklik sal maak en jou Sy verteenwoordiging sal laat ervaar.

GEMEENTE: Bid dat die Kerk tot die besef sal kom dat die Here vír hulle is en nie teen hulle is nie. Bid dat hierdie besef ‘n diepe nederigheid sal meebring, wat veroorsaak dat die Kerk nie trots en arrogant sal wees in hulle omgang met ongelowiges en sondaars nie. Bid dat die hart van Christus in die Kerk sigbaar sal wees..

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.