Hulle sal teen jou veg, maar nie die oorhand oor jou kry nie, want Ek is by jou – Jeremia 1:11-19
-
Youtube
-
Word dokument: Jeremia 1
-
English translation: Jeremiah 1
Die profeet Jeremia word in hoofstuk 1 geroep om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle was so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om sy lyf. Daarom is die Here die volk nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. Hy roep Jeremia as ‘n profeet vir die nasies, vers 10:
“om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan.”
‘n Ontstellende boodskap wat hom uiters ongewild gemaak het by die volk en veral by die leiers van die volk, veral konings Jojakim en Sedekia. En al het die Here ook ‘n stukkie hoop gegee dat Jeremia ook ‘n boodskap moet bring dat ná die ballingskap daar ‘n tyd sal kom:
“om te bou en te plant,”
was dit hierdie boodskap van vernietiging waarmee Jeremia geworstel het.
Hoe sou jy reageer het?
Ek wonder wat sou jou reaksie wees as jy só ‘n opdrag kry? As die Here jou roep om die valse idees van die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is, uit te wys. Bv die idee in Jeremia se tyd:
- dat God se wet nie meer van toepassing is in hulle tyd nie – Jeremia 8:8: “Kyk, skrywers se leuenagtige pen het die wet leuens gemaak”;
- dat immoraliteit nie saak maak nie – Jeremia 5:8: “Hulle het bronstige, paarlustige hingste geword; elkeen van hulle runnik vir die vrou van sy medemens”;
- dat God net liefde is en vrede bring, maak nie saak hoe jy lewe nie – Jeremia 8:11: “Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op ‘n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ maar daar is geen vrede nie”.
Jeremia moes sy eie mense leer:
- dat God nie net liefde is nie, maar ook heilig – Jeremia spreek hulle veral aan oor die ontheiliging van die sabbat (Jeremia 17);
- dat God nie net vergewe nie, maar altyd die sonde straf – Jeremia verkondig aan hulle dat hulle eie boosheid hulle sal tugtig, en hulle afkerighede hulle sal straf (Jer 2:19).
- dat God nie net vrede bring nie, maar ook verdeeldheid tussen dié wat God se Woord wil gehoorsaam en dié wat dit nie wil doen nie (die visioen van die twee mandjies vye in Jeremia 24).





