10-16 Maart – Boontjie kry sy loontjie – Matt 7:1-12
BYBEL LEES en OMGEE GESPREKKE
Lees Matteus 7:1-12
- Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
- Ouers verduidelik wat “oordeel” beteken. Gesels saam oor wanneer jy oordeel en wanneer jy ander reghelp (soos bv. ouers wat met kinders raas).
- Het iemand jou al geoordeel? Vertel vir mekaar daarvan. Hoe het dit jou laat voel? En het jy al oor iemand anders geoordeel? Vertel vir mekaar daarvan. Hoe dink jy het dit hulle laat voel?
- Het jy al vir iets gebid en dit nie gekry nie? Hoekom dink jy het dit gebeur?
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Hierdie week is die eerste week van Lydenstyd – ons tel die dae af na Paasfees. In hierdie tyd bestee mense ekstra tyd aan gebed en om te dink wat gehoorsaamheid aan Jesus beteken. Baie mense vas. “Vas” is om iets op te gee vir ’n sekere tyd lank, soos bv. lekkers, TV (of ’n TV-program), vleis, ens. Wanneer ’n mens dan daardie ding mis, herinner dit jou om te bid en laat dit jou dink aan hoe Jesus swaargekry het vir ons. ’n Mens vas omdat jy dit self kies – niemand kan jou dwing om te vas nie. Vas gaan oor God, nie daaroor om bv. gewig te verloor of om kinders te kry om minder tyd voor die TV te spandeer nie. Wil julle hierdie Lydenstyd vas? Gaan julle almal van dieselfde ding vas, of gaan elkeen hul eie ding kies? (Onthou, ’n mens besluit self om te vas en waarvan ’n mens vas – so almal moet saamstem!) Gesels elke aand oor jul ervaring van jul vas daardie dag: wanneer het jy daardie ding gemis? Waaroor het jy met Jesus gesels? Wat het jy geleer?
GESEËN OM TE SEËN
- Gaan kyk by http://bit.ly/1hOTKV8 vir interessante idees om Lydenstyd te vier, bv. om elke dag iets weg te gee, vir vreemdelinge te bid, dankie te sê, bure te ontmoet, ens.
- Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.